Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd (Seisoen van die Voleinding 3)

Picture of Woord en Fees

Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd (Seisoen van die Voleinding 3)

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste 

Sleutelteks: Matteus 25:14-30
Ander tekste: Rigters 4:1-7; Psalm 123; 1 Tessalonisense 5:1-11

Inleiding

Die tekste uit die Nuwe Testament besing vandag die koninkryksdeug daarvan om te woeker met die Here se gawes soos goeie en getroue slawe in die Here se koninkryk. Dit is hoe gelowiges behoort te waak en te wag. Dan sal die wederkoms hulle nie oorval nie. Die tekste uit die Ou Testament beklemtoon die waardevolle geloofsgroei wat voortvloei uit die samehang tussen genade, gehoorsaamheid en afhanklikheid van die Here.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger:  Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar . . .
Gemeente: en soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares . . .

Voorganger: so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm.
Gemeente: Ontferm U oor ons, Here, ontferm U oor ons.

Amen (uit Ps 123:2, 3).

Diens van die Woord

Gebed by die opening van die Woord 
Voorganger: Ons is mense van die lig.
Gemeente: Ons is mense van die dag.

Voorganger: Ons is nie van die nag of die duisternis nie.
Gemeente: Laat ons dan nie slaap soos die ander nie.

Voorganger: Laat ons wakker bly en nugter wees.
Gemeente: Maak u Woord ’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad.

Amen (1 Tess 5:5-6).

Diens van die tafel

Vredesgroet
|Die gemeentelede beweeg rond, groet mekaar hartlik en spreek die Bybelse seënwens van “Jesus se vrede vir jou” (Joh 14:27)  teenoor mekaar uit.

Uitsending

Seën
Voorganger: Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!”
Gemeente: Amen! Kom, Here Jesus!

Voorganger: Die genade van die Here Jesus sal by almal wees.
Gemeente: Amen (Op 22:20-21).

Musiek en sang

Lofsange: Lied 198 “God is my lied”; Lied 196 “O kon ek jubel, Hemelvader”; Lied 197 “Wonderbare Koning”
Voleinding: Lied 585 “O Jesus, laat ons nooit vergeet”; Lied 587  “Kyk, Hy kom! Wag laat ons luister”
Slotsang: Lied 602 “Ek sien ’n nuwe hemel kom”

Preekstudie: Matteus 25:14-30

Inleiding
In hierdie gelykenis is die kerntema, naamlik dissipelskap, weer ter sake asook ander temas, soos die koninkryk van God, wat uitgebeeld word as die eiendom van God. Die kernboodskap van die perikoop is een van aktiewe waaksaamheid, met ander woorde om te wag en te woeker met die Here se goed, terwyl ons wag op sy terugkeer. Die opdrag is dus om te werskaf en verantwoordelikheid te neem ten opsigte van dit wat aan ons toevertrou is.

Teks en konteks

Hierdie gelykenis is een van vier opeenvolgende gelykenisse wat handel oor die opdrag om te woeker en te wag op die koms van die Seun van die mens. Dié tema word in Matteus 24:25 en  verder aan die orde gestel. Volgens Matteus 24:36 dra slegs die Vader kennis van die besonderhede betreffende die wederkoms van die Seun. Ter illustrasie van die “onverwagsheid” van die koms van Christus volg die gelykenis oor die huiseienaar en dief (24:43-44). Daarna volg die gelykenis van die getroue en ontroue diensknegte wat ’n scenario skep van Christus se “vroeër-as-verwagte” koms (45-51). Volgens die gelykenis van die tien strooimeisies kom Christus “later” as wat verwag is (25:1-13). In die daaropvolgende gelykenis oor die talente word dit onomwonde gestel dat sy koms “onbepaald” is (25:14-30).

