Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Lukas 20:27-38
Ander tekste: Haggai 1:15b-2:9; Psalm 145:1-5,17-21; 2 Tessalonisense 2:1-5,13-17

Inleiding

Daar wag vir die gelowiges ’n wonderlike lewe by God, want Hy is God van die lewendes. Die gelowige kan daarna uitsien. Tog weet die gelowige dat hy/sy in hierdie lewe God altyd by hom/haar het. Daarom moet ons mekaar herinner aan die grootheid en goedheid van die Here. Omdat ons uitsien na wat vir ons voorlê, leef ons in  groter toewyding aan die Here. Moenie dat enige iets jou van stryk bring nie.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Verkondig die lof van ons God en Koning.
Prys die Naam van die Here elke dag.
Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.
Gemeente: Ons  getuig van die magtige dade van die Here
sodat die mense oor sy wonderdade praat.

Voorganger: Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
Die Here help almal op wat geval het.
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here maak sy hand oop
en skenk guns in oorvloed aan al wat leef.
Gemeente: Ons sal  van sy grootheid vertel.
Ons jubel oor sy reddingsdade.

Voorganger: Die Here is naby almal wat Hom aanroep,
almal wat Hom in opregtheid aanroep.
Gemeente: Ons sal die lof van die Here verkondig.
Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys (Ps 145).

Diens van die Woord

Kindertyd
Vra die kinders hoe hulle dink dit in die hemel gaan wees.  Kry verskillende antwoorde.  Na alles weet ons nie regtig hoe dit in die hemel gaan wees nie.  Wat ons wel weet, is dat ons by Jesus gaan wees en dat dit wonderlik gaan wees. Dit gaan heel anders wees as wat ons nou beleef.  Noem ’n paar slegte dinge op.  In die hemel gaan daar net goeie dinge wees en om daaraan deel te hê, vra die Here dat ons in Jesus sal glo. Uit dankbaarheid dien sy kinders Hom in gehoorsaamheid.

Diens van die tafel

Wie sien uit na die hemel? Ja, ons almal sien uit na die hemel en ons kry nou al so ’n voorsmakie daarvan as ons aansit aan die nagmaalstafel en die tekens van wyn en brood ontvang.

Die nagmaal is ’n uitnodiging om ons aandeel aan die verlossing in Jesus feestelik te vier. Dit verseker ons ook van ons verlossing sodat ons bly uitsien na die feesmaal saam met die Here in sy ewige koninkryk.

Wanneer ons die tekens in die hand neem, weet ons dat ons op pad is na die hemel.

Uitsending

Seën
Mag die ewige Lig van God ons Vader jou lewe verlig.
Mag die oorvloedige liefde van Jesus, ons Here, jou toevou.
Mag die krag van die Heilige Gees jou laat volhard in  geloofsvertroue totdat die Here ons kom haal.

Musiek en sang

Lofsang: Lied 168 “Heilige Jesus”; 223 “Aan Jesus Koning al die eer”; 412 “Jesus Christus lewe”; 571 “Here hoeveel blye dae”; Flam 21 “In die hemel is die Heer”; NSG 160.
Verootmoediging en toewyding: Lied 241 “Troue Here van my lewe”; Flam 7 “Here, ek vergeet so gou”; NSG 255
By die nagmaal: Lied 599 “As Hy weer kom”
Slotsang: Lied 601 “Die wat die Here wil dien”; NSG 138 “Het jy gehoor dat eenmaal”

Preekstudie: Lukas 20:27-38

Inleiding
Die voorafgaande perikoop (20:20-26) vertel van nog ’n konfrontasie tussen Jesus en die godsdienstige leiers. Jesus se teenstanders stuur ander persone om hulle vuil werk te doen. Die mense wat hulle stuur, word beskryf as “geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het” (20:20). Hulle wil Jesus op een of ander uitspraak vastrek sodat Hy aan die goewerneur uitgelewer kan word. Hiermee kry die bedreiging teen Jesus ’n politieke kleur. Die leser word op hierdie wyse voorberei vir die aanklag wat teen Jesus gebring sal word wanneer Hy verhoor word (23:2-5).

Teks

Jesus is nog steeds in die tempel en Hy word nou deur die Sadduseërs gekonfronteer (20:27-38). Dit is die enigste keer dat Lukas na hulle verwys. Die Sadduseërs het veral uit die ryk en belangrike families in Jerusalem gekom. Hulle was ’n invloedryke deel van die leierskorps en die kern van die priesterdom in Jerusalem.

Die Sadduseërs het nie in die lewe na die dood geglo nie (v 27), nog minder in die opstanding van die dooies. Hulle het ook die bestaan van geeste en engele ontken. Hierin staan hulle in skerp teenstelling met die Fariseërs (vgl Hand 23:6-8). Hulle het uitsluitlik die boeke van Moses, waar die geloof in die opstanding nog nie duidelik na vore tree nie, as gesaghebbend aanvaar. Die Fariseërs aanvaar ook nog die boeke van die profete waar dit duideliker word dat die opstanding verwag word.

