Dertiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jesaja 5:1-7
Wat kan ek nog vir my wingerd doen?
5 Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing
oor sy wingerd:
Hy wat ek liefhet, besit ’n wingerd
op ’n vrugbare heuwel.
2Hy het die grond omgespit
en die klippe verwyder,
dit beplant met veredelde
wingerdstokke.
Hy het ’n wagtoring daarin gebou
en ’n parskuip uitgekap.
Hy het verwag
dat dit goeie druiwe sou dra,
maar toe bring dit druiwe voort
wat suur bly.
3En nou, inwoners van Jerusalem
en manne van Juda,
beslis tog tussen My en my wingerd.
4Wat kan Ek nog vir my wingerd doen
wat Ek nie reeds gedoen het nie?
Wat is dan die rede dat dit suur druiwe
voortgebring het
terwyl ek verwag het
dat dit goeie druiwe sou dra?
5Ek maak julle nou bekend
wat Ek met my wingerd gaan doen:
Ek gaan die doringheining verwyder
en verbrand,
sy muur afbreek, sodat die wingerd
vertrap kan word.
6Ek gaan hom tot niet maak.
Hy sal nie meer gesnoei
of geskoffel word nie,
maar ingeneem word deur doringbosse
en onkruid.
Ek sal die wolke verbied
om daarop te reën.
7Die wingerd van die Here
die Almagtige,
die wingerd wat Hy geplant het
en waarin Hy Hom wou verlustig,
is die Israeliete, die volk van Juda.
Die Here het verwag
dat daar reg sou wees,
maar daar was net onreg,
dat daar geregtigheid sou wees,
maar daar was net die hulpgeroep
van veronregtes.

Psalm 80:1-2, 8-19
Verskyn tog tot ons redding
80 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. ’n Getuienis van Asaf.
’n Psalm.
2Luister tog, Herde van Israel,
U wat die nageslag van Josef
soos ’n kudde lei;
U wat oor die gerubs troon,
verskyn tog aan ons!

3Openbaar u mag aan die stamme
Efraim, Benjamin en Manasse,
kom help ons tog!
4Laat dit weer met ons goed gaan,
o God,
verskyn tog tot ons redding!
5Here, almagtige God,
hoe lank nog sal U afsydig staan
teenoor die gebed van u volk?
6U het aan ons trane vir kos gegee
en ons ’n beker vol verdriet
laat drink.
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.

8Almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak,
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek,
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see,
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom,
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God,
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok,
neem hom weer onder u sorg.
16Hou in stand wat U
met u eie hand geplant het,
die wingerdstok
wat U vir Uself gekweek het!
17Laat dié wat hom soos onkruid
verbrand het,
deur u oordeel te gronde gaan.
18Hou u hand oor die mense
wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U
vir U grootgemaak het.
19Dan sal ons nie weer
van U af wegdraai nie.
Hou ons aan die lewe,
dan sal ons u Naam aanroep!
20Here, almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!

Lukas 12:49-56
Jesus die oorsaak van die verdeeldheid

(Matt 10:34–36)
49“Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek, en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is!

50“Maar daar is ’n doop waarmee Ek gedoop moet word, en dit sal My heeltemal in beslag neem tot dit afgehandel is! 51Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, 52want van nou af sal daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. 53Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder.”

Die tekens beoordeel
(Matt 16:2–3)
54Jesus het ook vir die skare gesê: “As julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën!’ en dit gebeur ook. 55En as die suidewind waai, sê julle: ‘Dit gaan warm word!’ en dit word warm. 56Huigelaars! Julle weet hoe om die voorkoms van die aarde en die lug te beoordeel. Hoe is dit dan dat julle nie weet hoe om hierdie tyd te beoordeel nie?”

Fokusteks

Hebreërs 11:29-12:2
17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

20Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.

21Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun.

22Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam.

23Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy ’n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

24Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. 25Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. 26Die smaad ter wille van die Christus het hy ’n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.

27Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.

28Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.

29Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.

30Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het.

31Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

32En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. 33Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. 35Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot ’n beter lewe deelagtig word. 36Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. 37Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. 38Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.

39En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, 40omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

Die oog moet op Jesus gevestig wees.
12 Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 519 “Wees stil en weet” (v4:  “volhard in geloof”) of
VONKK 136 “O Here, My God, Ek Verlang Na U” of
Flam 80  “Weet Jy?”

Votum
As herder hou U wag oor ons;
U wat ons voorgaan, Heer, hóór ons.
U wat hoog oor die gerubs troon,
kom om u mag aan ons te toon.
Kyk af en openbaar u mag
aan Israel se nageslag. (Ps 80 uit Liedboek van die Kerk)

Seëngroet
Voorganger (V):  Die Here is met julle
Gemeente (G):  En ook met jou.

