Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Woord en Fees - Jaarlikse subskripsie | 1 gebruiker or Woord en Fees - Jaar toegang | 1 Gebruiker | Gemeenterekening.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Eksodus 33:12-23
Ander tekste: Psalm 99; 1 Tessalonisense 1:1-10; Matteus 22:15-22

Inleiding

Albei die Ou-Testamentiese tekste gaan oor God se heiligheid, veral in teenstelling met die mens. In Matteus sien ons hoe Jesus die Fariseërs en skrifgeleerdes uitoorlê met die vraag oor die betaal van belasting en sy antwoord: “Gee aan die keiser wat die keiser toekoms en aan God wat God toekom.” Dit sluit op ’n manier aan by die twee Ou-Testamentiese tekste. Paulus prys die Tessalonisense vir hulle geloof, hoop en volharding en die voorbeeld wat hulle vir die gemeentes rondom hulle stel.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangswoord
V1: Die Here het vir Moses geantwoord: “Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam. Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”

V2: Toe het Moses vir die Here gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.”
– uit Eksodus 33

Seëngroet

Aanvangslied
Lied 159/NSG 343 “God is hier teenwoordig”

Oproep tot lof
V: Die Here regeer – laat die volke bewe! Hy troon oor gerubs – laat die wêreld sidder!
G: Die Here in Sion is groot, verhewe is Hy bo al die volke.

V: Laat hulle u groot en ontsagwekkende Naam prys:
G: “Heilig is God …”

V: en die krag van die Koning, Hy wat die reg liefhet.
Dit is U wat billikheid, reg en geregtigheid gevestig het in Jakob;

G: U het dit gedoen.
V: Verheerlik die Here ons God, buig in aanbidding voor die voetbank vir sy voete:

G: “Heilig is Hy!”
V: Moses en Aäron was onder sy priesters, Samuel onder dié wat sy Naam aangeroep het.

G: Wanneer hulle die Here aangeroep het, het Hy self hulle geantwoord.

V: Uit ’n wolkkolom het Hy met hulle gepraat.
Hulle het sy bepalings nagekom, ook die vaste voorskrifte wat Hy vir hulle gegee het.
G: Here, ons God, U self het hulle geantwoord.

V: U was vir hulle ’n God wat vergewe, maar ook Een wat hulle dade vergeld.
G: Verheerlik die Here, ons God, buig in aanbidding voor sy heilige berg,
want heilig is die Here, ons God.
– uit Psalm 99

Lofprysing
Enige van hierdie liedere: Lied 169-174/NSG 4 of 5 sal gepas wees OF “Holy, holy, holy, Lord God Almighty” deur Reginald Heber en John B Dykes.

Diens van die Woord

Skriflesings
Lees Eksodus 33:12-23.
V: Hoor die Woord van die Here.
G: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige.

Lees Matteus 22:15-22.</em
V: Hoor die Woord van die Here.
G: Ons sal aan die keiser gee wat aan die keiser behoort en aan God gee wat aan God behoort.

Lees 1 Tessalonisense 1:1-10.
V: Hoor die Woord van die Here.
G: Ons sal in geloof, hoop en liefde bly volhard.

Kindertyd
As jy besluit om die kindertyd uit Eksodus te doen, is dit belangrik om die teks in jou eie woorde oor te vertel of dit uit ’n kindervriendelike Bybel voor te lees. Verduidelik die woord “heilig” vir die kinders. Carolyn C Brown gee oulike voorstelle hiervoor by Year A – Proper 24, 29th Sunday in Ordinary Time, 19th Sunday after Pentecost (October 19, 2014)

As jy besluit om die kindertyd uit 1 Tessalonisense te doen, bied Storypath ’n baie oulike prenteboek, The Recess Queen deur Alexis O’Neill. Sien Storypath » Lectionary Links: Sunday, October 16, 2011 oor hoe om ’n goeie voorbeeld te wees in navolging van Jesus.

