Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tema wat deur al hierdie week se tekste loop, is die vraag na watter soort lewe geleef moet word in afwagting op die wederkoms (1 Tess 4:13-18). Die wederkoms sal wees soos die bruidegom wat onverwags in die nag opdaag. Van gelowiges word waaksaamheid gevra (Matt 25:1-13). Wanneer die twee tekste uit die Ou Testament saam met hierdie tema gelees word, word verskeie praktiese voorstelle vir die lewe “in die tussentyd” onthul. Psalm 78 gee die opdrag dat die volgende geslag vertel moet word van die roemryke dade van die Here sodat hulle op die Here kan vertrou en gehoorsaam sal wees aan wat Hy beveel het. Josua sluit hierby aan deur by die verbondsvernuwing die volk te herinner aan God wat hulle voorouers uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het (Jos 24). Vanuit ‘n Nuwe Testamentiese perspektief troos Paulus sy gemeente in die eindtyd deur hulle te herinner aan Jesus wat gesterwe het, maar ook opgestaan het en dat God die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

Ander tekste

Psalm 78:1-7
Sodat die volgende geslag dit kan weet
78 ’n Gedig van Asaf.
Luister na wat ek jou leer, my volk,
luister aandagtig na wat ek sê.
2Ek gaan ’n gedig voordra,
ek gaan julle inlei in geheimenisse
uit die verre verlede.
3Wat ons gehoor het en wat ons weet,
wat ons vaders ons vertel het,
4sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.
Ons sal aan die volgende geslag vertel
van die roemryke dade van die Here
en van sy mag,
van die wonderdade wat
Hy gedoen het.
5Hy het aan Jakob
sy voorskrifte gegee,
aan Israel sy onderwysing.
Hy het ons voorvaders beveel
om dit aan hulle kinders
bekend te maak,
6sodat die volgende geslag dit kan weet
en die kinders wat nog gebore sal word,
dit weer aan húlle kinders kan vertel.
7So sal hulle dan op God vertrou
en nie vergeet wat Hy gedoen het nie,
maar gehoorsaam wees
aan wat Hy beveel het
8en nie wees soos die voorvaders nie.
Dié was ’n opstandige
en ongehoorsame volk,
’n onbestendige geslag
wat nie aan God getrou was nie.

1 Tessalonisense 4:13-18
Die opstanding uit die doop
13Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. 14Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

15Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. 16Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

18Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Matteus 25:1-13
Die profetiese rede: die gelykenis van die tien meisies
25 “Dan sal dit met die koninkryk van die hemel gaan soos met tien meisies wat hulle lampe gevat het om die bruidegom te gaan inwag. 2Vyf van hulle was onverstandig en vyf verstandig. 3Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie ekstra olie met hulle saamgevat nie, 4terwyl die verstandiges saam met hulle lampe ook nog olie in houers gevat het. 5Toe die bruidegom lank wegbly, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.

6“In die middel van die nag was daar ’n geroep: ‘Hier kom die bruidegom! Gaan hom tegemoet!’7Toe staan al die meisies op en maak hulle lampe reg. 8Die onverstandiges sê toe vir die verstandiges: ‘Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan dood.’9Maar die verstandiges antwoord: ‘Nee, daar is nie genoeg vir ons en vir julle nie. Gaan liewer winkel toe en koop vir julle olie.’

10“Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit.

11“Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’12Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

13“Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.”

Fokusteks

Josua 24:1-3a, 14-25
Die samekoms by Sigem
24 Josua het al die stamme van Israel bymekaargebring in Sigem. Hy het die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers geroep, en hulle het hulle plekke kom inneem in die teenwoordigheid van God.

2Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders—onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor—anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien. 3Ek het julle voorvader Abraham anderkant die Eufraat geneem en hom die hele Kanaän laat deurgaan.

Ek het hom baie nakomelinge gegee. Aan hom het Ek vir Isak gegee, 4aan Isak vir Jakob en Esau. Aan Esau het Ek die Seïrberge gegee om in besit te neem, maar Jakob en sy nageslag is af na Egipte toe.

