Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – Hervormingsondag

Picture of Woord en Fees

Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd - Hervormingsondag

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 8:31-36
Ander tekste: Jeremia 31:31-34; Psalm 46; Romeine 3:19-28

Bostaande is die tekste vir Hervormingsondag.

Indien die dag nie as Hervomingsdag gevier word nie, is die tekste: Joël 2:23-32; Psalm 65; 2 Timoteus 3:24-4:5; Lukas 18:9-14

Inleiding

Met Hervormingsfees vier Protestantse kerke die gebeure rondom die Kerkhervorming van die sestiende eeu. Dit gaan veral oor die viering van die vier Reformatoriese sola’s: die sola gratia (verlossing uit genade alleen sonder enige verdienste), die sola fidei (die geloof as enigste “voorwaarde” om die verlossing te ontvang), die sola Scriptura (die voorrang van die Bybel bo die kerklike tradisie) en die soli Deo gloria (aan God alleen alle eer). In die liturgie wat hieronder volg, word daar gebruik gemaak van verskeie elemente uit die tyd van die Hervorming, byvoorbeeld Lied  476 “’n Vaste Burg is onse God” (Luther se weergawe van Ps 46) en die eerste paar vrae en antwoorde van die Heidelbergse Kategismus. Die “Litanie vir Verbintenis aan God en sy Woord” en die sing van Lied 255 daarna gee uitdrukking aan die sola Scriptura, terwyl die gebruik van Romeine 3:21-24 as vryspraak en Efesiërs 2:4-10 en 1 Petrus 1:18-21 by die nagmaal uitdrukking gee aan die sola gratia en die sola fidei. Deur aan die erediens ’n vreugdevolle karakter te gee kan uitdrukking gee word aan die soli Deo gloria.

Sola Gratia

Aanvangswoord
Voorganger: God is vir ons ’n toevlug en ’n  beskerming.
Gemeente: Hy was nog altyd bereid om ons te help in nood.

Voorganger: Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
Gemeente: al skuif die berge tot in die dieptes van die see,

Voorganger: al druis en skuim die waters van die see,
Gemeente: al skud die berge
deur sy onstuimigheid.

Voorganger: Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.
Gemeente: Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob
is vir ons ’n beskutting.

Amen (uit Ps 46 2-4, 11-12).

Seëngroet
In die Naam van die Vader
en die Seun
en die Heilige Gees,
genade en vrede vir julle.

Loflied
Lied 476:1-4 “’n Vaste Burg is onse God”

Verootmoediging
Voorganger: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Gemeente: Dat ek met liggaam en siel
in lewe en in sterwe
nie aan myself nie,
maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort.

Voorganger: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Gemeente: Drie dinge:
eerstens, hoe groot my sonde en ellende is;
tweedens, hoe ek van al my sonde en ellende verlos word
en derdens, hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Voorganger: Waaruit ken jy jou ellende?
Gemeente: Uit die wet van God.

Voorganger: Wat vra die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê
met jou hele hart
en met jou hele siel
en met jou hele verstand.
En jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Voorganger: Kan jy dit alles ten volle nakom?
Gemeente: Nee, want ek is van nature geneig
om God en my naaste kwaad aan te doen.

Voorganger: Laat ons dan nou ons skuld voor die Here en voor mekaar bely:

Skuldbelydenis
Sing lied 235:1 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig”

Vryspraak
Romeine 3:21-24(25-28)

Sola Fidei

Geloofsbelydenis

Bevestigingslied
Lied 449:1-4 “Halleluja! Ons loof U, Heer”

Sola Scriptura

Litanie vir Verbintenis aan God en sy Woord
Voorganger: Here, ons God,
deur u Woord het alles wat bestaan, tot stand gekom:
die groot heelal, die wêreld, ons elkeen se lewe, ons geliefdes,
alles wat ons is en alles wat ons het;
deur u Woord het U u Seun gestuur
om vir ons deur sy kruis en opstanding verlossing te bring;
deur u Woord het U ons saamgeroep
om ’n kerk van liefde en diens in die wêreld te wees;
deur u Woord weet ons dat ons uit genade en geloof kan lewe.
Hou ons naby aan u Woord
sodat dit op ons harte geskrywe sal wees.
Gemeente: Ons verbind ons aan U en aan u Woord.

