Drie en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Jeremia 31:7-9 is ’n boodskap van hoop en troos vir herstel in die toekoms. Meer spesifiek hulp vir eenvoudiges en gestremdes onder die terugkerende ballinge. Dit herinner aan die eenvoudiges, gestremdes en gebrokenes wat Jesus genees en gered het (Mat 5:3).

Dit is Hervormingsondag. Die geloofsywer van kerkhervormers om terug te keer tot die eenvoudige geloofswaarhede: solus Christus, sola fide, sola gratia, sola scriptura en soli Deo gloria kan sinvol met die  tekste gevier word.

Ander tekste

Psalm 126
126 ’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here hét groot dinge
aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.

4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil
terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

Hebreërs 7:23-28
23Daar is ook ’n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ’n priesterskap wat nie op ’n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ’n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

Markus 10:46-52
46Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ’n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ’n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”
Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”
“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”
Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.

Fokusteks

Jeremia 31:7-9
31 Daardie tyd, sê die Here, sal Ek die God van al
die stamme van Israel wees,
en hulle sal my volk wees.
2So sê die Here:
Israel, die volk wat aan die swaard
ontkom het,
is begenadig in die woestyn,
hy sal na sy rusplek toe kom.
3Van ver af het die Here Hom
aan Israel bekend gemaak:
Ek het jou nog altyd liefgehad,
daarom het Ek jou met geduld verdra.
4Ek sal aan jou kinders gee, Israel,
jy sal kinders in die wêreld bring.
Jy sal weer jou tamboeryne dra,
jy sal uitgaan om te dans
saam met dié wat bly is.
5Jy sal weer wingerde plant
op die Samariaberge,
die boere sal dit plant
en die vrugte daarvan geniet.
6Die dag het aangebreek,
die dag waarop dié wat wag staan,
op die Efraimsberge sal roep:
“Kom ons gaan na Sion toe,
na die Here ons God toe.”
7So sê die Here:
Sing van blydskap oor Jakob,
die leier onder die nasies,
juig oor hom!
Laat hoor julle loflied, en sê:
Red u volk, Here,
red wat van Israel oorgebly het!
8Ek laat kom hulle uit die land
in die noorde,
Ek vergader hulle van die uithoeke
van die aarde af:
onder hulle is blindes en kreupeles,
swanger vrouens en vrouens in kraam.
’n Groot gemeente sal hiernatoe
terugkom.
9In trane sal hulle kom,
met smeekgebede,
maar Ek sal hulle lei,
Ek sal hulle by waterstrome bring,
op ’n gelyk pad,
niemand sal struikel nie,
want Ek het Israel se Vader geword,
Efraim is my eersgeborene.
10Hoor die woord van die Here, nasies,
vertel dit aan die verste eilande!
Julle moet sê:
Hy wat vir Israel verstrooi het,
sal hom bymekaarmaak.
Die Here sal hom oppas
soos ’n wagter sy trop skape oppas.
11Die Here het vir Jakob bevry,
hulle gered uit die mag van een
wat sterker as hulle is.
12Hulle sal kom
en op die Sionshoogte sing,
hulle sal straal van blydskap
oor die goeie
wat deur die Here gegee word:
oor koring, wyn en olie,
oor die aanteel van kleinvee
en grootvee.
Hulle sal floreer soos ’n tuin
wat goed natgelei word,
hulle sal nie meer na water smag nie.
13Dan sal die jong meisies
dans van blydskap
saam met die jong mans en die ou mans.
Ek sal hulle droefheid
in vreugde verander,
Ek sal vir hulle uitkoms gee:
Ek sal hulle bly maak,
hulle sal geen kommer meer hê
nie.
14Ek sal ’n oorvloed goeie kos
vir die priesters gee,
my volk sal oorgenoeg hê
aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 475 “Allerhoogste Hemelvader” of
Flam 2 “Met ons lewens, wil ons U eer” of
Vonk 77 “Bring my die ou-ou tyding”

Aanvangswoord
Voorganger (V): Ons hulp is in die naam van die Here.
Gemeente (G): Die Here wat die hemel en die aarde gemaak het. Amen.

