Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag se tekste help ons om, soos die res van Koninkrykstyd, na te dink oor hoe ons lewens as Gees-vervuldes behoort te lyk.
In Psalm 65 en die Joël-teks, lees ons dat God sorg vir mens en dier en aarde en dat ons dit moet oplet en God loof daarvoor.
In die verhaal wat Lukas vertel, sien ons dat hoogmoed nie deel is van ‘n Geesvervulde se lewe nie.
2 Timoteus sluit ook aan by die tema wat ons in Joël 2 vind dat Geesvervulde mense nou reeds ‘n lewe van lof leef, maar ook kan droom oor ‘n wêreld wat God belowe.

Ander tekste

Psalm 65
U laat die mense juig
65 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
’n Lied.
2Aan U, o God, kom ’n lofsang toe
in Sion:
geloftes moet betaal word
3aan U wat die gebed verhoor.
Na U toe sal alle mense kom
4om hulle skuld te bely.
Ons sondes het ons ingehaal,
maar U maak ons daarvan vry.
5Dit gaan goed met die mens
vir wie U uitkies
en laat naderkom
om in u tempel te bly.
Laat ons die goeie dinge in u huis
in oorvloed geniet,
die goeie dinge in u heilige woning.
6In u trou antwoord U ons
met kragtige dade,
o God, ons Verlosser,
op wie ook die mense in afgeleë lande
en op verre seë vertrou.
7U is met mag omgewe,
U laat deur u krag die berge vas bly staan;
8U laat die gedruis van die see,
die geraas van die golwe,
die rumoer van die nasies bedaar,
9sodat ook die mense in afgeleë lande
ontsag kry vir die tekens van u mag;
in die ooste en in die weste
laat U die mense juig.
10U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water,
U laat die koring welig staan.
Alles is u werk!
11U maak die ploegvore vol water
en die kluite nat,
U laat hulle sag word van die reëns,
U laat alles welig groei.
12U kroon die jaar met u goeie gawes.
Waar U ook gaan,
is daar oorvloed!
13Daar is volop weiding in die woestyn;
die bulte juig,
14die velde wemel van die kleinvee,
die vlaktes staan vol koring;
hulle juig en hulle sing.

2 Timoteus 4: 6-8, 16-18
4 Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus wat die lewendes en die dooies sal oordeel, ek beveel jou met die oog op sy koms en sy koningskap: 2verkondig die woord; hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee, 3want daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor. 4Hulle sal die waarheid nie wil hoor nie en hulle tot verdigsels wend. 5Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit.

6Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur. 7Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.

Persoonlike woorde
9Probeer so gou moontlik na my toe kom, 10want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek. Kressens is na Galasië en Titus na Dalmasië toe. 11Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou, want hy kan my tot groot diens wees. 12Tigikus het ek na Efese toe gestuur. 13As jy kom, moet jy die reismantel saambring wat ek by Karpus in Troas laat bly het, en ook die boeke, veral die perkamente.

14Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld vir wat hy gedoen het. 15Jy moet ook vir hom op jou hoede wees, want hy het ons prediking heftig teengewerk.

16Toe ek my die eerste keer voor die hof moes verdedig, het niemand my bygestaan nie; almal het my in die steek gelaat. Mag God hulle dit nie toereken nie! 17Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee, sodat deur my die prediking tot sy volle reg kon kom en al die heidennasies dit kon hoor. En ek is uit die bek van die leeu gered.

18Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.

Lukas 18: 9-14
Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar
9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Fokusteks

Joël 2:23-32
Die Here betoon medelye met sy volk
18Die Here het vir sy land opgekom,
Hy het medelye betoon met sy volk.
19Die Here het sy volk geantwoord:
Ek stuur vir julle koring
en wyn en olie.
Julle sal oorgenoeg hê.
Ek sal julle nie weer tot ‘n bespotting
onder die nasies maak nie.
20Hierdie vyand uit die noorde
sal Ek wegvat van julle af,
Ek sal hom wegjaag na ‘n droë
en verwoeste land toe,
sy voorpunt sal in die Dooie See beland
en sy agterhoede
in die Middellandse See.
Sy stank sal opstyg,
sy slegte reuk sal versprei,
want hy het hom groot gehou.
21Jy moenie bang wees nie, ploegland,
jy moet bly wees en juig,
want die Here het ‘n wonder gedoen.
22Julle moenie bang wees nie,
vee in die veld,
want die weiveld word groen,
die bome dra vrugte,
die vyebome en die wingerd
staan in volle drag.
23Inwoners van Sion, julle moet bly wees
en juig tot eer van die Here julle God,
want Hy het die reëns betyds laat kom,
Hy het die vroeë en die laat reën
soos voorheen gegee.
24Die dorsvloer lê vol koring,
die parskuipe loop oor
van wyn en olie.
25Ek sal julle vergoed vir die tyd
van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm
toe my groot leër
wat Ek teen julle gestuur het,
julle verteer het.
26Julle sal oorgenoeg hê om te eet,
julle sal die Naam van die Here julle God
prys,
Hy wat wonders vir julle gedoen het.
My volk sal nooit weer
in die skande kom nie.
27Dan sal julle besef
dat Ek by Israel is,
dat Ek die Here julle God is,
dat daar buiten My
nie ‘n ander is nie.
My volk sal nooit weer
in die skande kom nie.
28Wanneer dit alles gebeur het,
sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters
sal as profete optree,
julle oumense sal drome droom,
julle jong mans sal visioene sien.
29In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie.
30Ek sal tekens gee,
in die hemel en op die aarde:
bloed, vuur en rookwolke.
31Die son sal donker word,
die maan bloedrooi
en dan sal die groot,
die vreeslike dag van die Here kom.
32Elkeen wat die Naam van die Here
aanroep, sal gered word.
Op Sionsberg en in Jerusalem
sal daar uitkoms wees.
So het die Here beloof.
Dié wat deur die Here geroep is,
is by dié wat gered is.

