Tema 2

Sections

Inleiding

Memoriseerverse vir Tema 2

Psalm 119:9
Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord!

Johannes 17:17
Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.

2 Timoteus 3:14-17
Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

1 Petrus 1:23
Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.

2 Petrus 1:20-21
Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Inleiding
Kyk saam na Tema 2 se video of gebruik die inleiding hier onder.

Verstaan jy wat jy lees?
Dit is maklik om die Bybel te lees. Om insig te hê in wat ’n bepaalde gedeelte presies beteken en wat God daarmee vir jou wil sê, is egter nie so eenvoudig nie.

Miskien het jy ook al moedeloos geword terwyl jy Bybelstudie doen omdat daar baie dinge is wat jy nie verstaan nie. En dit kan daartoe lei dat jy nie meer die Bybel wil lees en bestudeer nie.

Of dalk lees jy jou Bybel bloot omdat dit ’n gewoonte is. Jy doen dit elke dag omdat dit deel van jou roetine is, maar dit beteken nie regtig vir jou iets nie.

Of dalk het jy lankal opgehou om gereeld Bybel te lees, en jy reken jy loop nie veel mis nie.

Maak jou hart oop
As jy jouself in die beskrywings hier bo herken, is dit goed dat jy hierdie boek in jou hand het. Ons wil jou help om – vir die eerste keer of opnuut – te begryp wat die Bybel presies is en hoe jy dit in jou lewe behoort te gebruik.

Natuurlik kan ons nie in hierdie boek vir jou ’n volledige uiteensetting van die boodskap van die Bybel gee nie. Ons kan ook nie alle moontlike maniere om die Bybel te lees en Bybelstudie te doen bespreek nie. Wat ons wel wil doen, is om jou entoesiasties te maak oor die Woord van God en jou toe te rus om self Bybelstudie te doen.

Kortom, ons wil jou help om jou hart oop te maak sodat God deur sy Woord en deur die werk van sy Heilige Gees duidelik met jou kan praat en ook jou hart aanraak.

Wat is die Bybel?

Vra jy vir ’n hele paar mense: “Wat is die Bybel?” sal die meeste antwoord: “Dit is die Woord van God.” Of: “Dit is die middel waardeur die Here sy wil aan ons bekendmaak.”

Vir baie mense – en dit sluit gelowiges in – is die Bybel egter soos ’n stuk borduurwerk wat van die agterkant af bekyk word: vol los drade, deurmekaar en verwarrend, sonder enige vaste patroon.

Ons wil jou help om hierdie pragtige borduurwerk van die regte kant af te sien – elke stekie op sy plek om ’n pragtige en deurlopende patroon te vorm.

Die Bybel praat oor God se Woord
Daar is mense wat die Bybel bestudeer asof dit niks anders as ’n geskiedenisboek of ’n wetenskaphandboek is nie. Hulle maak ’n fout. Die Bybel is uniek. Dit is die Woord van God. Die Here het die Bybel met ’n baie spesifieke doel vir ons gegee. God openbaar Hom, sy liefde en sy verlossingswerk aan ons in die Bybel. Met hierdie doel in gedagte moet ons die Bybel bestudeer. Dan sal ons die Woord van God reg kan verstaan.

Lees die verse hier onder en skryf neer wat die Bybel oor God se Woord sê.

  • Psalm 119:9-11
  • Psalm 119:105
  • 2 Timoteus 3:14-17
  • 2 Petrus 1:20-21

God aan die woord
Uit die Skrifgedeeltes hier bo is dit duidelik dat die Bybel God se Woord is. Wanneer ons die Bybel lees, is God dus aan die woord. Hy maak Hom aan ons bekend. Hy trek die gordyn weg sodat ons iets van sy liefde, genade en regverdigheid kan raaksien.

Kortom, in die Bybel openbaar God Hom op ’n unieke manier aan ons. Op geen ander plek kan ons Hom so duidelik sien of hoor praat as in die Bybel nie. Ons verstand of gevoelens kan ons nie help om Hom regtig te leer ken nie. God het die Bybel aan ons gegee omdat Hy deur sy Woord met ons wil praat.

Calvyn het gesê die Bybel is soos ’n bril. Sonder ’n bril sien sommige mense net dowwe en verwarrende beelde. So sou ons almal die lewe gesien het as ons nie die Bybel gehad het nie. ’n Bril maak beelde skerp en duidelik. Met die Bybel as ons bril kom God en sy wil met ons lewe duidelik in fokus. Deur die Bybel leer ons God ken soos Hy Hom aan ons wil openbaar. Die Bybel is sy gids wat Hy aan ons gee.

’n Lewende Woord
Die Bybel is heeltemal anders as ander geskrifte uit vorige eeue. Dit is ’n lewende boek. Dit vertel vir ons van die lewende God. Meer nog, die lewende God praat vandag nog deur die Bybel met ons.

Die Bybel dra gesag
Omdat God self in die Bybel aan die woord is, dra die Skrif gesag soos geen ander boek nie. Hierdie gesag kom duidelik na vore wanneer die profete van die Ou Testament uitroep: “So sê die Here!” Die manier waarop Jesus met die Skrif omgegaan het, bevestig dat Hy die gesag daarvan erken het.

