Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie week se Skrifgedeeltes uit die Ou Testament en die Efesiërbrief handel almal oor Wysheid. Tóg is daar ook oorvleuelings. Jesus is in Johannes 6 die beliggaming van Wysheid sowél as God se barmhartigheid terwyl Psalm 111 die barmhartigheid van die Here besing, sowél as die wysheid van die mens wat begin by die dien van die Here.

Richard Foster verwoord iets hiervan wanneer hy in sy Celebration of Discipline skryf: “Vandag is daar ‘n groot behoefte, nie aan meer intelligente mense of begaafde mense nie, maar aan meer diep mense.”

Ander tekste

1 Konings 2:10-12; 3:3-14
10Dawid is oorlede, en hy is begrawe in die Dawidstad. 11Die duur van sy regering oor Israel was veertig jaar. In Hebron was hy sewe jaar lank koning, en in Jerusalem drie en dertig jaar. 12Salomo het sy pa se troon bestyg en ’n stewige houvas op sy koningskap gekry.

Salomo gaan offer op Gibeon
(Vgl 2 Kron 1:2–13)
2In daardie dae het die volk nog altyddeur op die hoogtes geoffer, omdat daar nog nie ’n tempel vir die Naam van die Here opgerig was nie. 3Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring.

4Koning Salomo het na Gibeon toe gegaan om daar te offer, omdat die vernaamste hoogte daar was. Salomo het op daardie altaar duisend brandoffers gebring.

5Daar in Gibeon het die Here die nag in ’n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?”

6Toe sê Salomo: “U het groot trou aan my vader Dawid bewys. Hy was in sy lewe getrou en gehoorsaam en opreg teenoor U. U het hierdie groot trou aan hom bewys en vir hom ’n seun gegee wat vandag op sy troon sit. 7Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare 8en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, ’n groot volk, te veel om te tel. 9Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!”

10Die Here het dit goedgevind dat Salomo dít gevra het. 11Hy het vir hom gesê: “Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou ’n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, 12sal Ek aan jou versoek voldoen. Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór jou gehad het of ná jou sal hê nie. 13Ook wat jy nie gevra het nie, gee Ek aan jou: rykdom en aansien, sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees solank jy leef nie. 14As jy jou in jou optrede hou aan my voorskrifte en gebooie soos jou vader Dawid gedoen het, sal Ek jou ook nog ’n lang lewe gee.”

 Psalm 111
Die werke van die Here is groot
111 Prys die Here!
Met my hele hart
wil ek die Here loof
in die samekoms van die opregtes,
in die gemeente.
2Die werke van die Here is groot,
almal wat daarin vreugde vind,
dink daaroor na.
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien,
Hy hou sy verbond altyd in stand.
6Hy het sy volk die krag van sy dade
laat ervaar,
Hy het aan hulle die land
van ander nasies gegee.
7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,
al sy voorskrifte staan vas,
8hulle is vir altyd geldig,
hulle is gegee in trou en regverdigheid.
9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,
sy verbond vir altyd ingestel.
Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.
10Wysheid begin
met die dien van die Here;
almal wat dit doen, het ware insig.
Die roem van die Here hou altyd
stand.

Efesiërs 5:15-20
15Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.

18Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.

Fokusteks

Johannes 6:51-58
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. 36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie
41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ f Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie.

51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

53Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”

59Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Ekstra stof

Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou
‘n Mens sien in hoofstuk 6-7 hoe ‘n digte verhaal Johannes vir ons vertel – alles het met alles te make.  Die verhaallyn is as volg:

  • Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig – 6:1-15.
  • Jesus loop op die see wat ‘n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels – 6:16-21.
  • Jesus verduidelik dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus – 6:22-40.
  • Die Jode verstaan nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.
  • Jesus leer die mense by die huttefees dat Hy die Christusis, dat Hy moet ly, maar die Gees sal gee vir elkeen wat in Hom glo – 7:10-39.
  • Dit lei tot verdere meningsverskil oor Jesus en ongeloof by die Joodse leiers – 7:40-52.

