Drie en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Dit is die eerste Sondag van die Seisoen van die Voleinding. Dit is ook Hervormingsondag. Vandag se teks vertel die verhaal van Rut en Naomi se keuse om terug te gaan Betlehem toe. Dit is ‘n verhaal wat die verweefdheid van kwessies soos armoede, familie, kultuur, godsdiens en gender uitbeeld. Dit wys op iets van die uitgelewerdheid van vroue, maar terselfdertyd ook die agentskap van vroue. Dit sal goed wees om die hele Rut 1–2 te lees of te vertel. ‘n Kort, toeganglike en kontekstuele artikel oor die boek Rut is geskryf deur Ruth Williams

Ander tekste 

Psalm 146
Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Hebreërs 9:11-14
11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

Markus 12:28-34
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’  31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ 33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”
Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ’n vraag te stel nie.

Sleutelteks

Rut 1:1-18
NAOMI SE VERLIES
11In die jare toe die rigters nog regeer het, was daar hongersnood in die land. ‘n Man van Betlehem in Juda het tydelik in die gebied van Moab gaan bly, hy en sy vrou en sy twee seuns. 2Die man se naam was Elimeleg, sy vrou se naam was Naomi en sy twee seuns se name was Maglon en Kiljon. Hulle was van die Efrata-familie uit Betlehem in Juda. Hulle het in die gebied van Moab aangekom. Terwyl hulle daar was, 3is Naomi se man Elimeleg dood, en is sy en haar twee seuns agtergelaat. 4Hulle het Moabitiese vroue geneem. Die een se naam was Orpa en die ander een se naam was Rut.

Hulle het sowat tien jaar daar gebly, 5toe is ook die twee seuns, Maglon en Kiljon, dood. Die vrou het alleen agtergebly, sonder haar twee kinders en sonder haar man.

TERUGKEER VAN NAOMI
6Sy het toe gereedgemaak om met haar skoondogters terug te keer uit die gebied van Moab, want sy het daar in die gebied van Moab gehoor dat die Here na sy volk omgesien het deur vir hulle brood te gee. 7Sy is toe weg uit die plek waar sy gewoon het, en haar twee skoondogters saam met haar. Op pad terug na die land Juda 8sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan, elkeen na haar ma se huis. Mag die Here julle goed behandel soos wat julle die oorledenes en my goed behandel het. 9Mag die Here gee dat julle elkeen ‘n tuiste vind in die huis van ‘n man.” Toe het sy hulle gesoen, maar hulle het hardop begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons wil saam met u teruggaan na u volk!” 11Maar Naomi sê: “Draai om, my dogters! Om watter rede sal julle saam met my gaan? Is daar nog seuns in my liggaam wat vir julle mans kan word? 12Draai om, my dogters! Gaan terug, want ek is te oud om weer te trou. Al sou ek dink daar is nog hoop vir my, en selfs al sou ek reeds vannag ‘n man hê, selfs aan seuns geboorte gee, 13sal julle vir hulle kan wag totdat hulle groot is? Sal julle om daardie rede julleself daarvan weerhou om te trou? Nee, my dogters, dit is vir my baie swaarder as vir julle. Die Here het immers sy hand teen my uitgestrek.” 14Hulle het toe weer hardop gehuil.

Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het aan haar vasgeklou. 15Naomi sê vir haar: “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en na haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” 16Maar Rut het geantwoord:
“Moet my nie probeer dwing
om u te verlaat nie
of om van u af weg
te gaan nie,
want waar u gaan,
sal ek gaan,
en waar u bly,
sal ek bly.
U volk is my volk,
u God is my God.
17Waar u sterf,
sal ek sterf,
en daar sal ek begrawe word.

“Die Here kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.” 18Toe Naomi sien dat sy vasbeslote is om saam met haar te gaan, het sy opgehou om haar te probeer ompraat.

19So het die twee van hulle toe aangestap tot hulle by Betlehem aangekom het.

Toe hulle in Betlehem aankom, was die hele dorp in rep en roer oor hulle. Die vroue sê vir mekaar: “Is dit werklik Naomi?” 20Sy het vir hulle gesê:
“Moet my nie Naomi noem nie,
noem my Mara,
want die Almagtige het dit vir my
baie bitter gemaak.
21Met ‘n vol lewe is ek hier weg,
maar die Here het my leeg
laat terugkom.
Waarom my Naomi noem
terwyl die Here my teenstander
geword het
en die Almagtige my kwaad
aangedoen het?”

22So het Naomi teruggekeer. Haar skoondogter, Rut die Moabiet, het saam met haar teruggekom uit die gebied van Moab. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.

RUT OP BOAS SE LANDE
21Naomi het aan haar man se kant ‘n familielid gehad, ‘n vermoënde man uit die geslag van Elimeleg met die naam Boas. 2Rut, die Moabiet, het vir Naomi gesê: “Kan ek maar na die lande toe gaan en by die gerwe, agter iemand wat my goedgesind sal wees, gaan are optel?” “Gaan maar, my dogter,” het Naomi haar geantwoord. 3Sy het toe geloop en gaan are optel in die lande agter die snyers. En dit was toe so dat dié deel van die land aan Boas, uit die geslag van Elimeleg, behoort.

