Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Eksodusteks is die bekende gedeelte waar God aan Moses in die brandende bos verskyn. Dit gaan in hierdie tekste oor God se teenwoordigheid en voorsienigheid en hoe ons in sy teenwoordigheid leef en wat dit beteken om Hom na te volg.

Ander tekste

Psalm 105:1-6, 23-26, 45b
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.
23Israel het na Egipte toe gekom,
Jakob kon in die land van Gam
gaan woon.
24Die Here het sy volk
baie vrugbaar gemaak,
talryker as hulle onderdrukkers.
25Hy het die gesindheid
van die Egiptenaars verander,
sodat hulle sy volk gehaat
en vyandig opgetree het
teenoor sy dienaars.
26Die Here het Moses, sy dienaar,
gestuur,
en vir Aäron, die man
wat Hy verkies het.
Prys die Here!

Romeine 12:9-21
Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,” w
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.” x
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Matteus 16:21-28
Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan
(Mark 8:31–33; Luk 9:22)
21Van toe af het Jesus dit vir sy dissipels duidelik begin stel dat Hy Jerusalem toe moet gaan en baie moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en dat Hy doodgemaak moet word, en die derde dag uit die dood opgewek moet word.

22Petrus het Hom toe opsy geneem en Hom begin berispe: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie.”

23Maar Jesus het na Petrus toe gedraai en vir hom gesê: “Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”

Om Jesus te volg
(Mark 8:34–9:1; Luk 9:23–27)
24Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, 25want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry. 26Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe? 27Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld. 28Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.”

Fokusteks

Eksodus 3:1-15
God openbaar Hom aan Moses
3 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.

2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”

4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”

En hy antwoord: “Hier is ek.”

5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”

Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.

16“Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte. 17Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.’

18“Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, ‘n offer te bring.’

19“Ek weet dat die Egiptiese koning julle nie sal laat gaan nie, selfs nie onder dwang nie. 20Dan sal Ek my hand uitsteek en Egipte teister met die wonderdade wat Ek in hom sal doen. Eers daarna sal die farao julle laat gaan. 21Ek sal ook sorg dat die Egiptenaars goed doen aan hierdie volk van My, sodat, as julle uiteindelik wegtrek, julle nie met leë hande sal gaan nie. 22Elke vrou moet van haar buurvrou of in die huis waar sy werk, silwer- en goue goed sowel as klere eis. Laat julle seuns en dogters dit dan as buit uit Egipte uit wegdra.”

4 Maar toe sê Moses: “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?”

2Toe vra die Here vir hom:”Wat het jy in jou hand?”

“‘n Kierie,” antwoord Moses.

3“Gooi die kierie op die grond!” sê die Here vir hom.

Toe hy dit op die grond gooi, word dit ‘n slang, en Moses het daarvoor padgegee.

4Die Here sê toe vir Moses: “Steek jou hand uit en gryp hom aan sy stert.”

Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer ‘n kierie in sy hand.

5Toe sê die Here: “Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het.

6“Steek nou jou hand in die vou van jou klere!”

Hy steek toe sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit melaats, so wit soos sneeu.

7Hierna sê die Here: “Steek nou weer jou hand in jou klere.”

Hy steek toe weer sy hand in en toe hy dit uittrek, was dit gesond.

8Toe sê die Here: “As hulle jou na die eerste wonderwerk nie geglo het nie en hulle nie daaraan gesteur het nie, behoort hulle jou na hierdie een wel te glo.

9“As hulle jou ná hierdie twee wonderwerke nog nie glo nie en nie na jou luister nie, moet jy van die Nyl se water vat en op die grond uitgooi. Die water wat jy uit die Nyl gevat het, sal dan op die grond bloed word.”

10Toe sê Moses vir die Here: “Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”

11Daarna sê die Here vir hom: “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? 12Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”

13Maar Moses antwoord: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.”

14Toe word die Here kwaad vir Moses en sê: “Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien. 15Praat met hom en sê vir hom wat om te sê. Ek sal by jou wees as jy praat en by hom as hy praat en Ek sal julle leer wat om te doen. 16Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee. 17Hou nou die kierie waarmee jy die tekens moet gaan doen, by jou.”

Ekstra stof

Eksodus 3-4:17 – God stuur Moses om die Godsvolk uit Egipte te lei
Die pas van verandering begin vir Moses ná veertig jaar in die woestyn versnel.  Die Here het nie net gesien en verstaan  nie.  Hy het afgekom om sy volk uit die mag van Egipte te bevry. Hy wil hulle laat trek: “na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

In vier episodes word die Godsverskyning (epifanie) aan en roeping van Moses beskryf:

  1. God verskyn aan Moses en roep hom – 3:1-12
  2. God maak sy naam aan Moses bekend – 3:13-22
  3. God gee Moses tekens van gesag – 4:1-9
  4. God gee Moses ‘n spreekbuis Aäron – 4:10-17.

God verskyn aan Moses en roep hom – 3:1-12
Let op dat Moses al veertig jaar in Midian was en dat hy doodgewoon besig is met sy normale dagtaak.  Niksvermoedend kom hy in die omgewing van Horeb, die berg van God.  En dan skielik verander alles.  Die Engel van die Here verskyn aan hom in ‘n vlam wat ‘n doringbos opvlam en God roep hom om die Godsvolk – God praat van die volk as syne – uit Egipte te lei.

Horeb is natuurlik dieselfde berg as Sinai en word as die “berg van God” beskou (vgl. Eks. 3:1 en 24:13) waar God – soos dit hier vir ons vertel word – Moses geroep het en sy Naam aan Hom bekend gemaak het, maar ook die Tora aan die volk gegee het en sy verbond met die Israeliete gesluit het, en ‘n paar eeue later die profeet Elia bemoedig het (1 Kon. 19:8).

