Drie en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Streng gesproke is daar nie ‘n afsonderlike seisoen vir die voleinding nie. Dit is egter wel so dat die laaste vier Sondae van Koninkrykstyd (wat ook die laaste vier Sondae van die kerklike jaar is) ‘n spesifieke fokus op die voleinding van alle dinge het. Deur dit as ‘n eie “seisoen” in te klee, word hierdie fokus uitgelig en die eie karakter van hierdie paar Sondae versterk. Die laaste van die groep van vier Sondae word as “Sondag van Christus die Koning” gevier en is as ‘t ware die hoogtepunt waartoe die hele seisoen opbou. As sodanig dien dit ook as gepaste afsluiting vir die hele Koninkrykstyd, asook vir die hele kerklike jaar. Die fokus op die “laaste dinge” maak van dié seisoen ‘n geskikte oorgang na die Seisoen van Advent waarmee die nuwe kerklike jaar pas daarna begin.

Fokusteks

Die fokusteks gaan oor die vraag na die grootste gebod en Jesus se antwoord waarin Hy ‘n samevatting van die dubbele liefdesgebod gee. Die Rutteks gee uitdrukking aan die liefde tussen mense, in die gestalte van die verhouding tussen Rut en haar skoonmoeder Naomi. Die psalmteks besing die liefde en trou van God – in besonder teenoor die kwesbare lede van die samelewing. Die Hebreërsteks beskryf Jesus as die Hoëpriester wat sy lewe gee as liefdesoffer om die liefdesverbintenis tussen God en mens te herstel.

Ander tekste

Rut 1:1-18
Uit Betlehem na Moab toe en terug
1 In die tyd van die leiers was daar op ’n keer hongersnood in die land, en ’n man met sy vrou en sy twee seuns het uit Betlehem in Juda weggetrek om ’n heenkome te soek in die gebied van Moab. 2Die man was Elimelek, sy vrou Naomi, en sy twee seuns Maglon en Kiljon. Hulle was afkomstig uit Efrata in Betlehem in Juda. Hulle het in Moab aangekom en hulle daar gevestig. 3Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar twee seuns alleen agtergebly. 4Die twee seuns het later getrou met die Moabitiese meisies Orpa en Rut. Naomi en haar seuns het omtrent tien jaar in Moab gebly. 5Toe haar twee seuns Maglon en Kiljon ook sterf, het sy alleen agtergebly sonder haar seuns en sonder haar man. 6Toe sy verneem dat die Here vir sy volk uitkoms gebring het deur vir hulle ’n goeie oes te gee, het sy en haar skoondogters klaargemaak om van Moab af terug te gaan. 7Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe.

8Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. 9Mag die Here vir julle elkeen weer ’n goeie man en ’n heenkome gee.”

Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil 10en vir haar gesê: “Nee, ons wil met Ma saamgaan na Ma se volk toe.”

11Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? 12Gaan asseblief maar terug, my dogters, ek is te oud om weer te trou; selfs al sou ek sê daar is nog hoop vir my, al sou ek vannag by ’n man slaap, al sou ek nog seuns in die wêreld bring, 13sou julle kon wag tot hulle groot is? Sou julle julle ondertussen daarvan kon weerhou om te trou? Dit is onmoontlik, my dogters. Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai.”

14Toe het Naomi se skoondogters weer begin huil, en Orpa het van haar afskeid geneem, maar Rut het by haar gebly. 15Toe sê Naomi: “Kyk, jou skoonsuster het teruggegaan na haar volk en na haar gode toe. Gaan jy nou ook saam met haar terug.”

16Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; 17waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.”

18Naomi het besef dat Rut vasbeslote was om saam met haar te gaan en sy het opgehou om haar te probeer ompraat.

19Hulle twee is toe saam na Betlehem toe. Met hulle aankoms in Betlehem was daar groot opgewondenheid in die stad, en die vrouens het gesê: “Maar dis mos Naomi!”

20Hierop het Naomi vir hulle gesê: “Moet my asseblief nie meer Naomi noem nie, noem my Mara a, want die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. 21My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. Waarom noem julle my nog Naomi? Die Here het dan teen my gedraai, die Almagtige het ’n ramp oor my gebring.”

22So het Naomi uit Moab teruggekom en Rut, haar Moabitiese skoondogter, was by haar. Hulle het in Betlehem aangekom aan die begin van die garsoes.