John Stevens gebruik die invalshoek van Paulus se dankbaarheid vir die Tessalonisense en hoe belangrik dit is om dankie te sê. Hy vertel meer hieroor by Dollar Store Children Sermons – October 19th – 19th Sunday after Pentecost – RCL

Diens van die Tafel

Dankbaarheid
Maak iets meer van die offergawes vandag. Die voorstel by die kindertyd sou uitgebou kon word tot ’n dankbaarheidsritueel vir almal. Deel vooraf kaartjies uit waarop mense kan neerskryf waarvoor hulle dankbaar is. Die kaartjies kan vorentoe gebring en by die kruis neergesit of saam met die offergawes ingegooi word.

God stuur ons uit

Slotlied
Flam 124 “Agnus Dei”/“Agnus Dei” deur Michael W Smith

Seën

Musiek en sang

Flam 156 “Bring dank” (“Give thanks”)
Lied 188/NSG 10 “Kom dank nou almal God”
Lied 184/NSG 25 “Lofsing die Here”
Lied 190 “Grote God, aan U die eer”
Lied 200/NSG 43 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”
Lied 231/NSG 61 “Heilig, heilig, heilig, Here”
Lied 286 “Here God van liefde”

Preekstudie: Eksodus 33:12-23

Teks

Voordat ons die spesifikasies van vers 12-23 kan deurdink, moet ons die voorafgaande teksgedeelte vanaf hoofstuk 32 verken. Dit is voldoende om in te sien die voorafgaande gedeelte handel oor Israel se sonde met die goue kalf. Die uitwerking van hierdie sonde word verhaal in Eksodus 33:3: “Trek op, Israel, na ’n land wat oorloop van melk en heuning. Ek sal egter nie in jou midde optrek nie, omdat jy ’n hardnekkige volk is, anders vernietig Ek jou op pad” (2020-vertaling, kursivering myne). God beveel Israel dus om voort te gaan na die Beloofde Land, maar onttrek sy teenwoordigheid as gevolg van hul sonde, anders is die oorlewing van Israel in die gedrang. In die lig hiervan word die teks vervolgens vanaf vers 12 in meer besonderhede beskou. In navolging van Brevard Childs (1974) behandel ek die teksgedeelte in twee dele: vers 12-17 en 18-23.

Vers 12-17: Die verbond tussen God en Israel
Die saak waaroor hierdie gedeelte handel, is Moses se intersessie namens Israel om te verneem of God nie sal heroorweeg om Israel te vergesel op haar reis na die Beloofde Land nie (Childs,
1974:5 94). Die dialoog tussen God en Moses vloei as volg.

Moses vra wie saam met hom sal gaan en beroep hom op die woorde van God dat Moses by God guns gevind het (v 12-13). God antwoord Moses met ’n retoriese vraag wat daarop sinspeel dat God inderdaad by Moses teenwoordig is, asook sy rus (v 14). Rus moet hier verstaan word as persoonlike vertroosting vir Moses (Childs, 1974: 594). Tog is Moses nie hiermee tevrede nie. Hy soek God se teenwoordigheid, nie net vir homself nie, maar ook vir Israel: ek en u volk (v 15-16). Moses beklemtoon hierdie behoefte met beroep op die verbond. Israel word juis onderskei as die mense van God vanweë God se teenwoordigheid onder hulle. In vers 17 gee God wel toe aan Moses se versoek en bevestig dat Hy inderdaad op grond van die guns wat Moses by God gewen het, saam met die volk sal gaan. Die weg is voorberei vir die formele hernuwing van die verbond tussen God en Israel (Childs, 1974: 594).

Vers 18-23: God se goedheid geopenbaar
Daar is geen beduidende verhouding tussen die voorafgaande gedeelte en hierdie teksgedeelte nie. Inteendeel, dit blyk of Moses in ’n metafisiese of mistiese saak invaar. Tog dink Childs (1974:595) dat wat hier gebeur oor die tema van die breek en restourasie van die verbond handel, maar van ’n vroeëre tradisie wat ingewerk is in die finale vorm van Eksodus. Nieteenstaande is die verhouding met die voorafgaande teksgedeelte moeilik om gemaklik in te werk vir die prediking. Een parallel kan ons help, en dit is met Eksodus 3 waar Moses vra na die Naam van God. Hier vra Moses na die teenwoordigheid van God. Hierdie parallel help ons om die verband te lê tussen die persoon van God en die uitwerking van wie God is in terme van die verbond.

