Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tekste uit die Nuwe Testament besing vandag die koninkryksdeug daarvan om te woeker met die Here se gawes soos goeie en getroue slawe in die Here se koninkryk. Dit is hoe gelowiges behoort te waak en te wag. Dan sal die wederkoms hulle nie oorval nie. Die tekste uit die Ou Testament beklemtoon die waardevolle geloofsgroei wat voortvloei uit die samehang tussen genade, gehoorsaamheid en afhanklikheid van die Here.

Ander tekste

Rigters 4:1-7
Debora
4 Na Ehud se dood het die Israeliete weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 2Die Here het hulle oorgegee in die mag van koning Jabin van Kanaän wat in Hasor geregeer het. Sisera uit Garoset-Gojim was die hoof van Jabin se weermag. 3Hy het nege honderd ysterstrydwaens gehad en hy het die Israeliete twintig jaar lank verdruk.

Daarom het hulle tot die Here geroep om hulp. 4In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ’n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê. 6Sy het vir Barak seun van Abinoam uit Kedes in Naftali laat roep en vir hom gesê: “Die Here die God van Israel beveel jou: Trek met tien duisend man uit Naftali en Sebulon op na Taborberg toe. 7Ek sal vir Sisera, die hoof van Jabin se leër, met sy strydwaens en sy leër na jou toe laat optrek tot by Kisonspruit en Ek sal hulle in jou mag oorgee.”

Psalm 123
Ek sien na U op
123 ’n Pelgrimslied.
Ek sien na U op,
U wat uit die hemel heers.
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.
3Ontferm U oor ons, Here,
ontferm U oor ons,
want ons het meer as genoeg veragting
gehad,
4meer as genoeg spot
van oormoedige mense,
veragting van hovaardiges.

1 Tessalonisense 5:1-11
Die wederkoms van die Here
5 Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. 2Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag. 3Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne ’n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. 4Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos ’n dief oorval nie. 5Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. 7Dié wat slaap is van die nag; en die wat hulle dronk drink, is van die nag. 8Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.

11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

Fokusteks

Matteus 25:14-30
Die profetiese rede: die gelykenis van die muntstukke

(Luk 19:11–27)
14“Verder gaan dit soos met ’n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besittings aan hulle toevertrou. 15Vir een het hy vyf goue muntstukke gegee, vir ’n ander twee, en vir ’n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.

16“Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en ’n wins gemaak van nog vyf. 17So ook die een wat twee gekry het: hy het ’n wins gemaak van nog twee. 18Maar die slaaf wat een gekry het, het ’n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19“Na ’n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle rekenskap gevra. 20Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: ‘Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.’21Toe sê sy eienaar vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

22“Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: ‘Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.’23Sy eienaar sê toe vir hom: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’

24“Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: ‘Meneer, ek ken u en weet dat u ’n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie. 25Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.’26Toe sê sy eienaar vir hom: Jy is ’n slegte en ’n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie. 27Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het. 28Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het. 29Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 30En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ekstra stof

Jesus spoor sy dissipels aan tot getrouheid met die gelykenis van die muntstukke – 25:14-30
Die tweede gelykenis het met getrouheid te make, die nougesette uitvoering van die verantwoordelikhede wat die Here aan sy dissipels uitdeel, hier gesimboliseer met die talente wat die slawe ontvang. ’n Talent was ’n groot bedrag geld in daardie tyd, gelykstaande aan 6 000 denarii. Een denarius was gelykstaande aan die gebruiklike dagloon vir ’n gewone arbeider. As die dagloon dus R100 sou wees – by wyse van spreke – sou een talent R600 000 werd in vandag se terme gewees het. Die eerste slaaf het dus R3 miljoen gekry, die tweede R1.2 miljoen en die laaste een R600 000.

Die eerste twee slawe het hulle geld verdubbel, die derde een het dit weggesteek en niks daarmee gedoen nie. Die eerste twee word dan aangeprys deur die eienaar met sy terugkoms, die laaste een uitgewerp weens sy slegheid en luiheid wat nie eers net rente op die geld laat verdien het nie.

