Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Jesus genees die blinde Bartimeus wat daarom smeek dat Jesus Hom ontferm, Job kry geleentheid om sy saak teenoor die Here te stel en die Here verander sy omstandighede dramaties (vanweë sy ontferming) en Psalm 34 besing dat die Here hoor. Hebreërs 7 vertel ook van God se ontferming deurdat Jesus Homself geoffer het vir die sonde.

Die sentrale tema is dat God vol ontferming is.

Ander tekste

Job 42:1-6, 10-17
Job: In sak en as
42 Daarna het Job vir die Here gesê:
2“Nou weet ek dat U
tot alles in staat is
en dat U kan uitvoer wat U besluit.
3Wie is dit wat u bedoelinge
wou dwarsboom
sonder dat hy die insig gehad het?
Ek het oor dinge gepraat
wat ek nie begryp het nie:
u wonderdade was te groot vir my,
ek het dit nie verstaan nie.
4U het mos gesê: Luister
terwyl Ek praat,
Ek sal vra, antwoord jy My.
5Tot nou toe het ek net gehoor
wat mense van U sê,
maar nou het ek U self gesien,
6en nou verag ek myself,
nou sit ek vol berou, in sak en as.”

Die Here: Job sal vir julle bid
7Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. 8Vat sewe bulle en sewe ramme en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ’n brandoffer vir julleself. My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie.

Job het ’n vol lewe gehad
9Elifas die Temaniet, Bildad die Suagiet en Sofar die Naämatiet het gedoen wat die Here gesê het, en die Here het Job se gebed verhoor.

10Nadat Job vir sy vriende gebid het, het die Here die omstandighede van Job verander en hom twee keer soveel gegee as wat hy gehad het. 11Al sy broers en susters en sy vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het. Elkeen het vir hom ’n stuk silwer en ’n goue ring gegee. 12Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste: hy het veertien duisend stuks kleinvee, ses duisend kamele, twee duisend beeste en ’n duisend donkies gekry, 13en ook sewe seuns en drie dogters. 14Die oudste dogter het hy Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Puk. 15Nêrens in die land was daar vroue so mooi soos Job se dogters nie. Hulle pa het hulle saam met hulle broers laat erf. 16Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien. 17Job het toe gesterf. Hy was oud en het ’n vol lewe gehad.

Psalm 34:1-8, (19-22)
Die Here is naby
34 ’n Lied van Dawid. Hy het hom
kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het
hom weggejaag en hy het padgegee.
2Ek sal die Here altyd weer prys,
sy lof sal altyd op my lippe wees.
3Ek sal die roem van die Here sing;
die wat swaar kry, sal dit hoor
en daaroor bly wees.
4Sing saam met my
oor die grootheid van die Here
en laat ons saam sy Naam prys.
5Ek het die Here aangeroep
en Hy het my geantwoord,
Hy het my gered uit alle doodsgevare.
6Dié wat swaar kry, sien op na Hom
en straal van blydskap,
hulle word nie teleurgestel
in hulle verwagting nie.
7Ek is een van die ellendiges
wat geroep het.
Die Here het gehoor,
uit al my benoudhede het Hy my gered.
8Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.
9Kom ondervind en sien self
dat die Here goed is!
Dit gaan goed met die mens
wat by Hom skuil.
10Julle wat aan die Here behoort,
dien Hom!
Wie Hom dien, het geen gebrek nie.
11Selfs leeus ly gebrek en kry honger,
maar wie die Here se hulp vra,
kom niks kort van al die goeie dinge nie.
12Kom, kinders, luister na my!
Ek wil julle leer
hoe om die Here te dien.
13As iemand die lewe liefhet
en ’n lang lewe begeer
om die goeie te geniet,
14moet hy sy tong weerhou
van kwaadpraat
en sy lippe van leuens.
15Bly weg van die kwaad af
en doen wat goed is,
soek vrede en jaag dit na!
16Die Here sorg vir die regverdiges
en luister na hulle hulpgeroep.
17Maar Hy tree op
teen dié wat kwaad doen
en vee selfs die herinnering aan hulle
van die aarde af.
18As die regverdiges om hulp roep,
hoor die Here hulle
en red Hy hulle
uit al hulle benoudhede.
19Die Here is naby die gebrokenes,
Hy help die moedeloses.
20Al word die regverdige ook
deur hoeveel rampe getref,
die Here red hom uit almal.
21Die Here sorg vir die hele liggaam
van die regverdige:
geen been word gebreek nie.
22Die kwaad wat die goddelose doen,
bewerk sy eie ondergang:
vir sy vyandskap teen die regverdige
sal hy boet.
23Die Here maak sy dienaars vry.
Wie by Hom skuil, sal nie as skuldige
behandel word nie.