6:1-15: Die verhaal van die broodvermeerdering word in al die evangelies vertel, wat aandui dat dit ‘n belangrike perspektief op Jesus se bediening gee (Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17), soos Jesus inderdaad die volgende dag uitspel. Dit vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die groot gevolg wat agter Jesus aankom, is veral daar omdat hulle die wondertekens gesien het.  Onthou egter wat in 2:23-25 al gesê is:  Jesus “verlaat” Hom nie op mense wat in Hom glo, omdat hulle die wondertekens gesien het nie.  In vers 66 sien ‘n mens dat hierdie selfde volgelinge Hom verlaat omdat volgelingskap te veel van hulle vra.  Jesus verlaat Hom dus nie op hulle nie, want Hy weet dat hulle ‘n geloof het wat uit hulleself kom, iets wat altyd die potensiaal het om tot niet te gaan.  Dit is net die geloof wat God gee, wat vir altyd hou, soos reeds in die gesprek met Nikodemus aangeroer is.

Let op die verskillende reaksies van die dissipels op Jesus se versoek dat hulle die menigte kos gee.  Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie.  Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk, met daardie seuntjie se 5 garsbroodjies en 2 vissies om die wonder van die broodvermeerdering te laat gebeur.

Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40 – vgl vers 30 vv) en die kwartels (Eks 16:13), wat sy goddelikheid bewys – die skare weet nou dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).  Daarom word dit ook ‘n wonderteken genoem.  Daar bly ook 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

6:16-21: Die dissipels keer terug na Kapernaum en beleef ‘n verdere wonder dat hulle in die onstuimige see vir Jesus na hulle toe sien aangeloop kom op die water.  Hulle vrees word deur Hom besweer en hulle kom saam aan die oorkant aan.  Dié wonder word as een van die sewe gereken, hoewel die woord wonderteken nie hier voorkom nie.

6:22-40: Dit word egter duidelik deur die skare as ‘n wonder ervaar – om die waarheid te sê, dit is waarskynlik presies ter wille van hulle wat die wonderteken gedoen is, sodat Jesus met hulle verder kon gesels oor die betekenis van die wonder van die broodvermeerdering, soos Hy dan inderdaad ook doen.

Jesus wys hulle dan daarop dat hulle die gevaar loop om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Hulle moet eerder fokus op die Wonderdoener, Jesus, en in Hom glo, want Hy kan vir hulle ewige lewe gee, Hy is die Brood wat lewe gee.  Daardeur bekom hulle die ewige lewe met die laaste dag se opstanding.

6:41-59: Let op hoe die Jode (op die sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum – vers 59) nie die verband getrek kry tussen Jesus se aardse en sy hemelse afkoms nie, soos Nikodemus vroeër.  Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.

Die Jode wys hulle weerstand teen God se lering deur konsekwent Jesus se lering mis te verstaan.  Dit terwyl Jesus hier eintlik oop kaarte met hulle speel en van sy naderende dood in terme van sy liggaam en sy bloed te praat, die tekens van die nagmaal (onthou, Johannes vertel nie vir ons van die “laaste avondmaal” nie, net van die voetewas-episode in Joh 13).

Dit is dié wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).

6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie.  ‘n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor.  Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees.  Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.

Die gevolg is dat ‘n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas, die seun van Somon Iskariot.  Geloof is inderdaad ‘n geskenk wat God gee!

Die vraag is seker vir vandag: hoe weet ek dat ek ‘n geloof het wat God gegee het?  ‘n Baie belangrike vraag!

Die antwoord lê in die paradoks van vers 35 en 65: “Wie na My toe kom … niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

Geloof lê aan die een kant in die keuse wat ek vir Jesus maak … EN aan die ander kant getuig my keuse van die geloof wat God vir my gegee het.  Ek glo, omdat God geloof vir my gegee het.

Albei kante van die paradoks is nodig, maar God se kant van die paradoks is die primêre oorsaak van die geloof wat ek in myself ervaar.  Daarom kan ek God net dank vir geloof, en nie daarop roem nie, asof ek beter is as hierdie Jode of dissipels nie.