Dit is interessant dat wanneer Moses vra na die teenwoordigheid van God, hy vra om God se heerlikheid te sien (v 18). God antwoord egter dat Hy al sygoedheid sal toon en sy Naam sal uitroep (v 19). Terug by die parallel met Eksodus 3. Daar verwoord God sy Naam as: “Ek Is Wie Ek Is” (Eks 3:14, 2020-vertaling). Hier in Eksodus 33 verwoord God sy goedheid as: “Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm” (Eks 33:19, 2020-vertaling).

Twee belangrike punte moet hier gemaak word. Eerstens, wanneer God sy teenwoordigheid openbaar, is dit ’n openbaring “in terme van sy eienskappe eerder as sy voorkoms” (Childs, 1974:596). Nie heerlikheid word getoon nie, maar goedheid. Tweedens, die toutologie in vers 19 verwoord “die vryheid van God om sy selfstandigheid bekend te maak” (Childs, 1974:596). Dit is nie vir my voor die hand liggend wat Childs hier bedoel nie. Tog blyk dit dat die openbaring van God se goedheid diskrimineer in die positiewe sin, naamlik dat Hy genadig is asook vry om genade te betoon aan diegene wat nie genade verdien nie. Dit kan selfs verder geneem word, naamlik dat die hele skeppingsorde van God en die argetipe van God se selfstandige wese juis vry is in die sin dat God vir die mens in menslike essensie is; vir die uiters verlorene, die gebrokene, die sondaar. Daarin lê God se vryheid, naamlik dat die uitkomste wat Israel verdien (verlies aan God se teenwoordigheid en per implikasie, goedheid) nie seëvier nie. Die goedheid van God voldoen aan en transendeer die vereistes van geregtigheid.

Die res van die teksgedeelte vertel hoe God handel sodat Moses inderdaad al sy goedheid kan sien. Sy gesig kan nie gesien word nie, maar God sal verbyloop en met die palm van sy hand Moses toehou (let op die paradoks van die hand wat Moses wel sal kan sien), totdat God van agter gesien kan word. Twee interessante punte kan hieroor gemaak word. Eerstens is daar ’n parallel met die eerste ontvangs van die wet waar donder en weerlig as verteenwoordiging van God se wese, die ontvangs van die Dekaloog voorafgegaan het. Hier gaan God se openbaring van al sy goedheid die tweede ontvangs van die wet as ’n brug tot die hernuwing van die verbond vooraf (Childs, 1974: 597). Tweedens, om God van agter te sien. ’n Moontlike interpretasie is dat dit sinspeel op die toekoms, spesifiek ’n toekoms van die verbond op etiese gronde ooreenkomstig al God se goedheid in die sosio-politieke lewe van Israel (Childs, 1974: 598).

Konteks

Ek het alreeds genoem dat die kontekstuele realiteit van Israel se geskiedenis gegrond is op ’n moment op weg na die Beloofde Land toe waar die verbond tussen God en Israel in gevaar is as gevolg van Israel se sonde. Hierdie is genoegsame historiese konteks om die teks te verstaan.

Wanneer dit by ons eie konteks kom, is daar twee uiterstes wat vermy moet word in die oorbrugging van die historiese konteks na die hede. Die eerste gevaar is om ’n uiters konserwatiewe posisie in te neem, wat inderdaad deel is van die Afrikaanse Christelike bewussyn. Hierdie posisie behels die argument dat soos die volk in die verlede gesondig en die verbond in gevaar gebring het, so het ons as (Afrikaner-) volk van God ook vandag gesondig en moet die verbond herbevestig word. Die probleem met hierdie argument is die onderliggende volksverstaan, gekenmerk deur Afrikaner-nasionalisme en -chauvinisme wat, selfs vandag, in Suid-Afrikaanse terme steeds verdeeldheid aanwakker, veral op grond van ras. Hierdie posisie neem ook nie die historiese ontwikkeling van Israel ernstig op nie en verplaas die verlede direk na die hede, waarby Christus se verlossingswerk vir alle mense ontken en uitgewis word.

