Tema 4

Sections

Inleiding

Memoriseerverse vir Tema 4

Matteus 25:40
“En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’”

2 Korintiërs 9:6-7
Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Hebreërs 7:26-27
Vir ons was so ’n hoëpriester nodig, een wat heilig, skuldeloos en sonder smet is, verwyder uit die midde van die sondaars en verhoog bo die hemele, een wat nie, soos die hoëpriesters, elke dag offers hoef te bring, eers vir sy eie sondes en dan vir dié van die volk nie. Hy het immers eens en vir altyd ’n offer vir die sondes gebring toe Hy Homself geoffer het.

1 Petrus 2:9
Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

1 Johannes 5:14-15
En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.

Inleiding
Kyk saam na Tema 4 se video of gebruik die inleiding hier onder.

’n Dissipel én ’n priester?
Het jy geweet een van die vrugbaarste en opwindendste take wat jy as gelowige het, is om ’n priester van die Here te wees? Dalk dink jy nou: “Ons leef tog nie meer in die Ou-Testamentiese tyd nie. Ons het nie meer vandag priesters in die kerk nie.” Tog word élke gelowige geroep om die Here as priester te dien. Ja, ook jý is ’n priester.

Vraag 31 van die Heidelbergse Kategismus lui: Waarom word die Seun van God Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

En dan kom die antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is

  • tot ons hoogste Profeet en Leraar wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het;
  • tot ons enigste Hoëpriester, wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree;
  • tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar.

Vraag 32 vra dan: Waarom word jy ’n Christen genoem? 

En die antwoord sê: Omdat ek deur die geloof ’n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het

  • sodat ek sy Naam kan bely (as profeet);
  • myself as ’n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (as priester);
  • en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (as koning).

Sien jy? Jy as gelowige en dissipel van Jesus is ook ’n priester. Jy kan dus die Here as priester dien. Mag hierdie hoofstuk jou toerus om hierdie dienswerk met ywer aan te pak sodat jy elke dag ’n priester van God kan wees.

Jesus Christus, die Hoëpriester

Deur die eeue was priesters baie belangrike godsdienstige figure. Hulle het nie net in die godsdiens van Israel ’n groot rol gespeel nie, maar ook in talle ander godsdienste van daardie tyd. Hulle is as ’n onmisbare skakel tussen die godheid en die mens beskou. Hulle het in ’n amp gestaan, spesifieke take verrig en diens gelewer as middelaar tussen die mense en die opperwese wat hulle aanbid het.

Baie priesters, maar één Hoëpriester
In die Ou Testament lees ons van twee soorte priesters: die hoëpriester en die ander priesters wat hom bygestaan het. Hulle het belangrike take gehad:

  • Hulle moes die volk uit die wet van God onderrig (Lev 10:8-11; Eseg 44:23).
  • Hulle moes God as bemiddelaars by die volk verteenwoordig en God se liefde en sorg aan die volk uitdeel (Num 6:22-27; 2 Kron 30:27).
  • Hulle moes die volk voor God verteenwoordig deur hulle offers aan die Here te wy (Lev 9:1-2; Heb 5:1).

Die dienswerk van die priesters in die Ou-Testamentiese tyd het heengewys na die werk van die groot Hoëpriester wat later sou kom: Jesus Christus. Veral in die brief aan die Hebreërs leer ons hoe Hy die onvolkome priesterskap van die Ou Testament kom vervul het. Sy dienswerk het nuwe betekenis aan die priesterdiens gegee.

Beantwoord die volgende vrae uit die Bybelgedeeltes wat gegee word.

  • Wat is die belangrikste werk wat ’n priester moes doen (Heb 5:1)?

Lees nou Hebreërs 7:20-28.

  • Hoeveel verskille tussen die Ou-Testamentiese priesterskap en die priesterlike dienswerk van Jesus kan jy daarin opspoor? Skryf dit hier neer.
  • Wie het Christus tot Hoëpriester geroep (Heb 5:4-5)?
  • Hoe het Christus die versoening en ewige verlossing bewerk (Heb 9:11-14)?
  • Wat doen hierdie Hoëpriester gedurig (Heb 7:25; 10:12)?

Om ’n priester te wees is ’n roeping en ’n opdrag. ’n Mens kan nie self besluit om ’n priester te wees nie. God roep jou. Jy ontvang dus ’n opdrag van Hom af. Jy moet op hierdie roeping antwoord deur jou gewillig te verklaar om hierdie dienswerk te verrig.

Van Jesus sê die Bybel baie duidelik dat God Hom tot Hoëpriester geroep het (Heb 5:4-5). Jesus was gewillig om hierdie dienswerk te doen; daarom het Hy gesê: “Kyk, Ek het gekom, O God, om u wil te doen. In die boekrol is dit van My geskrywe” (Heb 10:7).