Dit is daarom baie betekenisvol dat Moses later die Tabernakel in opdrag van die Here bou, waarna die Here saam met die volk trek die beloofde land binne.  Die Tabernakel raak as’t ware die mobiele teenwoordigheid van God, hoewel Israel ook altyd verstaan het dat die Here nie deur enige plek op aarde bevat en beperk kan word nie.

Dit is interessant dat die Hebreeuse woord seně(h) vir die doringbos – wat aanhou brand, en nie uitbrand nie – ooreenkom met die woord sî·nǎyʹ vir Sinai. Dit kan wees dat dit die rede is dat die berg Horeb ook met die naam Sinai bekend is.

Let op dat dit die Engel van die Here is wat aan Moses in die doringbos verskyn, maar dat dit God self is wat met Abraham praat (Eks. 3:4: “Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos …“).

Moses word beveel om sy sandale (skoene) uit te trek as simbool van Moses se respek vir die heiligheid (gewydheid) van die ontmoeting met God.  Dit kan ook ‘n teken wees dat hy nie met die “stof van die aarde” wat aan sy sandale gekleef het, voor die Here kon verskyn nie, ‘n tipe reinigingshandeling.

Dit is merkwaardig dat God van Homself as die God van Moses se “vader” (enkelvoud) praat – d.w.s. hy verwys waarskynlik na Amram – sowel as die God van Abraham, Isak en Jakob, die “voorvaders“.  God openbaar Homself daarmee nie net as die God van die verlede, die God van die aartsvaders, nie, maar ook as die God van die hede, van Moses se eie familie, van sy vader Amram.

Die beloofde land waarheen God sy volk wil lei, word in gloeiende terme beskryf: “‘n land wat oorloop van melk en heuning“.  Hier word waarskynlik verwys na bokmelk, omdat dit meer volop is as skaapmelk, en na mos, die stroop wat van druiwe en dadels gemaak is.

Dié oorvloed is ‘n feit wat ook uit ander Egiptiese bronne (verhaal van Sinuhe wat Kanaän se vye, druiwe en wyn prys) sowel as die Intogverhale (die verspieders het granate, vye en groot trosse druiwe teruggebring – Num. 13:23) bekend is.

Ons weet egter ook uit die Genesis verhale dat dit ‘n land is wat baie keer gebuk gegaan het onder droogtes.  Dit was immers ook die rede waarom hulle na Egipte getrek het in die tyd van Jakob.  En die Israeliete het juis – toe dit swaar gegaan het met die trekkery deur die woestyn – gekla by Moses dat hy hulle na Kanaän toe neem.  In hulle ervaring wat dit eerder Egipte wat ‘n land was wat oorloop van melk en heuning (Num. 16:13)!  Kanaän was ‘n veraf droom, terwyl hulle geweet het wat hulle in Egipte gehad het.

Dié opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses was in wese ‘n minagting van die Here self en sy doel met die volk, wat Hom met toorn laat optree het.  Net die tussenkoms van Moses en Aäron het ‘n totale tragedie verhoed.

Die punt is dat die kontras van die beloofde land se oorvloed nie soseer met die materiële seëninge van Egipte was nie, maar met die slawerny waarmee hulle in Egipte onderdruk is.  Die Here wou hulle ‘n “goeie en uitgestrekte land” gee waar hulle Hom in vryheid kan aanbid.  Die oorvloed wat God gee, het dus ten diepste te make met wie Hy vir hulle wil wees in die land waarheen Hy hulle wil uitlei.

Wie dus kies om die Here se pad te volg, het wel baie keer die ervaring dat hulle op plekke kom waar dissipelskap opofferings vra, maar weet ook dat dit by verre beter is om in die Here se teenwoordigheid te lewe.  En Hy maak altyd sy beloftes waar, ook dié van melk en heuning, soos Jesus veel later in die NT sou sê: “Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het … Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God (sy geregtigheid), dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (kos, drank en klere)”. (Matt. 6:33).

Dié verskyning by Horeb het só ‘n groot indruk op Moses gemaak dat hy die beskrywing in ‘n seën oor Josef aan die einde van sy lewe gebruik.  Hy bid dat God vir Josef sal seën: “met die toegeneentheid van Hom wat woon in die doringbos.” (Deut. 33:16).

God maak sy naam aan Moses bekend – 3:13-22
Moses het geweet dat indien hy enigsins hierdie opdrag sou aanvaar hy baie seker moet maak van die gesag op grond waarvan hy dié opdrag moet uitvoer.  Daarom fokus hy eers op homself deur te vra: “Wie is ek, dat ek na farao toe kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?

Die Here fokus egter op wie Hyself is.  God sal saamgaan, en dit behoort vir Moses heeltemal genoeg te wees.  “Ek sal by jou wees.

Moses is egter nie oortuig nie, en wil weet met watter gesag kan hy op grond van hierdie selfopenbaring van God die gode van Egipte teengaan.  Kan dié God laat gebeur wat Hy van Moses vra?

En dit is presies wat God vir hom gee, ‘n aanduiding van die gesag waarmee God roep: “Ek is wat Ek is.”  Hy gebruik ‘n woordspel van die Hebreeuse werkwoord hā·yā(h) om sy wese aan Moses te openbaar: “Ek Is Wie Ek Is.”  Dit is ‘n ryk beskrywing van wie God is, want die werkwoord kan in verskillende kontekste onder andere die volgende beteken: wees, word, gebeur, bestaan.

God se naam is dus nie soos ander gode s’n wat aan iets in die skepping verbind is, soos Ra, die songod, nie.  God se naam openbaar God as ‘n wese wat inderdaad bestaan.  Hy is dinamies en aktief.  Hy bestaan en Hy beloon, soos Hebr. 11:6 dit in ‘n ander konteks verwoord.  Hy is die bron van en vir alles wat is.