Die tweede gevaar is om ’n uiters liberale posisie in te neem. Dit is inderdaad deel van die huidige kontekstuele bewussyn. Hierdie posisie plaas magsmisbruik voorop as rede vir die verlies van die verhouding tussen God en Israel. Die goue kalf as afgodsaanbidding sal in hierdie interpretasie moontlik verwoord kan word as die bewussyn van die verhouding tussen onderdrukker en onderdrukte; amper die idee dat die slawerny onder Egipte nou vervang word met slawerny onder die kalf. Dus is die voorstel volgens hierdie denklyn dat ons opnuut bevry moet word van die nuwe vorme van onderdrukking (en onderdrukkers – waarskynlik kapitaliste) in die huidige konteks, sodat ons opnuut deur God bevry kan word. Behalwe dat hierdie posisie histories nie die teks verdiskonteer nie, is daar nog drie bykomende probleme. Eerstens, ’n verwyt teenoor diegene wat voorgestel word as onderdrukkers (of hulle werklik onderdrukkers is of nie is irrelevant) regverdig die begeerte na wraak. Tweedens polariseer hierdie posisie mense in kompeterende faksies wat, in die lig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, weer volgens ras verdeel word. Derdens word etiese verantwoordelikheid verskuif vanaf die individu na die politieke sfeer en neem dus die agentskap weg van die individu. Die individu word slegs gesien as onderdrukker wat verslaan, of slagoffer wat bevry moet word, sonder kritiese beoordeling van die verhouding tussen persoonlike etiek en die verhouding of verbond met God.

’n Derde opsie is myns insiens nodig. Drie punte is hier belangrik. Eerstens sal hierdie opsie erns maak met alle mense in die skeppingsorde, die seën van Israel vir alle nasies en die verlossing deur Christus (waarde voor God; geskep na die beeld van God; geseën in Israel; verlos deur Christus). Ons sal dus die polarisering van mense op grond van groepsidentiteit moet ontken. Tweedens, omdat die teks ten diepste met God se goedheid te maak het en dit ook deursypel na die mense van God, is Johannes van der Ven se verstaan van moraliteit waardevol. Nico Koopman (2007:110) maak die volgende opmerking: “Van der Ven develops a model of moral formation which convincingly demonstrates the public dimension and importance of ethics with a personal focus, in this case virtue ethics. He demonstrates how a focus on the formation of people with virtue and character can enhance the process of building a society where justice in all its forms is adhered to and where human rights ideals are materialised.”

Ongeag die idealistiese siening wat Koopman aan die einde van die aanhaling verwoord, is daar twee belangrike punte om op uit te brei. Van der Ven, anders as ons historiese en huidige bewussyn, fokus op ’n etiek van die individu. Toegegee, morele formasie veronderstel tog ’n gemeenskap waarbinne die individu se etiek ontwikkel, wat uiteraard gefasiliteer kan word – alhoewel slegs gedeeltelik – in die ruimte van die diens van aanbidding. Nietemin is die fokus op individuele etiek en die invloed wat die individu op die samelewing het van groot belang, veral omdat ons publieke teologiese bewussyn eintlik hierdie idee teëstaan. Dit is ook belangrik omdat ek dink hy is korrek. Tweedens, Van der Ven se etiek ondersteun die kenmerke wat verwoord word as “die goeie, die regte en die wyse” (Koopman, 2007: 108). Anders gestel, die postmoderne veronderstelling van relatiwiteit van deugde kan nie seëvier vir die prediking oor hierdie gedeelte nie. Die verantwoordelikheid is om die goeie, die regte en die wyse te verwoord vir persoonlike etiek sodat daar ’n ideaal gestel word. Daar is weliswaar ’n verskil tussen die stel van ’n ideaal en die realiteit van ’n ideaal. Ons benodig ’n fyn aanvoeling dat dit goed is om die ideaal te stel, maar eweneens dat die ideaal altyd buite ons bereik bly. Nietemin is dit goed om die ideaal te verbeel sodat ons iets het om na toe te mik.