Hebreërs 7:23-28
23Daar is ook ’n ander verskil: omdat die dood die Levitiese priesters verhinder het om aan te bly, was daar baie wat mekaar opgevolg het. 24Omdat Jesus vir ewig bly, beklee Hý ’n priesterskap wat nie op ’n ander oorgedra word nie. 25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het. 28Die wet stel mense as hoëpriesters aan, en mense het swakhede; maar die uitspraak wat met ’n eed bevestig is en wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan as ewige en volmaakte Hoëpriester.

Fokusteks

Markus 10:46-52
Jesus genees die blinde Bartimeus
(Matt 20:29–34; Luk 18:35–43)
46Daarna kom hulle in Jerigo aan. Toe Jesus en sy dissipels en ‘n aansienlike menigte weer daarvandaan verder gaan, sit daar ‘n blinde bedelaar, Bartimeus, seun van Timeus, langs die pad. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, het hy begin uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

48Baie mense het met hom geraas en gesê hy moet stilbly. Maar hy het al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom nader.”

Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.”

50Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. 51Jesus vra vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

“Rabboeni,” sê die blinde man vir Hom, “dat ek kan sien.”

52Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”

Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan.

Ekstra stof

Markus 10:46-11:25 – ‘n huis van gebed vir die nasies
Jesus se reis na Jerusalem neem Hom deur Jerigo waar Hy die blinde bedelaar, Bartimeus genees.  Dit tref my met hoeveel oorgawe Bartimeus na Jesus roep, hoe hy Hom as die Seun van Dawid, die Messias, eien, en nie afgesit word deur die mense wat hom wil stilmaak nie.  “Hou moed!” is die skare, wat nou saam met Jesus reis, heel moontlik op pad na die Paasfees, se raad toe Jesus van hom begin notisie neem, en Jesus sluit dan ook aan by die man se vertroue (Jes 35:5; 42:7) in Hom: “Jou geloof het jou gered.”

Let op hoe Jesus hierdie versoek van die blinde man toestaan, terwyl Hy nie Johannes en Jakobus se versoek toestaan om op die trone langs Jesus in die oordeelsdag te sit nie.  Die man se versoek is gebaseer op die Messiaanse belofte van Jesaja, terwyl die twee dissipels se versoek gebaseer is op hulle eie behoefte aan status en voorrang in die koninkryk.  Die motivering en grond vir hulle versoek verskil dus radikaal en bepaal die uitkoms daarvan.  Jesus gee die een en weier die ander.

Dit tref my ook hoe Bartimeus onmiddellik ‘n volgeling van Jesus word.  Daarby het hierdie laaste wonder van Jesus, wat Markus vertel, simboliese betekenis: Jesus het gekom om die volk van hulle blindheid te verlos – Hy illustreer dit met die genesing van Bartimeus – maar soos ons sal sien, weier hulle om tot insig te kom.

Met die Intog in Jerusalem val dit my op hoe Jesus ‘n donkie opkommandeer, met die belofte om dit terug te stuur.  Met die begeleidende lofprysing van die skare, onder andere uit Psalm 118, kom Jesus Jerusalem binne en gaan eerste van alles na die tempel toe waar Hy alles daar bekyk.  Dit laat ‘n mens in afwagting vir die tempelreiniging wat gaan kom.

Die verhaal van die tempelreiniging is ingebed in die vreemde storie van die vyeboom (interessant, Betfage beteken letterlik “huis van vye”) wat Jesus vervloek omdat dit nie vrugte dra nie, al is dit nie vyetyd nie.  Die vervloeking vind plaas net voor die tempelreiniging en die uitwerking daarvan word daarna sigbaar.

Ter agtergrond – vyebome dra twee keer ‘n jaar vrugte, in die herfs en in die lente, en moes in hierdie tyd (vroeë lente) eintlik klein voorvye saam met die blare gedra het.  Die afwesigheid van voorvye tussen die blare was ‘n teken dat die boom nie dié seisoen vye sou dra nie.  Lees Miga 7:1 wat op soortgelyke wyse van hierdie verwagting van voorvye praat.

Jesus verklaar sy reiniging van die tempel met ‘n beroep daarop dat God se huis nie ‘n rowersnes (Jer 7:11) mag wees nie, maar ‘n huis van gebed vir die nasies (Jes 56:7 – vgl ook Salomo se gebed by die inwyding van die tempel in 1 Kon 8:22 vv: ook die vreemdelinge uit die nasies kon tot die God van hierdie tempel bid en op Sy voorsiening staatmaak!).

Gekoppel aan die verhaal van die vyeboom kan ‘n mens die afleiding maak dat soos die vyeboom die belofte van vrugte gehad het, maar niks gedra het nie, die tempel die belofte van ‘n gebedshuis gehad het, maar niks daarvan geproduseer het nie.  Die tempel dra nie die geestelike vrug wat ‘n mens met reg kan verwag nie.  Uiteraard was hierdie verdoemende uitspraak en optrede van Jesus ‘n soort van laaste strooi vir die priesterhoofde en skrifgeleerdes om te begin beplan aan Jesus se dood.

