Tema 5

Sections

Inleiding

Memoriseerverse vir Tema 5

Matteus 22:37-40
Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Romeine 5:5
… en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

1 Korintiërs 13:4-7
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

1 Johannes 4:7-8
Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God.

1 Johannes 4:10
Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Inleiding
Kyk saam na Tema 5 se video of gebruik die inleiding hier onder.

Die grootste gawe
Die liefde is die grootste gawe wat God aan mense gegee het. Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles (1 Kor 13:7). God se liefde het sy hoogste uitdrukking gevind toe Jesus aarde toe gekom het:

Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (1 Joh 4:9-10).

’n Onvernietigbare krag
Die liefde is ’n onvernietigbare krag. Dit kan die hardvogtigste mens se lewe deurbreek en die wreedste mens se hart sag maak. Wanneer God deur sy Heilige Gees in jou woon, deel jy in hierdie krag van die liefde en kan jy dit elke dag uitleef.

In die 1950’s het vyf jong sendelinge die evangelie van Jesus Christus aan die Aukas, ’n afgesonderde, primitiewe stam in Ecuador, gaan verkondig. Hierdie sendelinge is wreed vermoor. Vandag is die meeste van die Aukas egter Christene en hulle aanbid die Here naby die plek waar die moorde plaasgevind het. Wat het gebeur?

’n Vrou en ’n suster van twee van die martelaars het na die stam teruggekeer. Hulle doel was nie om wraak te neem nie, maar om God se liefde aan die stamlede te gaan betoon. Jare lank het hulle daar gewerk en deur hulle liefdevolle optrede die vooroordele teenoor die evangelie van Jesus Christus afgebreek. Uiteindelik het God se liefde tot in hierdie mense se harte deurgebreek. Hulle het Jesus as hulle Verlosser aanvaar, en God het hulle lewe totaal verander.

’n Duidelike opdrag
“God het sy liefde in ons harte uitgestort” (Rom 5:5) en Hy verwag dat ons sy liefde elke dag sal uitstraal en uitleef:

“‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Matt 22:37-39).

Die werklikheid van die lewe laat ’n mens soms wonder of dit moontlik is om God se liefde op hierdie manier uit te leef. Kan jy God werklik met al jou krag liefhê? Is dit regtig moontlik om jou naaste lief te hê soos jouself? As jou familie en vriende die enigste mense was wat jy moes liefhê, sou dit moontlik gewees het. Maar die Here verwag veel meer van ons: “Maar vir julle wat na My luister, sê ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word” (Luk 6:27-28).

Hierdie opdrag van Jesus klink vir baie mense so vreemd en onwerklik dat hulle reken dit geld nie vir hulle nie. Tog is hierdie “onmoontlike” opdrag wel moontlik omdat God sy liefde in ons harte uitgestort het.

Mag hierdie hoofstuk jou help om die ware aard van God se liefde te leer ken, en mag jy geïnspireer word om hierdie liefde elke dag uit te leef.

God het ons lief

Die Bybel leer ons waar ware liefde vandaan kom. Dit vertel ook vir ons iets van die aard daarvan.

Beantwoord die volgende vrae in die lig van die Bybelverse wat gegee word.

  • Waar kom ware liefde vandaan (1 Joh 4:7; Rom 5:6-8)?
  • Hoe beskryf Johannes die wese van God (1 Joh 4:8)?
  • Hoe bewys God sy liefde aan ons as mense (1 Joh 4:9)?
  • Wat is die verskil tussen die liefde wat ons as mens het en die liefde wat God aan ons betoon (1 Joh 4:10)?

Die Bybel maak verskillende eienskappe van God aan ons duidelik. Een hiervan is dat Hy liefhet. Om lief te hê is egter nie net ’n eienskap van God nie – dit is onafskeidbaar deel van sy wese. As Johannes na woorde soek om God te beskryf, kan hy nie anders nie as om te sê: “God is liefde” (1 Joh 4:8, 16).

God se liefde is onvoorwaardelik
Ons stel dikwels voorwaardes vir ons liefde: dit moet beantwoord word, dit moet vir ons plesier verskaf, dit moet aan ons sekuriteit bied, en so meer. God se liefde is anders. Hy stel nie voorwaardes waaraan voldoen moet word voordat Hy liefde betoon nie. Hy het nie net lief “ter wille van” nie, maar ook “ten spyte van”. Hy het ook die ontroues lief; Hy betoon sy liefde aan sondaars wat in vyandskap met Hom leef.