Aansteek van die drie Triniteitskerse
Voorganger 1: Ons steek hierdie kers aan in die Naam van God die Vader wat die wêreld geskep het en ons vul met lewensasem.

(Eerste kers word aangesteek.)
Voorganger 2: Ons steek hierdie kers aan in die Naam van God die Seun wat die weg gebaan het vir ’n lewe van oorvloed

(Tweede kers word aangesteek.)
Voorganger 3: Ons steek hierdie kers aan in die naam van God die Heilige Gees wat ons seën met die liefde van God

(Derde kers word aangesteek.)
Gemeente:  Ons steek hierdie drie kerse aan as teken van die liefdevolle Drie-eenheid: God oor ons. God met ons. Van die begin tot die einde. Van ewigheid tot ewigheid. Amen.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God wat deur die eeue heen sy kerk in stand hou en lei: Die Vader, die Seun, die Heilige Gees.
(bg. uit Bybelmedia se Handleiding vir die Erediens)

Lofsang
Lied 476 ‘”n Vaste burg is onse God” of
Flam 264 “Ek het U nodig” of
VONKK 4 “Sing Vir Die Heer ‘n Nuwe Lied Tesaam  (Psalm 96)”

Wet
En nou doen ek ’n beroep op julle, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.  Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. (Romeine 12:1–3)

Skuldbelydenis
Lied 479 “U self het oor Jerusalem” of
Flam 122 “Abba Vader”

Genadeverkondiging
Lied 477 “Hou  Christus self sy kerk in stand” of
Flam 132 “Uit een hart”

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis van Nicéa

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

1. Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

2. In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

3. In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

4. In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F264. “Ek Het U Nodig”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

Ek het U nodig elke dag
soos die maan
smag na die nag
Ek het U nodig elke uur
soos die vlamme
hyg vir die vuur

Refrein:
En ek staan op Sy berg
ek juig in Sy kerk
ja, ek staan op Sy berg
want Hy’s die toevlug
vir sondaars soos ek

Brug:
Maak my hande skoon
deur u Gees wat in my woon
Maak my voete sterk
Here, skoei my vir u werk

F122. “Abba Vader”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Gebed,  Toewyding;  Afhanklikheid)
Teks en Musiek: Wian Vos
©  2005 Urial Publishing

Abba Vader, Heer, gelowig buig ons voor U neer.
Ons verklaar opnuut dat U regeer.
Jesus Christus, Heer, ons bely dit U kom weer.

Lei ons elke dag en neem beheer
van ons stad, van u kerk,
die omgewing waar ons woon en werk.

Deur u Gees,  deur u kinders
om u hand en hart te wees.
neem beheer van ons stad…

F132. “Uit Een Hart” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – ekumene,  die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en Musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song
[Kom ook onder Engelse teks: Kategorie 3 – Multi-kulturele liedere]

Vader van liefde, bron van ons krag
Ons bring in aanbidding ons loflied aan U
Here U het belowe om hier by ons te wees
As ons saam is in U Naam, in waarheid en gees

Jesus, ons Redder, Immanuel
Ons kom ons lewens as lof-offer gee
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
En aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring

Gees van die waarheid, helper uit God
Leer ons om in liefde soos Jesus te dien
En bind ons dan saam, Heer
Soos ons hier voor U staan
Om met liefde in ons hart
Na die wêreld te gaan

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

Help ons om uit een hart in eenheid te bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees

Hy roep uit alle volke ‘n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2. O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop
In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop

Refrein:

VONKK 77 “Bring my die ou-ou tyding”
Teks: Tell me the old, old story – Arabella Catherine Hankey 1834-1911; GBA Gerdener, Halleluja 1931;  Jacques   Louw 2009
© Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
Melodie: TELL ME — WH Doane 1832 – 1915
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin-Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Toetrede en Aanroeping/Voorbereiding om God se Woord te hoor

1. Bring my die ou-ou tyding,
van God se Woord vir my.
Vertel my van sy liefde
wat sondaars kom bevry.
In sy groot genade
het God sy Seun gestuur.
Vir my het Hy kom sterwe,
Die smart en pyn verduur.