Voorganger: Help ons om in geloof en liefde nader aan U te groei
sodat ons altyd in vertroue en met hoop kan lewe.

Voorganger: Help ons om ons in te stel op dié dinge wat ons naby aan U hou.
Help ons om ons in te stel op die samekoms van die gemeente.

Voorganger: Help ons om ons in te stel op ons daaglikse gebed.

Voorganger: Help ons om te fokus op kennis van die heilige Skrif.

Voorganger: Help ons om te fokus op die sending van die kerk.

Voorganger: Help ons om te fokus op ’n lewe van dankbaarheid
vir al die seëninge wat ons uit u hand ontvang.

Voorganger: Rig ons lewe deur u Woord,
vergewe ons sonde,
rig ons denke,
vorm ons gesindhede,
bring lig in ons duisternis,
gee ons onwankelbare hoop,
vul ons harte met vreugde,
verseker ons van u blywende teenwoordigheid,
totdat ons kan deel in die volle heerlikheid van u ewige koninkryk,
deur Jesus Christus ons Here.
Gemeente: Amen.

Sang
Lied 255:1-2 “Woord van God, Woord van die lewe”

Skriflesing
Jeremia 31:31-34
Johannes 8:31-36

Prediking

Sola Deo Gloria

Nagmaalsformulier
Lees Efesiërs 2:4-10 en 1 Petrus 1:18-21 in plaas van die nagmaalformulier.

Gebed
Die gemeente sing Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel” of Lied 267 “Ons Vader op die hemeltroon” (laasgenoemde is ’n melodie van Luther).

Instellingsverhaal
1 Korintiërs 11:23-26 (27-29)

Instellingswoorde
Uitdeling en gebruik van die brood en die wyn

Danksegging
Lied 492:2 “Heer, U bring vreugde, vrede en vreugde”

Offergawe
Uitsending

Sang
Lied 488:1-5 “Helder skyn u lig vir die nasies”

Seën
Numeri 6: 24-26 (die priesterlike seën)

Sang
Een van die Amenliedere in die Liedboek/Nuwe Sionsgesange, Lied 312 of 315; NSG 355 of 356

Preekstudie: Lukas 18:9-14

Inleiding
Die sleutelteks is die laaste van vier gelykenisse wat Jesus vertel het in Lukas 16:1-18:14. Twee hiervan het betrekking op sy dissipels en tollenaars en sondaars wat na Hom kom luister het (15:1) en twee op die Fariseërs wat as godsdiensleiers teen Jesus se omgang met hierdie mense beswaar gehad het (15:2). Die sleutelteks kan gesien word as Jesus se uitdaging aan die volk tot radikale hervorming van hulle spiritualiteit en die verhoudings en praktyke wat daaruit voortvloei. Die toetssteen hiervan is die wyse en inhoud van die gebedslewe soos in die gelykenis beskryf.

Teks

Vers 9.Die mense op wie die gelykenis betrekking het word duidelik aangedui. Alhoewel die Fariseërs nie genoem word nie, is hulle met inagneming van die konteks die aangesprokenes. Dit is mense wat in hulle self oortuig was (pepoithotas éph’ éautois) dat hulle regverdig (dikaioi)was en die res (loipoùs), dit wil sê alle ander mense wat nie soos hulle oortuig was nie, eksklusief verag het en op hulle neergesien het (éxouthenountas).

Vers 10. Die woord vir bid (proseuchomai) wat hier gebruik word, dui op ’n intieme gespreksverhouding tussen God en die bidder waarin die bidder God aanbiddend nader en luisterende na die wil van God vir sy lewe verneem. Dit veronderstel ’n helder bewustheid by die bidder van die teenwoordigheid van God. Dat die twee mense hiervoor na die tempel gaan, is in aansluiting by God se eie versekering in Eksodus 25:8 dat hy in die tabernakel tussen die Israeliete sal woon. Dit sluit aan by Salomo se gebed by die inwyding van die tempel in 2 Kronieke 6:20-42, asook by profetiese uitsprake soos Jesaja 56:7. Gebede is gewoonlik in een van die voorhowe van die tempel (bv die voorhof van die vroue – vgl Barnes) gedoen. Die een bidder was ’n Fariseër. Die Fariseërs was die strengste godsdiensbeweging onder die Jode. Hulle was mense wat baie gebid en gevas het, streng handhawers van die seremonies van die wet en die tradisies van die voorvaders was en alles gedoen om deur die mense gesien te word (Matt 23). Die ander persoon was ’n tollenaar, een van die Joodse insamelaars van die Romeinse belastinggelde. Hierdie praktyk het dikwels met korrupsie gepaard gegaan. Juis om daardie rede het hulle groot veragting van die Jode in die algemeen verduur, wat ook nie met hulle wou verkeer of saam met hulle eet nie.