God se liefde is allesomvattend
God se liefde is so groot en so omvattend dat ons nooit die diepte en die omvang daarvan sal kan peil nie. Op die eerste bladsye van die Bybel openbaar God reeds die grootheid van sy liefde: Adam en Eva is as beeld van God, as sy verteenwoordiger, geskep (Gen 1:27). Hulle verkies egter om aan Hom ongehoorsaam te wees en teen Hom in opstand te kom (Gen 3:6-7), al het hulle geweet dat die dood God se straf vir sonde is (Gen 2:17).

Dit sou niemand verbaas het as God die mense in hulle verlore toestand aan hulleself oorgelaat het nie. Hy doen dit egter nie. Op grond van sy liefde soek Hy hulle weer op (Gen 3:9). Hy straf hulle nie dadelik met die dood nie, maar gee uit genade aan hulle die belofte dat hulle uiteindelik van sonde verlos sal word (Gen 3:15).

Deur die jare het die volk van die Here telkens van Hom afvallig geword en elke keer het Hy hulle weer in liefde na Hom toe teruggeroep.

’n Pragtige beeld van die grootheid van God se liefde vind ons by die profeet Hosea. Hy kry opdrag om met ’n prostituut met buite-egtelike kinders te gaan trou. Dit moes vir die volk ’n teken wees van hulle ontrouheid teenoor die Here aan wie hulle verbonde is (Hos 1:2). Die vrou pleeg gedurig owerspel en leef soos ’n straatvrou. Toe sy egter haar fleur verloor en haar minnaars haar verstoot, bevind sy haar op die slawemark. Sy is vir ’n skamele 15 stukke silwer en 100 kg gars te koop. Dan kom Hosea en hy koop haar terug as sy vrou om haar van nuuts af lief te hê (Hos 3:1-2).

Só groot is God se liefde. Al loop ons ook agter die wêreld en sy verleidings aan en al leef ons ook in ontrou, is Hy nogtans bereid om ons terug te koop.

God bewys sy liefde
God sê nie net dat Hy ons liefhet nie; Hy bewys dit.

Beantwoord die volgende vrae in die lig van die Bybelgedeeltes wat gegee word.

  • Wat het God gedoen om sy liefde vir ons te bewys (Joh 3:16)?
  • Watter heerlike gevolge het hierdie liefdesdaad vir die mense wat God se liefde aanvaar (Joh 3:16)?
  • Wat is, volgens Jesus, die hoogste vorm van ware liefde (Joh 15:12-14)?
  • Wat maak God se liefde in hierdie verband nog merkwaardiger (Rom 5:6-8)?

Bereid om te offer
Goddelike liefde is selfopofferend. Ook dit het Jesus se kruisdood vir ons gewys. In die tyd van die Ou Testament is ’n dier as offer vir sonde gebring (Lev 5:5-6). Elke keer as die sondaar sien hoe die offerdier in sy plek ly en sterf, het hy opnuut besef hoe aaklig die sonde is. Hy kon egter weet dat daar vergifnis by God is, want die offer het as teken daarvan gedien dat God ’n plaasvervanger se dood in die plek van dié van die sondaar sou aanvaar. Hebreërs 9:22 sê: “Sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie.”

Die finale offer is deur Jesus gebring: “So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem” (Heb 9:28). God se liefde is so groot dat Hy bereid was om sy Seun te gee. En Jesus het nie daarvoor teruggedeins om sy lewe af te lê nie.

Barmhartig en genadig
Wanneer die psalmdigter die Naam van die Here wil verheerlik, noem hy in Psalm 103:8 vier eienskappe van God:

  • Die Here is barmhartig. Dit beteken dat Hy ’n sagte hart het. Hy ontferm Hom oor mense in nood.
  • Die Here is genadig. Daarmee wil die psalmdigter sê dat die Here sy liefde betoon selfs al verdien die mense wat Hy liefhet niks daarvan nie.
  • God is lankmoedig. Hy word nie gou kwaad nie. Hy straf nie oorhaastig nie. Hy gee vir mense baie tyd om tot inkeer te kom.
  • Die Here is vol liefde. Sy liefde is nie beperk en halfhartig nie. Dit is volkome en volledig.

Hierdie waarhede kom baie duidelik na vore in die gelykenis van die verlore seun.

Lees Lukas 15:11-24 en beantwoord dan die vrae.

  • Watter redes sou die pa alles kon aanvoer as hy die seun by sy terugkeer van die huis af wou wegjaag (v 12-13)?
  • In watter opsigte is die pa se optrede ’n toonbeeld van dié van ons hemelse Vader (v 20-24)?
  • Wat leer ons alles hieruit oor die manier waarop God ons liefhet?