Die derde punt is die verantwoordelike nadenke oor etiek in verband met die teks en groter verstaan van die evangelie. Aan die een kant is dit uiteraard so dat etiese verantwoordelikheid sentraal is in die verbond tussen God en Israel, asook die kerk. Aan die ander kant kan die morele aspek nie so sentraal staan dat God uitgewis word en die etiese daad van die Christen as’t ware God se verbeelde afwesigheid verander in teenwoordigheid nie (sien Johan Cilliers, 1996, se belangrike werk Die uitwissing van God op die kansel). Die punt is dit: Ongeag die fokus op persoonlike etiek, is God se teenwoordigheid steeds sonder twyfel in die hede. Anders gestel, dit is nie ’n saak van die Christen wat God se werk moet doen nie. God is reeds aan die werk. Dit is eerder die moontlikheid dat die Christen deel kan neem aan wat God reeds doen.

Wat ek ten diepste wil voorstel aangaande kontekstuele verstaan van etiek is dat dit juis in die neem van persoonlike verantwoordelikheid is dat die wêreld ten goede verander kan word, terwyl die ontduiking van persoonlike verantwoordelikheid daartoe lei dat die wêreld eksponensieel slegter word. Hierdie is ’n uitdagende voorstel, aangesien dit sou beteken dat ons persoonlike hoedanigheid ’n groter invloed op die samelewing het as waarmee ons gemaklik voel.

Preekvoorstel

Met die oog op prediking is drie punte van belang, wat beide die tekstuele realiteit verreken asook ons persoonlike invloed op die wêreld rondom ons as neerslag van ons verstaan van die konteks. Die drie punte wat ek voorstel, is nie bedoel as ’n driepunt-preek nie, maar eerder die beweging in die teksgedeelte wat vorm gee aan die preek. Prediking moet eerder verbeeldingryk beweeg en vloei. Eerstens, Moses as argetipe mediator vir die teenwoordigheid van God. Tweedens, God se goedheid as positiewe diskriminasie. En derdens, die goedheid van God as oriëntasie van die hede na die toekoms in verband met individuele etiek.

Moses as mediator, ’n argetipe tussen God en die mens
In hierdie geval verteenwoordig Moses die mediator wat soek en smeek na die teenwoordigheid van God in die hede van die mens. Twee latere ontwikkelings vind ook plaas in verband met die argetipe mediator vir die teenwoordigheid van God, Christus en die Heilige Gees. Wanneer dit by Christus kom, is veral twee momente van belang vir die werklikheid van God se teenwoordigheid: die geboorte en die kruisiging van Christus. In die geboorte van Christus word die universele realiteit van God se teenwoordigheid besonders gemaak in die persoon van Jesus van Nasaret. In die kruisiging word die Allerheilige se kleed geskeur, waardeur God se teenwoordigheid nog meer beklemtoon word as in die midde van mense. Die Heilige Gees – wat ook volgens Paulus se latere nadenke as die bewussyn en gewete van die mens tot die goeie verwoord kan word: “die denke van die Gees bring lewe en vrede” (Rom 8:6b, 2020-vertaling) – speel ook die rol van mediator tussen God en mens. Hier is ’n skuif vanaf Moses as mediator na Christus, en uiteindelik na die Gees as gewete van herstel, opbou en vernuwing. Ek ontken nie die belangrikheid van Christus as mediator nie, maar aangesien hierdie preek in Koninkrykstyd val, stel ek voor dat die fokus op die Gees val. ’n Verdere punt wat ons moet verken, is dat die teksgedeelte vol intrige is. Dit is nie bloot die kwessie van Moses as mediator vir God se teenwoordigheid nie, maar ook die kwessie dat Moses vir God moet oortuig. Hierdie oortuiging kom daarop neer dat die guns wat Moses in God se oë ontvang het, oorvloei na guns vir die groter gemeenskap. Anders gestel, die goeie wat die mediator in wese is, vloei oor na die welsyn vir ander. Maar dit moet ook duidelik wees dat die ander na wie die goeie uitvloei eerstens diegene is wat naby die mediator is en dan, na gelang van die verbond met Abraham in Genesis 12, verder na die vreemdeling.

