Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Eksodus 12:1-14 is die instellingsverhaal van die Joodse Pasga – die Here se bevryding van die Israeliete uit Egipte. Psalm 149 loof die Here vir die bevryding wat Hy keer op keer bewerkstellig vir die volk.

Die lesings uit die Nuwe Testament bring die etiese aspek na vore van hoe ’n bevryde volk lewe. In Matteus 18:15-20 leer Jesus sy dissipels hoe ons behoort om te gaan met God se “verlore skape” en in Romeine 13:8-14 beklemtoon Paulus Jesus se Gebod van liefde as basis vir ’n volgeling van die Here Jesus Christus se lewe.

Ander tekste

Eksodus 12:1-14
Die instelling van die paasfees
12 In Egipte het die Here vir Moses en Aäron gesê: 2“Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word. 3Sê vir die hele gemeente van Israel: Elkeen moet sorg dat hy op die tiende van hierdie maand ’n lam vir sy gesin het, vir elke huisgesin een. 4As ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, kan ’n man en sy naaste buurman dit onder mekaar verdeel volgens die getal persone. Julle moet die lam deel volgens elkeen se behoefte. 5Dit moet ’n jaaroud rammetjie wees, sonder liggaamsgebrek, ’n skaap of ’n bok. 6Julle moet hom goed oppas tot die veertiende van hierdie maand, en dan moet die hele gemeente van Israel teen laat middag slag. 7Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet. 8Nog dieselfde nag moet julle die vleis eet. Julle moet dit gebraai eet, saam met ongesuurde brood en bitter kruie. 9Julle moet dit nie rou of in water gekook eet nie, maar oor die vuur gebraai, met kop, pootjies, binnegoed en al. 10Julle mag niks daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie. As daar die volgende môre tog iets oor is, moet julle dit verbrand. 11Julle moet dit haastig eet, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand. Dit is die paasfees van die Here.

12“Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here! 13Die bloed aan die huise waarin julle is, sal ’n teken wees: waar Ek die bloed sien, sal Ek die huis oorslaan, en die vernietigende slag waarmee Ek Egipte gaan tref, sal julle nie tref nie.

14“Hierdie dag moet vir julle ’n gedenkdag wees. Julle moet dit as ’n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit ’n vaste instelling wees wat hulle moet vier.

Psalm 149
Die Here is goed vir sy volk
149 Prys die Here!
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
sing tot sy lof in die vergadering
van sy troue dienaars.
2Laat Israel hom verheug in sy Maker,
laat die volk van Sion jubel
oor die Here hulle koning.
3Laat hulle sy Naam prys
met koordanse,
laat hulle speel tot sy eer
op tamboeryn en lier.
4Die Here is goed vir sy volk,
Hy kroon die hulpeloses
met oorwinning.
5Sy troue dienaars juig oor sy mag,
jubel selfs
as hulle op hulle beddens gaan lê.
6Die roem van God
klink uit hulle mond,
en in hulle hand is die swaard,
alkante geslyp,
7waarmee hulle die nasies sal verslaan
en die volke sal straf.
8Hulle sal die konings
van daardie nasies
met kettings vasbind,
hulle aansienlikes
met ysterboeie,
9en die vonnis aan hulle voltrek
soos dit vasgestel is.
Dit sal die triomf wees
van al die troue dienaars van God.
Prys die Here!

Matteus 18:15-20
’n Broer wat sondig

(Luk 17:3)
15“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. 16Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. 17En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ’n heiden en ’n tollenaar behandel.

18“Dit verseker Ek julle: Wat julle ook al op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat julle ook al op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly. 19Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, 20want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.”

Fokusteks

Romeine 13:8-14
Verpligtinge teenoor die owerhede
13 Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. 3’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, 4want die owerheid is ’n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf. 5Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ’n gewetensaak is.

6Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. 7Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is.