Liefde wat standhoudend is
God se liefde is standhoudend. Dit wissel nie soos ons s’n met elke gebeurlikheid of gemoedstemming nie. Omstandighede van buite beïnvloed nooit sy liefde teenoor mense nie. Daarom sê Paulus: “Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil 1:6).

Omdat God jou liefhet, gaan sy werk in jou lewe onverpoos voort. Sy liefde bly voortbestaan en hang nie van jou wederliefde af nie. Op grond daarvan sê Jesus: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Joh 10:28).

Selfs al is ons ontrou teenoor die Here beïnvloed dit nie sy liefde vir ons nie. Paulus beklemtoon hierdie waarheid wanneer hy sê: “As ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie” (2 Tim 2:13).

God vra ons liefde

God se liefde vir ons is nie afhanklik van ons wederliefde vir Hom nie. En tog wil Hy baie graag hê dat ons Hom moet liefhê. Hy het ons gemaak om liefde te aanvaar en te gee. Wie net ontvang en nie ook gee nie, leef nie sinvol nie. Ons moet God se liefde weerkaats; sy beeld as ’n God van liefde moet uit ons lewe skyn.

Liefde vir God
Die Here eis van ons dat ons Hom bo alles moet liefhê.

Beantwoord die volgende vrae in die lig van die Bybelverse wat gegee word.

  • Hoe moet ons die Here ons God liefhê (Matt 22:37)?
  • Met watter belangrike woord beskryf Jesus hierdie eerste gebod (Matt 22:38)?
  • Waarom het ons God lief (1 Joh 4:19)?

Liefde vir jou naaste
Uit hierdie liefde vir God moet die liefde vir ons naaste vloei.

Beantwoord die volgende vrae in die lig van die Bybelgedeeltes wat gegee word.

  • Hoe moet ons ons naaste liefhê (Matt 22:39)?
  • Watter verband is daar tussen ons liefde vir God en ons liefde vir ons medemens (Matt 22:39; 1 Joh 4:20-21)?

Liefde vir God en liefde vir jou naaste is eintlik een liefde. Dit vorm ’n ondeelbare eenheid. ’n Mens kan nie die een liefhê sonder dat jy ook die ander een liefhet nie. Daar is egter ’n baie belangrike orde. Ons liefde vir God staan voorop. As ’n mens hierdie orde omdraai, verval jy in ’n sieklike menseliefde wat nie tot eer van die Here strek nie. Ons word geroep om God bo alles lief te hê, en uit hierdie liefde wat God in ons hart plant, groei ons liefde vir ander mense.

Wie is jou naaste?
’n Mens is so geneig om te dink dat net die mense wat naby aan jou is, jou naaste is. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan help ons om die regte antwoord te kry op die vraag wat die wetgeleerde aan Jesus gestel het, naamlik: “Wie is my naaste?”

Lees hierdie mooi gelykenis in Lukas 10:25-37 en beantwoord dan die vrae.

  • Watter boodskap wou Jesus, na jou mening, oordra met die feit dat die priester en die Leviet albei Jode was, en die man wat die Jood uiteindelik gehelp het, ’n Samaritaan?
  • Volgens Jesus se vraag in vers 36 moes die wetgeleerde eintlik nie gevra het: “Wie is my naaste?” nie, maar: “Wie se naaste is ek?” Watter verantwoordelikheid plaas hierdie veranderde benadering op ons skouers?
  • Wat kan jy uit hierdie gelykenis aflei oor die aard van die liefde wat daar in die Samaritaan se binneste geleef het?

Jy is die naaste van enige mens wat jy op jou pad teëkom. Dit maak nie saak wat sy ras of geloof is nie, ook nie of hy jou vriend of jou vyand is nie – jy moet almal met wie jy in aanraking kom, onvoorwaardelik liefhê.

Jou gesinslede
Die naaste van alle naastes is jou gesinslede: jou man of vrou, jou kinders of jou ouers. Jy moet hulle liefhê soos jouself. Dit help nie om jou naaste in die wêreld daarbuite te probeer liefhê as jy nie met die mense in jou eie huis oor die weg kan kom nie.

Lees Efesiërs 5:21–6:4 en beantwoord dan die vrae.

  • Watter gesindhede moet die gelowige man teenoor sy vrou openbaar (5:25-31)?
  • Wie se voorbeeld moet die man hierin navolg (5:25)?
  • Hoe moet die vrou teenoor haar man optree (5:22-24)?
  • Wat verwag Paulus van die kinders in hulle verhouding met hulle ouers (6:1-3)?
  • En hoe moet die ouers teenoor hulle kinders optree (6:4)?

