Een en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In vandag se sleutelteks vind ons God aan die woord. God wys Job op die wonders van die natuur en bevestig homself as die skepper en onderhouer van lewe. Die vrae waarmee Job worstel, word deur God se antwoord in perspektief gestel.
Verwysings na God as skepper en onderhouer kan vandag met groot vrug gebruik word.

Ander tekste

Psalm 104:1-9, 24, 35
Ek wil my in die Here verbly
104 Ek wil die Here loof!
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ’n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
soos ’n tentdoek gespan
3en vir U ’n woonplek ingerig
het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
6Die groot waters het die aarde
soos ’n kleed oordek,
die waters het bo-oor die berge gestaan.
7Maar toe U die waters aanspreek,
het hulle gevlug,
voor die krag van u stem
het hulle die wyk geneem.
8Hulle het oor die berge gespoel
en in die laagtes weggevloei
na die plek toe wat U
vir hulle bestem het.
9U het ’n grens gestel
waaroor hulle nie mag gaan nie:
hulle mag die aarde
nie weer oordek nie.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.

Hebreërs 5:1-10
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde

van Melgisedek.”
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Markus 10:35-45
Die versoek van Jakobus en Johannes

(Matt 20:20–28)
35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.”

36“Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra.

37Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

38“Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?”

39“Ons kan,” sê hulle vir Hom.

Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.”

41Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. 42Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. 43Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 44en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. 45Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Fokusteks

Job 38:1-7, (34-41)
Die Here: Ek sal vra, antwoord jy My
38 Toe het die Here vir Job aangespreek uit ‘n stormwind uit:
2“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
5Wie het die aarde afgemeet?
Weet jy dit?
Wie het ‘n maatlyn
oor hom gespan?
6Waarop is sy voetstukke neergesit?
Wie het hom aanmekaargesit
7daardie oggend toe die sterre
saamgesing het
en al die hemelinge gejubel het?
8Wie het die see opgedam
toe hy begin uitborrel het?
9Ek het hom met wolke bedek,
hom met donkerte toegemaak.
10Ek het vir hom perke gestel,
hom agter slot en grendel gesit.
11Ek het gesê:
‘Tot hiertoe mag jy kom,
nie verder nie;
hier is die grens
van jou magtige golwe.’
12“Het jy, Job, in jou tyd
die môre beveel om te kom?
Weet jy waar die daeraad
vandaan kom,
13die daeraad wat lig
oor die hele aarde bring
sodat die goddeloses nie
in die donker kan bly skuil nie?
14Met die daeraad word die vorm
van die aarde sigbaar,
dit neem vorm aan
soos klere wat aangetrek word.
15Dan word die goddeloses
hulle bestaan ontneem
en word hulle geweld beëindig.
16Het jy, Job, al gekom by die plek
waar die seewater uitborrel,
en rondgestap op die bodem
van die diepsee?
17Het jy die ingang van die doderyk
gesien,
die plek van donkerte al bekyk?
18Kan jy ‘n beeld vorm
van die groot wye wêreld?
Praat as jy iets daarvan weet.
19Hoe loop die pad na die plek
waar die lig woon?
En die donkerte,
waar is sy woonplek?
20Kan jy die donkerte na sy gebied toe
terugvat?
Ken jy die paaie
na sy woongebied toe?
21Jy moet dit weet, jy wat maak
of jy toe al gebore was,
of jy ‘n lang lewe agter die rug het.
22Was jy al by die plek
waar die sneeu gebêre word?
Het jy al die plek gesien
waar die hael gebêre word,
23wat Ek opgegaar het
vir ‘n tyd van rampe,
vir die dag as Ek wil oorlog voer?
24Hoe loop die pad na die plek toe
waar die lig sy oorsprong het
en die oostewind oor die aarde
begin waai?
25Wie het vir die stortreën
‘n pad oopgekap
en vir die donderwolke
hulle koers bepaal
26sodat dit reën in ‘n land
waar nie mense is nie,
in ‘n woestyn
waar niemand woon nie
27en ‘n droë, dor land deurnat word,
sodat daar groen gras uitspruit?
28Het die reën ‘n vader?
Wie het die doudruppels
in die wêreld gebring?
29Wie bring die ys te voorskyn?
Wie bring die ryp in die wêreld?
30Die water word so hard soos klip,
selfs die oppervlakte van die diepsee
verys.
31Sou jy die Sewester
met ‘n band kon vasknoop
of die band van Orion
kon losmaak?
32Kan jy die sterre op hulle tyd
laat opkom,
kan jy die Beer met sy kleintjies
laat uitkom?
33Weet jy
hoe die hemelliggame werk?
Stel jy hulle invloed
op die aarde vas?
34Kan jy jou stem tot by die wolke
hoorbaar maak
sodat stortreën jou oordek?
35Kan jy weerligstrale uitstuur
dat hulle vir jou kom sê:
‘Hier is ons’?
36Wie gee verstand aan die ibis
om teen die vloed te waarsku
of wie gee insig aan die haan
om die dag aan te kondig?
37Wie het die kennis om genoeg wolke
bymekaar te bring,
om hierdie waterkruike
van die hemel om te keer
38wanneer die grond kliphard is
en daar net groot kluite lê?