V: Hy skenk sy vrede aan julle
G: en ook aan jou.

Voorganger (V): Genade en vrede vir julle van God die Vader …
Gemeente (G): Aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: … en van God die Seun …
G: Hy het ons skuld gedra.

V: … en van God die Heilige Gees.
G: Hy maak ons nuut.
(Uit “Vir die Erediens – ‘n Handleiding”)

Lofsang
Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam” of
Flam 38  “Voluit In U Krag” of
VONKK 104 “Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus”

Gebed
Genadige God,
Tussen die puin en gemors van hierdie wêreld,
Maak U ’n plek skoon
Waar ons geplant kan word:
U regverdigheid
Wat hoop bring
Vir die onderdruktes;
U geregtigheid
Wat selfs ons vyande
In vrede ontvang.
Jesus Christus,
U breek die klipperige grond van ons harte oop,
Sodat genade geplant kan word.
U neem ons by die hand
En lei ons deur die water van ons doop,
Sodat ons in u koninkryk kan staan.
Heilige Gees,
Vroeg elke oggend
Beweeg U voor ons uit,
Stap u saam met ons op al ons lewenspaaie,
Lei U ons verby die versoekings
Waaroor ons sou struikel en val.
Drie-enige God,
Hoor ons as ons bid
Soos wat Jesus Christus, ons Here en Verlosser, ons geleer het:
Ons Vader wat in die hemel is…

Oproep
Dis nooit vir ons maklik om te vra vir vergifnis nie.  Maar as God se kinders, geroep om in gemeenskap met mekaar te leef, weet ons dat ons moet praat oor hoe ons ander seergemaak het, sodat ons vergewe kan word en nuut kan leef.  Kom ons bid daarom saam:

Skuldbelydenis
V:  Wat kan ons sê, Here God, wat U nie reeds weet nie?
U vra geregtigheid vir alle mense,
G:  maar dit word weggespoel in ’n vloed van geweld.

V:  U vra dat ons in geregtigheid wandel
G:  maar U hoor die noodroep van diegene wat ons sleg behandel.

V: U vra van ons om te praat namens diegene wat in nood is,
G:  maar ons bly stil en draai weg.

V:  Vergewe ons, Regverdige God.
Wees genadig wanneer ons nie vrug dra nie.
Al het ons nie ons geloof voluit geleef nie, mag ons steeds genade ontvang.

Stilte

Genadeverkondiging
Luister!  Kan jy hoor?  Die skare geloofsgetuies – die wat voor ons uitgaan – moedig ons aan.  Laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.
(Bogenoemde – vanaf “gebed” verwerk van http://lectionaryliturgies.blogspot.com/2010/08/20th-sunday-in-ordinary-timeproper-15-c.html)

Geloofsbelydenis
Ons bely die geloof soos dit deur die eeue deur gelowiges – die wat ons vooruitgegaan het – bely is: Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 136 “O Here, My God, Ek Verlang Na U”
Nav Psalm 63:2
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: DORSLAND – Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Die Wil van God / Voorbereiding om God se Woord te hoor / Geloof en Vertroue

O Here, my God, ek verlang na U.
Ek sug, ek soek na U.
Soos stofdroë aarde verlang na die reën,
so dors ek ook na U.

F80.” Weet Jy?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Wian Vos
© 1999 Brettian Productions
(Opgeneem op Kinder Gospel 2000)

1. Weet jy dat Jesus jou liefhet?
Weet jy dat Hy baie van jou hou
sommer net soos jy is,
want jy’s kosbaar
en spesiaal vir Hom.

2. Weet jy dat Jesus jou vriend is?
Weet jy dat Hy altyd sal hoor
as jy Hom vra om jou te wys
hoe kosbaar en spesiaal
jy vir Hom is.
Dankie Jesus (x3)
U is ook spesiaal vir my.

VONKK 104 “Wat ‘n Vriend Het Ons In Jesus”
Teks: What a Friend we have in Jesus – Joseph  Scriven 1819-1886; Welk een vriend het ons in Jesus – Halleluja 1903; Halleluja 1931; gewysig Jacques Louw 2010 © (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musiek: CONVERSE – Charles Crozat  Converse 1832-1918
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1.  Wat ‘n vriend het ons in Jesus –
Hy wat in ons plek wil staan.
Wat ‘n voorreg om gedurig
in gebed na Hom te gaan.
Hoe verbeur ons soms die vrede,
kom ons in vertwyfeling –
net omdat ons nie ons swaarkry
in gebed na Hom toe bring.

