Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Josua- en Psalmtekste fokus beide op ouers se verantwoordelikheid om die geloofsverhale aan die kinders oor te dra. Matteus 25 en 1 Tessalonisense 4 pleit by gelowiges om waaksaam te wees

Ander tekste

Josua 24:1-3a, 14-25
Die samekoms by Sigem
24 Josua het al die stamme van Israel bymekaargebring in Sigem. Hy het die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep, en hulle het hulle plekke kom inneem in die teenwoordigheid van God.

2Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders—onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor—anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien. 3Ek het julle voorvader Abraham anderkant die Eufraat geneem en hom die hele Kanaän laat deurgaan.

14“Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here. 15Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

16Die volk het geantwoord: “Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. 17Dit is die Here ons God wat ons en ons voorvaders uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Hy het daardie groot wonders voor ons oë gedoen en Hy het ons beskerm op die hele pad wat ons gekom het en teen al die volke deur wie se gebiede ons getrek het. 18Die Here het al die volke voor ons uit verdryf, die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.”

19Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle kan nie die Here dien nie. Hy is ’n heilige God, Hy is ’n God wat onverdeelde trou eis en julle opstandigheid en sonde nie sal vergewe nie. 20As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en ’n end aan julle maak.”

21Die volk het vir Josua gesê: “Nee, ons sal die Here dien!”

22Toe sê Josua vir die volk: “Julle is self getuies daarvan dat julle gekies het om die Here te dien,” en hulle antwoord: “Ons is.”

23Toe sê Josua: “Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy julle heeltemal aan die Here die God van Israel.”

24En die volk sê vir Josua: “Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.”

25Josua het daardie dag vir die volk ’n verbond gesluit en vir hulle daar in Sigem voorskrifte en bepalings vasgelê.

26Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, ’n groot klip gevat en dit daar onder ’n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit. 27Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.”

28Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.

Psalm 78:1-7
Sodat die volgende geslag dit kan weet
78 ’n Gedig van Asaf.
Luister na wat ek jou leer, my volk,
luister aandagtig na wat ek sê.
2Ek gaan ’n gedig voordra,
ek gaan julle inlei in geheimenisse
uit die verre verlede.
3Wat ons gehoor het en wat ons weet,
wat ons vaders ons vertel het,
4sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.
Ons sal aan die volgende geslag vertel
van die roemryke dade van die Here
en van sy mag,
van die wonderdade wat
Hy gedoen het.
5Hy het aan Jakob
sy voorskrifte gegee,
aan Israel sy onderwysing.
Hy het ons voorvaders beveel
om dit aan hulle kinders
bekend te maak,
6sodat die volgende geslag dit kan weet
en die kinders wat nog gebore sal word,
dit weer aan húlle kinders kan vertel.
7So sal hulle dan op God vertrou
en nie vergeet wat Hy gedoen het nie,
maar gehoorsaam wees
aan wat Hy beveel het
8en nie wees soos die voorvaders nie.
Dié was ’n opstandige
en ongehoorsame volk,
’n onbestendige geslag
wat nie aan God getrou was nie.

Matteus 25:1-13
Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies

25 “Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. 2Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. 3Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, 4terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. 5Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6“In die middel van die nag was daar ’n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’7Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. 8Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’9Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

10“Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.

11“Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’12Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

13“Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”

Fokusteks

1 Tessalonisense 4:13-18
‘n Lewe volkome aan God toegewy
4 En nou het ons nog iets anders om van julle te vra, broers. Julle het van ons geleer hoe God wil hê julle moet lewe. Julle doen dit ook, maar in die Naam van die Here Jesus versoek ons julle dringend: Lê julle nog meer daarop toe. 2Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. 3Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. 4Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; 5julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. 6Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. 7God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. 8Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.

9Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. 10En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe. 11Laat dit vir julle ‘n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. 12Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie.

Die opstanding uit die dood
13Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. 14Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

15Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. 16Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

18Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Ekstra stof

1 Tessalonisense 4 – Nog meer aan die Here toegewy
Paulus spoor hulle in twee gedeeltes aan – soos ‘n pa (2:11-12) – om hulleself nog meer as tevore aan die Here toe te wy.  En die 2 hoofsake waarin hulle dit moet uitleef, is om nie onsedelik te leef nie (4:1-8) en mekaar lief te hê (4:9-12).