5“Ek het vir Moses en Aäron gestuur en Ek het Egipte met rampe getref soos Ek dit goedgevind het. Daarna het Ek julle uitgebring: 6Ek het julle voorvaders uit Egipte gebring, en toe hulle by die Rietsee kom, het die Egiptenaars hulle agtervolg met strydwaens en ruiters. 7Julle voorvaders het na My geroep om hulp, en Ek het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenaars en die see oor die Egiptenaars laat kom sodat dit hulle bedek het. Julle eie oë het gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het. Daarna het julle lank in die woestyn gebly.

8“Toe het Ek julle gebring na die land van die Amoriete wat oos van die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee sodat julle hulle land in besit kon neem. Ek het hulle uitgeroei om vir julle plek te maak.

9“Toe Balak seun van Sippor en koning van Moab teen Israel oorlog wou maak, het hy vir Bileam seun van Beor laat roep om ‘n vloek oor julle uit te spreek. 10Maar Ek het nie na Bileam geluister nie, en hy moes julle teen wil en dank seën. So het Ek julle gered uit die hande van Balak.

11“Julle het deur die Jordaan getrek en by Jerigo gekom. Die mense wat in besit was van Jerigo, die Amoriete, Feresiete, Kanaäniete, Hetiete, Girgasiete, Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle mag oorgegee. 12Ek het al vantevore die twee Amoritiese konings laat moed verloor, en dít het hulle voor julle uit verdryf, nie julle swaarde en julle pyl en boë nie.

13“Ek het julle ‘n land gegee wat julle nie bewerk het nie, stede wat julle nie gebou het nie, maar waar julle kon gaan woon; julle eet van wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie.

14“Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou. Sien af van die gode wat julle voorvaders anderkant die Eufraat en in Egipte gedien het, en dien die Here. 15Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

16Die volk het geantwoord: “Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. 17Dit is die Here ons God wat ons en ons voorvaders uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Hy het daardie groot wonders voor ons oë gedoen en Hy het ons beskerm op die hele pad wat ons gekom het en teen al die volke deur wie se gebiede ons getrek het. 18Die Here het al die volke voor ons uit verdryf, die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.”

19Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle kan nie die Here dien nie. Hy is ‘n heilige God, Hy is ‘n God wat onverdeelde trou eis en julle opstandigheid en sonde nie sal vergewe nie. 20As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en ‘n end aan julle maak.”

21Die volk het vir Josua gesê: “Nee, ons sal die Here dien!”
22Toe sê Josua vir die volk: “Julle is self getuies daarvan dat julle gekies het om die Here te dien,” en hulle antwoord: “Ons is.”
23Toe sê Josua: “Verwyder dan die vreemde gode tussen julle uit en wy julle heeltemal aan die Here die God van Israel.”
24En die volk sê vir Josua: “Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.”
25Josua het daardie dag vir die volk ‘n verbond gesluit en vir hulle daar in Sigem voorskrifte en bepalings vasgelê.

26Hy het dié dinge in die wetboek van God opgeskryf, ‘n groot klip gevat en dit daar onder ‘n groot boom by die heiligdom van die Here regop gesit. 27Hy het vir die hele volk gesê: “Sien julle dié klip? Hy sal die getuie teen ons wees. Hy het alles gehoor wat die Here vir ons gesê het. Hy sal die getuie teen julle wees dat julle nie julle God bedrieg nie.”
28Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy grond toe.

Die dood van Josua en Eleasar
29Na hierdie gebeure het Josua seun van Nun, dienaar van die Here, gesterf. Hy was honderd en tien jaar. 30Hy is begrawe in die gebied wat aan hom gegee was as besitting, in Timnat-Serag in die Efraimsberge, noord van Gaäsberg.

31Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

32Die liggaam van Josef wat deur die Israeliete uit Egipte gebring is, is in Sigem begrawe, in die stuk grond wat Jakob by die nageslag van Gamor, vader van Sigem, gekoop het vir honderd stukke silwer. Die grond het die eiendom van die nakomelinge van Josef geword.

33Ook Eleasar seun van Aäron is oorlede. Hy is begrawe in Gibea, ‘n plek in die Efraimsberge wat aan sy seun Pinehas toegeken was.