Vers 11. Om te staan was ’n gebedshouding. Verklaarders stem egter nie almal ooreen oor die presiese betekenis van “gaan staan en by homself so gebid” nie. Die volgende verklaring van Gill skyn die bevredigendste te wees: “Die betekenis is dat die Fariseër óf op ’n prominente plek gestaan het om deur ander gesien te word, óf in ’n bepaalde liggaamshouding met ’n baie gewigtige en plegtige voorkoms gestaan het wat op groot toewyding en erns gedui het, óf hy het met groot vrymoedigheid en selfvertroue gestaan. Die frase ‘by homself’ kan ook saamgelees word met ‘staan’. . . dan is die betekenis dat hy alleen staan, ’n ent weg van die tollenaar af, omdat hy op hom neersien en nie deur hom besoedel wil word nie. Dit kan ook saamgelees word met die woorde ‘so gebid’ wat dan beteken dat hy net met betrekking tot homself gebid het.

“Hy was geheel en al op homself gerig en die aanprysing van homself was die onderwerp van sy gebed, sy volle vertroue was in homself gevestig en hy het (deur sy gebed) slegs sy eie roem nagejaag.”

Daar is in hierdie gebed ’n skromelike afwesigheid van enige skuldbelydenis en geen pleidooi om vergifnis, genade en ontferming nie. Dit kan kwalik ’n gebed genoem word maar slegs danksegging teenoor God, nie vir enige goeie ding wat hy van God ontvang het nie, maar met die doel om homself te verhef en sy eie (goeie) werke as die grond van sy geregtigheid te huldig. In sy eie oë is hy hierin anders as ander mense en daarom dank hy God dat hy nie soos hulle is nie. Hy is nie betrokke by ekonomiese, morele en seksuele sondes nie en is ook nie korrup en ’n volksverraaier soos die aanwesige tollenaar nie. Sy gebed word klaarblyklik hardop gebid, sodat almal binne hoorafstand kan kennis neem van sy meriete.

Vers 12. Die Fariseër gee die bewyse van sy aanspraak, naamlik sy gereelde waarneem van vasdae en sy  getroue gee van tiendes. Die Sabbatdag was ’n feesdag en nie ’n vasdag nie. Die vasdae was op die tweede en vyfde dae van die week, of te wel die Maandag en Donderdag. Op hierdie dae is die wet van Moses en die boek van Ester gelees in opdrag van Esra. Vaste vir die gemeente op hierdie dae is vasgestel. Private persone en individue, soos hierdie Fariseër, het dit op hulleself geneem om ook op hierdie dae te vas. Die rede vir sommiges was omdat Moses op ’n Donderdag die berg Sinai bestyg het en op ’n Dinsdag weer afgekom het. Terwyl hierdie mense so dikwels gevas het, het hulle seker gemaak dat hulle liggame nie skade ly nie, want hulle het gedurende die nag kon eet tot dagbreek toe. Maar omdat hierdie handeling moontlik die meriete van die vas in die oë van ander kon verlaag, voeg die Fariseër by dat hy ’n tiende van sy hele inkomste gee. Dit wil sê ’n tiende soos deur die wet van Moses vereis, asook tiendes van sy speseryvoorraad soos deur die tradisie bepaal (Matt 23:23). Hy gaan selfs verder deur sy hele inkomste met ’n tiende aan te slaan. Dus beskou hy homself as ’n baie regverdige persoon verhewe bo die gewone mense. Sy gebed is dus nie ’n gemeenskapsbeoefening met God nie, maar ’n proklamasie van geregtigheid op grond van eie meriete.

