Drie en Twintigste Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Met Hervormingsfees vier Protestantse kerke die gebeure rondom die Kerkhervorming van die sestiende eeu. Dit gaan veral oor die viering van die vier Reformatoriese sola’s: die sola gratia (verlossing uit genade alleen sonder enige verdienste), die sola fidei (die geloof as enigste “voorwaarde” om die verlossing te ontvang), die sola Scriptura (die voorrang van die Bybel bo die kerklike tradisie) en die soli Deo gloria (aan God alleen alle eer).

Ander tekste

Jeremia 31:31-34
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Psalm 46
God is vir ons ’n toevlug
46 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
Op die wysie van “Jong Vroue”.
’n Lied.
2God is vir ons ’n toevlug
en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid
om te help in nood.
3Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes
van die see,
4al druis en skuim
die waters van die see,
al skud die berge
deur sy onstuimigheid.
5Oor die strome van die rivier
is daar blydskap in die Godstad,
in die heilige woning
van die Allerhoogste.
6God is daar;
die stad sal nie wankel nie.
God sal hom help
nog voor die môre kom.
7Nasies kan raas en koninkryke wankel,
maar as God sy stem laat hoor,
smelt die aarde weg.
8Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting.
9Kom kyk wat die Here gedoen het,
watter ontsettende dinge
Hy op die aarde tot stand bring:
10die oorloë oor die hele aarde
laat Hy ophou,
pyle en boë verbreek Hy,
spiese slaan Hy stukkend,
oorlogswaens verbrand Hy
met vuur.
11Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.
12Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting.

Romeine 3:19-28
19Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. 20Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ’n mens wat sonde is.

God verlos die mens 
21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.

27Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. 28Ons betoog is tog dat ’n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.

29Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, 30want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. 31Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.

Ekstra stof

Lukas 18:1-19:44 – God is meer as gewillig om gebede te beantwoord 
Onthou dat Jesus steeds vasbeslote op pad is na Jerusalem. Sy gesprekke en gelykenisse het dus ’n dringendheid en skerpheid om sy boodskap finaal tuis te bring. Hy praat oor:

  • volharding in gebed (18:1-8 – gelykenis van die weduwee en die regter),
  • nederigheid teenoor God (18:9-14 – gelykenis van die Fariseër en die tollenaar),
  • kinders wat welkom is by Hom en in die koninkryk (18:15-17) en oor
  • die ewige lewe wat ’n geskenk van God is vir elkeen wat Jesus navolg (18:18-30 – die verhaal van die ryk jongman).

Fokusteks

Lukas 18:9-14
Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar
9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Liturgie

Sola Gratia

Aanvangswoord
Seëngroet

Loflied: Lied 476:1-4 “’n Vaste Burg is onse God”

Verootmoediging

Skuldbelydenis: Sing lied 235:1 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig”

Vryspraak: Romeine 3:21-24(25-28)

Sola Fidei

Apostoliese Geloofsbelydenis

Bevestigingslied: Lied 449:1-4 “Halleluja! Ons loof U, Heer”

Sola Scriptura

Litanie vir Verbintenis aan God en sy Woord

Sang: Lied 255:1-2 “Woord van God, Woord van die lewe”

Skriflesing: Lukas 18:9-14

Prediking

Sola Deo Gloria

Offergawe
Uitsending

Sang: Lied 488:1-5 “Helder skyn u lig vir die nasies”

Seën
Musikale Amen

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Ons gebruik grootliks die liturgie soos in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13 vir Sondag 27 Oktober 2013.

