Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Gelowiges wat ander mense selfloos liefhet en tot die Here se eer alleen lewe, verwerp die voorbeeld van die godsdienstige leiers in Jesus se tyd, en volg Jesus se voorbeeld. Die tekste uit die Ou Testament maak moeiteloos verwondering in mense los vir die interspel tussen die belewenis van God se almag en gehoorsaamheid aan Hom.

Ander tekste

Josua 3:7-17
3 Josua het die môre vroeg van Sittim af vertrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oorgebly voor hulle deur die rivier sou trek. 2Na drie dae het die beamptes die kamp deurgegaan 3en die volk beveel: “Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg, 4sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet ’n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.”

5Josua het vir die volk gesê: “Reinig julle, want môre gaan die Here wonders doen tussen julle.”

6Vir die priesters het Josua gesê: “Tel die verbondsark op en stap voor die volk uit.”

Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit geloop.

7Toe sê die Here vir Josua: “Ek begin vandag om vir jou hoë aansien in die oë van die hele Israel te gee sodat hulle kan weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was. 8Sê nou vir die priesters wat die verbondsark dra, hulle moet by die Jordaan gaan staan wanneer hulle by die waterkant kom.”

9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader, luister na die woorde van die Here julle God!”

10Daarna sê hy: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God tussen julle is en dat Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete sekerlik sal verdryf om vir julle plek te maak: 11kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde sal voor julle uit die Jordaan in gaan. 12Wys nou twaalf man aan uit die stamme van Israel, een uit elke stam. 13Wanneer die voetsole van die priesters aan die Jordaan se water raak, die priesters wat die ark van die Here dra, die Here van die hele aarde, sal die water van die Jordaan wat afkom, afgesny word en op een hoop gaan staan.”

14Die volk het toe van hulle tente af vertrek om deur die Jordaan te trek. Die priesters wat die verbondsark gedra het, was voor hulle. 15Die draers van die ark het by die Jordaan aangekom. Gedurende die hele oestyd is die Jordaan gewoonlik vol, oor al sy oewers. Toe die voete van die priesters wat die ark dra, in die vlakwater kom, 16het die water wat afkom, gaan staan. Dit het op een hoop gaan staan, ver boontoe by Adam, die stad langs Saretan. Die water wat afloop na die see in die Jordaanvallei, die Soutsee, was heeltemal afgesny. Die volk het regoor Jerigo deurgetrek. 17Die priesters wat die verbondsark van die Here dra, het daar binne-in die Jordaan op die droë bedding gaan staan terwyl die hele Israel oor die droë bedding deurgaan tot die hele nasie uiteindelik deur die Jordaan is.

Psalm 107:1-7, 33-37
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn,
in ’n barre wêreld,
en kon die pad na ’n bewoonde stad
nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ’n bewoonde stad laat uitkom.
33Hy verander waterryke gebied
in woestyn,
fonteinwêreld in dorsland,
34Hy maak vrugbare grond brak
oor die slegte dade van dié
wat daar woon.
35Hy verander woestyngebied in rietvlei,
dorsland in fonteinwêreld
36en laat honger mense hulle daar vestig
dat hulle stede kan stig om in te woon.
37Hulle bewerk lande en plant wingerde,
en dié lewer hulle oeste.

1 Tessalonisense 2:9-13
Paulus se werk in Tessalonika
2 Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op ’n mislukking uitgeloop het nie. 2Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. 3Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. 4Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.

5Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle of ander is 7al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ’n ma wat haar kinders vertroetel. 8So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry.

9Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ’n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.

10Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. 11Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos ’n pa sy kinders 12het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê.

13Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys.

14Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. 15Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; 16hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref.

Fokusteks

Matteus 23:1-12
Jesus waarsku teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs

(Mark 12:38–39; Luk 11:43–46; 20:45–46)
23 Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek 2en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. 3Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. 4Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ’n vinger verroer om dit te dra nie. 5Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. 6Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges 7en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

8“Maar julle moet julle nie ‘rabbi’ laat noem nie; net Een is julle Leermeester en julle is almal broers. 9Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie, want Een is julle Vader: die Vader in die hemel. 10Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus.