Lees Lukas 4:1-13 en beantwoord dan die vrae.

  • Hoe het Jesus elke keer die versoekings van Satan weerstaan (v 4, 8, 12)?
  • Watter uitwerking het dit gehad (v 13)?

Die Bybel is verstaanbaar
Dit is waar dat ons nie alles in die Bybel sonder meer verstaan of reg verstaan nie. Tog is die Woord van God duidelik en kan elkeen wat die Bybel lees, die hoofboodskap daarvan verstaan. Luister wat sê Paulus vir Timoteus hieroor:

Bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo … jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (2 Tim 3:14-15).

Dit is waaroor die Bybel met ons wil praat: die verlossing in Christus Jesus. Die Bybel maak dit baie duidelik – selfs ’n kind sal dit kan verstaan.

Niks meer is nodig nie
Iemand wat God wil leer ken, het niks meer as die Bybel nodig nie. Nie drome, persoonlike openbarings of profesieë nie. Die Bybel is oorgenoeg. Daarom skryf Paulus: “Maar al sou een van ons of selfs ’n engel uit die hemel aan julle ’n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het – die vloek van God sal hom tref!” (Gal 1:8).

Ons kan die Bybel vertrou
Omdat die Bybel die Woord van God is, kan ons dit ten volle vertrou. Vir ’n vlieënier wat in die nag moet vlieg, is een ding noodsaaklik: Hy moet op die instrumente vertrou. Sy gevoel is dikwels vals en onbetroubaar. As hy daarop sou staatmaak, sou hy die vliegtuig maklik kon laat val.

Die Bybel is gelowiges se navigasie-instrument in ’n donker wêreld, dis ons GPS. As ons op ons eie insigte, kennis of gevoel vertrou, raak ons die koers gou byster. As ons egter op God en op die beloftes en riglyne in sy Woord staatmaak en ons lewe daarvolgens inrig, sal ons ons bestemming veilig bereik.

’n Boek in mensetaal

Die meeste van ons sal entoesiasties saamstem dat die Bybel die Woord van God is. Tog is ons geneig om te vergeet dat die Skrif deur mense se hande in mense se taal neergeskryf is. As ons die Bybel reg wil verstaan, moet ons deeglik rekening hou met die feit dat God mense gebruik het om sy Woord op skrif te stel.

’n Boek met ’n geskiedenis
Die Bybel het nie sommer een oggend as ’n netjies gebinde boek uit die hemel geval en gelyk soos ons dit vandag ken nie. Die Bybel het oor ’n tydperk van meer as ’n duisend jaar ontstaan, van ongeveer 1200 vC tot ongeveer 110 nC.

Een Skrywer, maar ook baie skrywers
Wat die ontstaan van die Bybel so wonderlik maak, is die feit dat dit één Skrywer het, en tog ook baie skrywers. Die één Skrywer is God self wat elke deel van die Bybel onder leiding van die Heilige Gees laat neerskryf het.

Daarom sê Paulus:
Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Tim 3:16).

Tog was dit mense wat die pen hanteer het. Was hulle bloot willose instrumente wat geen stempel afgedruk het op wat hulle neergeskryf het nie?

Nee, God gebruik nie mense soos ons masjiene gebruik nie. Hy het die skrywers, elkeen met sy eie gawes en talente, gebruik om op ’n kenmerkende manier neer te skryf wat Hy vir ons wou sê. Elke skrywer het dus sy eie stempel op sy skryfwerk afgedruk, maar só dat die Gees van God die Woord van die Here deur hulle op skrif gestel het.

Alle dele van die Bybel het nie op dieselfde manier ontstaan nie. Sommige dele is as’t ware direk van God ontvang (soos die tien gebooie in Eks 20 en die briewe aan die sewe gemeentes in Op 1 en 2). Ander gedeeltes het tot stand gekom wanneer ’n digter sy digkuns beoefen het (soos die Psalms). Party dele is oor ’n lang tydperk eers mondelings en later skriftelik van een geslag na ’n ander oorgedra voordat dit ’n finale vorm gekry het soos ons dit vandag ken.

Wanneer het die Bybelboeke ontstaan?
Dit is nie altyd so maklik om te bepaal wanneer die verskillende Bybelboeke tot stand gekom het nie. Volgens gegewens uit die boeke self en uit ander bronne van dieselfde tyd kan ons egter ’n redelik volledige prentjie skilder.

Die Ou Testament het waarskynlik soos volg ontstaan:

  • Genesis tot Deuteronomium: Hierdie boeke dek die geskiedenis vanaf die skepping tot met die intog van die Israeliete in Kanaän. Niemand weet hoeveel jare of eeue tussen hierdie twee gebeurtenisse verloop het nie. Mense het die geskiedenis waarskynlik in Moses se tyd (ongeveer 1200 vC) begin neerskryf. Die inhoud is mondelings en/of skriftelik oorgelewer totdat dié vyf boeke waarskynlik in die tyd van koning Josia (ongeveer 600 vC) finaal afgerond is.
  • Josua, Rigters, die Samuel-boeke en die Konings-boeke: Hierdie “geskiedenisboeke” het in ongeveer 600-450 vC ontstaan.
  • Die profeteboeke van Jesaja tot Maleagi: Hierdie boek is tussen 700 en 300 vC geskryf.
  • Die ander geskrifte – Rut, die Kronieke-boeke, Esra, Nehemia, Ester, Job, Psalms, Spreuke, Prediker, Hooglied, Klaagliedere en Daniël – het tussen 500 en 200 vC ontstaan. Sommige psalms is waarskynlik baie ouer as 500 vC.