Die storie van die vyeboom se verdroging gee aanleiding tot ‘n verdere lering van Jesus oor geloof, waarin Hy uitspel dat vir die ware geloof alles moontlik is.  Dit sal vrug dra, anders as die vyeboom (of die tempeldiens in Jerusalem).  Dit het effek op die natuur (bome en berge) sowel as op die verhouding tussen mense (vergifnis).  Daarom roep Jesus hulle op tot onwrikbare geloof en vertroue in God uitgedruk in gebed: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”  Vergelyk Jesaja 65:24 wat God se gewilligheid om te antwoord só uitspel: “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.”

Wat ek hieruit leer – binne die raamwerk van die versoek van Johannes en Jakobus wat geweier is, en die versoek van Bartimeus wat beantwoord is – is dat gebedsverhoring wel geen perke het nie, maar afhanklik is van God se beloftes en bedoeling.  In gebed kan ek deel hê aan God se berg-bewegende handelinge.

Jesus bly hierdie laaste week van sy lewe in Betanië (volgens sommige “huis van ellende”, volgens ander “huis van dadels”) vanwaar Hy elke dag die tempel besoek totdat die laaste uur vir Hom aanbreek.

Matteus, Lukas en Johannes
Matteus vertel, soos in die geval met die besetene(s) van Gadara, van twee blindes op die pad uit Jerigo, anders as Markus.  Lukas neem Markus se verhaal net so oor, maar vertel dit in sy eie woorde, met veral ‘n lofprysing aan God wat die genesende uitkoms begelei.

Al vier evangelies vertel van die Intog in Jerusalem.  Matteus voeg detail by, dat die donkie eintlik ‘n merrie en vul was, waarmee Sag 9:9 in vervulling gegaan het, en laat ander detail weg, soos die feit dat Jesus ‘n draai by die tempel maak, hoewel hy wel sê dat die hele stad in beroering gekom het oor hierdie profeet van Nasaret in Galilea.  Lukas noem die skare wat Jesus in die stad in begelei interessant genoeg: “juigende volgelinge” en kontrasteer dit met die Fariseërs tussen hulle wat die volgelinge wil stilhê.  Jesus se antwoord aan hulle is betekenisvol: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

Johannes se verhaal van die Intog in Jerusalem stem ook tot ‘n groot mate met die ander evangelies se gegewens ooreen, met ekstra detail, soos dat dit palmtakke was wat op die grond gegooi is, en fokus ook op die onbegrip van die dissipels wat eers na die verheerliking, Jesus se dood en opstanding, in volle begrip oorgegaan het.  Johannes vertel ook van die impak wat die opwekking van Lasarus gehad het op die tipe gesprekke wat mense oor Jesus gehad het.  Dit het egter ook ‘n negatiewe gevolg gehad, deurdat die Fariseërs begin agterkom het, dat hulle invloed taan: “Die hele wêreld gaan agter hom aan!”

Lukas vertel nie die verhaal van die vyeboom nie, terwyl Matteus dit as een verhaal vertel: Jesus het die boom vervloek en dit het onmiddellik verdroog, waarna Jesus sy lering oor die geloof gee.

Al vier evangelies het ook die verhaal van die reiniging van die tempel.  Lukas vertel dit met min detail, maar Matteus voeg detail by, bv. soos dat blindes en kreupeles deur Jesus in die tempel gesond gemaak is, en dat daar kinders in die tempel was wat Hom as die Seun van Dawid (vgl die blinde Bartimeus) geprys het.  Tegelykertyd is daar egter ook die teenstand van die priesterhoofde en skrifgeleerdes wat weereens wil hê dat Hy die mense moet stilmaak in hulle lofprysing oor Hom.

Johannes plaas die verhaal egter in ‘n heeltemal ander konteks aan die begin van Jesus se bediening met ‘n Paasfees in Jerusalem, net na die water-in-wyn-wonder in Kana.  Dit is ook Johannes se evangelie wat ons die detail van die sweep van toutjies te danke het en die  verdere lering dat Jesus die tempel gereinig het om te sorg dat Sy Vader se huis nie ‘n besigheidsplek word nie.  Die dissipels skryf sy optrede aan die liefde vir Sy Vader se huis toe (Ps 69).  Die Jode (baie keer die benaming vir Fariseërs in sy evangelie) vra dan ‘n wonderteken, waarop hy in verskuilde taal na sy dood verwys.  Hulle interpreteer sy uitspraak letterlik as dat Hy die tempel wil afbreek.  Na sy dood en opstanding het dié woorde sy dissipels in hulle geloof versterk.

Liturgie

Aanvangsied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 34

Seëngroet: 2 Korintiërs 1

Lied 212 “Loof die Heer Hy is goed 1,2,3”

Wet

Skuldbelydenis: Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,3”

Vryspraak: Hebreërs 7

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38-41)

Loflied 239 “Jesus rots vir my geslaan vs 4”

Epiklese: (Ahv Psalm 138)

Skriflesing: Markus 10:46-52

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Seën

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 34
4Sing saam met my
oor die grootheid van die Here
en laat ons saam sy Naam prys.
8Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.
9Kom ondervind en sien self
dat die Here goed is!
Dit gaan goed met die mens
wat by Hom skuil.