Ekstra stof

Joël – God se dag bring verwoesting en voorspoed

Inleiding
Die datum van die profeet Joël se optrede word nêrens aangedui nie. Daar is ook niks meer oor hom bekend as wat ons in die boek self lees nie. Al wat ons daar van hom lees, is dat hy die seun van Petuel was (1:1). Meer weet ons nie van hom af nie.

Dit wil voorkom asof Joël ná die tyd van die noordryk optree aangesien hy net oor Juda en Jerusalem praat. Die noordelike tienstamme ryk is in ballingskap deur die Assiriërs in 722 v.C. weggevoer. Joël se klem op Sion en Jerusalem beteken verder dat hy waarskynlik ‘n profeet van die suidelike tweestamme ryk was. Só ‘n argument uit stilswye is egter nooit iets waarop ‘n mens alleen kan staatmaak nie.

Daarom verwys sommige geleerdes na Joël se gebruik van die “vyand uit die noorde” (2:20) wat ooreenkom met verskeie van die profesieë van Jeremia (Jesaja praat egter ook daarvan) waarmee Jeremia veral na die bedreiging van die Galdeërs onder Nebukadnesar verwys. Joël se skildering van dié bedreiging as ‘n vlaag opeenvolgende sprinkaanplae (1:4 – hy noem vier swerms), gekoppel aan die onafwendbare nabyheid van die finale veldslag, die “dag van die Here” (1:15), sowel as die feit dat die tempeldiens nog in volle swang is (1:13 – al roep hy die priesters op om te treur oor die bedreiging!), laat ‘n mens dink aan ‘n optrede net voor die val van Jerusalem, 588-586 v.C.

Indien dié argument water hou, was Joël dan waarskynlik ‘n 6de eeu v.C. tydgenoot van Jeremia, Obadja en Habakuk. Hy tree waarskynlik op net ná Sefanja en Nahum, en weer net voor Esegiël wat eers in ballingskap deur die Here geroep word.

Wat ‘n mens se standpunt egter ook al hieroor is, wil dit wel voorkom asof die boek tweede in die reeks van twaalf Kleiner Profete geplaas word, nie net omdat dit inhoudelik saamhang met verskillende uitsprake in die volgende boek, Amos, bv. die sprinkaanplae, nie, maar omdat dit die boek is wat die “dag van die Here” die helderste en mees volledige op die tafel sit (1:15; 2:1; 3:14).

Waar Amos vroeër in die 8ste eeu v.C. die dag van die HERE eintlik nét as ‘n dag van oordeel geskets het (Amos 5:18-20), beskryf Joël die dag van die Here as ‘n dag wat veral oordeel oor die nasies sal beteken (Joël 3:12), maar op redding vir Israel sal uitloop (3:16).

Die boek van Joël verwoord dus op noodsaaklike en meer omvattende wyse een van die sentrale temas van die Kleiner Profete – die koms van die “dag van die Here” – al het hy waarskynlik lank ná Amos en Hosea eers op die toneel verskyn. Ook die besondere plek wat die verwante tema van die beskerming van Jerusalem in die boek Joël inneem, sal verder op uitgebrei word in die ander profete wat volg.

Dié boek het daarby ook duidelike eskatologiese trekke waaraan die NT uitstorting van die Heilige Gees verbind word, en waarvan sommige van die kosmiese oordeelsbeskrywings daarin ook met die Openbaring van Johannes verbind kan word.

Indeling
Die verskillende profesieë kan op verskillende maniere ingedeel en gelees word. Ek kies om dit as volg te lees:
1:1-20 – Die Here roep die volk op tot bekering deur verwoesting
2:1-32 – Die Here belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer
3:1-21 – God bring oordeel oor die nasies maar redding vir sy volk in Sion

Joël 2:1-32 – Die Here belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer
Hierdie hoofstuk is in twee dele opgedeel, telkens ingelei deur die frase: “Blaas die ramshoring in Sion” (2:1 en 2:15). Dit fokus op die “dag van die Here” wat onafwendbaar kom en oordeel en redding sal inhou. Die kosmiese tekens wat dit begelei (2:10, 20, 30-31; vgl. ook 3:15), dui op ‘n vervulling wat nie net vir hulle tyd betekenis het nie.

