Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se sleutelteks uit 1 Tessalonisense volg op verlede week s’n. Paulus gaan nou voort in sy brief aan die gemeente om te bevestig dat sy en sy kollegas wat na hulle toe gekom het om die evangelie met hulle te deel, opregte intensies gehad het en werklik ook lief geraak het vir hulle. Hierdie tema van liefde kan ook gevind word in die Matteus-teks waar Jesus die Groot Gebod gee as opsomming van die wet.

In die teks uit Deuteronomium kom die tema van die opvolging en voortgaan met die werk uit die verhaal van Moses se dood en Josua wat die nuwe leier van die volk word. In die Psalm-teks word gefokus op die goedheid en asemrowende teenwoordigheid van God en roep die digter God aan.

Ander tekste

Deuteronomium 34:1-12
Moses sterf op Neboberg
34 Moses het uit die Moabsvlakte opgeklim na Neboberg toe, tot op die top van Pisgaberg regoor Jerigo. Die Here het hom die hele land gewys: van Gilead af tot by Dan, 2die hele Naftali, die gebied van Efraim en Manasse en die hele Juda tot by die see in die weste, 3die Suidland en die vlakte, die Jerigolaagte met sy palms tot by Soar. 4Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met ’n eed beloof het aan Abraham en Isak en Jakob. Ek het gesê: ‘Ek gee dit aan jou nageslag.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar jy sal nie daarheen deurtrek nie.”

5Moses, die dienaar van die Here, het daar in die land Moab gesterf soos die Here beveel het. 6Hy het vir Moses begrawe in ’n vlakte in Moab, regoor Bet-Peor, maar tot nou toe weet niemand waar sy graf is nie.

7Moses was honderd en twintig jaar toe hy gesterf het; sy oë was toe nog goed en sy krag het nog nie ingegee nie. 8Die Israeliete het dertig dae oor Moses gerou in die Moabsvlakte en so die routyd oor Moses voltooi.

9Josua seun van Nun het oor wysheid beskik, want Moses het sy hande op Josua gelê. Die Israeliete het hom gehoorsaam en hulle het gedoen wat die Here vir Moses beveel het. 10Daar het nie weer ’n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Hy het die Here persoonlik geken. 11Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders vir die farao en sy amptenare en sy hele land te doen. 12Moses het al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel gedoen.

Psalm 90:1-6, 13-17
Van ewigheid tot ewigheid is U God
90 ’n Gebed van Moses, die man van God.
Here, U was vir ons ’n toevlug
van geslag tot geslag.
2Voordat die berge gebore is,
voordat U die wêreld voortgebring het,
ja, van ewigheid tot ewigheid
is U God!
3U laat die mens sterwe:
U sê net: “Word weer stof!”
4Duisend jaar is vir U
soos gister as dit verby is,
soos een enkele wagbeurt in die nag.
5U maak ’n einde aan ’n mens,
hy gaan die doodslaap in.
Hy is soos gras
wat in die môre afgesny word:
6in die môre is dit nog groen,
maar dit word afgesny
en teen die aand is dit verlep
en dit verdroog.

7Ons vergaan onder u toorn, 
ons gaan te gronde onder u gramskap. 
8U sien ons oortredinge raak, 
U bring die sondes 
wat ons wou wegsteek, aan die lig. 
9Onder u toorn vlieg ons dae 
en skiet ons jare verby 
soos ’n gedagte. 
10Ons lewe maar sewentig jaar, 
of, as ons baie sterk is, tagtig, 
en dié is vol swaarkry en leed. 
Dit is gou verby, 
ons vlieg na ons einde toe. 
11Wie ken die krag van u toorn beter 
as u dienaars? 
Wie ken u gramskap beter? 

12Leer ons ons dae so gebruik
dat ons wysheid bekom.
13Hoe lank nog, Here,
voordat U ons te hulp kom?
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde
in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig
en bly wees.
15Soveel dae as dié
waarin U ons verdruk het,
soveel jare as dié waarin ons gely het,
gee ons soveel jare van blydskap.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.

Matteus 22:34-46
Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Die vraag oor die Seun van Dawid
(Mark 12:35–37; Luk 20:41–44)
41Toe die Fariseërs bymekaar was, vra Jesus vir hulle: 42“Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?”
“Dawid s’n,” antwoord hulle Hom.