Die punt van die gelykenis is dat die dissipels wat hulle verantwoordelikhede nakom – die talente kan natuurlik ook dui op gawes – die Here se guns sal geniet en dié wat dit nie doen nie, sy gramskap sal ontvang.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord 
Seëngroet 

Lied Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Verootmoediging

Wet: (Kolossense 3)

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1”

Vryspraak: (Psalm 103)

Lofliedere
Lied 186 “Ons kom loof U as ons Vader 1,2” en/of
Lied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 25:14-30

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1

Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord 
2Soos die oë van ’n slaaf
gerig is op die hand van sy eienaar,
soos die oë van ’n slavin
gerig is op die hand van haar eienares,
so is ons oë gerig op die Here ons God,
totdat Hy Hom oor ons ontferm.

Seëngroet 
Aan die gemeente van die ……………………………, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle! (1 Tessalonisense 1)

Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Verootmoediging

Wet: (Kolossense 3)
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Skuldbelydenis: Lied 279 “Hoor ons sug o Heer 1”

Vryspraak: (Psalm 103)
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons
nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons
ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand
tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde
vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons af.
13Soos ’n vader hom ontferm
oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom
oor dié wat Hom dien.

Lofliedere
Lied 186 “Ons kom loof U as ons Vader 1,2” en/of
Lied 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Liedere

F10. “Jesus, Alles Gee Ek U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Jesus, all for Jesus
Teks en Musiek: Robin Mark & Jennifer Atkinson
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1991 Authentic Publishing

1. Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
En wat ek ooit sal wees.
Al my hoop, my planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.
Al my hoop en planne en my tyd
Lê ek in u hand,
Vertrou ek aan U toe.

Refrein:
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Deur U wil te doen, leer ek om vry te wees.
Jesus, alles gee ek U,
Wat ek is en het
en wat ek ooit sal wees.

F221. “Ek Wil Meer Lyk Soos Jesus”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Meer en meer
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music
vgl 2 Kor 3:18 NLV

Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Hy
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus

Ek wil meer en meer lyk soos Hy.
In alles wat ek is
en in alles wat ek doen
wil ek word soos wat Jesus dit wil.

Elke oomblik, elke dag
en nie net af en toe
want dit maak ‘n reuseverskil.
Ek wil graag dat die mense Jesus in my sien
omdat ek ‘n getuie wil wees.
Al is ek nog so jonk,
is niks en buitendien
ek’s ‘n brief wat die wêreld kan lees.

Ek weet dit net soos jy
dat ek dit self nie kan nie
daarom gee Hy sy Heilige Gees
Hy help my meer en meer
om te leef soos Hy beplan
sonder Hom was ek nêrens gewees.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Matteus 25:14-30

Prediking

Familie-oomblik

Badskuim!
Jy het twee ewe groot glasbakke nodig – asook badskuim. Tap die twee glasbakke vol water en maak seker albei het ewe veel water in. Terwyl die mense kyk, neem dan die badskuim en gooi een proppie skuim in die een bak en 5 proppies skuim in die ander bak.

Vra dan vir die kinders watter van die twee bakke die meeste skuim gaan maak. Hulle sal sê dis die bak met die 5 proppies badskuim in.

Neem dan jou hand en roer die water van die bak met die een proppie in, totdat dit skuim. As daar lekker baie skuim is, staan terug en sê vir die mense: “Julle is verkeerd, dis die een met die een proppie badskuim.”

Hulle behoort te protesteer en sê, dis omdat jy nog nie die ander bak geroer het nie.

Sê dan iets soos: “Dis presies die punt van die gelykenis. Dit gaan nie oor die hoeveelheid talente/muntstukke/geleenthede nie, maar wat jy daarmee maak. Woeker jy, woel jy daarmee of los jy dit!”
(Uit Matteus 25:14-30 se bydrae by seisoenvanluister.co.za, 16 November 2008.)

Preekriglyn

Een keer ‘n maand kom ‘n groep bymekaar, gewapen met haardroërs, skêre, naelpolitoer – en liefde – om mense te dien wat minder in die lewe het as hulself.

Haarkappers in die Markplek (HIM), ‘n bediening van die Willow Creek Gemeenskapskerk in Chicago, bied maandelikse Dag van Skoonheid-sessies aan waar behoeftige vroue ‘n gratis haarsny en nael-versorging ontvang. HIM-vrywilligers gaan ook na tehuise waar behoeftiges versorg word, skuilings, en versorgingsentra vir gestremdes om hul diens gratis aan te bied.