In albei rondtes word die volk uitgenooi in die hoop dat daar tog miskien ‘n herroeping van die straf van die oordeel vir die volk kan wees.
1 . In die eerste rondte – 2:1-14 – volstaan die profeet met die oproep tot bekering en eindig met ‘n vraag of dit die gewenste uitwerking sal hê.
2. In die tweede rondte – 2:15-32 – bars die visioen deur dat die verootmoediging van die volk (2:15-17) die gewenste uitwerking sal kan hê. Die redding van die Here sal in drie transformasies gesien kan word:

    1. die vyand sal verdryf word (2:18-20),
    2. die volk sal volledig herstel word (2:21-27), en
    3. God se Gees sal op alle mense uitgestort word (2:28-32).

2:1-14 – Sal ‘n hartgrondige bekering die gewenste uitwerking hê?

2:1-11 – Die dag van die Here is ‘n stikdonker nag
Die konsep van die “dag van die Here” word nou verder uitgespel. Daar was waarskynlik ‘n wydverspreide gedagte vaardig onder die volk dat die “dag van die Here” ‘n positiewe inhoud vir hulle gehad het; dat dit redding vir hulle ingehou het. Amos het dit egter alreeds in die 8ste eeu v.C. heftig bestry: “Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here … Dit sal donker bring, nie lig nie.” (Amos 5:18 vv.)

Daarop het die ander profete uitgebrei wat dit duidelik gemaak het dat die “dag van die Here” ‘n dubbele betekenis inhou. In die eerste plek ‘n dag van oordeel vir dié wat sondig en in die tweede plek ‘n dag van redding vir die oorblyfsel wat die Here uitkies, soos onder andere reeds in:

Hier fokus Joël ons aandag op die karakter van dié dag as ‘n stikdonker dag, ‘n dag waarop die vyand hulle omsingel en oorval wat soos sprinkane niks laat oorbly nie. Die eksplisiete ooreenkoms met die sprinkaanplaag van die eerste hoofstuk val op. Let ook op die vergelyking van die ramp wat hulle tref met die tuin van Eden wat soos ‘n woestyn word.

Dit is hulle voorland, totale vernietiging. Die vyand verander nie van rigting nie, elkeen bly op sy pad. Almal in hulle pad: “word wit van angs“.

Die diepste kommer oor dié dag lê egter in die feit dat dié sigbare bedreiging ‘n onsigbare oorsprong het: “Die Here laat sy stem weerklink voor sy leërmag uit … dié wat die Here se bevel uitvoer, is sterk.

Let ook op die kosmiese tekens waarmee dié beskrywing van oordeel geteken word: “Die aarde skrik vir hulle, die hemel bewe; die son en die maan word donker, die sterre verloor hulle glans” (2:10). Dit dui daarop dat Joël in sy beskrywing van die oordeel al reeds rekening hou met die feit dat dié profesie nie net op sy eie tyd slaan nie.

Die punt wat Joël egter hiermee maak, is steeds in die eerste plek gemik op sy eie mense, in die hoop dat hulle tot bekering sal kom.

2:12-14 – “Kom met julle hele hart terug na My toe”
Die Here roep hulle dus op om van harte terug te keer na Hom toe, een van die roerendste bekeringsboodskappe wat ons in die Bybel het. Die volk word tot ‘n vas van die hart opgeroep: “Skeur julle harte, nie julle klere nie.

Let op dat die Here nie soseer op ‘n lys van hulle sondes fokus in sy boodskap nie. Trouens, nêrens in die boek Joël vind ons só ‘n lysie van sondes nie. Die nasies word wel aangespreek oor hulle aandeel in die ballingskap en berowing van Jerusalem (hfst. 3; “Hulle sondes [boosheid] is baie.” – 3:11). Maar Juda word nie op soortgelyke wyse aangespreek nie.

Dit is meer asof Joël in ag neem dat die volk eintlik self weet wat fout is. Die omstandighede is benard genoeg dat hulle kennis geneem het dat hier groot fout is, moontlik veral deur die sprinkaanplae. Joël hoef hulle sondes dus nie in ‘n lysie uit te spel, soos van die vorige profete uitvoerig gedoen het nie. Hulle weet eintlik goed dat hulle die verbondsverhouding met die Here versaak het, dat hulle laks geraak het, soos “dronkaards” (1:5), in hulle verhouding met Hom. Daarom beleef hulle terugslag op terugslag. Die ontberinge – sprinkane, mislukte oeste, bedreiging deur die nasies – is immers dinge wat uitgespel is as strawwe van die verbond (Deut. 28). Dit weet hulle goed.

Die Here het daarom sy teenwoordigheid van hulle onttrek en wil deur die ontberinge wat hulle ekonomies en polities beleef hulle terugwen vir Homself. Hy fokus dus meer op hoe om dinge reg te maak, as op dié dinge wat die probleem in die eerste plek veroorsaak het. Bekering lê hier dus nie soseer in die toe-eiening van die sondelysie nie, maar in die terugkeer met hulle hele hart na die Here toe.