2.  As versoeking en beproewing,
of as hartseer oor ons kom,
laat ons nooit mismoedig word nie,
maar ons kommer bring na Hom.
Nêrens is ‘n vriend getrouer –
Hy wat van ons swaarkry weet.
Jesus staan met ware deernis
altyd tot ons hulp gereed.

3.  As die sorge van die lewe
of bekommernis ons kwel,
bly die Heer ons beste toevlug –
alles kan ons Hom vertel.
Wanneer ander ons teleurstel,
soek ons in gebed die Heer.
Jesus troos ons met sy liefde,
Hy verstaan ons hart se seer.

F38. “Voluit In U Krag”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Belydenis)
Musiek: Jaco van Staden
Teks: Jaco van Staden en Cornel Driessen
© 2003 Urial Publishing en J van Staden

Brug:
Voluit in u krag (o God) en in u groot mag
staan ek op u woord, bely ek vandag.

1. Daar is oorwinning in Jesus se Naam.
As U vir ons is, wie kan teen ons staan?
Daarom sal ek sing:
Here Jesus.

2. Geen hoogte, geen diepte
kan my skei van u liefde, o Heer.
Abba Vader, u genade
laat my leef in u voluit, o Heer.

Brug:
Alles wat U gee, kry ek in Jesus Christus
meer as ’n oorwinnaar, omdat ek u kind is.

3. Vader en Seun, Heilige Gees
as U vir ons is, wie kan teen ons wees?
Daarom sal ek sing:
Here Jesus.

F118. “Bly Volhard Soos Atlete”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Turn your eyes upon Jesus
Teks en musiek: Helen H Lemmel
Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf
© 1922 New Spring
(Opgeneem in Jeugsangbundel I)
(Hebr 12:1-3 en 1 Kor 9:24-27)

1. Bly volhard soos atlete –
dis God wat ons wedloop bepaal.
Daar ’n skaar’ verlostes wat wag om die baan
dat ons almal die wenstreep sal haal.

2. Elke las moet ons afgooi
– die sonde wat maklik verstrik –
dat ons God se pad met volharding kan loop;
dis die pad na die ware geluk.

3. Hou die oë op Jesus –
ons Vriend, ons Verlosser, ons Hoof.
Vir die vreug daarná het Hy smarte verdra;
Hy begin en versterk ons geloof.

VONKK 25 “In Die Heer Vind Ek Al My Sterkte”
Nav Jesaja 12:2
Teks: El Senyor – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue

In die Heer vind ek al my sterkte,
in die Heer verbly ek my.
Christus, U, die troue Heer,
op U vertrou ek en twyfel nie,
op U vertrou ek en twyfel nie.

In the Lord I’ll be ever thankful,
in the Lord I will rejoice.
Look to God, do not be afraid.
Lift up your voices, the Lord is near,
lift up your voices, the Lord is near.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 11:29-12:2

Familie-oomblik

Gebruik ’n blaaibord en teken ’n aantal konsentriese ovale dwarsoor die blad – soos ’n pawiljoen.  Gesels oor die manier wat die skare ’n atleet aanmoedig en vir ’n mens krag gee om aan te hou, veral bv. langafstandatlete.  Sê dan dat ons ook sulke mense  in ons geloof het – mense wie se voorbeeld ons aanmoedig, of hul gebede of ondersteuning.  Party is al dood (maak merkies aan die buitenste punte van die ovaal) soos Abraham en Ragab en Dawid van wie Paulus praat.  Laat volwassenes vertel van hul geloofskare – hul eie oumas en oupas ens. – wat ’n groot invloed op hul geloof het of gehad het.  Verduidelik dat die volwassenes in die gemeente ook deel is van die kinders se skare.  Maak telkens merkies op die pawiljoen om te wys waar die mense sit.  Hulle help ons om te “volhard” (gebruik weer die beeld van ’n langafstandatleet), om aan te hou om die regte goed te doen en Jesus te dien, ook wanneer dit moeilik is.

Preekriglyn

Na sy dood het hy, bekend vir sy besondere retoriese vermoëns, die bynaam “Goue Mond” gekry. Hy word onthou vir sy kragtige, eenvoudige en praktiese prediking waarin hy die Bybel op die lewe toegepas het. Johannes Chrisostomus, letterlik Johannes “Goue mond”, is die naam waaronder hierdie reguit en eerlike prediker (347-407) bekendstaan.

