Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 1 Tessalonisense 2:1-8
Ander tekste: Deuteronomium 34:1-12; Psalm 90:1-6, 13-17; Matteus 22:34-46

Inleiding

Hierdie week se sleutelteks uit 1 Tessalonisense volg op verlede week s’n. Paulus gaan nou voort in sy brief aan die gemeente om te bevestig dat sy en sy kollegas wat na hulle toe gekom het om die evangelie met hulle te deel, opregte intensies gehad het en werklik ook lief geraak het vir hulle. Hierdie tema van liefde kan ook gevind word in die Matteus-teks waar Jesus die Groot Gebod gee as opsomming van die wet.

In die teks uit Deuteronomium kom die tema van die opvolging en voortgaan met die werk uit die verhaal van Moses se dood en Josua wat die nuwe leier van die volk word. In die Psalm-teks word gefokus op die goedheid en asemrowende teenwoordigheid van God en roep die digter God aan.

Diensorde

God bring ons byeen

Wil van God
Matteus 22:34-46

Kinderoomblik
Om te wys hoe slim Jesus geantwoord het toe die wetskenner Hom probeer uitvang het, maak gebruik van die Tien Gebooie. Druk elke gebod op ’n A4-bladsy uit en gebruik twee groot skerms/blaaiborde/mure met die opskrifte: “Liefde vir God” op die een en “Liefde vir mense” op die ander. Vra die kinders om jou te help om die Tien Gebooie te sorteer volgens hierdie twee opskrifte sodat hulle (en die gemeente) kan sien dat Jesus se Groot Gebod nie ’n nuwe idee in die Nuwe Testament was nie, maar van die begin af God se plan vir die mensdom en ons verhouding met God was.

Diens van die Woord

Gebed om opening van die Woord
God, U is die Alfa en Omega. U was hier voordat enigiets bestaan het en U sal hier wees wanneer alles en almal tot ’n einde gekom het.
Skeppende God, U het gepraat en die hele heelal was daar. U ken die geheime van sterre en swartkolke en sterrestelsels ver verwyder van ons.
Here van die hele skepping, U is bewus van elke kleine skepsel op elke planeet. U gee aandag aan insekte en voëls en selfs aan ons.
God van die geskiedenis, U roep ons om u volk te wees. U het ons aangestel om na hierdie planeet, Aarde, om te sien. U het vir ons reëls gegee om gesond te kan saamleef. U roep ons om groot dinge te doen.

Liefdevolle God, U het ons elkeen geskep. U ken ons naam en U hou wag oor ons. U is by ons wanneer alles wonderlik is. En U stap saam met ons deur ons slegste dae.
God van genade, U weet alles wat ons doen – die goed en die sleg. En U gee steeds nie moed op met ons nie. Wanneer ons aanjaag, roep U ons terug na U toe en U vergewe ons wanneer ons dit nie verdien nie.

U is groter as wat ons kan verstaan, wyer as wat ons ons kan verbeel, en meer asemrowend as wat ons in woorde kan sê.
Met verwondering en diep dankbaarheid luister ons nou saam wanneer U met ons praat uit u Woord. Amen
(vertaling van ’n gebed van Carolyn C Brown).

Diens van die Tafel

Getuienisse en gebed
Vertoon foto’s van die huidige personeel van die gemeente met ’n dataprojektor. Indien hulle kans sien, vra elkeen om hulleself voor te stel en iets te vertel van wat hulle elke dag doen. Indien dit moontlik is, kan hulle dalk ook ’n getuienis lewer van hoe hulle God al in hulle werk sien werk het. Vra ’n kerkraadslid om by elke personeellid te gaan staan en hulle diee hand op hulle te lê terwyl iemand vir die personeel en hulle werk (spesifiek en by name, sowel as vir hulle rol in die groter gemeente) voorgaan in gebed.   

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 524/NSG 387(A) “God roep ons om met woord en daad”

Toewyding tot die navolging van Jesus
Sien basisliturgie.

Seën
Sien basisliturgie.