Paulus vergelyk die verhouding tussen man en vrou met dié tussen Jesus en sy gemeente. Net soos Jesus sy kerk liefhet, moet die man ook sy vrou liefhê. Jesus was bereid om sy lewe af te lê sodat sy kerk beskerm en bewaar kon word. Die man se liefde vir sy vrou moet net so onselfsugtig en volkome wees.

Die vrou is as die man se gelyke geskep (Gen 2:18). En tog moet sy aan haar man onderdanig wees (Ef 5:22). God het haar anders as die man gemaak: nie om te lei nie, maar om gelei te word; nie om te veg nie, maar om beskerm te word. Om in volkome harmonie met haar man en met God te leef, moet sy aan haar man onderdanig wees. Op daardie manier betoon sy haar liefde teenoor haar man en teenoor die Here.

Die kinders moet hulle liefde vir God bewys deur hulle ouers lief te hê en te eer. Hulle moet ook aan hulle broers en susters God se liefde op ’n praktiese manier betoon. Dit is die ouers se taak om God se liefde teenoor hulle kinders uit te leef deur hulle lief te hê, reg op te voed en met liefde te vermaan.

Jou medegelowiges
Die Here eis van ons dat ons ons medegelowiges in alles moet liefhê.

Lees Johannes 13:34-35 en beantwoord dan die vrae.

  • Wie is die mense wat liefde teenoor mekaar moet betoon (v 34)?
  • Volgens watter voorbeeld moet hulle mekaar liefhê (v 34)?
  • Waarvan is hierdie liefde ’n getuienis (v 35)?

Jou medemens in nood
Mense wat op ’n besonderse manier op ons liefde en bystand aanspraak kan maak, is diegene met wie ons elke dag saamleef wat in nood en ellende verkeer.

Lees Matteus 25:31-46 en beantwoord dan die vrae.

  • Op watter maniere het die gelowiges God se liefde aan hulle naaste in nood betoon (v 35-36)?
  • Aan wie het hulle in werklikheid hierdie liefdesdade betoon (v 40)?
  • Het hierdie gelowiges liefdesdiens verrig om hulle saligheid daarmee te verdien, of was dit ’n natuurlike uitvloeisel van hulle diens aan die Here? Gee ’n rede vir jou antwoord.

Gelowiges kan nie anders as om God se liefde, wat in hulle binneste leef, aan mense in nood te betoon nie. Dit is ’n natuurlike uiting van hulle dankbare diens aan die Here. Ons elkeen kry elke dag talle geleenthede om barmhartigheidsdiens te lewer. As ons God waarlik liefhet, sal ons ook ons medemens liefhê en hulle in hulle nood en behoefte bystaan.

Selfs jou vyande
Die Bybel maak dit baie duidelik dat jy nie kieskeurig mag wees oor wie se naaste jy is nie. Jy moet alle mense met wie jy in aanraking kom, liefhê – al is dit nie maklik nie.

Lees Lukas 6:27-36 en beantwoord dan die vrae.

  • Vers 31 word dikwels “die goue reël” genoem. Skryf dit hier neer.
  • Wat moet ’n Christen met sy vyande doen (v 27)?
  • En aan die mense wat hom haat (v 27)?
  • En aan hulle wat hom vervloek (v 28)?
  • En aan hulle wat hom sleg behandel (v 28)?
  • Wat sê Jesus oor mense wat net liefde betoon as daardie liefde beantwoord word (v 32-34)?
  • In watter opsigte moet Christene se optrede van sondaars s’n verskil (v 35-36)?

Die Here, Jesus Christus, het hierdie gebod self prakties beoefen toe Hy aan die kruis vir sy vyande gebid het (Luk 23:34). Stefanus, die eerste volgeling van Jesus wat vir sy geloof doodgemaak is, het dieselfde gedoen (Hand 7:60).

Hoe moeilik dit ook al is, ons word ook geroep om ons vyande lief te hê. Jy moet jou hardvogtige en liefdelose baas liefhê; jou onvriendelike buurman wat weier om jou te groet; die man wat jou bedrieg of beledig het; kortom: elke mens met wie jy in aanraking kom. Dit maak nie saak wat die persoon se gesindheid of optrede teenoor jou is nie. As jy liefde bewys, skyn die beeld van Christus deur jou lewe in jou omgewing. Dan sien die ongelowiges iets van God se liefde in jou optrede raak. So bring jy die evangelie van verlossing sonder om ’n woord te sê.