Haarstilis Teresa Russo-Cox het HIM in 1998 gestig nadat sy onsuksesvol op verskeie plekke in Willow Creek probeer dien het. Nie een van die geleenthede het by haar gepas nie. Sy wou ook by God weet waarom sy ‘n talent ontvang het wat soveel met ydelheid te doen het. “Hoe kan ek U dien?”, wou sy weet.

Teresa sê die Here het haar gebed beantwoord met ‘n visie vir ‘n groep wat nie alleen die Here se liefde en sorg aan vroue in nood kommunikeer nie, maar wat ook na ander haarstiliste uitreik. “Dit onderskei ons van ander bedieninge wat gratis haarsnitte aan behoeftiges bied,” sê Teresa. “Ons fokus ook op die kommunikasie van die evangelie in die haarindustrie, wat met soveel duisternis gevul is. Die onderliggende boodskap is dikwels dat dit net die uiterlike is wat saak maak – glans en glinster. Ek wil die lig van die Here se Woord in ons industrie laat skyn.”

Sommige van die “kliënte” verras die HIM-vrywilligers. Op ‘n Dag van skoonheid in 2006 het tienerdogters, wat besig was met dwelm- en alkoholrehabilitasie, gesê hulle het nog nooit regtig sulke “sober” pret beleef nie. Hulle het hul gate uit geniet.

“Ek het nooit enige selfvertroue gehad nie,” vertel Doreen. Sy is na ‘n Dag van Skoonheid genooi nadat sy en haar twee voorskoolse kinders haar alkoholverslaafde man, wat haar dikwels verneder en misbruik het, verlaat het. “Daardie dag het my pragtig van buite gemaak, maar het my ook diep binne aangeraak. Ek het vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd mooi, spesiaal en die moeite werd gevoel.”

Dit gebeur, omdat mense hulle gawes vrywillig in ander se diens gebruik, en so mede-haarstiliste en mense in nood se lewens aanraak.

Só anders

Mense wat hul lewe en die gawes wat hulle van God ontvang, in diens van ander gee, is soveel anders as die meeste mense van ons tyd. Ons leef in ‘n kultuur wat op selfvervulling en selfverwesenliking ingestel is. Ons vind dit goed en reg dat mense vir hulleself versamel, die beste van hulle eie talente vir hulleself maak. Ons herken dinge moeilik as gawes wat God vir ons gee met die oog op ‘n koninkrykslewe.

Die krisis van ‘n lewe gerig op selfvervulling is dat dit ons isoleer van ander mense. Ander word eintlik kompetisie, mense wat uitoorlê en oorwin moet word. Ons word dié soort mense wat Martin Luther die “homo incurvitas”, die mens wat in homself gekeer is, noem. Figuurlik gesproke is dit die mense wat ure na sy of haar eie naeltjie kan staar, totaal daardeur gefassineer.

Reeds in 1965 het Simon en Garfunkel ’n liedjie gesing wat op ’n treffende manier die mens van ons tyd beskryf het. Hulle noem die tipiese mens van ons tyd “A most peculiar man”. Dit is ook die titel van die liedjie.
He was a Most Peculiar Man
That’s what Missus Riordan said and she should know;
She lived upstairs from him.
She said he was A Most Peculiar Man.
He was A Most Peculiar Man.
He lived all alone within a house,
within a room, within himself,
A Most Peculiar Man.
He had no friends, he seldom spoke
and no one in turn ever spoke to him,
‘Cause he wasn’t friendly and he didn’t care
and he wasn’t like them.
Oh, no! he was A Most Peculiar Man.
He died last Saturday.
He turned on the gas and he went to sleep
with the windows closed so he’d never wake up
to his silent world and his tiny room;
and Missus Riordan says he has a brother somewhere
who should be notified soon.
And all the people said, “What a shame that he’s dead,
but wasn’t he A Most Peculiar Man?”