Liefde is die volle uitvoering van die wet
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. 12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord 

Seëngroet 

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: (Romeine 13)

Skuldbelydenis: (Uit Psalm 51)

Vryspraak: (Romeine 3)

Riglyn om te lewe: (Romeine 13)

Geloofsbelydenis: Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1, 11”

Epiklese

Skriflesing: Romeine 13:8-14

Prediking

Gebed: (ahv Fokusteks)

Offergawes

Wegsending: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord 
Sing ’n nuwe lied tot eer van die Here,
sing tot sy lof in die vergadering
van sy troue dienaars.
2Laat Israel hom verheug in sy Maker,
laat die volk van Sion jubel
oor die Here hulle koning.
(Psalm 149)

Seëngroet 
7Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Uit Romeine 1)

Loflied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet
13 Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God. 2Wie hom teen gesag verset, kom dus in opstand teen die ordening van God; en wie in opstand kom, sal sy verdiende straf kry. 3’n Mens hoef nie vir die owerhede bang te wees as jy goed doen nie, maar wel as jy kwaad doen. Wil jy sonder vrees vir die owerheid lewe? Doen dan wat goed is, en die owerheid sal jou prys, 4want die owerheid is ’n dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf. 5Daarom moet jy jou onderwerp, nie net omdat jy vir straf bang is nie, maar ook omdat dit ’n gewetensaak is. (Romeine 13)

Skuldbelydenis
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart…
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig. (Uit Psalm 51)

Vryspraak
God verlos die mens 
21Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. 25–26Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. (Romeine 3)

Riglyn om te lewe
8Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. 9Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 10Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. (Romeine 13)

Geloofsbelydenis: Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1, 11”

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005 Jacques Louw
© 1978 Bob Kilpatrick Ministries

1. Met ons lewens wil ons U eer, Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

1. In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

1. In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

1. In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994 Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën – Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

1. Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

2. As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,  
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God van ons lewe, daar kom dae
wanneer die laste wat ons dra
ons skouers skaaf en ons neerdruk;
wanneer die pad vorentoe droewig en eindeloos lyk,
die lug vaal, troosteloos en dreigend;
dae wanneer die lied uit ons lewe verdwyn
en ons hart eensaam is en ons siel moedeloos word.
Laat dan u lig skyn op ons pad,
rig ons oë op na die hemele van belofte;
snaar U ons hart vir die lied;
skenk ons die gemeenskap van die heiliges en helde van die eeue;
en sterk so ons gees om ook ander, wat die pad saam met ons bewandel,
te onderskraag tot u eer en verheerliking.
Amen.
(Augustinus se gebed in Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Skriflesing: Romeine 13:8-14

Prediking

Familie-oomblik

By sermons for kids word die storie van die wekker vertel- spesifiek die wekker met ‘n “snooze” knoppie (mens kan dit seker met ‘n “sluimer-knoppie” vertaal).

Teks: 11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. (Romeine 13)

Voorwerp: Radio wekker met sluimer-knoppie (“Snooze”)
Hoe word julle wakker in die oggend? Hoe gebeur dit dat julle eindelik betyds is vir skool?

Gewoonlik is daar ‘n Mamma wat lank voor die kinders besig en aan die gang is in die kombuis. ‘n Mamma wat dan haar kind saggies en stadig wakker maak om aan die gang te kom.

Maar daar is ook kinders wat ‘n eie wekker langs die bed het. Dit is gewoonlik ‘n radio/wekker wat mens kan stel sodat die radio aanskakel op die tyd wat jy wil wakker word. Illustreer hoe die radio met die wekker aanskakel.

Maar so ‘n radio het ook ‘n “snooze” knoppie- as jy daardie knoppie druk nadat die radiowekker aangeskakel het, dan raak die radio stil vir nog so 5 of 10 minute, vandaar die woord “snooze”. Dan kan jy nog lekker vir 5 of 10 minute “snooze”/ sluimer voordat dit weer aanskakel om jou wakker te maak.

Maar die “snooze” knoppie is nie noodwendig ‘n goeie ding nie. As jy aanmekaar die knoppie druk gaan jy op die einde laat wees vir skool. Want jy hoef net die snooze knoppie te druk om nog lekker in te sluimer.