Liturgie

Aanvangslied: Lied 512 “Nader my God by U vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Ps 22:1-4)

Seëngroet: (Romeine 1)

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Verootmoediging
Soos aangedui in die basisliturgie vir hierdie reeks word daar telkens ’n moment van besinning aan die begin van die liturgie ingeruim. Stel weekliks ’n bepaalde saak aan die orde waarop rou of weeklaag ’n natuurlike respons sou wees.

Moment van besinning
Skep nou ’n geleentheid waarin die gemeente kan nadink oor hulle eie ervarings van bevraagtekening van God se almag en optrede in hulle lewens, nadenke oor die dinge wat ons nie verstaan nie en waarin ons God verwyt en bevraagteken.
Gebruik stilte as instrument met geleentheid vir stilgebed.
Die skrywe aan die Hebreërs kan ons help in die verband: Hebreërs 5:1-10

As simbool van God se getroue teenwoordigheid word ’n kers aangesteek.

Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4

Gebed: (ahv Ps 104)

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38 en 39)

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1 en 11”

Epiklese

Skriflesing: Job 38:1-7, 34-41

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 456 “Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3”

Seën: (Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied  512 “Nader my God by U vs 1,2,3”

Aanvangswoord 
My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van mense weerklink!
(Ps 22:1-4)

Seëngroet
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Romeine 1)

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Verootmoediging
Soos aangedui in die basisliturgie vir hierdie reeks word daar telkens ’n moment van besinning aan die begin van die liturgie ingeruim. Stel weekliks ’n bepaalde saak aan die orde waarop rou of weeklaag ’n natuurlike respons sou wees.

Moment van besinning
Job verwoord sy skaamte/ verleentheid met stilswye wanneer God hom telkens vra…. “Waar was jy toe ek?” Maw, wie is jy om My werke te bevraagteken?
2“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
3Maak jou reg vir die stryd:
Ek sal vra, antwoord jy My.
4Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het? (Job 38)

Skep nou ’n geleentheid waarin die gemeente kan nadink oor hulle eie ervarings van bevraagtekening van God se almag en optrede in hulle lewens, nadenke oor die dinge wat ons nie verstaan nie en waarin ons God verwyt en bevraagteken.

Gebruik stilte as instrument met geleentheid vir stilgebed.

Die skrywe aan die Hebreërs kan ons help in die verband:
OM TEN SPYTE VAN MISLUKKING MET VRYMOEDIGHEID NA DIE GENADE TROON TE GAAN

Hebreërs 5:1-10
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

As simbool van God se getroue teenwoordigheid word ’n kers aangesteek.

Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Gebed: (ahv Ps 104)
Here my God, U is baie groot,
U is beklee met koninklike luister,
2U is met ’n kleed van lig omhul.
Dit is U wat die hemelkoepel
soos ’n tentdoek gespan
3en vir U ’n woonplek ingerig
het oor die waters daarbo,
U wat op die wolke ry,
op die vleuels van die wind,
4U wat die winde u boodskappers maak,
die weerligte u dienaars,
5U wat die aarde stewig gevestig het,
sodat dit nooit sal wankel nie.
24U het baie dinge geskep, Here,
die aarde is vol van wat U gemaak het,
en tog, U het alles in wysheid geskep.
34Mag hierdie bepeinsinge van my
vir Hom aanneemlik wees!
Ek wil my in die Here verbly.
Amen