11“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. 12Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

Ekstra stof

Matteus 23:1 – 24:2 – Jesus veroordeel die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs
Die verhale, simboliese handelinge, gelykenisse, gesprekke en die laaste genesingsverhaal van hoofstuk 19-22 word opgevolg met die vyfde en laaste toespraak van Jesus, dié keer ’n profetiese rede, in verband met die verdere koms van die koninkryk – hfst. 23-25.

Dit sluit ’n verdoemende veroordeling van die skrifkenners en Fariseërs se skynheiligheid in (23:1-12), sewe oordele oor hulle omdat hulle mense van die koninkryk uitsluit met hulle skynheiligheid (23:13-36) asook ’n veroordeling van Jerusalem wat God se genade versmaai het (23:37-39) en tot die vernietiging van die tempel sal lei (24:1-2).

’n Verdoemende veroordeling van die skrifkenners en Fariseërs se skynheiligheid – 23:1-12
Jesus begin sy toespraak deur die skare en die dissipels te waarsku teen die skynheiligheid van die skrifkenners en Fariseërs. Hulle het die gesag –hulle sit op die stoel van Moses – en het baie te sê, maar verroer nie ’n vinger om iets daarvan uit te voer nie. Wanneer hulle wel sovêr kom om iets te doen, is dit om gesien en vereer te word.

Daarteenoor raai Jesus hulle aan om die pad van nederigheid te kies: “die belangrikste onder julle moet julle dienaar wees.” Aanspreekvorme soos rabbi (dit beteken meester), vader en leraar moet nie ’n belangrike onderskeidingsteken wees nie, omdat net Een hulle rabbi is, dit is Christus, net Een hulle Vader is, dit is die God in die hemel en net Een hulle Leraar is, dit is Christus.

Die punt hiervan is nie dat daar geen onderskeidingsteken mag wees tussen medegelowiges in die liggaam van Christus nie, maar dat niemand hom- of haarself mag aanstel daaroor nie. Hoekom nie? Want almal van hulle is afhanklik van God vir alles.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Open 7:10-12)

Seëngroet:  (Open 1)

Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Verootmoediging
Ons gebruik die eerste 2 vrae van die Heidelbergse Kategismus as struktuur vir sonde, verlossing en dankbaarheid.
Die Bybel oor die omvang van my sonde en ellende: Romeine 3:9-20
Die Bybel oor hoe ek van my sonde en ellende verlos kan word: Romeine 3:21-25 ()
Geloofsbelydenis as hernieude verbintenis aan Jesus die Verlosser.

Lofliedere is een manier om dankbaarheid te betoon…
Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Epiklese gebed: (Ahv Ps 1)

Skriflesing: Matteus 23:1-12

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied  309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën: (Fil 3.10)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord 
“Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”
“Amen! Die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer,
die mag en die sterkte behoort
aan ons God
tot in alle ewigheid. Amen!” (Open 7:10-12)

Seëngroet 
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. (Open 1)

Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Verootmoediging
Ons gebruik die eerste 2 vrae van die Heidelbergse Kategismus as struktuur vir sonde, verlossing en dankbaarheid.

Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe ?
Antwoord: Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Die Bybel oor die omvang van my sonde en ellende:
Romeine 3:9-20
Niemand is regverdig nie
9Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. 10Daar staan immers geskrywe:
“Daar is nie een wat regverdig is nie,
selfs nie een nie.
11Daar is nie een wat verstandig is nie;
daar is nie een
wat na die wil van God
vra nie.
12“Almal het afgedwaal,
almal het ontaard.
Daar is nie een wat goed doen nie,
selfs nie een nie.
13“Hulle keel is ’n oop graf,
met hulle tonge bedrieg hulle.
Oor hulle lippe kom woorde
so giftig soos slange.
14Hulle mond is vol vervloeking
en bitterheid.
15“Hulle voete is vinnig om bloed
te vergiet.
16Hulle laat ’n spoor van verwoesting
en ellende agter.
17Die pad van vrede het hulle
nie leer ken nie.
18Ontsag vir God het hulle nie.”

19Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.

Die Bybel oor hoe ek van my sonde en ellende verlos kan word:
Romeine 3:21-25 ()

God verlos die mens 
21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

Geloofsbelydenis as hernieude verbintenis aan Jesus die Verlosser.

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Lofliedere is een manier om dankbaarheid te betoon…
Lied 202 Prys Hom die Hemelvors 1,2,3 en/of
Lied 219 Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3

Liedere

F69. “Was My Skoon”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Skuldbelydenis)
Teks en Musiek: Hannes Grabe
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Kom en reinig my, o Heer
Week my sonde en skuld in die bloed van u Seun
Ek staan skuldig voor U, Heer
Die verlore kind kom vra ‘n tweede kans
Was my skoon, maak my rein,
Laat U lig weer deur my skyn
Neem my hart, maak dit nuut,
Laat my lig na ander skyn
Was my skoon, maak my rein
Laat u lig weer deur my skyn
Laat u Gees my hart deurspoel
Bring u vrede en rus, u genade oor my
Maak my wit net soos die sneeu
Ek wil heilig leef, gewy aan U, my Heer

F74. “Ek Wil Die Here Dien Met My Lewe”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)

Refrein: (x2)
Ek wil die Here dien met my lewe
want Hy alleen is God

1. Hy’s die enigste pad na die Vader toe
Hy’s die Waarheid en die Weg
Daar is niemand anders wat lewe gee
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

2. As ek bang is, is Hy daar vir my
As dit donker is, Hy’s die Lig
As ek alleen is, is Hy my vriend
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

3. Vir die blindes
sal Hy die pad kom wys
Vir die swakkes sal Hy help
Vir die siekes sal Hy genesing bring
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

4. Vir die sondaar
wil Hy verlossing bring
Die gevangenes laat Hy vry
Die wat hartseer is,
sal Hy vertroos
Sy Naam is Jesus

Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Epiklese gebed: (Ahv Ps 1)
Here- ek wil so graag hê dat dit met my goed gaan…
ek wil nie die raad van goddeloses volg nie,
ek wil nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar ek wil in die woord van die Here
my vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
Ek wil graag wees soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Ek wil so graag voorspoedig wees in alles
wat ek aanpak.
Bewaar my dat ek nie soos kaf deur die wind uitmekaar gewaai word nie.
6Waarlik, Here lei my op die pad wat U behaag.
Amen

Skriflesing: Matteus 23:1-12

Prediking

Familie-oomblik

Hier is ‘n storie-idee wat jy kan gebruik.
‘n Inkleurprent.

Tema: Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.” (Matteus 23:1-12)
Moenie te veel van jouself dink nie…

Gebruik ‘n ballon waarop ‘n gesiggie geteken is. Plak ‘n drukspyker op jou duim om die ballon op die regte tyd te prik sodat dit bars. Probeer om nie te skrik nie…

In Matteus 23 het Jesus skerp kritiek uitgespreek teen die godsdiensleiers van daardie tyd, veral die Fariseërs.

Hier in my hand het ek ‘n ballon saamgebring… Fariseer X.
Blaas die ballon op terwyl jy telkens die onderstaande kenmerke vir die kinders voorhou.

Aan die Hand van die Nuwe Testament vir kinders (Joubert, Stander en vd Watt) kan ons Jesus hoor praat…
“Daardie klomp godsdienstige leiers van julle weet baie goed wat die Bybel sê.
Hulle ken elke stukkie van God se wet uit hulle kop uit.
Julle moet alles doen wat hulle vir julle sê.
Maar moenie soos hulle leef nie.
Want hulle doen glad nie wat hulle vir julle leer nie.
Hulle bid vreeslik mooi en sit altyd op die belangrikste plekke in die kerk en by feeste. Hulle wil net hê die mense moet sien hoe godsdienstig hulle is.
Hulle hou ook daarvan as mense vir hulle dinge sê soos: ‘Goeiemôre, liewe meneer.’
Dan voel hulle baie belangrik.”
Wat Jesus eintlik bedoel is dat iemand wie hoogmoedig is, sal verneder word.
Wanneer die ballon op sy grootste opgeblaas is, is dit die naaste daaraan om te bars!
Prik die ballon en bars dit.
Jesus leer ons in sy gesprek met die Fariseërs dat nederigheid belangrik is. ‘n Mens moenie te veel van jouself dink nie…