Hieruit is die naam Jahwe dan ook opgebou.  Dit word soms die Tetragrammaton (vier-letter-woord) genoem, omdat dit aanvanklik net met konsonante geskryf is: jhwh.  Die vokale is later bygevoeg.  Die mees aanvaarde uitspraak van die woord, soos deur baie navorsing bevestig, is Jahwe.  Die naam Jahwe beteken dan iets soos: “Hy wat is“, of “Hy wat bestaan“, of “Hy wat bestaan bewerk“.  Die verwerking van die Tetragrammaton as Jehova is nie korrek nie, want dit verwoord die vokale van ‘n ander woord adonai wat uit respek vir die Naam van God aan die Tetragrammaton gekoppel is deur die Joodse kopieerders.

God gee Moses die opdrag om deur die leiers (oudstes) van Israel te werk en hulle op dieselfde wyse aan die verbond van God met hulle ouers en voorouers moet herinner. Hoe mooi staan dit nie daar nie: “Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte.”  Daarom het die Here besluit om hulle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land wat oorloop van melk en heuning.

Die Here belowe ook aan Moses dat die leiers na hom sal luister.  Dit sou ‘n noodsaaklike voorbereiding wees vir die uiteindelik gesprek met die Egiptiese koning, aanvanklik net deur vir ‘n drie dagreise ver trek die woestyn in te vra, waar hulle vir die Here ‘n offer kan bring.

Nie dat die Here dink dat dié plan gaan werk nie.  Dit is egter altyd goed om eers te vra, voor ‘n mens harder optree.  Die Here weet egter dat dit meer sal kos om die farao te oortuig en dat dit verskeie “wonders” sal insluit waardeur God sy krag sou ten toon stel.

Hy sê ook nou al dat hulle nie met leë hande sou trek nie, die vervulling waarvan ons inderdaad in Genesis 12 lees.  Die vroue word opdrag gegee om van haar buurvrou of van die vrou van die huis waar sy as huiswerker diens doen, silwer- en goue goed sowel as klere te eis.  Die seuns en dogters moet help dat hulle dit as buit – vergoeding – uit Egipte kan wegdra.

God gee Moses tekens van gesag – 4:1-9
Volgende fokus God self op die tekens van gesag waarmee Moses kan optree, in die eerste plek teenoor sy eie mense.  Die gesag van God self was vir Moses ‘n bemoediging en versterking.  Die drie tekens van gesag wat God vir Moses gee, was gemik op die aanvaarding deur die volk van sy boodskap aan die farao: ‘n staf wat in ‘n slang kan verander, ‘n hand wat na willekeur melaats kon raak, en die vermoë om water in bloed te verander.

Die “staf” wat ‘n slang word, is iets wat nie onbekend was in Egipte nie, en waarvan blykbaar vandag nog stories vertel word.  Dit behels dat ‘n slang (of krokodil, uiteraard ‘n kleintjie!) deur hipnose in ‘n rigiede staat verander kan word, en soos ‘n “staf” regop gehou kan word.  Uiteraard, wanneer jy die slang neergooi, word die hipnose en die rigiditeit verbreek.

Moses se “staf” is egter werklik ‘n staf of kierie.  In hierdie demonstrasie van die mag van God in die woestyn word die staf ‘n slang (nā·āš).  Interessant genoeg word ‘n ander Hebreeuse woord gebruik vir die dier waarin Aäron se staf in Egipte verander, tǎn·nîn, wat soms vir slang gebruik is, maar ook vir krokodil gebruik kan word.  Die feit dat Aäron se staf die ander towenaars se “slange” opvreet, laat ‘n mens wonder of Aäron se staf nie eerder in ‘n krokodil verander het nie!

Moses gebruik dié staf net as ‘n teken van God se teenwoordigheid en mag – by sy eie mense, by die Rietsee, by die water uit die rots – behalwe die een keer wat hy die rots slaan, wat volgens sommige geleerdes as ‘n poging tot ‘n soort magiese handeling geïnterpreteer kan word.  Die Here het nie daarmee genoeë geneem nie, en straf Moses op tragiese wyse dat hy nie die beloofde land binne mag getrek het nie (Num. 20).

Moses se hand wat melaats word, moet waarskynlik nie as ‘n mediese diagnose gesien word nie, want melaatsheid as sodanig het eers baie later in Egipte en die res van die Midde-Ooste bekend geraak.  Dit is eerder ‘n aanduiding van een of ander velsiekte wat die vel óf wit van kleur óf wit van skilferigheid gemaak het.  Terloops, Levitikus 13 brei uitvoerig oor velsiektes uit, waarin spesifiek na sommige se wit kleur verwys word.

Die verandering van Moses se hand simboliseer natuurlik oordeel vir die farao, al is dit primêr as teken vir die Israeliete gegee.  Dit is nie net ‘n wonderteken om Moses van God se werklikheid te oortuig nie.  Dít is ook wat ons bv. lees in die opstand van Mirjam (en Aäron, maar dit lyk asof sy die voortou geneem het) teen Moses se troue met ‘n Kussitiese vrou.  Die Here maak haar melaats as straf vir haar oortreding.

Moses moet ook die Nylwater op droë grond gooi waar dit in bloed verander het.  Dit dien ook as ‘n voorskou van die oordeel van die eerste plaag.  Die betekenis van die oordeel in dié teken sou ‘n groot getuienis gewees het aan enigeen onder die volk wat die sensitiwiteit gehad het om te kan luister en die boodskap reg te kan interpreteer.

God gee Moses ‘n spreekbuis, Aäron – 4:10-17
Die laaste fokus van die Here is interessant genoeg verbind aan Moses se vrees dat hy nie wel ter tale was nie.  Die Here reël dat Aäron namens Moses sou praat.  Dit is egter nie net gemik daarop dat Moses se vrees besweer word nie, maar juis om Moses se status in die farao se hofhouding daarmee te verhoog, want dit was baie keer die gebruik dat boodskappers namens die leier praat.

