Inleiding
-
Druk afdeling
Memoriseerverse vir Tema 1
Johannes 3:16
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Johannes 10:28-29
“Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.”
Johannes 14:6-7
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
1 Johannes 5:12-13
Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.
Openbaring 3:20
Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.
Inleiding
Kyk saam na Tema 1 se video of gebruik die inleiding hier onder.
Jy kan seker wees!
Jy kan regtig heeltemal seker wees dat jy ’n kind van God is. Daar is derduisende mense wat hierdie sekerheid het, en dit maak hulle lewe die moeite werd. Dit gee vir hulle vrede in hulle harte en bring vir hulle groot vreugde. Jy kan seker wees omdat die Woord ons oortuig dat ons kinders van God is.
Jy móét ook seker wees
Dit is nie net moontlik om seker te wees dat jy God se kind is nie. Jy móét ook seker wees dat jy in die regte vrymoedige verhouding met Hom staan. Sy plan vir jou lewe is om sy kind te wees.
God maak aanspraak op jou lewe omdat Hy jou liefhet
’n Koning kan met reg daarop aanspraak maak dat sy onderdane hom moet dien. Hoeveel te meer kan die Here nie op ons liefde en toewyding aan Hom aanspraak maak nie!
- God het ons gemaak; daarom kan Hy van ons verwag om Hom te dien (Ps 100:2-3; 139:13-18).
- God het ons lief; daarom moet ons Hom ook liefhê (1 Joh 4:16-19).
- God het die grootste offer gebring om ons van sonde vry te maak; daarom behoort ons ons hele lewe aan Hom toe te wy (Joh 3:16; 1 Pet 1:17-21; 1 Joh 4:9-10).
- God wil ons aan Hom verbind; daarom sluit Hy ’n verbond met gelowige mense (Gen 17:7). Hierdie verbond het twee kante: God gee vir ons alles wat ons nodig het om te leef en Hom te dien (2 Pet 1:3); ons word geroep om Hom die Here van ons lewe te maak (1 Pet 2:9-10).
Die beste van alles is, jy kan en hoef dit nie te verdien om aan God te behoort nie. God gee dit vir jou verniet, as ’n geskenk. Jy kan dit maar net gelowig aanneem. En dan kan jy seker wees dat jy ’n kind van God is.
God het jou regtig lief
-
Druk afdeling
Hoe weet jy dat God jou liefhet? Die Bybel sê dit vir jou.
Beantwoord nou die volgende vrae deur die Bybelverse as riglyne te gebruik.
- Wat was God bereid om te doen juis omdat Hy jou regtig liefhet (Joh 3:16)?
- Wat het God gedoen om jou te wys dat Hy jou regtig liefhet (1 Joh 4:9-10)?
- In watter besonderse, vrymoedige, persoonlike verhouding wil God hê moet ons tot Hom staan (Joh 1:12-13)?
Hoekom is alle mense dan nie kinders van God nie? Die antwoord lê opgesluit in die tweede belangrike waarheid wat ons moet beklemtoon.
Die mens het gesondig
-
Druk afdeling
Die eerste mense was kort ná die skepping al aan God ongehoorsaam en het in sonde geval (Gen 3:1-13, 17-19). Van toe af word mense as sondaars gebore en almal doen sonde (Ps 51:7; Rom 5:12). Die Bybel sê: “Almal het gesondig en is ver van God af” (Rom 3:23). Die Griekse woord hamartia wat vir sonde gebruik word, beteken letterlik “om jou doel in die lewe te mis”.
Wat beteken dit om te sondig?
- Jy mis die doel waarvoor God jou gemaak het (Rom 3:12).
- Jy is aan God ongehoorsaam (Rom 2:8).
- Jy kom teen God in opstand (Rom 1:29-31).
- Jy dink dit is nie nodig om God te dien nie (Rom 1:28).
- Jy dink jy kan self jou lewe beheer (Rom 7:18-19).
Om die doel van jou lewe te mis het skrikwekkende gevolge. Sonde breek en maak seer. Sonde maak dat die wêreld nie in vrede kan saamleef nie.
Watter gevolge van sonde sien jy in die volgende verse raak?
- Jesaja 59:2
- Romeine 6:23
- Hebreërs 10:26-31
Sonde verweer en verbreek die mooi verhouding waarin ons met God behoort te staan. Die Bybel gee egter vir ons goeie nuus.