Een met die mense
Die hoëpriester moes hom destyds heeltemal met die volk vereenselwig. Dit is al manier waarop hy een met hulle kon wees en hulle as middelaar voor God kon verteenwoordig. Omdat Jesus as Hoëpriester aangestel is, moes Hy Hom ook met die mense vereenselwig sodat Hy in hulle plek voor God kon staan. Daarom was dit nodig dat Hy ’n mens – ’n gewone mens soos ons – moes word.

Lees Hebreërs 2:14-18 en beantwoord dan die vrae.

  • Hoe volledig het Jesus Hom met ons as mense vereenselwig (v 17)?
  • Watter twee argumente voer die skrywer aan om te bewys dat Jesus waarlik mens was (v 18)?
  • Watter twee dinge kon Jesus doen omdat Hy waarlik mens geword het (v 14-15, 17)?
  • Met watter twee woorde beskryf die skrywer Jesus se hoëpriesterskap (v 17)?
  • Hoewel Jesus waarlik mens was, moes Hy tog oor een eienskap beskik het wat Hom anders as die mense gemaak het. Hoe beskryf Hebreërs 7:26 hierdie verskil?

Jesus het ’n mens soos ons geword; daarom kon Hy ons skuld betaal, ons straf dra en ons sonde wegneem. Om die mag van die sonde en die dood te oorwin, moes Hy ook ’n sondelose mens en ’n heilige Hoëpriester wees (Heb 7:26; 1 Pet 2:21-24).

Ware, Goddelike lewe
Die hoëpriester het die lewende en lewendmakende God verteenwoordig. As Hoëpriester het Jesus die ware, Goddelike lewe aan die mense kom gee. Hy is die ware lewe, en Hy skenk dit aan ons.

Beantwoord die volgende vrae op grond van die Bybelverse wat gegee word.

  • Watter beeld gebruik Jesus in Johannes 6:47-51 om die mense te leer dat Hy aan hulle die ware lewe gee?
  • In Johannes 8:12; 12:35-36 gebruik Jesus ’n tweede beeld om te verduidelik dat Hy die lewe gee. Wat is dit?
  • Watter lig werp Johannes 14:6, 19 op die feit dat Jesus die ware lewe gee?

Met God versoen
Die belangrikste taak wat die priesters in die tyd van die Ou Testament verrig het, was om die mense se offers na God toe te bring. Dit was ’n teken daarvan dat die stukkende verhouding tussen God en mens deur ’n offer heelgemaak sou word.

As Hoëpriester is Jesus die verteenwoordiger van die mense by God. Hy het aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan om sodoende die sonde en die dood te oorwin. Diegene wat Hom as Verlosser aanneem, word met God versoen omdat Jesus in hulle plek God se straf vir die sonde gedra het. Dit is asof hulle self aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het (2 Kor 5:15; Ef 2:4-7; Heb 9:11-14).

Voorbidding en seën
Die volk het die verwagting gehad dat hulle offers die verhouding tussen God en mens sou herstel. Die priesters het vir die volk voorbidding gedoen en God se seën aan die volk deurgegee. Die pragtige priesterlike seën wat in Numeri 6:24-26 opgeteken is, lui: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!”

Dit is presies wat Jesus as Hoëpriester tans aan die regterhand van die Vader in ons belang doen:

  • Hy verteenwoordig sy gelowige kinders in die hemel. Ons kan deur Hom na God toe gaan (Heb 7:25).
  • Hy tree voortdurend vir ons by God in (Heb 7:25).
  • Hy het die ereplek in die hemel gaan inneem (Heb 10:12) sodat Hy deur die werk van sy Heilige Gees ryke seëninge aan ons kan gee (Joh 16:7, 12-15).

Die groot Barmhartige
Barmhartigheidsdiens was ’n baie belangrike kenmerk van Jesus se optrede. Hy het van dorp tot dorp gegaan om mense in nood te help. Dit was nie maar net ’n minder belangrike deel van sy werk op aarde nie. Dit was ’n taak wat Hy met groot toewyding en liefde in opdrag van sy Vader uitgevoer het. Daardeur het Hy priesterlike dienswerk verrig en aangedui dat dit ’n onafskeidbare deel van sy taak op aarde was.

Gesalf vir die taakIn die Ou Testament is die hoëpriester met ’n baie duur olie, wat spesiaal vir dié doel gemeng is, vir sy taak gesalf. Hierdie olie was ’n simbool van die salwing en toerusting van die Heilige Gees. Dit is die Gees van God wat die hoëpriester in staat gestel het om sy werk tot eer van die Here te doen.

Jesus is nie met simboliese olie gesalf nie, maar deur die Heilige Gees. Hierdie salwing het plaasgevind toe die Gees van God by Jesus se doop in die Jordaan soos ’n duif op Hom neergedaal het. Daar is Hy vir sy ampswerk toegerus – ook die werk wat Hy as Hoëpriester moes verrig.

Priesterskap deur die eeue

Ons moet iets meer sê oor die verhouding tussen die priesterskap van die Ou Testament, die werk wat Jesus as Hoëpriester gedoen het en die priesterlike dienswerk wat Hy van ons as lidmate van die gemeente verwag.