Die Here se reaksie op Moses se huiwering om die woordvoerder te wees, het dus ook ‘n positiewe uitkoms in terme van feit dat dit God se boodskap aan die farao kon versterk.  Dit lyk in elk geval of Moses mettertyd sy vrees oorkom en self met die farao in gesprek tree.  Hy is ook ongetwyfeld God se woordvoerder by die volk soos die ontvouende verhaal vir ons gaan aantoon.

Soos baie keer in die OT is die vrese wat God se geroepenes het om hulle roeping te kan uitvoer heeltemal irrelevant vir God.  “Wie het aan die mens ‘n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie? Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.

Dit is steeds so vandag.  Soos Jesus later sou sê van sy dissipels as hulle in onvoorbereide situasies sou kom waar hulle ‘n getuienis sou moes lewer: “Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.” (Mark. 13:12).

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 318 of Lied 159 of VONKK 119

Votum: Psalm 105:1–6

Seëngroet

Lofsang: Lied 184 of Flam 146

Wet: Romeine 12:9-21

Skuldbelydenis: Flam 7 of Lied 231

Genadeverkondiging: (Lied 232:2)

Geloofsbelydenis

HOOR

Toewyding/gebed: Vonkk 146 [ou Halleluja-lied]

Skriflesing: Eksodus 3:1-15 (sien voorstel by familie-oomblik)

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang :Lied 524 of Flam 190

Seën

Respons: F361. Laat Dit So Wees (Amen) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 318 Nader Tot Die Here of
Lied 159 “God is hier teenwoordig” of
VONKK 119 Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer

Votum
Psalm 105:1–6
Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.

Seëngroet

Lofsang
Lied 184 “Lofsing die Here” of
Flam 146 Alles Vir My

Wet: Romeine 12:9-21

Skuldbelydenis
Flam 7 Here, Ek Vergeet So Gou of Lied 231 “Heilig, heilig, heilig, Here”

Genadeverkondiging
Om ons vry te maak van sonde, het u Seun gesterf, o God!  Deur geloof aan hom verbonde, sal ons leef na sy gebod.  Liefde het U na ons gebring.  Jesus, laat u liefde ons dring, laat die liefde, so verhewe, ons besiel deur heel ons lewe.  (Lied 232:2)

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 119 “Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer”
Nav Openbaring 4:8 en 11  Teks: Holy, holy, holy is the Lord – onbekend; Afrikaanse weergawe: VONKK Werkgroep 2009.
Melodie: Onbekende oorsprong.  Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010  Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding, kantoryverwerking en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit  RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping

1. Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Heilig is die Heer God Almagtig.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Heilig is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.

2. Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer God Almagtig.
Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.

3. Waardig, waardig, waardig is die Heer.
Waardig is die Heer God Almagtig.
Waardig, waardig, waardig is die Heer.
Waardig is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Waardig, waardig, waardig is die Heer.

4. Ere, ere, ere aan die Heer.
Ere aan die Heer God Almagtig.
Ere, ere, ere aan die Heer.
Ere aan die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Ere, ere, ere aan die Heer.

F318. “Nader Tot Die Here”
(RUBRIEK: Kersflam – Toetrede)  Teks en musiek: Neil Büchner  © Urial Publishing

1. Nader tot die Here,
nader tot die Here.
Hy sal getrou, ook nader tot jou
nader tot die Here.
2. Naby aan ons Here,
naby aan ons Here.
Waar twee of meer in u Naam verkeer,
is U naby aan ons Here.

3. Ek nader tot U, Here,
ek nader tot U, Here.
Hier, deur u Gees, wil U by my wees,
ek nader tot U, Here.
U is naby aan ons Here.
Ons nader tot die Here.

F146. “Alles Vir My “
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding, Verwondering)  Teks en musiek: Retief Burger en Leza Liversage
© 2005 Urial Publishing  (Ps 23:1, Fil 3:7-11, Joh 14:6-7)

1. Ek staan vandag soos duisende voor my
met ’n vuur hier in my hart voor U.
Deur al die eeue heen is u Naam besing
en saam met engele wil ek ook nou iets bring.

Refrein:
My woorde is min
maar hier moet ek begin, want U is:
Alles vir my, U is die lied hier op my lippe
U’s die Naam wat ek bely, U is
alles vir my, U’s my begin, U is my einde
U’s my weg, U is my lewe
U is … alles vir my, en U is genoeg.

2. Ek weet dat U my elke lofsang hoor
al wil twyfel die geloof in my kom smoor.
Solank as wat ek leef sal ek U prys
tot die dag wat ek ook veilig by U is.

Refrein:

F7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis)  Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel  Afrikaanse vertaling: 2005 Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music  (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ’n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:
3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ’n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig  Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908)  © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit  RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

F190. “Onbeskaamd”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Diens en Getuienis)  Teks en musiek: Stass van Veuren  © 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Wie sal Hy stuur,
wie is gevul met sy Heilige vuur
wie kan Hy vertrou
wie sal sy Naam hoog hou?0
Stuur my, stuur my, stuur my, stuur my.

Refrein:
Onbeskaamd sal ek staan
onbeskaamd vir sy Naam.
Ek sal my nie skaam vir Jesus nie.
Onbeskaamd sal ek gaan
onbeskaamd sal ek sing.
Kom reinig my hart en my mond
dat my woorde lewe spreek.
Kom reinig my gedagtes
dat wat ek doen dit.
My onbeskaamd laat staan voor U
my onbeskaamd laat staan voor U.

2. Hy wil ons vul met sy heilige vuur
hy wil ons vertrou.
Ons sal sy naam hooghou.
Stuur ons, stuur ons, stuur ons, stuur ons.