God het die verbreekte verhouding tussen ons en Hom herstel
-
Druk afdeling
In die tyd van die Ou Testament moes die mense hulle sonde bely elke keer wanneer hulle oortree het (Lev 5:5) en het dan ’n offer gebring om vir hulle sonde vergewe te word (5:6). Wanneer hulle die offerdiere sien bloei, ly en sterf het, het hulle geweet:
- sonde vernietig.
- God is genadig en bereid om ons te vergewe.
- iets of iemand moet in die mens se plek met die dood gestraf word om die straf vir die sonde weg te neem.
Daarom sê die Bybel: “Sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergewing plaas nie” (Heb 9:22). Dit was natuurlik nie die diere se bloed wat die mense se sonde weggeneem het nie. Die offers het vertel van God se volmaakte offer wat later sou kom.
Lees wat Hebreërs 9:14 oor hierdie offers sê. Beantwoord dan die volgende vrae.
- Wie is die volkome offer wat gebring is en waarom was dit nodig?
- Waarvan is ons alles bevry?
- Wat was God se doel hiermee in ons lewe (lees ook 1 Joh 1:7)?
- Verstaan jy God se doel met jou lewe?
Jesus het in ons plek aan die kruis gesterf; daarom is ons skuld weggeneem en is ons bevry (Jes 53:5-6). Die verbond kan vergelyk word met ’n testament waarin God al sy gawes tot sy kinders se beskikking stel. Ons verhouding met God is heel gemaak (2 Kor 5:18-21). Dit is net Jesus, die Seun van God, wat ons van sonde kan verlos.
Hoe neem jy Jesus Christus as jou Verlosser en Here aan?
- Jy erken dat jy ’n Verlosser nodig het en jouself nie kan red nie.
- Jy dank God dat sy Seun gestuur is. Ons bid nie dat ons sonde vergewe moet word nie; ons bid in dankbaarheid dat dit reeds vergewe is aan die kruis.
- Jy aanvaar dat Jesus die straf vir jou sonde in jou plek gedra het om jou te verlos, en dat Hy jou ’n kind van God gemaak het en van nou af oor jou lewe regeer.
Jy kan Jesus aanneem deur ’n eenvoudige gebed soos hierdie een te bid:
Dankie, Here Jesus, dat U my liefhet. Ek erken dat daar gebrokenheid en sonde in my lewe is, maar dankie dat U my skuld betaal het. Ek neem U nou as my Verlosser en Here aan. En as ek dit reeds gedoen het, bely ek dit net weer. Here, maak asseblief nuut dit wat stukkend is en mag die Gees in my leef tot in ewigheid.
Jy kan nou so ’n gebed bid as jy wil.
Lees die volgende Bybelverse. Wat belowe die Here aan almal wat Jesus Christus as hulle Here en Verlosser aanneem?
- Johannes 1:12
- Openbaring 3:20
- 1 Johannes 5:12
Wat ’n wonderlike boodskap! Dit ís moontlik om te weet dat jy ’n kind van God is. Niemand wat Jesus as Verlosser aangeneem het, hoef ooit te twyfel nie. Martin Luther het ’n bekende slagspreuk in Latyn: Simul Justus et Peccator. Dit kan losweg vertaal word met: “Altyd ’n sondaar, maar reeds altyd vergewe.” Dis so ’n bevrydende gedagte!
Gedagtes wat ons soms by mense hoor
-
Druk afdeling
“Ek het Christus nog nie aangeneem nie”
Sommige mense kan hulleself net nie sover bring om hulle lewe onvoorwaardelik aan Christus oor te gee nie, al verlang hulle dikwels om dit te doen.
“Ek is nog te jonk”
Daar is jongmense wat reken dat bekering eers later in hulle lewe nodig is. “Daar is nog baie tyd,” sê hulle. “Moenie nou al aan my karring nie.”
Hoe sou jy hierdie argumente uit die volgende verse weerlê?
- Prediker 11:9–12:1
- Hebreërs 4:7-11
“Ek wil nog eers my lewe geniet”
Dit is ’n argument wat gewoonlik op die eerste een volg. Hierdie mense redeneer gewoonlik soos volg: “Dit is wel nodig om tot bekering te kom. Niemand wil tog vir ewig verlore gaan nie. Maar Christene se lewe is so saai en oninteressant. Ek wil eers al die goeie dinge van die lewe geniet. Ek sal later tot inkeer kom.”
Wat sê die volgende verse vir mense wat só redeneer?