Vers 13. Die tollenaar slaan ’n radikaal teenoorgestelde figuur. Hy kom nie nader na die genadetroon in die allerheiligste vertrek in die tempel nie, maar bly uit ’n besef van onwaardigheid “daar ver” (moontlik in die voorhof van die nie-Jode) staan. Sy liggaamlike gebedshouding was volgens Gill in ooreenstemming met die reëls wat die Jode daarvoor neergelê het. ’n Persoon wat staan om te bid moet sy voete langs mekaar plaas en sy oë na benede, na die aarde toe rig; maar sy hart moet oop wees na bo, na die hemel toe. Hy moet sy hande op sy hart plaas met die regter- bo-op die linkerhand. Hy moet soos ’n dienaar voor sy meester staan met vrees en bewing en mag nie sy hande op sy heupe sit nie. Hierdie tollenaar het egter nog verder gegaan. Hy het as teken van sy droefheid en berou oor sy sonde en ’n weersin in homself as gevolg daarvan, op sy bors geslaan. Daarmee het hy deur selfkastyding al sy innerlike krag en geestelike vermoëns opgeroep om na God uit te reik en ook oor homself wraak uit te oefen oor sy sonde. Sy gebed is kort maar boordevol betekenis en grootliks verskillend van dié van die Fariseër. Hy erken en bely dat hy uit sy aard ’n sondaar is wat sy sondige natuur van Adam geërf het en dat hy ’n sondige lewenspraktyk beoefen. Hy is dus volkome skuldig en doemwaardig voor God. Hy het geen meriete in homself nie en die enigste verdienste wat hom toegereken kan word is die oordeel van God. Daarom kyk hy met sy oë af grond toe, waar hy homself in die stof sien lê. In sy hart gloei daar egter die vlam van hoop dat slegs die genade van die God teen wie hy gesondig het tot sy redding kan kom. Genade alleen en nie verdienste nie; geloof in daardie genade alleen en nie werke van geregtigheid nie.

Vers 14. Jesus tree nou as arbiter op. Hy verklaar onomwonde dat die tollenaar en nie die Fariseër nie, se saak met God reg was toe hulle huis toe gegaan het, want slegs die genade van God en nie enige verdienste van die mens nie, kan die gemeenskap tussen God en mens wat deur die sonde van die mens verbreek is herstel. Deur ’n bekende spreekwoord te gebruik toon Jesus aan dat nederigheid en nie hoogmoed nie, die enigste gesindheid is waarin die mens sy saak met God kan reg maak.

Konteks

’n Oppervlakkige beskouing van hierdie gelykenis kan die indruk skep dat Jesus sonder meer teen Fariseërs kant kies as verlore mense wie se verhouding met God skipbreuk ly bloot omdat hulle Fariseërs is en dat Hy die tollenaars, as sondaars, nader trek. So eenvoudig is dit egter nie. Oor die identiteit van die Fariseërs en die rol wat hulle gespeel het in die Joodse samelewing van die eerste eeu, voor die verwoesting van die tempel in 70 nC, is daar nie volkome sekerheid nie. Dr Pieter J J Botha van die Departement Nuwe Testament van die Universiteit van Suid-Afrika het in HTS Teologiese Studies – Vol 59, No 4 (2003) ’n insiggewende studie gelewer oor “Die Fariseërs”. Dit kan van die internet afgelaai word. Hy maak die gevolgtrekking dat die opvatting dat die eerste eeuse Judaïsme wesenlik Farisees-rabbyns was met die drie minderheidsgroepe, die Sadduseërs, die Esseners en die Selote, met relatief  beperkte onderlinge aksentverskille, hoegenaamd nie meer geregverdig kan word nie. Historiese gegewens in die bronliteratuur van die eerste vier eeue is baie skaars en verwarrend. Slegs dertien persone onder wie Paulus, Nikodemus en Gamaliël word as Fariseërs (of betrokke by Fariseërs) geïdentifiseer. Verwysings na groepe Fariseërs is gewoonlik vyandige beskrywings. Nie een van die antieke skrywers rapporteer detail nie. Die Talmoed eis die Fariseërs op as voorgangers van die rabbi’s, maar die Misjna teken ’n ander prent. Die idee dat die rabbynse literatuur die Fariseërs se belange voortsit is gewild, maar histories beskou, baie misleidend. Hierdie literatuur identifiseer geen individu as ’n Fariseër nie.

