Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Voorganger: Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige!
Ek versmag van verlange na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God.
Gemeente: Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie.

Voorganger: Selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!
Gemeente: Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.

Voorganger: Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ’n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring. Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou. (Ps 84:2-7, 13) Amen.

Liedere

Lied (Psalm) 84 “Hoe lief het ek U woning, Heer”, of
Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig”;
NSG 26 “Van U kom alle dinge”

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Lees (veral) Jeremia 14:7-10, 19-22

Die teks (Jer 14:7-9 en 19-22) fokus op die twee gebede van die volk. Dit is deel van ’n groter verhaal wat vanaf 14:1 tot 15:5 strek, waarsonder die gebede nie in perspektief gesien kan word nie.

Die verloop van die gebeure:
Vers 1-6: In ’n klaaglied word die vernietigende effek van ’n buitengewone droogtetoestand geskets.

1 Die woord van die Here het tot Jeremia gekom oor die groot droogte:
2 Juda verdor, sy stede versmag, sy mense sit in rouklere op die grond, die hulpgeroep van Jerusalem weerklink.
3 Die vername mense stuur hulle slawe om water te gaan haal. Dié kom by die putte, maar kry geen water nie; hulle bring hulle kruike leeg terug. Hulle is verslae en verleë, hulle koppe hang.
4 In die hele land het daar geen reën geval nie. Omdat die grond niks oplewer nie, is die boere moedeloos, hulle koppe hang.
5 Die takbok lam in die veld en gooi haar lam weg omdat daar nie gras is nie.
6 Wildedonkies staan op die kaal heuwels en snuif die wind net soos jakkalse; hulle oë raak dof, want daar is nie meer gras nie.

Vers 7-9: Hierdie noodsituasie bring die volk tot gebed waar hulle hulle sondes bely.
7 As ons sondes teen ons getuig, Here, tree tog op ter wille van u Naam. Ons het so baie keer van U af weggedraai, ons het teen U gesondig.
8 Hoop van Israel, Redder in tyd van nood, waarom sou U wees soos ‘n vreemdeling in die land, soos ‘n reisiger wat net ‘n nag oorbly?
9 Waarom sou U wees soos ‘n man wat verskrik staan, soos ‘n soldaat wat nie in staat is om te help nie? U is by ons, Here, ons behoort aan U, moet ons nie verlaat nie! 

Vers 10-12: God wys summier die gebed af. Selfs die profeet word verbied om voorbidding te doen.
10 So sê die Here vir hierdie volk: Hulle is lief om van My af weg te dwaal, hulle het hulle nie daarvan weerhou nie. Daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie. Ek sal hulle nou hulle sonde toereken en rekenskap van hulle eis vir hulle oortredings.
11 Die Here het vir my gesê: Moenie by My vir hierdie volk voorspraak doen nie.
12 Wanneer hulle vas, sal Ek nie na hulle gesmeek luister nie; as hulle brandoffers en graanoffers bring, maak dit die volk nie vir My aanvaarbaar nie, want Ek sal met oorlog, met hongersnood en met pes ‘n einde aan hulle maak. 

Vers 13-16: Jeremia probeer God oorreed om sy oordeelsbesluit te heroorweeg op grond daarvan dat die volk deur valse profete mislei is.
13 Maar ek het gesê: Ag, Here my God, die profete sê dan vir hulle hulle sal geen oorlog of hongersnood beleef nie en dat U sê: Ek sal vir julle blywende voorspoed gee in hierdie land.
14 Die Here het vir my gesê: Die profete gee voor dat hulle in my Naam optree, maar Ek het hulle nie gestuur of beveel nie, Ek het nie eens met hulle gepraat nie. Dit is gesigte wat nie bestaan nie, nuttelose waarsêery, dit is bedrog wat hulle versin wat hulle vir julle aanbied as woorde van profete.
15 Daarom sê Ek oor die profete wat in my Naam optree sonder dat Ek hulle gestuur het, wat beweer daar sal nie oorlog of hongersnood in hierdie land kom nie: Daardie profete sal deur oorlog en hongersnood aan hulle einde kom.
16 Die volk vir wie hulle as profete opgetree het, sal in die strate van Jerusalem weggegooi lê, slagoffers van hongersnood en oorlog. Niemand sal hulle, hulle vrouens, hulle seuns of hulle dogters begrawe nie. Ek sal die kwaad wat hulle gedoen het, op hulle eie koppe laat afkom. 