Dit is goed om die gelykenis van die talente in Matteus te vergelyk met die parallelle gelykenisse in Lukas 19:11-28 en Markus 13:33-37. In die lig van die verskille (sien onder) is dit nie duidelik of daar twee mondelinge oorlewerings oor die gelykenisse bestaan het en of elke evangelis ʼn enkele tradisie geredigeer het volgens sy eie weergawe nie. Die geld wat aan die slawe gegee is, is volgens Matteus heelwat meer as volgens die ander evangelies. Een talent was 6,000 denari werd, en ʼn dag se loon een denarius. In Matteus is die geld wat aan die slawe toevertrou is oorweldigend meer, in vergelyking met ʼn lewenslange vergoeding. In Markus het die koning vir tien slawe tien minas gegee en daar kan in die lig van die res van die verhaal (16, 18, 20) met taamlike sekerheid aangeneem word dat elke slaaf een mina gekry het. ’n Mina was ʼn silwermuntstuk met dieselfde waarde as 100 denari; ongeveer 100 dae se loon. Die 1933-vertaling vertaal dié bedrag met die term “pond” omdat die gewig van ʼn mina ongeveer 13 onse is en daar 12 onse in ʼn Troypond is. ʼn Talent het tussen 50-80 pond geweeg. ʼn Moontlike rede vir die verskil in die somme geld is dat Matteus se gehoor waarskynlik ryker was as dié van Lukas en Markus. Die klem kan egter ook wees op die oorvloed wat God aan ons toevertrou, asook die enorme verantwoordelikheid wat verwag word van dissipels met betrekking tot rentmeesterskap (vgl Matt 5:20).

Dit was in daardie tyd gebruiklik onder huiseienaars om vir lang periodes op reis te gaan en in dié tyd hulle huishoudings aan hulle slawe toe te vertrou. Daar moet in gedagte gehou word dat slawe in die Romeinse Ryk vergoeding kon verdien, selfs bonusse en eiendom kon ontvang as vergoeding. Die Lukasverhaal vertel van slegs drie slawe wat van hulle rentmeesterskap kom rekenskap gee het. Die verhaal swyg oor die ander sewe. Daar is ook verskeie ander verskille.

ʼn Belangrike verskil is dat die gelykenis in Matteus sê dat aan elke slaaf geld toevertrou is “volgens sy bekwaamheid” (“each according to his ability”). Die stelling mag met die eerste oogopslag ongemak meebring, omdat dit kan impliseer dat die eienaar, dit wil sê God, volgens sy eie diskresie gee en dit onregverdig mag klink. Die bepaling is egter eintlik bemoedigend, want dit dui daarop dat God verantwoordelikhede aan elke persoon volgens sy/haar unieke bekwaamhede en vermoëns oplê. Die  klem val dus nie op die vermoëns as sodanig  nie, maar wel op “wat” elkeen “maak” met die eiendom wat aan hom/haar toevertrou is. Die Griekse woord wat hier gebruik word, is dynamin, wat “krag” en “energie” kan beteken. Dit is ook die stamwoord waarvan die woord “dinamies” afkomstig is.

Dissipelskap en die kerk/gemeenskap van gelowiges neem ʼn sentrale rol in in die Matteusevangelie en in hierdie gelykenis. Op die vooraand van die kruisiging (Matt 26:1-2) val die klem op die opdrag aan elke individu (by uitstek die leiers) in die kerk om met die talente wat Christus aan hulle toevertrou het, te woeker.

Ten einde die gelykenisse in konteks te plaas, is dit belangrik om eers die plek waar dit afspeel en die gehoor teenwoordig te bepaal. In Markus (13:1, 3) verlaat Jesus die tempel en gaan sit op die Olyfberg, terwyl Hy in Lukas op pad is Jerusalem toe (Luk 19:11, 28). Dit blyk ook dat die gehoor bestaan uit die dissipels en die skare. In Matteus, egter, is Jesus op reis in en om Jerusalem (Matt 21:18, 23; 22:1) en is sy gehoor die volgende: persone by die tempel, skrifgeleerdes, sy dissipels en die skare. Vanaf Matteus 24 lees ons slegs van die dissipels (1, 3). Daar kan dus met versigtigheid gesê word dat Jesus se prediking hier veral betrekking het op leierskap in die kerk.

Die Griekse woord wat in vers 19 gebruik word om die begrip “rekenskap eis” aan te dui, is sunairo, ʼn saamgestelde werkwoord met die voorsetsel sun (“saam”) en airo (“om te bereken”; “om op te neem”). Dit het die betekenis van “om saam op te neem”, of “om te vergelyk”.