4Boas het juis van Betlehem af daar aangekom. “Die Here is met julle!” groet hy toe die snyers. “Die Here seën u,” antwoord hulle hom. 5Boas vra toe vir sy werker wat toesig hou oor die snyers: “Aan wie behoort hierdie jong vrou?” 6Die werker wat toesig hou oor die snyers, antwoord hom: “Sy is ‘n jong vrou uit Moab wat saam met Naomi uit die gebied van Moab teruggekom het. 7Sy het gevra, ‘Kan ek maar are optel en bymekaarmaak by die hopies agter die snyers?’ Sy het gekom en is van vanoggend af tot nou toe op haar voete; hier het sy nog maar min gerus!”

8Boas sê toe vir Rut: “Luister, my dogter, jy hoef nie in ‘n ander land te gaan are optel nie. Moet selfs nie eers hiervandaan weggaan nie. Bly by my vrouewerkers, 9kyk in watter land hulle oes en volg hulle. Ek het my werkers uitdruklik beveel om jou glad nie lastig te val nie. As jy dors is, moet jy na die kruike gaan en drink van wat die werkers daar skep.”

10Rut kniel toe, buig vooroor met haar gesig teen die grond en vra vir hom: “Waarom is u so goed vir my? U gee vir my om, en dit terwyl ek ‘n buitelander is?” 11Boas antwoord haar: “Ek is goed ingelig oor alles wat jy vir jou skoonmoeder gedoen het ná die dood van jou man: dat jy jou vader, jou moeder en jou geboorteland verlaat het en dat jy na ‘n volk gekom het wat jy nie voorheen geken het nie. 12Mag jy vir alles wat jy gedoen het, ruim vergoed word deur die Here, die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het.”

13“U is goed vir my, Meneer,” antwoord sy, “u het my immers jammer gekry; ja, u het mooi gepraat met my, u diensmeisie, en dit terwyl ek nie eers een van u slavinne is nie!”

14Teen etenstyd sê Boas vir haar: “Kom hier, kom eet van die brood. Doop jou stukkie in die asyn.” Sy het langs die snyers gaan sit en hy het vir haar gebraaide koring aangebied. Sy het geëet totdat sy versadig was en selfs nog daarvan oorgehou.

15Toe sy opstaan om weer te gaan are optel, het Boas sy werkers opdrag gegee en gesê: “Sy mag ook tussen die hopies optel. Julle mag haar nie verneder nie! 16Julle moet selfs vir haar are uit die bondels uittrek en dit laat lê sodat sy dit kan optel. Julle mag nie met haar raas nie!”

17Rut het tot die aand are opgetel in die land. Sy het uitgeslaan wat sy opgetel het: Dit was ongeveer ‘n efa gars. 18Sy het dit gedra, en toe sy in die dorp kom, sien haar skoonmoeder wat sy opgetel het. Daarop haal Rut ook van die kos uit wat sy oorgehou het nadat sy genoeg geëet het en gee dit vir haar skoonmoeder.

19Haar skoonmoeder vra haar toe: “Waar het jy vandag are opgetel en by wie het jy gewerk? Mag die een wat jou bevoordeel het, geseënd wees!” Sy vertel toe vir haar skoonmoeder by wie sy gewerk het: “Die man by wie ek vandag gewerk het, se naam is Boas.” 20Naomi het vir haar skoondogter gesê: “Mag hy geseën word deur die Here, wat nie nagelaat het om sy verbondstrou aan die lewendes en die dooies te bewys nie.” Naomi het ook vir haar gesê: “Die man is verwant aan ons: Hy is een van ons lossers.”

21Rut, die Moabiet, sê toe: “Hy het ook vir my gesê, ‘Jy moet by my werkers bly totdat hulle met my hele oes klaar is.’ ” 22Daarop sê Naomi vir Rut, haar skoondogter: “My dogter, dis goed dat jy saam met sy vrouewerkers uitgaan, sodat mans jou nie op ‘n ander land lastig val nie.”

23Rut het Boas se vrouewerkers gevolg en are opgetel totdat die garsoes en die koringoes verby was. Sy het in dié tyd by haar skoonmoeder gebly. (2020-vertaling)

Ekstra stof

Inleiding
Watter plesier is dié pragtige kortverhaal Rut nie.

Dit is aan die een kant ‘n uitsonderlike liefdesverhaal geplaas binne ‘n ontvouende intrige tussen Naomi, Rut, en Boas teen die agtergrond van Naomi se emigrasie na Moab weens droogte en Rut se immigrasie saam met haar terug na Israel weens weduweeskap. Tydvak is êrens tussen 1200-1000 v.C.

Maar aan die ander kant is dit ook ‘n verhaal van getrouheid aan Jahwe in die tyd van die Rigters (1:1) toe baie aan Hom ontrou was. Die verhaal kry uiteindelik ‘n nog groter betekenis deurdat Rut en Boas ouma- en oupagrootjie word van koning Dawid wat uit hul seun Obed en kleinseun Isai gebore sou word (4:22). Die grootste eer sou hulle egter eers meer as ‘n millennium later te beurt val, deurdat Rut en Boas ingesluit word in die geslagsregister van die Seun van God, Jesus van Nasaret (Matt 1:5-6).