Refrein:
Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

2. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe die Seun van God
die dood oorwin vir my.
Bring my die goeie tyding,
die evangeliewoord:
Dat Jesus opgestaan het
en lewe bring uit dood.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

3. Bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.
Vertel my hoe ek deur te glo,
verlossing kan verkry.
Bring my die blye boodskap
dat Jesus weer sal kom.
Hy gee vir ewig lewe
aan dié wat glo in Hom.

Bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding,
bring my die ou-ou tyding
van God se Woord vir my.

VONKK 4 “Sing Vir Die Heer ‘n Nuwe Lied Tesaam  (Psalm 96)”
Psalm 96.
Teks: Suid-Afrika, o land so skoon en vry – Andries Wasserman, gewysig GG Cillié 1979; nuwe teks Jacques Louw 2003 ©
Melodie: GOD OF OUR FATHERS – George W Warren, 1892
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit
RUBRIEK:   Klassiek –Lofprysing

1. Sing vir die Heer ‘n nuwe lied tesaam.
Sing tot sy eer en prys die Heer se Naam.
Volke getuig, verkondig sy gesag.
Kom en vertel aan nasies van sy mag.

2. Groot is die Heer – bo alle gode groot!
Aan Hom die lof – Hy red ons uit die nood.
Luister en glans omstraal sy majesteit.
Hy is die Heer – ons God in ewigheid!

3. Kom, volke, prys die Heer se eer en mag.
Buig voor Hom neer uit eerbied vir sy krag.
Juig, aarde, juig tot eer van God die Heer.
Juig en wees bly: Die Here God regeer!

VONKK 38 “Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”
Teks: Nuwe Sionsgesange 1994; gewysig Jacques Louw 2009 ©
Melodie: EVENTIDE – William Monk 1861
© Teks:  2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Uitsending

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Skriflesing

Familie-oomblik

Vertel die verhaal van die reformasie met behulp van ‘n kort “toneelstuk”.
Jy benodig:

  • Akteurs:  Maartin Luther; keiser, twee ontvoerders
  • Tafel en stoel
  • Groot Bybel
  • papier
  • hammer
  • deur (enige plat oppervlak voor in die kerkgebou)
  • skryfding
  • klomp boeke
  • vuurhoutjies
  • kombers
  • tweede stoel aan ander kant van ruimte
  • pakkie papier

Lees die verhaal terwyl die “akteurs” die gebeure opvoer:
Daar was ‘n tyd dat mense nie hulle eie Bybels gehad het nie.  Die Bybel was net beskikbaar in Grieks/Hebreeus en Latyn.  Mense het nie Bybels in hul huise gehad nie.  Die Bybel was weggesteek in universiteite en kerke.  Ek wil julle vanoggend voorstel aan iemand wat baie gedoen het om dit te verander.  Sy optrede het gemaak dat ons vandag Bybels kan hê en Bybels in ons eie taal kan lees.

  • Maartin Luther kom staan regs voor in liturgiese ruimte
    Sy naam Maartin Luther.  Hy is gebore in 1483 (baaie lank gelede!)  in Duitsland.  Hy het eers regte studeer, maar tydens ‘n vreesaanjaende storm besluit hy om ‘n priester te word.

In 1507, toe hy 24 jaar oud was, word hy ‘n priester – en sien vir die eerste keer in sy lewe ‘n Bybel!

  • Luther gaan sit by tafeltjie.  Maak Bybel oop en blaai verwonderd daardeur.

Later word hy ‘n professor in teologie by Wittenberg Universiteit, asook ‘n priester by Wittenberg se kerk.

Terwyl hy die Bybel bestudeer, maak Rom 1:17 ‘n groot indruk op hom:  dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”  Hy begin besef dat dinge nie reg is in die kerk nie.

Op 31 Okt 1517 preek hy oor die goed wat verkeerd is, skryf ‘n brief waarin hy 95 goed lys, pos dit vir ‘n paar vriende, en hammer dit aan die kerk se deur vas.