43Hy sê toe vir hulle: “Waarom het Dawid deur die ingewing van die Gees Hom dan ‘Here’ genoem? Hy sê tog:
44‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand
totdat Ek jou vyande aan jou
onderwerp het.’ w
45As Dawid self Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy dan Dawid se seun wees?”
46Niemand kon Hom daarop iets antwoord nie. Van dié dag af het niemand dit meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Fokusteks

1 Tessalonisense 2:1-8
Paulus se werk in Tessalonika
2 Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op ‘n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle of ander is 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.

9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ‘n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.

10Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ‘n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys. 14Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. 15Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 588 “O God van hoop, gee ons U vrede 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 123

Seëngroet  

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: Matteus 22:34-46

Lied 235 “Voor U wet Heer staan ons skuldig 1,2”

Skuldbelydenis: Psalm 90
of
Terwyl die kinders nog in die diens is, hou die Wet soos volg voor:
Voorganger: Jesus het gesê dat ons God moet liefhê met ons hele hart, maar

Vryspraak: Psalms 103 (OAV)

Verbintenis: (Ps 130:5-8)

Geloofsbelydenis
Voorganger: Die evangelie het nie alleen deur woorde na ons gekom nie, maar deur die Woord self.

Loflied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: 1 Tessalonisense 2:1-8

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Ritme van die Lewe-gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315
of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 588 “O God van hoop, gee ons U vrede 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 123
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.

Seëngroet  
Genade en vrede vir u van God die Vader
aan Sy liefde is daar geen einde nie
genade en vrede vir U van die Seun
Hy het ons skuld gedra
genade en vrede vir u van die Gees
Hy maak ons nuut!

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: Matteus 22:34-46

Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”
37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ uen met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ v40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Lied 235 “Voor U wet Heer staan ons skuldig 1,2”

Skuldbelydenis: Psalm 90
Ontferm U tog oor ons.
14Skenk ons elke dag u liefde
in oorvloed,
dat ons ons lewe lank mag juig
en bly wees.
16Laat u werk vir ons duidelik word
en u grootheid vir ons kinders.
17Laat ons die goedheid
van die Here ons God belewe:
hou die werk van ons hande in stand,
ja, die werk van ons hande,
hou dit in stand.
of
Terwyl die kinders nog in die diens is, hou die Wet soos volg voor:
Voorganger: Jesus het gesê dat ons God moet liefhê met ons hele hart, maar
Gemeente: dikwels het ons ons werk, huis en besittings liewer as die Here.

Voorganger: Jesus het gesê dat ons God moet liefhê met ons hele siel, maar
Gemeente: ons sit meer van ons siel in ons musiek, sport en stokperdjies as in ons liefde vir God.

Voorganger: Jesus het gesê dat ons God moet liefhê met ons hele verstand, maar
Gemeente: ons bestudeer ons skoolwerk en bankrekening meer as die Bybel.

Voorganger: Jesus het gesê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, maar
Gemeente: ons spandeer ure aan ons eie behoeftes en minute om na ander om te sien
Almal: Vergewe ons, Here, en help ons om oor u bevele na te dink en dit te gehoorsaam.

Vryspraak: Psalms 103 (OAV)
Loof die Here, die genadige en barmhartige God!
’N PSALM van Dawid.
Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
2Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
3Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
4wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,
5wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van ’n arend.
8Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
10Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
12So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
13Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.

Verbintenis: (Ps 130:5-8)
5 Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.
6 Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.
7 Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.
8 Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Geloofsbelydenis
Voorganger: Die evangelie het nie alleen deur woorde na ons gekom nie, maar deur die Woord self.
Gemeente: Daarom sal ons geloof in ons lewe tot werke oorgaan.

Voorganger: Die evangelie het nie alleen deur woorde na ons gekom nie, maar met krag en deur die Heilige Gees.
Gemeente: Daarom sal ons moeite doen om God, ander en onsself elke dag lief te hê.

Voorganger: Die evangelie het nie alleen deur woorde na ons gekom nie, maar met volle versekering van God ons liefdevolle Ouer.
Gemeente: Daarom sal ons volhard in ons hoop op ons Here Jesus Christus ten spyte van en te midde van omstandighede rondom ons. Amen (uit 1 Tess 1:2-6; Matt 22:37-40).

