Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tekste uit Jesaja, Lukas en die Psalms se toonaard is almal dié van God se heilige woede omdat sy liefde onbeantwoord bly. Die tekste uit Jesaja en die Psalms vertel die bekende verhaal van God wat sy geliefde wingerd uiteindelik oorgee aan die natuur omdat dit verseg om goeie druiwe te dra. Lukas vertel in sterk taal hoedat verdeeldheid die gevolg van keuses vir of teen Jesus is. Die Hebreërteks handhaaf egter ’n heel ander toonaard: voorbeelde word gegee van wat gelowiges vermag het omdat hulle op die Here vertrou het.

Ander tekste

Eksodus 20:1-20
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Psalm 80:7-15
7U laat ons bure teen ons veg,
en ons vyande lag oor ons.
8Almagtige God,
laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
9U het ’n wingerdstok in Egipte
uitgehaal
en dit hier kom plant
nadat U die nasies
uitgedrywe het.
10U het vir hom plek reggemaak,
sy wortels het gegroei
en hy het die land ingeneem.
11Sy skaduwee het die berge oordek,
sy ranke die magtige seders.
12Hy het sy ranke uitgestoot
tot by die see,
sy lote tot by die Eufraat.
13Waarom het U die mure om hom
afgebreek?
Al die verbygangers stroop hom,
14die wildevark uit die bos verwoes hom,
gediertes uit die veld vreet hom op.
15Almagtige God,
kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer
oor hierdie wingerdstok,
neem hom weer onder u sorg.

Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Matteus 21:33-46
Die gelykenis van die boere en die wingerd
(Mark 12:1–12; Luk 20:9–19)
33“Luister na nog ’n gelykenis,” het Jesus gesê. “Daar was ’n grondbesitter wat ’n wingerd geplant en ’n klipmuur daar rondom gebou het. Hy het daarin ook ’n parskuip uitgekap en ’n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en op reis gegaan. 34Toe dit tyd geword het vir die druiweoes, het hy van sy slawe na die boere toe gestuur om sy deel van die oes te gaan haal. 35Maar die boere het sy slawe gevang, die een geslaan, en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. 36Die eienaar het toe weer ander slawe gestuur, meer as die eerstes, maar die boere het met hulle net so gemaak. 37Heel laaste het hy sy seun na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. 38Maar toe die boere die seun sien, sê hulle vir mekaar: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood en vat sy erfenis.’39Hulle het hom toe gegryp en hom uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak.

40“As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen?”

41Hulle antwoord Hom: “Hy sal daardie slegte mense ’n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee.”

42Toe sê Jesus vir hulle: “Julle het tog al in die Skrif gelees:
Die klip wat deur die bouers
afgekeur is,
juis hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.
Dit is deur die Here gedoen
en is ’n wonder in ons oë. r
43Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ’n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.

44“Wie op hierdie klip val, sal verpletter word, en die een op wie hy val, sal hy vermorsel.”

45Toe die priesterhoofde en die Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. 46Daarom wou hulle Hom gevange neem, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom as ’n profeet beskou het.

Fokusteks

Jesaja 5:1-7
Wat kan ek nog vir my wingerd doen?
5 Ek wil sing oor Hom wat ek liefhet, ek wil my liefdeslied sing
oor sy wingerd:
Hy wat ek liefhet, besit ’n wingerd
op ’n vrugbare heuwel.
2Hy het die grond omgespit
en die klippe verwyder,
dit beplant met veredelde
wingerdstokke.
Hy het ’n wagtoring daarin gebou
en ’n parskuip uitgekap.
Hy het verwag
dat dit goeie druiwe sou dra,
maar toe bring dit druiwe voort
wat suur bly.
3En nou, inwoners van Jerusalem
en manne van Juda,
beslis tog tussen My en my wingerd.
4Wat kan Ek nog vir my wingerd doen
wat Ek nie reeds gedoen het nie?
Wat is dan die rede dat dit suur druiwe
voortgebring het
terwyl ek verwag het
dat dit goeie druiwe sou dra?
5Ek maak julle nou bekend
wat Ek met my wingerd gaan doen:
Ek gaan die doringheining verwyder
en verbrand,
sy muur afbreek, sodat die wingerd
vertrap kan word.
6Ek gaan hom tot niet maak.
Hy sal nie meer gesnoei
of geskoffel word nie,
maar ingeneem word deur doringbosse
en onkruid.
Ek sal die wolke verbied
om daarop te reën.
7Die wingerd van die Here
die Almagtige,
die wingerd wat Hy geplant het
en waarin Hy Hom wou verlustig,
is die Israeliete, die volk van Juda.
Die Here het verwag
dat daar reg sou wees,
maar daar was net onreg,
dat daar geregtigheid sou wees,
maar daar was net die hulpgeroep
van veronregtes.