Die Nuwe Testament het waarskynlik soos volg ontstaan:

  • Die oudste geskrifte van die Nuwe Testament is nie, soos baie mense dink, die vier Evangelies nie, maar wel die briewe.
  • Die briewe van Paulus (Romeine tot Filemon), die brief aan die Hebreërs en die briewe van Jakobus, Petrus en Judas is in ongeveer 50 tot 90 nC geskryf.
  • Die ander geskrifte – die vier Evangelies, Handelinge, die briewe van Johannes en Openbaring – het tussen 60 en 110 nC ontstaan.

Van afsonderlike dele tot ’n geheel
Hoe het dit gebeur dat die verskillende gedeeltes van die Bybel ontstaan het en uiteindelik tot ’n groot geheel saamgevoeg is? Kom ons neem die Nuwe Testament as voorbeeld.

  • Jesus voltooi sy verlossingswerk en vaar op na die hemel in ongeveer 31-32 nC.
  • By die samekomste van die vroegste gemeentes vertel getuies van Jesus se lewe en werk. Hierdie mondelinge oorlewerings kry mettertyd ’n vaste vorm.
  • Die korrektheid van hierdie oorlewerings word gekontroleer omdat baie ooggetuies (die dissipels en ander volgelinge) nog leef.
  • Teen ongeveer 47 nC (minder as 20 jaar ná Jesus se opstanding) begin Paulus met sy sendingreise. Hy skryf briewe aan die gemeentes. Hierdie briewe word nie net in die betrokke gemeentes gelees nie, maar ook rondgestuur (Kol 4:16). So word Paulus se briewe oral bekend (2 Pet 3:15-16).
  • Dieselfde gebeur met ander briewe soos dié van Jakobus, Petrus en Judas en die brief aan die Hebreërs.
  • Toe die apostels en ander hoorders en ooggetuies van Jesus se woorde en wonders van die toneel begin verdwyn, het dit noodsaaklik geword om die mondelinge oorlewerings neer te skryf. So is daar verseker dat dit ’n vaste vorm kry en dat alle gemeentes dieselfde boodskap kon ontvang en uitdra. Dit is hoe die vier Evangelies tot stand gekom het (Luk 1:1-4). Lukas het ook die geskiedenis van die vroegste Christelike gemeente in die boek Handelinge neergeskryf.
  • Johannes ontvang as bejaarde apostel ’n besonderse openbaring op die eiland Patmos. Hy kry die opdrag om dit neer te skryf (Op 1:19).
  • In hierdie tyd en ook later het daar ander geskrifte ontstaan wat oor Jesus se lewe en werk gehandel het. Baie van hierdie geskrifte is as die skryfwerk van ’n apostel van Jesus aangebied. Die Gees van God het die kerk egter duidelik gelei om tussen die egte Bybelboeke en die onbetroubare geskrifte te onderskei. In die loop van die vierde eeu nC is die kanon gefinaliseer. Die kerk het toe finaal besluit watter boeke in die Bybel hoort en watter nie.
  • Die woord kanon beteken “maatstaf”. Wanneer ons van die kanonieke boeke praat, verwys ons na dié geskrifte wat in die Bybel opgeneem is, wat gesaghebbend is en wat as maatstaf vir ons lewe kan dien.
  • Die onbetroubare geskrifte uit daardie tyd word apokriewe boeke genoem. Die woord apokrief beteken “bedek”. Hierdie boeke is nie in die gemeente voorgelees nie, dra nie dieselfde gesag as die kanonieke boeke nie en is daarom nie in die Bybel opgeneem nie.

As ons in aanmerking neem dat die Bybel oor ’n tydperk van ongeveer 1 300 jaar tot stand gekom het en deur talle verskillende skrywers neergeskryf is, besef ons hoe wonderbaarlik die Here gesorg het dat sy Woord een groot geheel vorm. Die hoofboodskap van die Bybel is God se genade aan mense wat gesondig het en dit loop soos ’n goue draad deur die Bybel – van die begin tot die einde. Dit is beslis ’n voorreg om die Bybel as die gesaghebbende Woord van God in ons hande te kan neem.

In die taal van die tyd

Die skrywers van die Bybel het die taal gebruik van die mense vir wie hulle oorspronklik geskryf het. Daardie mense moes die boodskap wat God vir hulle wou gee, duidelik kon verstaan. Die grootste deel van die Ou Testament is in Hebreeus geskryf, die taal van die Ou Israeliete. Dele van die boek Daniël is in Aramees geskryf, ’n taal wat aan Hebreeus verwant is.