Psalm 146
Prys die Here!
146 Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Hebreërs 9:11-14
11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

Fokusteks

Markus 12:28-34
Die vraag oor die grootste gebod
(Matt 22:34–40; Luk 10:25–28)
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ‘n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ 33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”

Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie.

Ekstra stof

Ons teks vorm deel van Markus 11:27-12:37 se fokus op Jesus wie se intellek en wysheid te veel is vir die Joodse Raad. Dit sien ‘n mens in sy interaksie met drie groepe, die uitkoms waarvan uiteindelik tot sy dood sou lei:

 1. Die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde (hulle vorm die hele Joodse Raad of Sanhedrin [Romeinse titel] van 71 lede – 15:2) – nadat hulle van die tempelreiniging gehoor het (11:18) vra hulle Jesus uit oor die gesag (11:28) waarmee Hy dié dinge doen, waarop Hy hulle met ‘n gelykenis antwoord (oor die huwelik van die vrou met sewe broers as lewensmaats) wat ‘n verdoemende oordeel oor hulle uitspreek, sowel as om hulle te herinner aan wat die grootste gebod is (in ‘n gesprek met een skrifgeleerde – 12:28). Vir die eerste keer verstaan hulle ‘n gelykenis, maar vul dit hulle met wrewel! Dit is met dié groep dat Judas Iskariot uiteindelik saamspan om Jesus te verraai (14:10, 43) en in die saamgeflanste verhoor te veroordeel (14:53, 55). Onthou egter dat nie alle lede van die Joodse Raad boos was nie: Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad, reël bv. Jesus se begrafnis (15:43).

2. Die Fariseërs en Herodiane – hulle konkel reeds saam sedert die genesing van die man met die gebreklike hand op ‘n Sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum (3:1-6) en probeer Jesus hier vastrek met ‘n vraag oor belasting (12:13). Die Fariseërs was skrifgeleerdes waarvan sommige ook in die Joodse Raad gedien het. Die Herodiane weer was volgelinge van koning Herodes, wat ‘n politieke betekenis aan die vraag oor belasting gee.

3. Die Sadduseërs – hulle was die meerderheid in die Joodse Raad (Hand 23:6) en het die opstanding uit die dood ontken. Dit is betekenisvol dat die hoëpriester een van hulle was (Hand 5:17). Hulle probeer Jesus vasvra met ‘n vraag oor die lewe na die dood (12:18).

Na die drie groot gesprekke fokus Markus op die vraag van ‘n skrifgeleerde aan Jesus oor die grootste gebod in die Skrif (12:28) en Jesus wat die leringe van die skrifgeleerdes analiseer (12:35 en 38 [volgende week]).

Jesus oornag hierdie laaste week van sy lewe in Betanië terwyl hy dag vir dag in die tempel optree en met die skare en hulle leiers in gesprek tree. Dit lyk aanvanklik asof Jesus die vraag van die Joodse Raad oor die gesag waarmee Hy in die tempel optree, ontwyk met sy teenvraag (‘n rabbynse manier van argumentasie), deur hulle uit te daag om eerlik te wees oor wat hulle van Johannes die Doper se gesag dink. Omdat hulle bang is vir die mense, wil hulle nie hulleself tot ‘n uitspraak verbind nie.

Maar dit word gou duidelik dat Jesus met die gelykenis van die bose optrede van die boere in die eienaar se wingerd (vgl Jes 5 waar Israel as ‘n wingerd beskrywe word) hulle ontmasker as mense wat God se gesag uitdaag en deur Hom geoordeel sal word. Met die metafoor van die afgekeurde klip (Hyself) wat die belangrikste klip in die gebou word, profeteer Jesus die uitkoms van sy naderende dood aan hulle hand, asook sy opstanding (vgl ook Hand 4:11-12 waar Petrus dieselfde teks aanhaal vir die Joodse Raad). En, interessant genoeg, vang hulle die sinspeling op hulleself, met die verwagte gevolge: hulle soek ‘n plan om Hom te laat vang, ‘n plan waaraan Judas uiteindelik meewerk. Hulle oë begin dus oopgaan, maar hulle hou nie van wat hulle sien nie.