Priesters wat na Jesus wys
Uit die brief aan die Hebreërs is dit duidelik dat die priesteramp in die Ou-Testamentiese tyd ’n afbeelding of ’n simbool was van die ware priesterlike dienswerk wat Jesus sou kom doen. Ons kan sê dit was ’n skaduwee van die werklikheid wat later sou aanbreek. Die priesters se ampswerk het na dié van Jesus vooruitgewys (Heb 8:1-6).

Die belofte van die Ou-Testamentiese priesterskap word waar gemaak wanneer Jesus die volkome offer bring. Hy is die enigste ware Hoëpriester. Hy is die enigste Persoon wat die versoening tussen God en mens kan bewerk.

Priesters ná Christus?
Die vraag ontstaan nou: Kan ons ná Jesus se eenmalige offer nog van priesterlike dienswerk praat? Die Bybel gee self die antwoord.
Beantwoord die volgende vrae in die lig van die Bybelgedeeltes wat gegee word.

  • Lees 1 Petrus 2:9-10. Petrus praat hier met die gelowiges in die gemeente. Op grond waarvan kan ons sê dat hulle selfs ná Christus se dienswerk ook as priesters moet optree?
  • Blaai nou na Openbaring 1:4-6 en 5:8-10. Watter bewyse kry ons in hierdie verse dat die gelowiges in die nuwe bedeling ook as priesters moet dien?

Die Bybel maak dit baie duidelik dat daar net één Hoëpriester is: Jesus Christus. Almal wat in Hom glo, word ook geroep om die Here as priesters te dien. Ons is immers as lede van sy liggaam op aarde deur geloof met Hom verenig. Die feit dat ons Christene is, beteken dat ons ook deur die Heilige Gees gesalf is om in drie ampte te dien: as profete, konings en priesters. Ons priesterlike roeping verskil egter in baie opsigte van dié van die Ou-Testamentiese tyd:

  • Die offers wat ons bring, wys nie meer vooruit na die groot offer wat later gebring sou word nie. Dit is gegrond op die versoeningswerk – Jesus het ons met God versoen – wat die Here reeds afgehandel het.
  • Ons dien die Here nie meer net met die verwagting dat die sonde oorwin sal word nie. Ons dien Hom uit dankbaarheid vir die feit dat Jesus rééds die sonde oorwin het.
  • Ons hou nie meer net aan beloftes vas nie. Ons het die volle werklikheid van die verlossing in Jesus as erfenis ontvang. Jesus sou nie sy werk as Hoëpriester kon verrig as Hy nie bereid en gehoorsaam was om ’n dienskneg te word nie. Daarom sê Hy van Homself: “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Matt 20:28).

Paulus besing Jesus se diensbaarheid in ’n pragtige loflied wat jy in Filippense 2:5-11 kan lees. Daar staan onder meer: “Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis” (v 7-8).

Jesus doen vandag nog sy priesterlike dienswerk op aarde deur die lidmate van sy gemeente te gebruik. Hy wil deur jou, ja, deur ons almal sy priesterlike dienswerk op aarde voortsit. Dit beteken dat elkeen van ons ook bereid moet wees om die werk van ’n dienskneg te verrig. Wie in God se koninkryk net belangrik wil wees, is nie vir die Here bruikbaar nie. Net hulle wat nederige werk kan en wil doen, sal waarlik priesters vir die Here kan wees.

Priesterskap in die praktyk

God dwing niemand om vir Hom te werk nie. Hy roep wel mense om in sy diens te staan, en dan moet hulle hulle gewillig verklaar om hierdie roeping te aanvaar en die taak uit te voer. Het jy al op jou roeping geantwoord? Kan jy onthou toe jy geroep is om te dien?

  • Vertel van ’n gebeurtenis toe jy bewus geword het dat jy geroep word om soos Jesus te dien.

Om in Jesus se voetspore ons priesterskap uit te oefen, moet ons dit ook in die styl van Jesus doen.

  • Vra jou elke keer af: Wat verwag die Here in hierdie verband van my?
  • Bid ook telkens dat God aan jou die krag moet gee om in alles aan Hom gehoorsaam te wees.

In heiligheid én nederigheid
Iemand wat die Here as priester wil dien, se lewe moet van heiligheid en nederigheid getuig. Die woord “heilig” laat baie mense skrik. Hulle reken dit is iets wat ons as mense nooit kan wees nie. Hulle maak ’n fout. Om heilig te wees beteken nie om sonder sonde te wees nie. Dit beteken om waarlik aan God te behoort, voluit vir Hom te leef en aan Hom toegewy te wees. Ons het elkeen die opdrag ontvang om heilig te leef.

Die Bybel sê: “As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig’” (1 Pet 1:14-16).

Om ’n geheiligde lewe te lei, beteken dat jy:

  • deur Jesus se bloed van sonde skoongewas is.
  • naby jou hemelse Vader leef en Hom met al jou krag dien.
  • jou lewe voortdurend onder die beheer van die Heilige Gees plaas sodat Hy ten volle in jou binneste kan woon en werk.