Vers 17-18: Jeremia se trane vloei dag en nag oor die lyding van die volk.
17 Sê vir hulle dit: Dag en nag, sonder ophou, vloei die trane uit my oë; my volk ly aan sy wonde, hy is swaar getref. 
18 Wanneer ek uitgaan na die veld toe, lê die lyke daar van dié wat met die swaard doodgemaak is; wanneer ek in die stad kom, lê daar die slagoffers van die hongersnood. Profeet en priester trek in die land rond sonder dat hulle weet wat om te sê. 
Vers 19-22: Die volk hef ’n tweede klaaglied aan en bid dat God sy oordeel afwend.
19 Het U Juda dan heeltemal verwerp? Walg U vir Sion? Waarom het U ons getref sonder dat iemand ons genees? Waarom wag ons dat alles regkom, maar dit gaan nie goed nie, wag ons op ‘n tyd van verbetering, maar daar is net rede tot skrik? 
20 Ons erken dat ons opstandig was, Here, ons het teen U gesondig. Ons bely ook die skuld van ons voorvaders. 
21 Ter wille van u Naam, Here, moet ons tog nie verwerp nie. Moenie dat die plek waar u magtige teenwoordigheid regeer, verag word nie. Dink aan u verbond met ons, moet dit tog nie prysgee nie! 
22 Is daar onder die nikswerd gode van die nasies een wat laat reën, wat die hemel sy reën kan laat gee? Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God? Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen.

Vers 15:1-5: Die gebede maak geen indruk op God nie. Jeremia bevestig die oordeel oor die volk.
1 Die Here het vir my gesê: Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan.
2 En as hulle vir jou vra: “Waar moet ons dan heen?” moet jy vir hulle sê: So sê die Here: Wie vir pes bestem is, pes toe, wie vir die swaard bestem is, swaard toe, wie vir hongersnood bestem is, hongersnood toe, wie vir ballingskap bestem is, ballingskap toe.
3 Ek gee oor hulle opdrag aan vier soorte goed, sê die Here: die swaard om dood te maak, honde om die lyke weg te sleep, voëls en roofdiere om hulle op te vreet en te vernietig.
4 Ek maak dié volk iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik. Ek doen dit oor wat koning Manasse van Juda, seun van Hiskia, in Jerusalem gedoen het. 
5 Wie sal vir jou jammer wees, Jerusalem, wie sal medelye met jou hê? Wie sal afdraai en kom vra hoe gaan dit met jou? 

Konteks van die Teks

Ons teksgedeelte is deel van ’n reeks oordeelsprofesieë oor Juda en Jerusalem in die tyd van Josia en Jojakim (Jer 7-20), rondom 626 – 587 vC, vóór die val van Jerusalem.

Vyandelike volke bedreig die volk. Jeremia oordeel dat die krisis ten diepste nie deur die vyand veroorsaak word nie, maar die gevolg is van die volk se sonde en ontrou teenoor God. Hulle het hulle God verlaat en vergeet en die verbondsverhouding met hulle God verbreek. God stuur die militêre bedreiging uit die Noorde om hulle te straf. Nebukadnesar word daarom selfs God se “dienaar” genoem – iets wat binne die volk se denkraamwerk onmoontlik was.

Onder leiding van sogenaamde leuenprofete wat ’n valse boodskap van gerusstelling verkondig, beleef hulle ’n valse gerustheids- en sekuriteitsgevoel. Jeremia is ’n sogenaamde doemprofeet. Op die oog af kan dit lyk of hy geen hoop bied nie. Hy verwerp die populêre boodskap van hoop van die valse profete wat sê: “Alles is reg, alles is reg” (6:14) en “Ons is veilig, dit is die Here se tempel” (7:4).

Volgens Jeremia is die hoop vir die toekoms nie geleë in allerhande menslike planne en ooreenkomste nie, maar in God self wat ’n nuwe verbond maak. Sy boodskap is ’n oproep tot hartgrondige berou en bekering.

Jeremia besef dat vanweë die “hardheid van hulle harte” sy woorde nie die volk tot inkeer sal bring nie. Daarom is die oordeel van God in terme van militêre onderwerping onafwendbaar. Selfs profetiese voorbidding is tevergeefs.