In opdrag van die Joodse Raad probeer ‘n paar Fariseërs en Herodiane Hom in ‘n strik vang met die vraag oor belasting (die Romeinse belasting dateer uit 6 nC, toe Judea ‘n Romeinse provinsie geword het). Let op die godsdienstige vleitaal wat die gelaaide politiese vraag verberg – Herodes kon immers net op die guns van die keiser regeer. Jesus weet egter dat hulle huigel en gee ‘n briljante regverdige antwoord: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

Nog is het einde niet. Die grootste groep in die Joodse Raad, die Sadduseërs, konfronteer Hom met ‘n vraag oor die huwelikstatus in die hiernamaals van ‘n vrou wat met sewe broers getroud was (die sogenaamde swaershuwelik), hoewel hulle natuurlik self nie in die opstanding geglo het nie. Die rede vir dié siening was dat daar geen direkte verwysings na die lewe na die dood in die Pentateug (die eerste 5 boeke van die OT) was nie, en dié 5 boeke al Skrif was wat hulle as gesaghebbend aanvaar het. Jesus ontbloot met sy antwoord hulle swak Skrifkennis sowel as hulle onderskatting van die krag van God. Interessant is dat Jesus dan juis ‘n teks aanhaal uit die Pentateug (Eks 3:6), wat getuig van ‘n lewe na die dood, om hulle verkeerd te bewys.

‘n Skrifgeleerde staan dan nader baie beïndruk met Jesus se goeie antwoord en vra dan Jesus se mening oor wat die heel grootste gebod is. Volgens een telling het die skrifgeleerdes 613 wette uit die Pentateug opgeteken! Jesus haal dan die Shema (die belangrikste gebed van die Jode, wat onder andere elke sabbat in die sinagoge gelees is) uit Deuteronomium 6:4-5 aan, ‘n samevatting van die eerste tafel van die wet, met die byvoeging van “met jou hele verstand”, wat moontlik kan terugwys op die Sadduseërs se gebrekkige kennis. Daarby voeg Hy die gebod uit Levitikus 19:18 dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself, wat ‘n opsomming is van die tweede tafel van die wet.

Die skrifgeleerde is nog meer beïndruk met dié antwoord van Jesus, soveel so dat hy Jesus se antwoord eintlik volledig herhaal, waarin hy die Shema se “hart, siel en krag” verander na “hart, denke en krag” op voetspoor van Jesus se beklemtoning van verstand. En voeg daarby dat dit van meer belang is as al die Joodse offers (vgl Hos 6:6).

Jesus reageer met groot waardering vir sy verstandige antwoord: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” ‘n Mens wens Markus het meer detail hieroor verskaf, dat ‘n mens die uitkoms van dié gesprek in die lewe van die skrifgeleerde te wete kon kom! Maar niemand het hierna gewaag om Jesus verdere vrae te vra. Jesus se intellek en wysheid was net te veel.

Die gesprekke draai nou om, deurdat mense nie meer vir Jesus vrae vra nie, maar Hy die geleentheid begin gebruik om hulle te leer, onder andere oor hoe ‘n mens Psalm 110 se uitspraak oor die seun van Dawid moet verstaan (vgl Bartimeus in 10:47).

Liturgie

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2”

Aanvangswoord 

Seëngroet
Loflied 190 i

Wet: Markus 12:28-34

Skuldbelydenis: Lied 250 i

Vryspraak: Hebreërs 9:11-14

Geloofsbelydenis
Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1 en 11”

Epiklese

Skriflesing: Markus 12:28-34

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

 Rus

Aanvangslied: Lied 157 “Here Jesus ons is saam vs 1,2″

Aanvangswoord 
Here, U is die Alfa en die Omega,
die Eerste en die Laaste,
die Begin en die Einde,
die Een wat is en wat was en wat kom,
die Almagtige. Amen.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle
van Hom wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste voor sy troon,
en van Jesus Christus die geloofwaardige getuie,
die eerste wat uit die dood opgestaan het,
die heerser oor die konings van die aarde.

Loflied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Wet: Markus 12:28-34
Die vraag oor die grootste gebod
(Matt 22:34–40; Luk 10:25–28)
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ‘n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

32“Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ 33En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.”

34Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.”

Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie.

Skuldbelydenis: Lied 250 “God’s wet vra al ons liefde 1,2,3,4,5”

Vryspraak:Hebreërs 9:11-14
11Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 12Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ’n ewige verlossing tot stand gebring. 13Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 14Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.

Geloofsbelydenis
Ons glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge,
die Bron van ware lewe.
Ons glo in Jesus Christus, die lewende Here,
wat deur mense gekruisig is,
maar deur God opgewek is uit die dood.
Ons glo in die Heilige Gees, die Heer en Lewendmaker,
wat die ganse skepping vul met die lewe van God.

Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1 en 11”

Liedere

F54. “Met My Hele Hart”
(RUBRIEK: Komtemporêr – Wet / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Jean Symons
© 1998 Spirit and Truth Music (STM)
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4)

Met my hele hart en siel, al my krag en verstand,
Het ek U lief o Heer. U’s die kroon van my hart
U liefde verteer my deur en deur, o Heilige Gees.
Met my hele hart en siel bemin ek U, Heer

F76. “Die Woord Van God”
(RUBRIEK: Flammikidz – Woord van God)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)
(Deut 6)

Refrein: (x2)
(Want) Die Woord van God is ewig
(Ja) Die Woord van God is waar
Die Bybel is die Woord van God
sal dit in my hart bewaar
Die Woord van God is nie te hoog
Die Woord van God is nie te ver
Die Woord van God is naby my
in my mond en in my hart

Refrein: (x2)
As ek sit of as ek staan
as ek lê of waar ek gaan
praat ek daaroor want ek weet
dan sal ek dit nooit vergeet

Refrein: (x2)
Skryf dit as ‘n teken op
op jou hand en op jou kop
in jou huis en op die deur
dat jy dit uit jou kop kan leer

Refrein: (x2)
My oë lees die woorde deur
My ore hoor dit weer en weer
My mond bely dit nog ‘n keer
My hande doen wat dit my leer

Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Lewende God, Vader, Seun en Ewige Gees,
U is saam met ons op pad,
waar ons ook al gaan.
U neem die los fragmente van ons lewe
en voeg dit saam om van ons u heilige volk te maak.
U is hier by ons om deur u Woord met ons te praat.
Maak dit vir ons moontlik om u stem te hoor
en om u boodskap ter harte te neem.
Amen.

Skriflesing: Markus 12:28-34

Prediking

Familie-oomblik

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Liefde is die Heel Belangrikste
28 Iemand wat die Bybel baie goed geken het, kom toe daar verby. Hy het gehoor watter goeie antwoord Jesus vir die Sadduseërs gegee het. Hy begin toe ook met Jesus stry: “Watter een is die belangrikste van al God se wette*?”

29–31 Jesus antwoord: “Die heel belangrikste is die woorde: ‘Luister mooi, die Here ons God is die enigste Here wat daar is. Jy moet Hom liefhê met alles in jou. Niks in jou lewe mag belangriker as God wees nie.’ Langs hierdie opdrag is daar ’n tweede een: ‘Jy moet ander mense net so liefhê soos wat jy jouself liefhet.’ Daar is nie ’n ander opdrag wat so belangrik soos hierdie twee is nie.”

32–33 “Jy het baie goed geantwoord,” sê die Joodse geleerde. “Daar is net een God. Ons moet Hom liefhê met alles wat in ons is. Dit is baie belangriker as al ons offers* wat ons hier by die tempel* na God toe bring.”

34 Jesus kon sien hierdie Joodse geleerde weet waarvan hy praat. “Jy is amper deel van God se nuwe wêreld*,” sê Hy.

Niemand het kans gesien om met Jesus te stry nie.
Carolyn Brown het ‘n oulike idee met karton waaraan die 2 kante van die wet neergeskryf word aan elke kant. Dit kan dan met tou aan ‘n prominente deurknop in die huis gehang word. Mens kan selfs so groot karton in die liturgiese ruimte van die kerkgebou ophang.

Sy skryf…
After talking about the 2 great commands, offer each family a red posterboard heart strung on a piece of yarn or string and printed with “Love God” on one side and “Love people” on the other side. Instruct them to hang this heart in a frequently used door in their home to remind them of God’s rules. These hearts could be produced by an older children’s church school class as a gift to the congregation. 

To further emphasize this heart, hang a large heart mobile printed with the commands at the front of the sanctuary or in each door to the sanctuary for the entire service.

Preekriglyn

Die Joodse psigiater Viktor Frankl is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s gearresteer en in Auschwitz, die berugte doodskamp, geplaas. Hy is van alles gestroop: sy eiendom, familie, besittings, en ook die manuskrip van ‘n boek wat sy jarelange navorsing bevat het oor hoe om sin en betekenis in die lewe te vind. Die manuskrip was versteek in die binne-afwerking van sy jas.

“Dit het gelyk asof niks of niemand my sou oorleef nie, nie ‘n fisiese kind of selfs ‘n geesteskind van my nie,” skryf Frankl. “Ek was gekonfronteer met die vraag of my lewe onder sulke omstandighede heeltemal van betekenis gestroop is.”