Die sentrale figuur is Naomi wat ervaar hoe haar lot van verlies in ‘n vreemde land verander na volheid in haar tuisdorp, Bethlehem, die “huis van brood”.

Die storie word in vier hoofstukke of tonele vertel na die inleiding van 1:1-6. Elke toneel begin met ‘n vers wat die tema vir die gebeure in daardie toneel aangee, en sluit af met ‘n vers waarin die volgende toneel se tema antisipeer word:

  • Toneel 1: Terugkeer na Bethlehem – 1:6 en 1:22 (die begin van die garsoes);
  • Toneel 2: Ontmoeting by die Oesland – 2:1 en 2:23 (nog by skoonma gewoon);
  • Toneel 3: Huweliksaanbod by die Dorsvloer – 3:1 en 3:18 (man sal nie rus voor die saak afgehandel is nie);
  • Toneel 4: Huwelik tussen Boas en Rut – 4:1 en 4:22 (voorvader van Dawid).

Die spanningslyn word briljant opgebou van 1) die verlange wat Naomi ervaar na uitkoms in ‘n vreemde land (hoofstuk 1) na 2) die hoop wat ontvlam dat daar vir hulle voorsiening gaan wees in haar tuisdorp (hoofstuk 2) na 3) die potensiaal wat in die ontmoeting met Boas vir haar en Rut opgesluit lê (hoofstuk 3) na 4) die vervulling wat sy ervaar met die huwelik van Rut en Boas en die geboorte van ‘n nageslag in Obed (hoofstuk 4).

Die verhaal is natuurlik ook ‘n boodskap aan Israel in die Rigtertyd dat God ingryp in nood en vir dié wat in en op Hom vertrou uitkoms bring. Dit wys ook dat die risiko wat Rut loop met die koms na ‘n vreemde land, en wat Boas loop om as losser op te tree, oor en oor die moeite werd is wanneer op God vertrou word. En laat ons nie dink dat die risiko klein was nie. Orpa het nie kans gesien daarvoor nie; ook nie die losser wat nader familie as Boas was nie. Maar daardeur het hulle ook uitgemis op God se voorsiening.

Rut 1:1-5
‘n Paar opmerkings:

  • Die name van die karakters in die boek is nogal betekenisvol. Ek wil nie te veel daarvan maak nie, omdat daar min getuienis is wat dié betekenisse bevestig, maar vir wat dit werd is:
    • Elimelek se naam beteken “my God is koning”.
    • Maglon se naam beteken moontlik “sieklik”.
    • Kiljon se naam beteken moontlik “wegkwyn”.
    • Orpa se naam kan met “weerbarstig” vertaal word.
    • Die naam Naomi beteken “lieflik”.
    • Rut se naam word verskillend verklaar: “verkwikking” of vriendin”.
    • Boas se naam beteken moontlik “vinnig”.
  • Moab is reg oos van die Dooie See en ‘n meer vrugbare gebied.
  • Dit is ironies dat hulle aanvanklik broodsgebrek in Bethlehem, die “huis van brood” belewe, en tog juis daar weer die voorsiening van die Here geniet.
  • Deuteronomium 23:2-3 het ‘n verbod geplaas op die toelating van Moabiete in die huis van die Here, selfs tot in die 10de nageslag. Die boek Rut relativeer egter dié verbod, veral omdat die grootste “tempel”-digter, Dawid, Moabiete in sy geslagslyn sou hê.

Rut 1:6-22 – U volk is my volk
Die verhaal in hierdie eerste toneel draai om Rut se getrouheid aan Naomi en aan God. Hoe pragtig sê sy dit nie in vers 16: “Waar u gaan, sal ek gaan, waar u bly, sal ek bly; want u volk is my volk; u God is my God.” Let ook op dat Orpa se keuse om terug te gaan, eintlik ook beteken dat sy vir haar eie gode kies, ten minste soos Naomi daaroor oordeel (1:15).

Ek besef ook net dat die verbintenis aan God ‘n verbintenis insluit aan God se mense en omgekeerd. Dit is waarom die gemeenskap van gelowiges so belangrik is. Dit is die plek waar God in sy genade die beste ervaar word, hoewel Hy natuurlik Homself ook oral openbaar.

Dat Rut hier kies om God te dien, is ook ‘n verwesenliking van die Abrahamitiese belofte (Gen. 12:3) dat in hom alle volke van die aarde geseën sal word. Sy is ‘n vreemdeling uit ‘n gehate volk wat kies om haar met hulle te assosieer, en hulle God te dien, en word nie net aanvaar nie, maar uiteindelik ingesluit in die Messiaanse bloedlyn. Verstommend!

Let op hoe Naomi se perspektief op haar lewe in stryd is met wat agter die skerms besig is om te gebeur. Sy oordeel dat die Here (Jahwe) teen haar gedraai het (1:13,21), dat haar lewe vol was toe sy weg is uit Israel, maar dat sy leeg teruggekom het (1:21), en dat die Almagtige (Shaddai) haar lewe vir haar bitter gemaak het (1:20), sodat sy Mara (bitter) genoem wil word, eerder as Naomi.