Ekstra stof

Josua 24 – Die leiers en die volk word aan God self verbind in ‘n verbondshernuwing
Dit is duidelik dat dieselfde leiers as in Josua 23 in hierdie laaste toespraak van Josua teenwoordig is. Die hele volk word egter saam met hulle in ‘n verbondshernuwing seremonie ingetrek by Sigem, die grondgebied wat Josua in besit geneem het, en waar Jakob aanvanklik ‘n stuk grond gekoop het.

1. Aan die een kant is hierdie toespraak ‘n terugblik op die Israeliete se vorming as volk in vervulling van die beloftes van die Here. Daarom gaan haal Josua die verhaal by Tera, vader van Abraham, anderkant die Eufraat. Die Here se keuse van Abraham was nie net om vir hom ‘n land en ‘n nageslag te gee nie, maar hom ook uit afgodediens aan die enigste ware God te verbind.

Elke deel van dié pad word as stasies op die roete na Kanaän uitgelê: Abraham se blootstelling aan die land Kanaän; Isak as die kind van die belofte; Jakob en Esau wat begin beslag lê het op hulle onderskeie grondgebiede; die verlossing uit Egipte deur Moses en Aäron en God se bewaring deur die Rietsee en die woestyn. God is die Een wat help en verlos, soos ten minste Josua en Kaleb nog eerstehands ervaar het.

Die Uittog het uitgemond in die Intog en Vestiging in die land waarin selfs die land oos van die Jordaan in hulle besit gekom het. God se hand in dit alles word onomwonde erken en geëer. Hy het hulle geseën ten spyte van die pogings van Bileam en hulle kon die land inneem.

Die gawe van die land is weens God se werk, nie deur hulle swaarde, pyle en boë nie. Hulle sou gevolglik ook nooit die land kon beskerm net met hulle swaarde, pyle en boë nie. Die land sou altyd belofteland bly, en net in hulle besit wees solank as hulle die Here aanbid en gehoorsaam het.

2. Aan die ander kant is Josua se toespraak ‘n toekomsblik van hulle lewe in die teenwoordigheid van die Verbondsgod aan wie hulle hulle opnuut verbind. En dit is die dieptepunt van sy appèl aan hulle om aan dié God eerbied te betoon en Hom met opregtheid en trou te dien.

Dit sal moet insluit dat hulle hulle afgodery vaarwel moet roep, die gode van anderkant die Eufraat, die gode van Egipte, en dié wat hulle in die land Kanaän mee in aanraking gekom het. En onthou, Sigem is die plek waar Jakob die afgode van sy vroue begrawe het (Gen 36)!

‘n Mens kan jou beswaarlik indink hoe ‘n groot uitdaging die afgode was in ‘n omgewing waarin niemand net een god aanbid het nie. Die druk was daar om aan te pas by die omgewing, veral die druk weens die ondertrouery met die ander nasies in die land wat onder die radar toegeneem het en mettertyd drastiese stappe geverg het van die leiers.

Hierdie klem op die aanbidding van nét een God, die God wat Hom aan hulle as Jahwe openbaar het, was só belangrik dat Josua hulle in ‘n seremonie begelei om eens en vir altyd te kies wie hulle wil dien: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.

Op die volk se eendragtige antwoord dat hulle glad nie daaraan dink om die Here te verlaat en ander gode te dien nie, waarsku Josua hulle dat dié God onverdeelde trou eis en hulle nie hulle opstandigheid en sonde hierin sal vergewe nie: “As julle die Here verlaat en julle dien vreemde gode, sal Hy wat aan julle goed gedoen het, teen julle draai en rampe oor julle bring en ‘n end aan julle maak.

Josua het geweet hoe wispelturig die volk se lojaliteit was, en hoe groot die uitdaging by hulle huise gaan wees, want die ander nasies is nie uitgewis nie. Die versoeking sou dus blywend wees en baie sou daarvoor swig.

Daarom waarsku hy hulle en moedig hulle aan om die vreemde gode tussen hulle uit te wis en hulle heeltemal aan Jahwe te verbind.