Hebreeus
Hebreeus is ’n Semitiese taal en verskil daarom baie van ons taal vandag. Wat in die bostaande voorbeeld vir ons soos die letters lyk, is in werklikheid net die medeklinkers. Die klinkers is aanvanklik nie geskryf nie en is later, toe die taal in onbruik begin raak het, met ’n magdom kolletjies en strepies onder die medeklinkers aangebring. Boonop lees ’n mens die reëls van regs na links.

Grieks
Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf. Dit was in die eerste twee eeue ná Christus die wêreldtaal wat deur die meeste mense verstaan is, amper soos Engels vandag. Die Nuwe Testament kon dus ’n baie groot aantal lesers bereik en raak. Dit is een van die redes waarom die Christendom in die vroeë jare so vinnig versprei het.

Hoewel die Griekse alfabet van ons s’n verskil, is die taal self baie nader aan ons moderne Germaanse tale as Hebreeus. Ons lees dit van links na regs.

Iemand wat ’n diepgaande studie van die Bybel wil maak, moet die moeite doen om Hebreeus en Grieks te leer lees. ’n Mens verstaan die Bybel soveel beter as jy dit in die oorspronklike tale kan lees.

Vertaling is noodsaaklik
Vroeg in die geskiedenis van die Christelike kerk is die noodsaaklikheid van Bybelvertaling al besef. Vandag is die Bybel of Bybeldele reeds in meer as 1500 tale en dialekte vertaal. Dit is selfs soms nodig om ’n nuwe vertaling van die Bybel in ’n spesifieke taal aan te pak al is dit reeds in daardie taal beskikbaar. Daar is twee redes hiervoor:

  • Ons kennis van die oorspronklike tale en teks verbeter steeds as gevolg van nuwe ontdekkings.
  • ’n Moderne taal vernuwe gedurig; daarom is nuwe en meer verstaanbare vertalings noodsaaklik.

Vertaling is nie maklik nie
Dit is nie altyd maklik om ’n sin uit een taal in ’n ander te vertaal sodat dit presies dieselfde sê nie. Probeer gerus die sin: “Die kat loop onder die tafel deur” in Engels vertaal en jy sal sien hoe moeilik dit is. As dit in twee moderne tale probleme skep, hoeveel te meer nie as ons ’n antieke taal in ’n moderne taal wil vertaal nie!

Die vraag waarmee vertalers die meeste worstel, is hoe letterlik hulle moet vertaal. Vroeër het vertalers so letterlik moontlik probeer vertaal. Vandag kies die meeste vertalers vir ’n “dinamiese” vertaling. Dit wil sê, die betekenis van die oorspronklike teks word so goed moontlik in die idioom van die nuwe taal weergegee.

Afrikaans het ook al ’n paar vertalings, onder meer die 1933-vertaling, die 1983-vertaling en die 2020-vertaling. Kyk gerus of jy verskille kan sien in verskillende vertalings.

Afskrifte van afskrifte
Om die saak nog moeiliker te maak, is die oorspronklike geskrifte van die Bybel nie meer in ons besit nie. Al wat ons het, is afskrifte en in die meeste gevalle afskrifte van afskrifte van die oorspronklike.

Om die geskrifte oor te skryf was destyds die enigste manier om boeke te kopieer. Probeer gerus ’n paar bladsye van die Bybel woord vir woord oorskryf. Kontroleer dan elke letter. Jy sal verbaas wees hoe maklik ’n mens ’n oorskryffout kan maak.

Waar ou afskrifte wat vandag nog bestaan (en gelukkig is daar nog baie) van mekaar verskil, kan geleerdes in die meeste gevalle deur wetenskaplike metodes met groot sekerheid vasstel watter een die naaste aan die oorspronklike is. Wanneer ’n manuskrip ontdek word wat ouer is as dié waaroor ons reeds beskik, stel dit ons gewoonlik in staat om nog nader aan die oorspronklike te kom.

Die feit dat daar oorskryffoute in sommige geskrifte is, beteken nie die inhoud van ons Bybel is nie betroubaar nie. Dit staan vas en word deur talle manuskripte gesteun. Die oorskryfproses is egter deel van die geskiedenis van die ontstaan van die Bybel.

Eenheid en verskeidenheid

Die Bybel is een boek, maar dit bestaan uit 66 afsonderlike boeke: 39 boeke in die Ou Testament en 27 boeke in die Nuwe Testament. Die wonder is dat hierdie 66 geskrifte so mooi by mekaar aansluit. Hulle vorm één groot geheel met één groot boodskap. Tog vertoon die afsonderlike boeke ’n ryke verskeidenheid. Dit kan met ’n veelkleurige kleed vergelyk word: Elke kleur dra ’n deel by om die kleed besonders te maak.

Een boek met een boodskap
Daar is baie mense wat nie wil aanvaar dat die Bybel ’n eenheid vorm nie.