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38 en 39)
Ek glo in die God van Job…
die God wat die aarde se fondamente gelê het;
wat die aarde afgemeet het…
Ek glo in God wat die see opgedam het toe hy begin uitborrel het;
in God wat die die môre beveel om te kom;
wat lig oor die hele aarde bring…
Ek glo in God wat die sneeu bêre;
wat die die hael opgaar;
wat vir die stortreën ’n pad oopkap en vir die donderwolke hulle koers bepaal…
Ek glo in God wat die Sewester met ’n band vasknoop
en die band van Orion kan losmaak;
wat die sterre op hulle tyd laat opkom…
Ek glo in God wat weerligstrale uitstuur;
wat verstand gee aan die ibis om teen die vloed te waarsku;
in God wie insig gee aan die haan om die dag aan te kondig…
Ek glo in God wat die tyd bepaal wanneer die klipspringers lam;
wat hulle die draagtyd bepaal;
wat aan die wildedonkie sy vryheid gee
en hom ongebonde vry laat loop loop…
Ek glo in God wat Sy Seun Jesus vir ons gestuur het;
ek glo in die vergifnis van sonde en
ek glo in die Heilige Gees.

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1 en 11”

Liedere

F8. “Al Die Lof, Aanbidding En Ere”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Be Unto Your Name
Teks en Musiek: Lynn de Shazo & Gary Sadler
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
© 1998 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op Worship Him)

Ons is ‘n oomblik;
U is vir altyd,
God van die eeue,
God voor die tyd.
Ons is ‘n asem;
U is vir ewig –
U wat ons liefhet,
altyd getrou.

Refrein:
Heilig, heilig, Heer God, Almagtig!
Waardig is die Lam wat regeer!
Al die lof, aanbidding en ere
Kom U toe, o Heer,
Kom U toe, o Heer!

Ons is gebroke;
U die Geneser,
Jesus, Verlosser,
Redder en Vriend.
Ons vra die vrae,
U is die Antwoord;
Ons die verdwaaldes,
U is die Weg.

Refrein:

F185. “Heer Almagtig (Niemand Soos U)”
(RUBRIEK: Flammikidz – Belydenis)
Teks en Musiek: Carmen de Carvalho
Kopiereg: © Mastermax Distribution
(Opgeneem op Luidkidz)

Heer Almagtig. (x2)
Ek sal sing van U.
Ek sal nooit stilbly nie.
En sê my wie is soos die Here
wat in majesteit regeer?
En sê my wie is soos die Here
wat alles bly beheer?
En as ek dink aan al u liefde
is daar een ding wat ek weet…
Daar is nie- nie- nie- nie- nie- niemand soos U (x3)
Daar is niemand, daar is niemand soos U
Niemand soos U

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Genadige God, ek is so bang om my toegeklemde hande oop te maak. Wie sal ek wees as ek nie meer iets het om aan vas te hou nie? Wie sal ek wees as ek met leë hande voor U staan?
Help my, O Heer, om langsamerhand my hande oop te maak en so te ontdek dat ek meer is as wat ek besit. Help my om oop te wees om dit wat U so genadiglik aan my wil gee te ontvang.
Help my, O God, om die onskatbare rykdom van u liefde vir my te ontvang. Maak my hart daarvoor gereed.
Amen.
Vertaling van die gebed van Henri Nouwen, The Only Necessary Thing: Living a Prayerful Life

Skriflesing: Job 38:1-7, 34-41

Prediking

Familie-oomblik

Sluit aan by die tema in die Verootmoediging deel van die liturgie.

Verduidelik hoe Job worstel:
met sy vriende, wat deurgaans die tema van lyding en sonde aan mekaar koppel;
met God, want Job verstaan nie God se weë nie.
En dan, na ‘n lang (geduldige) stilte antwoord God vir Job vanuit ‘n stormwind…
Gebruik ‘n diep, manlike stem (weggesteek, onsigbaar) wat hard en duidelik oor die mikrofoon die vrae vra wat God aan Job vra soos in Job 38 en 39…