Let ook op hoe die beskrywing van God ooreenkom met die beloftes wat Moses met die Intog in die land aan die volk oorgedra het: “Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek (Moses) jou voorgehou het, oor jou kom … en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, sal die Here jou God jou omstandighede verander.” (Deut. 30:1-2). Kyk ook na die woorde van die Here reeds op die berg Sinai: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.” (Eks. 34:6-7).

Dít is wie God is, selfs in sy oordeel. Hy kan van plan verander en sy straf herroep. Hy kan red, sê Joël, maar nie sonder meer nie. Daar is genade vir dié wat hulle resloos op Hom verlaat. Sy genade troef dus steeds sy oordeel, soos ons nog helderder in die NT sien. Maar dan, sê Joël: “Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig …

Liturgie

Aanvangslied: Lied 172 “Heilig (3X) God almagtige Heer vs 1” (Herhaal)

Aanvangswoord: (Uit Psalm 65)

Seëngroet: (Uit 2 Timoteus 1)

Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Wet
Gebruik die evangelie skrifgedeelte (Lukas 18) as spieël waarin ek toets of my saak met God reg is…

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afrikaans + Latyn (sittende)

Vryspraak: (Miga 7)

Aanvaarding van die vryspraak: (Uit Ps 65)

Geloofsbelydenis

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Epiklese: (Uit Jeremia 10)

Skriflesing: Joël 2:23-32

Familie-oomblik
Prediking
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of

F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 172 “Heilig (3X) God almagtige Heer vs 1” (Herhaal)

Aanvangswoord: (Uit Psalm 65)
7U is met mag omgewe,
U laat deur u krag die berge vas bly staan;
8U laat die gedruis van die see,
die geraas van die golwe,
die rumoer van die nasies bedaar,
5Dit gaan goed met die mens
vir wie U uitkies
en laat naderkom
om in u tempel te bly.
Laat ons die goeie dinge in u huis
in oorvloed geniet,
die goeie dinge in u heilige woning.

Seëngroet: (Uit 2 Timoteus 1)
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Wet
Gebruik die evangelie skrifgedeelte (Lukas 18) as spieël waarin ek toets of my saak met God reg is…

9Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

13“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’

14“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afrikaans + Latyn (sittende)

Vryspraak: (Miga 7)
18Wie is ’n God soos U?
U vergewe sonde,
U straf nie die sonde van dié
wat uit u volk oorgebly het nie.
U bly nie vir altyd kwaad nie,
U betoon liefde.
19Hy sal ons weer genade betoon,
Hy sal ons sonde tot niet maak,
U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.

Aanvaarding van die vryspraak: (Uit Ps 65)
Ons sondes het ons ingehaal,
maar U maak ons daarvan vry.
5Dit gaan goed met die mens
vir wie U uitkies
en laat naderkom
om in u tempel te bly.

Geloofsbelydenis
V: Glo jy in God die Vader?
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

V: Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God?
G: Ek glo in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe.
V: Amen.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011)

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Liedere

F106. “God Is Groot”
(RUBRIEK: Flammikidz – Verwondering)
Oorspronklike titel: God is great
Teks en Musiek:Frank Hernandez
Afrikaanse vertaling: S. Rautenbach
© Birdwing Music
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

God is groot, God is groot.
Hy is baie, baie, baie, baie groot.
God is groot, God is groot.
Hy is baie, baie, baie, baie, baie, baie groot.
Hy is groter as ‘n olifant en groter as ‘n tier.
Hy’s groter as die grootste beer of watter ander dier.
Hy’s groter as ‘n reuse walvis in die oseaan.
Hul’s kleiner as muskiete as hul voor die Here staan.
Hy is groter as die berge wat aan die wolke raak.
Hy’s groter as die diepste see wat altyd golwe maak.
Hy’s groter nog as al die sterre, aarde, son en maan.
Hy’s groter as die hemelruim en sy planete saam.
En sê nou hy was groot, maar Hy was baie sleg
Dan sou die hele wêreld nie geweet het wat was reg
En sê nou Hy was goed, maar Hy was baie klein
Sou al die wonderwerke van die aarde af verdwyn.

F127. “Vader, U Is Goed
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering / Geloofsbelydenis / Drie-Eenheid)
Oorspronklike titel: Vader, U bent goed
Teks en Musiek: Elisa Krijgsman
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© Unisong Music Publishers B.V. t/a Reli Music

Elke oomblik van my lewe, in voor- of teëspoed
aanbid ek U, Heer Jesus, en dank U vir u bloed
Ek vind krag in U, my Vader, as ek naby aan U bly
My hart en my gedagtes word warm as ek bely:

Refrein:
Vader, U is goed, U is heilig, U is liefde
Jesus, U is groot, U is sterker as die dood
Trooster, hierdie dag gee ek myself aan U
en ek sing met heel my hart: ‘k behoort aan U
Elke oomblik van my lewe, in die dag of in die nag,
wil ek u Woorde lees en dit dra diep in my hart
In die storms van my lewe, in die reën en in die kou’
vind ek skuilplek in u vrede, vind ek rusplek in u trou