Terug by die punt wat ek wil maak. Die teksgedeelte bevat intrige wat die moontlikheid van God se teenwoordigheid of afwesigheid ondersoek. Ons moet dit ook in ag neem. Verder, wanneer die Gees die uiteindelike mediator is, is daar ’n nou verband tussen God se teenwoordigheid en dit wat beweeg na die goeie, die wyse en die regte, terwyl die bewussyn van sonde juis die afwesigheid van God (en die goeie) teweegbring. Met hierdie in gedagte stel ek die volgende voor vir ’n gedeelte van die prediking (onderhewig aan jou eie herskryf):

Ons ontmoet Moses in ons teks as die mediator van God se teenwoordigheid. Die idee van mediator is vir ons bekend in ons verstaan van die rol van Christus en die Heilige Gees.
Daar is ’n ooreenkoms met wanneer die guns wat Moses by God ontvang, oorgedra word na die volk, soos Christus se guns oorgedra is na ons toe. Ons, die sondaar, die verlorene, die gebrokene.

Maar daar is ’n verdere punt: die Heilige Gees verteenwoordig ons gewete wat resoneer met God se wese. Wat ons lei na die goeie, die regte en die wyse.

Die Gees staan vir ons in by God, nie net as ons guns deur Christus se regverdigheid nie. Ja, dit ook! Maar ook as ons regverdigmaking voor God. Ons kennis van goed en kwaad, en die soeke na die goeie eerder as die kwaad. Die Christelike gewete is God se Gees. Ons soeke, ook God se roeping. Ons hoop vir die goeie, ook die Gees wat vir ons instaan.

Maar daar is selfs meer. Wanneer Moses instaan, is hy verontagsaam. Hy weier om God se troos aan te neem; immers totdat God ook die volk goedgesind is. In hierdie sin, wanneer die Gees en ons gewete voor God staan, dan is ons soeke na die goeie ook die soeke na die goeie van ander mense. Eerstens ons familie en dan ons volksgenote. En dan selfs die vreemdelinge, naby en ver.

Ons mag dalk selfgenoegsaam voel omdat ons guns by God gevind het, deur ons geloof of ons regverdigheid, maar dit blyk dat die mens met ’n goeie gewete nie net sy eie guns soek nie. So ’n mens is slegs gelukkig wanneer God se guns ook uitsprei na ander.

God se goedheid as positiewe diskriminasie
Ek is daarvan bewus dat diskriminasie ’n vloekwoord in ons huidige konteks is. Deur hierdie woord te gebruik, bedoel ek nie dat jy dit in die preek moet gebruik nie (die betekenis daarvan is buitendien uiteenlopend). Ek probeer bloot verduidelik wat ek dink in die teks aangaan.

Wanneer God in sy goedheid guns aan Israel betoon, wat dit nie verdien nie, moet hulle kies tussen om teenwoordig te wees of nie. Saam met keuses is daar diskriminasie deurdat die mens tussen moontlikhede moet kies. Tog vertoon die diskriminasie vír Israel, die onverdienstelike mens, ook God se goedheid as genade. Hierdie idee maak die deur oop na die beste moontlike toekoms vir dié mense wat geen toekoms (saam met God) verdien nie. Verder verteenwoordig God se goedheid, wanneer die Christelike lewe verstaan word as die lewe in navolging van God, die beste moontlike samelewing wat verbeel kan word; waar die sonde van ons foute nie die dood, of ewige armoede, of sosiale uitsluiting beteken nie, maar dat daar genade is sodat die mens homself opnuut kan bewys deur skoon te begin. Die alternatief is dat die samelewing die sondaar stenig, letterlik of figuurlik, op talle moontlike maniere.