‘n Paar dae na sy aankoms het die Nazi’s die gevangenes geforseer om die bietjie klere wat hulle nog gehad het, in te handig. “Ek moes al my klere ingee, en het in ruil daarvoor die vodde gekry van ‘n prisonier wat na die gaskamer gestuur is,” sê Frankl. “In plaas van die talle bladsye van my manuskrip, het ek in die sak van my ‘nuwe’ jas ‘n enkele bladsy gevind wat uit ‘n Hebreeuse gebedeboek geskeur was. Dit het die Joodse gebed “Shema Jisrael” (Luister, Israel) bevat:”
Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.
Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. (Duet. 6:4-5)

Dit het Frankl diep geraak. Dit kon nie blote toeval wees nie. Die verslete bladsy in die nog meer verslete klere het hom uitgedaag om sy navorsing oor die sin van die lewe prakties uit te leef. Hy moes nie bloot sy denke neerskryf nie, maar dit ook elke dag lééf. ‘n Lewe vir God gee betekenis aan jou lewe.

Frankl het die strafkamp oorleef en later ‘n baie invloedryke boek geskryf, Man’s Search for Meaning. Hy sê: “Daar is niks in die wêreld wat mens so effektief help om selfs die ergste omstandighede te oorleef as die wete dat daar sin in jou lewe is nie. Hy wat ‘n doel het om voor te lewe, ‘n ‘waarom’, kan omtrent enige omstandighede oorkom.”

Intense strydgesprekke

In ons teks vind ‘n intense gesprek tussen Jesus en ‘n skrifgeleerde oor die heel grootste gebod plaas. Die skrifgeleerde “het hulle hoor redeneer en het nader gestaan” (28).

Die “hulle wat redeneer” verwys na die debatte en gesprekke tussen Jesus en die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde op die tempelterrein in Jerusalem (Mark 11:27), nadat Hy Jerusalem onder toejuiging van die skare binnery en die geldtafels in die tempel omgooi.

Die gesprek tussen Jesus en een van die skrifkenners in ons Skrifgedeelte, verteenwoordig maar één vraag van die baie waarmee die Joodse leiers Jesus konfronteer:

  • In 11:28 vra hulle vir Jesus na die gesag waarmee Hy die dinge doen. Hulle wil nie antwoord op Jesus se teenvraag oor die doop van Johannes nie. Daarop sê Jesus dat Hy dan ook nie vir hulle sal sê met watter gesag Hy die dinge doen nie (11:33). In Markus 12:1-12 vertel Jesus dan die gelykenis van die huurders en die wingerd om die Joodse leiers te ontmasker. Hulle het God verwerp en self beheer oor die godsdiens oorgeneem. Die Joodse leiers wou Hom gevange neem, maar was nog bang vir die skare (12).
  • In ‘n volgende toneel stuur die Joodse leiers Fariseërs en Herodiane na Jesus toe “sodat hulle Hom op ‘n woord kon uitvang” (13; 2014 Direkte Vertaling). Die vraag in hierdie rondte gesprekke handel oor die betaal van belasting aan die keiser (14). Toe Jesus hulle daarop antwoord, was hulle stom verbaas (17).
  • In ‘n derde rondte gesprekke kom die Sadduseërs na Jesus toe (18), om Hom oor die opstanding uit die dood te probeer uitvang. Jesus sluit dié gesprek af met verwysing na die God van Abraham, Isak en Jakob as God van die lewendes en dat hulle (Sadduseërs) erg dwaal (27).

Dan volg ons Skrifgedeelte. Die “hulle” waarna vers 28 verwys, is dus al die genoemde groepe mense wat Jesus met ‘n woord probeer uitvang het. Opvallend genoeg vind Jesus hierdie skrifgeleerde later verstandig en sê dat hy nie ver van die koninkryk van God af is nie (34).

Die grootste gebod, deel 1

Die skrifgeleerde vra Jesus wat die grootste gebod is. Jesus begin reageer deur die bekende Deuteronomium 6: 4-5 aan te haal: “Luister Israel”:
Die eerste is: Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag (Mark 12:29-30).

Vir die Here beklemtoon hierdie woorde dat ons primêre verhouding met God een van liefde is. Ons het God lief as antwoord op God se groot liefde vir ons. Daarom gee God in die Ou Testament nie net die woorde nie, maar vra dat dit deel word van ‘n heilige ritme in die gelowiges se lewe. In Deuteronomium 6:6-9 word gesê:

Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.

Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees.

Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

God se bedoeling is dat gelowiges die hele dag lank moet onthou dat die lewe gaan oor liefde vir God. Dit was so belangrik dat ‘n Jood dit by die huis en by die werk, op vakansie en om elke hoek en draai moes onthou en sê. Dit moes deel van die diepste vesel van die gelowige se lewe word. Dit moes ook by hulle kinders ingeskerp word.

Die grootste gebod, deel 2

Wanneer ons skrifgeleerde ‘n teologiese debat oor die grootste gebod wil begin, antwoord Jesus hom dus deur die woorde aan te haal waarmee Josef en Maria Hom as kind geleer het. Hy haal Deuteronomium 6:4-5 aan, die liefde tot God wat Hom later in gehoorsaamheid tot aan die kruis en in die graf sou neem.

Jesus stop egter nie by die “Luister, Israel” nie. Jesus brei op die teks uit deur Levitikus 19:18 by die eerste gebod te voeg:

Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

Geen ander gebod is groter as dié twee nie.

Die een God van Israel, sê Jesus, vra nie net dat jy God met jou hele hart liefhet nie, maar ook dat jy jou naaste soos jouself moet liefhê. Daarmee brei Jesus die oorspronklike woorde wat gelowiges se lewe moet stempel uit deur naasteliefde by te voeg.

Scot McKnight, professor in Nuwe Testament, noem Jesus se uitgebreide weergawe van die Luister, Israel die Jesus Credo. Net soos die ou Israeliete die Luister, Israel elke dag moes sê, beveel McKnight aan dat Christene die krag van die Jesus Credo beleef deur dit elke dag te herhaal.

Liefde tot God

Dit klink na ‘n goeie idee om God lief te hê. Geen gelowiges sal daarteen stry nie. Waar dit moeilik raak, is om God lief te hê wanneer dinge druk in jou lewe raak, en die kortpaaie voor jou opdoem. Om God lief te hê beteken om te hunker na, te streef na, te bid en te werk vir ‘n lewe wat God bo alles plaas.

Jesus leer ons om God met elke gram van ons bestaan lief te hê. Dit beteken dat ons ons hele lewe aan God offer, en dat ons in liefdesgemeenskap met God lewe. Dit is liefde wat eienaarskap van ons lewe aan God weggee.

Hierdie lewe sluit jou hele bestaan in:

  • Gee jou hele hart aan God: die hart is die sentrum van jou diepste toewyding en die hoogste oorwegings wat jou dring. Dalk is dit jou huweliksmaat, jou kinders, jou ou of meisie, jou werk, jou beste vriend of vriendin, jou stokperdjie of jou reisplanne. Liefde tot God beteken dat ons hierdie dinge aan God toevertrou, en dit hanteer en geniet in die lig van ons liefde tot God.
  • Gee jou hele siel aan God: die siel is die sentrum van ons spiritualiteit, ons bewussyn van dit wat groter as ons is, naamlik God. Jou siel het te doen met die hoogste oorwegings in jou lewe, “ultimate concerns.” Dink aan wat vir jou die hoogste en belangrikste in die lewe is, die kern van jou bestaan. Dit kan jou gebedstyd wees, jou Bybelstudie, meditasie uit die Woord, selfs jou geestelike gawes en jou roeping. Dit kan oomblikke van stilte in die natuur wees. God vra dat ons hierdie diepste konneksiepunte aan Hom toevertrou.
  • Gee jou hele verstand aan God: ons verstand is die sentrum van ons rasionele denke. Dink waarin jy alles glo, hoe jy dink, jou behoefte aan logika, ‘n begrip van die sin van die lewe. Dink hoe kosbaar en buitengewoon jou brein is en hoe dit ‘n wesenlike rol speel in alles wat jy doen. Gee nou jou verstand, en alles waaraan jy vandag dink, aan God oor.
  • Gee al jou krag aan God: die woord krag verwys na die vermoëns waaroor ons beskik, ons letterlike krag en vermoë om te werk en te handel, ons finansies en al die ander hulpbronne waaroor ons beskik en wat ons in staat stel om dinge te doen. Wie al sy/haar krag aan God gee, gee letterlik alles wat hy/sy is en kan doen aan God. Dit sluit hart, siel en verstand in. Ons krag is die hoogtepunt van hierdie lysie, die uitroepteken. Dit sê: hê God lief met alles wat jy is en het! Dink aan jou liggaam, jou ambisie, jou ideale, jou bankrekening, motor, huis, rekenaar en jou talente.