Ekstra stof

Jesaja 5 – ’n Begrafnislied oor verworde mense
Hoofstuk 5-6 lei die tema van verwoesting deur die Assiriërs in wat in hoofstuk 7-39 die agtergrond van die profesieë sal vorm. Watts maak nogal ’n stewige saak daarvoor uit dat ’n mens uit daardie perspektief die res van deel 1 van Jesaja kan lees as drie intervensies wat Jahwe beplan om die dilemma van hierdie verwoesting die hoof te bied:

  1. ’n nuwe Dawidiese koning (hfst. 7-12)
  2. ’n internasionale koalisie van Assirië, Israel en Egipte (hfst. 13-19) en
  3. die bonatuurlike ingryping van Jahwe wat weer lewe sal gee vir sy volk (hfst. 25-27).

Hoe dit ook al sy, hoofstuk 5 is ’n begrafnislied oor die wingerd van die Here, sy volk (vgl 1:21-31 waar getreur word oor die begrafnis van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie). Jesaja 6 is dan die roepingsverhaal van Jesaja wat hierdie begrafnislied oor die volk moes aanhef.

Hoofstuk 5 bestaan uit

  1. ’n metaforiese beskrywing van die volk as die wingerd van die Here (5:1-7) en dan
  2. ’n 6-voudige beskrywing van die ellende wat die Here oor hulle sal bring (5:8-23) telkens aangekondig met die frase: “Ellende wat vir …” (5:8, 11, 18, 20, 21, 22). Dit word opgevolg met
  3. ’n oordeelsuitspraak (5:24-25) omdat die Here kwaad geword het vir sy volk en daarom
  4. ’n nasie versamel het om dié oordeel oor sy volk te voltrek (5:26-30).

5:1-7 – Let op hoe vers 1-7 dieselfde verrassende element het wat Natan ook in sy veroordeling van Dawid se sonde gebruik het – ’n storie wat vertel word, en dan op verrassende wyse op die hoorder van toepassing gemaak word (2 Sam 12).

Hier is die storie egter nie ’n skaap wat deur ’n gierigaard afgepers word nie, maar ‘n wingerd wat suur druiwe voortbring … en dan op die Israeliete, die volk van Juda, van toepassing gemaak word wat die Here nie wou erken as God en Heer nie. Let op hoe die suur druiwe net met een ding verbind word, die onreg wat in die samelewing plaasvind.

Dit is ’n noodsaaklike boodskap vir ons – daar kan baie goeie dinge in ’n gemeenskap of ’n land wees, lofwaardige dinge, maar as die reg nie in stand gehou word nie – en baie spesifiek die reg van verontregtes (5:7) – is die dood in die pot.

5:8-23 – Dit is insiggewend om die Ellende uitsprake te lees – dit is soos 6 dele van die begrafnislied – en daarin te sien hoe diep die Here raaksien wat in ’n gemeenskap kan gebeur. Hy sien 6 basiese vergrype raak by die volk, die vooraanstaandes en die gewone burgers, weens hulle gebrek aan kennis en geestelike sensitiwiteit (5:13):

  1. uitbuiters wat grond en besittings inpalm totdat daar niks vir ander oorbly nie (5:8-10);
  2. partytjie-mense wat die Here nie in ag neem nie (5:11-17);
  3. rebelle wat afgodsdienaars word en die Here uitdaag om iets daaraan te doen (5:18-19);
  4. perverses wat goed en sleg, lig en duisternis omruil (5:20),
  5. arrogante wyses (5:21),
  6. eerlose korruptes (5:22-24).