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Uit Jeremia 10)
6Waar is iemand soos U, Here!
U is groot, die mag van u Naam is groot.
7Wie sou U nie dien nie-
U is die Koning van die nasies!
Dit kom U toe.
Onder al die wyse mense,
onder al die konings van die nasies,
is daar niemand soos U nie.
U Here is die ware God:
U is die lewende God,
die Koning vir altyd;
van U toorn bewe die aarde,
6Waar is iemand soos U, Here!
U is groot, die mag van u Naam is groot.
7Wie sou U nie dien nie-
U is die Koning van die nasies! Amen

Skriflesing: Joël 2:23-32

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die NT gedeelte by vandag se teks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Sê vir God Jammer oor jou Sonde
9–10 Jesus het gesien baie mense dink hulle saak met God is reg omdat hulle godsdienstige wette* nakom. Hierdie mense het op almal neergekyk wat nie hierdie wette* gehoorsaam nie. Jesus vertel toe ’n storie om te wys wat God hiervan dink:

“Op ’n dag het twee mans na die tempel* in Jerusalem toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een was iemand wat belasting insamel. Hulle is tollenaars* genoem. Hulle het nie die godsdienstige wette* van die Jode gehoorsaam nie. Daarom is hulle as groot sondaars* beskou.

11–12 “Die Fariseër bid toe: ‘God, dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg nie, en ek het nie skelm verhoudings met ander vroue nie. Ek is ook nie ’n groot sondaar* soos hierdie tollenaar* wat langs my staan nie. Twee maal elke week kom ek die heel dag sonder kos klaar sodat ek kan bid. En ek gee ’n tiende van al die geld wat ek verdien aan U.’

13 “Die tollenaar* het daar eenkant gaan staan. Hy was so skaam oor al sy sondes* dat hy nie eens wou opkyk nie. Hy het sy kop laat sak en gesê: ‘God, ek is so ’n groot sondaar*. Help my, asseblief!’

14 “God het dadelik na die tollenaar* se gebed* geluister,” sê Jesus. “God het sy lewe nuut gemaak. Almal wat te veel van hulleself dink om vir God te vra om hulle te red*, sal baie spyt wees. Maar almal wat voor God buig, sal eendag ’n plek in die hemel kry.”

Onderskei duidelik tussen die twee persone:
Die fariseër is vol van homself en oortuig dat sy saak met God reg is. Hy sien neer op alles en almal wat nie soos hy is en doen nie. Hy is ook van mening dat sy nakoming van godsdienstige wette sy saak met God regmaak.

…dankie dat ek nie ’n slegte mens is nie. Ek steel nie ander mense se goed nie. Ek lieg nie, en ek het nie skelm verhoudings met ander vroue nie. Ek is ook nie ’n groot sondaar* soos hierdie tollenaar* wat langs my staan nie. Twee maal elke week kom ek die heel dag sonder kos klaar sodat ek kan bid. En ek gee ’n tiende van al die geld wat ek verdien aan U.’

Daarenteen staan die tollenaar voor God bakhand (wys bakhande soos iemand wat bedel, wat net kan ontvang, wat niks het om aan te bied nie)- hy het niks om op te roem nie. Hy kom vra maar net dat God hom mag vergewe. Hy weet dat sy saak met God nie reg is nie en maak slegs staat op God se vergifnis.

God, ek is so ’n groot sondaar*. Help my, asseblief!

Onderstreep die feit dat die tollenaar se gesindheid vir God aanvaarbaar is, maar dat die fariseër se valse sekerheid van sy verdienste by God onaanvaarbaar is, ten spyte van al sy pogiongs om volgens die wet te lewe.

Eindig met beklemtoning van die feit dat mens niks by God kan verdien nie. Alle mense is sondaars en kan niks by God verdien nie. Maar God het sondaars lief en wil graag hulle sondes vergewe. Jy kan slegs die dankbare ontvanger van sy vergifnis en vryspraak wees.

Illustreer die beginsel deur lekkergoed uit te deel, wat die kinders nie voor gewerk het nie maar slegs kan ontvang en kan geniet.

Mens kan ook Stephan Joubert se bydrae by Ekerk se Goeie nuus oor “selfies” by die storie inkorporeer. Die fariseër is so behep met sy eie verdienste dat hy inderdaad net met ‘n “selfie” bsig is.

Doen “selfie-beheer”
deur Stephan Joubert (10 Oktober 2016)
2013 was die jaar van die “selfies,” oftewel, daardie foto’s wat mense van hulleself met hulle selfone neem. “Selfie” is selfs in November 2013 as term van die jaar aangewys deur die Oxford Aanlyn Woordeboek. Dit het gebeur nadat hierdie term reeds aan die einde van 2012 deur Time Magazine as een van die “buzz words” van die jaar uitgelig is. ‘n Onlangse studie bevind dat sowat 30% van alle foto’s wat 18-24 jariges neem, selfies is. Daar’s niks fout met selfies nie, mits dit jou nie in ’n arrogante indiwidu verander wat verlief geraak het op jou eie voorkoms nie. Jesus se roete is dié van nederigheid. In eietydse taal gesê, Hy pas “selfie control” op jou toe. Nooit mag jyself die toneel van jou eie lewe oorheers met jou selfsugtige behoeftes aan erkenning nie. Jesus moet saam met jou op al jou lewensfoto’s verskyn. Sy teenwoordigheid moet die eintlike storie van jou lewe vertel, nie jyself nie. Jou lewensfoto’s moet Jesus elke slag uitwys as die Vernaamste Een, as die Here. Verskuif jou aandag na Hom. Hou jou oog op Hom.