Intussen is ‘n proses aan die gang waarin dieselfde Almagtige haar lot totaal gaan verander. Sy sien ‘n deel daarvan raak in vers 6 dat die Here uitkoms vir sy volk gebring het met ‘n goeie oes, maar is sinies oor die impak wat dit op die res van haar lewe gaan hê. Moontlik beskerm sy met dié gedagtes haarself teen verdere teleurstelling … maar die Here sal haar gelukkig nie in daardie siniese toestand laat nie, soos ons nog gaan agterkom. Soos die Bybel vir die lewe24/7 sê (wat ‘n lekker Bybel om te lees!): “God verander doodloopstrate in hoopstrate.”

Let ook op hoe God deur die gewone goed van die lewe sy verandering bewerk – deur ‘n oes (hoofstuk 1) , ‘n ontmoeting (hoofstuk 2), ‘n dorsvloer (hoofstuk 3), ‘n huwelik (hoofstuk 4). Dit maak alle dinge wat met ons gebeur belangrik, in der waarheid Goddelike oomblikke. Bo-natuur is baie keer sigbaar as Binne-natuur.

Laat my besef dat ‘n mens nie met ‘n korttermyn visie na jou eie lewe of na ander se lewens moet kyk nie. En dat jy veral nie daaruit gevolgtrekkings moet maak oor waar die Here teenwoordig is of nie. In stil wees en vertroue lê ons krag, soos Jesaja lank hierna sou sê (Jes. 30:15).

Twee eksegetiese opmerkings:

  • Een van die redes waarom die Moabiete verag is in Israel, is natuurlik die feit dat hulle weens bloedskande tot stand gekom het. Lot se dogters het hom verlei en uit hulle het die Moabiete en Ammoniete voortgespruit (Gen. 19).
  • Hierdie verhaal dien dus eintlik ook as ‘n soort verdediging van Dawid se afkoms, bedoel vir sy eie mense uit Juda, maar ook vir die Benjaminiete wat aan Saul se nageslag verbonde gebly het, ten spyte van sy verwerping deur die Here.

Rut 2 – God bewys sy trou aan lewendes en dooies
‘n Baie vernuftige skrywer is hier aan die werk wat hierdie toneel op ‘n besondere wyse aan mekaar sit.

Let op hoe die ontmoeting met Boas geantisipeer word in vers 1 – in Bethlehem was daar ‘n vermoënde familielid van Naomi aan haar oorlede man Elimelek se kant, Boas. Hy kon dus as losser optree (vers 20). Geen wonder dat Rut uiteindelik juis vir hom raakloop op die land terwyl sy are optel.

Terloops, die naaste manlike bloedverwant kon as losser (gô’ıl) optree in die geval van ‘n familielid wat sy grond verloor het (of as slaaf verkoop is). Om die waarheid te sê, die wet het dit as sy plig uitgespel om die grond van ‘n familielid te koop, as dit in vreemde hande gekom het deur watter rede ook al (Lev. 25:23–28, 47–55). Daar was egter ‘n prosedure waarmee hy dit kon vermy (soos ons in hoofstuk 4 sal sien met die nader familielid).

Na hierdie inleiding verloop die gesprekke as volg (met ‘n stukkie kommentaar in vers 17-18) waarmee die ontmoeting tussen Boas en Rut uitgelig en beklemtoon word:

  • Rut en Naomi in gesprek (vers 2-3)
    • Boas en die snyers in gesprek (vers 4-7)
      • Boas en Rut in gesprek (vers 8-15a)
    • Boas en die snyers in gesprek (vers 15b-16)
  • Naomi en Rut in gesprek (vers 19-22)

Boas word as ‘n Godvresende man geteken word, wat sy snyers met respek en erkenning aan God hanteer, nie net as iemand wat vermoënd was nie. Hy is ook gehoorsaam aan die wet. Dit was juis een van die wet se riglyne, dat boere met die oes nie alles moet afhaal van die lande nie, sodat daar vir die armes iets sou oorbly om van te leef (Lev. 19:19; Deut. 24:19), soos Boas inderdaad doen. Daarby het hy nie net ‘n oog vir die (mooi?) vrou nie (“Wie is daardie meisie?” – sy naam beteken immers “vinnig”!), maar trek haar in sy beskerming in met opdragte aan sy werkers en die ekstra voorsiening van water, brood, wynsous en gebraaide koring en sorg dat hy in gesprek bly met haar.

Hy is ook ingelig oor Rut se keuse vir haar skoonma en vir God en prys haar daarvoor dat sy onder die vleuels van die Here God van Israel kom skuil het (vgl. Psalm 91 – volgens die Talmoed ‘n Psalm van Dawid – wat met dieselfde beeld werk).

Naomi blyk ‘n fyn kenner van mense te wees, en reageer baie positief oor wat sy by Rut hoor oor die losser-familie lid van haar en moedig haar aan om die hele oestyd daar deur te bring.