Dit is baie duidelik dat ’n mens nie jouself kan heilig maak nie; dit is God se werk in jou. Jy moet Hom die geleentheid gee om jou lewe te heilig.

  • Ware heiligheid gaan altyd met nederigheid gepaard. As heiligheid jou Hoogmoedig maak, is dit beslis skynheiligheid. Daarvoor moet jy versigtig wees.
  • Ware heiligheid beteken dat jy jouself aan die Here moet oorgee. Dit vra ook dat jy jou eie belange op die agtergrond moet skuif sodat ander mense se belange, en bo alles God se belange, eerste kan kom in jou lewe.

’n Priester is dus ’n geheiligde mens, maar ook ’n nederige mens wat na geleenthede soek om te dien.

Gesalf vir die taak
Jesus is gesalf met die oog op sy priesterlike werk. Die Heilige Gees het op Hom gekom om Hom vir die taak toe te rus (Matt 3:16-17). Net so moet jy as gelowige deur die Heilige Gees gesalf wees (1 Joh 2:27). Dit beteken dat jy jou lewe moet oopstel sodat die krag van die Gees van God deur geloof in jou kan werk. Hierdie krag is beskikbaar; jy moet net daaruit begin leef!

As jy nog nie dié salwing beleef nie, waarom vra jy nie nou dat die Here dit vir jou gee nie? Jy kan dit doen deur ’n eenvoudige gebed te bid.

Dankie, Here Jesus, dat U die Heilige Gees aan u kerk gegee het. Dankie dat ek ook aan u kerk behoort. Ek plaas my lewe nou volledig onder die beheer van u Gees. Ek glo en weet dat U my nou deur die werk van die Heilige Gees vir my dienswerk toerus. Ek loof u Naam omdat ek ook as priester in u diens mag staan.

Van nou af hoef jy nooit weer te twyfel of die Gees van God in jou woon en werk nie. God wil vir jou die krag gee om vrugbare diens vir Hom te lewer. Glo dit. Leef daaruit. En dien die Here met al jou krag.

Offergawes vir die Here
’n Priester is iemand wat offers bring. Jy hoef nie meer ’n offer te bring sodat jou sonde vergewe kan word nie. Dié offer het Jesus klaar gebring. Jy word nou geroep om jouself as ’n offer aan die Here te wy. Dit is ’n offer van dankbaarheid. Dit maak die kern van jou godsdiens uit. Luister hoe Paulus dit stel: “En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen” (Rom 12:1).

Het jy jouself al op die altaar gelê en aan die Here geoffer? Jy kan vir Hom sê:
Ek dank U, Vader, dat u Seun laat offer het sodat ek aan U kan behoort en altyd as u kind kan leef. Ek offer myself nou aan U as ’n teken van my dankbaarheid. Neem my liggaam en my gees en alles wat ek besit. Maak daarmee net wat U wil.

Mense wat hulleself en hulle besittings aan die Here geoffer het, moet dit ook in die praktyk bewys deur daadwerklik iets aan God af te staan:

  • Jou tyd behoort alles aan die Here. Jy dien Hom elke oomblik van jou bestaan. Jy moet genoeg tyd opsy sit om spesifiek met die werk van sy koninkryk besig te wees.
  • Jou besittings behoort alles aan die Here. In alles wat jy kry of bestee, eerbiedig jy die beginsels van sy Woord. Jy gee ook ’n ruim deel van jou inkomste spesifiek vir die uitbreiding van sy ryk.
  • Jou werkkrag behoort alles aan die Here. Jy verheerlik Hom deur alles wat jy elke dag doen. Jy bestee ’n noemenswaardige deel van jou krag spesifiek aan die bevordering van sy koninkryk.

’n Offer word nie sonder pyn gegee nie. Wie net afskeeptyd, orige geldjies en moeë kraggies aan die Here wy, het nog nie geleer wat dit beteken om werklik te offer nie. Jy moet gee dat jy dit voel; jou eie belange moet in die proses seerkry. Dan sal jou offer iets vir God se koninkryk beteken.

Doelgerigte voorbidding

’n Baie belangrike aspek van ons priesterlike dienswerk is om mense te dien deur vir hulle voorbidding te doen. Ons nader tot ons hemelse Vader in die Naam van Jesus Christus wanneer ons vir mense en instansies by God wil intree.

Vir wie moet ons almal voorbidding doen volgens hierdie Bybelgedeeltes?

  • Matteus 5:43-48
  • Efesiërs 6:18
  • 1 Timoteus 2:1-2
  • Jakobus 5:14-16

Beantwoord nou die volgende vrae na aanleiding van die Bybelgedeeltes wat gegee word.

  • Wat is die doel van ons voorbidding (1 Tim 2:1-4)?
  • Watter belofte verbind Jesus aan ons gebede (Joh 14:13-14)?