Loflied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Liedere

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

F60.”U Liefdeslied Vir My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee
U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.
Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God, U is die Alfa en Omega. U was hier voordat enigiets bestaan het en U sal hier wees wanneer alles en almal tot ’n einde gekom het.
Skeppende God, U het gepraat en die hele heelal was daar. U ken die geheime van sterre en swartkolke en sterrestelsels ver verwyder van ons.
Here van die hele skepping, U is bewus van elke kleine skepsel op elke planeet. U gee aandag aan insekte en voëls en selfs aan ons.
God van die geskiedenis, U roep ons om u volk te wees. U het ons aangestel om na hierdie planeet, Aarde, om te sien. U het vir ons reëls gegee om gesond te kan saamleef. U roep ons om groot dinge te doen.
Liefdevolle God, U het ons elkeen geskep. U ken ons naam en U hou wag oor ons. U is by ons wanneer alles wonderlik is. En U stap saam met ons deur ons slegste dae.
God van genade, U weet alles wat ons doen – die goed en die sleg. En U gee steeds nie moed op met ons nie. Wanneer ons aanjaag, roep U ons terug na U toe en U vergewe ons wanneer ons dit nie verdien nie.
U is groter as wat ons kan verstaan, wyer as wat ons ons kan verbeel, en meer asemrowend as wat ons in woorde kan sê.
Met verwondering en diep dankbaarheid luister ons nou saam wanneer U met ons praat uit u Woord. Amen
(vertaling van ’n gebed van Carolyn C Brown, beskikbaar by http://worshipingwithchildren.blogspot.com/2011/09/year-proper-24-29th-sunday-in-ordinary.html).

Skriflesing: 1 Tessalonisense 2:1-8

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees uit Matteus 22 die opsomming van die Wet uit die Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Wat is die Belangrikste vir God?
34–36 Die Fariseërs, ’n ander groep godsdienstige leiers*, het gehoor Jesus het die Sadduseërs stil gepraat. Toe besluit hulle om een van hulle heel slimste manne na Jesus toe te stuur om Hom in die moeilikheid te bring. Hierdie slim man kom vra toe vir Jesus: “Wat is die belangrikste ding wat God in sy wet* van ons vra?”

37–40 Jesus antwoord hom: “Jy moet God liefhê met alles in jou. Dit is die heel belangrikste opdrag in God se wet*. Die tweede opdrag wat reg langs hierdie eerste een staan, sê: ‘Jy moet ander mense net so liefhê soos wat jy jouself liefhet.’ Hierdie twee opdragte is die heel belangrikste in die Bybel.”

Om te wys hoe slim Jesus geantwoord het toe die wetskenner Hom probeer uitvang het, maak gebruik van die Tien Gebooie.

Druk elke gebod op ’n A4-bladsy uit en gebruik twee groot skerms/blaaiborde/mure met die opskrifte: “Liefde vir God” op die een en “Liefde vir mense” op die ander. Vra die kinders om jou te help om die Tien Gebooie te sorteer volgens hierdie twee opskrifte sodat hulle (en die gemeente) kan sien dat Jesus se Groot Gebod nie ’n nuwe idee in die Nuwe Testament was nie, maar van die begin af God se plan vir die mensdom en ons verhouding met God was.

Preekriglyn

Paulus skryf 1 Tessalonisense na aanleiding van ‘n verslag wat hy oor die gemeente in Tessalonika ontvang het. Daar is rede om te glo dat dit die heel oudste Christengeskrif is waaroor ons vandag beskik.

Met die skryf van die brief teen die einde van 50 nC, vestig Paulus ‘n patroon vir die uitdra van die evangelie wat vir hom algemeen word. Hy besoek ‘n strategies geleë dorp of stad met sy metgeselle, en vestig daar ‘n geloofsgemeenskap met wie hy dan deur gesante en briewe kontak hou.

Beskuldigings

Die verslag wat hy wat Timoteus na sy besoek aan Tessalonika ontvang het, het daarop gedui dat die gelowiges in Tessalonika uiters swaar gekry het. Een van die redes hiervoor was dat Paulus as hulle stigter deur hulle teenstanders daarvan beskuldig is dat wat hy hulle geleer het, vals was, dat hy onbetroubaar was en dat hy bloot vanweë sy eie gierigheid opgetree het.

Die feit dat hy en Silas so vinnig uit Tessalonika moes vlug, het hulle uiters kwesbaar gemaak vir die beskuldiging dat hulle iets gehad het om weg te steek. Daarom beklemtoon Paulus sowel hulle eie persoonlike integriteit as die betroubaarheid van hulle boodskap in 2:1-12.

In die antieke wêreld was daar allerlei rondreisende filosowe en predikers wat vir suiwer geldelike gewin nuwe godsdienste of idees verkondig het. Paulus wil dit duidelik maak dat sy bediening nie soos hulle s’n was nie.