  • Luther staan op, hammer papier met stellings iewers vas.
  • Bly staan en kyk na stellings.

Hy het nie vreeslike groot reaksie verwag nie.  Maar dit het soos ‘n veldbrand versprei – mense het kopieë gemaak.  Almal het daaroor gepraat.  Party mense het met hom saamgestem, ander het van hom verskil.
Die Kerk van daardie tyd het gedink hierdie priester maak moeilikheid, en besluit om hom aan te spreek.
Maar die kopieë het aanhou versprei.  Daarom besluit Luther om te verduidelik wat hy bedoel het.

  • Luther gaan sit weer by tafeltjie,
  • Skryf.

Luther sê hy wou net verkeerde dinge regstel, hy wou nie moeilikheid veroorsaak nie.  Maar die Kerk begin ‘n ondersoek teen Luther.  Intussen raak Luther al meer oortuig van sy saak.
In 1520 verbrand Luther in die openbaar ‘n klomp van die kerk van die tyd se belangrike boeke.

  • Luther staan op, vat boeke van lessenaar af, gooi op hoop, trek vuurhoutjie en gooi op boeke – skud vuurhoutjie met gooi-slag, sodat dit doodgaan.
  • Bly staan, kyk na hoop boeke.

Die Kerk ekskommunikeer vir Luther.  Dit beteken dat hy nie meer ‘n lidmaat van die kerk mag wees nie.  In Luther se tyd was dit baie erg, want daar was net een kerk!  Hy kon nie na ‘n ander kerk toe gaan nie.

Luther is ook gestuur om die keiser te gaan sien.  In 1521 het hy die keiser twee maal gesien.  Die keiser sê Luther moet sy woorde terugtrek.  Maar Luther sê elke keer nee.

  • Luther gaan staan voor kansel,
  • Keiser verskyn op kansel, Wys vinger vir Luther,
  • Luther skud kop.

Toe die keiser klaar met Luther gepraat het, het hy hom voëlvry verklaar.  Dit beteken enigiemand kan Luther maar vermoor, hulle sal nie gestraf word nie!  Terwyl Luther op pad terug huis toe was, het van sy vriende gereël dat Luther ontvoer word.

  • Twee mense kom,
  • Gooi lap oor Luther se kop,
  • Vat hom na kant van liturgiese ruimte
  • Haal lap af.

Dit was sodat hy kon ontsnap.  Niemand het geweet waar Luther is nie.  Party mense het selfs gedink Luther is dood.  Maar Luther is gevat na Wartbrug, waar hy sy baard laat groei het, sy hare laat groei het en homself Junker Jörg genoem het

  • Luther gaan sit by vêrste stoel, skryf op pakke papier.

In hierdie tyd vertaal hy die Nuwe Testament in Duits.

Intussen het die mense met Luther saamgestem het, voortgegaan in Wittenberg.  Ons noem dit die Reformasie.  Dit is waar ons kerk vandaan kom.  Dit is ook waar die Bybel vir die eerste keer in mense se eie taal beskikbaar was.  Dit is as gevolg hiervan dat ons vandag Bybels kan hê en kan lees.

Preekriglyn

Dit is vandag Hervormingsondag.  Ons gedenk die kerkreformasie van die sestiende eeu in Europa.  Ons geloofsoortuigings word tot vandag toe beslissend deur die reformasie beïnvloed.

Die reformasie:

  • Het teruggekeer na die Woord van God eerder as die kerklike tradisie nagejaag;
  • het die verlossing in Christus se werk gesoek eerder as in die menslike verdienste,
  • het geleer dat ons alleen God se genade gered word, wat ons met die leë hande van geloof omhels.
  • Het die kerk as ‘n geloofsgemeenskap eerder as ‘n instituut gesien.  In die kerk aanvaar die lede in Christus vir mekaar verantwoordelikheid – om mekaar lief te hê, te dien en persoonlike gawes tot voordeel van mekaar aan te wend.