Jesus se hoëpriesterlike gebed
In sy laaste gesprekke met sy dissipels het Jesus hulle voorberei vir die taak wat hulle ná sy hemelvaart moes verrig. Op verskillende plekke in hierdie gesprekke beklemtoon Hy die waarde van gebed (Joh 14:13-14; 15:7; 16:23-24). Direk daarna bid Hy die pragtige hoëpriesterlike gebed wat in Johannes 17 opgeteken is. Hy wil hê sy dissipels moet weet dat Hy steeds vir hulle sal intree wanneer Hy by sy Vader is. Hy wil ook hê dat hulle uit sy voorbeeld moet leer hoe om die priesterlike werk van voorbidding te doen.

Ons elkeen het ook ’n klein groepie mense wat naby aan ons is. Vir ’n ouer is dit haar gesin; vir ’n kategeet is dit sy klas; vir ’n amptenaar is dit haar kollegas; vir ’n sportman sy spanmaats. En so kan ons aangaan.

Dit is ons elkeen se taak om die evangelie van Jesus aan daardie groepie mense naby aan ons te bring. Maar ons het ook die verantwoordelikheid om vir hulle voorbidding te doen. Ons kan bid dat hulle die evangelie van Jesus moet aanvaar, dat hulle van die Bose bewaar moet word, dat hulle geestelik moet groei en dat die Here in hulle behoeftes moet voorsien.

Daar is ook nog ’n les uit Jesus se gebed te leer. Sy liefde vir die wêreld en sy plan met alle mense is te groot om tot die klein kringetjie van die dissipels beperk te word.

Jesus doen voorbidding vir almal wat deur al die eeue tot geloof in Hom sou kom. Op daardie manier word God se groot plan met hierdie wêreld ’n werklikheid. So moet ons ook as priesters vir die kerk van Christus en vir die uitdra van die evangelie voorbidding doen. Ons moet bid vir ware eenheid, vir die ywerige getuienis van alle opregte gelowiges en vir positiewe reaksie op die verlossingsboodskap wat hulle uitdra.

’n Gebedsdagboek
Hierdie priesterlike werk van voorbidding moet persoonlik, spesifiek en doelgerig wees. Dit is so maklik om vaag en algemeen te bid. Ons sê dikwels: “Here, lei diegene wat u leiding nodig het.” Voorbidding word ’n avontuur as ons by die naam vir mense begin bid.

Dit is ’n goeie gebruik om ’n dagboek te hê waarin jy jou spesifieke gebedsversoeke aanteken. Dit herinner jou aan dié sake waarvoor jy volhardend moet bid. En dit gee jou die geleentheid om aan te teken wanneer ’n bepaalde gebed verhoor word. Elke keer wanneer jy die datum van ’n gebedsverhoring neerskryf, het jy iets nuuts waarvoor jy die Here kan loof en dank.

Bid in geloof
Priesterlike gebed moet in geloof plaasvind. Jesus se gebede is deur sy Vader verhoor wanneer Hy as Hoëpriester voorbidding doen (Joh 11:41-42). Hy gee ook aan ons die belofte dat ons gebede verhoor sal word wanneer ons as priesters vir ander mense voorbidding doen: “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh 14:13-14).

Om in die Naam van Jesus te bid, beteken natuurlik nie dat jy jou eie wil op God kan afdwing nie. In Johannes 15:7 word twee duidelike voorwaardes vir gebedsverhoring gestel: Die eerste is dat ons in Christus moet bly; die tweede is dat sy woorde in ons moet wees. Dit gaan dus nie oor wat ons wil hê, of wat vir ons belangrik is, of wat in ons eie belang is nie. Dit gaan oor God se wil en wat vir die uitbreiding van sy koninkryk belangrik is.

Dit beteken nou weer nie dat ons in ons voorbidding so beskeie moet wees dat ons dit amper nie waag om iets van die Here te vra nie. Ons taak is om God aan sy beloftes te herinner – en ons moet dit met geloofsverwagting en met volharding doen.

Persoonlik en gesamentlik
Voorbidding is in die eerste plek ’n persoonlike saak; daarom moet gelowiges hierdie werk verrig wanneer hulle stiltetyd hou. Die Bybel praat egter ook van die gemeente as ’n “priesterdom” (1 Pet 2:9). Die lidmate van die kerk van Christus moet dus ook gesamentlik as priesters hulle roeping vervul. Dit is die gelowiges se voorreg en verantwoordelikheid om saam die priesterlike diens van voorbidding te beoefen. Dit kan by verskillende geleenthede geskied:

  • By elke erediens vind gesamentlike voorbidding plaas. Die leraar dra in die kanselgebed mense en sake aan die Here op en die gemeentelede bid in hulle hart saam met hom.
  • ’n Kerkraad kan besluit om byvoorbeeld een keer per kwartaal ’n voorbiddingsdiens te hou. Die prediking handel by daardie geleenthede oor gebed en voorbidding. En by elke voorbiddingsdiens word ’n spesifieke saak vir voorbidding genoem. Die aanwesiges kry dan die geleentheid om saam daarvoor voorbidding te doen.
  • Die gemeentebidure bied die ideale geleentheid vir gesamentlike voorbidding. Die voorganger kan inligting in verband met ’n spesifieke saak deel en daarvoor voorbidding vra. Of hy of sy kan die lidmate die geleentheid gee om sake te noem waarvoor voorbidding nodig is. Hierdie sake word op ’n skryfbord neergeskryf en vrywilligers onderneem om elkeen vir een saak voorbidding te doen.
  • ’n Aantal mense kan ook ’n gebedsgroep vorm met die doel om gereeld vir voorbidding saam te kom. ’n Gesin kan as gebedsgroep optree. Kollegas by die werk kan gedurende etenstyd gereeld vir voorbidding saamkom. ’n Aantal egpare kan mekaar op ’n vasgestelde tyd ontmoet om voorbidding te doen. Wanneer mense vir voorbidding bymekaarkom, word hulle geestelike lewe versterk en verryk. Dit kan ’n deel van hulle godsdiens word wat hulle vir geen geld sou wou verruil nie.

Volhard in voorbidding
Dit is noodsaaklik dat ons bereid moet wees om met ons voorbidding vir ’n spesifieke persoon of saak te volhard. Ons het die belofte in die Bybel dat die Here ons gebede sal verhoor:

En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra (1 Joh 5:14-15).

Ook in hierdie verse is daar ’n baie duidelike voorwaarde: Ons moet volgens die Here se wil bid.

Dit is ’n voorreg om as priesters die groot werk van voorbidding op ons skouers te neem. As ons daarin getrou is, sal ons eie geestelike lewe groei en sal ons daartoe meewerk dat dinge rondom ons begin gebeur.

Die diens van barmhartigheid

’n Ander baie belangrike faset van ons priesterlike arbeid is die diens van barmhartigheid. Hierin het Jesus vir ons ’n voorbeeld gestel. Hy is die groot Barmhartige. Dit is juis sy liefde vir mense in nood wat Hom daartoe gebring het om aarde toe te kom en die verlossingswerk te kom verrig. Solank Hy op aarde was, het Hy gehelp waar Hy kon: siekes gesond gemaak, hongeres gevoed, gestremde mense genees, besetenes gereinig en, bo alles, in mense se geestelike behoeftes voorsien.

Hierdie dade van barmhartigheid was juis ’n teken dat Hy die verwagte Messias is. Toe Johannes die Doper begin twyfel het of Jesus die Christus is, het Jesus aan hom die volgende antwoord gestuur: “Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie” (Matt 11:4-6).

Elke gelowige word geroep om as priester diens van barmhartigheid te verrig. Ons moet God se liefde, wat in ons hart leef, aan ander mense deurgee. So kan ons iets van Jesus se verlossingswerk in mense se lewe help indra. Hy wil met ons oë mense in nood raaksien, met ons voete na hulle toe gaan, met ons hande hulle help en met ons monde hulle troos en bemoedig.

Lees die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in Lukas 10:25-37 en beantwoord dan die vrae.

  • Die Samaritane en die Jode wou destyds niks met mekaar te doen hê nie. Waarom, dink jy, het Jesus die hoofkarakter van hierdie gelykenis juis ’n Samaritaan laat wees?
  • Watter kenmerke van ware barmhartigheid merk jy in die Samaritaan se gesindheid en optrede (v 33-35)?
  • Met watter opdrag sluit Jesus sy gesprek met die wetgeleerde af (v 37)? Wat sê dit vir jou?

Lees nou ook Matteus 25:31-46.

  • Maak ’n lys van die verskillende dade van barmhartigheid wat in hierdie gedeelte genoem word (kyk veral na v 35-36).

Nood en behoefte
Baie gelowiges is geneig om te dink dat die diens van barmhartigheid net met die verskaffing van materiële hulp te doen het. En omdat daar in hulle onmiddellike omgewing dikwels nie finansiële behoeftigheid is nie, dink hulle dat hulle nie nodig het om barmhartigheidsdiens te verrig nie. Dit is natuurlik nie waar nie. Barmhartigheidsdiens het met veel meer fasette van ons lewe te doen.

Amper in elke huis is daar die een of ander vorm van nood en behoefte wat verlig kan word. Dink maar aan huwelikskonflik, kinderverwaarlosing, die eensaamheid en verswakking by bejaardes, verslawing, siekte, verlies, smart, vreemdheid, werkloosheid, geestelike nood, en so meer.

Ons eerste verantwoordelikheid lê by die lidmate van die gemeente waaraan ons behoort (Gal 6:10). Maar ons het ook ’n taak om te verrig onder mense wat aan ander kerke en bevolkingsgroepe behoort – ja, selfs teenoor ongelowiges en buitestanders. Hieruit is dit duidelik dat niemand met gevoude hande kan sit en aanvoer dat hy of sy nie die geleentheid het om barmhartigheidsdiens te verrig nie. Ons elkeen kom daagliks met mense in aanraking wat ons ondersteuning, hulp en bystand nodig het. As ons werklik priesters vir die Here wil wees, moet ons elke geleentheid benut om barmhartigheidsdiens te lewer.