Seëngroet: 2 Korintiërs 1
Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 212 “Loof die Heer Hy is goed 1,2,3”

Wet
Tien Gebooie in ‘n eietydse baadjie

    • Ek is die Here jou God wat jou uit die greep van Satan en sonde dood bevry het. Jy moet My alleen aanbid en dien. Onthou dat niks of niemand anders jou kan red nie: nie jou geld of jou werk of jou sport of jou vriende nie. Ek het jou deur die bloed van Jesus Christus Myne gemaak, en Ek wil jou vir My alleen hê.
    • Moenie self besluit hoe jy wil hê Ek God moet wees nie, want Ek is groter as wat jy jou ooit kan voorstel. Jy moet my vereer en liefhê soos Ek jou in die Bybel leer.
    • Moenie ligtelik my Naam op jou lippe neem om krag aan jou woorde te gee of as jy skrik nie. My Naam is heilig, en jy moet dit net gebruik as jy My aanroep in gebed, of as jy oor My getuig. Onthou ook dat jy as Christen die Naam van my Seun Jesus Christus dra. Leef só dat sy Naam in jou lewe geëer word.
    • Sondag is die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood. Op dié dag wil Ek hê jy moet die opstanding vier. Rus van alles wat jou so besig hou in die week, sodat jy tyd het vir My en vir jouself en jou mense.
    • Eer jou ouers, en sien na hulle om as hulle oud geword het.
    • Mense is vir My kosbaar, en hulle moet vir jou ook kosbaar wees. Moenie iets doen wat ander se lewens in gevaar stel nie, en moenie hulle te na kom deur jou woorde of jou dade of gedagtes nie.
    • Die huwelik is heilig, en jy moet alles in jou vermoë doen om jou eie huwelik en ander s’n in stand te hou.
    • Elke mens het die reg om dinge te besit, en jy moet dié reg respekteer.
    • Praat altyd die waarheid. Moenie leuens oor ander versprei nie; nie openlik nie, en ook nie agteraf nie.
    • Moenie só op jouself ingestel wees dat jy nie ruimte in jou hart het vir ander nie. Gun ander mense hulle vreugdes en suksesse en wees saam met hulle daaroor bly, want dit is Ek wat dit vir hulle gegee het.

Skuldbelydenis: Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,3”

Vryspraak: Hebreërs 7
25Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.

26Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, 27een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

Geloofsbelydenis: (ahv Job 38-41)
Ek glo in die God van Job…
die God wat die aarde se fondamente gelê het;
wat die aarde afgemeet het…

Ek glo in God wat die see opgedam het toe hy begin uitborrel het;
in God wat die die môre beveel om te kom;
wat lig oor die hele aarde bring…
Ek glo in God wat die sneeu bêre;
wat die die hael opgaar;
wat vir die stortreën ’n pad oopkap en vir die donderwolke hulle koers bepaal…

Ek glo in God wat die Sewester met ’n band vasknoop
en die band van Orion kan losmaak;
wat die sterre op hulle tyd laat opkom…

Ek glo in God wat weerligstrale uitstuur;
wat verstand gee aan die ibis om teen die vloed te waarsku;
in God wie insig gee aan die haan om die dag aan te kondig…

Ek glo in God wat die tyd bepaal wanneer die klipspringers lam;
wat hulle die draagtyd bepaal;
wat aan die wildedonkie sy vryheid gee
en hom ongebonde vry laat loop loop…

Ek glo in God wat Sy Seun Jesus vir ons gestuur het;
ek glo in die vergifnis van sonde en
ek glo in die Heilige Gees.

Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan vs 4”

Liedere

F234. “Ek Kan Sien”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Verwondering)
Teks en Musiek: Willie Pretorius
© MAR Gospel Music Publishers

Ek kan sien.
Ek kan hoor.
Ek kan my hande klap
En Jesus loof.
Ek kan sing.
En ek kan spring
En al my dankbaarheid
Aan Jesus bring.

Ek kan draai.
Ek kan swaai.
Ek kan my arms lig
En hande waai.
Ek kan buig.
Ek kan juig
En aan die Koning
Dank en lof betuig.