Die teks (Jer 14:7-9 en 19-22) fokus op die twee gebede van die volk. Dit is deel van ’n groter verhaal wat vanaf 14:1 tot 15:5 strek, waarsonder die gebede nie in perspektief gesien kan word nie.

Die volk erken met uiteenlopende woorde dat hulle die verbond verbreek het. Hulle doen belydenis van hulle opstandigheid en sonde (v 7, 20). Hulle bely selfs die skuld van hulle voorvaders. Hulle herinner God aan sy verbond met hulle en pleit dat Hy nie sy verbond moet prysgee nie omdat die eer van sy heerskappy en van sy Naam op die spel is (v 21). Hulle pleit by God om hulle, ter wille van sy Naam, nie te verwerp nie (v 21). Sy Naam dui op wie Hy is; Hy het Homself immers telkens bekend gestel as die God wat vol van genade en barmhartigheid is.

Die volk spreek God hier aan as die “Hoop van Israel” en die “Redder in tyd van nood”. Dit is titels wat in die Ou Testament dui op die betroubare God op wie sy volk kan vertrou (v 8). Hulle doen ’n beroep op die Here om hulle te help omdat Hy besitreg op hulle het en omdat Hy by hulle is: “U is by ons, ons behoort aan U” (v 9).

Hulle kla oor God se afsydigheid. Hulle sê dat dit vir hulle voel asof God soos ’n vreemdeling by hulle is, soos ’n reisiger wat net ’n nag in die land oorbly (onbetrokke sonder om geraak te word deur die nood van die land en die mense).

God is soos ’n soldaat wat verskrik staan en nie in staat is om te help nie (iets wat ondenkbaar is: ’n soldaat moet kan help!).

Nogtans bely die volk hartstogtelik dat God die enigste is wat uitkoms kan gee: “Geen ander (nikswerd) gode kan reën gee nie.” Hulle spreek hulle totale afhanklikheid van God uit: “Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen” (v 22).

In die tweede klaaglied word God se houding en optrede op verwytende wyse bevraagteken: “Het U Juda dan heeltemal verwerp? Walg U vir Sion? Waarom het U ons getref sonder dat iemand ons genees?” Hulle het verwag dat God sou ingryp en help. Maar die toestand het net vererger. Die volk kan dit nie begryp nie.

Die antwoord van God is verrassend anders as die tradisie waaraan die volk gewoond is. God staan afsydig. Hy weier hierdie keer om hulle gebede te verhoor. Die oordeel is onafwendbaar. “Hierdie volk is lief om van My weg te dwaal  …daarom is Ek, die Here, hulle nie meer goedgesind nie”.

Jeremia tree ernstig vir die volk in. Die volk het nie verstaan dat hulle mislei is deur ’n valse boodskap van valse profete nie.

God aanvaar egter nie Jeremia se pleidooi nie. Die valse profete het die volk met nuttelose woorde, versinsels en bedrog mislei. Dieselfde oordeel wat volgens die valse profete nooit sou aanbreek nie, sal juis oor hulle kom.

Die ergste is: Die profeet word verbied om vir hulle te bid (v 11). Al sou voorbidders van die kaliber van Moses en Samuel vir die volk intree, sal dit nog steeds nie God se hart sag maak nie (15.1): Sy gevoel vir hulle is dood.

“Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan” (15:1, 2). Al sou hulle die regte godsdienstige rituele uitvoer (soos offers bring en vas), sal dit nog nie die volk vir God aanvaarbaar maak nie. Hulle voorland is die oordeel: hongersnood, oorlog en pes.

God weier om die gebede van sy volk en sy profeet te verhoor!

Meesal werk dit anders. Gewoonlik word God deur die pleitbede van bidders oorreed. Daar moet ’n besondere rede wees waarom hierdie lyn van die heilsgeskiedenis hier deurbreek word.

Familietyd

Eldon Weisheit (“Wanneer sal jy hulp vra?” in God het kinders lief) gebruik die voorbeeld van ‘n kind wat siek is – en al hoe sieker word, omdat hy weier om slegte medisyne te drink – om die noodsaak van skuldbelydenis te beklemtoon.  So ‘n verhaal kan ons ‘n invalshoek gee om in families hierdie teks van Jeremia ook vir kinders te kan verduidelik.  Vertel die volgende in jou eie woorde oor en maak dit van toepassing op die noodsaaklikheid van ‘n herstel van ons verhouding met God voor ons oor gebedsverhoring kan praat:

Het julle al maagpyn gehad?  Dit is sleg nê!?  En wat gee julle ma’s dan vir julle?  Medisyne?  Is dit lekker?  Nie altyd nie, nê!?