God praat met ons en ons luister

Toewyding/gebed: Vonkk 146 My Gees, My Siel, My Liggaam [ou Halleluja-lied]

Skriflesing: Eksodus 3:1-15 (sien voorstel by familie-oomblik)

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Lees Skrifgedeelte met behulp van voorlesers.

Voorleser 1: Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ‘n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.  Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ‘n vlam binne-in ‘n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. En Moses sê vir homself:

Voorleser 2: Ek wil tog ‘n bietjie nader gaan om
(Moses) hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?

Voorleser 1: Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos:

Voorleser 3: (God) Moses! Moses!

Voorleser 2: Hier is ek.

Voorleser 3: Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond. Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.

Voorleser 1: Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

Voorleser 3: Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.

Voorleser 2: Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?

Voorleser 3: Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: Wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.

Voorleser 2: Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: “Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,” en hulle vra vir my: “Wat is sy Naam?” wat moet ek dan vir hulle sê?

Voorleser 3: Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: “Ek is” het my na julle toe gestuur.

Jy kan ook hierdie video-snit gebruik.

Of gesels oor name en die betekenis van name.  My naam is Margaretha.  Dit beteken “pêrel”.  Dit sê dat ek kosbaar is vir iemand.  My van is “van Niekerk”. Dit sê my voorouers kom uit Europa.  Jou naam sê wie jy is, waar jy vandaan kom.

Gesels oor die betekenis van name.  Vra vir die kinders wie weet wat hul name beteken of waar dit vandaan kom.

Johan, Jan, John, Johanna, Hanna, Ann… God is genadig
Elizabeth, Elise, Lisa, Liesl, Lizette… God sorg oorvloedig
Carl, Karel, … sterk een
Andre, Andrew… dapper
Nico, Nicolas, Nic = oorwinnaar, wenner
Willem, William, Liam, Will, Willie = vasbeslote oppasser
Christo, Chris, Christien, Kristi, = Christen, volgeling van Jesus
Isak = lag
Zak = of lag van Isak of Sagaria = God het onthou
Inge = eiland
Theron = jagter
Van der merwe = iemand wat by meer woon
Ellis = afstammeling van God / God is redding
Louw = leeu
Van Wyk = woon in dorpie
Koen = priester

Herinner die mense aan Moses se verhaal en Moses se vraag oor God se naam – en God se antwoord. God het nie ‘n naam soos ons nie.  Ons kan sekere goed van God weet, maar God is altyd meer.

Preekriglyn

MOONTLIKHEID 1

Peer Gynt is ʼn drama in vyf bedrywe deur die Noorweegse dramaturg Henrik Ibsen.  Dit vertel die verhaal van ʼn jong man wat sy lewe deurbring met uitstel en die vermyding van alles wat sin gee aan mens se bestaan.

Peer se vader, Jon Gynt, verkwis al sý pa se geld, en word ʼn rondreisende verkoopsman wat sy vrou en seun (Peer) met skuld en in armoede los.  Peer self maak droog en word verban uit die samelewing.  Dit lei tot ʼn doellose swerftog met baie ervarings.  Hy lewe egoïsties en verkwis sy tyd eerder as om homself in die oë te kyk die by die waarheid oor homself uit te kom.

Hy dryf langs die pad handel, onder andere in slawe, word vir ʼn profeet aangesien, besluit om ʼn historikus te word en reis daarom na Egipte.  As seuntjie wou hy ʼn keiser word.  Hier in Egipte besef hy hy is inderdaad ʼn keiser – die keiser van die self en selfsugtigheid.

Hy keer terug na Noorweë, nou ʼn ou man, en wil graag sy sonde bely.  Hy kan niemand vind teenoor wie hy dit kan bely nie – almal meen hy het nie juis iets ernstig verkeerd gedoen nie. (Bron)

Peer Gynt het baie ervarings gehad, maar ʼn lewe sonder fokus, ʼn verkwiste lewe, ʼn lewe sonder betekenis.  Vir hom het dit oor homself gegaan.  Daar was geen singewende doel nie.  Hy het God nie gehad nie, en het homself nie aan ʼn lewensroeping gewy nie.

God roep Moses
In Eksodus 3 se roepingsverhaal ontmoet ons God in gesprek met Moses.  In hierdie gesprek leer ons verstaan dat ʼn mens se identiteit ten nouste saamhang met die aanvaarding van jou roeping voor God.  Dit wat betekenis gee aan jou lewe, is om voor God te verstaan wie jy is en wat God deur jou lewe wil doen.

Merkwaardig genoeg werk God deur mense.  Ons kan so bewus wees van menslike swakheid en tekortkoming dat jy kan wonder of God God self nie in die voet skiet deur mense te gebruik nie.  Dit is egter die patroon reg deur die Bybel.  God skakel Noag in by sy planne om ʼn nuwe begin met die wêreld te maak.  God wil die nasies seën en roep Abraham.  In die derde roepingsverhaal in die Ou Testament, hierdie verhaal van Moses se roeping, blyk opnuut weer hoe helder God se keuse is om deur mense te werk.

Gold se roeping is nie maar net ʼn taak vir ʼn sekere tyd en plek nie.  God se roeping staan sentraal in ons selfverstaan en ons identiteit.  Dit is wie ons is: geroepenes en gestuurdes van God.  Ons roeping definieer wie ons is.

Só was dit met Moses.  Hoewel hy hier reeds ʼn ou man is, blyk duidelik dat sy hele lewensverhaal enersyds voorbereiding vir hierdie roeping was, en andersyds (na Eksodus 3) die uitspeel van hierdie roeping is.