Dit tref my dat sy raaksien dat die Here nie nalaat om sy trou aan lewendes EN dooies te bewys nie. Wat Elimelek nie kon doen vir sy vrou en nageslag nie, wat ook sy twee seuns nie kon regkry nie, dit laat God gebeur vir hulle – voorsiening en versorging vir die weduwees. God is inderdaad ook sy koning, soos Elimelek se naam sê.

Let ook op hoe die volgende toneel in hierdie boeiende verhaal geantisipeer word met die laaste sin: “Sy het nog by haar skoonma gewoon.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 198 of Vonkk 42 [bekende melodie] of Flam 252

Votum: Psalm 146:6-10

Seëngroet: Psalm 146:5

Lofsang :Lied 509 of VONKK 64 (Psalm 146) [bekend – dis die tradisionele beryming van “Prys die Heer met Blye Galme] of Flam 31

Verootmoediging: Markus 12:28-31

Toewyding: Video: Stef Bos:  Lied van Ruth of speel Frieda Kruger se Wither Thou Goest

HOOR

Gebed
Skriflesing en Familie-oomblik
Rut 1

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Vonkk 316 (Verwerking van St Patrick se gebed) of  Lied 281 of Flam 482

Seën: (Gebed van St Patrick)

Respons: Lied 281 v 2 Refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 198 God is my lied of
Vonkk 42 Jubilate [bekende melodie] of
Flam 252 In U Arms

Votum: Psalm 146:6-10
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Seëngroet: Psalm 146:5
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.

Lofsang
Lied 509 “Op berge en in dale” of
VONKK 64 Prys Die Heer Met Blye Galme (Psalm 146) [bekend – dis die tradisionele beryming van “Prys die Heer met Blye Galme]  of
Flam 31 Prys Die Here, Loof en Prys Hom

Verootmoediging: Markus 12:28-31
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’  31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

Toewyding
Video: Stef Bos:  Lied van Ruth of
speel Frieda Kruger se Wither Thou Goest

Liedere

F252. “In U Arms”
(RUBRIEK: Flammikidz – Toewyding)
Teks en musiek: Retief Burger © 2008 Urial Publishing (Opgeneem op Luidkidz)

Waar sal ek gaan,
by wie sal ek skuil
as my hart in stukke lê
en ek voel niemand my wil hê?

Wie sal ek vra
waar sal ek huil
as my hart hier binne pyn
en ek voel niemand veg vir my?

U is mos daar. U sal verstaan.

Vader, ek val in U arms.
Hier kan ek rus,
want U het my lief.
Net soos ek is
Vader, ek val in U arms.
Dis veilig vir my
om alles te gee
en by U te bly.
Vader, ek sal U vertrou.

F31. “Prys Die Here, Loof en Prys Hom”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks: Strofe 1: TT Cloete (Psalm 146); Strofe 2: Tops de Jager
Musiek: Tops de Jager © Kopieregbeheer

1. Prys die Here, loof en prys Hom.
Ek wil God se lof besing.
Hy is magtig; loof en prys Hom.
Ek wil God my loflied bring
en solank ek leef Hom eer.
Loof die groot en troue Heer.

2. Geseënd is hy wat as dit swaar gaan
altyddeur aan God vashou;
en as dit lyk of als verkeerd loop
altyddeur op die Here vertrou;
en ook in die swartste nag
op die Here alleen bly wag.

F482. “Waar Sal Ek Gaan”
(RUBRIEK: FLAM – Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Ferreira Marais Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Vers 1
Waar sal ek gaan
Waar sal ek rus
Waar sal ek vrede vind

Waar sal ek bly
Waar sal ek soek
Waar sal ek waarheid kry

Pre-Chorus
U het my kom soek
U het my laat sien

Chorus
Ek lê ‘n lewende offer voor U neer
Ek leef net vir U
U is heilig teenwoordig binne my
Ek sal U dien

Vers 2
By U sal ek wees
U sal ek dien
By U sal ek waarheid vind

By U sal ek rus
By U sal ek vind
By U sal ek vrede kry

Bridge
Met ‘n hart wat sal troos
‘n tong wat sal seen
En hande wat sal dien
Waar U my stuur

Met oe wat sal U sien
Met ore wat sal luister
Met voete wat sal volg
Net waar U loop

VONKK 42 “Jubilate! Loof Die Here!”
Psalm 100 Teks: Jubilate, everybody – Fred Dunn 1977; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 © Musiek: Fred Dunn 1977
Kantoryverwerking: Marcha Geyer 2007 © © 1977, 1980 Thankyou Music (Admin CopyCare SA). Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Jubilate! Loof die Here!
Almal op die hele aarde kom
en dien die Here met gejubel,
kom voor Hom en prys sy heil’ge Naam.
Gaan sy tempel in met vreugde,
juig en sing, kom dank die Heer,
want aan sy liefde is geen einde.
Loof die Here, almal saam!