Musiek en sang

Lofprysing: Flam 8 “Al die lof, aanbidding en ere”; Vonkk 2 “Kom juig oor God, sing almal saam”
Skuldbelydenis: Lied 235/NSG 217 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig”
Geloofsbelydenis: Lied 334/Flam 144 “God is Liefde!’ juig ons harte”

Preekstudie – 1 Tessalonisense 2:1-8

Teks

In dié gedeelte, wat in werklikheid tot vers 12 sterk, verdedig Paulus sy bediening saam met sy medewerkers in Tessalonika teen kritici wat dit ná hulle vertrek verdag gemaak het. Dit word deur die voegwoord yar in die eerste vers direk aan die vorige gedeelte gekoppel waarin Paulus met sy gebruiklike danksegging reeds na hulle besoek verwys het. Die gedeelte gee dus verdere redes waarom die gelowiges in Tessalonika positief op die verkondiging van die evangelie deur Paulus-hulle gereageer het (Fee 2009:51).

Die rede vir Paulus se uitvoerige verslag oor sy besoek aan Tessalonika, is dat hy dit duidelik wil maak dat, ondanks wat ander mense oënskynlik gesê het, hulle besoek nie alleen ‘n sukses was nie, maar dat dit ook om opregte redes geskied het. Die wyse waarop hy sy verkondiging van die evangelie aan die Tessalonisense verdedig, toon ooreenkomste met die wyse waarop filosowe in sy tyd hulle eie bedienings verdedig het. Hulle bedienings, en spesifiek hulle prediking, was volgens hom in vers 1 nie kenos nie (letterlik “leeg” of “tevergeefs”). Volgens antieke retoriek handboeke het sommige sprekers bloot gepraat om hulle eie welsprekendheid te toon, sonder dat hulle eintlik iets diepsinnigs gesê het. Hulle toesprake is gevolglik as “leeg” getipeer (Witherington, 2006:77).

Paulus en sy medewerkers het egter met oortuiging die evangelie verkondig. Talle het tot geloof gekom, ondanks die felle teenkanting wat hulle beleef het (2:2). Paulus en sy medewerkers is nie net aangerand nie, maar ook gruwelik verneder ( hubristhentes ) (Morris, 1983:43). Die gevangeneming en geseling van Paulus (Hand 16:22-24) was onwettig, want hy was immers ‘n Romeinse burger met regte wat dit verbied het. Ondanks dié vergrype teen hom, het hy saam met sy medewerkers voortgegaan om die evangelie met vrymoedigheid in Tessalonika te verkondig (2:2).

Paulus wil dit verder duidelik maak dat hy nie ‘n dwaling verkondig het nie (2:3). Die selfstandige naamwoord planē in vers 3, kan daarop dui dat jy ander mislei, of dat jyself mislei word (of meer letterlik dat jy ‘n fout maak) (Malherbe, 2008:139). Hulle prediking het ook nie uit onreine motiewe ( akatharisia ) ontstaan nie. Hulle wou ook nie die Tessalonisense bedrieg ( dolos ) nie. Paulus het eerder die evangelie verkondig omdat God vir hulle toegelaat het om dit te doen. God het hulle gekeur vir hulle bediening en die evangelie aan hulle toevertrou (2:4). Die gemeente in Tessalonika kan seker wees dat hulle motiewe suiwer was omdat hulle diepste gedagtes (letterlik hulle hart of kardia ) deur God getoets is (2:4) (Holtz, 1986:772-73). Hier sluit Paulus aan by Jeremia 11:20 wat God uitbeeld as die een wat mense se gedagtes toets. God was aktief betrokke in die inisiëring, deurvoer en waarborg van hulle bediening in Tessalonika. Dit is daarom belangrik dat hulle verkondiging alleen op God gefokus moes wees. Hulle boodskap kom immers van God af (vgl die onderwerpsgenitief in vers 8 – die evangelie van God). Vir Paulus is dié evangelie, en nie hy of sy span nie, daarom sentraal. Hy verwys daarna in vers 2, 4, 8 en 9.