Kenmerke van roepingsverhale
God se roeping is ʼn gewigtig gebeurtenis.  Die tipiese kenmerke van ʼn Bybelse roepingsverhaal is hier in Eksodus 3 aanwesig:

  • Daar is ʼn verskynsel wat die aandag trek, wat die geroepene laat besef God is hier aan die woord. Hier is dit ʼn brandende doringsbos.
  • Die geroepene word dringend by die naam genoem: “Moses, Moses!”  Jy as geroepene weet, soos Moses, dit gaan oor jóú.
  • Die persoon wat geroep word, beleef vrees en respek in die teenwoordigheid van God.  Moses word bang.  Die heerlikheid en wonder van God se aanwesigheid is oorweldigend.
  • ʼn Duidelike uitspel van die roeping en die motivering daarvoor word gegee.  Hier het God die noodkrete van Israel gehoor en stuur Moses om hulle te bevry.
  • Die geroepene is huiwerig, voel oorweldig en maak verskonings.
  • Die Here beloof sy teenwoordigheid en gee versterking.

Ja, ʼn mens se roeping is ʼn gewigtige gebeurtenis, en jy wéét dit gaan oor jou.  Elke gelowige kan ʼn roeping van God verwag.  Die Gereformeerde tradisie sien die Bybels waarheid baie helder dat elke mens geroep is.  God het ʼn taak vir ons elkeen.  Die natuurlike verbande waarin ons leef, soos ons huwelik, gesin, werkplek, ontspanning, vriendekring – al hierdie terreine – is deel van die speelveld van ons roeping.

Elkeen van ons se lewe word gestempel deur die feit dat God ons roep en stuur.  Enersyds om ʼn goeie lewensmaat, ouer, werkgewer of werknemer e.s.m. te wees.  Andersyds gee God se roeping ook ʼn bykomende fokus aan ons lewe.  Daarom wy sommige hul lewe aan die verligting van armes se swaarkry, ander wy hulle aan die verspreiding van die evangelie oor allerlei grense, nog ander lê hulle toe op die geestelike vorming van jongmense.  Ons doen hierdie dinge op verskeie plekke en tye, by die kerk, huis, werkplek, sportveld, oral waar ons ons voete sit.

Roeping bring die fokus en die sin in ons lewe.  Dit stempel ons.  Dit bewaar ons van die betekenislose ronddobber van ʼn Peer Gynt.

Waarom roep God mense?
Waarom roep God mense as medewerkers?  Ons teks gee die aangrypende motivering:
Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.  Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.  Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk.  Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” (Eks 3:7-10)

Ons teks, en in ’n sin die hele Bybel, ken die belangrikste rede waarom God mense roep.  God sien die nood en behoefte van ander mense (verse 7 en 9).  God sien en weet dat mense swaarkry en seerkry.  God neem die nood van mense ter harte.  Dit raak Hom diep om mense in ellende en lyding te sien.

Derhalwe roep God mense ter wille van ander mense.  Jan Woest skryf:
Omdat Israel in die steengroewe van Egipte gely het, het Hy vir Moses kom roep, omdat Israel telkens onder las van die Filistyne gely het, het Hy die Rigters geroep om bevrydingsaksies te loods, omdat die volk swaar gely het vanweë hulle eie sonde en ongehoorsaamheid, het Hy telkens profete geroep om te vermaan en te oortuig van sy bedoeling, omdat die ganse aarde en sy inwoners sug onder die gebrokenheid as gebrokenheid as gevolg van die sonde het God sy eie Seun geroep tot Middelaar en daarna sy Geesbeheerde kerk tot draer van die evangelie van bevryding.

God word telkens deur die nood  en gesukkel van mense gemotiveer om ander mense te roep as sy helpers en medewerkers om hierdie nood aan te spreek en mense vry te maak.

Juis om hierdie rede gee roeping soveel sin aan ʼn mens se lewe.  Dit mag jou met vrees vervul, maar dit is altyd ʼn geleentheid om deel te neem aan die genesing wat God in die wêreld inweef.

Waarom deins geroepenes terug?
Moses deins terug vir sy roeping.  Hy maak allerlei verskonings.  Baie gelowige mense doen dit ook.  Waarom is dit moeilik om positief te reageer wanneer die Here ons roep?  Waarom ignoreer mense hul roeping, stuur daarvan weg, of sukkel om sover te kom om die roeping te begin leef en dit uit te voer?

Eerstens weet mens gehoorsaamheid aan jou roeping gaan nie maklik wees nie.  Soos Moses later sou ondervind, weet mens dinge gaan moeilik en taai wees.  Jy gaan teenstand ervaar.  ʼn Roeping verg opoffering, toewyding, en persoonlike ontbering.  Dietrich Bonhoeffer, wat self vir sy roeping in ʼn Duitse tronk gesterf het (hy het Hitler se bewind teengestaan), het geskryf: “Wanneer Christus mense roep, roep Hy hulle om te kom en aan hulleself te sterf” (The cost of discipleship).

Tweedens is ons geneig om te veel van onsself – en veral ons eie gebreke – bewus te wees.  Soos Moses wonder mens wie jy nou eintlik is, of jy oor die nodige talente beskik, en hoe jy nou eintlik iets sal kan regkry.  Sal die Here my kan gebruik:?  Mens dink daar is baie beter en bekwamer mense as jy beskikbaar.  Daarmee hoop ons om los te kom van ons roeping en los te kom van die Here se aanspraak op ons lewens.

Derdens word ons gewoonlik nie maklik geraak en geroer deur die nood en deur die swaarkry van ander nie.  Soms kan ander se lyding vir jou so normaal voorkom – jy kan so gewoond raak daaraan – dat jy dit nie meer raaksien nie.  Soms kan jy mense selfs jammer kry, sonder om werklik ʼn diepe deernis te hê wat jou tot aksie laat oorgaan.  Ons het ʼn gebrek aan liefde wat tot goeie dade oorgaan.  Ons is traag om ons roeping in die nood van ander te erken.  Dis soos Moses wat rustig kon skape oppas nadat hy uit Egipte gevlug het, wetende hoe swaar dit met die Israeliete gaan.