Liefhê soos jouself
Die Bybel sê jy moet jou medemens liefhê “soos jouself”. In Efesiërs 5:29 lees ons: “Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit.” Net soos ’n mens jouself spontaan liefhet en in jou eie behoeftes voorsien, moet jy ook jou naaste spontaan liefhê en in hulle behoeftes voorsien. Jou naaste is, net soos jy, as beeld van God geskep en is ook sy verteenwoordigers op aarde. Daarom moet jy hulle waarlik liefhê.

Naasteliefde beteken egter nie selfvernietiging nie. Jy moet jou naaste (ja, selfs jou vyande) liefhê en jy moet bereid wees om die ander wang te draai (Luk 6:29). Maar dit beteken nie dat jy jouself so moet opoffer dat jy geheel en al ten gronde gaan nie. Jy is tog ook as beeld van God geskep. Jy is ook sy verteenwoordiger op aarde. So al moet jy jou naaste liefhê en vir hulle bid, hoef jy nie jouself aan hulle uitwissing bloot te stel nie.

Daarom het jy ook die reg om jouself en jou eie belange te verdedig. Jy moet ook jou gesin, jou gemeente en jou volk beskerm. Hulle is jou verantwoordelikheid. God het hulle aan jou toevertrou. Hulle veiligheid moet jou na aan die hart lê.

Jou liefde vir jouself en vir jou mense mag egter nooit in ’n selfsugtige liefde ontaard nie. Selfsug laat God uit die prentjie verdwyn en verander alle mense buite jou eie klein kringetjie in vyande.

Ons liefde is deur sonde verduister

In die begin het God die mens na sy beeld geskep; daarom het hy in ’n besonderse verhouding met sy Skepper gestaan. God het hom liefgehad. God het ook iets van sy liefde in die mens se hart geplant sodat hy op sy beurt vir God kon liefhê. Die mens sou ook met medemens moes saamleef.

Die belangrikste kenmerk van sy verhouding met sy medemens moes ook liefde wees. Daarom vat Jesus die wet van God saam en sê: Ons moet God liefhê, en ons moet ons medemens liefhê. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat (Matt 22:37-40).

Ongelukkig het God se skepping nie ongeskonde gebly nie. Die sondeval het groot skade kom berokken. Die mens het teen sy Skepper in opstand gekom. Sy ongehoorsaamheid aan die Here het meegebring dat hy die ewige dood verdien het. Verder het die sonde soos gif in sy bloedstroom gekom. Die gevolge van die sonde het sy natuur verander. Die smet daarvan bly aan sy nageslag kleef. Die beeld van God in sy lewe is verduister. Die liefde, wat die grondslag van sy verhouding met God en met ander mense moes vorm, het in skerwe gebreek.

As gevolg van die sondeval is die mens se verhouding met God, sy naaste, homself en die skepping versteur.

In opstand teen God
Dit was die Skepper se bedoeling dat daar ’n baie hegte verhouding tussen Hom en die mens moes bestaan. Die Skepper was die mens se vriend. Die mens het in sy tuin gewoon, daaroor geheers en daarvan geleef. Hierdie verhouding is wreed versteur omdat die mens nie meer na God wou luister nie. Hy wou self besluit wat reg en verkeerd is. Die sondeval het meegebring dat ons God nie meer wil liefhê nie; ons het as’t ware sy vyande geword. Paulus verduidelik dit baie mooi: “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God … Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie” (Rom 8:7-8).

Verwyder van jou naaste
Het jy al opgelet hoe die mooi verhouding tussen Adam en Eva ná die sondeval versteur is?

Beantwoord die volgende vrae in die lig van die Bybelverse wat gegee word.

  • Heel eerste het die openheid en die vertroue tussen Adam en Eva tot niet gegaan. Hoe het dit tot uiting gekom (Gen 3:7)?
  • Die ander een se belange het nie meer die swaarste geweeg nie. Waaruit merk jy dit op (Gen 3:12)?
  • Man en vrou was bedoel om as gelykes saam die Here se opdrag uit te voer (Gen 1:28; 2:18). Hoe is hierdie verhouding ook versteur (Gen 3:16)?

Ook die liefde word aangetas
Ware, Goddelike liefde, wat in al hierdie verhoudings ’n belangrike rol moes speel, het ook die tekens van sonde begin dra.

  • Liefde is bedoel om na ander uit te vloei. Deur die sonde word ’n mens se liefde selfgesentreerd. Die sondige mens het net lief wanneer dit tot sy of haar voordeel strek.
  • Liefde word nou nie meer “ten spyte van” betoon nie, maar “ter wille van”. Die sondige mens gee net liefde as hy of sy ook liefde of voordeel ontvang.
  • Liefde is nou van korte duur. Die sondige mens se liefde hou dikwels nie stand nie. Hy of sy gee liefde aan ’n ander, net om daardie persoon kort voor lank te verwerp of selfs te haat.