‘n Gelykenis oor volle lewe

In groot wysheid vertel Jesus ’n gelykenis waarin Hy die gesindhede ontmasker wat mense al eeue lank weerhou van die koninkrykslewe. Jesus het natuurlik gelykenisse vertel, nie alleen om die koninkrykslewe aan sy hoorders te ontsluit nie – Jesus het die koninkryk self beliggaam. ’n Mens sou kon sê as jy wou weet hoe die koninkryk van God lyk, kyk na Jesus. Hy het alles wat Hy van God ontvang het, weggegee om lewe vir ander moontlik te maak.

Koninkryksgawes

In die NAV word gepraat van die goue muntstukke. Letterlik word hier van talente gepraat. Wat beteken die talente?

Daar is baie misverstand hieroor, asof Jesus maar bloot van gawes praat, aanleg, natuurlike talente. Tereg skryf Stanley Hauerwas:

No parable has been more misused than Jesus’s parable of the talents. Once any parable is abstracted from Jesus’ proclamation of the kingdom, once any parable is divorced from its apocalyptic context, misreading is inevitable.

Die talente is bepaald nie die talente waarvan ons praat wanneer ons sê dat iemand talentvol is nie. Die geld wat destyds die meeste waarde gehad het, was talente. Een talent gelykstaande was aan die dagloon van ses duisend mense. ’n Talent was dus iets met ’n baie hoë waarde. Selfs een talent was baie werd. Binne die konteks van hierdie gelykenis is betekenis van die talente uiteindelik nie geld nie en was dit ook nie natuurlike vermoëns nie. Die talente is gawes van God (wat baie werd is) en hulle simboliseer geleenthede om goeie werke te verrig.

Die talente behoort nie aan die slawe nie. Hulle het dit ontvang en moet dit uiteindelik aan die eienaar terug besorg. Dit is in die volste sin van die woord gawes. Verklaarders aanvaar dat hier duidelik verwys word na die wederkoms van Jesus wat, soos die eienaar, sal terugkom om rekenskap te eis. Hierdie gelykenis beklemtoon, soos die ander twee, die kritieke belang van die oproep tot waaksaamheid en diensbaarheid.

Weggaan en terugkeer

Die gelykenis van die muntstukke begin met ’n man wat op reis wou gaan. Wanneer hy sy slawe met sy besittings toevertrou, gee hy hulle goue muntstukke volgens elkeen se bekwaamheid. Die verhaal begin en eindig met die weggaan en die terugkeer van die eienaar. Sy slawe weet dat hy gaan terugkeer, maar nie wanneer nie. Wat tussen sy vertrek en terugkoms gebeur, bepaal wat na aanleiding van sy tuiskoms gaan gebeur.

Die lewe is wat met ons gebeur tussen die krip en die graf. Vir Christene is dit nie bloot die biologiese oorlewing wat een jaar in die volgende laat vloei nie. Na aanleiding van die gelykenis van die goue muntstukke kan ons sê dat Christene hierdie lewe ten diepste as gawe van God sien. Die slawe ontvang die muntstukke. Nie een weier dit nie. Dit was nooit hulle s’n nie. Dit sal ook nooit hulle s’n wees nie. Van die begin af verstaan ons ons lewe as God s’n. Maar dit kom met ’n opdrag, ’n roeping: Gaan maak wins daarmee. Woeker. Lééf nou! Dit is die koninkrykslewe. Die koninkrykslewe is die lewe van die nuwe mens. Die eerste twee slawe leef die koninkrykslewe. Hulle gaan elkeen en verdubbel dit wat hulle ontvang het.

Die selfbehepte lewe

Die selfbehepte lewe is om God te reduseer tot slawedrywer, die self tot slaaf en die gawe tot besitting. Die derde slaaf is ons “Most Peculiar Man”. Hy is die snaakse mannetjie van ons tyd wie se lewe toegesluit is in hom, in die illusie dat die sleutel binne-in hom opgesluit lê.

Die titel is natuurlik ironies bedoel. Die “Most Peculiar Man” is glad nie so “peculiar” nie – hy verteenwoordig ‘n baie algemene manier waarop mense lewe. Ons sien net nie raak hoe vreemd en onnatuurlik, hoe verarmend en vereensamend dit is om so te lewe nie.