Met Hervormingsfees vier Protestantse kerke die gebeure rondom die Kerkhervorming van die sestiende eeu. Dit gaan veral oor die viering van die vier Reformatoriese sola’s: die sola gratia (verlossing uit genade alleen sonder enige verdienste), die sola fidei (die geloof as enigste “voorwaarde” om die verlossing te ontvang), die sola Scriptura (die voorrang van die Bybel bo die kerklike tradisie) en die soli Deo gloria (aan God alleen alle eer). In die liturgie wat hieronder volg, word daar gebruik gemaak van verskeie elemente uit die tyd van die Hervorming, byvoorbeeld Lied 476 “’n Vaste Burg is onse God” (Luther se weergawe van Ps 46) en die eerste paar vrae en antwoorde van die Heidelbergse Kategismus. Die “Litanie vir Verbintenis aan God en sy Woord” en die sing van Lied 255 daarna gee uitdrukking aan die sola Scriptura, terwyl die gebruik van Romeine 3:21-24 as vryspraak en Efesiërs 2:4-10 en 1 Petrus 1:18-21 by die nagmaal uitdrukking gee aan die sola gratia en die sola fidei. Deur aan die erediens ’n vreugdevolle karakter te gee kan uitdrukking gee word aan die soli Deo gloria.

sola gratia

Aanvangswoord
Voorganger: God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming.
Gemeente: Hy was nog altyd bereid om ons te help in nood.

Voorganger: Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
Gemeente: al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

Voorganger: al druis en skuim die waters van die see,
Gemeente: al skud die berge
deur sy onstuimigheid.

Voorganger: Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.
Gemeente: Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting.
Amen (uit Ps 46 2-4, 11-12).

Seëngroet
In die Naam van die Vader
en die Seun
en die Heilige Gees,
genade en vrede vir julle.

Loflied
Lied 476:1-4 “’n Vaste Burg is onse God”

Verootmoediging
Voorganger: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Gemeente: Dat ek met liggaam en siel
in lewe en in sterwe
nie aan myself nie,
maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort.

Voorganger: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Gemeente: Drie dinge:
eerstens, hoe groot my sonde en ellende is;
tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word
en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Voorganger: Waaruit ken jy jou ellende?
Gemeente: Uit die wet van God.

Voorganger: Wat vra die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart
en met jou hele siel
en met jou hele verstand.
En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Voorganger: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Gemeente: Nee, want ek is van nature geneig
om God en my naaste kwaad aan te doen.

Voorganger: Laat ons dan nou ons skuld voor die Here en voor mekaar bely:

Skuldbelydenis

Sing: lied 235:1 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig”

Vryspraak: Romeine 3:21-24(25-28)
God verlos die mens
21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.

Sola fidei

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Bevestigingslied
Lied 449:1-4 “Halleluja! Ons loof U, Heer”

Liedere

F152. “Vader, Heer, Ek Buig My Neer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: Father God, I wonder
Teks en Musiek: Ian Smale
Afrikaanse vertaling: 2006 Johan Engelbrecht
© Kingsway’s Thankyou Music / Universal Songs

Vader, Heer, ek buig my neer,
verwonder my net elke keer
oor U wat alles van my weet
en steeds my God wil wees.
En nou is ek u kind ek mag nou
deel wees van u huisgesin
en ek sal nooit weer eensaam wees nie.
Vader, U is altyd by my!

Refrein: [x2]
Heer, ek loof en prys U!
Heer, ek loof en prys U!
Heer, ek loof en prys U
solank ek leef!

F261. “My Lewe Lê Ek Voor U Neer (Daar Hoort Ek)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
© 2008 Urial Publishing

1. My lewe lê ek voor U neer
ek loof U naam en bring U eer
Want U is God van my hart
Ek plaas myself in U hand

Refrein:
Daar hoort ek daar hoort ek
Naby U naby U
Daar hoort ek daar hoort ek
Naby U naby U

2. Ek hef my stem na U O Heer
Om U te prys buig ek my neer
As ek verdwaal sal U my vind
U waak oor my ek is U kind

Brug:
Nader as die winterkoue wil ek aan U wees
Toegevou in liefde van die Vader, Seun en Gees
Niemand kan my beter ken nie as my Skepperheer
My Wegkomplek, my Toemaaktuiste, ek hoort by U