Van die ware liefde wat God in ons harte wil plant, is daar min te bespeur in die sondige mens se binneste.

’n Loflied oor ware liefde

As ’n mens wil weet wat ware liefde is, moet jy 1 Korintiërs 13 lees. In vers 4-7 kry ons eintlik ’n beskrywing van Jesus. Hy is immers die hoogste openbaring van God se liefde. Daarom vertel hierdie hoofstuk in die Bybel in werklikheid wie Jesus is en wat Hy doen. ’n Mens kan as’t ware die woord “liefde” telkens met “Jesus” vervang; dan werp dit nuwe lig op die betekenis van hierdie hoofstuk.

Die liefde oortref alles
1 Korintiërs 13 leer ons baie oor die ware aard van Goddelike liefde.

Lees 1 Korintiërs 13:1-3 en beantwoord dan die vrae.

  • Watter gawes, behalwe die liefde, word in vers 1 genoem?
  • Sê in jou eie woorde hoe iemand is wat oor hierdie gawes beskik, maar nie liefde het nie.
  • Watter gawes, behalwe die liefde, word in vers 2 genoem?
  • Waarom is iemand, na jou mening, ’n ronde nul as hy of sy hierdie gawes het, maar nie liefde nie?
  • Watter gawes, behalwe die liefde, word in vers 3 genoem?
  • Waarom baat dit jou niks as jy al hierdie dinge liefdeloos doen?

In Korinte het die lidmate baie waarde aan die buitengewone gawes van die Heilige Gees geheg – dinge soos die spreek in tale, profesie, wonderwerkende geloof, en so meer. Paulus ontken nie dat hierdie dinge waarde het nie, maar hy stel dit baie duidelik dat die liefde die grootste gawe van almal is. Dit word aan alle gelowiges gegee; elkeen moet in die liefde leef.

Fasette van die liefde
In vers 4-7 word verskillende fasette van die liefde onder ons aandag gebring. Dit is asof Paulus ’n waardevolle diamant aan ons voorhou. Elke keer draai hy dit so dat ’n ander helder faset daarvan sigbaar word. Kyk net hoe wonderskoon is die liefde:

  • Die liefde is geduldig: bereid om ander nog ’n kans te gee.
  • Vriendelik: hou aan om ander met ’n goeie gesindheid te benader selfs al word jy verontreg.
  • Nie afgunstig nie: laat ander toe om te wees wat hulle is en te hou wat hulle het.
  • Nie grootpraterig nie: laat nie die klem op eie talente en besittings val nie, maar stel ander se belange voorop.
  • Nie verwaand nie: verhef jouself nie bo ander om hulle te verkleineer of te veroordeel nie.
  • Handel nie onwelvoeglik nie: toon respek vir ander deur gepaste en sober optrede.
  • Soek nie sy eie belang nie: probeer nie jou eie sienswyse afdwing of jou eie voordeel alleen najaag nie.
  • Is nie liggeraak nie: besef jou eie tekortkomings en verdra dit as ander dit uitwys.
  • Hou nie boek van die kwaad nie: altyd bereid om te vergewe.
  • Verbly hom nie oor die onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid: voel ongelukkig as God se wet oortree word, wys sonde uit en dui die pad van die waarheid aan.
  • Bedek alles: bring elke saak onder die oorkoepelende dampkring van die liefde.
  • Glo alles: bereid om dinge te aanvaar sonder om ontsteld te raak.
  • Hoop alles: gaan die toekoms met blymoedigheid en met vertroue op God tegemoet.
  • Verdra alles: sien selfs in terugslae, teëspoed en vyandigheid ’n geleentheid om aan ander goed te doen.

Die liefde vergaan nooit
In die laaste gedeelte van 1 Korintiërs 13 beklemtoon Paulus die onverganklikheid van die liefde.

Lees 1 Korintiërs 13:8-13 en beantwoord dan die vrae.

  • Wat word uiteindelik van sommige buitengewone gawes wat die Heilige Gees aan mense gee (v 8)?
  • Mense wat hulle net met die buitengewone gawes besig wil hou, is nog soos kinders. In watter aspekte van hulle optrede kan ’n mens dit sien (v 9-11)?
  • Ten slotte noem Paulus drie belangrike gawes: geloof, hoop en liefde. Watter een is die grootste? Vind ’n rede vir jou antwoord in vers 12-13.