Let op dat in die vorige paar verse, 3:11-13, hy reeds die twee onderwerpe aangeroer het, sowel as die onderwerp van die wederkoms, waaroor hy vanaf vers 13 gaan praat.  Maar dat hy dit daar as ‘n gebed vir die Here aanbied: mag hulle liefde vir mekaar groei, en mag hulle heilig leef, tot by die dag van Christus.

Nou gaan hy oor tot sy aansporing, nadat hy dit eers as gebed vir die Here gegee het.

1.  Onsedelikheid (porneia – die woord word hier heel algemeen gebruik vir seks buite die huwelik) was geen probleem in die Griekse wêreld nie, anders as in die Joodse wêreld, aangevuur deur losbandige praktyke by die tempels.  Paulus spoor hulle egter aan om persoonlik en in hulle huwelikslewe met selfbeheersing (“weerhou julle van”) en integriteit (“nie te buite gaan” en “niemand bedrieg nie”) op te tree.  Ons hoor hierin die besluite van die “sinode” van Jerusalem weerklink (Hand 15:29).  Maar sy oproep is nie maar net ‘n morele of Joodse lewensles wat hy hulle gee nie.  Dit is God se wil vir hulle.  Hierop sou hy nog verder uitbrei in sy briewe aan die Korintiërs (1 Kor 5:1; 6:12-20)

2.  Let hoe hy die liefde vir mekaar nie as ‘n gevoel vir of selfs diensbaarheid aan mekaar uitspel nie.  Hulle moet mekaar liefhê deur hulle met hulle eie sake besig te hou, en self in hulle lewensonderhoud te voorsien.  Hierdie oproep het implikasies vir die manier waarop die gemeente funksioneer, sowel as vir hulle getuienis na buite.  Hulle moet deur hulle eerbare leefwyse die agting van mense buit die gemeente afdwing.  Dit het ook ‘n direkte positiewe gevolg vir hulleself.  Hulle sal van niemand afhanklik wees nie.

Let op dat Paulus nie met hulle oor die gevaar van rykdom praat nie, want die gemeente was arm.  Daarom moes Paulus self in sy lewensonderhoud voorsien, waartoe die gemeente in Filippi ook bygedra het.  Maar hy skryf aan die Tessalonisense oor selfvoorsiening sodat hulle nie van iemand anders afhanklik sou wees nie.  Trouens in sy tweede brief sal hy hulle waarsku om nie leeg te lê en op ander te teer nie (2 Tes 3:7-12).

In vers 13-18 brei Paulus waarskynlik uit oor vrae oor die opstandinguit die dood wat hulle aan Timoteus gevra het.  Dit wil voorkom asof sommige gelowiges depressief geraak het oor die lot van hulle geliefdes na hulle dood.  Dit kan selfs wees dat van dié sterftes weens die vervolging was.  Let op hoe Paulus die feit van die opstanding van Jesus gebruik om nie net vir hulle die regte lering oor die opstanding te gee nie, maar hulle ook te troos en met hoop te laat lewe.

In kort, sê Paulus, die ontslapenes is by die Here, en aan die einde van die tyd sal hulle wat dan nog lewe ook by die Here wees.  Dit val my op dat hy nie oor die presiese prosesse uitwei waardeur dit alles sal gebeur nie, maar hulle troos met die teenwoordigheid van God self:

“En so sal ons altyd by die Here wees.” (4:17)

Op ‘n manier is dit die somtotaal van alles in die lewe, om by die Here te wees. En dit is ook my troos vir vandag, en elke dag.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 161 of Lied 599 of Flam 142 of VONKK 232

Votum: (Liedboek Psalm 33 v4)

Seëngroet

Lofsang: Lied 217

Voorbereiding: Matteus 25:1-13.

Toewyding: Lied 585 of Lied 539 of Flam 198

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Tessalonisense 4:13-18

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 57 of VONKK 277 of Lied 492 of Lied 474 verse 1 en 4

Seën

Respons: Flam 386 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 161 “Halleluja!  Heer, U is ons lewe” of
Lied 599 “As Hy weer kom, as Hy weer kom” of
Flam 142 Kom, Jesus, kom! of
VONKK 232 [bekende melodie] Rus my siel, jou God is Koning

Votum 
(Liedboek Psalm 33 v4)
Die Here gee ons sy beskerming,
Hy sal sy oog op ons bly hou;
Ons stel ons hoop op sy ontferming;
Ons sal op Hom, ons hulp, vertrou.
God se Naam is heilig, by Hom is ons veilig;
Hy sal altyd red.
In ons vreugde lag ons, op sy goedheid wag ons,
Hoopvol in gebed.