Met hierdie in gedagte stel ek die volgende voor vir ’n gedeelte van die prediking (onderhewig aan jou eie herskryf):

Wanneer ons ons teksgedeelte ernstig neem, en veral hierdie woorde van God: “Ek is genadig oor wie Ek genadig wil wees, en ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm,” dan verwoord dit iets oor God se wese. Dat God, deur die guns wat die goeie, en wyse en regte mediator wen, die verlorenes, die sondaars en die vervalle mens genade betoon.

Hierdie idee staar ons ongemaklik in die gesig, want dit beteken dat die onverdiende mens ’n kans by God het. Selfs as so ’n mens geen kans staan voor ons oordeel nie. Dit maak ons ongemaklik, want dit beteken dat ons meriete ons geen eer bring nie; eerder dat ons goedheid selfs voordelig is vir die slegte mens.

En tog, as ons met onsself eerlik is, is dit ons wat genade benodig. Ons wat tekort kom. Ons wat sondaar is. Dalk is dit juis die punt: dat ons eerlik sal wees met ons realiteit. Ons is die mense van God, ja! Maar ons is ook die mense teen God. Mense wat afdwaal van die pad van geregtigheid en die goeie.

Hier is die punt van God se genade teenoor dié wat Hy genadig wil wees: dat ons geen genade verdien nie en selfs oorgeslaan mag word. En tog is die punt dat God wel genadig is teenoor die verlorene. Dalk juis ook genadig aan die verlorene in jou, en my, en hulle.

God se goedheid as oriëntasie van die hede na die toekoms in verband met individuele etiek
Hierdie gedagte bring my by die laaste punt. God se goedheid wat sinspeel op individuele etiek vir die toekoms. Genade en dankbaarheid is ’n nuttige perspektief op hierdie punt, maar ek vermoed dat dit so afgewater geword het dat ons nie veel daarmee kan doen nie. Daarom eerder die volgende fokus: Individuele etiek na die goeie, regte en wyse as merkwaardige moontlikheid dat die Gees van God en die genade van God die wêreld kan verbeter. Hier moet ek wel die beduidende punt maak dat die verbetering van die wêreld nie gelykstaande is aan ’n perfekte wêreld nie. Verder het dit ook te make met individue en nie statistieke evaluering van verbetering nie.

Anders gestel, met die Gees wat in die bewussyn van die individu werk en die genade wat aan dieselfde individu bewys word wat in alle realiteit ’n donker kant het wat meermale weggesteek word (kom ons noem dit die potensiaal tot sonde), is die individuele etiek wat God se goedheid verbeel juis die lokus van die potensiaal dat die individu alle krag en mag kan instel om die goeie, die wyse en die regte na te streef.

Met hierdie in gedagte stel ek die volgende voor vir ’n gedeelte van die prediking (onderhewig aan jou eie herskryf):

Gemeente van die Here, ons teksgedeelte gaan oor die teenwoordigheid van God. En dan om die genade van die Here. Wanneer Moses vra na die heerlikheid van die Here, word al die goedheid van God geopenbaar.

Ons moet oplet hoe vreemd hierdie moment is. Moses vra na God se heerlikheid. Heerlikheid in die sin van die wêreld wat God in gedagte het: die Beloofde Land, of die koninkryk van God, of bloot die buitensporige magtigheid van God. En God stem saam, maar wys dan aan Moses die verby bewegende agterkant van al sy goedheid.

Wat hier plaasvind, is dit: die agterkant van God verteenwoordig die toekoms. Alhoewel Moses nie God se goedheid in die aangesig kan aanskou nie, is daar die moontlikheid om al God se goedheid in die toekoms te sien. Anders gestel, daar waar God aanwesig is, en daar waar God onverdienstelike genade bewys, daar sal die toekoms van God se goedheid ook moontlik wees.