Rikus het een oggend erg maagpyn gehad.  Sy ma wou vir hom medisyne gee, maar hy wou dit nie drink nie.  Dit was vir hom te sleg.  En wat gebeur toe?  Sy maag raak al hoe seerder en seerder.  Toe hy die derde keer badkamer toe moet hardloop, toe weet hy, nou het hy hulp nodig.  Hy moet sy medisyne drink.  En voor die dag om was, het sy maag al beter gevoel.  Die volgende dag was hy weer gesond.

Jeremia sê vir ons dat ons dikwels soos Rikus is.  Ons het miskien iets slegs gedoen en dan voel ons skuldig.  Maar in plaas daarvan dat ons vir die Here vra om ons te vergewe, bly ons stil.  En dan hou ons sommer op met bid.  En ons dink dat die Here nie meer vir ons lief is nie.  En ons dink dat Hy nie sal luister as ons iets vir Hom vra nie.

Wat moet ons doen?  Ons moet ons medisyne drink – ons moet die Here vra om ons te vergewe.  Dan weet ons mos dat Hy luister as ons Hom iets vra.

Preekvoorstel

Die gevaar bestaan om hierdie teks reglynig van toepassing te maak op vandag se situasie. Dit kan aan die een kant maklik ’n moralistiese preek word met ’n simplistiese afleiding dat (oral) waar gelowiges se gebede nie verhoor word nie, dit aan hulle sonde gewyt kan word omdat God sonde haat en sondaars straf.

Aan die ander kant kan dit lei tot die gedagte dat gelowiges, deur hulle opregte gebede en toegewyde leefwyse, die verhoring van hulle gebede kan verdien.

Hoe verstaan ‘n mens die weiering van God om die volk se gebede te verhoor?

Ons sal alleen iets daarvan begryp as ons die boodskap van die Nuwe Testament bybring en daar Christelike prediking van maak – waarin voorbidding, gebedsverhoring en gebedsvrymoedigheid sentraal aan die verlossing in Christus gekoppel word.

Die Here Jesus verhoor nie ons gebede net omdat ons so mooi, korrek en “opreg” bid nie. Ons gebede word alleen verhoor omdat dit Jesus is wat ons by God uitbring en omdat dit Hy is wat vir ons by die Vader intree.

1. Daar is ‘n direkte verband tussen hoe God na ons gebede luister en hoe ons gered word.
Flip Theron (Vreemde Geregtigheid – oor die regverdiging uit genade alleen) het sy lesers al gewaarsku om hulle redding nie op hulle geloof in Jesus Christus te bou nie, maar op Christus. Vir hom was eersgenoemde die mees verfynde fariseïsme denkbaar. Daarvolgens moet jy eers diep in jou eie gemoed kyk om vas te stel of jy glo dat Christus jou Saligmaker is. Eers daarná kan jy tot die gevolgtrekking kom dat jy ‘n kind van God is. Op so ‘n manier, deur in jou eie binneste te moet delf vir sekerheid, is die grond van jou geloof en jou sekerheid nie Christus nie, maar is geloofsekerheid ‘n eienskap binne-in jouself. Dis hoekom hy so klem lê daarop: Die pad is smal en die poort is nou.

“Maar ek is tog so bang dat iemand sal probeer om sy lyf skraal te hou en hom met brute godsdienstige geweld deur hierdie poort sal probeer wurm. Kyk, dit gaan nie werk nie. Hierdie poort is nog veel nouer as wat u dink. Al is u nougeset, vir hierdie poort is u nog veels te geset. Nog eerder sal ‘n kameel hom kan wurm deur die oog van ‘n naald as dat ons deur hierdie poort sal kan kruip, so hoor ons in Matt 19:24.”

Net so kan ons ons lyf probeer skraal hou deur nougeset te bid – en nogtans ervaar dat die Here nie daarna luister nie. Sal ons vyf keer op ‘n dag bid? Of net een keer? Of tien keer? Sal ons nóg ‘n keer ons sondes bely en só druk op God se oor probeer plaas? Sal ons, soos Israel, ’n tweede klaaglied aanhef en bid dat God sy oordeel afwend?