“Ons is apostels”

Paulus se verwysing na homself en sy medewerkers as “apostels” (7), is die eerste voorkoms van dié woord in die Nuwe Testament binne die ontstaansgeskiedenis van die verskillende geskrifte. Dit is duidelik dat hy dit nie as ‘n verwysing na die eerste twaalf apostels bedoel het nie.

Vir hom is die kriteria om ‘n apostel te wees, eerder dat dié persoon die opgestane Here moes gesien en deur Hom as apostel uitgestuur moes gewees het (1 Kor 9:1). Paulus maak dit daarom duidelik dat hulle apostelskap van Christus af is (2:7). Hulle verteenwoordig dus nie hulleself nie, maar Jesus.

Evangelie amper uitgewis

Die situasie in Tessalonika was allermins maklik vir die gelowiges daar. Hulle het immers deel geword van ‘n klein groepie wat volgens hulle landgenote ‘n onwettige geloof beoefen het. Hulle aansluiting by die Christengemeenskap, sou hulle verhouding met hulle vriende en familie, asook diegene met wie hulle kon assosieer en sake doen, direk geraak het.

Paulus se skielike vertrek sou ook nie dinge maklik gemaak het nie. Daar was immers vir hulle geen tekste, priesters of offerkultus om op terug te val nie. Die lasterlike opmerkings oor Paulus-hulle se bediening, het daarom die wesenlike gevaar ingehou dat dit die Christelike gemeenskap in Tessalonika in die kiem kon smoor.

Die verlies aan die gemeente in Tessalonika sou weer die verspreiding van die evangelie in die noorde van die Balkanskiereiland belemmer. Tessalonika was die hoofstad van die Romeinse provinsie, Masedonië, en daarom ‘n belangrike vastrapplek vir die verspreiding van die Christelike geloof in dié gebied. Om hierdie rede is die eerste brief wat Paulus geskryf het waaroor ons beskik, ‘n uiters belangrike een vir die groei van die vroeë kerk.

Kom ons stap nou deur ons teks:

Opreg en suksesvol

Die rede vir Paulus se uitvoerige verslag in ons teksgedeelte oor sy besoek aan Tessalonika, is dat hy dit duidelik wil maak dat, ondanks wat ander mense oënskynlik gesê het, hulle besoek nie alleen ‘n sukses was nie, maar dat dit ook om opregte redes geskied het.

Die wyse waarop hy sy verkondiging van die evangelie aan die Tessalonisense verdedig, toon ooreenkomste met die wyse waarop filosowe in sy tyd hulle eie bedienings verdedig het. Hulle bedienings, en spesifiek hulle prediking, was volgens hom in vers 1 nie ‘n mislukking (letterlik “leeg” of “tevergeefs”) nie.

Volgens antieke handboeke in spreekkuns het sommige sprekers bloot gepraat om hulle eie welsprekendheid te toon, sonder dat hulle eintlik iets diepsinnig gesê het. Hulle toesprake is gevolglik as “leeg” getipeer.

Paulus en sy medewerkers het egter met oortuiging die evangelie verkondig. Talle het tot geloof gekom, ondanks die felle teenkanting wat hulle beleef het (2:2). Paulus en sy medewerkers is nie net aangerand nie, maar ook gruwelik verneder. Die gevangeneming en geseling van Paulus (Hand 16:22-24) was onwettig, want hy was immers ‘n Romeinse burger met regte wat dit verbied het. Ondanks dié vergrype teen hom, het hy saam met sy medewerkers voortgegaan om die evangelie met vrymoedigheid in Tessalonika te verkondig (2:2).

Opreg en waar

Paulus wil dit verder duidelik maak dat hy nie ‘n dwaling verkondig het nie (2:3). Hulle prediking het ook nie uit onreine motiewe ontstaan nie. Hulle wou ook nie die Tessalonisense bedrieg nie. Paulus het eerder die evangelie verkondig omdat God vir hulle toegelaat het om dit te doen. God het hulle gekeur vir hulle bediening en die evangelie aan hulle toevertrou (2:4).

Die gemeente in Tessalonika kan seker wees dat hulle motiewe suiwer was omdat hulle diepste gedagtes (letterlik hulle “hart”) deur God getoets is (2:4). Hier sluit Paulus aan by Jeremia 11:20 wat God uitbeeld as die een wat mense se gedagtes toets. God was aktief betrokke in die inisiëring, deurvoer en waarborg van hulle bediening in Tessalonika. Dit is daarom belangrik dat hulle verkondiging alleen op God gefokus moes wees. Hulle boodskap kom immers van God af. Vir Paulus is dié evangelie, en nie hy of sy span nie, daarom sentraal. Hy verwys daarna in vers 2, 4, 8 en 9.