Hierdie slaaf sy lewe is ’n voortsetting van die benoude godsdienstige wêreld waarbinne hy hom bevind. Hy is bang vir die gewer van wie hy die gawe ontvang het. Hy weet dat daar van hom rekenskap geverg gaan word. Van die begin af verstaan hy die lewe ook heeltemal verkeerd. In sy kop is die eienaar ’n slawedrywer – kwaai en veroordelend. Dit maak van hom noodwendig ’n slaaf. Só skryf hy eintlik sy eie verlossingsleer: My god is ’n slawedrywer en ek ’n slaaf. My verlossing lê daarin dat ek in my slawerny die bietjie wat ek het ten alle koste bewaar.”

Verdraaide Godsbeeld

Die derde slaaf se keuses het opgedroog. Vir hom was die gewer eintlik die hebsugtige – die een wat net vat – die dief: “Meneer, ek ken u as ’n harde man, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie” (25:24). Hy ontwikkel ’n obsessie met die gawe wat hy ontvang het. Hoe groter die afstand tussen sy gawe en die Gewer, hoe banger word hy. Uiteindelik is hy só deurdrenk van die vrees, dat hy maar sy gawe begrawe: Liewer bang Jan as dooie Jan. My god is ’n dief en dus word ek ook een.

Lewenslus en kreatiwiteit is daar nie meer by hom nie. Die heel veiligste is om niks te doen nie. Die lewe is mos soos ’n geslote ekonomiese sisteem waarin alles (en almal!) verbruiksartikels is – daar kan mos nooit genoeg wees vir almal nie! Op die ou einde breek alles in die lewe gelyk. Daarom is die beste strategie om dit wat ek het eenvoudig weg te steek en dit nie aan die lewe bloot te stel nie! Van die koninkryk en van die evangelie is hier nie sprake nie!

Vrees vernietig

Die gelykenis ontmasker die gesindheid agter die derde slaaf se sogenaamde vrees as ’n verdraaide Godsbeeld. Dié gesindheid reduseer God en gevolglik ook die mens. Die slaaf se verrekening van sy eienaar as ’n “harde man” kom binne die verband van die gelykenis neer op ’n reduksie van God se karakter tot dié van onbarmhartigheid.

Soos altyd wanneer God se karakter gereduseer word, word die mens daarmee ook gereduseer. In dié geval word die mens gereduseer tot die doener van goeie werke. As jou god ’n strakke, harde en onbarmhartige (sadistiese) meester is, volg dit dat ook jy gereduseer word tot iets soortgelyks: die armsalige (masochistiese) slaaf wat maar die minste moet doen waarmee weggekom kan word. Só ’n lewe is nie ’n koninkrykslewe nie. Só ’n lewe se tekort aan koninkryksgehalte maak dat dit nie vertrou kan word om oor baie aangestel te word nie. Só ’n lewe kan ook nie deel in God se vreugde nie (25:21 en 23).

Sy vrees noop hom om sy gawe te reduseer tot besitting. Nou is dit myne. Ek gaan dit wegsteek om dit só te bewaar. God gereduseer tot slawedrywer, mens gereduseer tot slaaf, gawe gereduseer tot besitting. G’n wonder nie dat so ’n lewe in die sterkste taal veroordeel word. Só ’n houding reduseer die ekonomie van God se genade en verlossing tot ’n geslote sisteem. Dit maak van mense geestelike verbruikers. Gawes word besittings. Daar is nie genoeg vir almal nie. Ek eerste.

Binne die ekonomie van God se genade werk dinge anders. Dis deur weg te gee dat ek ontvang. Só was Jesus, as beliggaming van die koninkryk van God, ’n voorbeeld van hierdie soort lewe. Die derde slaaf wou hom nie op die spel plaas nie. Wie hulle nie op die spel plaas vir die koninkryk nie, kan hulle ook self nie wen nie. Deur jou prys te gee, ontvang jy die lewe as prys. “. . . oor baie sal ek jou aanstel, Kom in en deel in my vreugde!” Sien ook 10:39; 13:12 en 16:25.

Uiteindelik is dit duidelik dat die derde slaaf ontrou was aan sy roeping. Sy verskoning gaan nie op nie. Die ander twee slawe het hulle talente verdubbel. Alhoewel hulle nie ewe veel talente ontvang het nie, ontvang hulle dieselfde loon (25: 21 en 23). Dit gaan dus nie oor die kwantiteit van die gawes wat ontvang is nie, maar oor hulle getrouheid. Waar die derde slaaf sy gedrag vanuit ’n perspektief van vrees verduidelik, vertolk die eienaar dit (in teenstelling met die ander twee slawe) as luiheid.