Dankie, Jesus. U is goed. (x2)

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Carli Lessing
©  2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat voel

Pre-Chorus 1:
Refrein:

3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:God praat met ons en ons luister

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Ahv Psalm 138)
Here, ek wil U met my hele hart loof-
dit is tot u eer dat ek sing.
Ek wil na u heilige tempel toe buig
en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord
bo alles gestel.
Ek wil sing
oor wat die Here gedoen het,
want die mag van die Here
is groot.
Aan u liefde, Here,
is daar geen einde nie.
Moet tog nie die werk van u hande
laat vaar nie.
Amen

Skriflesing: Markus 10:46-52

Familie-oomblik

Vra vir die kinders: Hoe voel jy as jou ma/pa jou roep?  As jy hulle stem hoor? My kinders is gewoonlik nie baie opgewonde nie, want hulle dink gewoonlik dat hulle óf in die moeilikheid is óf dat ek van hulle ‘n gunsie gaan vra. Maar daar is tog tye wanneer hulle bly is as hulle my stem hoor – alles hang net van die omstandighede af. Ek gaan verskillende omstandighede beskryf en julle moet dan sê: gaan of nie gaan nie.

  • As ek lekker sit en televisie kyk.
  • As ek in ‘n boom sit en ek kan nie uitkom nie.
  • As my ma/pa lank van die huis af weg was.
  • As ek ‘n swak rapport huis toe gebring het.
  • As ek vir ete geroep word.

Sien, alles hang af van die omstandighede. Byvoorbeeld, die laaste een is ‘n lekker stem om te hoor wanneer jy baie honger is.  Maar wanneer jy nou net met iets lekker besig is en nie honger is nie, is dit ‘n slegte stem.

Om Jesus se stem te hoor, is egter altyd lekker. Dit maak nie saak wat die omstandighede is nie, want ?Hy roep om mense gesond te maak en te help. Dis presies wat die dissipels van Jesus geweet het. Hulle sê vir die blinde:  Hou moed!  Staan op!  Hy roep jou.

Miskien werk die volgorde ook andersom:
Hy roep jou. Staan op! Hou moed!

Alternatief:
Die les van die reënboog.
Om ’n reënboog te sien, is altyd spesiaal en jy kan ook nooit by ’n reënboog uitkom nie. (Wetenskaplikes sê ook dat geen mens presies dieselfde reënboog kan sien nie, want jy sien dit vanuit jou hoek wat ’n ander reënboog beteken as die een net langs jou).

Maar om ’n reënboog te sien, moet 3 goed in plek wees:
1. Jy moet water in die lug hê
2. Die son moet skyn
3. Jy moet in die regte posisie wees – die son moet agter jou rug wees en die water moet voor jou wees.

Om dit te toets, kan jy baie maklik die eksperiment by die huis doen.  As die son skyn, draai ’n sproeier wat ’n fyn misreën spuit, oop en gaan staan tussen die sproeier en die son met jou rug na die son en jy sal ’n reënboog sien! []

Die blinde man het ook die sig gehad, want al 3 goed was in plek
-hy het geglo Jesus kan genees
-hy het geweet Jesus is naby
-hy het homself reg posisioneer – hy het begin uitskreeu

Die resultaat:  Hy kon ’n reënboog sien!
[die foto van die reënboog is in die publieke domein, vanaf PublicDomainPictures.net]

Preekriglyn

[skets van John Newton vanaf Wikimedia.commons]
Amazing grace! How sweet the sound
That saved a wretch like me.
I once was lost, but now am found,
Was blind but now I see.

Hierdie woorde uit die pen van John Newton (1725-1807) word vandag nog reg rondom die wêreld gesing. Dit is gebore uit sy persoonlike ervaring.

John Newton se lewe bestaan uit ‘n ongelooflike sameloop van omstandighede wat hom op ver paaie geneem het. Hy het sonder enige spesifieke godsdienstige oortuiging grootgeword. Sy pa was ‘n skeepskaptein, met sy moeder wat voor sy sewende verjaardag oorlede is. Hy het sy pa op ses skeepsreise vergesel, totdat sy pa oorlede is toe John sewentien was.

John is daarna verplig (deur diensplig) om by die koninklike vloot aan te sluit. Toe hy nie met die bemanning oor die weg kom nie, word hy in Wes-Afrika by ‘n slawehandelaar agtergelaat. Hy word baie sleg as slaaf behandel, maar ‘n paar jaar later deur ‘n ander Britse skip gered.

Nou raak Newton by die Atlantiese slawehandel betrokke. Tydens ‘n geweldige storm aan die Ierse kus roep hy tot God om genade, die begin van sy bekering en geestelike pad met God. Hy bly egter ‘n slawehandelaar tot ‘n paar jaar later. Hy moes eers in die geloof groei voordat hy ‘n volledige oorgawe aan God gemaak het. ‘n Paar jaar na sy eerste bekering, begin hy in teologie verder studeer. Daarna word hy deur die Anglikaanse kerk as priester toegelaat.

Newton het Amazing Grace as toeligting by ‘n preek op Nuwejaarsdag van 1773 geskryf. Dit is in 1779 gepubliseer in William Cowper se Olnay Hymns. Die lied het bekendheid in die VSA verwerf toe dit ‘n belangrike lied in die tweede groot herlewing geword het. Dit het weer in die 1960’s baie gewild in die VSA en elders geword, die duisende opnames daarvan bestaan vandag.