Natuurlik mag jy ook foto’s van jouself neem en dit met jou vriende deel. Maar as dit slegs vertel hoe goed, oulik of belangrik jy is, dan moet jy jou selfies herbesoek. Nee, dan moet jy jou lewensfokus herbesoek! Herfokus elke dag van voor af op die regte manier, maar herfokus op die Here en op ander mense. Sien ander rondom jou raak wat ook maar net probeer om hulle eie stukkie lewe te leef. Soos wat jy jou kamera moet fokus as jy iets of iemand afneem, moet jy ook jou lewe herfokus sodat ander mense in die fokus staan van jou gebede, jou omgee en jou hulp. Leef hulle raak in Jesus se Naam. Dan doen jy die regte “selfie-beheer.”

Preekriglyn

Dit was weer Saterdagaand. Soos baie ander Saterdagaande was Shawna Pilat se man laatnag nog nie terug van sy partytjies en kuiers nie. “Rick was baie gereeld Saterdagnagte heelnag uit. Ek het altyd geweet hy is ontrou aan my”, sê Shawna, wat daardie aand alleen tuis was met hul driejarige seuntjie. “Natuurlik het sy gedrag my gepla, maar ek was ook bekommerd dat Rick iewers dood opgetel gaan word. Toe dit Sondagmôre begin lig word was ek aan die einde van my kragte.”

Terwyl Shawna briesend staan en skottelgoed was na ontbyt, met geen teken van haar man nie, sien sy uit die hoek van haar oog ‘n man op die televisie praat. Hy het warmte uitgestraal. “Dit het gevoel die man praat net met my. Ek het iets oor my voel kom wat ek nie kan verduidelik nie”, onthou sy. “Ek kon nie ophou huil nie. Aan die einde van die program verskyn daar ‘n boodskap op die skerm wat mense nooi om by ‘n kerk aan te sluit.” Die kerk was nie ver van waar Shawna gebly het nie. “Daardie oggend kon ek my seuntjie nie vinnig genoeg aangetrek kry nie.”

Op pad kerk toe het Shawna net een idee in haar kop gehad: sy gaan genoeg emosionele krag ontvang om Rick uit te skop. Sy was klaar met hom.

God het egter ‘n verrassing vir haar gehad.

Aan die einde van die preek het die dominee gevra wie hul lewe vir Christus wil gee en Hom wil volg. Shawna het haar hand opgesteek. Drie weke later het Rick uit die bloute gevra of hy saam kerk toe kan gaan. Onverklaarbaar.

Na hy ‘n paar weke lank saam met sy vrou kerk toe is, het Rick begin besef hy het Jesus in sy lewe nodig. Tog was die volgende paar maande nie maklik nie. “Ek het eredienste bygewoon en wou die regte dinge doen, maar ek het verkeerd bly optree”, vertel Rick. “Dit was eers later dat ek besef het hoe belangrik berou is, en om die vergifnis van God deur Jesus Christus te aanvaar.” Daardie dag het Rick huis toe gegaan en vir sy vrou gesê: “Ek kan nou die man wees wat jy nodig het.”

Dit is die dag waarop Rick en Shawna se lewens verander het. God het hulle aangeraak. Hulle het aktief in hulle gemeente begin dien om die hoop op God, wat sukkelende egpare vergewe en herstel, na ander uit te dra. “Wanneer ek dink hoe Jesus deur sy Woord en Gees mense kan verander – hoe diep hulle ook al in sonde geval het – oorweldig dit my”, sê Rick. “Aangesien Jesus dit vir ons gedoen het, kan Hy dit vir enigiemand doen.”

Drie bewegings

Rick en Shawna se groei na die Here toe uit wanhoop, sonde en gebrokenheid herinner mens aan Joë se boodskap.

Die profeet Joël tree waarskynlik op net voordat Jerusalem verwoes en die volk in ballingskap weggevoer word. Sy profesie bestaan uit drie aspekte en kan as volg ingedeel word:

  • 1:1-20 – Die Here roep die volk op tot bekering (want hulle sonde loop uit op ellende en verwoesting);
  • 2:1-32 – Die Here beloof medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer;
  • 3:1-21 – God bring oordeel oor die nasies maar redding vir sy volk in Sion.

Die verhaal van Rick en Shawna, ja, die verhaal van so baie mense, speel voor mens se oë af wanneer jy hierdie drie elemente hoor. ‘n God wat tot bekering roep, ‘n God wat oorloop van medelye vir diegene wat na Hom draai, ‘n God wat deur sy regverdige oordele redding bring vir sy kinders.

Keer terug na My!