Gebed: Help my Here Jesus om nooit te veel van myself te dink nie, maar om soos ‘n nederige mens te leef. Amen

Preekriglyn

Alexander Schmemann skryf:
Mens kan op godsdiens versot wees, soos op enigiets anders in die lewe: sport, seëls, avontuur, die wetenskap. Mens kan dit op sigself beoefen, sonder ‘n verhouding met God, die lewe, of die wêreld.

Godsdiens is fassinerend, dit vermaak. Dit bevat alles waarna baie mense smag: skoonheid, misterie, die heilige, ‘n gevoel van selfwaarde, en die belewing van diepgang in die lewe.

Daardie soort godsdiens is nie noodwendig geloof nie.

Tragies genoeg kan die beoefening van ook die Christelike geloof ‘n doel opsigself word. Die wonderlike rituele, die fassinerende etiek, die warme vriendskappe, en die omvattende gebruike wat daarmee saamhang kan betowerend raak. Dit gee ‘n gevoel van eiewaarde, dit skep ‘n geleentheid vir mense om leierskapsrolle te vervul, invloed uit te oefen, dit is moreel uitdagend.

Sodra geloofsbeoefening losgemaak word van liefde en diens, loop dit egter die gevaar om ‘n swaar las te word. Dit kan ‘n ondraaglike las word.

Tussen Scylla en Charybdis

Scylla en Charybdis was twee mitiese seemonsters waarna Homer (die klassieke Griekse digter, nie Homer Simpson van TV-faam nie) verwys. Die monsters het gehou aan weerskante van die Straat van Messina wat Sicilië en Italië skei. Seevaarders wat te ver van die een probeer verbystuur het, het te naby aan die ander een gekom, en so in die slag gebly.

Die vroeë Christelike kerk het op Joodse wortels ontstaan, maar het uitgebrei na die heidendom. Ons lees reeds in Handelinge hoe die damwal na die heidene breek en mense wat vroeër nie deel van die volk van God was nie, deel geword het.

Vinnig het dit geblyk dat die vroeë kerk tussen die Scylla van Joodse wettisisme en die Charybdis van heidense wetteloosheid moes deurstuur.

Wettisisme beteken dat die wet ter wille van die wet self, tot in die fynste detail, onderhou moes word. Die Joodse leiers het die uiterlike voldoening aan die wet se vereistes hoog geag, en het daarom sekere uiterlike tekens en kleredrag vereis.

Heidense wetteloosheid het beteken dat alles maar aanvaarbaar was. In die breë Grieks-Romeinse kultuur is die huwelik en vroue geminag, ongewenste kinders buite aan die elemente oorgelaat, is mense vir die vermaak van die massas doodgemaak.

Tussen hierdie twee pole deur moes die vroeë Christelike kerk haar weg vind.

Agtergrond

Matteus skryf sy evangelie binne die konteks van ‘n gemeente wat worstel om Jesus te volg in ‘n wêreld waar beide die Joodse wortels en die fokus op al die nasies van die wêreld vasgehou moet word.

Die mees waarskynlike plek waar die Matteus-evangelie geskryf is, was die stad Antiogië in Sirië. Hier het die Joodse gelowiges vir die eerste keer op groot skaal die evangelie aan heidene verkondig, en het hulle deel van die gemeente geword. Spoedig was die vraag of hierdie gelowiges, wat ‘n Joodse Messias, Jesus, begin volg het, ook al die Joodse wette moes onderhou?

Matteus onderrig hierdie gemeente deur Jesus se woorde in ons teks in herinnering te roep.