VONKK 64 “Prys Die Heer Met Blye Galme (Psalm 146)”
Teks:  Psalm 146 –  JD du Toit 1937 Melodie: PRYS DIE HEER – Liederwysie – opgeteken deur Chris Lamprecht
by mnr JCH Lagrange, Rustenburg in 1953 © Teks en melodie: openbare besit RUBRIEK:  Tradisioneel – Lof

1. Prys die Heer met blye galme,
o my siel, daar’s ryke stof!
‘k Sal solank ek leef my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.
Halleluja! Halleluja! —
want so behaag dit die Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! —
want so behaag’t die Heer.
Halleluja!

2. Dis die God der leërmagte,
troue Bondsgod van weleer,
God van wordende geslagte,
tot in ewigheid die Heer.
Sion, sing dié God ter eer,
prys sy grootheid, loof die Heer!
Halleluja! Halleluja! —
want so behaag dit die Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! —
want so behaag’t die Heer.
Halleluja!

Vonkk 316 “Die Here is voor jou”

Die Here is voor jou,
met sy lig op jou pad.
Met sy hand wil Hy jou veilig lei.
Die Here is langs jou;
Hy wil jou beskerm.
Hy wil jou in sy Vaderhand hou.
Die Here is om jou,
Hy wil jou graag seën
met al sy goedheid en guns.
Die Here is onder jou as jy mag val,
sy liefde sal jou altyd dra.
Deur sy Heilige Gees is Hy by jou
en sal Hy jou krag wees
en jou hulp tot in ewigheid.

God praat met ons en ons luister

Gebed 

Skriflesing en Familie-oomblik
Rut 1

Preek

Familie-oomblik

(Familie-oomblik voorstel uit Bybel-Media se “Woord en Fees”)

Gebruik kinders om die verhaal uit te beeld terwyl dit voorgelees word.

Lees die verhaal uit ‘n Kinderbybel of wys ‘n YouTube-videosnit waar die verhaal op ‘n kindervriendelike manier vertel word.

Vir ‘n gesprek met tieners
Die film He called me Malala vertel die verhaal van Malala, die Pakistanse tiener wat geskiet is omdat sy opgestaan het vir die reg van meisies om onderrig te ontvang. Sy het herstel van haar skietwond en doen steeds voorspraak vir hierdie saak. Sy het die Nobelprys vir Vrede daarvoor ontvang. Daar is baie skakels tussen haar storie en die storie van Rut, die Moabitiese vrou. Die uitdagings van vroue toe en nou kom in albei se verhale na vore. Watter ander uitdagings moet vroue vandag hanteer?

Preekriglyn

Lank lank gelede – in die tyd van die Rigters… Nou weet jy mos van die tyd waarvan ek praat? Dit was mos die tyd toe die volk van die Here nog nie ‘n koning gehad het nie. In die jare het die Here elke af en toe, wanneer dit nodig was, leiers na vore laat kom om die volk te help. Maar keer op keer het die volk óf nie na die leiers geluister nie, óf nie na God geluister nie.

Ons lees in die boek oor dié tyd, die boek Rigters, dat dit ‘n slegte tyd in die volk se geskiedenis was. Rigters is vol oorloë, geweld, ongehoorsaamheid. Dis eintlik aaklig, die goed wat in daardie tyd aangevang word. Die boek Rigters eindig met ‘n probleem – ‘n stam wat nie meer vrouens het nie. Maar dis okay, daar word ‘n plan gemaak – hulle kan meisies ontvoer. So eindig die boek Rigters met die woorde (21:25):

In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie, en elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë.

Naomi

En dit is in dié tyd, toe Israel soos die Wilde Weste was, dat ons ‘n vrou ontmoet. Sy noem haarself “Mara” – bitter. Maar haar naam is eintlik “Naomi” – “soet”, “aangenaam”. Maar sy herdoop haarself van soet na bitter.

Hoekom juis Mara?

Ons ontmoet vir Naomi wanneer sy en haar familie weens hongersnood – ‘n gebrek aan brood – vlug van Betlehem, daardie plek wat se naam letterlik “huis van brood” is. Maar in die huis van brood was daar nie meer brood nie. So hulle gaan soek toevlug by die Moabiete, die einste mense wat destyds met die intog in die beloofde land geweier het om vir die Israeliete brood te gee.

Maar nou lees ons mos hierdie storie ‘n paar jaar later. Ons het al ‘n groot klomp kennis waarvan Naomi nooit sou kon droom nie. So wanneer ons hoor “Betlehem”, dan onthou ons: “O ja, dis mos waarvandaan Dawid gekom het. En wag, is dit nie ook waar Jesus gebore is nie?”

Maar dit weet Naomi nie. Al wat sy ken, is swaarkry en bitterheid. Eers gaan haar man dood. En die lot van ‘n weduwee in daardie dae was skrikwekkend. As ‘n vrou nie ‘n man of ‘n pa gehad het om vir haar te sorg nie, was sy geheel en al sonder heenkome. So hier was Naomi, ‘n weduwee, in ‘n vreemde land.

Gelukkig het sy darem nog twee seuns gehad. Totdat die ook doodgaan.

Ons kan onsself kwalik in haar omstandighede indink.