“Wie is dit wat besig is
om my bedoelinge te dwarsboom
met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie?
Ek sal vra Job, antwoord jy My.
Waar was jy toe Ek
die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het.
Wie het die aarde afgemeet?
Wie het ’n maatlyn
oor hom gespan?
Wie het die see opgedam
toe hy begin uitborrel het?
Ek het hom met wolke bedek,
hom met donkerte toegemaak.
“Het jy, Job, in jou tyd
die môre beveel om te kom?
Het jy, Job, al gekom by die plek
waar die seewater uitborrel,
en rondgestap op die bodem
van die diepsee?
En die donkerte,
waar is sy woonplek?
Kan jy die donkerte na sy gebied toe
terugvat?
Was jy al by die plek
waar die sneeu gebêre word?
Het jy al die plek gesien
waar die hael gebêre word,
wat Ek opgegaar het…
Kan jy die sterre op hulle tyd
laat opkom,
kan jy die Beer met sy kleintjieslaat uitkom?
Kan jy weerligstrale uitstuur
dat hulle vir jou kom sê:
‘Hier is ons’?
“Gee jý vir die perd sy krag,
sit jý vir hom maanhare aan?
Het jý gemaak dat hy kan spring
soos ’n sprinkaan,
dat hy almal bang maak
met sy trotse gesnork?

Deel nou Job se antwoord met die kinders ahv Job 42:
“Nou weet ek dat U
tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
Ek het oor dinge gepraat
wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
Eindig die gesprek met die verduideliking dat toe Job iets verstaan van God se grootheid, hy sy verwyte en klagtes laat vaar het. Toe hy bewus raak van die grote God se almag om hierdie skepping so te maak, buig hy eenvoudig voor die Almagtige God met berusting en vrede. Hy verlaat sy lewe in God se hande…

Gebed
Here, God Almagtig, wat groot en wys is,
help my om te berus in die slegte dinge wat met my gebeur.
Ek plaas my lewe en toekoms in U hande.
Amen

Preekriglyn

[Nota: In die prediking word verwys na die inhoud van Job 38:1 – 41:25. Dit word aanbeveel dat die prediker groter eenhede uit Job 38 as teks voorlees.]

Die sterkte van vier basiese natuurkragte illustreer die fyn balanse in die skepping:

  • Swaartekrag, wat seker die bekendste krag is, is ook die swakste van die vier kragte waaroor ons praat. Kom ons sê die sterkte daarvan is 1, sodat ons dit met ander kragte kan vergelyk.
  • Die tweede krag, net ‘n bietjie sterker, is die “swak” kernkrag wat neutrone binne ‘n atoom bymekaar hou. Dit is skaars 1.034 keer sterker as swaartekrag, maar werk net op die kort afstande wat binne atome bestaan.
  • Die derde krag is elektromagnetiese krag, wat ‘n duisend maal sterker is as die swak kernkrag binne atome.
  • Dan is daar die vierde krag, die sogenaamde “sterk” kernkrag, wat die protone in die kern van ‘n atoom bymekaar hou. Dit is weer ‘n honderd keer sterker as elektromagnetiese krag.

Indien slegs een van hierdie kragte ‘n klein bietjie swakker of sterker was, sou die lewegewende wêreld, soos ons dit ken, onmoontlik wees. As swaartekrag net ‘n bietjie sterker was, sou alle sterre groot wees, soos die sterre wat yster en ander swaarder elemente produseer. Hierdie sterre sou egter te vinnig uitbrand om die ontwikkeling van lewe moontlik te maak. As swaartekrag bietjie swakker was, sou die sterre ‘n lang bestaan hê, maar nie een sou die swaarder elemente produseer wat vir lewe nodig is nie.

Die elektromagnetiese krag bind atome aan mekaar om molekules te vorm. Indien dit swakker of sterker sou wees sou geen chemiese verbindinge kon ontstaan nie, wat beteken geen lewe sou moontlik wees nie.

Terwyl “swakker” kernkragte die funksionering van neutrone presies beheer, maak die “sterker” kernkrag weer die bestaan van die atoomkern moontlik. Indien enige van hierdie kragte ‘n ander sterkte sou hê, sou geen komplekse verbindinge kon bestaan nie. Daar sou óf geen waterstof wees nie, of alles sou waterstof wees.

Die presiese sterkte van hierdie kragte maak planete, waterstof en chemiese verbindings moontlik. Daarsonder sou daar geen lewe wees nie. Dit getuig van die wonderbaarlike wyse waarop alles in die skepping saamgestel is.