Die Sadduseërs gebruik ’n voorskrif van Moses oor die swaers- of leviraatshuwelik (Deut 25:5; Gen 38:8) om Jesus te toets oor sy beskouing oor lewe na die dood. Dié voorskrif het bepaal dat, as ’n man kinderloos sterf, die broer van die afgestorwene sy skoonsuster moet neem en vir sy broer kinders verwek sodat die oorledene erfgename kan hê. Die rede vir hierdie reëling lê in die antieke siening dat die man die draer en instandhouer van die familienaam is. Sonder ’n seun loop nie net die individu nie, maar ook die familie gevaar om uit te sterf. Hou in gedagte dat dié siening ook saamhang met die konkrete wyse waarop die werklikheid beleef is. Die beste manier waarop ’n mens “onsterflikheid” kon bekom, was deur ’n nageslag.

Deur ’n geval te noem waar sewe broers die een vrou gehad het, en te vra wie se vrou sy by die opstanding sal wees, wil die Sadduseërs die opstandingsgeloof belaglik voorstel. Hulle wil egter ook te kenne gee dat Moses nie met die opstanding rekening gehou het toe hy die leviraatshuwelik voorgeskryf het nie. Dus, so lei hulle af, het Moses ook nie in die opstanding geglo nie.

Jesus bring met sy antwoord ’n regstelling by beide die Sadduseërs en Fariseërs se siening oor lewe na die dood. Die Fariseërs het geglo dat die lewe hierna ’n voortsetting sou wees van die aardse bestaan, maar in volmaakte geluk. Dus, sou ook die huwelik hierna bestaan. Jesus beklemtoon dat die dinge in die toekomstige wêreld heeltemal anders is as in hierdie wêreld. Daar sal geen huwelik nodig wees nie omdat diegene wat deel het aan die opstanding nie meer kan sterf nie – hulle hoef dus nie voort te plant nie. God maak sy kinders weer lewendig en sal hulle daar by Hom ’n blyplek gee. Hulle sal soos die engele ook “geestelike wesens” wees. Daarom is dit vergesog om te wil meen dat elkeen hierna weer ’n vrou sal hê.

Jesus wys hulle verder daarop dat God nie ’n God van die dooies is nie, maar van die lewendes. Dit kan gesien word by die aartsvaders. Jesus neem hulle terug na die gebeure by die brandende doringbos (Eks 3:6) waar Moses verneem het dat God “die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob is”. Daar is slegs een manier waarop God in Moses se tyd steeds kan sê dat Hy die God van die aartsvaders is, en dit is dat hulle nog lewe. Anders moes God gesê het: “Ek “was” die God van . . .” Daardeur is juis in die boeke van Moses, wat deur die Sadduseërs aanvaar word, ’n bewys voorhande dat daar lewe na die dood is en dus ook ’n opstanding, want by Hom leef hulle almal (v 38).

Die Sadduseërs reageer nie direk nie, maar sommige van die skrifgeleerdes (Fariseërs) reageer namens hulle met bewondering. Hulle is maar te dankbaar dat die Sadduseërs se mond gesnoer is.

Konteks

Dit is veelseggend dat Jesus op die vooraand van sy dood juis oor die opstanding praat. Hy wys nie net die dwaling van die Sadduseërs af nie – iets skemer ook deur van God se komende orde waarin die dood oorwin is en die mens ’n nuwe bestaanswyse ontvang. Christus se eie opstanding is ’n teken en die waarborg hiervan. God bring met die opstanding van sy kinders ’n totale nuwe orde tot stand. Normale aardse instellings, soos die huwelik, bestaan dan nie meer nie. Man en vrou is soos die engele (v 30). Hiermee verval die argument van die Sadduseërs.

Dit is ook veelseggend dat Jesus in sy antwoord Eksodus 3:6 gebruik. Jesus wil hiermee “God se verbondstrou” bevestig. Hy verwys spesifiek na die eerste voorouers met wie God ’n verbond gesluit het (vgl Gen 17). God het beloof dat Hy vir hulle ’n God sal wees en hulle vir Hom ’n volk. Dat God steeds vir hulle ’n God is ná hulle dood, dui op sy verbondstrou. Die seën van sy verbond strek oor die grens van die dood van sy kinders. Die krag van sy belofte is nie afhanklik van menslike rede of sterflikheid nie, maar van sy trou.

Die aanhaling uit Eksodus 3:6 herinner ons ook aan die “krag van God”. Abraham en Sara kon weens hoë ouderdom (en Sara se onvrugbaarheid) menslikerwys geen kinders meer hê nie. Tog is Isak gebore. Die boodskap is duidelik: Dieselfde God wat ’n hele nasie op hierdie wyse tot stand gebring het, is by magte om uit vergane, menslike materiaal iets nuuts tot stand te bring.