Seëngroet

Lofsang
Lied 217 “Verlosser, Redder, Heer en Hoof”

Voorbereiding
Gebruik Matteus 25:1-13.  Lees gewoon die gedeelte of rig dit as ‘n familie-oomblik in deur dit dramaties te vertel of hierdie video te gebruik.  Ja kan verduidelik hoe die lampies gelyk het waarvan Jesus praat.  Gesels oor wat dit beteken om voorbereid te wees.  ‘n Ma se hansak kan ‘n goeie voorbeeld wees.  Dink net wat Mamma alles saamdra, ingeval haar familie dit mag nodig kry.  Hier is ‘n mooi inkleurprent.

Gee geleentheid dat lidmate kan nadink oor die maniere waarop ons waak.

Toewyding 
Lied 585 “O Jesus, laat ons nooit vergeet” of
Lied 539 “Tien meisies, met hul lampe” of
Flam 198 Ek Wil Gereed Wees

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 232 “Rus my siel, jou God is Koning”
Teks:  Liedboek van die Kerk 2001 (#580), gewysig 2013 (;1); Hannes van der Merwe (:2 en 3) 2012 ©
Melodie: RUS MY SIEL – Afrikaanse Liederwysie, aangepas VONKK-Werkgroep 2013
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2013 © Kantoryverwerking 1: Chris Lamprecht (oorspronklike weergawe)
Kantoryverwerking 2: Gerrit Jordaan © 2013 Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2013 ©
© Teks, orrelbegeleiding, kantoryverwerkings en musikale verryking: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Tradisioneel/Meditatief – Gebede / Geloof en Vertroue / Sterwe enBegrafnis

Rus, my siel, jou God is Koning,
oral voer Hy heerskappy.
Alles wissel hier op aarde,
alles wissel hier op aarde;
onveranderlik is Hy.
Wees gerus, jou God is naby –
altyd hou Hy oor jou wag.
Al verander als op aarde,
als verander hier op aarde;
Hy is naby dag en nag.
Dis my hoop in hierdie lewe;
in my dood die troos vir my:
Ek behoort aan Jesus Christus!
Ek behoort aan Hom, my Here!
Niks sal my ooit van Hom skei.

F142. “Kom, Jesus, kom!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed, Hoop en voleinding) Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing
(Op 19:6-9, Op 22:16-21, 2 Kor 5:6-9)

1. Here van die Heiliges, U wat was en U wat is,
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig staan, u liefde sal ook my kom haal
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:
Kom, Jesus, kom vir u bruid
vir hierdie mens wat voor u staan.
Kom, Heil’ge Gees, en reinig ons
vir die bruilof van die Lam.
Jesus kom, Jesus kom, Jesus kom tog gou! Kom!

2. Here van die ewigheid, oorwinnaar van die laaste stryd
ek sal sing, ek sal sing.
U liefde sal vir ewig bly, die dag sal kom, die nag verdwyn
ek sal sing, ek sal sing.
Die Gees en die Bruid roep uit, ons wag, ons smag
ons verlang na U Heer, na U Heer.

Refrein:

F198. “Ek Wil Gereed Wees”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Heiligmaking) Teks en musiek: Stass en Elanie van Veuren © 2008 MAR Gospel Music Publishers
(Matt 25:1-12)

1. Ek wil gereed wees vir die Een wat kom.
Ek wil gereed wees vir die Bruidegom.
Ek wil gereed wees as Hy ons kom haal.
Ek wil gereed wees as Jesus my kom haal.

2. Ek wil gereed wees vir Sy koninkryk.
Ek wil gereed wees as Hy my wil gebruik.
Ek wil gereed wees om op te staan
vir Sy koninkryk, vir Sy heiligheid, vir Sy grote Naam.

Refrein:
Kom vorm my net soos U wil.
Kom reinig my in die vuuroond van U heiligheid.
Kom vorm my net soos U wil
want ek wil gereed wees as Jesus kom.

F57. “Ek Sien In My Gees” (Oorwinningslied) 
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd) Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afrikaanse vertaling: Piet Smit  © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer.
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy koninkryk regeer.
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer.
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!
2. Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan.
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan.
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan.
Hy is die Rots wat ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!
3. Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo.
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë.
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo.
Want sy Woord sal ewig staan.

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal.
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal.
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal.