  • Die Jode, byvoorbeeld, hou vol dat net die Ou Testament die Woord van God is. Hulle verwerp die Nuwe Testament en weier om te glo dat die beloftes van die Ou Testament in die Nuwe Testament vervul word.
  • Daar is ook ander wat die teenoorgestelde standpunt inneem. Reeds in die tweede eeu ná Christus het ’n dwaalleraar met die naam Marsion gesê dat net die Nuwe Testament die Woord van God is. Volgens hom is die Ou Testament net ’n geskiedenisboek. Die “god” oor wie die Ou Testament skryf, is ’n wrede en harde wese wat die mens wil vernietig. Net in die Nuwe Testament leer ons, volgens hom, die ware God van liefde ken.

Teenoor hierdie sienswyses moet ons te alle tye die eenheid van die hele Bybel handhaaf. Dié God wat hemel en aarde geskep het, die mens as sy verteenwoordiger aangestel het en met die mense ’n verbond gesluit het al het hulle teen Hom in opstand gekom, is die Vader van ons Here, Jesus Christus, en is ook ons hemelse Vader. Die hoofboodskap van die Bybel loop soos ’n goudrif deur die bladsye van die Bybel. ’n Mens kan dit soos volg stel: Die lewende God is Koning van hemel en aarde; Hy wil sy koninkryk deur die verlossingswerk van Jesus Christus en die krag van sy Heilige Gees op aarde vestig.

Wanneer ons die Bybel lees (of ons by Genesis of Openbaring of enige plek tussenin is), moet ons delf totdat ons hierdie goudrif ontdek. ’n Mens kan so maklik by kleiner besonderhede vassteek en die hoofboodskap uit die oog verloor.

Uit hierdie sentrale boodskap kring daar ’n aantal ander temas uit. Hulle belig die hoofboodskap van verskillende kante af en help ons om die sentrale waarheid beter te verstaan. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • God se almag, grootheid en heiligheid – Hy is die Een wat deur almal aanbid moet word.
  • Die mens se sondigheid en verlorenheid.
  • God se liefde en genade wat Hom daartoe bring om sondige mense as sy kinders aan te neem.
  • God se verbond met die mense.
  • Die verlossing in Christus en hoe om dit jou eie te maak.
  • ’n Lewe van dankbaarheid in die Here se diens.

Hoe meer ’n mens van die boodskap van die Bybel leer ken, hoe meer word jy van die eenheid daarvan bewus. Elke deel pas presies op sy plek. En elke deel help jou om die lewende God beter te leer ken en te dien.

’n Ryke verskeidenheid
Die Bybel is een boek met een boodskap en tog vertoon dit ’n ryke veelkleurigheid.

Ons het reeds daarna verwys dat verskillende mense die onderskeie dele van die Bybel op skrif gestel het. God het elkeen gebruik om sy Woord neer te skryf. En tog het elkeen ’n eie styl, boodskap en oogmerk met sy skryfwerk gehad. Dit het in die Bybel behoue gebly. Dit verryk die inhoud daarvan en dra by tot die aantreklike veelkleurigheid van die Skrif.

Ons tref ook verskillende literatuursoorte in die Bybel aan. Ons moet daarmee rekening hou as ons die Woord van God reg wil verstaan. Sonder om in te veel besonderhede in te gaan, kan ons die volgende soorte onderskei:

Ou Testament

  • Verhalende boeke: Genesis tot Deuteronomium, Josua, Rigters, Rut, Samuel, Konings, Kronieke, Esra en Nehemia.
  • Digterlike en wysheidsboeke: Job, Psalms, Prediker, Hooglied en Klaagliedere.
  • Profetiese boeke: Al die boeke wat die naam van ’n profeet dra: Jesaja tot Maleagi.

Nuwe Testament

  • Verhalende boeke: Matteus, Markus, Lukas, Johannes en Handelinge.
  • Briewe: Al die briewe van Paulus, asook die ander algemene briewe.
  • Profetiese boek: Openbaring.

Dit spreek vanself dat ’n mens ’n verhalende boek anders moet benader as ’n gedig. Elke literatuursoort het sy eie aard. Elkeen moet op sy eie manier bestudeer word. Daarom moet die Bybelleser moeite doen om vas te stel waarmee hy of sy te doen het en hoe daardie spesifieke deel bestudeer en verstaan moet word.

Het die Bybel foute?

In ons kerklike lewe lê ons baie klem daarop dat die Bybel onfeilbaar is. Dit beteken dat die Bybel nie foute het nie. Dit is die Woord van God, en God maak nie foute nie!

Ons moet egter in gedagte hou dat die Bybel ook mensewerk is. God het mense gebruik om sy Woord op skrif te stel, afskrifte daarvan te maak en dit te vertaal. Daarom is dit nie onmoontlik dat daar foute in die Bybel – soos ons dit vandag voor ons het – voorkom nie. God het dit egter so beskik dat hierdie onjuisthede in geen opsig die hoofboodskap van die Bybel in die gedrang bring nie. Dit mag ook nie daartoe lei dat ons enige deel van die Bybel as minder gesaghebbend beskou nie.

Oorskryffoute
In die baie eeue voor die ontdekking van die boekdrukkuns was daar net een manier om ’n afskrif van ’n boek te maak: Dit moes met die hand oorgeskryf word. In hierdie proses het ’n aantal foute in die “nuwe” geskrifte ingesluip.