Terugkeer

Vanuit die perspektief van die derde slaaf breek die kwade dag van die eienaar se terugkeer aan. Vir hom is dit ’n dag gevul met angs. Vir die twee slawe wat hulle gawes gaan verdubbel het, is dit ’n blye dag. Om die waarheid te sê, hulle het gelewe vir hierdie dag. Hulle het niks gehad nie en hulle eienaar het hulle vertrou met sy skatte. Hieroor was hulle só bly dat hulle nie anders kon nie as om uit te gaan en dit nóg meer te maak nie. Vir hulle was hulle lewe soos dié van konings. Om met soveel vertrou te word as jy niks van jou eie het nie, maak jou vry – maar verantwoordelik. Jy wil mos nooit jou eienaar teleurstel nie. Jou lewe is nie meer jou eie nie. As dit nie vir my eienaar was nie, het ek nooit hierdie lewe gehad nie!

Veroordeling

Die derde slaaf word ten sterkste veroordeel. Hy word ontmasker as die een wat van die begin af geweet het wie sy gewer is. Hy het die gawe aktief ontvang, maar toe heeltemal in ’n bedompige, benoude en selfgerigte lewe verval: Die “homo incurvitas.” Mens op hom ingebuig – die lui mens, die dief.

Die derde slaaf se oordeel wys ook dat die lewe is soos om bergop fiets te ry. As jy ophou trap, stop jy nie – jy gaan agteruit. Daar is nie ’n geslote sisteem met ’n beginsel van gelykbreek waarmee jy jou van die lewe kan weerhou om jou só te bewaar nie. “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word” (25:29). Alle gawes kom van die Gewer af. Dis nooit joune om weg te steek nie. Daar is ook nie neutrale grond nie.

Die nuwe mens

Die “homo novus” – die nuwe mens – sien ons in die slawe wat hulle gawes verdubbel het. Hulle deel in die vreugde van hulle eienaar. Hy beloon hulle deur hulle oor nóg meer aan te stel. Vir hulle ken die ekonomie van God se genade geen perke nie. Vir hulle is dit asof die koninkrykslewe ’n vreemde en bevrydende teenstrydigheid is: Eers het hulle niks gehad nie. Alles was gawes – alles is vir hulle gegee. Nou word hulle met nóg meer vertrou. Maar eintlik het hulle nog steeds niks nie. Alles is nog steeds die Gewer s’n. Dit is die koninkrykslewe.

Hierdie vrygewigheid, soos geïllustreer deur die Haarkappers in die Markplek, is waartoe die gelykenis, nee, die Here van die gelykenis, ons roep.

God stuur ons om te leef

Gebed
Jesus,
Seun van God,
Ek wil U vandag saam met Petrus
erken en eer as Christus die Here.
Ek dank U, Vader, dat U die waarheid oor u Seun
aan my geopenbaar het.
Dankie dat ek, soos Petrus, weet dat Jesus
my Verlosser en Here is;
dat Hy die Seun van God is
wat ter wille van my ’n mensekind geword het
om in my plek aan ’n kruis te sterf.
Ek bid, Here, dat U vir my die genade sal gee
om só te leef dat mense vir Jesus
in my lewe sal raaksien;
dat ek deur woord en daad
as Christen
die identiteit van my Christus
sal verkondig.
Amen
(Outeur onbekend)

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1
Ek glo in God die Vader-
God wat self nie gesien
kan word nie,
God wat deur die Seun alles geskep het
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
God het besluit
om met sy volle wese in die Seun te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.
Ek glo in die Seun, Jesus Christus-
Die Seun is die beeld van God,
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Offergawes

Wegsending: Lied 513 “Soek in God jou sterkte vs 1,2,3”

Seën
Laat ons wakker bly en nugter wees;
Laat ons geloof en liefde as borsharnas dra;
En die hoop op verlossing as helm, want
God het ons bestem om deur Jesus Christus verlos te word!
(Uit 1 Tessalonisense 5)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.