God praat met ons en ons luister

Sola Scriptura

Litanie vir Verbintenis aan God en sy Woord
Voorganger: Here, ons God,
deur u Woord het alles wat bestaan, tot stand gekom:
die groot heelal, die wêreld, ons elkeen se lewe, ons geliefdes,
alles wat ons is en alles wat ons het;
deur u Woord het U u Seun gestuur
om vir ons deur sy kruis en opstanding verlossing te bring;
deur u Woord het U ons saamgeroep
om ’n kerk van liefde en diens in die wêreld te wees;
deur u Woord weet ons dat ons uit genade en geloof kan lewe.
Hou ons naby aan u Woord
sodat dit op ons harte geskrywe sal wees.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Help ons om in geloof en liefde nader aan U te groei
sodat ons altyd in vertroue en met hoop kan lewe.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Help ons om ons in te stel op dié dinge wat ons naby aan U hou.
Help ons om ons in te stel op die samekoms van die gemeente.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Help ons om ons in te stel op ons daaglikse gebed.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Help ons om te fokus op kennis van die heilige Skrif.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Help ons om te fokus op die sending van die kerk.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Help ons om te fokus op ’n lewe van dankbaarheid
vir al die seëninge wat ons uit u hand ontvang.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Rig ons lewe deur u Woord,
vergewe ons sonde,
rig ons denke,
vorm ons gesindhede,
bring lig in ons duisternis,
gee ons onwankelbare hoop,
vul ons harte met vreugde,
verseker ons van u blywende teenwoordigheid,
totdat ons kan deel in die volle heerlikheid van u ewige koninkryk,
deur Jesus Christus ons Here.
Gemeente: Amen.

Sang
Lied 255:1-2 “Woord van God, Woord van die lewe”

Skriflesing: Lukas 18:9-14

Prediking

Familie-oomblik

Lees die verhaal soos in Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Sê vir God Jammer oor jou Sonde
9–10 Jesus het gesien baie mense dink hulle saak met God is reg omdat hulle godsdienstige wette nakom. Hierdie mense het op almal neergekyk wat nie hierdie wette gehoorsaam nie. Jesus vertel toe ’n storie om te wys wat God hiervan dink: “Op ’n dag het twee mans na die tempel in Jerusalem toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een was iemand wat belasting insamel. Hulle is tollenaars genoem. Hulle het nie die godsdienstige wette van die Jode gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars beskou.

11–12 “Die Fariseër bid toe: ‘God, dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg nie, en ek het nie skelm verhoudings met ander vroue nie. Ek is ook nie ’n groot sondaar soos hierdie tollenaar wat langs my staan nie. Twee maal elke week kom ek die heel dag sonder kos klaar sodat ek kan bid. En ek gee ’n tiende van al die geld wat ek verdien aan U.’

13 “Die tollenaar het daar eenkant gaan staan. Hy was so skaam oor al sy sondes dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak en gesê: ‘God, ek is so ’n groot sondaar. Help my, asseblief!’

14 “God het dadelik na die tollenaar se gebed geluister,” sê Jesus. “God het sy lewe nuut gemaak. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red*, sal baie spyt wees. Maar almal wat voor God buig, sal eendag ’n plek in die hemel kry.”

Hier is ‘n inkleurprent.

Die sleutelvers is die 2e deel van vers 14:
Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word. (NAV)
Hierdie woorde is in die ondergaande tabel weggesteek. Lees op (vertikaal) of dwars (horisontaal).
Kyk hoeveel jy kan omkring…

Preekriglyn

Eendag, lank, lank gelede, stap Narcissus in die woud. Hy is ‘n pragtige jong man. Eggo, ‘n bergnimf, sien hom. Van haar kant is dit liefde met die eerste oogopslag. Smoorverlief begin sy Narcissus te volg. Hy kom agter iemand is op sy spoor, en roep: “Wie’s daar!” Eggo herhaal: “Wie’s daar!”

Uiteindelik kom Eggo te voorskyn en stel haarself aan Narcissus bekend. Toe sy hom probeer omhels, systap Narcissus haar en sê sy moet hom uitlos. Eggo was gebroke en het die res van haar dae in verlate klowe en grotte deurgebring waar daar net ‘n leë eggo van haar oorgebly het.