Vanaf vers 5 getuig Paulus oor die motiewe wat aanleiding tot sy groep se besoek aan Tessalonika gegee het. Paulus maak dit eerstens duidelik dat hy nie van die retoriese tegnieke gebruik het wat kenmerkend was van diegene wat ander doelbewus mislei het nie. So het hy nie probeer om die Tessalonisense te vlei nie. Vleitaal ( kolakeia ) was kenmerkend van diegene wat ander wou manipuleer, en is as uiters negatief beoordeel deur antieke skrywers (Malherbe, 2008:142). In die antieke wêreld, soos in die kontemporêre, was daar baie wat godsdiens misbruik het om ander te manipuleer ten einde geld of ander gunste van hulle te kry (Bruce, 1982:30). Dit was egter nie Paulus se beweegrede nie.

Paulus maak dit tweedens duidelik (2:5b) dat hy nie weens geldelike oorwegings na Tessalonika gegaan het nie. Die feit dat Paulus finansiële ondersteuning van die gemeente in Filippi gekry het, wat hy nooit ontken het nie (vgl Fil 4:15-19), het dit maklik vir sy opponente gemaak om hom daarvan te beskuldig dat hy die Tessalonisense net besoek het omdat hy hulle geld gesoek het (Holtz, 1986:79). Die beskuldiging dat Paulus pleonexia was (2:5), is uiters ernstig. Pleonexia is die begeerte om meer te hê as ander. Die soeke na meer as wat jou toekom, word in Kolossense 3:5 afgodery genoem. Dit is vir Paulus kenmerkend van diegene wat God nie ken nie en wat sy wil doelbewus verbreek (Rom 1:28-33).

Die derde beskuldiging wat Paulus ontken, is dat hulle die eer van mense gesoek het (2:6). Terwyl vleitaal, waarna in vers 5 verwys is, ander mense ophemel, maak Paulus dit in vers 6 duidelik dat hulle self ook nie die eer en lof van mense gesoek het nie (Best, 2003:99). In ‘n eer-en-skandekultuur waarin almal soek na eer, het Paulus nie die verkondiging van die evangelie gebruik om sy eer te verhoog nie. Dit is opvallend sy retoriese strategie in die gedeelte om God en die Tessalonisense (2:4,5 en 10). Hy herinner hulle telkens aan wat hulle reeds weet (2:1,2,5,9,10,11) en roep hulle as getuies vir sy opregte motiewe.

Paulus maak dit verder duidelik in vers 7 dat, al was hulle daarop geregtig om as apostels finansiële en materiële ondersteuning van gemeentes te ontvang, hulle nie ‘n las vir die Tessalonisense wou wees nie. Die reg op ondersteuning is deur Jesus self toegestaan aan diegene wat Hy na Galilea gestuur het om te gaan preek en te genees (Mark 6:7-13). Ondanks dié reg, het Paulus egter nie daarvan gebruik gemaak nie. Daar kan meer as een rede wees waarom hy dit nie gedoen het nie. Dit kan wees omdat dit teen sy Rabbynse opvoeding was, omdat hy onafhanklik wou wees, of omdat hy ‘n voorbeeld aan sy bekeerlinge wou stel (Bruce, 1982:31).