Om lief te hê is om onsself te gee. Om God lief te hê is om alles aan God te gee, elke dag.

Liefde tot die naaste

By die sentrale gebod van die Ou Testament, liefde tot God, voeg Jesus ook die gebod tot naasteliefde (weer eens reeds uit die Ou Testament) by.

Om ander lief te hê klink na ‘n goeie idee, totdat ons besef ons naaste sluit ook die mense in van wie ons nie hou nie, of met wie ons nie oor die weg kom nie. Baie mense verskraal daarom die begrip “naaste” tot “mense soos ek” of “mense van my groep.”

In die tyd van Jesus het liefde tot God beteken om die Wet na te kom. Die versoeking was om die naaste dan te beperk tot slegs ander Jode wat ook die Wet hoog aanslaan en nakom. Die Wet en die lewensstyl wat dit skep, het ‘n skeidslyn geword tussen mense. Sommige was in, en ander uit. “Naaste” kon maklik net die in-groep insluit.

Deur sy voorbeeld en leer herdefinieer Jesus die “naaste”. Wanneer hy in Lukas 10 ook oor die naaste praat, vra ‘n ander skrifgeleerde hom daar: “En wie is my naaste miskien?” Jesus vertel dan die gelykenis van die barmhartige Samaritaan waar dit juis die aartsvyand Samaritaan is wat ‘n gewonde Joodse man help. Waarmee Jesus sê die vraag is nie wie my naaste is nie, maar vir wie ek van oomblik tot oomblik geroep word om ‘n naaste te wees.

Uit Jesus se voorbeeld sien ons hoe hy melaatses aanraak en insluit by sy genade. Dis mense met wie niemand anders iets te doen wou hê nie. Jesus gaan by ‘n gehate belastinggaarder tuis (Saggeus), mense wat me die Romeinse onderdrukkers saamgewerk het. Hy neem selfs ‘n tollenaar (belastinggaarder) in sy dissipelkring op (Matteus).

Naasteliefde dring ons juis oor alle mensegemaakte grense om God se liefde te betoon aan diegene wat ons hulp en steun nodig het.

Oorsprong by God

Die Jesus Credo (liefde tot God en die naaste, soos Jesus dit hier saamvat) het nie uit die lug geval nie. Dit is wie God is. Vader, Seun en Heilige Gees is ‘n gemeenskap van liefde en diens, waar die Vader die Seun en Gees liefhet en dien, met dieselfde wat waar is van Seun en Heilige Gees.

Die Vader het ook die Seun gestuur om deur die krag van die Heilige Gees liefde op die wêreld uit te stort. David Bosch skryf dat Vader, Seun en Heilige Gees ‘n fontein van sturende liefde is.

Deur God en naaste lief te hê toon ons dat ons uit God gebore is, kinders van God, deel van die huishouding van God.

Gevorm deur die liefde

Liefde tot God en die naaste gee nuwe rigting aan mens se lewe. Dit beteken jy kan nie alleen besluit waaroor jou lewe gaan en vir wie of wat jy lewe nie. ‘n Verhouding met God en met die naaste beteken dat die sin van die lewe onlosmaaklik verbind is aan God en medemens.

Dit het ‘n sterk vormende effek op mens se lewe. Jy leef in ‘n totaal nuwe rigting. Jy is nie langer ‘n selfgesentreerde kokon wat net vir jou eie belange omgee nie. Jy leef vir God en vir jou naaste.

Hoe gebeur dit prakties? Prof Scot McKnight vertel hoe hy in sy eie lewe begin het om die Jesus Credo elke dag te resiteer. Sommige dae sê hy dit tot veertig keer deur die dag:

‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’
Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
Geen ander gebod is groter as dié twee nie.

Hierdie liefde is ‘n krag en ‘n uitdaging groter as enigiets anders in jou lewe. McKnight sê dis een ding om deur die dag te probeer doen wat goed en reg is, teenoor ‘n lewe wat beheers word deur liefde tot God en naaste. Ons het egter die goddelike ritme nodig om dié woorde daagliks te herhaal sodat dit deel van die vesel van ons bestaan word.

Dit is presies wat Deut. 6 sê:
Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly.
Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.

Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ‘n merk op jou voorkop wees.

Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte.