In ons teks gaan God juis met Job in gesprek oor die wonder van die werklikheid. Op ‘n vreemde manier help dit Job om vrede te vind.

Job se ellende

Die vorige twee Sondae het ons by fases in Job se lyding stilgestaan, eers by sy geweldige verlies (Job 1-2), en daarna by sy geweldige worsteling met God (Job 23). In die loop van ‘n paar dae het Job meer lyding beleef as die meeste mense in ‘n hele leeftyd. Feitlik alles is van hom weggeneem. Hy het homself met ‘n potskerf gekrap en die dag van sy geboorte betreur. Hy kon nie eers met waardigheid ly nie, want hy moes sy eggenoot se klagtes en sy vriende se geteem oor sy skuld en sonde verduur.

Dwarsdeur alles het Job geweier om sy rug op God te draai. Hy het net een versoek gehad, nl. om persoonlik van God te hoor waarom die ellende hom getref het. Job wou weet waarom hy so verskriklik en boonop onskuldig ly. Eintlik wou hy hê God moes “bely” dat Job onskuldig is en dat God dus onregverdig teenoor hom opgetree het. God moes hom gelyk gee teenoor sy vriende, wat sy lyding as regverdige straf op sy sonde beskou het. Job het volgehou hy is onskuldig.

Effe onlogies, maar heel menslik, het Job terselfdertyd geen antwoord van God “verwag” nie. As “skuldige” sou God liewer wegkruip as om tot die regstryd toe te tree! In sy laaste groot toespraak (hfst 29-31) handhaaf Job sy onskuld en daag God onder eed uit om hom teen te spreek.

Dan begin God tog met Job praat. Ironies genoeg begin God praat net mooi wanneer Job se vriend Elihu verduidelik waarom Job nie kan verwag om van God te hoor nie.

God tree in gesprek

Die eerste verrassing is dus dat God wel met hom in gesprek tree. Job kry selfs kans om vir God te “onderrig” (38:3; 40:2). Uiteraard is die reeks vrae wat volg vir Job gans te moeilik. God se antwoord kom in twee toesprake, of twee stelle vrae. In elkeen van die twee stelle vrae kan twee onderdele kan onderskei word:

  • In stel een (of toespraak 1) gaan die eerste groep vrae oor die groot kosmiese gebeure en toestande (38:4-38). Die tweede groep vrae gaan oor daardie dele van die natuur wat wel “naby” die mens is, maar nogtans grootliks ongekend en ongetem bly (39:1-33).
  • In stel twee (of toespraak 2) gaan die eerste vrae oor die mens se vermoë om die kosmos te regeer (40:4-9). Die tweede groep vrae bevraagteken die mens se vermoë om selfs die “nabye” natuur te beheers (40:10-41:25).

Breedweg konsentreer die eerste stel op menslike “wysheid” en die tweede op menslike “vermoë om te beheers”. Dit wil dus voorkom asof God vir Job sê: “Moet nie met My sukkel nie. Ek is wyser en sterker as jy.”

Job praat sonder insig

Ons teks, Job 38, is dus ‘n onderdeel van ‘n groter antwoord wat God aan Job gee. In ons teks beskuldig die Here Job dat hy sonder kennis en insig praat (38:2) en wys Job dan in die res van die hoofstuk op die wonders van die wêreld wat Hy geskep het. God vra Job uit oor die oorsprong van die skepping (38:4-15). Weet Job hoe die wêreld aanmekaar gesit is, hoe die fondamente van die aarde gelê is, hoe die see ingeperk is, en hoe die môre beveel word om lig te bring?

Dan verander God die tema en vra Job uit oor die beheer van die skepping (38:16-38). Het Job tot by die bronne van die see gereis? Ken hy die pad na die woonplek van die lig? Weet Job waar sneeu, hael en reën vandaan kom? Kan Job die konstellasies van sterre beheer of reën en weerlig stuur?

Die vanselfsprekende antwoord op al God se vrae is natuurlik ‘n helder “nee!”

Baie Skrifkenners wys daarop dat hierdie “antwoord” blykbaar Job se vraag ontduik. Van Job se lyding en die oorsaak daarvan word niks gesê nie. Boonop lyk die antwoord effens ongepas, want Job het nooit God se mag of wysheid ontken nie. Hy het God se “regverdigheid” betwyfel.