Beide Joods en nie-Joods

Aan die een kant het die Christelike kerk uit die Ou Testament gegroei. God het Abraham geroep, en ‘n volk uit hom laat voortkom, omdat God wou hê hierdie volk moet ‘n seën vir al die nasies word. Dit was die doel van Israel. God het deur die eeue ‘n pad met hulle geloop, en vir hulle die wet gegee om hulle te leer hoe om Hom as Koning te eer en te dien.

Jesus is as Jood gebore en het vir ons versoening met God bewerk. Dis Jesus wat die damwal laat breek met sy opdrag dat dissipels van al die nasies gemaak moet word. Vader en Seun stort die Heilige Gees oor die kerk uit om die kerk te bemagtig om al die nasies in te sluit.

Paulus sê dat die heidene wat tot bekering kom soos lote van ‘n wilde olyf is wat op die mak olyf, Israel ingeënt word (Romeine 11:17).

Om ‘n Christen te word, beteken dat jy ook die Ou Testament, God se geskiedenis met Israel, as jou geskiedenis aanvaar. Jy word deel van God se eeue-lange betrokkenheid by mense. Jy ontvang die heil wat God uit Israel laat voortkom het. Jy word onderrig uit die wet hoe God gedien en gevolg wil word.

Aan die ander kant beteken ons inplanting op die mak olyf nie dat ons Jode word wat die onmoontlike eise wat die Joodse skrifgeleerdes en Fariseërs uit die wet geskep het, moet dra nie. Om ‘n Christen te word, en op die mak olyf ingeënt te word, beteken nie dat jy begin lewe soos ‘n Joodse skrifgeleerde in die tyd van Jesus nie.

Lewendige gevare vandag

Beide hierdie pole is vandag steeds ‘n versoeking vir Christene. Daar is Christene wat absoluut vrysinnig wil lewe. Ook in ons land is daar Christene wat nie genoeg kan bewys hoe vry en liberaal hulle nou eintlik is nie.

Dan is daar ook ‘n beweging onder Christene wat streef om weer Joods te word. Daar is ‘n oplewing in die handhawing van allerlei Joodse gebruike en die onderhouding van Joodse feeste. Dit lyk of uiterlike wetsonderhouding in gewildheid toeneem.

Beide hierdie groepe kan nogal snedig wees teenoor gelowiges wat nie in die kloue van óf Scylla óf Charybdis wil beland nie.

Die regte weg

Jesus begin in ons teks om die skrifgeleerdes en Fariseërs se gebrek aan uitvoering gee aan hulle eie opdragte te kritiseer, eenvoudig gestel “they do not practice what they preach” (die NIV se vertaling van 23:3b). Eintlik word daar ’n stuk ironie uitgebeeld – die voorskrifte wat hulle maak is eintlik onmoontlik om te dra – hulle kan dit self nie eers dra nie. ’n Gebrek aan verstaan by hierdie geestelike leiers word hiermee aangedui. Die einde van hulle tyd het aangebreek!

Maar daar is ook ’n onwilligheid by hulle om selfs dit te probeer dra (hulle wil nie ’n vinger verroer nie). Die skrifgeleerdes en Fariseërs het hulle self gesien as “anders” of “verhewe”, dus “bokant” die reëls wat hulle verkondig, hulle hoef selfs nie eers te probeer om dit te gehoorsaam nie. Hoogmoed en skynheiligheid is hier ter sprake.

Hierdie “verhewendheid”, “andersheid”, “beter as julle” word ook deur ander optredes bewys. Hulle geloofshandelinge (breë gebedsband om hulle voorkop); kleredrag (groot tossels), sosiale posisie (ereplekke by feesmaaltye; hoe hulle aangespreek word); en posisie in die sinagoges dui alles daarop dat hulle graag deur mense vereer wil word.

Geen eretitels

Matteus (23:8-10) fokus op hoe eretitels die beginsel dat almal van mekaar “broers” en “susters” is, ondermyn. “Rabbi” was die amptelike titel van die skrifgeleerdes in die tyd van Matteus se skrywe. Dit is selfs moontlik dat sommige in die menigte begin het om die dissipels ere-benaminge te gee soos “rabbi” (leermeester), “abba” (my vader), en kathegetes (my interpreteerder of leier) en dat Jesus dit hiermee wil teëspreek.