Die reformasie is gebore uit ‘n hoë Godsbewussyn.  Dit leer dat ons voor die aangesig van die lewende God lewe, van wie ons alles kan verwag.  Hierdie God is nie ver weg nie, is nie afwesig nie, maar aktief-teenwoordig.  Die lewende, teenwoordige Christus skenk Homself en alle gawes van God elke dag deur die werk van die Gees aan ons.  Ons is geskep om in gemeenskap met God te lewe.  Sonder God kan ons nie.

Sosiale ontworteling

Ons gereformeerde geloofsoortuigings is veral beslissend deur die bediening van Johannes Calvyn beïnvloed.  Om gereformeerdheid te verstaan, is dit goed om die oorspronklike sosiale omstandighede waarin dit gebore is, te verstaan.

Johannes Calvyn het ‘n wesenlike deel van sy bediening as predikant van Genève deurgebring.  Dit was ‘n gespanne tyd in Europa.  Die reformasie, wat in 1517 deur Martin Luther in Duitsland begin is, en deur die destydse Rooms-Katolieke Kerk weerstaan is, het soos ‘n vloedgolf oor groot dele van Europa versprei.  Dit het ook Frankryk bereik, waar ‘n jeugdige Johannes Calvyn daarvoor gekies het.  Weens vervolging deur die Katolieke moes reformasie-gesindes vir hul lewe vlug.  In Switserland het ‘n aantal stede vir die reformasie gekies, en het so toevlugsoorde vir die vlugtelinge geword.

Johannes Calvyn was self so ‘n vlugteling, en het as predikant van Genève in ‘n stad gewerk waar die helfte van die bevolking vlugtelinge was.  Mens kan jou die omstandighede indink.  Groot getalle mense het niks gehad nie.  Hulle was ontwortel.  Hulle verblyf in Genève het die ou inwoners ook diep geraak, en hulle in ‘n mate vreemdelinge in hul eie stad gemaak. Sosiale kohesie het ontbreek.  Die bekamping van armoede en die soeke na geregtigheid was prioriteite.  Die vestiging van sosiale orde, behoorlike bestuur, en die versorging van die gemarginaliseerdes het stadsbestuur en kerk besig gehou.

In so ‘n situasie leer mens die genade van die almagtige God op ‘n nuwe manier verstaan.

  • Jy weet God se guns werk nie met menslike verdienste nie.
  • Jy ontdek die vrye genade wat God in Christus skenk.
  • Jy weet dat verlossing nie uit menslike verdienste begin nie, maar by God, wat vir mense kies, en hulle met sy genade bedien.
  • Jy ontdek dat God se vrye guns nie vir jouself ingepalm kan word nie, maar dat jy dit vryelik moet deel met die mense rondom jou.
  • Jy sien in jou medemens, ja, ook in elke verflenterde vlugteling, die beeld van God, wat bedien moet word met die genade wat God so vryelik in Christus skenk.  Hierdie genade word bedien deur woord en daad, deur bemoediging, troos, en met ‘n kombers en klere vir die wat nie het nie.
Red u volk, Here

God skenk genade en versorging.  Daarom is daar hoop, herstel en lewe moontlik.  Hierdie diep gereformeerde geloofsoortuiging eggo presies die beweging in ons teks.

Die agtergrond van Jesaja 31:7-9 is die Assiriërs wat die noordelike tien stamme van Israel in 722 v.C. in ballingskap weggevoer het.  Hul hoofstad, Samaria, is verwoes, en die bevolking verstrooi.

Jeremia skets ook die dreigende omstandighede van Nebukadneser wat die suidelike twee stamme in 586 v.C. beleër, Jerusalem omring en die stad uiteindelik verwoes.  Dan word ook die suidelike twee stamme in ballingskap weggevoer na Babel.

Die verskriklike werklikheid van hierdie verstrooiing het die volk platgeslaan.  Die boek Klaagliedere beskryf die verdriet, lyding, verlies en pyn wat hierdie mense beleef het.  Hulle hele bestaan is daardeur gekleur.  Hulle was ontwortelde mense.  Hulle het vlugtelingstatus in ‘n vreemde land gehad.  Hulle was magteloos.