5:24-30 – En Hy het net een antwoord – oordeel wat Israel polities, sosiaal en ekonomies vernietig.
Nogal ’n mondvol dié hoofstuk – en ek wil dit nie relativeer nie, maar my net herinner dat daar ook ’n hoofstuk 4 was … Maar dan lees ek weer in vers 2, 4 en 7 wat God se verwagting was (in die grondteks staan wag) en hoe konsekwent dit gedwarsboom is, en weet, dit kon nie anders nie. God se geduld is tot die uiterste beproef totdat daar geen omkeer of terugkeer meer moontlik was nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 19)

Seëngroet: (Uit Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Lied 456 “Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3”

Wet: Eksodus 20:1-20

Skuldbelydenis: Psalm 19

Vryspraak: Filippense 3

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Jesaja 5:1-7

Familie-oomblik
Prediking
Offergawes

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 19)
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.

Seëngroet: (Uit Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)
Geliefdes, wees gegroet in die Naam van die God wat “Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is, ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat dit vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek”.

Lied 456 “Loof heel die skepping, loof die Heer vs 1,2,3”

Wet: Eksodus 20:1-20
Die tien gebooie
(Vgl Deut 5:6–21)
20 Toe het God al hierdie gebooie aangekondig:
2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. 3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, 6maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.
7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. 9Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. 11Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

12“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
13“Jy mag nie moord pleeg nie.
14“Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
15“Jy mag nie steel nie.
16“Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
17“Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ’n slaaf of slavin, ’n bees of ’n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Skuldbelydenis: Psalm 19
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Vryspraak: Filippense 3
7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Liedere

F89. “Ek Leef Binne U, Heer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: My life is in You, Lord
Teks en Musiek: Daniel Gardner
Afrikaanse vertaling: 2004 Enke-Mari Malherbe
© Integrity Music

Ek leef binne U, Heer;
U leef binne my, Heer.
Ek leef net vir u, Heer;
U het my verlos.

Ek weet U verstaan my;
U hou u beloftes.
Dit vul my met blydskap:
U het my verlos.

Ek prys U met alles in my;
Ek prys U met al wat ek is,
met al my verstand,
met al wat ek is.
U is my lewe, o Heer.
(Einde: My lewe behoort net aan U)

F220. “Die Heer Is My Herder”
(RUBRIEK: Flammikidz / FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: De Heer is mijn Herder
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 2000 Celmar Music

Refrein:
Die Heer is my Herder
Hy is alles wat ek nodig het
Hy bring my tot rus
en Hy gee nuwe krag
Hy lei my steeds verder
op die regte pad wat ek moet gaan
Die Heer is my Herder.
Al gaan ek deur ‘n donker dal
ek hoef nie bang te wees
Ek weet dat U my by sal staan
U is naby, Heer
Want wat ookal met my gebeur
U help my telkens weer
U gee my wat ek nodig het
en nog soveel meer
U goedheid en u liefde, Heer
volg my vir altyd
en ek mag naby aan U bly
tot in ewigheid

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, met ons harte vrugbaar en gereed vir u Woord
bid ons vir aandag en wakkerheid van die heilige soort.
Hemelse Vader, U kan maar plant in my hart se grond,
want wat ek hier binne glo en bely met my mond
is dat u Woord nooit leeg na U toe terug sal keer nie
so ek is gereed, Here Jesus, om by U te leer
en U kan maar aan God se wingerdtjie snoei
sodat ek met my hele wese na U toe sal groei.
Amen (deur André Agenbag).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Skriflesing: Jesaja 5:1-7

Familie-oomblik

Carolyn Brown gebruik ‘n ikoon van Christus (Jesus Christ as the true vine) as illustrasie waarmee gesprek gevoer word met die kinders teenwoordig. Dit is hier beskikbaar.