Op grond van hierdie oorwegings formuleer Botha sy algemene indruk: “Die Fariseërs was verteenwoordigers van ’n sekere manier van die Tora (Wet) en tempelkultus te interpreteer, wat sekere implikasies vir die alledaagse lewe gehad het. Hulle het waarskynlik ’n konkrete, sigbare lewenstyl nagestreef wat relatief suksesvol die vrae en krisisse van sommige Judeërs in die Romeinse ryk aangespreek het. Ons weet nie hoe ’n mens ’n Fariseër geword het of watter soort betrokkenheid nodig was nie. ’n Mens het waarskynlik eerder met ’n benadering en ’n ideaal geïdentifiseer as om lidmaatskap van ’n gedefinieerde organisasie te verkry. Vir Judeërs wat hulle tradisie ernstig wou uitleef was aspekte van Fariseïsme aantreklik.”

Daarom waarsku Botha dat dit verwarrend is om woorde soos “invloedryk”, “party” en “sekte” te gebruik wanneer na die Fariseërs verwys word. Hy wys daarop dat hulle beswaarlik ’n sekte kon gewees het en dat alle aanduidings is dat, alhoewel gerespekteerd, relatief min sosiaal-politieke invloed gehad het. Nie een van die nie-Joodse skrywers van die eerste eeu wat na Judaïsme verwys, vermeld die Fariseërs nie. “Vir die Fariseërs,” sê  Botha, “is die bronne wat kronologies die naaste aan hulle is, vyandig.” Hierdie bronne is die Nuwe-Testamentiese geskrifte, by name Lukas/Handelinge, Markus, Matteus en Johannes. Hy ontleed die gegewens en in besonder die getuienisse van Lukas en Paulus en kom tot sekere gevolgtrekkings, waaronder die volgende:

a. Die evangelies bied nie juis koherente of volledige uitbeeldings van die Fariseërs nie. Hulle wou nie die Fariseërs behoorlik beskryf nie, maar Jesus verkondig.

b. Die indruk wat veral die sinoptiese evangelies laat, is dat Fariseïsme ’n benadering tot Tora en tempelkultus verteenwoordig, een wat die hele lewe op konkrete wyses wil betrek by wat dit is om God se volk te wees.

c. Die Fariseërs blyk hier hoofsaaklik lede van die ondersteunersklas (retainers) te wees, nou verwant aan of selfs deel van dieselfde kringe as die skrifgeleerdes. Hulle blyk betrokke te wees by die tempeladministrasie en hou toesig oor die kultus en die se rol in die samelewing.

d. Dit blyk . . . waarskynlik dat die Farisese “filosofie” besonder naby aan sekere groepe binne die Jesusbeweging was. Hoe die interaksie en verhouding ontwikkel het weet ons nie, net hoe dit geëindig het. Die aanvanklike verweefdheid met mekaar het duidelik vir ’n geruime tyd voortgeduur.  Lukas meen dat begrip en wedersydse aanvaarding moontlik is, maar Matteus en Johannes oordeel dat die twee kante onherroeplik teenoor mekaar stelling ingeneem het.

Dit laat ons met die vraag watter bedreiging die Fariseërs en hulle “filosofie” en/of lewenspraktyk vir Jesus en sy Goeie Boodskap ingehou het, as hulle sosiaal-politieke invloed minimaal was. Jesus het gekom om die Koninkryk van God op aarde te vestig deur ’n volk van God op te rig. In sy bediening sou Hy dus nie aansluiting soek by bestaande politieke praktyke en strukture nie (Joh 18:36), maar Hy sou die heil van die verbondsvolk, wat God deur sy verbond met Abraham in die lewe geroep het, dien. Sal onder die bevolking van ’n land wat deur die Romeine oorheers word en deur viervorste verdeel word, nog geloofwaardige tekens van die voortbestaan van die verbondsvolk gevind word?  Jesus identifiseer die Fariseërs as die draers van daardie tekens (Matt 23:1-3a) en gebied sy dissipels om alles te “doen en onderhou wat hulle vir julle sê”. Hulle openbaar ’n leierskap wat erns maak met die Tora (Wet), tempelkultus en persoonlike godsdienstige bedrywig-hede. Fariseïsme is dus ’n stabiliserende faktor in die Joodse gemeenskapslewe en gee uitdrukking aan die enigste spiritualiteit waarin die verbondslewe tussen God en sy volk kan gedy – as dit suiwer beoefen word.