Daar was onbewuste foute waar die oorskrywer byvoorbeeld ’n woord of ’n letter uitgelaat het sonder dat hy daarvan bewus was. Daar is egter plekke waar die oorskrywer doelbewus iets anders geskryf het as wat hy gelees het. Soms het ’n oorskrywer byvoorbeeld gereken dat ’n gedeelte onvolledig is en het hy bygeskryf wat na sy oordeel daar moet staan. Die bekendste voorbeeld hiervan is die slot van die Ons Vader-gebed.

Lees Matteus 6:13 in die 1933- en die 1983-vertaling.

  • Vergelyk hierdie twee vertalings van die vers. Watter verskille merk jy op?
  • Lees nou ook die voetnota by hierdie vers in die 1983-vertaling. Wat lei jy daaruit af?

Die Jode van Jesus se tyd het hulle gebede met ’n lofverheffing afgesluit. ’n Oorskrywer van die Matteusevangelie (wat waarskynlik ’n Joodse Christen was) het die behoefte gehad om die Ons Vader-gebed met hierdie gebruik in lyn te bring, en het ’n lofverheffing bygevoeg. Dit kom nie in die oudste manuskripte voor nie.

Nog ’n oorskryffout het voorgekom wanneer ’n oorskrywer iets wat hy as onduidelik beskou het, ’n bietjie meer wou “verduidelik”.

Lees 1 Johannes 5:7 in die 1933/1953- en die 1983-vertaling.

  • Watter verskille merk jy op?
  • Dit blyk dat ’n oorskrywer hier ’n aantal woorde (waarskynlik aanvanklik as kantaantekening) bygevoeg het. Wat, dink jy, wou hy daarmee bereik?

Jy moenie begin dink dat die oorskrywers ’n klomp vervalsers was nie. Hulle het met die grootste noukeurigheid te werk gegaan en hulle werk is ongelooflik betroubaar.

Dit is moontlik om die verskillende ou geskrifte met mekaar te vergelyk en te bepaal waar die verskille ingesluip het. So kom ons al nader aan die oorspronklike geskrifte.

Deurgaans moet ons onthou: Die boodskap van die Bybel kom nêrens in die gedrang nie. Neem die voorbeeld van 1 Johannes 5:7. ’n Oorskrywer het ’n sinnetjie ingevoeg om daarmee die leerstuk van die Drie-eenheid ook in hierdie vers na vore te bring. So is dit in sommige geskrifte en vertalings opgeneem – waaronder ook die eerste Afrikaanse vertaling

(1933/1953-vertaling). Eers later het geleerdes deur die vergelyking van ou geskrifte besef dat dit nie in die oorspronklike geskrif gestaan het nie; daarom verskyn dit nie in nuwe vertalings nie.

Dit bring egter nie die leer van die Drie-eenheid in die gedrang nie. Dié leer is nooit net op 1 Johannes 5:7 gebou nie. Daar is talle ander tekste – waaroor daar geen onsekerheid bestaan nie – wat dié leerstuk bo alle twyfel stel.

Sogenaamde teenstrydighede
As ’n mens ’n hond wil slaan, kry jy maklik ’n stok, lui die spreekwoord. Daar is mense wat baie graag die betroubaarheid van die Bybel wil ondergrawe. Hulle kry gou ’n aantal “teenstrydighede” en gooi dit voor gelowiges se kop.

Baie van die sogenaamde teenstrydighede tref hulle in die Evangelies aan, waar vier mense ’n weergawe van Jesus se lewe en werk neergeskryf het. Hier en daar kom verskille voor.

Lees die verhaal van die tempelreiniging in die verskillende Evangelies en beantwoord dan die vrae.

  • In watter stadium van Jesus se bediening (begin, middel of einde) het Hy die tempel gereinig? (Vergelyk Matt 21:12-13, Mark 11:15-17 en Luk 19:45-46 met Joh 2:13-21.)
  • Watter verskil merk jy in hierdie verband op tussen Johannes en die ander drie Evangelieskrywers?
  • Watter verklaring kan jy daarvoor aanbied?

Johannes plaas die tempelreiniging aan die begin van Jesus se bediening, terwyl die ander drie Evangelieskrywers sê dit het kort voor die kruisiging plaasgevind. Wie is nou reg? Of was daar dalk twee tempelreinigings? Dink na daaroor.

Hoewel ons dus kan volhou dat die Bybel onfeilbaar is, bedoel ons nie dat alle geskiedkundige en natuurwetenskaplike besonderhede met ons huidige beperkte insigte sal ooreenkom nie. Ons beweer ook nie dat die Bybel in die prosesse van oorskryf en vertaling geen letsels opgedoen het nie. Ons kan egter met oortuiging verklaar dat die Bybel ’n onfeilbare gids na God toe is. Dit wys vir ons die pad van saligheid baie duidelik aan sodat ons dit kan vind.

Moet dus nie skrik as mense by jou aankom en allerhande “foute” in die Bybel vir jou uitwys nie. Verduidelik vir hulle wat die eintlike bedoeling van die Bybel is, naamlik om God se wil met sondige mense se lewe aan ons duidelik te maak. Vertel hulle van Jesus en stel hulle voor ’n keuse oor Hom.