Wat ’n wonderlike gawe is die liefde nie!
Ondersoek jou eie lewe. Watter fasette van hierdie kosbare diamant skitter in jou handel en wandel? Moenie moedeloos word as jy min daarvan in jou eie lewe raaksien nie. Liefde is iets wat groei. Namate ’n mens jaar ná jaar op die pad van heiligmaking vorder, word God se liefde in jou binneste algaande groter.

Die vraag is nou: Hoe kan ons seker maak dat ons wel vorder en dat al meer van God se liefde in ons lewe sigbaar word?

Vorentoe op die pad van die liefde

As dit by die uitlewing van liefde kom, stel Jesus ’n baie hoë eis: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel … As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie maar ook net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matt 5:44-48).

Daar is mense wat baie klem daarop lê dat ons met ons sonde en tekortkomings nooit hier op aarde volmaak sal kan wees nie. Dit beteken egter nie dat ons moedeloos moet word en maar moet aanhou leef soos ons voorheen geleef het nie. Daardie volmaaktheid – ook wat die uitleef van liefde betref – is ’n ideaal wat ons met alle krag moet najaag. Dit vra konsekwente gehoorsaamheid aan die eise van God se Woord.

Om jou hiermee te help, gee ons ses riglyne waarvolgens jy jou lewe kan inrig.

Die bron van ware liefde
Liefde is nie iets wat ’n mens in jou hart kan opwek nie. Dit is ook nie ’n gesindheid wat jy uit eie krag kan uitleef nie. Die rede hiervoor is voor die hand liggend: Liefde kom van God af. Dit is ’n gawe wat Hy aan ons gee. Dit is net Hy wat ons deur die werk van sy Heilige Gees in staat kan stel om werklik lief te hê. Daarom sê 1 Johannes 4:7-8:

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.

Moet dus nie in jou binneste rondsoek vir die liefde wat jy moet uitleef nie. Gaan soek dit by die bron self: jou hemelse Vader. Leef naby aan Hom. Stel jouself onder sy leiding en vra dat Hy sy liefde in jou hart moet wakker maak.

Uitgestort deur die Heilige Gees
God se liefde is nie iets wat êrens in die lug bly hang nie. Hy het sy Heilige Gees gestuur om seker te maak dat daardie liefde in sy kinders se lewe tot sy reg kom. Die Heilige Gees help ons om God se liefde in ons alledaagse lewe ’n werklikheid te laat word.

God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom 5:5).

As ons uit God se liefde wil leef, moet ons bereid wees om ons lewe onder die beheer van die Heilige Gees te plaas. Dit is immers ’n opdrag wat God aan ons gegee het: “Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie … Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Gal 5:16, 25).

Wie self sy lewe wil beheer, sal nooit werklik in liefde kan leef nie. As die Heilige Gees die beheer van jou lewe oorneem, sorg Hy ook dat God se liefde ’n kenmerk van jou lewenswandel word.

Vrug van die Gees
In Galasiërs 5:22-23 word die vrug van die Gees vir ons geteken. Let daarop dat dit nie die “vrugte” van die Gees genoem word nie. Dit is nie afsonderlike vrugte wat los van mekaar staan nie. Die mooi eienskappe wat daar genoem word, is verskillende fasette van een groot geheel: “Die vrug van die Gees … is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Die liefde is soos ’n vrug wat groei en ryp word, al neem dit ook ’n lang tyd. Dit is die Heilige Gees wat sy vrug laat groei.

Streef die liefde na
Ons het nou baie klem daarop gelê dat liefde van God af kom en dat dit die Heilige Gees se werk is om dit in ons lewe in te dra. Daar is ook ’n ander kant van die saak. Ons kan nie maar net sit en wag dat iets in ons lewe moet gebeur nie. Ons moet van ons kant af alles doen om God se liefde uit te leef.

Daarom sê Paulus, direk nadat hy die liefde in 1 Korintiërs 13 besing het: “Julle moet die liefde nastreef” (1 Kor 14:1).

Die liefde is die grootste gawe van almal. Ons moet dit met beslistheid en volharding nastreef. Om waarlik lief te hê vra inspanning van ons kant af. Ons moet doelbewus daaraan werk om God hierin te gehoorsaam.

Bid vir liefde
Aangesien ware liefde ’n gawe van God is, moet ons gedurig bid en vra dat Hy dit al meer oorvloedig vir ons sal gee. Paulus stel hierin vir ons die voorbeeld: “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom” (Fil 1:9-10). Die Woord van die Here verseker ons dat ons gebede nie vrugteloos sal wees nie.