VONKK 277 “U is die lig wat deur die donker skyn”
Teks: Hannes van der Merwe 2014 © Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo) Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd.  Met toestemming gebruik.
RUBRIEK:  Kontemporêr – Paasfees / Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.
U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.
U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 1 Tessalonisense 4:13-18

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Kinders is nie bang om oor die dood te praat nie.  Hulle dink nog nie aan hul eie dood nie, maar het dikwels al ‘n geliefde verloor.  Hierdie is ‘n goeie geleentheid om met hulle daaroor te gesels.  Jy kan hulle verseker dat bv. Oupa by die Here is.

Jy kan ook ‘n verkorte weergawe van die pragtige Ida, Always deur Caron Levis wys – kry die video hier.  Om dit te verkort, kan jy eers inleidende agtergrond gee en dan die video op ‘n plek van jou keuse begin wys.  As jy hierdie storie gebruik, kan jy na hierdie aktiwiteitsgids kyk vir aktiwiteite en inkleurprente.

‘n Ander opsie is om te reflekteer oor hoe ons hartseer/rou hanteer deur die storie van Tess’s Tree te vertel.

Preekriglyn

Kurt Vonnegut het sy boek, Cat’s Cradle, geskryf na aanleiding van die atoombom wat aan die einde van WO II op Hirosjima gegooi is. In die boek verken hy die groeiende tegnologiese vermoë van die mens, en bring dit in verband met die mens se algemene dwaasheid en kortsigtigheid.

Die hoofkarakter van Cat’s Cradle, John, beplan ‘n boek oor die dag dat die wêreld eindig. Terwyl hy besig is met sy navorsing kom John op ‘n hoofstuk in ‘n boek af met die titel: “What Can a Thoughtful Man Hope for Mankind on Earth, Given the Experience of the Past Million Years?

Dit neem John nie lank om die hoofstuk te lees nie, want dit bestaan uit net een woord: “Nothing”, gevolg deur ‘n punt.

Vonnegut se boek beskryf die gevoel wat baie mense vandag het: daar is geen hoop op die langtermyn nie. Oor die onmiddellike toekoms kan mens dalk optimisties wees. Maar op die langtermyn lyk dinge bleek. Dink aan aardverwarming, die tsunami in Suid-Oos Asië, toenemende radikale godsdienstige geweld, HIV- en ander epidemies, geweld teen kwesbare persone, en nog baie meer.

Wat het die Christelike geloof vir ‘n situasie soos hierdie te sê? Is daar hoop?

Hoop

In 1 Tessalonisense 1:3 noem Paulus die drie deugde van geloof, liefde en hoop. Op verskillende maniere raak hy hierdie tema in die 1 Tessalonisense-brief aan. In ons teks, 4:13-18, is hy spesifiek besig met die derde deug: hoop,

Paulus wil nie hê die gelowiges in Tessalonika moet onkundig wees oor diegene wat ontslaap het nie, d.w.s. diegene wat reeds gesterf het, sodat hulle nie treur soos mense wat geen hoop het nie (4:13).

Die hoop waarvan hy praat, het betrekking op Jesus Christus wat die aarde nuut maak. Dit wat God aan Christus se liggaam in die graf gedoen het (om dit op te wek tot lewe) is wat God in Christus met die res van die skepping gaan doen.

Hierdie hoop hou deug lewend. Uit die hoop word die daaglikse geloof en liefde gebore. Hoop het dus vir gelowiges alles te doen met die toekomende lewe, maar ook met hierdie lewe.

Uit ‘n grafkelder

‘n Inskripsie in ‘n grafkelder in die einste Tessalonika illustreer baie goed hoe min mense uit die heidense bevolking enige hoop vir anderkant die graf gehad het. So staan dit geskryf:

Vanweë haar besondere geaardheid en aangename persoonlikheid, het haar toegewyde eggenoot, Eutropos, hierdie grafkelder vir haar gebou. Dit is ook vir homself, sodat hy later ‘n plek sal hê waar hy saam met sy geliefde vrou kan rus. Dit is vir wanneer hy die einde van die lewe bereik op die tyd wat die noodlot onafwendbaar vir hom voorberei het.

Eutropos se enigste hoop vir na die dood is om saam met sy vrou begrawe te word in die familie se grafkelder.