Dit skyn, volgens Lukas 5:17, 7:36 en Johannes 3:1 dat Jesus aanvanklik ’n redelik ontspanne verhouding met die Fariseërs gehad het. Volgens Botha is dit juis omdat Hy en hulle dieselfde grondslag gedeel het (sien Jesus se standpunt in Matt 5:17-19). Die beginsel wat ten grondslag daarvan gelê het is dat die hele lewe (ek en alles wat myne is) aan God gewy moet word. Die vraag is egter, hoe gebeur dit in die praktyk? En dit is die punt waarop Jesus en die Fariseërs uitmekaar beweeg het. Die Fariseërs was die gerespekteerde yweraars vir die beginsel wat die uniekheid van die Judeërs as verbondsvolk wou waarborg. Die wyse waarop hulle dit gedoen het, het die samelewing op ’n wyse gestruktureer. Daarmee kon Jesus Hom nooit vereenselwig nie. Daarteen het Hy vurige woorde geuiter (Matt 23:13-36). Jesus vereer dieselfde God as die Fariseërs, maar sy verhouding tot Hom is anders; Hy buig onder die gesag van dieselfde Tora (Wet) as die Fariseërs, maar Hy handhaaf die gees van die Wet en nie slegs die letter nie; Hy beoefen dieselfde kultiese handelinge as die Fariseërs, maar beskou dit nie soos hulle as verdienstelike dade nie. Die Fariseërs het die struktuur van die grondslag vir die bestaan van die verbondsvolk behou, maar dit veruiterlik om deur die mense gesien te word en die heilsorde omgekeer; van God-Wet-Kultus na Kultus-Wet-God. Dit is hierteen dat Jesus Hom, as die tweede Adam, in die Naam van God, sy Vader, verset het en as Hervormer uit die hemel Homself geoffer het.

Soos reeds vermeld skei die weë van Jesus en die Fariseërs volgens Lukas 15:1-2: “Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: ‘Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.’ Hierdie beswaar van die Fariseërs het aanleiding gegee daartoe dat Jesus ’n hele reeks gelykenisse vertel het, waarvan ons sleutelteks die laaste is. Die kernboodskap van almal is hoe die mens se saak met God reg kan wees. Die Fariseërs meet die saak van die tollenaars en sondaars aan wat hulle doen en versuim om te doen, in die lig van die Wet en die oorlewering en laat hulle nie tot hulle gemeenskap toe nie. Jesus meet hulle saak aan die gesindheid van hulle harte teenoor God en hulle verhouding tot Hom en hulleself en laat hulle toe tot sy gemeenskap. Die Fariseërs neem self die inisiatief om hulle saak met God reg te maak deur die maatstawwe daarvoor neer te lê, hulleself en hulle werke daaraan te meet en in hulle selfgeregtigheid voor God en die mense te roem. Daarom bepaal hulle ook die grense van die verbondsgemeenskap en sluit die sondaars en tollenaars, wat nie aan hulle maatstawwe voldoen nie, uit. So verdien hulle hulle geregtigheid voor God en sit hulle self op die regterstoel wat slegs die prerogatief van God is. Selfverlossing deur verdienstelike werke, wat hulle in ooreenstemming met hulle interpretasie van die Wet uitvoer, is vir hulle die weg tot die regte verhouding met God – dit is hulle heilsorde. In ons sleutelteks keer Jesus hierdie orde radikaal om. In die persoon van die biddende tollenaar beskrywe Hy die magtelose toestand van alle mense om uit eie krag of verdienste hulle verbroke verhouding met God reg te maak. Dit is God wat die inisiatief neem en uitsluitlik uit genade na die onverdienstelike sondaar (deur die tollenaar in die gelykenis verpersoonlik) uitreik en Hom met die een wat sy sonde en onverdienstelikheid erken, versoen op grond van sy Genadegawe (sien ook Eseg 16:62, 63 en 2 Kor 5:18, 19). Dit is hierdie dwaling van die Fariseërs met betrekking tot die heilshandeling van God met sy verbondsvolk wat Jesus fundamenteel hervorm het; deur die egte heilsorde van verlossing te verkondig en met die offer van sy lewe aan die kruis te bevestig.