Gesprek: Wys die ikoon (van Wikimedia.commons).
Dit is maklik om Jesus in die sentrum van die ikoon te identifiseer. Dink dan hardop saam met die kinders oor wie die ander mense in die ikoon kan wees. (LW Geen reg of verkeerd antwoord is ter sake nie.)

Vestig die aandag op die wingerdstok waarop Jesus sit en illustreer dan hoe die mense by Jesus deur die lote deel van die wingerdstok is. Verduidelik hoedat die wingerdstok met sy lote ‘n eeue-oue simbool is van Jesus en sy kerk op aarde.

Lees dan die bekende diskoers van Jesus oor die wingerdstok en die lote uit Johannes 15 ahv die weergawe uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus is soos ’n Wynstok en ons soos die Lote
15 1–4 “Sê maar Ek is soos ’n spesiale vrugteboom—’n druiwestok. Dan is my Vader soos die boer. Hy sny al die takkies van die boom af wat nie vrugte dra nie. Takkies wat mooi vrugte maak, maak Hy mooi skoon. Dan kan hulle nog beter vrugte dra. Julle is soos daardie takkies. Alles wat Ek vir julle vertel het, het van julle goeie takkies gemaak.

“Ons moet by mekaar bly, net soos takkies deel van die boom is. ’n Takkie wat van die boom afgesny is, kan mos nie vrugte dra nie. Net so kan julle ook nie reg lewe as julle nie naby My bly nie.

5–8 “Ek is soos ’n spesiale vrugteboom; julle is soos die takkies. As julle soos takkies naby aan My bly, sal julle ook reg lewe. Sonder die boom beteken die takkies niks nie. Net so kan julle nie reg lewe sonder My nie. Sê nou iemand steur hom nie meer aan My nie. Hy sal soos ’n takkie wees wat afgesny is. Die takkie sal in die vuur gegooi word en verbrand.

“Bly naby My en luister wat Ek sê. Dan kan julle maar bid. Vra wat julle nodig het om goeie kinders van God te wees. God sal dit vir julle gee. As julle my vriende is en reg lewe, sal die boer, my Vader, baie bly wees.”

Preekriglyn

Mense sukkel om rekening te hou met die gevolge van hulle optrede. Miskien is die tronk hiervan vol. Hier volg ‘n storie om dit te illustreer.

Dit was September 2006. Drie vriende van Matt Atkinson vertel hom hulle beplan ‘n aanval op hulle skool, baie soos die traumatiese moordtog by Columbine (‘n massiewe moord op leerlinge in die VSA). Hulle sou bomme naby die toilette laat ontplof, dan die uitgange aan die brand steek, en daarna enige van die 1,500 studente van hulle skool waarvan hulle die hou nie, doodskiet.

Atkinson was innerlik verskeurd oor die mededeling. Hoewel sy vriende se dreigemente ernstig geklink het, was hy onseker of hulle dit bedoel het en sou deurvoer. Hy sou dit moes aanmeld. Maar wat as sy vriende in ernstige moeilikheid beland oor wat ‘n grappie mag blyk te wees? Daardie aand het hy die saak ernstig met sy ma bespreek.

Die volgende oggend – een dag voor sy vriende hul beweerde dreigement sou uitvoer – het Matt met die skoolhoof gaan gesels. Die polisie het onmiddellik ingegryp. Die huise van die voornemende aanvallers is deursoek. Hulle het ‘n verskriklike ontdekking gemaak: selfmoordnotas, ‘n groot hoeveelheid wapens, ammunisie, kamoefleerdrag en gasmaskers.

Toe die nuus van die gefnuikte aanval bekendraak, is Matt Atkinson as held vereer. Hy’t nie gedink sy optrede was heldhaftig nie. “Al wat ek kan sê is, doen die regte ding. Vertel iemand as jy van gevaar bewus word. Ek het gevrees vir die veiligheid van my skool en daarom opgetree. Ek wou nie bekend of beroemd wees nie,” het Matt gesê.