In vers 7 gebruik Paulus die intieme beeld van ‘n ma (letterlik “vroedvrou”) wat ‘n baba versorg om te verwys na hoe hy en die ander apostels die gelowiges in Tessalonika versorg het. Op tekskritiese grond is dit ‘n vraag of Paulus homself en sy medewerkers as nepioi (“babas”) of epioi (“liefdevol, sag”) beskryf (Ellingworth & Nida, 1994:29). Dit is onseker of die nu in die sin, waarmee die voorafgaande woord eindig, verkeerdelik gedupliseer is ( epioi word nepioi ), en of dit per ongeluk weggelaat is ( nepioi word epioi ). Aangesien die oorspronklike teks aaneenlopend geskryf is, kon albei maklik gebeur het. Die vraag is dus of die apostels soos babas (weerloos) na die gemeente gekom het, of liefdevol en sagkens? Dit is moeilik om tussen die twee opsies te kies, want nepioi word deur sterke manuskripgetuienis ondersteun, terwyl epioi se betekenis beter in die sin pas (Morris, 1983:49). Dit sal vreemd wees vir Paulus om homself met ‘n baba en ‘n vroedvrou in een sin te vergelyk. Die keuse tussen “soos ‘n baba” en “sag” is egter nie deurslaggewend vir die verstaan van Paulus se bedoeling nie, aangesien albei terme die betekenis deurgee dat Paulus en sy medewerkers nie met kragdadigheid opgetree het nie. Die Direkte Vertaling kies om al twee betekenisse weer te gee deur die woorde as “sag soos babatjies” te vertaal.

Trophos in vers 7 dui gewoonlik op ‘n vroedvrou, maar kan hier moontlik ook as “ma” verstaan word deurdat die meegaande refleksiewe voornaamwoord daarop kan dui dat die baba wat versorg word, haar eie is. In die sin versterk dit die omskrywing van die sorg waarmee Paulus-hulle opgetree het. As ‘n vroedvrou immers ander ma’s se babas liefdevol versorg, hoeveel te meer nie haar eie nie? (Wanamaker, 1990:101). Die werkwoord thalpō het die letterlike betekenis van “om warm te maak” met die figuurlike betekenis “om voor te sorg.”

Paulus maak dit in vers 8 duidelik dat hy en sy medewerkers só lief vir die gelowiges in Tessalonika was dat hulle bereid was om hulle lewe ( psuchē ) vir hulle te gee. Psuchē beteken hier nie “siel” nie, maar eerder iemand se hele lewe. Soos wat Jesus bereid was om sy lewe vir ander af te lê, was Paulus en sy medewerkers dus ook bereid om dit te doen. Paulus en sy medewerkers het nie iets van die gemeente in Tessalonika geneem nie. Hulle het eerder hulleself vir die gemeente gegee (Bruce, 1982:33). Dit is duidelik dat Paulus ‘n besondere sagte plek vir die bekeerlinge in Tessalonika gehad het wat onder baie moeilike omstandighede bekeer is (Wanamaker, 1990:102). Die gemeente het vir hulle trouens “geliefdes” geword (2:8).

In die daaropvolgende gedeelte (2:13-16) beskryf Paulus die positiewe reaksie van die Tessalonisense op hulle verkondiging en die vyandige reaksie wat dit van die Jode ontlok het (2:14-16; Hand 17:5-19). Die Jode het hulle probeer verhinder om aan die inwoners van Tessalonika die boodskap van verlossing te bring (2:16). Dié optrede het vir Paulus daarop neergekom dat die Jode hulle volle maat van sondes bereik het. Gevolglik sou God se oordeel oor hulle kom. Daar is sommige geleerdes wat die verwysing na die oordeel van God wat reeds begin het om die Jode te tref, as ‘n sinspeling op die val van Jerusalem in 70 nC sien. In dié geval is dit ‘n latere invoeging in die brief, aangesien hierdie inval eers byna ‘n dekade ná Paulus se dood plaasgevind het. Daar is egter niks in die teks self wat ‘n sinspeling op die val van Jerusalem noodsaaklik maak nie (Williams, 1995:36). Wat wel duidelik uit die verwysing na die oordeel van God is, is Paulus se geweldige ontsteltenis oor die Jode se optrede.

Konteks 

Paulus skryf 1 Tessalonisense na aanleiding van ‘n verslag wat hy oor die gemeente in Tessalonika ontvang het. Daar is rede om te glo dat dit die heel oudste Christengeskrif is waaroor ons vandag beskik. Met die skryf van die brief teen die einde van 50 nC, vestig Paulus ‘n patroon vir die uitdra van die evangelie wat vir hom algemeen word. Hy besoek ‘n strategies geleë dorp of stad met sy metgeselle, en vestig daar ‘n geloofsgemeenskap met wie hy dan deur gesante en briewe kontak hou.