Nemesis, die godin van wraak, hoor van Eggo se tragiese lot en besluit om Narcissus te straf. Sy lok hom na ‘n bergpoel waar hy sy eie refleksie sien. Sonder om te besef dis sy eie spieëlbeeld, raak hy verlief op die refleksie. Uiteindelik besef hy hierdie liefde sal nooit vervul kan word nie, en sterf.

Selfliefde

Die Narcissus-verhaal uit die Griekse mitologie het ‘n merkwaardige impak op ons kultuur gemaak. Dit tot wonderlike kunswerk gelei, onder ander die bekende skilderwerk van Caraveggio, Dali en Gyula Benczür. Narcissus word in musiek, ballet, skryfwerk, poësie, animasie en rolprente uitgebeeld. In die psigologie is ‘n persoonlikheidsversteuring na Narcissus genoem.

In die volksmond herken ons ook steeds vir Narcissus. Narcissus staan vir ‘n ontoepaslike liefde of betowering met jouself, die onvermoë om ander in ag te neem, die gevoel dat die lewe bloot om jouself en jou belange draai, ydelheid.

Narcissus het ‘n slegte naam in ons kultuur gekry. Dalk vat Seamus Heany dit die beste saam in sy gedig, Personal Helicon:
To stare big-eyed Narcissus, into some spring
is beneath all adult dignity.

Afgodery

Johannes Calvyn, geestelike vader van die gereformeerde tradisie, is bekend vir sy uitspraak dat mense in staat is om ‘n afgod van enigiets te maak. Ons hart is ‘n fabriek van afgode.

Afgodery is om die diepste sekerheid van jou lewe aan iets anders as aan God vas te maak. Dit is die kapasiteit om geskape dinge te verhef tot die Bron van die Lewe self. Dit is die vermoë om aan dinge te kleef asof dit jou lewe kan beveilig.

Narcissus herinner ons aan ons kapasiteit om ons diepste sekerheid aan onsself vas te maak. Ons kan betower raak met onsself, onsself begin oorwaardeer, die vervulling van ons eie potensiaal die hoogste norm maak. Ons kan ons heil en verlossing uit onsself verwag.

“To stare big-eyed Narcissus into some spring” kan ook ‘n kulturele waarde word. Ons kultuur kan ons mislei om groot waarde aan onsself te heg ten koste van ander, en veral ten koste van God. Baie mense waarsku dat dit in die Westerse wêreld gebeur. Ons heg soveel waarde aan onsself dat:

  • die opoffering om ander te dien in ‘n huwelik en gesin ondergeskik raak aan my eie ideale, behoeftes en wat ekself as opbouend en nuttig vir myself beleef. As my huwelik of gesin dit dan nie meer vir my doen nie, raak ek daarvan ontslae. Dit verwoes gemeenskap en geluk.
  • ons nie meer korreksie, toesig en leiding van ander kan aanvaar nie. Onderwysers rapporteer dat ouers dikwels hierdie posisie t.o.v. hulle kinders begin inneem. Die onderwyser of opvoedingsisteem is nooit reg nie, my kind is altyd reg. Dit verwoes groei en vordering.
  • ons werk bloot as instrument tot selfverryking en selfbeveiliging kan begin sien. Werk is nie meer ‘n manier om die gemeenskap te dien, van die wêreld ‘n beter plek te maak, ‘n ruimte vir betekenisvolle samesyn met ander nie.
  • ons individualisties raak, totaal gefokus op onafhanklikheid van ander en alles. Ook dit verwoes gemeenskap en geluk. Die Narcissus-mite weet dit reeds. Narcissus sterf eensaam en verlate.

Die oplossing is nie om bietjie minder narcissisties te wees nie. Die oplossing om van die self-as-afgod weg te draai, na God toe. Om vanuit God se hand verlossing van die self te ontvang, nuwe lewensrigting en fokus te ontvang, ‘n nuwe anker te verkry, en ‘n nuwe toekoms.

Die Protestantse Reformasie van die sestiende eeu, wat ons vandag vier, sou dit besonder helder verstaan.