Matt het die regte ding gedoen omdat hy die gevolge van sy optrede leer verstaan het. Sou hy niks doen nie, en stilbly, kon daar ontsettende lewensverlies wees. Die gevolge sou dramaties wees: vir homself, sy drie vriende, en ook die mense van die skool. Hy het die gevolge bedink, en daarom reg opgetree.

Waarskuwing

Ons teks is ‘n waarskuwing aan die volk van die Here. Dit is ‘n gelykenis in die vorm van poësie waarin die profeet die volk van God leer om die gevolge van hulle ontrou aan die Here te bedink. God het sy liefde oor hulle uitgestort. Hulle het hierdie liefde vertrap. Tensy hulle anders optree, sou die Here hulle verantwoordbaar hou en sou hulle die bitter gevolge van hulle optrede moes dra.

Israel word in ons teks met ’n wingerd vergelyk waaraan die eienaar baie aandag geskenk het, net om agter te kom die wingerd produseer nie goeie druiwe nie. Die gedig plaas Israel in ’n posisie waar hulle hulleself moet oordeel. God het vir hulle gesorg soos vir ’n wingerd, maar die vrugte van hulle lewe is bitter en suur. Is God dan nie geregverdig as Hy besluit om sy beskerming van Israel te onttrek nie?

Harde werk

‘n Wingerd was alreeds ‘n bekende gesig in die antieke wêreld. Om ’n wingerd uit te lê en tot stand te bring voor druiwe geproduseer word, was rugbreek werk.

Die eienaar moes ’n blootgestelde vrugbare heuwel kies. Daarna moes hy die grond bewerk en van die klippe ontslae raak. Dit is nodig om die klippe uit te haal, want die kalksteen wat die vrugbare terra rosa grond produseer, lewer ’n groot hoeveelheid klippe op. Die klippe is dan rondom die skoongemaakte stuk veld gepak, om sodoende wilde diere uit te hou. Die klippe wat oorgebly het, is later gebruik om ’n wagtoring te bou.

Voor die bou van die wagtoring sou die wingerde eers geplant word. Na die plant van die wingerde was daar ’n periode van ongeveer twee jaar voor die eerste druiwe gepluk kon word. Gedurende dié wagtyd is die klipmuur versterk, die wagtoring gebou en die fasiliteite vir die oes en pars van die wyn voorberei. Hierdie fasiliteite het gewoonlik bestaan uit twee parskuipe wat uit die rots gekap is, een bokant die ander, verbind met ’n trog. Die boonste parskuip is vir die uitdruk van die druiwe gebruik, terwyl die onderste gebruik is vir die druiwesap wat uit die boonste vat gevloei het.

Die eienaar se verbintenis en toewyding om die bedryf ’n sukses te maak, was duidelik van deurslaggewende belang. Die eienaar het al die rugbreek werk gedoen met die verwagting van ’n oes van goeie druiwe.

Teen hierdie agtergrond moet ons die Eienaar se ontsteltenis in ons teks verstaan. Al die harde werk geen doel gedien nie. Al die hoop was verniet. Dit word ‘n gelykenis wat God se werk met Israel, God se genade, liefde, trou en vormingswerk uitbeeld. Ten spyte van alles wat God gedoen het om hulle te leer hoe om reg te leef, het hulle lewens onreg voortgebring eerder as reg.

Inhoud

Die gelykenis bestaan uit vier dele:

  • Verse 1 tot 2: Inleidend word Israel met ‘n wingerd vergelyk wat God self in vrugbare grond geplant het. Die grond is goed voorberei en die wingerd is uitstekend versorg. Dit het egter suur druiwe voortgebring.
  • Verse 3-4: Israel word nou uitgenooi om self ‘n oordeel te vel oor die wingerd se gebrek aan goeie druiwe. Wat kan God nog doen om hulle beter te help om goeie druiwe te dra?
  • Verse 5-6: Die Eienaar se oordeel word nou bekendgemaak: die wingerd gaan afgebreek word en aan homself oorgelaat word. Dit sal deur onkruid ingeneem en met droogte geteister word.
  • Vers 7: Die gelykenis van die wingerd word spesifiek op Israel toegepas. Die suur druiwe is Israel se onreg teenoor die medemens, en die ongeregtigheid van die hulpgeroep van verontregtes veroorsaak het.