Die lied het ‘n eenvoudige boodskap. Vergifnis en verlossing is moontlik, ten spyte van ‘n sondige lewe. Dit is God se verrassende genade wat mense red, hoe verlore ook al. Hoe blind ook al en vasgevang in wat verkeerd is, kan God mense aanraak en laat sien.

Uit sy eie getuienis was John Newton blind, maar God het hom aangeraak en hom laat sien.

Om te sien

In die evangelies blyk dikwels dat nie almal wat kan sien, werklik kan sien nie. Die vraag is of mense Jesus kan sien vir Wie Hy is? Of is ons blind?

Ons teks is die tweede geleentheid in Markus waar ‘n fisies blinde gehelp word om te sien. Bartimeus se genesing is die klimaks van ‘n onderafdeling in die Markusevangelie waar Jesus intensiewe toerusting oor dissipelskap bied. Hierdie onderafdeling strek van 8:22 tot 10:52.

Die eerste genesing van ‘n blinde gebeur in Betsaida (8:22-26), waarna Jesus doelgerig en indringend oor dissipelskap, oor navolging van Jesus, begin praat.

Enkele hoogtepunte uit hierdie onderafdeling:

  • Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan (8:31-33);
  • Hy leer die dissipels hoe om Hom te volg (8:34 – 9:1)
  • Hy laat enkele dissipels sy heerlikheid op die berg sien, waarop sy lydenspad gaan uitloop, maar vermaan hulle om stil te bly daaroor tot Hy uit die dood opgestaan het (9:2-13), waarna Hy ‘n seun gesond maak (9:14-29)
  • Jesus kondig ‘n tweede keer sy dood en opstanding aan (9:30-32)
  • Die dissipels stry oor wie van hulle die belangrikste is (9:33-37)
  • Jesus beklamtoon die belangrikheid van diens en sorg vir die medemens en die kleintjies wat in Hom glo (9:38-50), wat Hy opvolg met ‘n gesprek oor egskeiding (10:1-12) voordat Hy die kindertjies seën en sê dat ons die koninkryk van God soos ‘n kindjie moet ontvang (10:13-16)
  • Nou vind die gesprek met die ryk jongman plaas, wat sy besittings voor sy navolging van Jesus plaas (10:17-31)
  • Jesus kondig ‘n derde keer sy dood en opstanding aan (10:32-34)
  • Jakobus en Johannes kom vra dat hulle aan Jesus se linker- en regterhand wil sit in sy koninkryk, waaroor die ander dissipels baie verontwaardig is (10:35-45)
  • Jesus genees die blinde Bartimeus (10:46-52), en vertrek daarna na Jerusalem waar sy drie aankondigings oor sy lyding en sterwe in vervulling gaan.

Jesus, wat blindes genees en mense laat sien, word omring deur blinde dissipels. Terwyl Jesus op sy lydenspad is, is daar talle dissipels wat nie sy lydingsweg kan sien nie. Saam met die ryk jongman sien hulle net heerlikheid en grootheid. Hulle is betower deur magsposisies en rykdom, terwyl Jesus drie keer sy lyding en sterwe aankondig.

Dit is nie net die blinde wat Betsaida en Bartimeus van Jerigo wat blind is nie.

Jerigo

In ons teks is Jesus by Jerigo, sowat 30 km van Jerusalem af. Jesus is op dieselfde plek waar die mure eeue vantevore ingetuimel het danksy God se wonderbare krag en Israel se geloof in God. Hier kruis Jesus se pad met die blinde Bartimeus. Geloof en die wonderbaarlike werk van God kom weer by Jerigo bymekaar.

Woorde soos “blind”, “bedelaar” en “pad” is vir Markus belangrik, en dui gewoonlik op iets groots. Elkeen van hierdie woorde het vir Markus ‘n letterlike en figuurlike betekenis.

In hierdie gebeure stap Jesus inderdaad op die pad uit Jerigo na Jerusalem, maar “pad” (“hodos” in Grieks) is vir Markus ‘n spesifieke term wat dui op Jesus se pad van getrouheid. Hy is die lydende, gehoorsame Kneg wat op pad is na Jerusalem om sy lewe as losprys vir baie te gee.

Die dissipels volg Jesus op sy pad, maar hulle verstaan niks van sy “pad” nie – sy verstaan van messiasskap, sy koninkryk, sy “afspraak” in Jerusalem nie. Die dissipels is die eintlike blindes. Hulle behoort te smeek om te “sien” wat en soos Jesus sien. Hulle oë is egter verblind deur hulle eie vergesigte van mag en glorie. Hulle onbegrip is skille voor hulle oë.

Vir Markus is die blinde Bartimeus ‘n voorbeeld van ‘n ware dissipel. Hy smeek om te kan sien. As die dissipels maar oë gehad het wat kon sien, sou hulle sien dat die blinde in hierdie verhaal die blindes lei. Dit is die fisiese, letterlike blinde wat die geestelike en figuurlike blindes lei.