Die eer van die Here
Barmhartigheidsdiens is veel meer as welsynswerk. Dit gaan in die eerste plek nie oor die welsyn van jou medemens nie, maar oor die verheerliking van God se Naam. Daarom mag barmhartigheidswerk nie bly vassteek by voorsiening in tydelike behoeftes nie. Die uiteindelike doel van die hulp wat ons verleen, is om mense met Jesus in aanraking te bring. Ons moet dus daarna streef om elke daad van hulpverlening op die een of ander manier met die uitdra van die evangelie in verband te bring.

Hulp op materiële vlak
Ons ontvang elke dag so baie seëninge uit die Here se hand. Daarom mag ons nie ons hand toehou wanneer ons met mense in aanraking kom wat aan kos, water, klere, woonplek of werkplek gebrek het nie. Die volgende belangrike sake moet in gedagte gehou word:

  • Hierdie diens moet met die regte gesindhede gelewer word: gehoorsaamheid aan die Here en deernis met die persone wat gehelp moet word.
  • Die helper moet oor die nodige kennis beskik van die persoon wat gehelp moet word (die spesifieke behoeftes en probleme), asook kennis oor die beste manier waarop hy of sy gehelp kan word. Dit is belangrik om te weet watter hulp deur die gemeente of maatskaplikediens-organisasies aangebied kan word.
  • As ons help, moet ons voldoende hulp verleen. Dit help nie om iemand ’n paar rand in die hand te stop en dan van hom of haar te vergeet nie. Die persoon moet gehelp word tot in daardie stadium waar hy of sy nie meer hulp nodig het nie. Die Chinese het ’n spreekwoord wat baie waar is: Gee ’n man ’n vis, en hy het kos vir een dag; leer hom om vis te vang, en hy het kos vir die res van sy lewe.
  • Ons moet ook aandag gee aan die oorsake wat tot die finansiële behoefte gelei het. As daardie oorsake verwyder kan word, kan die hulpbehoewende se nood permanent verlig word.

By ’n siekbed
Siek mense het groot behoefte aan belangstelling, onderskraging, voorbidding en praktiese hulp. As priesters van die Here kan ons op hierdie terrein belangrike werk doen.

  • Besoek iemand wat siek is gereeld. Neem die siek persoon, sy gesin en sy omstandighede in ag wanneer jy jou besoeke beplan. Dit geld vir mense wat tuis verpleeg word, maar veral vir pasiënte in hospitale.
  • Stel opreg belang. Moet egter nie vra wat die persoon makeer nie. Laat hy self daaroor praat as hy so voel. Luister geduldig en opreg na wat hy te sê het, al praat hy net oor homself en sy siekte. Dit is ’n belangrike funksie wat jy as priester by ’n siekbed kan vervul.
  • Moenie vir ’n siek mens preek nie. Jou liefde en belangstelling is reeds ’n woordelose getuienis. Wanneer die geleentheid hom voordoen – dit gebeur gewoonlik nadat ’n vertrouensverhouding tussen julle opgebou is – kan ’n gesprek oor geloofsake spontaan ontwikkel.
  • Berei jou goed voor vir ’n besoek. Vra die Here se leiding en seën. Neem iets saam wat welkom sal wees. Sorg dat jy ’n bemoedigende gedagte of twee uit die Bybel gereed het.
  • Vertel vir die persoon dat jy vir hom voorbidding doen. Vra of daar ’n spesifieke behoefte is waarvoor jy kan bid. As hy dit verlang, kan jy in sy teenwoordigheid vir hom ’n gebed doen.
  • Hou jou oë oop vir praktiese probleme waarmee jy behulpsaam kan wees. As die ma siek is, kan jy of julle wyk aanbied om etes te voorsien. As die pa in die hospitaal is, kan julle beurte maak om die gesinslede vir besoektye soontoe te neem.
  • As iemand vir ’n baie lang tyd siek bly, kan die besoeke met briewe en kaartjies afgewissel word. Op hierdie manier kan jy baie naby aan ’n siek persoon kom.
  • Help die siek persoon om met sy gemeente kontak te behou. ’n Goeie plan is om ’n klankopname of video van daardie gemeente se erediens te maak. Speel dit met aankondigings en al vir hom voor.

Bystand aan bejaardes
Die grootste nood van bejaarde mense is dikwels hulle eensaamheid. Hulle het in baie gevalle min waarmee hulle hulle kan besig hou. Soms kan hulle nie meer goed sien of hoor nie. Al die mense jaag by hulle verby, want die lewe moet voortgaan. Hulle gedagtes dwaal in die verlede rond, maar min mense is bereid om met hulle oor die verlede te gesels.