Daarom is die tweede verrassing dat Job skielik inskiklik word. Later, in hoofstuk 42 (waarby ons volgende week stilstaan) erken Job het het sonder insig gepraat en dat God se wonderdade vir hom te groot was. In die openbaring van God se grootheid, vind hy egter vrede.

Wat het Job uit God se antwoord op sy vrae geleer?

God is nie afsydig nie

God antwoord wel, teen die verwagting in, vir Job. Van die brutale, afsydige God wat Job homself voorgestel het, is daar geen sprake nie. God antwoord nie soos Job verwag het of wou hê nie. Van die regstryd kom daar niks nie, want God verander die basis van die gesprek. Job ontdek die grootheid en wysheid van God eers as hy uitgedaag word om God se rol oor te neem. Job vind rus in die misterie van God se regering, eerder as in ‘n verduideliking van sy lyding.

God se verskyning is, weer anders as wat Job vermoed het, nie heeltemal verpletterend vir Job nie. God praat uit die storm, maar oordonder nie eenvoudig nie. God stel vrae en laat ruimte vir antwoorde. God kom Job nie by omdat hy dit gewaag het om God te bevraagteken nie.

Onkunde lei tot verkeerde konklusies

God vee Job se beskuldiging uit die pad. Job het in onkunde gevolgtrekkings gemaak op grond van onvolkome kennis. Hy het die perke oorskry, nie omdat hy God hoegenaamd bevraagteken het nie (dit het die vriende beweer), maar omdat hy die verkeerde vrae gestel het. God ontken nie dat Job se lyding onverdiend was nie en eis ook nie dat Job sy lyding gelate moet aanvaar nie. Job word in sy onskuld en sy weeklag gehandhaaf. Daarmee word die vriende se verklaring vir Job se lyding (die vanselfsprekende gevolg van sonde) natuurlik heeltemal afgewys.

Hoewel Job hom nie teenoor God kan handhaaf nie, handhaaf God tog enduit vir Job. Die wonder is dat Job nooit sy rug op God draai nie. In hierdie proses is die Satan die verloorder. Hy het aan die begin gesê as God Job se besittings en geliefdes wegneem, sal Job God vervloek. Sy beskuldiging was dat Job God net vir sy gawes dien. Godsdiens is ‘n goeie belegging, want dit bring voorspoed. Satan is verkeerd. Job vervloek God nooit nie, maar bly aan God vashou. Dit gebeur omdat God Job handhaaf.

Die misterie van lyding

Job laat ons met baie vrae oor geregtigheid en lyding. Is dit reg dat iemand wat regverdig is, soos Job, so verskriklik ly? Hoe rym mens die Bybelse geloof in die goedheid van God met die lyding van Job?

Job se verhaal dui aan dat mens die probleem van lyding nie verstandelik kan uitredeneer nie. Eenvoudige antwoorde op die probleem van lyding laat ons in die posisie van Job se vriende. Die antwoorde werk soms, maar is dikwels verkeerd en onmenslik. Boonop is selfs korrekte antwoorde vir die lydende van weinig nut; want ons teorieë oor lyding neem nie die lyding weg nie.

Ook raak ons lyding net baas as ons nie by lyding bly vassteek nie. Ons moet bo die lyding by God uitkom. Dit is wanneer God Job neem tot anderkant, bokant sy lyding, dat Job insig ontwikkel. God bly ongevraag vir Job sorg en sien na hom om. God behou die band met “my dienaar Job.” Die band met God word Job se troos.

God word Job

Al kom staan God langs die lydende Job, en praat met hom, is God se woorde aan Job nie God se laaste woorde oor lyding nie. Daarvoor moet ons na die Nuwe Testament blaai. Daar lees ons hoe die Seun van God sy skouer onder ons lyding kom sit. Die Woord van God word Job, en kom staan nie net by die lydende mens nie, maar word die onskuldige lydende wat ons sonde en lyding op Hom neem.

Die onreg wat aan Christus gedoen word, sy roep na God wat Hom verlaat het, openbaar God se liefde, meegevoel, empatie, verbondenheid en genade vir én oor ons. Christus se lyding wys vir ons die weg na God. Christus lei ons na die anderkant van lyding, daar waar die trane van ons oë afgevee word en ons die diepte van God se sorg en liefde beleef.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 456 “Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3”

Seën
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.