‘n Hartseer brief uit dieselfde tyd, geskryf in Egipte, spel dieselfde soort hooploosheid uit. Die briefskrywer sê:

Ek is hartseer en treur oor die een wat vertrek het, net soos ek gehuil het oor Didimus. Ek het alles gedoen wat gepas is in ‘n situasie soos hierdie. Almal wat vir my dierbaar was, Epafroditus, Termution, Philion, Apollonius en Plantas is weg (het gesterf). Natuurlik kan mens niks doen teen die dood nie. Troos maar net mekaar. Dit gaan julle goed.

Weer ‘n stukkie geskiedenis van iemand wat niks meer het om oor die dood te sê as dat die dooies finaal dood is nie.

Hoop gegrond op Jesus

Christene kan natuurlik ook die verlies aan geliefdes betreur en groot hartseer ervaar. Christene hoef egter nie te treur soos mense sonder hoop nie. Die rede is dat Jesus gesterf het, maar ook uit die dood opgestaan het. “Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem” (14).

Aangesien God Jesus uit die dood opgewek het, en aangesien ons die belofte van Jesus se wederkoms het, kan ons dit waag om te hoop op die lewe na die dood.

Eenmaal dood, altyd dood?

In die Joodse geskrifte van Paulus se tyd word aangeneem dat diegene wat leef wanneer die Messias terugkeer, ‘n voordeel sal geniet bo diegene wat reeds dood is. Vir Jesus ben Sira (tweede eeu v.C.) is diegene wat leef by die Messias se terugkeer diegene wat die verlossing van God sal sien. Ook ander geskrifte praat van die lewe en guns wat God sal gee aan die vromes wat leef wanneer God in die wêreldgeskiedenis ingryp. Die skrywer van die Psalms van Salomo, uit die eerste eeu v.C. is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Die skrywe van die Joodse geskrif 4 Esra se reguit oor die koms van die Messias: “Dié wat nog leef sal meer geseënd wees as die wat reeds dood is.”

Vir Paulus lê die waarheid heeltemal anders:
Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. (15)

Vir Paulus kan die dood mens nie weerhou van die gawe van die lewe na die dood nie. Ook reeds gestorwenes sal lewend gemaak word. God sal saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe neem (14).

By die wederkoms sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan.

Daarna sal diegene wat nog lewe saam met hulle die Here tegemoetgaan. So sal ons almal altyd by die Here wees (17).

Vir die lewendes is die grafte van die dooies daarom plekke van toekomstige vreugde. Waar die dooies weggelê is, sal lewe blom by die wederkoms van Christus. Die dood kan en sal gelowiges nie gevange hou nie.

Vreugdevolle ontmoeting

Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink , gebeur ‘n paar dinge. Die Here Jesus daal uit die hemel neer. Dan staan dié wat in Christus gesterf het, op uit die dood. Dan word hulle saam met diegene wat nog lewe by die wederkoms weggevoer in die lug in, na Christus toe.

Die beeld wat hier gebruik word, is dié van die inwoners van ‘n stad, wat die koning wat hulle kom besoek of die terugkerende oorwinnende generaal, buite die stad gaan ontmoet, en dan met vreugde na hul stad toe begelei.

Net so sal die opgestane, verheerlikte Jesus by die stem van die aartsengel en met die klank van God se trompet afdaal aarde toe en die bevel tot lewe vir die dooies gee. In reaksie op Jesus se koms, sy bevele en die gepaardgaande klank sal die dooies onmiddellik uit die dood opspring en Christus tegemoet gaan. Hulle sal Christus ontmoet en saam met Hom die nuwe aarde betree.

Bybelse taal

Paulus se beskrywing van Jesus se terugkeer sluit aan by taal wat ons ook op ander plekke in die Nuwe Testament hoor. Dink aan Matt. 24:31; 1 Kor 15:51-52; Openb. 11:12,15. Dit egge ook die taal wat in die Ou Testament gebruik word. Voorbeelde is:

  • Jesaja 27:13: Daardie dag sal die groot ramshoring geblaas word ….
  • Sagaria 9:14: Die Here God sal die ramshoring blaas ….
  • Joël 2:1: Blaas die ramshoring in Sion, … want die dag van die Here kom, dit is naby.
  • Sefanja 1:14-16: Die groot dag van die Here is naby, baie naby … ‘n dag waarop die ramshoring sal blaas ….