Beantwoord die volgende vrae in die lig van die Bybelgedeeltes wat gegee word.

  • Watter voorwaarde stel die Bybel aan die verhoring van ons gebede (1 Joh 5:14)?
  • Hoe weet ons dat dit God se wil is dat ons Hom en ons naaste moet liefhê (Matt 22:34-40; Rom 13:8-10)?
  • Watter gevolgtrekking kan jy maak as jy die bogenoemde Skrifgedeeltes saamlees?

Leef liefde deur geloof
Wat tot hiertoe gesê is, mag miskien vir jou baie mooi en idealisties klink. En tog wonder jy of dit werklik moontlik is om God se liefde ten volle uit te leef. Voornemens en besluite gaan jou nie help om dit te vermag nie; die enigste manier om dit reg te kry, is deur hierdie uitdaging in geloof te aanvaar. Alles in ’n mens se geestelike lewe ontvang jy uit genade en deur geloof.

  • Deur geloof moet jy God se weldade en beloftes aanvaar en vir jouself toe-eien.
  • Deur geloof moet jy Jesus as jou Verlosser aanneem en glo dat jou sonde vergewe is.
  • Deur geloof moet jy aanvaar dat jy deur die Heilige Gees vervul is en dat Hy van nou af jou lewe beheer.

Net so moet jy bereid wees om deur geloof te aanvaar dat God sy liefde in jou hart uitstort en vir jou die krag gee om daardie liefde teenoor Hom en jou medemens te betoon:

En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom (1 Joh 4:16).

Begin eenvoudig deur mense in geloof lief te hê. Al voel jy in jou hart dat dit vir jou onmoontlik is om sekere mense lief te hê, eis God dit nogtans van jou. Dit is sy wil dat jy vriend én vyand moet liefhê. Glo eenvoudig dat God die onmoontlike moontlik kan maak.

  • Maak ’n lys van mense van wie jy nie hou nie – mense wat jou gedurig irriteer of kwaad aandoen. Sit die lys in jou Bybel. Bid gereeld vir die mense op die lys. Vra dat God hulle gesindheid teenoor jou moet verander, en bid dat Hy vir jou die krag en die moed sal gee om hulle lief te hê. As jy waarlik glo dat God se liefde in jou woon, kan jy nou deur die krag van sy Gees begin om liefde aan hierdie mense te betoon.

Jy sal verbaas wees om te sien wat God se liefde kan doen. Jou vriende en vyande sal agterkom dat iets in jou lewe verander het. Wanneer jy liefde betoon aan iemand wat jou haat, jou te na kom of jou beledig, dra jy die beeld van Jesus in jou lewe. Dan begin jy soos Hy lyk en optree. Dan is jou lewe ’n lewende getuienis van die krag van die evangelie van Jesus Christus. En dan word die Naam van die Here deur jou lewe verheerlik.

As jy wil, kan jy nou bid en vra dat die Here jou hierin sal help. Jy kan byvoorbeeld sê:

Here, U weet dat ek U liefhet en dat ek u kind is. U weet ook dat daar sekere mense is wat ek nie volkome kan liefhê nie. Ek weet dat U hulle oneindig liefhet. Ek weet ook nou dat dit u wil is dat ek hulle ook moet liefhê. Verander asseblief my lewe. Stort u liefde opnuut in my lewe uit. Beheer my hele lewe deur u Heilige Gees. Ek eien nou u liefde vir my toe en beloof om almal met wie ek saamleef met u liefde te oorlaai.

Vrae om oor te gesels of na te dink

  • Noem minstens vier kenmerke van ware, Goddelike liefde. Watter daarvan kan jy ook uitleef?
  • Waarom kan ons as mense nie vanself en uit eie krag waarlik liefhê nie?
  • Watter eienskap van die liefde wat in 1 Korintiërs 13 genoem word, is vir jou die heel mooiste? Gee ’n rede vir jou antwoord.
  • Hoeveel van die riglyne vir die uitlewing van ware liefde kan jy nog onthou? Skryf almal neer en sorg dat jy hulle kan opnoem.
  • “Dit is wel moontlik om jou vyande lief te hê.” Waar of onwaar? Gee ’n rede vir jou antwoord.
  • Maak ’n lysie van omstandighede waarin dit vir jou baie moeilik is om God se liefde uit te leef. Hoe kan jy aan God gehoorsaam word?
  • Is daar mense met wie jy in aanraking kom teenoor wie dit vir jou baie moeilik is om liefde te betoon? Skryf hulle name neer. Besluit hoe jy in minstens een geval gaan optree om aan die Bybel se riglyne gehoorsaam te word.