Israel word hiermee opgeroep om die gevolge van hulle gebrek aan vrugte dra, te bedink. Dit lei tot God se oordeel oor hulle. Hulle word opgeroep om reg te laat geskied aan ander.

Twee temas

Daar is twee temas wat die boodskap van ons teks dryf:

Die eerste is die intensiewe werk wat God gedoen het en steeds doen om sy verbond in stand te hou. God het Israel gered en hard gewerk om hulle te leer hoe om sy volk te wees. Van die begin van God se pad met die mens is Hy die een wat die mens uitsoek, regmaak, opbou, plant, voorberei en tot geestelike vrug lei.

Die profete in die Ou Testament stel God dikwels voor as die een wat straf en dan verlos. Die veronderstelde verbondswerk wat God al klaar met Israel gedoen het, voor sy straf, word in die teks benadruk.

Die tweede krag is die oordeel van God. Die skuldiges moet self tot skuldbesef kom. Net soos die gelykenis van die profeet Natan (2 Sam 12:1-7) koning Dawid genoodsaak het om sy eie oordeel te fel, so dwing dié gelykenis Jesaja se gehoor om hulle eie oordeel te fel.

So ’n eie oordeel is soveel kragtiger as om die gehoor van hulle eie skuld te oortuig. Deur die oordeel aan die veronderstelde gehoor oor te laat, kan God se aandeel in Israel se oordeel versag. God is dus nie alleen aanklaer, regter en laksman nie. Die veronderstelde gehoor doen mee aan hulle eie aanklag, oordeel en straf. Hulle word van hulle eie sonde bewus.

Sonde en menswaardigheid

Dit is belangrik om te snap dat die sonde hier Israel se uitbuiting van hulle medemens is. Lees weer vers 7. Onreg in plaas van geregtigheid, uitbuiting in plaas van versorging.

Die NG Kerk is tans in ‘n seisoen van menswaardigheid. Dit is in ‘n land waar mense eerder vertrap as opgebou word, ook vir ons as gelowiges belangrik om na te dink hoe ons ons medemens hanteer.

Verderaan in Jesaja 5 wys die profeet op spesifieke maniere waarop mense se menswaardigheid gestroop word:

  • In Jesaja 5:8 word mense uitgebeeld as gulsig, hoe hulle “huis na huis inpalm, die een plaas na die ander in die hande kry, totdat daar geen plek vir ander oorbly nie en net (julle) alleen grondeienaars in die land is”. Selfsug en eie gewin maak dat mense hulle bure se huise en plase konfiskeer en so hulle vermoë om ’n lewe te maak ernstig affekteer.
  • In Jesaja 5:23 is dit die regstelsel, wat die armes moes beskerm, wat nou die weerloses uitbuit. Israel word aangekla dat hulle “die skuldige vryspreek vir omkoopgeld, maar ‘n onskuldige sy reg ontneem.” In Jesaja se tyd, soos vandag, is dit ook maar ’n vraag of daar enigsins geregtigheid is vir diegene wat nie ryk is nie.
  • Dié situasie waar armes aan die kortste ent trek, lok harde woorde van die profeet uit. Hy kondig God se oordeel aan. Ses keer word in dié teks gesê: “Ellende wag vir julle.” Ellende wag vir julle: julle mooi groot huise “sal murasies word, sonder bewoners”. Ellende wag vir julle: al julle harde werk sal verniet wees wanneer daar beperkte opbrengs is – ’n enkele mandjie druiwe . . . en net een kruik vol graan” (10)

Ons teks nooi ons uit om nuut na te dink oor hoe ons ons medemens hanteer. Geregtigheid in die Bybel is om lewensruimte en lewensmiddele aan ander te gun, en dit vir hulle moontlik te maak om ‘n waardige lewe te kan lei. Hoe dra ons by dat mense so kan lewe?