Ons teks kom uit Joël 2, die gedeelte van die boek wat handel oor God wat medelye en voorspoed belowe vir diegene wat na Hom terugkeer. Uit die eerste gedeelte van hoofstuk 2, wat ons teks voorafgaan, kom die bekende roerende oproep van die Here aan ‘n ongehoorsame volk:
Kom met julle hele hart terug na My toe,
Vas, huil en treur!
Skeur julle harte en nie julle klere nie.
Kom terug na die Here julle God toe:
Hy is genadig en barmhartig;
Hy is lankmoedig en vol liefde.
Hy is bereid om straf te herroep.

Joël se profesie is dat die volk se terugkeer, skuldbelydenis, ‘n draai na die Here toe, die gewenste uitwerking sal hê:

  • die volk sal volledig herstel word (2:21-27), en
  • God se Gees sal op alle mense uitgestort word (2:28-32).
Die volk sal volledig herstel word

Die Here herstel die volk: ekologies en godsdienstig. Die boere sal weer gelukkig wees omdat alles weer groen raak weens die reën wat op sy tyd sal kom. Daar sal voedsel wees. Die rykdom van hulle oeste sal die verlies van die sprinkaanswerms (‘n simbool van die verwoesting weens hulle sonde) vergoed. Hulle sal die Here weer kan dien soos van ouds: “Dan sal julle besef … dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie ‘n ander is nie.”

God se Gees op alle mense uitgestort

Die toppunt van die belofte is egter geestelik: “Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense …” Die Here herstel hulle geestelike gemeenskap met Hom.

Daar word ‘n hele paar plekke in die OT gepraat oor die Gees wat op individue gekom het. Dink aan Besaleël, die kunstenaar, in Eks. 31:3; Moses en van die leiers van die volk, in Num. 11:16-29; verskillende Rigters, soos Otniël, Gideon, Jefta en Simson; asook verskillende konings, priesters en profete. Die Gees is egter nooit aan almal gegee nie: slegs vir sekere mense, vir sekere tye en sekere take.

Hier is egter die eerste aanduiding dat die Gees op alle mense uitgestort gaan word. Joël brei dus die prentjie van die werk van die Gees op beduidende radikale en nuwe wyse uit, iets wat met Pinksterdag in vervulling gegaan het (Hand. 2).

Let op dat die Gees op jonk en oud (verskillende generasies), manlik en vroulik (beide geslagte), op alle sosiale klasse van die samelewing – “selfs op dié wat nie in aansien is nie”, en op alle mense, “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word”, uitgestort word. Die Gees se werking sluit inderdaad niemand uit nie, wat ook beteken dat ons niemand mag uitsluit wat die Here se Naam aanroep nie. Later sou Esegiël ook soortgelyke dinge sê oor die uitstorting van die Gees oor die volk (Eseg. 37), maar Joël se belofte troon uit as ‘n unieke skets van wat in die toekoms sou wag.

Herstel en genesing

Ons teks loop oor van die herstel, genesing en vervulling wat God in mense se lewe bring wat hulle van sonde bekeer en God navolg. Vir Joël is die boodskap van God se oordeel altyd daarop gerig om mense tot inkeer te bring en na God te laat gryp.

Die gevaar is groot dat ons deur die bril van die ballingskap na God kyk en net ‘n God sien wat oordeel, wat agter die skerms werk en verlies en vernietiging bewerk weens mense se ongehoorsaamheid en afvalligheid. Joël help ons verstaan met dié twee gedeeltes dat God se bedoeling altyd op inkeer en omkeer gemik is. Hy wil herstel bring, omvattend en vir almal.

Hy red egter nie sondermeer nie, want redding sonder ‘n herstel van die verhouding met die land, met ander nasies, met mekaar en veral met Hom is ‘n redding wat nêrens gaan nie. Daarom dat die profeet hulle so innig smeek om tot inkeer te kom, want: “Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie?” Dieper nog, Joël weet uit die verlede: “Hy is bereid om straf te herroep!” Maar dan moet hulle van binne-af tot inkeer kom: “Skeur julle harte, nie julle klere nie.”

Dít is wie God is, reeds in die Ou Testament, eintlik veral in die Ou Testament! Dit ontroer ‘n mens as jy die oorgawe van God om omvattend te seën raaklees. Dit is nie net die land wat herstel nie; dit is ook die verhouding met die nasies (waaroor hfst. 3 verder gaan uitbrei); dit is ook die omgewing waar hulle bly, en hulle ekonomie: “Ek stuur vir julle koring en wyn en olie. Julle sal oorgenoeg hê.”

Die diepste seën lê egter in die uitstorting van sy Gees op almal. Dit omsluit generasies, geslag, klasse, en alle mense wat die Here aanroep. Dit sluit ook die mense in wat die Here sal roep uit die nasies uit om deel van sy herstelde wêreld te wees, iets waarop die Nuwe Testament natuurlik omvattend uitbrei.

Die noodsaak van bekering

Ons sal onsself as individue, maar ook as gemeente, moet afvra waarvan ons ons moet bekeer? Dit is ‘n vraag wat net in die lig van die Woord van God beantwoord kan word.

Die profete, soos Joël, was bekend vir hulle vreeslose uitwys van die volk se sonde. In Rick en Shawna se geval was dit losbandigheid, roekeloosheid en dalk selfs haatdraendheid. Dit is sonde wat ons maklik herken. Dit kom dalk baie naby aan baie mense se lyf.