- Psalm 84:12-13
- Johannes 10:10
- Johannes 15:11
Om uit te stel om Jesus aan te neem, is amper soos ’n jong man wat op twee meisies verlief is en uiteindelik albei verloor omdat hy so besluiteloos is. As mense besluiteloos is oor hulle geestelike lewe, verloor hulle nie ’n lewensmaat nie, maar die vooruitsig op die ewige lewe.
“Ek het die Here al dikwels aangeneem”
Baie mense weet nie wat die verskil is tussen die eerste bekering en die voortgaande, daaglikse bekering nie.
- Die eerste bekering vind plaas wanneer jy Jesus Christus as jou Verlosser en Here aanneem. Op daardie oomblik word jy ’n kind van God, en van daardie oomblik af bly jy ’n kind van God. Jy hoef nooit weer daaraan te twyfel nie.
- Van tyd tot tyd word Christene daarvan bewus dat hulle aan God ongehoorsaam is. ’n Ongehoorsame kind van God is egter steeds ’n kind van God. Jy kan na jou Vader toe gaan en vir Hom vertel waar jy fouteer het. Dit noem ons voortgaande, daaglikse bekering.
Wanneer jy vir Jesus as jou Verlosser aangeneem het, hoef jy nooit weer te twyfel of jy ’n kind van God is nie – selfs as jy nie daarvan bewus is dat jy aan die Here ongehoorsaam was nie. God se genade is elke dag nuut en sy Seun het reeds die prys ten volle betaal.
Wat sal jy, op grond van die verse hier onder, vir mense sê wat twyfel of hulle kinders van God is?
- Johannes 1:12
- Johannes 10:28
- Openbaring 3:20
“Die Bybel sê ek kan val”
Daar is mense wat meen dat ons nie hier op aarde sekerheid oor ons verlossing kan hê nie. Om hulle standpunt te “bewys”, haal hulle allerhande Bybelverse aan wat, volgens hulle, leer dat enige mens weer volkome in sonde kan verval. Een van hierdie verse is 1 Korintiërs 10:12: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”
Ons moet seker daarvan wees dat ons die Bybel in die konteks lees waarin ’n spesifieke teks geskryf is. Dit beteken dat ons nie alles net na vandag kan deurtrek en sê die Bybel sê so nie. Ons moet die kultuur, die agtergrond van die teks en die tyd waarin die teks afspeel in ag neem. Ook hier in 1 Korintiërs 10:12 geld die reël dat ’n vers in sy konteks gelees moet word. Paulus praat hier oor die ongehoorsaamheid van die volk Israel. Ten spyte van alles wat die Here vir hulle gedoen het (1 Kor 10:1-4), het hulle in sonde geval (10:6-10). Leer hierdie les by hulle, sê Paulus. Moenie selfversekerd raak nie. Niemand is te goed om in sonde te verval nie (10:11-12).
Lees nou 1 Korintiërs 10:13 en beantwoord die volgende vrae.
- Hoe, belowe die Here, sal ons nie versoek word nie?
- Wie sal sorg dat ons die versoeking kan weerstaan?
- Wat sê vers 13 nóú vir jou oor die betekenis van die woord “val” in vers 12? Beteken dit die een wat val, gaan verlore? Gee ’n rede vir jou antwoord.
Mense voer baie redes aan vir die feit dat hulle onseker is of hulle kinders van God is. Nie een van die redes is geldig nie. Die Bybel bevestig en oortuig ons dat ons kan en mag seker wees dat ons aan God behoort.
Onwaarhede oor redding wat mense dikwels glo
-
Druk afdeling
“Ek leef ’n goeie lewe”
Sommige mense dink jy moet jou saligheid met goeie dade verdien. Dan bring hulle al die goeie dinge wat hulle doen onder die Here se aandag en reken Hy sal nie anders kan nie as om aan hulle die ewige lewe te gee.
Wat sê die volgende verse vir mense wat só redeneer?
- Jesaja 64:6
- Romeine 3:23
- Efesiërs 2:8-9
’n Goeie voorbeeld van iemand wat só geredeneer het, is die Fariseër wat in die tempel gaan bid het. Sy “sekerheid” het hom niks in die sak gebring nie.
Lees Lukas 18:9-14 en beantwoord die vrae.
- Wat was die Fariseër se gesindheid (v 11-12)?
- Wat was die tollenaar se gesindheid (v 13)?
- Wie se saak met God was reg? Hoekom (v 14)?
Ons kan dit nie verdien om kinders van God te wees nie. ’n Goeie lewe vol goeie dade beteken niks nie. Jy kan net seker wees dat jy ’n kind van God is as jy Jesus Christus as jou Verlosser aanneem deur die beloftes in God se Woord te glo. Dan sal jy uit dankbaarheid die Here dien met ’n lewe wat deur die Heilige Gees met goeie dade versier word.