Die Griekse woord kerdaino in vers 20 en 22, is ʼn ou handelsterm wat beteken “om wins te maak”, “om te verbeter”, “om nie te verloor nie” ( “to gain”, “to trade up”). Die respons van die meester teenoor die eerste twee slawe is een van goedkeuring en vreugde. Die term vir vreugde impliseer ook ʼn feesmaal en herinner aan Matteus 25:10. Daar is sprake van ʼn feesmaal waarheen gaste gaan. Daar moet ook gelet word op die meester se woorde: “oor weinig (oliga) was jy getrou, oor vele (pollon) sal ek jou aanstel”. Vyf of twee talente was beslis nie weinig nie. Die stelling kan as hiperbool geïnterpreteer word. Daar is egter ook ʼn aanduiding dat hy wat woeker en winsmaak, meer ontvang. Die rabbi’s het geleer dat God slegs water in vol kruike gooi, nie in leë kruike nie.

Ongemaklike verwysings kom ook voor in vers 24-26. Die derde slaaf beskryf die Kurios, die heer, met die Griekse woord skleros, wat hard en onbuigsaam beteken. Die slaaf brei daarop uit deur die meester te beskryf as iemand wat “oes waar hy nie gesaai het nie”. Die meester ontken dit nie (26). Die voorstelling van die meester, dus van Jesus, as hard en iemand wat oes waar hy nie gesaai het nie, is egter nie hoe ons Jesus vir ons voorstel nie. Dit is ʼn ongemaklike voorstelling van Jesus. In ’n vorige gelykenis is die onverwagsheid van Jesus se koms vergelyk met dié van ʼn dief wat kom in die nag (Matt 24:43-44). Die vergelyking word nie getref tussen Jesus en die dief en diefstal nie, maar tussen die onverwagsheid van die koms van ʼn dief en dié van Jesus. Net so ook handel hierdie gelykenis nie oor ʼn meester wat maai waar hy nie gesaai het nie, maar oor die verwagting om te woeker met wat aan jou toevertrou is. Die derde slaaf kan vergelyk word met persone, dissipels van Jesus, wat ʼn wanbegrip het van Jesus en van sy koninkryk. Daar kan afgelei word dat die slaaf kon aanneem dat die wins hom toekom en nie die meester nie. Dit is duidelik in die gelykenis dat dit die meester se talente is, dat die meester sy talente aan sy slawe toevertrou en dat dit die verwagting van die meester en die verantwoordelikheid van die slawe is dat die slawe namens die meester met die talente woeker. Net so is ons as dissipels van Christus se lewensoriëntering dat dit wat ons het, Jesus se eiendom is en dat dit ons verantwoordelikheid is om daarmee te woeker – dit is die meester se verwagting.

Die slaaf se gevoelens van vrees (phobetheis) dui ook op ʼn wanbegrip ten opsigte van sy rentmeesterskap en verantwoordelikheid teenoor die heer. Dit handel immers hier oor die heer se eiendom en sy belange, nie dié van die slaaf nie. Die juiste betekenis van rentmeesterskap word uitgebeeld in die optrede van die eerste twee slawe, naamlik om te woeker met wat aan hulle toevertrou is. Die meester se reaksie van vreugde en die gepaardgaande beloning, karakteriseer hom as ’n waarderende en regverdige persoon.

Die Griekse woord okneros (26) is in Afrikaans met die term “lui” vertaal. Dit kan ook met die begrip “huiwerig” vertaal word. Dit kom dus daarop neer dat die slaaf lui was, gehuiwer het om te woeker. Daaruit kan afgelei word dat die slaaf sleg en lui was, en nie die belange van die eienaar op die hart gedra het nie. Hy het daarom geensins gewoeker met die talent wat aan hom toevertrou is nie – dit selfs nie as ʼn deposito belê het nie. Met hierdie traak-my-nie-agtige optrede ontken hy sy verantwoordelikheid vir die fondse van sy meester en dit dui op minagting vir sy meester se belange.

Wanneer die eienaar die slaaf aanspreek oor sy versuim om met die talent te woeker, verontskuldig hy homself deur die vinger na sy meester te wys en hom te beskuldig dat hy ’n harde man is, wat oes waar hy nie gesaai het nie en pluk waar hy nie geplant het nie.

In vers 27 word verwys na die gebruik by die tollenaars, of selfs by die tempel, om geld teen goeie rente uit te leen. Die kapitaal was sodoende veilig en daar was die vooruitsig om ten minste die belegging te verdubbel. Om geld in ʼn lap toe te draai en te begrawe, is beskou as skandalig, tekenend van iemand wat nie die waarde van geld besef het nie.