Op die volk se eendragtige ja hernuwe Josua uiteindelik die verbond op grond van die voorskrifte en bepalings wat nie net Moses neergepen het nie, maar waartoe hy nou bygevoeg het. Sy woorde, die sogenaamde Josua-woorde, vul nou die Moses-woorde aan, en word saam in die wetboek van God opgeskryf.

As herinnering aan dié gewigtige oomblik word ‘n klip as getuienis gekies. En daarmee gee Josua ook die leierskap oor aan die leiers van die stamme wat van nou af in gehoorsaamheid aan die Here hulle mense moes begelei en dien. Daarna het Josua die volk laat gaan, elkeen na sy eie grond toe.

Die boek sluit af met die beskrywing van die dood van Josua op die rype ouderdom van 110 jaar. Hy word begrawe op sy grondgebied. Ook Josef se wens om in Sigem begrawe te word, word nagekom.

Die hoërpriester Eleasar is ook oorlede en begrawe op die grond wat aan sy seun Pinehas in die Efraimsberge toegeken is.

Die skakel na die volgende boek in die reeks van die Vroeë Profete, Rigters, word gegee met die opmerking: “Israel het die Here bly dien tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.

Dat dit nie só goed gegaan het met die leiers daarna nie, en wat die Here gedoen het om hulle ook deur daardie drif te trek, is die onderwerp van ons volgende studie in die boek Rigters.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 449 “Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord
Seëngroet  

Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Doop- herinnering/viering
Ritueel
Toewyding
Geloofsbelydenis

Loflied 292 “My enigste troos in lewe en dood 1, 2”

Epiklese

Skriflesing: Josua 24:1-25

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Uitsendingswoorde

Seën

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 449 “Halleluja! Ons loof U Heer vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord  
Voorganger: Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
Dien die Here met blydskap!

Gemeente: Kom voor Hom met gejubel!
Voorganger: Erken dat die Here God is:

Gemeente: Hy het ons gemaak en ons is Syne.
Voorganger: Erken dat die Here God is:

Gemeente: Ons is sy volk, sy eie kudde.
Voorganger: Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange,

Gemeente: dank Hom, prys sy Naam.
Voorganger: want die Here is goed,

Gemeente: aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag. Amen (uit Ps 100).

Seëngroet  
(Gemeente se naam), wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Doop- herinnering/viering
Die doop herinner ons dat geloof ‘n geskenk uit genade is. Geloof begin by God wat ons eerste liefhet.
Doopherinnering is presies dit- ‘n herinnering aan en dan ook ‘n viering van my verbintenis aan Christus en sy weldade deur die sakrament van die doop. Psalm 78 maak veel van onthou…
3Wat ons gehoor het en wat ons weet,
wat ons vaders ons vertel het,
4sal ons vir ons kinders nie verswyg nie.
Ons sal aan die volgende geslag vertel
van die roemryke dade van die Here
en van sy mag,
van die wonderdade wat
Hy gedoen het. (Psalm 78)
en verder…
5Hy het aan Jakob
sy voorskrifte gegee,
aan Israel sy onderwysing.
Hy het ons voorvaders beveel
om dit aan hulle kinders
bekend te maak,
6sodat die volgende geslag dit kan weet
en die kinders wat nog gebore sal word,
dit weer aan húlle kinders kan vertel.
7So sal hulle dan op God vertrou
en nie vergeet wat Hy gedoen het nie,
maar gehoorsaam wees
aan wat Hy beveel het (Psalm 78)
Doopviering behels ook ‘n dat ek in die herinnering daarvan, my steeds aan my verlosser en saligmaker wy, en hierin help vandag se fokusteks my…
Wanneer Josua die volk konfronteer met ‘n beslissende keuse word ek as gedoopte opnuut uitgedaag met ‘n soortgelyke verbintenis…

14“Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou.
…kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”

16Die volk het geantwoord: “Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie. 17Dit is die Here ons God wat ons en ons voorvaders uit Egipte, die plek van slawerny, gebring het. Hy het daardie groot wonders voor ons oë gedoen en Hy het ons beskerm op die hele pad wat ons gekom het en teen al die volke deur wie se gebiede ons getrek het. 18Die Here het al die volke voor ons uit verdryf, die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien. Hy is ons God.”

19Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle kan nie die Here dien nie. Hy is ’n heilige God, Hy is ’n God wat onverdeelde trou eis en julle opstandigheid en sonde nie sal vergewe nie.

21Die volk het vir Josua gesê: “Nee, ons sal die Here dien!”
“Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister.” (Josua 24)

Ritueel
Die liturg/ gemeente hanteer die doopvont/ water om as herinnering en viering te dien.

Toewyding
Voorganger: Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
Gemeente: Mag Hy ons geestesoë só verhelder dat ons kan weet watter hoop sy roeping inhou.

Voorganger: En mag julle besef watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het.
Gemeente: Mag Hy ons geestesoë só verhelder dat ons kan weet hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.

Voorganger: Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het:
Gemeente: Hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

Voorganger: Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk.
Gemeente: Ons is sy kerk, sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul. Amen (uit Ef 1:15-23).

Geloofsbelydenis
Voorganger: Betoon nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou.
Gemeente: Wat my en familie betref, ons sal die Here dien.

Voorganger: Sien af van enige gode of bronne van hoop wat vir julle belangriker as die Here geword het.
Gemeente: Ons dink glad nie daaraan om die Here te verlaat en ander gode te dien nie.

Voorganger: Kan julle die Here dien? Hy is die heilige God, Hy is die God wat onverdeelde trou eis.
Gemeente: Ja, ons sal die Here dien!

Voorganger: Julle is self getuies daarvan dat julle gekies het om die Here te dien.
Gemeente: Ons is.

Voorganger: Verwyder dan enige vreemde gode of belange en wy julle heeltemal aan die Here!
Gemeente: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na Hom luister (uit Jos 24).

Loflied 292 “My enigste troos in lewe en dood 1, 2”

Liedere

VONKK 37 “Ons Hou Ons Oë Op Jesus, die Here”
Teks: Oculi nostri – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 192301992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed / Geloof en Vertroue

Ons hou ons oë op Jesus, die Here.
Ons hou ons oë op Jesus, ons Here.

Our eyes are turned to the Lord, Jesus Christ.
Our eyes are turned to the Lord God, our Saviour.

Oculi nostri ad Dominum Jesum,
oculi nostri ad Dominum nostrum.

F184. “Ons Is Almal Hier Tesaam”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toetrede)
Oorspronklik: We Have Come Into His House
Teks & Musiek: Bruce T. Ballinger
Afr teks: A.P. van der Colf; Verwerking en alternatiewe teks: F Esterhuizen & Retief Burger, 2004
Kopiereg: © 1976 Universal Music

Ons is almal hier tesaam
Vergader in sy Naam,
Verheerlik Hom.
Tot die dood was Hy getrou
En daardeur is ons nou sy eiendom.
Laat ons maak soos Hy ons sê,
Mekaar steeds lief te hê
En Hom bo alles eer.
Loof Hom, Christus die Heer. (x2)
Halleluja! Ek kan nie sonder U nie.
Halleluja! Ek sal nie stilbly nie!
Halleluja! Daar is geen ander Naam nie
As Jesus Christus, die Heer…
As Jesus Christus, die Heer.

F130. “Here, Ons Here (Psalm 8)” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek:Piet Smit
© MAR Gospel Music Publishers

Here, ons Here
Hoe wonderbaar is U Naam
Hoe glansryk die hemelruim
Selfs kinders besing dit saam
En dié vol wraak wat teen U staan
Word stil en swyg oor wat U doen
Here ons Here
Hoe wonderbaar is U Naam
Here ons Here
As ek U handewerk aanskou
Wat is die mens dan
Dat U hom veilig onderhou
Met aansien en met eer gekroon
Laat U hom heers oor al U werk
Here ons Here
Hoe wonderbaar is U Naam

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, ons dank U dat ons u boodskap vandag opnuut kan aanhoor. Ons ontvang u boodskap. Ons neem u boodskap aan in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die Woord van God. En dit is inderdaad die Woord van God, soos die uitwerking daarvan op hulle wat glo, bewys. Spreek Here, want u dienaars luister. Amen (uit 1 Tess 2:9-13).