Bartimeus

Terwyl Jesus Jerigo verlaat, verneem Bartimeus dit is “Jesus van Nasaret” wat die groot menigte gaande het. Bartimeus hoor dus van Jesus se menslike identiteit, hy is die mens Jesus van die agterlike gehuggie, Nasaret. Jesus se herkoms het baie mense blind gemaak vir sy ware identiteit. Nie vir Bartimeus nie.

Onmiddellik begin hy ‘n ander identiteit uitroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

Dadelik begin baie mense van die dorp met hom raas en beveel hom om stil te bly. Hulle klink soos Jesus wat altyd die demone beveel het om stil te bly as hulle Hom die Messias genoem het. Die dorpenaars se motief is egter anders. Hulle is waarskynlik verleë oor Bartimeus. Die blinde bedelaar, Bartimeus, moenie die kollig steel nie. Hy is nie deel van die hooggeplaaste verwelkomingskomitee wat die gevierde wondergeneser, Jesus, se besoek reël nie. Hulle probeer hom daarom stilkry en eenkant toe vat.

Bartimeus laat hom nie onderkry nie. Mens besef hoe desperaat hy moes wees. Hierdie is sy kans. Hoe sal hy ooit weer in Jesus se teenwoordigheid kom? Wat as al die berigte oor Jesus waar is, en Hy werklik in staat is om Bartimeus se blindheid te genees?

Daarom roep Bartimeus al hoe harder: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!”

Jesus

Jesus het dikwels – tussen ‘n groot skare – gaan stilstaan en aandag gee aan diegene wat sy aandag trek. Selfs wanneer Hy met ‘n belangrike ander taak besig was, soos hier waar Hy dringend onderweg Jerusalem toe is. Hier in Jerigo, laat Hy weer ‘n onbenullige mens sy program onderbreek.

Jesus roep Bartimeus nader. Dié los sy bokleed net daar, spring op en gaan na Jesus toe. Jesus vra hom toe: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Dis dieselfde vraag as wat Jesus kort tevore vir Johannes en Jakobus gevra het toe hulle die ereposisies in die koninkryk vir hulself wou opeis (10:36).

“Rabboeni”, Leermeester, sê Bartimeus, “dat ek kan sien!”

Voorbeeldige dissipel

Bartimeus is vir Markus die ideale dissipel. Hierdie Bartimeus, die buitestander, die blinde bedelaar, die onbenullige, demonstreer vir Jakobus en Johannes hoe hulle moes optree en waarvoor hulle moes vra.

Let op wat Bartimeus alles doen:

  • Wanneer hy hoor Jesus is naby, roep hy sy belydenis oor Jesus hardop uit, ten spyte van die risiko van publieke teenstand en verwerping. Die publieke afkeur is van minder belang as sy belydenis en sy begeerte om by Jesus te wees
  • Wanneer Jesus na hom roep, reageer hy onmiddellik, selfs ten koste van sy bokleed. Sy reaksie herinner ons aan die dissipels se reaksie in hoofstuk 1 toe Jesus hulle geroep het. Hulle het ook dadelik alles agtergelaat en Jesus onmiddellik gevolg. Om sy bokleed agter te laat, het risiko vir Bartimeus ingehou. Die bokleed was sy beskerming teen koue, waarskynlik die enigste bokleed wat hy as arme bedelaar gehad het. Aangesien hy blind was, en die dorp vir hom vies was, was daar ‘n goeie kans dat hy dit nooit weer sy kry nie. Dit is simbolies van sy allesoorheersende begeerte om alles agter te laat om by Jesus te wees.

Hier is ironie aan die werk. In hoofstuk 1 los die dissipels alles om by Jesus te wees, nes Bartimeus. Wanneer die dissipelkring in Getsemane kom en Jesus gearresteer word, gee hulle weer alles prys, tot hulle klere, maar hierdie keer om van Jesus weg te vlug (14:51-52).

  • Wanneer Jesus hom vra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”, antwoord Bartimeus korrek, in kontras met Jakobus en Johannes. Sy eenvoudige versoek is dat hy maar net kan sien. Dit is die een ding wat Jesus die graagste wil hê sy dissipels moet kan doen: hulle moet Jesus kan sien vir Wie Hy is; hulle moet die plot van sy bediening snap; hulle moet die lydensweg van die Messias snap; hulle moet afsien van hul sug na mag en heerlikheid, en Jesus op sy pad van diens volg. Sy dissipels moet sien wie hulle is, in die lig van Jesus se rol as Messias en Dienaar. Hulle moet afsien daarvan om die koninkryk om hulle manier en met hulle kortpaaie te laat kom.
  • Jesus sê vir Bartimeus hy kan maar “gaan”: hy kan nou “weggaan”, hy kan op sy “pad gaan”, sy geloof het hom gered. Nou demonstreer Bartimeus dat hy werklik verstaan en dat hy werklik sien. Hy gaan op sy pad: hy het “op die pad agter Jesus aan gegaan” (52). Hy is saam met Jesus op die pad, die pad Jerusalem toe, wat vir Markus ‘n kodewoord vir “die kruis” is.
Pad van ‘n dissipel

Vir Markus is al die kwaliteite van dissipelskap teenwoordig in Bartimeus. Hy vertoon die nederigheid, afhanklikheid, bereidheid om risiko te loop, en moed wat op enige tydstip nodig is om ‘n egte dissipel van Jesus te wees.