‘n Lewenslange besorgdheid oor die lot van armes het sy bydrae tot die prediking van die kerk en die liturgie gekenmerk. Selfs toe hy die aartsbiskop word van een van die mees welvarende stede in die wêreld, die destydse nuwe hoofstad van die Romeinse Ryk, Konstantinopel, het hy doelgerig ‘n lewe van eenvoud gekies.

Christene moes vir die armes gee, en omsien na die geestelike en tydelike nood van die armes. Hy het teen die uitwasse van rykdom en die ongebreidelde versameling van persoonlike eiendom gewaarsku.

“Ons moet ons lewensstyl aanpas”

Aartsbiskop Bartolomeus, moderne opvolger van Chrisostomus, in die Ekumeniese Patriargaat van Konstantinopel (Istanbul), is bekend vir sy passie om klimaatsverandering aan te spreek. Welvarende mense moet eenvoudiger leef, omgee vir armes wat nie soveel as hulle het nie, en verbruik moet afgeskaal word. Hy leef 1 600 jaar na Johannes Chrisostomus, maar vertel onbeskaamd hoe Chrisostomus en sy lering steeds vir hom ‘n inspirasie is. Hy staan steeds in dieselfde geloofstradisie, wat finansiële soberheid, omgee en weggee eerder as versamel, en diens beklemtoon.

Hulp oor eeue

Ons teks uit Hebreërs 11 moedig ons aan om die wedloop wat voor ons lê met volharding te hardloop. Die vraag is: hoe volhard mens?

Ons teks sê: hou die lewensportrette van julle voorgangers in die geloof voor oë. Die skrywer van die Hebreërbrief roep verskillende tonele van geloof voor oë wat mense help gehoorsaam en volhard het:

  • Die Israeliete het deur geloof deur die Rooisee getrek (29)
  • Hulle het gelowig en gehoorsaam om die mure van Jerigo getrek, wat toe geval het (30)
  • Ragab het uit geloof die risiko geneem om die verspieders te ontvang en daarom bly lewe;
  • Die rigters, konings, profete en martelaars het deur geloof die onsienlike God gesien, was moedig, dapper en gehoorsaam, en het daarom die koninkryk van God beërwe (32-38).
  • Uiteindelik is Jesus self die Een waarop ons ons oë stip moet hou (12:1vv).

Hierdie voorbeelde oorspan ‘n periode van ver meer as ‘n duisend jaar. As ons volharding wat oor leeftye, dekades, eeue, millennia strek voor oë hou, kan ons ook volhard.

‘n Maraton

’n Maratonwedloop is ’n lang wedloop en mens kan langs die pad moeg raak en uitsak. Tyd kan ’n groot bedreiging vir ’n mens se geloof raak. Dae word maande, en maande word jare, en jare word dekades, en voor jou oë gebeur niks. Die wag word niks, die dae word niks en die jare word niks. Mense wat boonop onder druk verkeer raak moeg en moedeloos. En vra: is die geloof, die swaarkry, die gesukkel en opofferings die moeite werd.

Die aanvanklike opwinding en entoesiasme begin plek maak vir wag en die wegbly-van-waarna-ons-uitsien. As alles voor jou niks word. Gelowiges gaan dood, geliefdes word siek, armoede tree in, maar Jesus bly weg. Die eintlike toets kom na dae, weke en jare. Die toets lê daarin of ek nog in die wedloop is en met vasberaden-heid na die wenstreep hardloop met my oë nog op Jesus gevestig. Geloof is nie ’n saak vir die oomblik nie, maar vir jou hele lewe waar geloof oor jou hele lewenspan gemeet word. Het ek die goeie wedloop begin, die wedloop klaargemaak en in geloof geëindig?

Grafika: Die foto is die eiendom van Peter Mooney en is geneem op 12 Augustus 2012 met ‘n Nikon D5000. Kopiereg gereël deur Creative Commons en laat plasing en redigering toe.

Uitputting as geloofskrisis

Wanneer ’n mens aan barmhartigheid dink, dink mens dikwels aan hulp aan mense in nood; kospakkies, sopkombuise, geboue en strukture, ondersteuningsfondse en studiebeurse. Dit het natuurlik ook sy plek. In Hebreërs gaan dit om ’n ander nood; geloofsnood, geloofsverlies, geloofsdroogte, geloofsarmoede en geloofsuitputting.

Dit is die nood van ons tyd. Tussen al die filosofiese strominge deur; fundamentalisme, wat voorgee om jou geloof op te bou, die modernisme wat geloof na die private sfeer van jou lewe uitdruk, postmodernisme wat ’n plekkie vir geloof gee deur dit een van die produkte op die mark aan te bied en post-postmodernisme wat moeg is vir al die onsekerhede en waarheid wat koersloos rond dobber. Tussen al die filosofies-wetenskaplike en kwasie-wetenskaplike strome deur, is die vraag: Kan ek nog glo? Kan Jesus my nog help?