Die verslag wat hy wat Timoteus na sy besoek aan Tessalonika ontvang het, het daarop gedui dat die gelowiges in Tessalonika uiters swaar gekry het. Een van die redes hiervoor was dat Paulus as hulle stigter deur hulle teenstanders daarvan beskuldig is dat wat hy hulle geleer het, vals was, dat hy onbetroubaar was en dat hy bloot vanweë sy eie gierigheid opgetree het. Die feit dat hy en Silas so vinnig uit Tessalonika moes vlug, het hulle uiters kwesbaar gemaak vir die beskuldiging dat hulle iets gehad het om weg te steek. Daarom beklemtoon Paulus sowel hulle eie persoonlike integriteit as die betroubaarheid van hulle boodskap in 2:1-12 (Fee, 2009:56). In die antieke wêreld was daar allerlei rondreisende filosowe en predikers wat vir suiwer geldelike gewin nuwe godsdienste of idees verkondig het. Paulus wil dit duidelik maak dat sy bediening nie soos hulle s’n was nie.

Paulus se verwysing na homself en sy medewerkers as “apostels”, is die eerste voorkoms van dié woord in die Nuwe Testament binne die ontstaansgeskiedenis van die verskillende geskrifte (Ellingworth & Nida, 1994:29). Dit is duidelik dat hy dit nie as ‘n verwysing na die eerste twaalf apostels bedoel het nie. Vir hom is die kriteria om ‘n apostel te wees, eerder dat dié persoon die opgestane Here moes gesien en deur Hom as apostel uitgestuur moes gewees het (1 Kor 9:1) (Fee, 2009:65). ‘n Apostel is ‘n translokale leier wat deur een persoon of gemeenskap uitgestuur is om hulle by ander een te verteenwoordig. Die apostolaat het nie soseer ‘n status aan iemand toegesê as wat dit ‘n verpligting op hulle geplaas het nie. Hulle moes naamlik die persoon of gemeenskap wat hulle gestuur het, getrou verteenwoordig. Paulus maak dit daarom duidelik dat hulle apostelskap van Christus af is (2:7). Hulle verteenwoordig dus nie hulleself nie, maar Jesus.

Die situasie in Tessalonika was allermins maklik vir die gelowiges daar. Hulle het immers deel geword van ‘n klein groepie wat volgens hulle landgenote ‘n onwettige geloof beoefen het. Hulle aansluiting by die Christengemeenskap, sou hulle verhouding met hulle vriende en familie, asook diegene met wie hulle kon assosieer en sake doen, direk geraak het (Witherington, 2006:76). Paulus se skielike vertrek sou ook nie dinge maklik gemaak het nie. Daar was immers vir hulle geen tekste, priesters of offerkultus om op terug te val nie. Die lasterlike opmerkings oor Paulus-hulle se bediening, het daarom die wesenlike gevaar ingehou dat dit die Christelike gemeenskap in Tessalonika in die kiem kon smoor. Die verlies aan die gemeente in Tessalonika sou weer die verspreiding van die evangelie in die noorde van die Balkanskiereiland belemmer. Tessalonika was die hoofstad van die Romeinse provinsie, Masedonië, en daarom ‘n belangrike vastrapplek vir die verspreiding van die Christelike geloof in dié gebied. Om hierdie rede is die eerste brief wat Paulus geskryf het waaroor ons beskik, ‘n uiters belangrike een vir die groei van die vroeë kerk.

Preekvoorstel

Vir prediking oor die gedeelte, kan begin word deur die konteks van Paulus se skrywe weer te gee. Daar kan, soos bo uiteengesit, gewys word op die historiese aanloop tot die skryf van die brief volgens Handelinge en die polities-geografiese belang van hierdie gemeente in Masedonië. Die kwesbaarheid van die klein Christengemeenskap in die noorde van die Balkanskiereiland, kan kwalik oordryf word.