Skriflesing: Josua 24:1-25

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Hierdie teks help kinders om te begin verstaan dat ’n mens keuses maak in die lewe, en dat die keuses gevolge het.

Berei vooraf twee blikkies voor deur die etikette van ‘n blikkie boontjies (of iets waarvan kinders nie sal hou nie) en ‘n blikkie ingelegde vrugte (of iets wat kinders sal geniet) om te ruil. Nooi twee kinders vorentoe en laat een van hulle kies watter blikkie hulle wil hê. Wanneer die blikkie oopgemaak word, moet albei eet wat hulle gekry het – hul keuses het gevolge.

Alternatiewelik kan jy een van daardie origami speletjies vou wat almal altyd as kinders maak. (As jy vergeet het, kan jy instruksies hier kry.). Kinders kies ‘n nommer, wat lei tot ‘n volgende keuse van ‘n kleur, wat lei tot ‘n verrassing. Die verrassing kan goed of sleg wees (lekkers, boekmerke, klippe, ens).

Vertel dan die verhaal van die teksgedeelte dramaties. Die Israeliete het uiteindelik na baie jare in die woestyn in die land gekom waarvan hulle gedroom het. Hulle hoef nie meer vir water te soek nie. Hulle hoef nie meer in tente te lewe nie. Hulle hoef nie meer manna te eet nie, maar kan nou genoeg hê van allerhande kos, melk en heuning, soos die Bybel dit vir ons vertel.

Maar, die Israeliete het die gevaar geloop dat hulle kon vergeet wat God hulle geleer het, en net kon doen wat die ander volke in Kanaän doen. Want dié volke het afgode gedien, en slegte goed gedoen, selfs soms hulle kinders geoffer.

Lees dan die teks, en wys uit hoe Josua hulle waarsku dat hulle nie maar in die land kan gaan doen wat ander mense doen nie, en dan dink hulle kan steeds God se mense bly nie.

Onthou, die Israeliete het gewéét wat hulle kies, anders as ons met die blikkies of papier. Beweeg dan na ons lewe. Só moet ons ook keuses maak, byvoorbeeld hoe om onpopulêre kinders te hanteer, of wie jy nooi om deel van ’n span of ’n partytjie te wees, of om mekaar nie uit te daag om gevaarlike goed te doen nie.

Jy kan vir die kinders elkeen ‘n vierkant papier gee, sodat hulle tydens die diens self ‘n “kies-masjientjie” kan maak.
of (indien u nie die vroeëre doopherinnering gebruik het nie)

Doopherinnering: Die psalmskrywer sê ons moet vir die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here in die verlede (Ps 78). Hy sê dit sal ons help om op God te vertrou en gehoorsaam te wees aan wat Hy beveel het. Josua doen dieselfde. Hy praat met die volk nét voordat hulle die Jordaanrivier na die Beloofde Land oorsteek en hy herinner hulle daaraan dat hulle tot hier gekom het omdat God getrou was in die verlede: Die Here het hulle voorouers uit Egipte, die plek van slawerny, bevry (Jos 24). Paulus verstaan dat dit moeilik is om te leef in die tyd totdat Jesus weer kom. Hy troos sy gemeente deur hulle daaraan te herinner dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het en dat God almal wat in Hom glo, na Hom toe sal neem. Wanneer ons vandag ons doop in herinnering roep, word ons bemoedig vir die pad vorentoe. Ons doop herinner ons daaraan dat ons lewe veranker is in Jesus se dood en opstanding – wat in die verlede gebeur het. En ons doop herinner ons daaraan dat die Here ons eendag – in die toekoms – na Hom toe sal neem.

Vir kindertyd: Josua en die volk steek die Jordaan oor.
Josua en die volk op die punt om die Jordaan oor te steek.