In beide Matteus (21:1-11) en Markus (11:1-11) kom hierdie gedeelte na die intog van Jesus (op ’n donkie) in Jerusalem. Die skare en die dissipels het ’n voorbeeld van nederigheid in Jesus se optrede gehad. Hierdie anderste waardesisteem van die koninkryk van God wat ingelei is met Christus se koms het die skrifgeleerdes en Fariseërs nie verstaan nie, ook oor hulle gebrek aan innerlike vroomheid. Die belangrikheid van uiterlike aansien het iets van die innerlike weerspieël van die skrifgeleerdes en Fariseërs.

Diensbaarheid

Hoekom is die uiterlike nie so belangrik nie? Hoekom is dit belangrik dat almal hulle as mekaar se broers sien en nie op eretitels aanspraak maak nie?

Dit gaan alles oor diensbaarheid aan mekaar. Hierdie diensbaarheid is gesetel in ’n gesindheid en bereidheid om die minste te wees. ’n Kenmerk van die volgelinge van Jesus Christus is diensbaarheid en ons weet dat Matteus nie eng dink nie maar diensbaarheid aan die hele wêreld bedoel (Matt 28).

Om net as te ware die spyker effens dieper in te slaan en aan te dui dat dit nie oor die uiterlike gaan nie, maar oor dit wat in die hart aangaan, sluit die gedeelte af met vers 12: “Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.” Jesus draai dikwels sake op hulle koppe om die andersheid van die koninkryk van God aan te toon. Hiervan is die bergpredikasie weereens ’n voorbeeld.

Die Scylla van ‘n wettiese las

Die teks help ons om na ons eie gemeente en na die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap te kyk veral indien ons in gedagte hou dat op papier oor die 70% van die samelewing Christelik van aard is.

In so baie geloofsgemeenskappe speel oppervlakkige en uiterlike sake ’n oorweldigende rol. Die verhale van vergaderings en eredienste waar daar oor kleredrag (ampsdrag!), voorkoms en gebruike gepraat word, is legio. Ons almal ken die stryd om posisies en mag in gemeentes en kerkvergaderings (kerkrade, ringe, sinodes). Kerkpolitiek is aan ons almal wel bekend.

Dan is daar nog die groot hoeveelheid mense in geloofsgemeenskap met “lang tone”. ’n Uitdrukking wat dui op iemand wie se tone jy maklik raak trap en wat vreeslik liggeraak is. Onderliggend kan die behoeftes na aansien en posisie dikwels geïdentifiseer word. Baie energie en tyd gaan dikwels daarin om konflikte wat deur liggeraaktheid veroorsaak is te probeer fasiliteer.

Gelukkig is daar ook baie stories in gemeentes en in gemeenskappe van mense wat diensbaar is, mense wat hulleself nie laat afsit deur wat ander sê en dink nie, maar net dit doen wat hulle glo hulle geroep is om te doen. Daar is baie onbaatsugtige mense wat sonder enige aansien en soms sonder dat enige een daarvan weet tekens van die koninkryk van God uitleef sonder om daarvoor bedank te word of ’n sertifikaat te ontvang. Dit sluit in mense wat skolasties nie ver gevorder het nie en mense met baie kwalifikasies.

Oppervlakkigheid

Daar word in die Suid-Afrikaanse samelewing vreeslik baie klem op die uiterlike en op status gelê, ’n soort van oppervlakkigheid wat waarde heg aan goed wat min waarde het. ’n Regte Hollywood-kultuur! Daar word baie geld gespandeer op klere (met behulp van klererekenings); motors; groot huise en selfs oormatig groot begrafnisse. Titels en posisies in die samelewing is vir baie mense belangrik.