Riglyne vir Bybelstudie

Wanneer jy Bybelstudie doen, hou gerus die volgende riglyne in gedagte:

1. Glo dat die Bybel die Woord van God is
Aanvaar dat die Bybel God se Woord aan jou is. Dalk het jy lus om te sê: “Maar dit spreek mos vanself!” Dikwels is dit juis waar die probleem lê. Dit is té vanselfsprekend. As Bybellees vir jou te alledaags word, loop jy gevaar om te vergeet dat die lewende God in die Skrif aan die woord is en met jóú wil praat. Lees daarom elke keer met verwagting: Wat wil God hiér en nóú vir jou sê? Watter boodskap wil Hy nóú aan jou deurgee?

2. Wees bereid dat die Bybel iets van jou vra
Dit is een ding om die Woord te hoor. Dit is egter iets heeltemal anders om ’n doener van die Woord te wees.

Lees Jakobus 1:22-25 en beantwoord dan die vrae.

  • Waarmee is iemand besig as hy of sy net hoor en nie doen nie (v 22)?
  • Watter beeld gebruik Jakobus vir iemand wat net hoor en nie doen nie (v 23-24)?
  • Wat behoort ’n gelowige te doen en wat bring dit vir hom of haar mee (v 25)?

Wat help dit as ’n mens met verwagting na die Woord van God luister en dan nie bereid is om dit te gehoorsaam nie? Die ryk jongman wou baie graag hoor wat Jesus te sê het, maar hy wou Hom nie gehoorsaam nie. Sulke mense, sê Jesus, sal nie maklik in die koninkryk van God kom nie (Matt 19:23-24).

Mense wat nie tot gehoorsaamheid bereid is nie, lees later nie meer Bybel nie, of hulle Bybellees verloor betekenis. Daarom moet ’n mens uit die staanspoor vir die Here sê dat jy gewillig is om te doen wat Hy vra. Dan word jou Bybelstudie ’n avontuur!

3. Die Heilige Gees verklaar die Skrif
God sorg dat sy kinders die Bybel verstaan wanneer hulle dit lees.

Lees 2 Petrus 1:20-21 en beantwoord dan die vrae.

  • Watter twee dinge kan ’n mens nie doen nie?
  • Wie help die mense om die Woord wat van God kom te verkondig?

Die Heilige Gees maak die Bybel vir ons ’n oop boek. Hy help ons om God se wil te verstaan. Dit beteken dus dat jy jou hele lewe onder die beheer van die Heilige Gees moet stel. Dan sal jy ook sinvol Bybelstudie kan doen.

Iemand het eenkeer gesê: “Die Heilige Gees praat sy eie taal, ’n taal wat die ongelowige en onbekeerde mens nie kan verstaan nie.” As die Bybel vir iemand ’n “toe” boek bly, moet hy homself ernstig afvra of hy al sy lewe onder die beheer van die Gees van God gestel het.

Bybellees is ’n ontmoeting met God. En die persoon wat sondes het, maak met die lewende God kontak deur die Heilige Gees. Hy verklaar die Bybel en Hy help ons om reg te bid (Rom 8:26).

4. Vergelyk Skrif met Skrif
Nog ’n belangrike riglyn vir sinvolle Bybelstudie is dat die Bybel homself verklaar. Dit beteken dat jy ’n moeilike vers in die Bybel beter kan verstaan as jy ander gedeeltes lees wat oor dieselfde saak handel.

Lees Lukas 8:4-8 en beantwoord dan die vrae.

  • Watter boodskappe, dink jy, wou Jesus oordra met die gelykenis van die saad wat op vier verskillende plekke geval het?
  • Lees nou vers 11-15. Die Bybel verklaar homself. Was jou raaiskoot in die kol?

Dit is gevaarlik om een vers uit die Bybel te neem en dan allerhande betekenisse daaraan te heg. Elke teks moet teen sy eie agtergrond (die paragraaf, hoofstuk en boek waarin dit staan) gelees en verstaan word. En waar moontlik moet ander Bybelgedeeltes wat oor dieselfde saak handel, ook in aanmerking geneem word. Dan loop jy minder gevaar om ’n verkeerde betekenis aan die Skrifteks te heg.

5. Verruim jou kennis
Terwyl jy met doelgerigte Bybelstudie besig is, doen jy baie kennis op. Jy leer al meer van die gebruike en gewoontes van die mense in Bybelse tye. Jy leer die lande, riviere, dorpe en streke ken. Jy versamel inligting oor hoe die mense gedink, gepraat en geleef het. Jy ken die literatuursoorte uit en weet hoe ’n gelykenis, gedig, brief of verhaal bestudeer en verstaan moet word.

Mettertyd vorm hierdie kennis ’n raamwerk waarbinne jy jou Bybelstudie doen. Dit help jou om ander dele in die Bybel beter te verstaan. Dit stel jou ook in staat om ander mense met hulle Bybelstudie te help.

Bou aan jou agtergrondkennis en gebruik dit wanneer dit enigsins moontlik is.