Die probleem van die Fariseërs en tollenaars in die tyd van Jesus was deur die eeue heen ook die probleem van die kerk. Dwaling en hervorming het die loop van die geskiedenis gekenmerk en bepaal. God het van tyd tot tyd mense opgewek om die kerk terug te roep na die grond van sy bestaan, naamlik God se reddingshandeling deur die gawe van sy Seun uit vrye genade. Want suksesse, prestige en rykdom het baie mense van die kerk hulle vertroue laat stel in eie waarde en uiteindelik verdienste voor God. Die voorloper van die groot Hervorming van die sestiende eeu, Martin Luther, se kwelvraag in sy worsteling om sy saak met God reg te maak was: “Hoe vind ek ’n genadige God?” Die uitslag van hierdie worsteling saam met die talle kollegas in hierdie stryd soos Zwingli, Calvyn, Knox en ander, was die leuse van die Reformasie: “Genade alleen! Christus alleen! Geloof alleen!” Ons sien die beeld van die tollenaar wat verslae op sy bors slaan en met die hartgrondige belydenis van sy volkome onwaardigheid en onverdienstelikheid slegs om genade by die God van liefde pleit.

Die kerkhistorikus Dr H Berkhof wys daarop dat Luther teenoor die Farisese wettiese strewe na heiligheid die regverdigmaking deur die geloof alleen stel; en teenoor die priesterheerskappy (van ’n eksklusiewe leiersklas) die enige en genoegsame gesag van die Heilige Skrif (teenoor die tradisie). Hy gaan voort: “Helaas zullen wij zien, dat de oerzonde ook aan de aldus hervormde kerk niet vreemd is gebleven. Hervorming der kerk is dan ook geen zaak die eens voor goed klaar is. Het is een wonder van de Heilige Geest, dat zich in de enkeling en in de gemeente telkens zal moeten herhalen. Want het is een wonder, wanneer de vrome mens als zondaar onder het gezag der genade leert buigen. Luther heeft dat geleert. En tot vandag toe is hij daarom in staat ook anderen dit te helpen leren.”

Preekvoorstel

In die preek oor ons sleutelteks op Hervormingsondag sal daar uiteraard aandag geskenk moet word aan die Hervorming van die sestiende eeu en wat daarop gevolg het. Dit sal ook reflekteer op die kerklike situasie in ons tyd en veral in ons eie land en meer bepaald binne ons NG Kerkfamilie in ons strewe na eenheid. Die snydende analise wat Jesus gee van die ingesteldheid van verskillende mense tot hulle verhouding met God en hulle medemens deur die gelykenis van die biddende Fariseër en tollenaar, is onmisbaar tot ’n verklaring van die suksesse en mislukkings van die kerk as geloofwaardige draer en verkondiger van die geopenbaarde heilsboodskap. Terselfdertyd is dit ’n oproep tot ’n onherroeplike keuse vir Christus, want Hy alleen maak, uit genade alleen sonder verdienste aan hulle kant, deur sy offer aan die kruis, Fariseërs, tollenaars en nie-Jode vir altyd God se erfgename en geloofskinders van Abraham.

Bibliografie

Barnes, A. Notes on the Bible – Luke (E-Sword); Berkhof, H. Geschiedenis der Kerk (Callenbach – Nijkerk); Clarke, A Commentary on the Bible (E-Sword); Gill, J. Exposition of the entire Bible (E-Sword); Henry, M. Commentary on the whole Bible (E-Sword); Keil & Delitzsch. Commentary on the Old Testament (E-Sword); Jamieson, Fausset, Brown. A Commentary on the Old and New Testaments (E-Sword); Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Verwysingsbybel 1983; Wilcock, M. The Message of Luke.  Leicester: Intervarsity Press.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.