Die sterkste ooreenkoms tussen Paulus se beskrywing van die tegemoetgaan en die neerdaal met ‘n Ou Testamentiese teks is waarskynlik in Psalm 47:6 te vind:

God gaan op na sy tempel toe onder gejubel, die Here gaan op terwyl die ramshorings blaas.

Die Ou Vertaling lees:
God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank.

Paulus het waarskynlik hierdie taal en metafoor gebruik in sy beskrywing van die wederkoms van Jesus. Veral as ons in gedagte hou dat die vroeë kerk Psalm 47:6 in verband gebring het met die hemelvaart van Jesus (Lukas 24:51 en Handelinge 1:9-11). Aangesien Jesus sou terugkeer op dieselfde wyse as waarop Hy vertrek het, verbind kerkvaders soos Justin die Martelaar, Johannes Chrisostomus en Eusebius hierdie teks met die manier waarop die wederkoms sou plaasvind.

Dit is met hierdie sekere verwagting dat gelowiges mekaar kan troos. Die dood is nie die einde nie,

Wanhoop en valse hoop

Deur die eeue is gesê die hoop kan op twee maniere verloor word; deur “wanhoop” of “valse hoop”. In sy Opstelle oor die Geloof en Openbare Lewe skryf Dirkie Smit hieroor:

Wanhoop beteken ons swig voor die swaarkry, die sukkel en die sleur van elke dag; dat ons begin leef asof selfs Gods beloftes nooit gaan of kan waar word nie, asof ons eie lyding nooit gaan ophou, ons lotgevalle nooit gaan verander, ons toekoms nooit gaan verbeter nie. Wanhoop beteken dat ons uitsigloos raak, so sonder visie en verwagting, so bevrees vir alles wat mag wag, so moedeloos en moeg, so selfbejammerend en vol klagtes, so teleurgesteld, so oorheers deur terugwens en terugverlang, dat ons begin leef asof ons nou reeds hel op aarde ken, waar selfs God nie kan of wil help nie (bl 172).

Dit kon wees dat die gelowiges van Tessalonika Jesus se koms in hulle tyd verwag het. Wanneer sommige nie meer met hulle is nie en die vervolging vir hulle te veel word (1:6), kon hulle dalk wees soos die wat geen hoop het nie (4:13).

Dit is vandag ook veral valse hoop wat veroorsaak dat gelowiges hulle hoop verloor. Smit sê:

Valse hoop beteken dat ons tevrede raak met die sienlike en met die werklikhede van elke dag; as ons leef asof ons reeds dáár is, reeds tuis is, asof ons behoeftes en verlange reeds nou en hier bevredig word. Valse hoop beteken dat ons selfgenoegsaam raak, té tevrede, dat ons begin maak asof ons reeds hemel op aarde ken – sodat ons nie meer hunker en verlang nie (bl 71).

Jesus is ons hoop

Wanhoop en valse hoop – in die antieke wêreld én vandag – kan by Paulus leer. Vir die Nuwe Testament is die inhoud van Christelike hoop nie iets nie. Dit is iemand, dis Jesus Christus self, wat was en wat is en wat kom; dis God self, die bron van ons hoop. Dis om verseker te wees van Hom, van wie en wat Hy is, gedoen het en sal doen. Dis om deur sy woorde en werke vertroos te word, vervul met verwagting en vertroue – omdat Hy self die inhoud van die beloftes en die hoop is, self die waarborg daarvan dra (prof. Dirkie Smit).

Ons hoop is dus ten diepste nie die lewe na die dood nie, maar die Here Jesus Christus self. Dit is hierdie Jesus wat ook vir ons gesterwe en opgestaan het. In Hom het ons lewe, in hierdie wêreld, en in die wêreld wat kom.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 57 [bekende melodie] Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied) of
VONKK 277 [bekende melodie] U is die lig wat deur die donker skyn  of
Lied 492 “In U is vreugde” of
Lied 474 verse 1 en 4 “Skeppergod, U is die Heer”

Seën

Respons
Flam 386 Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou Vervul (Benedictus)
(RUBRIEK: Flam – Seënbede)
Teks: Neil Büchner
Musiek: Neil Büchner
© Flam Musiek-Uitgewers
(Rom 15:13)

Mag die God van hoop
deur geloof jou vervul
met alle vreugde en vrede
sodat jou hoop
sterker kan word
deur die krag van Sy Gees.

Tweede:
Laat dit so wees: Amen.
(“jou” kan ook vervang word met “jul” as mense dit vir groep, bv uitreik-groep wil sing)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.