Die regte motiewe

Vanaf vers 5 getuig Paulus oor die motiewe wat aanleiding tot sy groep se besoek aan Tessalonika gegee het.

Paulus maak dit eerstens duidelik dat hy nie van die retoriese tegnieke gebruik het wat kenmerkend was van diegene wat ander doelbewus mislei het nie. So het hy nie probeer om die Tessalonisense te vlei nie. Vleitaal was kenmerkend van diegene wat ander wou manipuleer, en is as uiters negatief beoordeel deur antieke skrywers. In die antieke wêreld, soos in ons wêreld, was daar baie wat godsdiens misbruik het om ander te manipuleer ten einde geld of ander gunste van hulle te kry. Dit was egter nie Paulus se beweegrede nie.

Paulus maak dit tweedens duidelik (2:5b) dat hy nie weens geldelike oorwegings na Tessalonika gegaan het nie. Die feit dat Paulus finansiële ondersteuning van die gemeente in Filippi gekry het, wat hy nooit ontken het nie (vgl Fil 4:15-19), het dit maklik vir sy opponente gemaak om hom daarvan te beskuldig dat hy die Tessalonisense net besoek het omdat hy hulle geld gesoek het.

Die beskuldiging dat Paulus hebsugtig was (2:5), is uiters ernstig. Hebsug is die begeerte om meer te hê as ander. Die soeke na meer as wat jou toekom, word in Kolossense 3:5 afgodery genoem. Dit is vir Paulus kenmerkend van diegene wat God nie ken nie en wat sy wil doelbewus verbreek (Rom 1:28-33).

Die derde beskuldiging wat Paulus ontken, is dat hulle die eer van mense gesoek het (2:6). Terwyl vleitaal, waarna in vers 5 verwys is, ander mense ophemel, maak Paulus dit in vers 6 duidelik dat hulle self ook nie die eer en lof van mense gesoek het nie. In ‘n eer-en-skandekultuur waarin almal soek na eer, het Paulus nie die verkondiging van die evangelie gebruik om sy eer te verhoog nie. Dit is opvallend sy retoriese strategie in die gedeelte om God en die Tessalonisense (2:4,5 en 10). Hy herinner hulle telkens aan wat hulle reeds weet (2:1,2,5,9,10,11) en roep hulle as getuies vir sy opregte motiewe.

Paulus maak dit verder duidelik in vers 7 dat, al was hulle daarop geregtig om as apostels finansiële en materiële ondersteuning van gemeentes te ontvang, hulle nie ‘n las vir die Tessalonisense wou wees nie. Die reg op ondersteuning is deur Jesus self toegestaan aan diegene wat Hy na Galilea gestuur het om te gaan preek en te genees (Mark 6:7-13). Ondanks dié reg, het Paulus egter nie daarvan gebruik gemaak nie. Daar kan meer as een rede wees waarom hy dit nie gedoen het nie. Dit kan wees omdat dit teen sy Rabbynse opvoeding was, omdat hy onafhanklik wou wees, of omdat hy ‘n voorbeeld aan sy bekeerlinge wou stel (Bruce, 1982:31).

Apostels as versorgers

In vers 7 gebruik Paulus die intieme beeld van ‘n ma (letterlik “vroedvrou”) wat ‘n baba versorg om te verwys na hoe hy en die ander apostels die gelowiges in Tessalonika versorg het. Paulus en sy medewerkers het nie met kragdadigheid opgetree het nie. Die nuwe Direkte Vertaling vertaal met reg hulle het “sag soos babatjies” opgetree.

Paulus maak dit in vers 8 duidelik dat hy en sy medewerkers só lief vir die gelowiges in Tessalonika was dat hulle bereid was om hulle lewe vir hulle te gee. Soos wat Jesus bereid was om sy lewe vir ander af te lê, was Paulus en sy medewerkers dus ook bereid om dit te doen. Paulus en sy medewerkers het nie iets van die gemeente in Tessalonika geneem nie. Hulle het eerder hulleself vir die gemeente gegee.

Dit is duidelik dat Paulus ‘n besondere sagte plek vir die bekeerlinge in Tessalonika gehad het wat onder baie moeilike omstandighede bekeer is. Die gemeente het vir hulle trouens “geliefdes” geword (2:8).