1 Tessalonisense 2:1-12 kan as ‘n reeks verduidelikings en herinnerings hanteer word (die voegwoord yar kom herhaaldelik voor in die gedeelte) ter verdediging van Paulus en sy span se optrede in Tessalonika. Vers 1-2 verduidelik dat hy en Silas, ondanks die teenstand wat hulle beleef het, die evangelie in Tessalonika met waagmoed verkondig het, danksy hulle vrymoedigheid in God. Vers 3-4 verduidelik die goddelike oorsprong van dié moed en vrymoedigheid. Paulus ontken eers moontlike negatiewe redes vir sy optrede in Tessalonika (v 3), voordat hy die positiewe motiewe daarvoor gee (v 4) (Best, 2003:92). Vers 5-8 herinner die Tessalonisense aan die suiwer motiewe onderliggend aan Paulus en die ander apostels se bediening in hulle midde. Vers 9-12 sit die herinnering van die Tessalonisense van die wyse waarop die apostels opgetree het voort.

Die gedeelte beklemtoon telkens die integriteit van die apostels se bediening. Dit fokus nie net op die inhoud van hulle verkondiging nie, maar ook op hulle karakter en motiewe. Byna 2 000 jaar later is dit steeds belangrik dat alle bedienaars van die Woord en geloofsgemeenskappe kennis neem van die vergrype van geestelike gesag waarvan Paulus hom distansieer. Daar moet dus by alle getuies van die Here ondersoek gedoen word na hulle motiewe wanneer hulle die evangelie verkondig. Die soeke om die guns van mense te verkry, finansiële voordele en eer te bekom, is immers steeds ongelukkig deel van baie se klagtes oor die kerk. Daar moet ook gevra word of die bedienaars van die Woord werklik vir diegene onder hulle sorg soos moeders (2:7b-8) en vaders (2:9-12) omgee? Die verkondiging van die evangelie kan ook nie vervlak word tot die vlei van mense nie. Daar moet ook daarteen gewaak word om valshede te verkondig.

In 1:5 het Paulus na “ons evangelie” verwys, om daardeur dit duidelik te maak dat die evangelie nie iets was wat vir hulle net van teoretiese belang was nie. Dit het hulle persoonlik geraak. Daarom probeer hulle nie die guns van mense bekom nie, maar eerder in gehoorsaamheid aan God optree (2:4). Daar moet dus deur die kontemporêre getuies van Jesus gevra word of hulle self gevorm is deur die boodskap wat hulle verkondig, en of hulle leef vanuit die wete dat God hulle harte deurgaans deursoek.

Bibliografie

Best, E 2003. The first and second epistles to the Thessalonians . (no. Black’s New Testament Commentary). London: Hendrickson; Bruce, FF 1982. 1 & 2 Thessalonians . (Word Biblical Commentary no. 45). Waco: Word Books; Ellingworth, P & Nida, EA 1994. A handbook on Paul’s letters to the Thessalonians . New York: United Bible Societies; Fee, GD 2009. The First and Second Letters to the Thessalonians . Grand Rapids: Eerdmans; Holtz, T 1986. Der erste Brief an die Thessalonicher . (Evangelischer-Katholischer Kommentar zum Neuen Testament). Zürich: Benziger Verlag; Malherbe, AJ 2008. The letters to the Thessalonians: a new translation with introduction and commentary . Vol 32. (The Anchor Bible). New Haven: Yale Univiversity Press; Morris, L 1983. The Epistle of Paul to the Thessalonians . (Tyndale New Testament Commentaries no. 13). Leicester: Eerdmans; Wanamaker, CA 1990. The Epistles to the Thessalonians: a commentary on the Greek text . (New International Greek Testament Commentary). Grand Rapids: Eerdmans; Williams, DJ 1995. 1 and 2 Thessalonians: based on the New International version . Carlisle: Paternoster Press; Witherington, B 2006. 1 and 2 Thessalonians a socio-rhetorical commentary . Grand Rapids: Eerdmans.

© Missio 2024 | All rights reserved.