In hierdie omstandighede is die Here die enigste hoop.  Net God kan ‘n verskil maak.

Vuil hande

Israel en Juda se omstandighede was natuurlik hulle eie skuld.  Dis was nie maar die blote sameloop van omstandighede nie.  Vir eeue het profete gewaarsku dat hulle miskenning van die reg, hulle uitbuiting van die arme, hulle afgodery en geheul met ander godsdienste, hulle op die pad van verwoesting plaas.  Profeet na profeet het gepleit dat die volk hulle lewenswyse moet verander en na die Here moet terugkeer.  Hulle wou nie.

Israel was soos die verlore seun in Jesus se gelykenis.  Hulle het soveel van God ontvang.  Hulle het alles egter verkwis.  Hulle het God se goedheid en guns misbruik en God se Naam deur die modder gesleep.

Alles verlore?

Menslik gesproke is alles verlore vir die Jode wat in ballingskap weggevoer is.  Die logiese ding is om alle hoop te laat vaar, en jouself aan radeloosheid en moedeloosheid oor te gee.

“Radeloosheid lê na aan magteloosheid . . . Ons het beheer verloor. Sake is handuit – en spoel ons bloot saam, wie weet waarheen. Of dit nou ons kinders raak, ons gesin, gesondheid, werk, buurte, toekoms. Magteloos.” (Prof Dirkie Smit)
Al wat magtelose en radelose mense kan doen, is spartel.  Of swartgallig raak.  Alle hoop verloor.  Vasgekeer in ‘n hoek, bly daar min inisiatiewe oor.

God is nie magteloos nie

Die boodskap van ons teks is dat die haglikheid van Israel se situasie God nie magteloos gemaak het nie.  God neem inisiatief.  God handel.  God beweeg.

In vers 7 word die volk opgeroep om te bid, in die vorm van ‘n loflied, dat die Here sy volk se lot verander.

In vers 8 maak die Here die belofte dat Hy sy volk weer versamel en aan hulle ‘n toekoms gee.  Hy tel veral die blindes en kreupeles, die swanger vroue, en die vroue in kraam, op.  Hy bring hulle terug na die land.  Geen mens reis graag met blindes en kreupeles oor moeilike terrein nie, wat nog te sê met swanger vroue of diegene wat kraam nie.  Hulle is die kwesbaar en het ekstra hulp op die pad nodig.

Die volgende aanhaling uit Bybel-Media se preekvoorstel beskryf die betekenis treffend:
Die absolute afhanklikheid van God se mense word deur hierdie beelde…. Meer nog, diegene wat deur die nasies verag is, is waardevol in God se oë (Brueggemann).  Levitikus 21:18 en 12:1-8 noem dat blindes en kreupeles nie in die diens van die Here kan staan nie en dat vroue na die geboorte van ’n kind seremonieel onrein is.  Hulle word nou deur God se genade en trou ingesluit by die optog op pad na Sion toe (31:12). Almal word dus ingesluit by God se nuwe begin.

In vers 9 word bevestig dat die Here in al die behoeftes van hierdie kwesbare persone sal voorsien.  Op ‘n baie treffende manier word die Here hier “Vader” genoem, en die volk die Here se “eersgeborenes.”  Vader en eersgeborene dui op die intieme gemeenskap tussen God en sy volk.

Die volk se sonde en hulle haglike omstandighede het die Here nie magteloos gemaak nie.  Die Here gryp in, neem die inisiatief en verlos hulle.

Die kern van die Reformasie

Presies dit is die kern van die Reformasie.  God neem die inisiatief in ons verlossing.  God kies vir ons, en God red ons.  Ons besluite, ons sekerhede, selfs nie ons gehoorsaamheid, is ooit die fondament van ons verlossing nie.  God en God se beslissende handelinge is die fondament.

God vergeet God se kinders nie

Die karakter van hierdie God, is dat God getrou bly.  Die trou wat God oor sy mense uitroep, verdamp nooit nie.