Status speel ’n groot rol en dit word bevestig deur verskeie rolspelers. Jongmense word aangetrek deur die glans wat dwelmbase en ander kriminele vertoon. Politici word begelei met motors met blou ligte; bly in vyfsterhotelle en huise wat telkens oorgedoen word teen miljoene rande. Gesag en respek word gelyk gestel aan posisie en word dikwels met glans, rykdom en vele ander vorme van die uiterlike bevestig.
Ook in die kerk

Maar laat ons nie die samelewing te veel beskuldig nie. Wat is dikwels die situasie in die kerk? Wat sien die samelewing in die kerk raak? Ongelukkig ervaar die mense buite die kerk soms dat ons in die kerk soos skrifgeleerdes en Fariseërs optree.

Indien ons die lig van hierdie perikoop op ons as kerk laat skyn, is hier ’n ongelooflike geleentheid vir die geloofsgemeenskap om op ’n ander manier na dinge te kyk om vanuit Christus se opdrag te leef. Om vanuit koninkryksbeginsels te leef – om te dien en om bereid te wees om die minste te wees boaan ons lysie te plaas.

Indien ons in die kerk die samelewing kan vooruitgaan om nie net mekaar broers en susters te noem nie, maar ook as broers en susters te kan leef met mekaar sal dit nie anders kan as om oor te spoel na die samelewing nie.

Ons is ’n ras- en klasgedrewe samelewing. Binne en buite die kerk. Ons weet almal dat ’n koninkrykgesindheid in ons kerke nodig is. Die kerk is die plek waar ons moet leer om ons aansprake (entitlement) op mekaar, op ons posisies en op ons tradisies eenkant te skuif. In die kerk behoort ons te leer van verdraagsaamheid, eenheid, versoening en geregtigheid.

Die teks vra aan ons elkeen: Wat is nodig sodat ons in die kerk dit kan regkry om te leef vanuit ’n gesindheid van diensbaarheid en om die minste te wees? Hoe leef mens die wet reg uit?

Die Charybdis van wetteloosheid

Die samelewing word nie net deur ‘n uiterlike wetsvertoon, en oppervlakkige lewensstyl gekenmerk nie.

Meer en meer mense aanvaar ook die opsie dat ‘n mens eintlik jou eie wet is, en self bepaal wat vir jou sin maak. Dit is verkeerd om beperkings aan mense op te lê. Mens kan doen wat jy wil. Niemand moet van jou verwag om in te pas by waardes wat ander aan jou opdring nie.

Hierdie opsie is uiteindelik net so leeg soos uiterlike wetsvertoon.

“Een is julle Leier”

Hoe werk mens oppervlakkigheid en ‘n stryd om persoonlike mag en posisie teë? Hoe ondermyn mens die geloof (ook in jouself) dat voorspoed en die vermoë tot uiterlike vertoon ware geluk bring? Hoe bevorder jy diensbaarheid en nederigheid?

Mens doen dit nie deur die wet self oorbodig te verklaar nie. Wetteloosheid, die fokus op jou eie belang soos jy dit sien, is nie ‘n opsie nie.

Gehoorsaamheid aan God se wet, buite in jou private en publieke lewe bly belangrik. Jesus erken self die gesag van die wet, en roep ons op om die wet te gehoorsaam (23:2-3). Jesus wys ‘n oppervlakkige hantering van die wet, en die skep van swaar laste uit die wet af, maar erken die vormende en bewarende krag van die wet in die samelewing.

Die regte vorming vind plaas deur Jesus as Leermeester en Leier te erken wat ons lei om ons Vader reg te dien (23:8-10). Die navolging van Jesus deur dissiplines soos die lees van sy Woord, gebed, diensbaarheid, nederigheid, vorm ons om God se volmaakte wil prakties in ons lewe van elke dag uit te voer.

Jesus is die voorbeeld van gehoorsaamheid aan die Vader, en van nederig diens. Hoe meer ons leer om Hom na te volg, deur die krag van sy Gees, hoe meer word ons vernuwe in mense wat vreugde in die Vaderhart bring.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën (Fil 3.10)
Mag u Christus innig ken,
mag u die krag van Sy opstanding te ondervind
en mag u deel hê aan sy lyding
deur aan Hom gelyk te word in sy dood.
Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.