Die oordeel in vers 28-30 kan nie geïgnoreer word nie (vgl ook 18:23). Hoe ons eendag rekenskap gaan gee van ons lewe, weet ons nie – dit is net so onbekend soos die wederkoms. Maar dat ons beslis op ʼn tyd rekenskap sal moet gee van ons doen en late is seker. Hoewel ons nie die oordeel kan wegpreek nie, moet ons dit preek binne die konteks van God se koninkryk.

Die gelykenis eindig anders as dié ooreenstemmende een in Lukas 19:27. Dit is egter ʼn herhaling van die oordeel en hartverskeurende gevolge daarvan elders in Matteus (8:12; 13:42, 50; 22:13; 24:51).

Preekvoorstel

Die kernboodskap is een van aktiewe waaksaamheid, wag en woeker; om te werskaf en verantwoordelikheid te aanvaar ten opsigte van dit wat aan ons toevertrou is; om verbind te wees aan die koning se agenda en werksaamhede; om te woeker met die koninkryk se belange terwyl die koning op pad terug is.

Daar was twee boere in Zimbabwe. Hulle was bure. Elke boer het dekades lank, lewenslank geboer. Beide die boere het hulle grond en besittings verloor, dit is onteien deur die regering. Die een boer het gesê dat die Here die boerdery vir hom gegee het, dit was die Here s’n. Hy, as boer, as rentmeester, moes daarmee woeker terwyl hy dit in besit gehad het. Solank dit aan hom toevertrou was, moes hy boer en goeie rentmeesterskap beoefen. Dit het hy gedoen. Hy het vrede gehad na die onteiening. Hy het met die boerdery gewoeker en goeie rentmeesterskap beoefen. Die ander boer was met haat vervul teenoor die regering oor die onteiening, oor die wegneem van sy grond en sy beeste. Hy was bitter en beskuldigend. Dit is ʼn harde voorbeeld, maar ons dissipelskap en die uitlewing daarvan, veral vandag, wanneer die wederkoms van Christus so ver en vaag voel, is moeilik. Dit is nie altyd verstaanbaar of verklaarbaar nie.

In hierdie gelykenis, die vierde van ʼn reeks wat handel oor waaksaamheid, word ons gevra om te woeker met dit wat die Here ons gee terwyl ons op Hom wag om terug te keer. (ʼn Verduideliking van die gelykenis in die eerste eeu van ʼn welvarende meester wat op reis gaan en sy sake aan slawe toevertrou kan gegee word.)

In die skadu van sy kruis vertrou Jesus ons met sy besittings. Nie my besittings nie; nie jou besittings nie; nie die kerk se besittings nie; die Here se besittings. Dit wat ons het, is die Here s’n. Dit is ʼn werklikheid, ʼn bepaalde oriëntasie waarvolgens elkeen van ons moet lewe. En Hy gee vir ons oorvloedig baie. Onnodig baie. Eintlik ongelooflik baie. Dit is verstommend om te dink dat die Here ons wel vertrou met sy besittings. Ja, vir jou en vir my, nie die engele nie, maar vir jou en my.

Dit is verstommend dat die Here ons vertrou met sy koninkryk. Met koninkrykswerk. Met die verkondiging daarvan, die beoefening daarvan. Die Here gee dit aan my en jou. Hy vertrou ons daarmee. En ons hoef nie te vrees nie. Aan elkeen van ons is gegee volgens God se oordeel. Die Here verwag nie meer van ons as wat elkeen van ons kan behartig nie.

Maar die Here kom vra ook rekenskap van dit wat Hy aan ons toevertrou. Het ons “JA” gesê vir die koninkryk, vir die werksaamhede van die koninkryk vir die belange van die Koning? Jesus vra absolute gehoorsaamheid, ʼn verbintenis ten opsigte van sy besittings en sy belange.

Die gelykenis vra vir my en jou: “Hoe woeker ons met die Here se besittings? Wat maak ons met sy koninkryk en sy belange wat Hy aan ons toevertrou het?”

Dit bly ʼn ongemaklike gelykenis.

Bronne

Gundrey, R  H 1994. Matthew. A commentary on his handbook for a mixed church under persecution. Grand Rapids: William B Eerdmans; Keener, C S 2009. The Gospel of Matthew. A Socio-Rhetorical Commentary. Grand Rapids: William B Eerdmans; http://interlinearbible.org/matthew/

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.