Teenoor Jesus, wat die boodskap tuisbring dat niks vir God se krag te groot is nie, staan die Sadduseërs met hul dodelike realisme. Hulle kon in die eerste vyf boeke van Moses niks raaksien wat dui op die oorwinning van die lewe oor die dood nie. Die opeenvolgende geslagte van Genesis 1-11 is deur die lens van Genesis 3:19 bekyk – die vloek van die doodsvonnis wat God oor die mens uitgespreek het. Die dooie geslagte was vir hulle ’n bewys van die menslike lewe wat met eentonige reëlmaat op die dood uitloop. Nie eens God kan hierdie dodelike siklus ophef nie.

Jesus sluit by die tradisiestroom aan wat in die geslagte van Genesis 1-11 die voortstuwende lewe sien, wat ten spyte van die dood, vermeerder en die aarde vul. God is getrou en kom sy beloftes aan die aartsvaders na. Hy laat ’n verlore geslag Israeliete herrys tot ’n groot en magtige volk.

Preekvoorstel

Hierdie teks kan baie goed tot sy reg kom by ’n preek waar die troos van die evangelie voorop staan, veral by ’n begrafnis. Die aard van die gesprek tussen Jesus en die Sadduseërs maak nog ’n moontlike weg oop, naamlik ’n apologetiese benadering. Hierdie preekvoorstel wil laasgenoemde ontgin.

Onderliggend aan die Sadduseërs se vraag lê ’n spottende realisme, gebore uit hulle siening van die werklikheid. Hulle het slegs dít wat ’n mens met jou sintuie kan waarneem as waar en werklik aanvaar. Daarom het hulle die opstanding en enige vorm van lewe na die dood verwerp. Hulle het selfs die bestaan van die geesteswêreld, byvoorbeeld engele, ontken.

Die tipe realisme wat die Sadduseërs aan die dag gelê het, is vandag nog springlewendig in die Westerse denke. Gesigte daarvan is skeptisisme en sinisme – selfs by gelowiges. Ons uitkykvensters op God is gesluit as gevolg van ’n geslote wêreldbeeld. Geweldige prestasies wat die mens op vele terreine behaal het, het dit wat God kan vermag op die agtergrond gedwing. Niks kan meer buite die rasioneel en tegnies moontlike om gebeur nie. Daarom dink ons klein oor God. Die Bybelse prentjie, en dié van die teks onder bespreking, wat vertel van God wat sy beloftes waar maak en ’n nuwe orde kan skep, het in baie se denke ’n sprokieswerklikheid geraak – dis mooi, selfs aangrypend, maar nie waar nie.

Gesonde realisme is goed. Realisme wat egter nie met God se vermoëns rekening hou nie is ongeloof! Dit is wanneer mense leef met ’n geslote wêreldbeeld – niks meer word van die lewe verwag as wat voorspelbaar is nie. Of nog erger – wanneer God gesien word as ’n gevangene van die natuurwette wat Hy in die skepping gelê het. Hy kan nie juis verander aan die dinge wat hier onder afspeel nie. Hierdie tipe realisme eindig gewoonlik in wanhoop. Uiteindelik is daar niks meer oor om voor te leef nie.

Teen hierdie agtergrond maak die teks geweldige moontlikhede oop oor die wese en krag van God. Eksodus 3:16 is hier van groot hulp (verwys die aspekte wat by “konteks” ter sprake gekom het). Die opstanding as lewe in gemeenskap met God, as totale redding en uiteindelike bestemming van die mens, ontplooi as alternatief vir mense wat met ’n geslote wêreldbeeld leef.

’n Nuwe lewenshouding kom dan na vore – dié van kinderlike verwondering oor en verwagting van God se (her)skeppende krag. Dit staan nie teenoor die vermoëns van die mens nie, trouens die mens word hierby ingesluit. Dink maar net aan die voortplanting van die mens. Ons aanvaar die geboorte van ’n baba in die meeste gevalle as vanselfsprekend – waarom kan ons dan nie die geboorte van die nuwe mens (nou en in die toekoms) met dieselfde gemak aanvaar nie? Wat van ’n preek by die doop van ’n baba?

Bibliografie

Burger, C W, Müller B A & Smit D J 1995. Woord teen die Lig 1/9. Verdere riglyne vir Paas- Hemelvaart- en Pinksterprediking. Kaapstad: Lux Verbi; Groenewald
E P 1989. Die Evangelie volgens Lukas, Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers; Van Zyl H 1996. Staan op en Lewe, Kaapstad: Lux Verbi,; Vosloo W & Van Rensburg F J 1999. Die Bybellenium Eenvolumekommentaar, Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.