Die ander gevaar met ‘n “snooze” knoppie is dat jy so gewoond raak aan die alarm wat jy net kan “snooze” dat jy later glad nie meer die alarm hoor nie.

Nou, sommmige mense dink dat jy die Here se roepstem ook kan “snooze”… Hy roep jou vir die Kinderkerk of die kategese en al wat jy wil doen is iets anders. Ons teksvers wil eintlik leer dat ons mooi moet luister wanneer die Here ons aandag soek. Ons moet nou uit die slaap wakker word en vir die Here leef want die tyd van ons verlossing is naby!

Teks: 11En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. (Romeine 13)

Preekriglyn

In die jaar 386, in Milaan in Italië, sit drie vriende en gesels. Die een is Augustinus, ‘n beroemde professor in retoriek uit Noord-Afrika. Die ander twee is sy twee vriende Alypius en Ponticianus. Daar lê ‘n Nuwe Testament geskrif op ‘n tafel en Ponticianus vra vir Augustinus of hy ‘n Christen is.

Nou Augustinus se ma, Monica, het toe al jare reeds vir hom gebid, maar hy moes antwoord, nee, hy is nie ‘n gelowige nie; hy kom net nie so ver nie, eintlik omdat hy sy eie lewenstyl – ‘n gejaag na plesier en sukses – te liefhet. (Terloops, ‘n biskop het vir Monica, Augustinus se ma gesê: “’n Kind van soveel gebed en trane kan nie verlore gaan nie”!)

Dan vertel Ponticianus vir Augustinus hoe hy onlangs tot geloof gekom het toe hy een van die woestynvaders, Antonius, se verhale gelees het, en hoe dié tot geloof gekom het toe hy in ‘n kerk gehoor het hoe daar uit die boek Matteus voorgelees is. Dié woorde het Antonius só ontroer dat hy tot inkeer gekom het, en sy lewe dramaties verander het.

En Ponticianus het só onder die indruk van die krag van die Woord in die lewe van Antonius gekom, dat hyself ‘n volgeling van Jesus geword het.

Die gesprek en getuienis van sy vriend het Augustinus hewig ontstel. Dit het hom opnuut verward en leeg laat voel, vol van verlange na die vreugde wat Ponticianus en Antonius in die Woord en in ‘n verhouding met Jesus ontdek het.

Hy het opgestaan en in ‘n tuin daar naby gegaan om alleen te wees. Onder ‘n vyeboom het hy in trane uitgebars. En dan hoor hy ‘n stem. Êrens, daar naby, hoor hy ‘n kinderstem wat sing, dieselfde woorde oor en oor. En hoewel hy nie kan uitmaak of dit ‘n seuns- of dogterstem is nie, kan hy die woorde van die liedjie duidelik hoor: Tolle, lege. Tolle, lege. Neem, lees. Neem, lees.

Dit is asof Augustinus weet die woorde is vir hom bedoel. Hy draai om, gaan die huis binne, neem die Nuwe Testamentiese boek op die tafel en begin lees by Romeine 13:13 en verder. En oombliklik is die Woord vir hom soos ‘n spieël, waarin hy homself sien: “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.” 

En in die sien van homself, in alle eerlikheid skuldig aan alles wat die Woord sê nie in sy lewe moet wees nie, kom daar ‘n verandering, toe hy verder lees en agterkom die geheim van ‘n oorvloedige lewe lê in die afskeid van sy sondige begeertes, en die navolging van Jesus Christus (vers 14). En hy kom tot geloof in Jesus Christus, tot groot vreugde van sy ma.

En die res van die verhaal is vir ons bekend: Augustinus word waarskynlik die grootste denker en teoloog, nie net van sy eie tyd nie, maar van alle tye. Die praktiese uitvoering van die liefdesgebod speel ‘n sentrale rol in sy teologie.

(Soos oorvertel deur prof DJ Smit. Volledige verhaal in Neem, lees! van Dirkie Smit, p 231).”