“Ek werk vir die Here”
Om voltyds of deeltyds vir die Here te werk, kan nie aan jou die sekerheid gee dat jy ’n kind van God is nie. Jy word nie gered omdat jy op die kerkraad is, ’n kategeet is of in die kerkkoor sing nie.
- Wat sê Matteus 7:22-23 vir iemand wat só redeneer?
“Ek glo aan God”
Daar is baie min geharde ateïste op aarde – mense wat glad nie aan God se bestaan glo nie. Die meeste mense glo wel in ’n god of gode. Om net te glo dat God bestaan, maak jou egter nie sy kind nie.
- Soek ’n rede vir hierdie laaste stelling in Jakobus 2:19.
Hierdie mense glo wel aan God, maar hulle wil nie hulle lewe onder sy leiding plaas nie. Sonder ’n persoonlike verhouding met God deur Jesus Christus gaan ’n mens verlore. Jesus self het immers gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh 14:6).
“Die Here help my”
’n Voorspoedige lewe, gesondheid, vrug op jou werk, prestasie of rykdom is geen bewys dat jy ’n kind van God is nie. Die psalmdigter vertel in Psalm 73:1-3 dat hy amper in twyfel verval het omdat die ongelowiges soveel voorspoed in die lewe ervaar.
Lees Psalm 73:1-20, 27-28 en beantwoord die volgende vrae.
- Waaruit kan jy aflei dat die goddeloses voorspoedig was (v 4-12)?
- Hoe kan jy weet dat hulle te midde van hulle voorspoed goddeloses gebly het (v 4-12)?
- Wat het die psalmdigter besluit op grond van wat hy ontdek het (v 28)?
“God is ’n God van liefde”
Sommige mense beroep hulle op 1 Johannes 4:7-10. God is liefde, sê hierdie verse; Hy het sy Seun gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Die God van liefde, redeneer hierdie mense dan, sal nie toelaat dat enigiemand verlore gaan nie. Is dit waar dat God niemand verlore sal laat gaan nie? Kyk of jy ’n antwoord in die Woord van God kan vind.
“Ek behoort aan ’n kerk”
Die feit dat jou naam in die register van ’n gemeente geskryf staan, kan ook nie die fondament wees waarop jy jou sekerheid bou nie. Dit is belangrik om ’n lewende lidmaat van die kerk van Christus te wees, maar jou sekerheid lê nie daarin opgesluit nie.
Elkeen wat met ware oortuiging bely dat Jesus die Here is, kan seker wees dat hulle kinders van God is. Ongelukkig leer ervaring ons dat almal se belydenis nie uit hulle hart kom nie, want dit kry nie in ’n toegewyde lewe gestalte nie. Kerklidmaatskap gee nie aan ons die sekerheid dat ons kinders van God is nie. Die opregte belydenis dat Jesus ons Verlosser is, gee wel aan ons hierdie sekerheid.
Om seker te wees oor jou verlossing
-
Druk afdeling
Die versekering is ín Christus
Geloof in Christus is nie ’n sprong in die duister nie. Net soos ons kennis oor wêreldleiers op historiese feite berus, word die waarhede wat die Bybel ons oor Jesus vertel deur jare se navorsing bewys.
- Jesus van Nasaret is byna 2 000 jaar gelede op aarde gebore.
- Honderde jare voor Jesus se geboorte het die profete reeds daaroor geprofeteer. Hulle profesieë is met sy koms vervul.
- Die Ou Testament is oor ’n tydperk van ongeveer 1 200 jaar deur baie mense geskryf. Tog bevat dit meer as 300 verwysings na Jesus se koms. Hierdie verwysings vul mekaar pragtig aan. Ons lees dat ’n jong vrou aan Jesus geboorte sal skenk (Jes 7:14), waar Hy gebore sou word (Miga 5:1), dat Hy sou ly (Jes 53), aan ’n kruis sou sterf (Ps 22) en begrawe sou word (Jes 53:8-12).
- Toe Jesus ongeveer 30 jaar oud was, het Hy met sy openbare bediening begin (Mark 1:14). Die woorde wat Hy gesê het en die wondertekens wat Hy gedoen het, asook sy lyding, dood, opstanding en hemelvaart het bewys dat Hy werklik die Seun van God en die Verlosser van die wêreld is. Selfs die offisier en die soldate wat getuies van die kruisiging was, moes erken: “Hierdie man was werklik die Seun van God” (Matt 27:54).