God bemoedig en versterk
Hoe reageer God op ons onwilligheid?  Kyk na verse 11 en 12:
Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”  God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

Die Here gee aan die mense wat Hy roep die belofte en versekering van sy teenwoordigheid en sy bystand.  God se teenwoordigheid gee die moed en bekwaamheid wat ons nodig het.  God se teenwoordigheid bestaan daaruit dat Hy saam met ons gaan, voor ons uit, met ons, en ook agter ons.

In Matteus 28:18-20 word hierdie teenwoordigheid in die groot opdrag op onvergelyklike wyse uitgespel.  Jesus gee die opdrag om na die nasies te gaan, en raam die opdrag met die mededeling dat alle mag op aarde en in die hemel aan Hom gegee is, en dat Hy by ons is tot aan die einde.

Die Here is in beheer van ons roeping, Hy gebruik ons, maar ons is God se medewerkers.  Ons roeping is altyd ʼn vennootskap waar God direk teenwoordig is.  Soms mag ons moedeloos en terneergedruk raak, maar die Here sê sy teenwoordigheid aan ons toe.  Dit troos ons.

Uiteindelik gee die Here ook Aäron as menslike vennoot vir Moses.  Ook dit kenmerk dikwels die manier waarop God ons op die pad van roepingsvervulling begelei.  Elke geroepene kan daarom weet dat God ons nooit alleen stuur nie.  Dit troos ons ook.

Ons reaksie
Die Here roep elkeen wat glo.  Elkeen van ons is God se geroepenes.
ʼn Belangrike deel van ons roeping is generies.  Dit geld vir alle gelowiges.  Ons moet die Here dien in ons verhoudings en op al die plekke waar ons ons bevind.  Ons doen dit deur liefde te betoon en die vrug van die Gees te dra.  Hierdie roeping staan in die Bybel en ons hoef nooit daaroor te wonder nie.  Ons moet dit net doen.

Daar is ook ʼn unieke kant aan ons roeping.  Die Here dra bepaalde take aan ons op.

Hoe identifiseer mens hierdie roeping?  Sommige mense het ʼn helder brandende doringbos-ervaring waar jy God se leiding duidelik beleef.  Ander voel ʼn oortuiging in hulle groei, beleef dat ʼn bepaalde diens hulle vul met lewe en energie en passie in hulle opwek.  Nog ander word aangegryp deur ʼn situasie en reageer met toewyding daarop.

Belangrik is om jou roeping ʼn saak van gebed te maak.  Wag biddend op die Here.  God sal antwoord.

Onthou, dit gaan oor God.  Dit gaan oor jou.  Dit gaan oor God se bystand aan mense rondom jou.  Dit gaan oor die koms van God se koninkryk.  Dit gaan oor die geleentheid om iewers anders as Peer Gynt te eindig.

MOONTLIKHEID 2

Ter uitbreiding van die eerste preekmoontlikheid, of in plaas daarvan, kan die prediker spesifiek fokus op wie die God is wat vir Moses roep.

God staan sentraal in hierdie gedeelte. Ons teks is ‘n tipiese roepingsverhaal, wat alreeds al die elemente bevat van die vele roepingsverhale waarvan ons later in die Bybel lees, soos dié van konings en profete. Lees gerus Rigters 6:11b-17, en ook die roepingsverhale van Jesaja, Jeremia, of Esegiël.

In al hierdie roepingsverhale is ‘n paar wesenlike elemente, waarin God sentraal staan:

1.  Ontmoeting met God
Moses, in Midian waar hy as vlugteling na sy skoonpa se vee kyk, kom by Horeb, die berg van God. Hier ontmoet Moses God in die teken van ‘n bos wat nie uitbrand nie. Hy ontmoet God in die gang van sy daaglikse roetine, terwyl hy sy gewone werk doen. Tans ‘n skaapwagter van iemand anders se kudde, word hy geroep om ander soort skape op te pas, Iemand anders se skape. God

2.  God stel Godself bekend
God roep na Moses uit die bos, en leer Moses dat hy op gewyde grond staan. God stel Godself ook bekend: “Ek is die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Dieselfde God wat aktief werksaam was in die stamvaders se lewens, gaan nou voort met sy aksie. God het beloftes aan Abraham, Isak en Jakob gemaak, ‘n verbond met hulle gesluit, en dink nou aan sy beloftes, en gaan nou iets daaraan doen. Geen wonder Moses bedek sy gesig voor hierdie God nie.

Dit blyk duidelik dat God bewus is wat met die Israeliete gebeur. God kom om Egipte se mag te breek en die Israeliete te bevry. Hy gaan vir hulle ‘n land gee wat oorloop van oorvloed.

God se aktiewe betrokkenheid word uitgedruk deur ‘n hele aantal werkwoorde met God as onderwerp te verbind: God het gesien, gehoor, hul lyding ter harte geneem. God daal neer, God bevry, God laat trek. God stuur Moses.

Die prentjie van God se identiteit wat hier ontvou, is ‘n bewuste, persoonlike God wat in die lewe van mense handel. God is nie ver, weg, onbetrokke, afwesig, op die randjie van die werklikheid nie. God se hart klop warm en God handel.

3.  God roep Moses
Die werksame God gebruik mense. God roep Moses:
Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk.

Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” (9-10)

Die teks plaas die klem op God se aktiwiteit. Maar God handel hier deur mense verantwoordelik te maak. Moses ontvang ‘n roeping om ‘n medewerker van God te word, iemand wat God se bedoelinge gaan uitvoer.