Die Fariseër en die tollenaar

Jesus vertel in Lukas 18 ‘n gelykenis wat betrekking het op mens se verstaan van jouself. Die doel van die gelykenis word aan die begin duidelik uitgespel: “Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel.” (9)

Hier word sterk taal gebruik. Die mense wat aangespreek word, is diegene wat in hulleself oortuig is dat hulle voor God regverdig is, terwyl ander – wat nie soos hulle was en dieselfde oortuigings gedeel het nie – deur hulle verag en op die ander neergesien is.

In die gelykenis skep Jesus as’t ware ‘n gevallestudie:

  • Twee mense gaan na die tempel om te bid.
  • Die een bidder was ’n Fariseër. Die Fariseërs was die strengste godsdiensbeweging onder die Jode. Hulle was mense wat baie gebid en gevas het, streng handhawers van die seremonies van die wet en die tradisies van die voorvaders was en alles gedoen om deur die mense gesien te word (Matt 23).
  • Die ander persoon was ’n tollenaar, een van die Joodse insamelaars van die Romeinse belastinggelde. Hierdie praktyk het dikwels met korrupsie gepaard gegaan. Juis om daardie rede het hulle groot veragting van die Jode in die algemeen verduur, wat ook nie met hulle wou verkeer of saam met hulle eet nie.
  • Die Fariseër gaan staan (‘n algemeen gangbare gebedshouding) en bid. Uit die taalgebruik lyk dit of die Fariseër op ‘n prominente plek in die tempel gaan staan het, met ‘n gewigtige en plegtige liggaamshouding. Die feit dat hy by homself gebid het, kan ook beteken dat hy neergesien het op die tollenaar daar eenkant.
  • Wat die inhoud van sy gebed betref, skryf iemand: “Hy was geheel en al op homself gerig en die aanprysing van homself was die onderwerp van sy gebed, sy volle vertroue was in homself gevestig en hy het (deur sy gebed) slegs sy eie roem nagejaag.” (Woord en Fees)
  • Hierdie gebed het geen skuldbelydenis en geen pleidooi om vergifnis, genade en ontferming nie. Dit kan kwalik ’n gebed genoem word, maar slegs danksegging teenoor God, nie vir enige goeie ding wat hy van God ontvang het nie, maar met die doel om homself te verhef en sy eie (goeie) werke as die grond van sy geregtigheid te huldig. In sy eie oë is hy hierin anders as ander mense en daarom dank hy God dat hy nie soos hulle is nie. Hy is nie betrokke by ekonomiese, morele en seksuele sondes nie en is ook nie korrup en ’n volksverraaier soos die aanwesige tollenaar nie. Sy gebed word klaarblyklik hardop gebid, sodat almal binne hoorafstand kan kennis neem van sy meriete.
  • Die Fariseër gee die bewyse van sy aanspraak, naamlik sy gereelde waarneem van vasdae en sy getroue gee van tiendes. Die Fariseër voeg by dat hy ’n tiende van sy hele inkomste gee. Dus beskou hy homself as ’n baie regverdige persoon verhewe bo die gewone mense. Sy gebed is dus nie ’n gemeenskapsbeoefening met God nie, maar ’n proklamasie van geregtigheid op grond van eie meriete.
  • Die tollenaar slaan ’n radikaal teenoorgestelde figuur. Hy kom nie nader nie, maar bly uit ’n besef van onwaardigheid “daar ver” (moontlik in die voorhof van die nie-Jode) staan. Hy slaan as teken van sy droefheid en berou oor sy sonde op sy bors. Sy gebed is kort en verskil grootliks van dié van die Fariseër. Hy erken en bely dat hy uit sy aard ’n sondaar is wat sy sondige natuur van Adam geërf het en dat hy ’n sondige lewenspraktyk beoefen. Hy is dus volkome skuldig voor God. Hy kan homself nie red nie. Hy beroep hom slegs op God. Slegs die genade van God kan tot sy redding kom.
  • Jesus lewer nou uitspraak. Hy verklaar onomwonde dat die tollenaar en nie die Fariseër nie, se saak met God reg was toe hulle huis toe gegaan het. Slegs die genade van God en nie enige verdienste van die mens nie, kan die gemeenskap tussen God en mens herstel. Deur ’n bekende spreekwoord te gebruik toon Jesus aan dat nederigheid en nie hoogmoed nie, die enigste gesindheid is waarin die mens sy saak met God kan reg maak.
Wie is ek voor God?