Selfs die donkerste oomblikke van Israel se geskiedenis, toe die Here deur die ballingskap straffend ingryp in hulle bestaan, is gebore uit God se trou.  God is die goeie Vader wat met sy volk op pad gaan, hulle tug, maar hulle altyd weer terugbring.  Om God te ken, is nie om ‘n versekeringspolis teen straf en ongeluk te hê nie.  Om God te ken, beteken egter om te vertrou dat God nooit sy beloftes van trou vergeet nie, en altyd in egte liefde handel.

Onbegrensde en inklusiewe liefde

Ons teks speel af teen die agtergrond van die ballingskap as smeltkroes van God se opvoeding van ‘n ongehoorsame volk.  Tog verras die teks ons met onbegrensde en inklusiewe liefde.  Almal word ingesluit by die gemeenskap wat in Sion sal aanbid – selfs hulle wat volgens die tradisie van die volk nie daar gehoort het nie.  God se volk lyk anders!  Die volk word herdefinieer. Kreupeles, blindes, swakkes sal in Sion aanbid. God se liefde is inklusief.

Die Nuwe Testament gee vir ons soveel ryker taal om hierdie liefde te beskryf  Ons teks klink soos die koning wat mense van die straat af genooi het om te kom aansit toe ander nie wou kom nie (Luk 14:21).  Dis soos God se nuwe mense lyk (Ef 2:11-22).  Dis ook soos sy kerk lyk. Vreemdelinge en bywoners.  Dis mense wat uit genade by sy volk ingesluit is.

Dirkie Smit skryf: “Salig is die armes, die sagmoediges, dié wat magteloos honger en dors na reg! Aan kleinstes behoort die ryk! Aan eenvoudiges die aarde! Aan die kruis word God verheerlik! As ons swak is, is ons sterk – só lê die apostel dit alles uit. En andersom . . . Ons donkerste momente word dalk die aanbreek van ’n nuwe dag, op maniere wat ons ons skaars kan voorstel” (uit: Dieper as wat ons dink).

Hoopvol, persoonlik, nou

Die vrug van die Reformasie word dikwels voorgestel as ‘n ingewikkelde denksisteem wat net deur spitsvondige en skerpsinnige mense verwoord kan word.  Niks kan verder van die waarheid wees nie.

Die Reformasie is gebore in die ontdekking van Wie die genadige God is wat in Christus, deur die werk van die Heilige Gees, voorsiening maak vir mense wat in ‘n hoek vasgeverf is.  God red ons uit sonde, Hy verlos ons van die gevolge van ons sonde, en Hy gee ons hoop.  Hy doen dit deur ons in die regte verhouding met Hom en met mekaar te bring.  God roep ons na Hom, versamel ons in ‘n gemeente, vorm ons as dissipels en stuur ons om ‘n impak in die wêreld te maak.

‘n Ander misverstand is dat God se redding net iets vir die ewige lewe te sê het.  Niks kan verder van die waarheid wees nie.  Net soos Jeremia 31 getuig van God se verlossende werk in Israel se lewe op hierdie aarde, so is die gereformeerde reformasie gebore in die worsteling om gemeenskappe soos dié Genève in te rig as plekke waar God se koninkryk reeds op aarde deurbreek.

Natuurlik leef ons nooit sonder die belofte van die koninkryk wat in die ewige lewe volledig ons deel sal wees op die nuwe aarde onder die nuwe hemel nie.  Maar daardie koninkryk breek nou reeds deur, en word doelbewus beliggaam deur die Here se kerk op aarde.

Dit is ‘n voorreg om hierdie ryk geestelike erfenis vandag te kan vier.  Dit is net so ‘n voorreg om jou lewe hieraan te wy.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 478 “Op vaste fondamente” of
Flam 66 “Op vaste fondamente” of
VONKK 38 “Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan”

Seën
God hou sy woord altyd in stand,
geen mag kan dit laat wyk nie.
Hy hou ons veilig in sy hand,
sy trou sal nooit beswyk nie.
(Lied 476:4)

Respons
Lied 311 “Dit wat ons hier ontvang het”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.