Met nederigheid kom hy as ‘n onbelangrike bedelaar met die eenvoudigste maar heel belangrikste versoek wat ‘n dissipel kan hê: “Laat my sien.” Hierdie versoek is gebaseer op die insig dat ‘n dissipel se vermoë om reg te sien afhanklik is van die sig wat Jesus gee.

Die grootste gevaar vir die geloof en gehoorsaamheid van dissipels is geestelike bysiendheid, of versiendheid, dubbelvisie, tonnelvisie, of net terugkyk oor die skouer en nie vorentoe saam met Jesus nie. Nederigheid en afhanklikheid is die eienskap van ‘n dissipel wat werklik wil sien. Hierdie nederigheid weet hoe afhanklik ons van Jesus en van Jesus se liggaam, die geloofsgemeenskap is, om te kan bly sien.

Wie regtig blind is, moet leer om afhanklik van Jesus te raak. Om die ou maniere van sien agter te laat, en soos Jesus te leer sien. Jesus kan hierdie soort sig gee.

Hervormingsfees

Ons vier vandag hervormingsfees. Ons gedenk die kerkhervorming toe Martin Luther en ander begin sien het hoe geestelik blind die kerk van hulle tyd geraak het. Hulle kon opnuut weer die genade van God helder raaksien. Dat ons gered word alleen maar uit genade, en nie op grond van ons samewerking en goeie werke nie.

Ons het in ons eie tyd daagliks nodig dat ons oë geopen word om God en Jesus raak te sien, soos aan ons in die Woord en deur die Gees geopenbaar.

Sien ons gemeente wat Jesus van ons vra?

Sien jy?

Die oproep kom ook na elkeen van ons afsonderlik: Sien jy?

In die Markusevangelie is daar vier groepe mense wat met Jesus in gesprek tree:

  • Die Fariseërs en die Skrifgeleerdes – hulle is voortdurend krities oor Jesus;
  • Die skare – hulle is meestal in verwondering oor Jesus, wat Hy doen en sê;
  • Die dissipels – hulle volg Jesus dadelik, maar hulle is die groep wat die heeltyd nie verstaan nie, nie kan insien nie en aan die einde (16:8) bang en stil wegkruip.
  • Die buitestanders wat meestal individueel met Jesus in aanraking kom. Dit is telkens hulle wat verstaan en glo en wil vertel.

Die Skrifgeleerdes en dissipels het gedink hulle kan sien. Hulle was egter blind.

Markus vra op ‘n subtiele manier vir sy eerste lesers en vir ons, soos in dié teks: “Hoe gaan jy reageer?”

Dissipelskap vra ‘n nuwe blik op die hele lewe. Dit gaan ook oor besittings waarvan ons ontslae moet raak om Jesus werklik te kan volg.

André Resner skryf na aanleiding van hierdie teks:

Faith sits, leaning forward, ready to leap at the opportunity to answer God’s call whenever it might come, and it shows itself willing to shed whatever holds it back from the journey. Bartimaeus shows us what having “ears to hear” and “eyes to see” really looks like. And courageously, Jesus’ disciples know when to stand up for what they believe, even when it may cost them public shame. There are times when our confession puts us in a situation of shame, but faith sees that it’s worth the risk.

“Open my oë”

Ons het begin met die verhaal van John Newton wat “blind” was en toe tog geleer sien het. Kom ons sluit af met verwysing na nog ‘n lied.

Die nederigheid, afhanklikheid, bereidheid tot risiko en durf wat Bartimeus uitstraal, word goed uitgedruk in Clara Scott se lied, “Open my eyes that I may see:

Open my eyes, that I may see
Glimpses of truth Thou hast for me;
Place in my hands the wonderful key
That shall unclasp and set me free.
Open my ears, that I may hear
Voices of truth Thou sendest clear;
And while the wave notes fall on my ear,
Everything false will disappear.
Open my mouth, and let me bear
Gladly the warm truth everywhere;
Open my heart and let me prepare
Love with Thy children thus to share.

Refrain:
Silently now I wait for Thee,
Ready, my God, Thy will to see;
Open my ears, illumine me,
Spirit divine!

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Seën
Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid. Amen.
Outeur: Vroeë kerk
(uit: Van der Merwe, J (red) Gebedeboek met liturgiese voorstelle) Lux Verbi.BM 2001 bl 99

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.