Hierdie toekoms sal moontlik wees in die verdieping van die verbond: om in vrede en versoening met mekaar te leef. Hierdie toekoms sal moontlik wees daar waar jy vernuwe word deur die persoonlike verantwoordelikheid aan te neem om jou lewe in orde te kry. Hierdie toekoms sal moontlik wees daar waar saamgewerk, saam opgeoffer word en die lewe aangepak word, want God se teenwoordigheid is die oproep en roeping om te soek na die goeie, en die wyse en die regte.

Bibliografie

BS Childs, 1974. The Book of Exodus: A Critical, Theological Commentary. Philadelphia: The Westminster Press; J Cilliers, 1996. Die uitwissing van God op die kansel. Onstellende bevindinge oor Suid-Afrikaanse prediking. Kaapstad: Lux Verbi; N Koopman, 2007. “Towards a human rights culture in South Africa. The role of moral formation”, Stellenbosch Theological Journal, 48(1&2): 107-118.

Leesrooster vir Lidmate

Fokusteks: Eksodus 33:12-23
Ander tekste: Psalm 99; 1 Tessalonisense 1:1-10; Matteus 22:15-22

Eksodus 33:12-23
Moses help ons nadink oor wat dit beteken om God te gewaar en te beleef.

Moment 1

Is God nog met Israel en Moses?
Nadat God sy verbond in Eksodus 19–24 bevestig, verbreek die Israeliete dit deur ’n goue kalf te maak en te aanbid. God is so ontsteld dat Hy hulle almal wil uitwis. Op grond van Moses se intrede besluit God om genadig te wees. Met hierdie gebeure steeds vars in Moses en Israel se gedagtes, beveel God die volk om voort te gaan met hul reis na die Beloofde Land. Vir Moses is die teenwoordigheid van God belangrik. Moses wil seker wees dat God wel met die Israeliete is voordat hulle kan verder gaan.

Moment 2

God is hier teenwoordig
Vir Moses is dit belangrik om te weet God is werklik met hulle voordat hulle kan aangaan met hul reis. Ons sien egter dat Moses ook ’n meer persoonlike behoefte het om God se teenwoordigheid te beleef en meer helderheid te hê oor God se planne. Baie van ons soek ook soms tekens of ’n persoonlike belewenis dat God met ons is. Soms wens ons ons weet wat God se plan vir ons lewe is. Miskien het jy ook vandag ’n behoefte aan God se teenwoordigheid. Neem ’n oomblik en dra jou onsekerhede aan die Here op.

Moment 3

Die verbond en Israel se menslikheid
Onderliggend aan die groter Eksodus-verhaal (en hierdie fokusteks) is God se belofte om Israel te gebruik om sy heerlikheid aan alle nasies bekend te maak. Ons lees egter dat dit moeilik is vir Israel om die potensiaal van hierdie belofte uit te leef. Dit is eers in die Nuwe Testament waar gelowiges deur Christus se dood en opstanding finaal met God versoen word en deur die leiding van die Heilige Gees hierdie boodskap verkondig (soos vertel in 1 Tess 1). Ondanks ons eie tekortkominge bly God getrou aan sy beloftes en versterk die Heilige Gees ons in geloof en roeping.

Moment 4

Om God te sien
Moses verlang verskering dat God hom en die volk sal bystaan, maar hy het ook ’n dieper begeerte om God te gewaar. Hoe sou jy maak as jy God kon sien? Hoe dink jy lyk God? Ons lees in die Bybel dat God se aangesig iets is wat ons nie werklik kan begryp nie, en dat die mens selfs kan sterf as ons God se gesig sien! Tog wil ons Skepper ons ken. God is selfs bereid dat Moses Hom van agter sien. Kan ons God ooit ten volle beleef? Waar sien jy vandag flitse van God se teenwoordigheid?

© Missio 2024 | All rights reserved.