Dit is verstommend hoe vinnig die dinge wat jy vir die Here doen, in jou eie hart die bron van selfverheffing oor ander mense kan word. Jou gehoorsaamheid kan ‘n vorm van selfregverdiging voor God word. Die kan die grond van jou sekerheid voor God word. Dan begin dit die plek van God inneem. Dan het jy nie meer God nodig om jou regverdig te verklaar en jou te red nie. Jy dra die redding in jouself.

Daar is niks waarvan mense nie ‘n afgod, ‘n bron van valse sekerheid, kan maak nie.

Die tollenaar help ons. Hy beroep hom slegs op God. Dit is God wat regverdig verklaar. En God verklaar spesifiek – sê Paulus in Romeine 4:5 – die goddelose vry – dié mens wat weet dat hulle hulself nie kan red nie:

Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof (Rom. 4:5)

Wie is ek voor God? Een van die hoekstene van die Reformasie was die ontdekking van God se genade in Jesus Christus wat sondaars vryspreek. God soek mense op. God neem die inisiatief om sy genade uit te stort. En Hy doen dit aan mense wat leeg en verdiensteloos voor Hom kom staan en hulle op sy genade beroep.

Dit beteken natuurlik nie dat sonde en ‘n slanery op die bors nou weer ‘n grond word vir God se genade nie. Dit gaan oor mense wat die leë hande van geloof na God uitsteek om deur God vrygespreek te word.

Geskep vir gemeenskap met God

Anders as Narcissus, is die Protestantse Reformasie dus uiters sensitief vir die mens se betowering met jouself. Die verlossing kom nie uit jouself nie. Jy dra nie die geheim van ewige geluk in jouself nie. Jy kan jouself nie red nie.

Gelukkig hoe jy jouself nie te red nie. God is ‘n fontein van liefde wat in beweging na mense is, wat vir ons voorsiening maak, en ons deur geloof intrek in ‘n liefdesverhouding met God.

Mense is deur God geskep en vind geluk deur van hulle vereensamende selfgerigtheid bevry te word.

Vier merkers vir ‘n Godgerigte lewe

Aangesien mense van nature op hulself ingekeer raak, en vanuit hulself na heil en sekerheid soek, en die evangelie so ‘n vreemde geregtigheid aan ons bekendstel, het die Reformasie vier stelreëls geformuleer wat ons help onthou wie ons voor God is, en wat ons help dors na die genade van God alleen. Hierdie stelreëls staan as die “Solas” bekend – sola beteken in Latyn “slegs” of “alleenlik”:

  • Sola Gratia: die verlossing kom uit genade alleen, sonder enige verdienste
  • Sola Fidei: ons eien die verlossing deur die leë hande van geloof alleen toe, waar die geloof nooit ‘n daad van verdienste is nie – dit word deur God in ons gewerk
  • Sola Scriptura: Alleen die Skrif as Woord van God wys vir ons die regte pad van verlossing aan, nie die kerklike tradisie of menslike denkkonstruksies nie
  • Soli Deo Gloria: Alle eer kom aan God alleen toe vir ons verlossing, ons gehoorsaamheid en ons volharding op die pad van geloof.
Voor God se aangesig

Ons almal moet elke dag weer die Heilige Gees en God se Woord toelaat om ons koppe van ons eie refleksie in die waterpoel van ons lewe op te lig, hemelwaarts te draai, sodat ons die lewende God, die Bron van ware lewe, kan raaksien en uit God se teenwoordigheid kan lewe.

Dit is wat Gereformeerde mense doen. Ons leef met die helder wete dat ons voor God se aangesig verkeer. Van Hom verwag ons alles wat goed is.

God stuur ons om te leef

Sola Deo Dloria

Offergawe
Uitsending

Sang
Lied 488:1-5 “Helder skyn u lig vir die nasies”

Seën: Numeri 6:24-26 ()
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.