Ja, daar is ’n skare gelowiges wat voor jou reeds deur die geloofstryd gegaan het – filosofies, polities en fisiek met hulle lewe moes boet – wat klaar gemaak het. Hulle stryd was net so erg, soms baie erger as die stryd waarmee mense nou worstel. Daar is ’n groot skare geloofsgetuies wat elkeen in sy unieke omstandigheid sy lewensloop klaar gemaak en die geloof behou het.

Grafika: Tired eyes, eiendom van Henti Smith, geneem op 1 Mei 2010 met ‘n Canon EOS 20D. Kopiereg word gereël deur Creative Commons en laat plasing toe.

Die oë op Jesus

Die geheim is tweërlei van aard. In die eerste plek het die Christene hulle oë stip op Jesus gehou. Dit is soos ’n skiboot wat deur die woeste branders gly, maar die kompas hou koersvas rigting. Die lewe kan jou soms baie rondskommel, rondgooi, teleurstel, seermaak. Jy kan by tye voel om tou op te gooi. Jy voel soms om te sê: staan stil aarde ek wil afklim. Hou die oog op Jesus. Hy wat die geloof in julle begin het, sal julle begelei om ook julle geloof klaar te maak. Hy is koersvas. Hy ken die uitkoms.

Die oë op medegelowiges

Daar is ’n tweede saak – die medegelowiges. Die ondersteunende rol wat medegelowiges speel is van groot belang. Hulle ondersteun nie net mekaar met konkrete materiële goed in die aanslag van die Romeinse regering teen hulle nie (10:31-39), maar ook in hulle geloofswedloop is die ondersteuning van mekaar daar. Telkens moet hulle vir mekaar sê dat ons net reisigers hier is, ons is met ’n wedloop besig wat ons na ons eintlike bestemming neem. Daarom, moenie die onderlinge byeenkomste mis nie (10:25): “. . . laat ons mekaar se hande vat en daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie” (Die Boodskap).

In hoofstuk 11 is daar geloofsgenote wat gewys het dat hulle God se toekoms vir hulle lewe raakgesien het. Hoofstuk 12 sluit by hierdie geloofsgenote aan wat klaargemaak het: “Hulle moedig ons aan om gelowig vol te hou met die wedloop” (Die Boodskap).

Wie het die Here vir jou gegee?

As Christene deel ons ‘n gemeenskaplike groep voorgangers in die geloof. Hebreërs 11 vertel ons van hulle.

Tog het elkeen van ons ook mense wat ‘n beslissende rol in ons eie lewens gespeel het. Vir aartsbiskop Bartolomeus is een van hulle Johannes Chrisostomus – ‘n inspirasie wat oor 1 600 jaar strek. Nicky Gumbel van Alpha-faam vertel hoedat hy gesukkel het om sy tennis te verbeter. Hy het toe gaan kyk hoe wêreldklas tennisspelers tennis speel. Hulle voorbeeld en inspirasie het sy tennis verbeter.

Baie van ons se geloofsinspirasie kom ook uit ons eie leeftyd. Vir baie is dit ‘n predikant, onderwyser, vriend of skoolhoof wat ‘n beslissende rol in ons lewens gespeel het. Ons moet tyd maak om die Here te dank vir hierdie voorbeelde, en inspirasie uit hulle lewens te neem. Mens kan gerus nadink oor hoe jou eie geloofshelde jou gehelp het, al was hulle ook maar net brose mense.

‘n Voorbeeld vir ander

Verder moet ons dieper dink oor ons eie lewens. Ons het die wonderlike geleentheid om ook geloof te beliggaam op ‘n manier wat ander versterk en hulle op hulle lewenspad help. Ons oefen veel ver invloed uit as wat ons dink. Wat kan jy doen om geloof te beliggaam, watter gebruike kan jy vaslê, wat lank na jou stukkie lewe op aarde ander kan bemoedig en dra?

God stuur ons om te leef

Gebed
VONKK 25 “In Die Heer Vind Ek Al My Sterkte”

Dankoffer

Slotlied
Flam 118 “Bly volhard soos atlete” [Gebaseer op vandag se fokusteks]
Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof”  [As julle dit nie verlede week gesing het nie] of
Lied 518 “Voel jy soms of die Here te vér is”

Seën
Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Respons
Flam 80 brug: Dankie Jesus (x3) U is ook spesiaal vir my.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.