‘n Vreemde vrou in ‘n vreemde land, sonder enige heenkome, geen manier om vir haarself te sorg of te voorsien nie. Met die pyn van verlies van ‘n eggenoot wat sterf. En dan nog boonop die pyn van ‘n kind wat sterf. En nog ‘n kind wat sterf. Daar is nie woorde om daardie pyn te beskryf nie. As jy jouself die ergste, seerste ding indink wat met jou kán gebeur – en dan nóg – dan is jy nog nie waar Naomi was nie.

En dis ongeveer hier dat Naomi besluit God het teen haar gedraai. Wat anders moet sy dink? En let op, dis nie wat die teks sê wat gebeur het nie. Dis Naomi se eie interpretasie van wat met haar gebeur het.

So Naomi besluit om terug te gaan na haar eie land, haar eie plek. Sy het steeds geen heenkome nie, maar dalk staan sy daar ‘n beter kans. Ten minste treur sy nie in ‘n vreemde kultuur met vreemde gewoontes nie.

Naomi se skoondogters – Moabitiese vroue albei – stap so ‘n entjie saam met haar. Maar wat help dit tog? Hulle kan nie die seer wegneem nie. Dis nie asof hulle vir Naomi kan voorsien nie. Hulle is self ook weduwees! En as hulle saam met haar teruggaan, is húlle die vreemdelinge – Moabiete, op die koop toe. Moabiete was nie welkom in Israel nie. Dan moet Naomi, met al haar bitterheid, nog met hierdie skande ook saamleef. Dat daar ‘n Moabiet saam met haar gekom het. Dat sy ‘n Moabiet in die familie het. Nog ‘n mond om te voed. ‘n Moabitiese mond.

So natuurlik stuur Naomi haar skoondogters terug. En na so ‘n bietjie teësit, doen Orpa wat ‘n goeie, gehoorsame dogter van haar tyd doen – sy gaan terug na haar familie.

Maar Rut is hardkoppig. Sy weier. Sy gaan by Naomi bly, sê vers 14. Die ou vertaling sê Rut het haar aangehang. In die Hebreeus is dit presies dieselfde woord wat in Genesis gebruik word van Adam wanneer God vir Eva skape: Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. (Gen. 2:24)

En in haar aankleef van Naomi, gee Rut hierdie pragtige belydenis wat oor die millennia mense se harte aangegryp het en hoeveel liedere en romantiese seremonies geïnspireer het.

En Naomi? Wat doen sy met hierdie pragtige verklaring? Naomi het opgehou om met Rut te probeer praat, sê die 83-vertaling. Sy het opgehou om met haar te praat, is letterlik wat daar staan.

Ons weet nie hoe Naomi gevoel het oor hierdie woorde van Rut en oor Rut se teenwoordigheid nie. Maar wanneer hulle uiteindelik in Betlehem aankom, sê Naomi niks oor Rut nie.

Want Naomi is bitter. Wanhopig, hartseer, dalk selfs woedend.

Naomi is oortuig dat God teen haar gedraai het. God kan vir mense sorg en voorsien, maar oor haar het hy ‘n ramp gebring. Maar Naomi is nie soos Job, wat wil weet hoekom hierdie goed met haar gebeur het nie. Sy is ook nie soos die Psalmdigter, wat kla en huil nie. Ons lees nie dat sy vir God gevra het om haar omstandighede te verander nie. Sy is so bitter, so gebroke, dat sy verby die punt van gebed is.

Maar wat van God?

Maar wat van God? Waar is God in hierdie hele besigheid? Het God regtig teen Naomi gedraai? Dis opvallend dat God stil is dwarsdeur hierdie verhaal. Nie een keer praat God in die boek Rut nie.

God werk in die agtergrond

En tog. Tog is God die hele tyd aktief, die hele tyd aan die werk, die hele tyd besig om goed in plek te laat val. In hierdie storie oor brood, is God soos die gis wat die brood laat rys. Jy sien nie die gis nie. Jy kan nie sien hoe dit werk nie. So af en toe word die deeg weer af geknie. Maar uiteindelik het jy heerlike brood wat pragtig rys. So is God die hele tyd aan die werk. Op die agtergrond. Selfs al het niemand eksplisiet gevra vir a of b of c nie.

God werk deur mense se buitengewone getrouheid

Die tweede ding wat opvallend is in die hele verhaal van die boek Rut, is dat God werk deur mense. Die boek praat van twee direkte intervensies van God: Die Here het weer vir Israel ‘n goeie oes gegee (1:6) en die Here het vir Rut laat swanger word (4:13) (spoiler alert!). Soos wat ons mense na die lewe kyk, sal hierdie die twee dinge wees wat ons as wonderwerke sal uitlig: God gee ‘n goeie oes; die vroue wat waarskynlik nie kon kinders hê nie, raak swanger.

Maar dis nie die enigste plek waar God werk nie. Wanneer Rut kies – teen Naomi se wense in – om saam met Naomi te gaan, werk God. In die volgende hoofstukke – wat ons in die volgende paar weke gaan lees – gaan ons sien hoe God deur Boas werk.