Ons sal egter ook moet vra na rassisme; na absolute afgestomptheid oor die nood van ander, soos ontsettende armoede waaraan ons so gewoond geraak het; na die ekologie (dink maar aan ons steenkoolsentrales wat aardverwarming aanhelp elke keer wanneer ons die stoof of geiser gebruik; die geweldige woede wat in baie van ons leef en uitmond in padwoede, gesinsgeweld en gebroke gesinsverhoudings; seksuele teistering en molestering; met nog baie ander voorbeelde wat genoem kan word.

Die enigste oplossing uit hierdie vangnette is bekering en ‘n draai na God. Wanneer die Bybel oor bekering praat, praat die Bybel met ons – nie net met ander mense, minder ordentlike mense nie.

Bekering kom op uit die werk van God. Dit is deel van die bediening van Christus in die wêreld, deur die Woord en Gees van Christus.

‘n Verwaarloosde Gees?

Dit is ‘n ope vraag of Gereformeerde mense soos ons nie oor dekades, selfs eeue, die Heilige Gees verwaarloos het nie. Dit was nie altyd so nie. Johannes Calvyn, die geestelike vader van die Gereformeerde kerke, staan as die teoloog van die Heilige Gees bekend!

Ons moet dus nie te vinnig beweeg oor die boodskap dat God se Gees in ons almal is. Ons het die Gees van God wat in ons woon al te lank verwaarloos. Ons is bang dat mense sal dink die Gees van God laat gelowiges opspring en hande klap en op die grond neerslaan met skuim om hulle monde. Miskien doen party mense dit om hulle opgewondenheid met die Gees te wys.

Maar vir ons wat glo die Gees van God woon in ons, beteken dit veel meer as dit. Dit beteken dat ons begeesterd is om in ‘n lewende verhouding met God te staan, van die sonde weg te draai, die goeie en die regte in die lewe te doen, om uit te reik na ander en sorg te dra vir onsself en die wêreld. Dit beteken ook dat ons kan droom en kan glo in die toekoms, en ander mense saam met ons op ons pad vorentoe kan vat.

Die aangrypende woorde van Joël 2:28-29, wat Petrus ook aangehaal het toe die Gees uitgestort is, dat God sy Gees oor ons almal uitstort, is die groot gelykmaker tussen gelowiges. Dis regtig aangrypend. Daar is niemand wat te oud of te jonk, te belangrik of te onbelangrik, te man of te vrou is vir God se Gees nie. God se Gees maak ons waardig in God se oë. God het ons almal menswaardig geskape en sy Gees in ons gestort. Niemand kan dit van ons wegneem nie.

Die Gees gee hoop

Daar is iets wat God se Gees vir ons gee, wat niks of niemand anders vir ons kan gee nie. En dit is: Hoop. ‘n Doel in die lewe. Die Gees van God gee sin aan die lewe.

Ons is nie net ‘n trop mense wat doelloos ronddobber met die gevaarlike behoefte om te oorlewe, kom wat wil nie. Ons is mense met God se Gees in ons. Ons loop ons lewenspad met God se Gees in ons. God se Gees laat ons hoop en glo dat dinge kan verander, dat dinge nuut kan word. Dit laat ons glo dat die sprinkaanplaag en die skande (Joël 1) verby kan gaan. Dat wonders kan gebeur. Want die Gees van God oortuig ons dat God vir ons omgee. Dat hy ons Versorger is.

Nogmaals: Herstel

Christina Landman skryf die wonderlike van hierdie gedeelte is dit: dat ons in hierdie stuk baie van die woorde en begrippe terugkry wat ons ook in Eksodus se uittogverhaal kry: eers was daar plae, die leer wat teen hulle uitgestuur is, toe wonderwerke en God se alom en ewige nabye teenwoordigheid.

Dis of ons hier, sê sy, met ‘n nuwe uittog te doen het: weg van God se aanvanklike stilte en woede, na God se nabyheid en sorg.

En dan stuur God boonop sy Gees. Die hoogste vorm van kommunikasie tussen God en mens: God se Gees. God sal nie net by mense wees nie, Hy sal in hulle wees deur sy Gees. Die Gees sal hulle insig in en hoop vir die toekoms gee. Hulle seuns en dogters sal profeteer. Die Gees sal ook die oumense wie se lewe eintlik verby is, laat droom oor die toekoms saam met God. Jongmense wat dalk net dink oor trou en vrolik wees, sal visioene sien en met God praat. Selfs mense “sonder aansien” sal die Gees van God ontvang.

Dít is die koninkryk van God hier op aarde. Die Gees van God is in ons. Ons is waardig. Ons kan uitsien na ‘n herskepping en ‘n nuwe toekoms elke dag. Ons kan elke dag uittrek, ‘n nuwe restourasie tegemoet.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën: (Uit Hebreërs 13)
20God wat vrede gee,
het Jesus uit die dood teruggebring.
21Mag dié God julle toerus met alles wat goed is,
sodat julle sy wil kan doen.
Mag Hy deur Jesus Christus in julle tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid!
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.