‘n Lewe wat pas by God se genade

Ons teks kom uit die tweede hoofafdeling van die Romeinebrief. In hoofstukke 1-11, die eerste deel, verduidelik Paulus hoe groot die genade en ontferming van God is. Ons is almal gevange geneem deur die sonde, en kan onsself nie red nie. Tog doen God die wonder om ons te verlos, en ons in te skakel by God se nuwe mensheid.

In die tweede hoofdeel, vanaf hoofstuk 12, verduidelik Paulus hoe die lewe lyk van mense wat deur God verlos en nuutgemaak is. Om aan God te behoort, is nie bloot ‘n transaksie, ‘n status, of ‘n nuwe toekoms eendag in die hemel nie. Om aan God te behoort, is om nou reeds nuutgemaak te wees deur Jesus Christus, en deur die Heilige Gees wat God se liefde in ons uitstort (5:5).

Daarom moet ons uit hierdie nuwe status, die Goddelike gawe van verlossing, leef. Ons doen dit deur liefde te betoon.

Aanmoediging

In vers 8 moedig Paulus ons aan om niemand iets verskuldig te wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Ons is dit aan mekaar verskuldig om mekaar lief te hê.

Daar is ‘n ou spreekwoord wat vra: “Hoeveel ‘onse’ is daar in jou pond?” (Vir diegene wat nie weet nie, die imperiale mate wat tot in die 1960’s ook in SA in gebruik was, het geweeg in ponde (nie kilogramme nie), en ‘n pond het bestaan uit 16 onse.) As mens sê “ons”, moet jy – sê die spreekwoord – kwalifiseer wie ingesluit is in die “ons”.

“Ons” is liefde aan mekaar verskuldig. Daar is baie “onse” in Paulus se pond: “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. “Niemand” is ‘n inklusiewe term: dit sluit alle mense in met wie my pad kruis.

In Jesus se lering oor die barmhartige Samaritaan, is my naaste die persoon met wie my pad kruis wat my nodig het. Die vraag is nie “wie is my naaste nie”, maar “vir wie word ek geroep om ‘n naaste te wees?”

Die begrip “naaste”, diegene aan wie ons geroep is om liefde te betoon, sluit alle moontlike mense in ons ervaringswêreld in. Dit sluit almal in, ongeag taal, kultuur, ras, geloofsoortuigings of intellektuele vermoëns. Die gestremdes, weerloses en gemarginaliseerdes is nie uitgesluit nie.

Liefde vervul die wet

Die wet van God, wat reeds eeue vantevore aan Moses gegee is, maak reeds duidelik dat God liefde vra.

Paulus gee in vers 9 ‘n opsomming van die Tien Gebooie na aanleiding van Levitikus 19:18. Al hierdie gebooie, trouens elke gebod wat daar is, word in die opdrag tot die liefhê van die naaste soos jouself saamgevat.

Die wet is ‘n praktiese handleiding wat ons gedrag en gesindhede wat nie liefde dien nie, help herken. Daarom moet ons nie egbreek, doodslaan, steel, valse getuienis gee, of begeer nie. Dit alles word vervat in die gebod dat ons ons naaste moet liefhê.

Liefde is wat pas by die nuwe lewe in Christus (vers 10), want:

  • Liefde doen die naaste geen kwaad aan nie (negatief gestel), en
  • Liefde is die volle uitvoering van die wet (positief gestel).
Liefde is uitdagend

Ons moet versigtig wees om nie ‘n soetsappige, verskraalde perspektief op liefde te hê nie. Vir sommige mense beteken liefde dat ons geen eise aan mekaar stel nie, en bloot maar alle gedrag van ander aanvaar. Ouers mag daarom nie kinders op die regte pad lei, of mense wat teen jou oortree mag nie bestraf word nie.

Liefde is veel ingewikkelder as dit. Liefde is om die beste belange van jou medemens te soek, selfs al kos dit jou ‘n prys. Liefde is om ‘n betroubare naaste te wees wat jou medemens op die regte koers help plaas. Dit soek die ander se belang.