En wanneer is opregte gebed nou opreg “opreg”?

Die Nuwe Testament, en spesifiek die verlossingswerk van Christus, gee vir ons die duidelikste perspektief op die gebedsvrymoedigheid van gelowiges.

Die boodskap van die evangelie verseker ons dat Jesus ons straf ten volle gedra het deur sy volkome offer. Jesus se verlossingswerk aan die kruis, die oorwinning van die opstanding en die hemelvaart, is die grond vir gebed. Dis die waarborg dat God die gebede van sy kinders hoor – maar dan ook die enigste waarborg.

In Getsemane het God die Vader geweier om die gebed van Jesus te verhoor. Nou, daarná en op grond daarvan, mag gelowiges weet dat God hulle gebede verhoor.

Jesus het in die oomblik van sy diepste godverlatenheid aan die kruis vir sy moordenaars gebid. Nou hoef ons in Christus nie weer van God verlate te wees nie – selfs al voel dit soms dat God te ver is en ons twyfel aan sy bestaan.

Die werk van die Gees van Christus, wat as Trooster vir ons pleit met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie (Rom 8:26), lei ons na die onvoorwaardelike versekering van Jesus dat God ons gebede soos ’n liefdevolle Vader sal verhoor.

Jesus self beklemtoon die noodsaaklikheid van volhardende gebed (vgl die gelykenis van die weduwee). Wanneer Hy sy dissipels leer bid “Laat u koninkryk kom”, sluit dit nie uit dat hulle ook vir hulle daaglikse brood mag bid nie.

2. Ons lewe staan nie los van ons gebede nie. Wanneer ons aanhou met ons gebede, verander ons gebede mettertyd ons denke en leefwyse as Christene.
Petrus sê ons gebede kan verhinder word as gevolg van liefdelose gedrag teenoor ons naaste.

Jesus het self gesê dat Christene eers vrede moet gaan maak met hulle broers wat iets teen hulle het vóórdat hulle altaar toe kom: Hulle moet vergeef soos hulle vergeef wil word.

Gebed, skuldbelydenis en -vergifnis loop hand-aan-hand. Maar dan is dit nie die “druk-die-regte-knoppie-dan-kom-alles-weer-reg-mentaliteit” (DJ Smit) van iemand wat in die nood is en daarom om verskoning vra en jammer sê nie. Skuldbelydenis (en gebed) is nie iets wat ons al te gemaklik kan doen, sonder om ons sélf op die altaar voor God te plaas nie. Gebed is dus ook ’n worsteling met onsself voor God. “Dit gaan om die erkenning van spesifieke oortredinge oor in heel konkrete en spesifieke voornemens van omkering, vernuwing en toewyding” (DJ Smit).

Ons gebede is lewensbelangrik vir ons lewe. As ons bid: “Laat u koninkryk kom”, beteken dit dat ons bid dat God se wil in en deur ons lewe sal gebeur. Ons stel nie ons verwagting in die hoop dat ons gebede op ‘n spesifieke manier beantwoord gaan word nie. Ons geloof is eerder in die karakter van God – Hy is getrou, Hy is ‘n goeie Vader en sy oor is nie te doof om te hoor nie. Sodoende vernuwe ons ons gedagtes om te kan bou aan God se koninkryk, eerder as aan ons eie.

Die Gees van God en sy Woord help ons om God se karakter te ken en met sy koninkryk vertroud te raak. In dié proses begin ons ons eie selfsug en selfgerigtheid ontdek. Dan sien ons dat in ons gebede dit meesal maar draai om ons eie belang, welvaart en voorspoed.

En dan is ons verbaas en geskok dat God oënskynlik nie hoor nie …?

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef. 

Lied 284 “Laat Heer u vrede deur my vloei”;
NSG 286 “Give me joy in my heart”
Lied 266 (NSG 325): “Ons Vader wat woon in die hemel”.

Seënbede
Gaan in vrede.
Die wenstreep lê voor.
Volhard in die wedloop van die geloof.
En weet verseker:
God die Vader sal jou altyd liefhê,
God die Seun sal jou altyd genadig wees,
God die Heilige Gees sal jou altyd vertroos en jou in sy waarheid lei.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.