Preekriglyn

Annes Nel vertel hy onthou die eerste keer toe hy Namibië binnegekom het. “Na sowat 740 km staan hierdie padteken langs die pad: ‘Windhoek 810 km.’ Dit het my moed gebreek.”

Soms bemoedig padtekens mens weer, veral hoe nader jou bestemming kom. Padtekens is baie belangrik. Dit help ons om te weet of ons moet stop of ry, mag verbygaan of nie en hoe ver die volgende bestemming is.

Israel se padtekens

Die verhaal van Israel is vol sulke padtekens: Abraham, Isak, Jakob, Josef, Egipte, die uittog, die woestyntyd en die intog. Nou is dit asof die groot bord voor hulle staan: “Bestemming bereik! Julle pad van swerftog het aan ‘n einde gekom.” Dit word op twee plekke saamgevat (Jos 21:43-45; 23:14). Die landsbelofte is vervul. Die nageslag is gewaarborg. Die land is in besit geneem, die vyande verslaan. Soos Josua sê: “Nie een van al die goeie beloftes wat die Here aan Israel gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal is nagekom …. nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, het onvervul gebly nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie” (21:45; 23:14).

Voetspore van God

Dit is nie net ‘n bestemming wat bereik is nie. Dit is ‘n uitnodiging om die voetspore van God in hulle reis to hier, in hul geskiedenis te sien. Dit is om hulle bewus te maak dat hulle ‘n lewende, kragtige en wonderlike God aanbid. Dit het lank geneem — geslagte — maar God het gedoen wat Hy belowe het.

Miskien is dit tyd om te dink oor die voetspore van God in ons lewe. Ons kan die tye onthou toe ons in donker plekke was en God ons opgetel en uitgelig het. Ons kan ‘n siekte onthou en hoe die Here ons genees het. Ons kan sonde onthou wat ons gepleeg het, die pyn wat ons veroorsaak het en hoe die wonderlike boodskap van God se vergifnis ons harte warm gemaak het. Dit is voetstappe van die genadige, liefdevolle God wat omgee.

Nuwe begin

Josua maak dit nou duidelik dat dit nie die einde is nie, maar die begin. Wanneer God aan ons gegee het wat ons nodig het, wat Hy belowe het, is daar ‘n groot gevaar. Ons mag dink ons het hierdie gawe vir ewig, ons kan nou doen soos ons wil. Dietrich Bonhoeffer het heelwat oor goedkoop genade geskryf en sy gedagtes kan hier genoem word.

Nee, die boodskap is duidelik: reageer! Padtekens het net waarde as ons dit gehoorsaam. Dit help nie ons sien ons moet stop, maar ignoreer dit nie. De Groot skryf: “Geloof = amen sê + amen doen + amen wees.”

Keuse

Hoe doen ons dit? God se trou en beloftes het vir ons slegs waarde as ons ‘n keuse maak om Hom alleen te dien. In 1948 skryf AW Tozer in sy boek, Pursuit of God oor Abraham se lewe en die keuses wat hy gemaak het:

So we will be brought one by one to the testing place, and we may never know when we are there. At that testing place there will be no dozen possible choices for us; just one and an alternative, but our whole future will be conditioned by the choice we make.

Die volk het, ten spyte van Josua se twyfel oor hulle verbintenis, besluit om die Here te dien (24:15-24). Vir Josua is dit duidelik dat die vrede van God, die werklike bestemming, slegs bereik word as ons ‘n keuse maak om die pad met God te stap. Hy en sy huis het hierdie pad gekies. Nou besluit die volk ook om dit te doen. Dit doen hulle ‘n paar maal (in die preek kan die dialoog tussen Josua en die volk weer belig word): “Ons sal die Here ons God dien en aan Hom gehoorsaam wees!” Wat ‘n verbintenis! Wat ‘n toewyding! Hoe passievol is hulle nie!

Die oortreffende padteken

In die Nuwe Testament lees ons van die padteken wat alle padtekens oortref. Paulus skryf: “Christus het gekom om in belang van die Jode ‘n dienaar te word; Hy moes vir hulle die waarheid van God bevestig deur die beloftes wat die voorvaders ontvang het, waar te maak” (Rom 15:8).