Daarom stel die liefde groot uitdagings aan nuwe mense in Christus.

Mens kan iets van die kompleksiteit hiervan illustreer deur ‘n storie te vertel. Dink aan die aangrypende toneel in Les Miserables waar Jean Valjean voortvlugtend is, en deur ‘n priester – biskop Myriel – herberg gegee word. Jean steel die silwerware en verdwyn spoorloos. Die polisie vang hom, en bring hom terug klooster toe. Sy turf sit. Tot sy verbasing, sê biskop Myriel vir die polisie hy het die silwerware vir Jean Valjean gegee – dit is nie gesteel nie. Op hierdie manier kom die voortvlugtige vry. Myriel sê Jean se lewe is vir God gespaar, en hy moet die silwerware gebruik om ‘n eerlike lewe vir homself te skep.

Hierdie genade verander Jean lewe. Hy besef watter verkeerde koers hy ingeslaan het, en verander inderdaad sy lewe. Die priester se keuse vir liefde en vergifnis, help hom uiteindelik om self ook sy groot vervolger, die polisebeampte Javert, se lewe te spaar.

Inderdaad: die liefde soek om die naaste geen kwaad aan te doen nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.

Aan die einde van die tye

Vanaf vers 11 versterk Paulus sy aandrang op die betoon van liefde, deur op die naderende wederkoms te wys. Juis omdat Christus aan die kom is, omdat dit laat geword het, dit amper dag is, moet ons waaksaam daarop let dat ons liefde betoon.

Waaksaamheid het die effek dat dit ons paraat, gefokus en doelgerig hou. Dit kan werk omdat baie dinge ons aandag vereis en ons maklik vas kan val in allerlei bedrywighede wat ons in die proses nie waaksaam nie, onoplettend, maak en kan bydra dat ons met die koms van Christus aan die slaap gevang kan word.

Omdat die dag van Christus se wederkoms nou nader is as toe ons tot geloof gekom het, moet ons nou die wapens van die lig opneem. Ons moet die liefde prakties doen. Opvallend dat Paulus die dien van Christus as ‘n geestelike stryd uitbeeld. Ons moet die stryd aanpak om ons sondige begeertes te verloën die die regte dinge te doen. Ons word aangemoedig om te leef volgens die nuwe orde waarin dronkenskap, uitspattigheid, ontug en onsedelikheid, rusie en jaloesie nie voorkom of daarvan deel is nie.

Beklee julle met Christus

Vers 14 se oproep, “lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus”, word deur verskeie vertalings vertaal as “klee julleself met Jesus Christus” (vgl. bv. die KJV en Amplified Bible).

Hierdeur word ons in staat gestel om wel die lewe van die liefde te leef. Deur die gesindheid van Jesus aan te neem, maak sy Gees dit vir ons moontlik om die naaste lief te hê. Sy Gees laat ons weg van onsself kyk na Christus toe. So word ons gevorm om liefdeshande, -voete, -oë en veral -harte te gee – harte wat met deernis vir die nood en ellende van ander gevul is. So word ons betrokke by die lewe van ander en kan ons hulle na Jesus, ons Verlosser en Saligmaker wys. Hy is immers die liefde self.

Dis wat Augustinus agtergekom het. Die geheim van ‘n oorvloedige lewe lê in die afskeid van ons sondige begeertes, en die navolging van Jesus Christus.

God stuur ons om te leef

Gebed: (ahv Fokusteks)
Here,
ek wil niemand iets skuld behalwe om hulle lief te hê nie;
want ek weet dat ek dan U hele wet uitvoer!
Dit is my wens om ten spyte van my menslike natuur
my naaste lief te hê soos myself.
Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.
Ek neem opnuut die wapens van die lig op;
Ek sal leef soos ‘n waardige volgeling van Jesus Christus.
Amen

Offergawes

Wegsending: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

Seën: 2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.