Die gevaar is korrupsie hand oor hand toeneem, en dat selfs goeie mense naderhand korrup word omdat “almal dit doen.” Die gevaar is dat ons nie genoeg vir ander gee, ons lone nie ‘n waardige lewe moontlik maak, en ons nie ons vaardighede en talente met ander deel sodat hulle ook ‘n lewe van waardigheid kan lei nie.

Mens kan die vrae vermenigvuldig. Bevestig ons ander, behandel ons hulle met waardigheid, bou ons hulle op, steun ons hulle, moedig ons hulle aan?

God gee ons kans om onsself te beoordeel. Ons kry die kans om na te dink oor die gevolge van ons optrede, sodat ons dit kan regstel waar nodig. Die doel is nie om ons te beskaam nie, maar om ons gevoel van verantwoordelikheid vir ander te aktiveer.

Temas van menswaardigheid

Die Seisoen van Menswaardigheid werk met spesifieke temas soos: geslag, seksualiteit, rassisme, armoede, gestremdheid, gesondheid, ekologie, onderwys en opleiding. Ons noem net ‘n paar voorbeelde:

  • In ons land is dit dikwels vroue en kinders wat aan die kortste end trek. Wat kan ons doen om hierdie meer weerlose lede van ons samelewing te beskerm?
  • Rassisme is ‘n tema wat sterk in die publieke oog is. Ons raak bewus van uiterste en uiteenlopende vorme van rassisme wat nog in ons land bestaan. Mense ag mekaar as minderwaardig bloot op grond van hulle ras en velkleur. Mense word uitgesluit van lewensmoontlikhede omdat hul vel die “verkeerde” kleur het. Wat is die gevolge as ons mense wat na die beeld van God geskape is, behandel of hulle minderwaardig is?
  • Onderwys en opleiding faal op baie plekke in ons land. Wat is ons verantwoordelikheid om kinders en jongmense by te staan om ‘n behoorlike opleiding te kan kry?
Motivering

Waarom sou ons mekaar se belange aktief bevorder? Waarom word ons opgeroep om reg aan ander te laat geskied en die hulpgeroep van die hulpelose te hoor en daarop ag te slaan?

Dit is omdat ons die wingerd van God is. God het God se Seun in liefde vir ons gegee sodat ons nuwe lewe, volle lewe, kan hê. Daarmee het God ons geseën, sodat ons vir ander ‘n seën kan wees. Die voorbeeld van Christus, wat Homself ontledig en as slaaf vir ons gegee het (Fil. 2), moet ons lewens rig.

Mense dink dikwels as hulle kan “bewys” dat die arme nie ons hulp waardig is nie, ons daarmee kwytgeskeld word om te help en te ondersteun. Ons optrede word nie deur die verdienste van die hulpelose gemotiveer nie. Dit is ‘n ernstige misverstand met ernstige gevolge, wat ons moet bedink. Dit lei tot vrugte wat suur is.

Ons bevorder die belange van ander, omdat God ons geseën het en dit aan ons opdra. Ons doen dit vir die Here. In ons godsdiens loop die kwaliteit van ons verhouding met die Here deur die dien van die naaste, veral dié naaste wat hulpeloos is en aan lewensmoontlikhede ontbreek.

Komaan wingerd, dra vrugte wat by die harde werk van die Eienaar in en aan ons pas.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending:  Lied 524 “God roep ons om met woord en daad vs 1,2,3”

Seën
Mag God jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en kunsmatige verhoudings sodat jy diep in jou hart meer eerlik en vry sal leef.
Mag God jou seën met kwaadheid oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy sal begin werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag God jou seën met trane vir hulle wat ly as gevolg van pyn, verwerping, hongersnood en oorlog, sodat jy jou hand sal uitsteek om hulle te troos en hulle pyn om te sit in vreugde.
Mag God jou seën met genoeg dwaasheid
om te glo dat jy ’n verskil aan die wêreld kan maak, sodat jy kan doen wat ander dink totaal onmoontlik is.
(Uit Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.