6. Lees planmatig
Niemand slaan ’n gewone storieboek sommer êrens oop en begin lees nie. Daarom is dit vreemd dat baie lidmate hulle Bybel so lees. Hulle laat dit êrens oopval en lees die eerste beste paar verse. Geen wonder dat hulle nie veel verstaan nie. ’n Mens moet jou doelgerig daarop instel om planmatig Bybelstudie te doen.

  • Kies ’n boek in die Bybel en lees dit hoofstuk vir hoofstuk. Dan kry die boek se boodskap vir jou betekenis.
  • Begin by die boeke wat makliker verstaan kan word – soos Josua en Rigters in die Ou Testament, en Lukas en Handelinge in die Nuwe Testament.
  • Wissel die twee testamente af. Lees om die beurt uit die Ou en die Nuwe Testament.
  • Lees ’n gedeelte wat lank genoeg is sodat jy dit in sy verband kan verstaan. Probeer ’n hoofstuk op ’n slag bestudeer. So behou jy die draad van wat die skrywer wil sê.
  • Maak soms tyd om ’n hele boek op een slag deur te lees.

7. Dink na en bid oor die gedeelte wat jy gelees het
Hier het ons met ’n baie belangrike riglyn te doen. As jy nie oor die Bybelgedeelte nadink en daaroor bid nie, loop jy gevaar om jou Bybelstudie sinloos en ’n blote gewoonte te laat word.

Volledige Bybelstudie het drie fasette. Dit het te doen met die vrae:

  • Wat staan daar presies?
  • Wat wil God daardeur vir my sê?
  • Hoe kan ek Hom daarop antwoord?

Nadenke beteken dat jy jou met hierdie drie vrae moet besig hou terwyl jy Bybel lees, maar ook daarna, in die loop van die dag. Gebed en ’n toegewyde lewe van dankbare diens is twee manier waarop jy die Here kan antwoord.

8. Hulpmiddels by Bybelstudie
Daar is talle maniere waarop jy jou Bybelstudie kan verryk. Een daarvan is die gebruik van hulpmiddels. Jy kan gerus ’n gereelde besoeker by jou naaste boekwinkel word en vra dat hulle die beskikbare publikasies aan jou bekendstel. Bybel-Media het ’n wye verskeidenheid boeke wat jou kennis kan verdiep.

9. Jou eie aantekeningboek
Dit is goed om skryfgoed byderhand te hê wanneer jy met Bybelstudie besig is. Jy kan ook ’n skryfboek aanskaf waarin jy aantekenings kan maak van

  • die datum van jou studie
  • die gedeelte wat jy gelees het
  • dinge wat vir jou onduidelik is en waaroor jy meer inligting wil inwin
  • die boodskappe wat die Here spesifiek vir jou gegee het
  • sake waarvoor jy voorbidding wil doen
  • maniere waarop jy aan die Here gehoorsaam wil wees om sodoende sy opdragte uit te voer.

Bybelstudie in die praktyk

In aansluiting by die voorafgaande gee ons ’n paar praktiese wenke vir jou Bybelstudie. Dit kan op jou eie, persoonlike studie en op groepstudie van toepassing gemaak word.

  • Doen gereeld Bybelstudie. Jou persoonlike Bybelstudie moet elke dag ’n plek op jou program kry. Groepstudie moet gereeld (weekliks of tweeweekliks) gehou word.
  • Kies ’n geskikte tyd. Moenie afskeeptyd (soos wanneer jy haastig, moeg of vaak is) daarvoor opsy sit nie. Gee ook genoeg tyd daarvoor – ’n uur op ’n dag is nie te veel nie!
  • Bid voordat jy lees. Onthou dat Bybelstudie ’n ontmoeting met God is. Vra dat Hy sy Gees deur die Bybel met jou sal laat praat.
  • Lees die hoofstuk of gedeelte stadig en met aandag deur. Probeer om soveel moontlik daarvan te verstaan en jou eie te maak. Dit help ook om die Bybel hardop te lees.
  • Gebruik gerus al die hulpmiddels tot jou beskikking om meer oor die betekenis van die gedeelte te wete te kom.
  • Stel nou vas wat die hoofboodskap van die gedeelte is. Vra jouself af wat die Here alles vir jou wil sê. Skryf dit in jou eie woorde neer.
  • Dink na oor die gedeelte wat jy gelees het, en bid daaroor.
  • Gaan leef die boodskap uit deur jou lewe aan die Here en aan sy diens te wy.

Dit is ’n wonderlike voorreg om die Woord van die lewende God in jou hande te mag neem. Gebruik dit reg. En lééf soos die Here van jou vra.

Vrae om oor te gesels of na te dink

  • Watter probleme het jy tot nou toe met jou Bybelstudie ondervind?
  • Watter waarheid in hierdie hoofstuk het jou die meeste getref? Waarom?
  • Watter eienskap van die Bybel het vir jou die meeste waarde? Gee ’n rede vir jou antwoord.
  • As jy nog nie met planmatige Bybelstudie besig is nie, wat verhinder jou?
  • Wanneer gaan jy begin?
  • Met watter Bybelboek gaan jy begin?
  • Watter hulpmiddels gaan jy gebruik?
  • Wat kan jy doen om by ’n Bybelstudiegroep aan te sluit of ’n nuwe groep te begin?