Paulus preek in Handelinge 13:32,33 en sê: “En nou verkondig ons aan julle die goeie boodskap dat God die belofte aan die voorvaders vir ons, hulle nageslag, vervul het deur Jesus uit die dood te laat opstaan”. Daarom bevestig hy in een van sy briewe: “So seker as God getrou is, ons woord aan julle was nie tegelyk ‘ja’ en ‘nee’ nie, want Jesus Christus, die Seun van God, wat ons… aan julle verkondig het, is nie ‘ja’ en ‘nee’ tegelyk nie. Hy is die ‘ja’ van God, die ‘ja’ op al die beloftes van God” (2 Kor 1:18-20).

Volg die padtekens!

Dit spreek vanself dat ‘n mens jou bestemming misloop as jy nie bereid is om God se beloftes ernstig te neem deur ‘n lewe te lei wat daarby pas nie. Daarvan is die Bybel vol (Heb 4:1-3). In Josua 24:31 staan daar dat Israel die Here bly dien het “tydens die lewe van Josua en tydens die lewe van die leiers wat vir Josua oorleef het en alles ervaar het wat die Here vir Israel gedoen het.” Die Rigterboek maak duidelik dat die verbintenis aan die Here nie gehou het nie (Rig 2:18,19; 21:24-25).

Dallas Willard skryf in sy boek The spirit of the disciplines oor sogenaamde “undiscipled disciples”. Hy skryf dat die Nuwe Testament ‘n boek oor dissipels, deur dissipels, vir dissipels is. Nie een versekering wat die Nuwe Testament gee, nie een belofte, maak sin sonder ‘n lewe van dissipelskap nie.

Vir dekades, sê Willard, het kerke van die Westerse wêreld dissipelskap nie meer as vereiste vir Christenskap gemaak nie. Hedendaagse kerke vereis nie meer dat mense Christus volgens sy gesindheid, voorbeeld en lering hoef te leef om ‘n lidmaat te wees nie. Die meeste probleme van hedendaagse kerke kan verklaar word uit die feit dat lidmate nog nie ‘n keuse gemaak het om Jesus te volg nie. Dit word as ‘n opsionele saak gesien.

Ons kan die water probeer opdroog, maar as ons nie die lekplekke laat regmaak nie, droog ons verniet op. Die simptome kan nie behandel word sonder identifisering van die siekte nie. Die probleem in die hoofstroomkerke is dat baie mense ligweg met die beloftes van God omgaan. Ons wil graag die beloftes van die Here vir onsself toe-eien, maar ons is nie bereid om die implikasies daarvan vir ons lewe te aanvaar nie. Daar is waarskynlik nie een persoon wat in die kerk sit wat nog nie gehoor het dat Jesus Christus die Verlosser van die wêreld is en dat Hy die dood oorwin het nie. Die meeste mense sal sê hulle glo dit. Jesus is ons Verlosser, maar nie ons Heer nie.

Om God se beloftes te hoor en daaroor na te dink, beteken niks as dit nie tot dissipelskap lei nie. Josua het sy mense behoorlik laat besef hulle moet twee maal dink wanneer hulle sê hulle dien die Here. Dit is wat Jesus ook in Lukas 14:25-33 sê, naamlik dat dissipelskap vra om koste te bereken. Daarom daag hierdie gedeelte ons uit om weer oor ons verbintenis aan God aandag te gee. As ons ons verwonder oor God se genade in Christus, sal ons sy genade eer deur Hom lief te hê, te dien en na sy stem te luister. Daarom is hertoewyding vandag nodig!

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Uitsendingswoorde
Julle is almal mense van die lig, mense van die dag;
ons is nie van die nag of die duisternis nie.
Laat ons dan nie slaap soos die ander nie,
maar laat ons wakker bly en nugter wees.
Ons wat van die dag is, moet geloof en en liefde as borsharnas dra
en die hoop op verlossing as helm.
Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons
of ons by sy koms nog lewe
of reeds dood is,
saam met Hom kan lewe (uit 1 Tess 5:1-11).

Seën
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.