En onthou, Rut se keuse om vir Naomi te volg was ‘n geweldig gewigtige keuse met massiewe implikasies vir haar lewe. ‘n Weduwee, ‘n Moabiet, in ‘n vreemde land, sonder heenkome. Nie alleen kies sy om saam met Naomi te gaan nie, sy kies vir Naomi se land, Naomi se volk én Naomi se God. Sy kies selfs om begrawe te word waar Naomi begrawe word, terwyl die gewoonte van die dag was dat mense in hul eie lande begrawe word.

So God werk deur die optrede van mense, maar God werk veral waar mense buitengewoon getrou is. Waar hulle nie net goed en reg doen nie, maar waar hulle méér doen was wat die weg verwag, as’t ware die tweede myl stap. Ons gaan in die volgende paar weke meer daaraan aandag gee.

God werk in “toeval”

Derdens sien ons – veral in die hoofstukke hierna – hoe God werk in dinge wat ons as “toevallig” sal beskryf. (Nog spoilers!) “Toevallig” eindig Rut op Boas se veld. “Toevallig” kom hy daar aan terwyl sy daar is. Maar in die gewone dinge wat “toevallig” oor ons pad kom, is God besig om te werk.

Die Heidelbergse Kategismus praat oor hierdie “toeval”:
Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Vraag 28: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

God werk met die geheelbeeld

In hierdie antwoord van die HK lê vir my die volgende ding wat ons sien van die werk van God: dat God na die groter prentjie kyk, die geheelbeeld. Ons het elkeen ‘n rol om te speel in die groter verhaal. Maar ek gaan waarskynlik nie sien wat daardie rol is nie. Dalk gaan ek nooit weet hoe my lewe – my voorspoed en my teëspoed – in God se storie inpas nie. Maar God het ‘n liefdevolle plan waarvan ons deel is. Sodat – spoiler alert! – Rut, die Moabitiese vrou, deel raak van die geslagsregister van Jesus van Nasaret, die Messias van die Jode, die verlosser van die wêreld.

God werk ook wanneer ons dit nie wil of kan sien nie

En laastens, dat God werk, ook wanneer ons dit nie kan of wil sien nie. Al is ons soos Naomi so vasgekeer in ons bitterheid dat ons self die mense wat God stuur om ons te help, as ‘n las sien, dan is God nog stééds besig om te werk. Selfs wanneer ons God beskuldig en moedeloos opgee, onsself oorgee aan bitterheid – dan is God stééds besig om te werk.

As jy dan vandag moet sê wat jou naam is, wat sal dit wees? Naomi, die een wat die soet van die lewe smaak? Of Mara, bitter?

Wat dit ook al is, kom ons onthou die woorde van St Patrick se gebed:
Christus met my, Christus in my,
Christus agter my, Christus voor my,
Christus langs my.
Christus onder my, Christus bo my;
Christus in die stilte, Christus in gevaar;
Christus in die hart van elkeen wat aan my dink,
Christus in die mond van elkeen wat oor my praat.
Christus in elke oog wat my sien, Christus in elke oor wat my hoor.

In ‘n tyd van onsekerheid

In ons huidige konteks van ‘n swak ekonomie, ‘n virus waarvan ons nog steeds probeer herstel, werkloosheid en ongelykheid en wat nie alles nie, waaraan hou ons vas te midde van die oorlewingskeuses wat ons elke dag moet maak?

Ons stap die onsekerheid saam met God tegemoet. Advent is op pad. Nuwe lewe, groenigheid lê voor. Soms neem dit jare en voel dit of ons situasie nooit gaan verander nie. Maar ons hoop bly gevestig op God wat belowe om ons nooit alleen te laat nie, wat nie sal toelaat dat ons die pad alleen stap nie. As ons gelowig aan God vashou (soos Rut aan Naomi), kan ons verseker wees dat God ook by ons is soos Hy by Rut en Naomi gebly het.

In Koninkrykstyd vier ons die drie-enige God se handeling in die wêreld en in ons lewe. Dit is ‘n tyd waar ons, te midde van ons werklikheid, ons hoop op die drie-enige God plaas wat ons nooit alleen laat nie. Selfs wanneer dit moeilik raak, kan ons bly jubel in God wat ons nie alleen los nie en lojaal bly.

God laat die lente weer laat kom. Hy bring die reën en die oes terug.

God stuur ons om te leef

Gebed 
Dankoffer

Slotsang
Vonkk 316 Die Here is voor jou (Verwerking van St Patrick se gebed) of
Lied 281 “Lei ons, Here, groot en magtig” of
Flam 482 Waar Sal Ek Gaan

Seën
Die Here is VOOR jou om die weg gelyk te maak.
Die Here is AGTER jou om die aanvalle van die Bose af te weer.
Die Here is LANGS jou om jou in Sy arms toe te vou.
Die Here is RONDOM jou om jou te beskerm.
Die Here is ONDER jou om jou te dra as jy val.
Die Here is BOKANT jou om jou te seën.
Die Here is BINNE jou om jou te lei met Sy Heilige Gees.
So seën die Drie-Enige God jou van nou af tot in ewigheid.
Amen

Respons
Lied 281 v 2 Refrein: “Ons beskermer U die God wat”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.