God is ook baie spesifiek oor wat Moses moet gaan doen. Hy moet voor ‘n woedende Farao gaan staan (en ‘n woedende, siniese Israel) om God se mense na vryheid te lei.

Moses kan sy roeping net reg verstaan as hy God se bedoeling en God se doelwitte reg verstaan.

Tot vandag toe moet ons nie te vaag of te algemeen oor roeping dink nie. Partykeer gee ons ook te veel aandag aan die waarom: waarom is ek geroep? Ons moet minder hieroor dink, en meer vra: “wat” is ek geroep om te doen? God is meer geïnteresseer in die “wat” as die “waarom”.

4.  Moses maak beswaar
Moses het ernstige beswaar teen sy roeping. Hy is nie opgewasse teen die taak nie. In die meeste Bybelse roepingsverhale het die geroepenes beswaar, en kan hulle aan goeie redes dink waarom ander liewer die roeping moet uitvoer.

Dit is tot vandag toe van ons waar. God luister telkens na die besware, en haal dan die geroepene oor om in te stem tot die taak. Mens kan egter nee sê vir God. Dink aan Jona. Tog het God selfs vir Jona op ‘n punt gebring dat hy sy roeping uitvoer, al was dit dikmond en vol besware.

In die besware wat Moses opper, word God se bedoeling en roeping egter al hoe duideliker. God gebruik die besware om die prentjie van wat Moses moet doen, en die grootheid van die krag waarmee God hom ondersteun, duideliker te laat blyk.

5.  God se versekering
Ten spyte van al die besware is God se versekering eenvoudig dat Hy by Moses sal wees. Die punt is nie wie Moses is nie. Die punt is wie God is. Wie by Moses is, God, is wat belangrik is.

Die uittog uit Egipte gaan oor die God wat geen steen onaangeroer sal laat bly om sy volk uit die hand van ‘n bose Farao te red nie. Moses speel ‘n sleutelrol in hierdie drama, maar Moses is nie die enigste rolspeler, of selfs die belangrikste rolspeler nie. Wie presies Moses is, of kan wees, is van minder belang. God is by Moses, en God sy in sy doel slaag. Dit is genoeg.

6.  Die teken
God gee ook aan Moses ‘n teken:
God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

Let op: die teken sal in vervulling gaan nadat Moses en die volk God gehoorsaam het! Dit is ‘n publieke teken wat die egtheid van Moses se optrede sal bewys. Die hele Israel sal weet dit is God wat hulle uit Egipte bevry en uitgelei het.

7.  “Wat is U Naam?”
In sy gesprek met God wil Moses weet hoe hy vir die Israeliete moet sê: “Wie is die God wat vir Moses na Israel gestuur het?”

Miskien dink Moses die Israeliete sal suspisieus wees. Het Moses regtig vir God ontmoet? Waar nogal? Wie is hierdie God wat Moses sê hom gestuur het? Moses kan ook dink dat die Israeliete totaal hooploos en sinies geword het. Kan God ons red? Weet God van ons? Is hierdie God sterker as Egipte se gode? Stel God belang?

Moses soek sekerheid.

Die Here maak Homself bekend deur te sê: “Ek is wat Ek is” (14).

Baie is al geskryf oor wat hierdie Naam beteken. Dit kan vertaal word om te beteken: “Ek is Wie Ek is” of “Ek sal wees wie Ek sal wees”. Dit dui daarop dat God handel, dat God laat gebeur. Moses moet vir die volk sê hulle moet die handelende, reddende God volg en soos die gebeure ontvou sal hulle sien wie God is.

Dit beteken dat mense God nie in ‘n boksie kan sit, of ooit kan dink ons het God presies in ons woorde vasgevang nie. God is altyd vry of meer en groter te doen as wat ons dink of hoop. God maak Homself aan ons bekend, maar God word nie deursigtig vir ons nie. Ons kan ook nie ‘n greep kry op God en God begin manipuleer nie.

Wat duidelik uit God se selfopenbaring met hierdie Naam is, is dat God nie ‘n abstrakte, teoretiese idee is nie. God is lewend en handelend, op reis met God se mense op aarde. Hierdie “Ek is” sal met Moses en die volk wees, wat ook al kom.

Betekenis vir ons
In terme van hierdie ontmoeting tussen God en Moses kan ons ook oor onsself en God in ons tyd nadink. Wat is dit wat ons gevange hou? Is ons dalk Farao in die teks, wat die geleentheid kry om ander vry te stel. Is ons diegene wat bevry moet word, of is ons medewerkers van God wat ander moet help bevry.

Hoe ken ons God uit ons eie ervaring. Klop dit met wat Moses beleef van die “Ek is wat Ek is”? Wat beteken die feit dat God die God van Abraham, Isak en Jakob is vir ons?

Die belangrikste vraag vir gelowiges is “Wie is God?” En: “Waarmee is God besig?”

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 524  “God roep ons om met woord en daad”
Flam 190 Onbeskaamd

Seën
Mag ons met groot entoesiasme voortgaan om vir God te bly vra wie God is.
Mag ons saam met mense deur die eeue heen oor God nadink.
Mag ons by die Bybelskrywers leer hoe hulle God ervaar het… en ook voortgaan om self vir God in ons daaglikse lewe te soek.
Mag ons altyd onthou dat ons stamelend praat oor God; dat nie eens ons mooiste woorde en kreatiefste beelde God se volheid vasvang nie.
Mag ons soeke dus gekenmerk word deur nederigheid, sodat ons met ywer na die lewende God sal soek, maar terselfdertyd ten diepste sal verstaan dat menslike insig en kreatiwiteit beperk is.
Mag ons midde-in hierdie soeke na God telkens verras word deur die God wat belowe om die pad saam met ons te loop. (Juliana Claassens)

Respons
F361. Laat Dit So Wees (Amen
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.