Die liefde tot God en die naaste het ‘n sterk vormende effek in ‘n mens se lewe. McKnight het ‘n wonderlike werkboekie hieroor geskryf, 40 Days Living the Jesus Creed.

Ontwrig deur die liefde

Dié liefde het ook ‘n ontwrigtende krag in ‘n mens se lewe.

Mens kan nie vooruit voorspel wie sy geroep is om lief te hê en te ondersteun nie. Jy kan ook nie bepaal watter soort liefde jy geroep sal word om te betoon nie. Om agter te kom waar naasteliefde nodig is, moet ons oë en ore ontwikkel om mense se behoeftes raak te sien. Soms het iemand ‘n besoekie of belangstelling nodig. Dalk ‘n bord kos. Dalk moet jy jou naaste vandag dokter toe neem, omdat daar niemand anders is nie.

Naasteliefde onderbreek dikwels ons program en ons skedule. Dit maak ons dieper vies, en ontwrig ons meer as wat ons ooit sal wil erken. Dit daag ons uit om ons planne te laat vaar. Dink aan die barmhartige Samaritaan wat sy beplanning vir die dag moes laat vaar toe hy die beseerde Jood op die pad tussen Jerigo en Jerusalem raakloop.

Jesus daag ons uit om ons lewe te herdefinieer aan die hand van liefde tot God en naaste.

Wesenlike prioriteite

Terug by die vraag van die skrifgeleerde: wat is die grootste gebod? Dit is deel van ‘n groter gesprek tussen Jesus en die priesterhoofde, skrifgeleerdes en familiehoofde. Die groter gesprek gaan oor Jesus se gesag en hulle kennis van God.

Die skrifgeleerde vra eintlik wie God is. Wat is volgens God toelaatbaar om te doen? Wat gebied God? Wat verbied God? Hy wil weet wat die sentrale prioriteite van ons lewe behoort te wees. Wat is die heel belangrikste dinge, die sentrale temas, die ultimate concerns van die lewe?

Hierdie skrifgeleerde was ‘n eerlike soeker na die waarheid. Sy reaksie op Jesus se woorde, en Jesus se bevestiging dat hy onderweg na die koninkryk van God is, bevestig dit.

Daarmee word ons ook vandag uitgenooi om te kies vir God se prioriteite. Ons word genooi om die Jesus Credo deel van ons diepste wese te maak:

  • Ons moet die woorde elke dag onthou en sê;
  • Ons moet die woorde toelaat om ons denke te beïnvloed, sodat ons ons lewe en ons keuses herbedink vanuit die liefde
  • Ons moet die woorde diep in ons hart laat insak, sodat ons die wêreld en die mense rondom ons met oë van liefde begin sien, en vanuit liefde en waardering teenoor hulle reageer
  • Ons moet die woorde toelaat om ons diepste begeertes te vorm, sodat ons die liefde van harte wil doen.

Op hierdie manier word ‘n nuwe toekoms en deelname aan God se gestuurde aksie vir ons moontlik.

Wat gee sin aan die lewe? Wat maak dat mens byna enigiets kan verduur? Wat maak dat die sleur van die lewe vervang word met die diepste sin wat in die lewe moontlik is?

Dink weer aan Viktor Frankl, die Joodse psigiater wat ‘n verslete bladsy met die Luister, Israel op in ‘n nog meer verslete jas in ‘n Duitse strafkamp ontdek het. Hy het beleef dat dit vir hom ‘n doel gee om voor te lewe. Dit het hom deur hel op aarde gedra.

God se uitnodiging tot die liefde het die potensiaal om ons lewe diep te vernuwe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Seën
Gaan nou terug na die lewe van elke dag
en wees lief vir God met alles wat jy het
en alles wat jy is;
en gaan wees lief vir alle ander mense
soos wat jy jouself liefhet.
Gaan lewe met die seën van die Here.
of
Voorganger: Kyk, Hy kom met die wolke,
en al die mense sal Hom sien,
ook hulle wat Hom deurboor het;
en al die volke van die aarde
sal voor Hom neerval
en Hom aanbid.
Gemeente: Ja, dit is seker!

Voorganger: Uit liefde vir ons het Hy ons
deur sy bloed van ons sonde verlos
en ons sy koninkryk gemaak,
priesters vir God sy Vader.
Gemeente: Ja, dit is seker!

Voorganger: Aan Hom behoort die heerlikheid
en die krag tot in alle ewigheid!
Gemeente: Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.