Watter bevestiging gee die volgende verse oor die waarhede wat hier bo genoem word?
- Johannes 14:9
- Matteus 11:4-6
- 1 Timoteus 3:16
- Hebreërs 1:1-4
- 1 Johannes 5:9-12
Die getuienis van die Bybel
Jesus is die Verlosser van die wêreld. Hierdie waarheid word bo alle twyfel gestel wanneer ons in gedagte hou dat dit die Woord van God is wat hierdie boodskap aan ons oordra. Die Bybel bevat nie mense se gedagtes nie, maar gedagtes oor God wat aan die mens oorgedra is. God se Woord in mensetaal.
Die Woord van God is vol van die heerlike waarheid dat ons seker kan wees dat ons kinders van God is. En omdat die Bybel so sê, kan ons ons sekerheid daarop bou.
Kom ons neem Johannes se eerste brief as voorbeeld. Hierdie brief het net vyf hoofstukke. Tog kom die woorde weet en ken talle kere daarin voor. Ons kan sê 1 Johannes is ’n loflied oor die sekerheid van ons verlossing.
Lees die volgende verse en skryf neer wat jy alles kan wéét.
- 1 Johannes 3:5
- 1 Johannes 4:13-15
- 1 Johannes 5:13
- 1 Johannes 5:20
Die doop en die nagmaal getuig
Die Here Jesus het die doop (Matt 28:19) en die nagmaal (1 Kor 11:23-26) as sakramente ingestel om die sekerheid dat ons kinders van God is te versterk. Die Heidelbergse Kategismus noem die sakramente “sigbare, heilige tekens en seëls wat God ingestel het om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan en dit te beseël” (Vraag en Antwoord 66).
Die water van die doop praat met ons. Dit verduidelik dat Jesus se bloed ons vuil en sonde weg was, net soos water ons liggaam reinig. En dit bevestig dat elkeen wat Jesus as Verlosser aanneem werklik van sonde vrygemaak is (Kol 2:11-13).
Die brood en die wyn by die nagmaal praat ook met ons. Dit verduidelik dat Christus se liggaam gebreek is en dat sy bloed gestort is om ons van ons sonde te reinig. Dit verseker ons dat ons die ewige lewe ontvang wanneer ons Jesus as ons Verlosser aanneem (Joh 6:51-58).
Vir mense wat Jesus as hulle Saligmaker ken, is die doop en die nagmaal ’n bevestiging, ’n blywende teken van die feit dat hulle aan God behoort.
Die Heilige Gees getuig
Dit is die werk van die Heilige Gees om ons tot geloof in Jesus te lei (Rom 8:2). Die Gees sit hierdie werk in gelowiges se lewe voort wanneer Hy ons daagliks verseker dat ons kinders van God is. Die Heilige Gees vertroos ons ook en dra ons wanneer ons swaarkry.
Lees Romeine 8:14-16 en beantwoord dan die vrae.
- Wie is die mense wat hulle deur die Heilige Gees laat lei (v 14)?
- Hoe noem hierdie mense God wanneer die Gees hulle lei (v 15)?
- Waarvan getuig die Gees van God in ons binneste (v 16)?
’n Veranderde lewe getuig
Wanneer iemand ’n kind van God geword het, verander sy of haar hele lewe. Gelowiges in Christus is nuwe mense. Die Bybel sê: “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (2 Kor 5:17-18).
Daarom leer Jesus sy dissipels: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken … Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte” (Matt 7:16-17). Jesus se opdrag is duidelik: “Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou” (Joh 15:16).
Jou lewe kan getuig dat God in jou leef. Dis een van die grootste voorregte wat daar is. Wees verseker dat jy ’n kind van God is.
Vrae om oor te gesels of na te dink
- Wat, dink jy, is die belangrikste rede waarom mense nie seker is of hulle kinders van God is nie? Hoekom sê jy so?
- Aan watter ander redes kan jy dink hoekom mense onseker is (buiten dié wat in hierdie hoofstuk genoem word)?
- Is jy seker dat jy ’n kind van God is? Hoe weet jy dit?
- Iemand sê vir jou sy is seker sy is ’n kind van God, want sy leef volgens die tien gebooie. Wat sal jy vir haar sê?
- Is dit noodsaaklik om ’n dag en datum vir jou bekering te kan noem? Gee redes vir jou antwoord.
- Watter voordele hou geloofsekerheid vir ’n kind van God in? Probeer vier voordele noem.