Positiewe reaksie

In die daaropvolgende gedeelte (2:13-16) beskryf Paulus die positiewe reaksie van die Tessalonisense op hulle verkondiging en die vyandige reaksie wat dit van die Jode ontlok het (2:14-16; Hand 17:5-19). Die Jode het hulle probeer verhinder om aan die inwoners van Tessalonika die boodskap van verlossing te bring (2:16).

Dié optrede het vir Paulus daarop neergekom dat die Jode hulle volle maat van sondes bereik het. Gevolglik sou God se oordeel oor hulle kom. Duidelik uit die verwysing na die oordeel van God is, is Paulus se geweldige ontsteltenis oor die Jode se optrede.

Toepassing

Wat beteken hierdie teks vir ons vandag?

  • Geestelike gesag moet suiwer uitgeoefen word. Die gedeelte beklemtoon telkens die integriteit van die apostels se bediening. Dit fokus nie net op die inhoud van hulle verkondiging nie, maar ook op hulle karakter en motiewe. Byna 2 000 jaar later is dit steeds belangrik dat alle bedienaars van die Woord en geloofsgemeenskappe kennis neem van die vergrype van geestelike gesag waarvan Paulus hom distansieer.
  • Ons motiewe waarom ons deel is van ‘n gemeente en deelneem aan die gemeente se bediening, is belangrik. Dit kan nie uit eie gewin of tot eie voordeel wees nie. Ons is geroep om te dien.
  • Daar moet dus by alle getuies van die Here ondersoek gedoen word na hulle motiewe wanneer hulle die evangelie verkondig. Die soeke om die guns van mense te verkry, finansiële voordele en eer te bekom, is immers steeds ongelukkig deel van baie se klagtes oor die kerk.
  • Hoe gee ons vir mekaar om? Daar moet ook gevra word of die bedienaars van die Woord werklik vir diegene onder hulle sorg soos moeders (2:7b-8) en vaders (2:9-12) omgee? Die verkondiging van die evangelie kan ook nie vervlak word tot die vlei van mense nie. Daar moet ook daarteen gewaak word om valshede te verkondig.

In 1:5 het Paulus na “ons evangelie” verwys, om daardeur dit duidelik te maak dat die evangelie nie iets was wat vir hulle net van teoretiese belang was nie. Dit het hulle persoonlik geraak. Daarom probeer hulle nie die guns van mense bekom nie, maar eerder in gehoorsaamheid aan God optree (2:4). Ons moet dus oor onsself vra of ons self gevorm is deur die boodskap wat ons verkondig, en of ons leef vanuit die wete dat God ons harte deurgaans deursoek.

God stuur ons om te leef

Gebed

Ritme van die Lewe-gebed
Deur God se genade, soek ons na gesonde beelde van God en stel ons God eerste.
Deur God se genade, maak ons tyd om by God se kragbron in te prop.
Deur God se genade, bou ons verhoudings met ander.
Deur God se genade, ontdek ons watter deel van die legkaart ons is en dien ons die wêreld daarmee.
Deur God se genade, leer ons hoe om te leef in die skoene van ander.
Deur God se genade, wil ons nie meer bymekaarmaak vir onsself nie, maar eerder rentmeesters wees van wat ons reeds het.
Deur God se genade, leef ons ons redding in ons beroep, bediening, werk en loopbaan
(uit Raw Spirituality deur Tom Smith, Intervarsity Press, eie vertaling).

Offergawes

Wegsending 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën
Mag God self, die God van vrede, julle in elke opsig heilig maak;
en mag julle volledig na gees, siel en liggaam vlekkeloos bewaar word tot ons Here Jesus Christus kom.
Hy wat ons roep, is getrou en sal dit doen, want die genade van ons Here Jesus Christus bly met ons. Amen
(uit 1 Tess 5:23, 28).
of
Kom ons gaan wees God se getroue dienaars.
Ons sal nie ons gawes wegsteek nie, maar dit deel met almal wat oor ons pad kom.
Kom ons gaan wees volgelinge van Jesus.
Ons sal nie ons ontferming terughou nie,
maar dit vrylik aanbied aan almal.
Kom ons gaan wees die Gees se hoop en vrede.
Ons sal die genade, die vreugde en die verwondering wees wat ander mense nodig het in hulle lewe.3
3 ’n Vertaling van ’n uitsending deur Thom M Shuman (2014) http://lectionaryliturgies.blogspot.co.za/2014/11/liturgy-wcommunion-for-november-16-2014.html

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.