Dit is gelowiges se voorreg om as priester van die Here die bejaardes by te staan. Dit kan op die volgende maniere gebeur:

  • Jy kan ’n bejaarde of ’n senior egpaar as jou verantwoordelikheid aanvaar. Jy besoek hulle gereeld, help hulle met praktiese probleme en doen vir hulle voorbidding.
  • ’n Gemeente wat na sy bejaardes omsien, is ’n priesterlike gemeente en gee aan bejaardes die voorreg om “priestervriende” te kan hê.
  • Baie mense dink dat bejaardes nie eintlik ’n behoefte aan geestelike gesprekke of hernude geloofsversekering het nie. Die teenoorgestelde is egter waar. Hulle het ’n besonderse behoefte aan geestelike gesprekke. Hulle wil juis opnuut verseker word van God se liefde en Jesus se versoening. Wanneer ’n vertrouensverhouding tussen julle opgebou is, kan jy met groot vrymoedigheid geestelike gesprekke met hulle voer. En dikwels leer ’n mens meer by bejaardes as wat jy ooit kan dink of droom.
  • Neem die mense se omstandighede en die reëlings van die tehuis waarin hulle woon in ag wanneer jy jou besoeke beplan.
  • Wees vriendelik en ontspanne, maar toon altyd respek en deernis vir die mense wat in die ouderdom vasgevang is.
  • Daar is talle vorme van praktiese hulp wat jy kan aanbied: lees voor uit die Bybel, storieboeke of die koerant; help met die skryf en pos van briewe; neem hulle ’n keer haarkapper of winkel toe; help om stukkende gebruiksartikels reg te maak; neem hulle op ’n uitstappie of twee, en help hulle om die eredienste te kan bywoon.

Mense in inrigtings
Daar is baie soorte inrigtings waar mense behandel of versorg word. Ons dink aan kinderhuise, inrigtings vir senulyers, alkoholiste, ongetroude moeders en mense wat serebraal of verstandelik gestremd is. By elkeen van hierdie inrigtings of tehuise is daar baie priesterlike dienswerk wat verrig kan word. As daar so ’n inrigting in jou omgewing is, kan jy dalk juis daar werk van onskatbare waarde in God se koninkryk verrig.

Dink ook aan gevangenes en hulle naasbestaandes. Hierdie mense gaan deur ’n uiters moeilike tyd in hulle lewe. Hulle het ’n behoefte aan verskillende vorme van bystand en onderskraging. Ook hier kan opregte kinders van die Here iets van sy liefde en genade aan hulle betoon.

Priester in jou eie huis

Dit was een van die take van ’n priester in die Ou-Testamentiese tyd om die diens van gebede en versorging te verrig. Hierdie priesterlike omgee en voorbidding is dan ook elke ouer se verantwoordelikheid.

  • Die pa neem in hierdie verband die leiding. Hy is die hoof van die gesin (Ef 5:23). Sy vrou staan hom hierin by. Albei sorg dat godsdiens in die huis tot sy reg kom.
  • Man en vrou se taak is om met hulle kinders oor Jesus te praat. Hulle moet alles in hulle vermoë doen om te verseker dat hulle kinders, wat aan hulle sorg toevertrou is, Jesus as Verlosser aanneem en hulle lewe aan Hom toewy.
  • Verder moet die ouers sorg dat die huisgesin aktief aan die werksaamhede van die gemeente deelneem en dat die eredienste, bidure en katkisasie getrou bygewoon word. Die gemeente-aksies word ondersteun en die kinders word van kleins af geleer wat dit beteken om ’n meelewende lidmaat van die kerk van Jesus Christus te wees.
  • Die priesterlike taak van die ouers kry veral by huisgodsdiens konkrete gestalte. Huisgodsdiens behoort op gereelde tye gehou te word wanneer al die lede van die gesin dit kan bywoon.

As jy Jesus as jou Verlosser aangeneem het, het die Here jou geroep om Hom as priester te dien. Wat is jou antwoord?

Mag die Here vir jou die gewilligheid gee om ’n priester te wees wat vreugde in jou dienswerk vind en God se Naam daardeur verheerlik.

Vrae om oor te gesels of na te dink

  • Is jy seker dat jy ’n kind van God is? Hoe het jy daardie sekerheid gekry?
  • Is jy gewillig om ’n priester vir die Here te wees? Indien wel, waarom wil jy dit graag doen?
  • Kan ander mense sien dat jy vir die Here afgesonder is en dat jy deur die Heilige Gees toegerus is vir jou dienswerk as priester?
  • Is dit uit jou optrede duidelik dat al jou tyd, besittings en werkkrag aan die Here behoort? Gee ’n rede vir jou antwoord.
  • Watter deel van jou gebede word aan voorbidding gewy? Dink jy dit is genoeg? Wat is jou voorneme vir die toekoms?
  • Hoeveel tyd bestee jy daaraan om saam met ander gelowiges te bid? Wat wil jy jou met die oog op die toekoms voorneem?
  • Is jy tans aktief betrokke by die een of ander vorm van barmhartigheidsdiens? Wat het jy gedurende die afgelope maand in hierdie verband gedoen?
  • Hoe gaan dit met julle huisgodsdiens? In watter opsigte kan daar verbetering wees?

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.