Geloof is om vas te gryp aan God, al kan jy niks daarmee verdien en niks daarmee regkry nie … maar vertrou dat God dit kan gebruik, God dit waar kan maak.  Soos ‘n Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord
Seëngroet

Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Wet: Matteus 22:34-40

Skuldbelydenis: Lied 532 “O Vader neem ons hande vs 1,2,3”

Vryspraak: (uit Psalm 111)

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)

Geloofsbelydenis            

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Epiklese: Uit Psalm 119

Skriflesing: Johannes 6:51-58

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seënbede: uit Psalm 20 

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord
Hy wat berge vorm en die wind skep,
Hy wat sy gedagtes
aan die mens bekend maak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan,
sy Naam is Here, almagtige God!
(Amos 4)

Seëngroet
Genade en vrede vir u van God die Vader
aan Sy liefde is daar geen einde nie
genade en vrede vir U van die Seun
Hy het ons skuld gedra
genade en vrede vir  u van die Gees
Hy maak ons nuut!

Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Wet: Matteus 22:34-40
Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Lied 532 “O Vader neem ons hande vs 1,2,3”

Vryspraak: uit Psalm 111
2Die werke van die Here is groot…
3Sy dade is vol majesteit en luister,
sy trou staan vir altyd vas.
4Hy sorg dat sy magtige dade
nie vergeet word nie.
Genadig en barmhartig is die Here.
5Hy voed dié wat Hom dien…

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)
“Ek jubel in die Here,
ek is sterk in die Here,
ek is bly oor die uitkoms
wat U gegee het.
Daar is geen heilige
soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos
ons God nie.

Die Here is ’n God
van diepe kennis,
dade word deur Hom getoets.
 
Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder,
ook gee Hy aansien.
Hy laat die geringes
uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op
van die ashoop af
om hulle by vername mense
te laat sit;
Hy skenk hulle ’n ereplek.

Aan die Here behoort die pilare
van die aarde;
Hy het die aarde daarop
gegrondves.

Die Here spreek reg tot by
die eindes van die aarde…
 

Geloofsbelydenis            
Voorganger: Ons glo in die lewende Vader wat sy Enigste Seun gestuur het as die lewende Brood uit die hemel.
Gemeente: Ons glo dat God Jesus gestuur het sodat die wêreld kan lewe.

Voorganger: Ons glo in Jesus Christus wie se liggaam die ware voedsel en wie se bloed die ware drank is.
Gemeente: Ons glo dat wie Jesus se liggaam eet en sy bloed drink op die laaste dag uit die dood sal opstaan.

Voorganger: Ons glo in die Heilige Gees.
Gemeente: Ons glo dat dit die Heilige Gees is wat iemand lewend maak; die mens kan dit nie doen nie.

Voorganger: Ons glo dat die kerk Jesus se liggaam is wat sy lewe op aarde voortsit deur die werking van die Gees wat lewend maak.
Gemeente: Daarom glo ons dat ons ook onsself aan die wêreld moet gee as brood waarmee die Gees lewe kan gee (uit Joh 6).

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Liedere

F127. “Vader,  U Is Goed”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering / Geloofsbelydenis / Drie-Eenheid)
Oorspronklike titel: Vader, U bent goed
Teks en Musiek: Elisa Krijgsman
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© Unisong Music Publishers B.V. t/a Reli Music

Elke oomblik van my lewe, in voor- of teëspoed
aanbid ek U, Heer Jesus,  en dank U vir u bloed
Ek vind krag in U, my Vader, as ek naby aan U bly
My hart en my gedagtes word warm as ek bely:

Refrein:
Vader, U is goed, U is heilig, U is liefde
Jesus, U is groot, U is sterker as die dood
Trooster, hierdie dag gee ek myself aan U
en ek sing met heel my hart: ‘k behoort aan U

Elke oomblik van my lewe, in die dag of in die nag,
wil ek u Woorde lees en dit dra diep in my hart
In die storms van my lewe, in die reën en in die kou’
vind ek skuilplek in u vrede, vind ek rusplek in u trou

F174. “Here, Dis Al Weer Ek
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Teks en Musiek: Willem Gouws
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Here, dis al weer ek
Ek het probeer
maar al hierdie sonde
gebeur weer ‘n keer.
Heer, vergewe my.
Ek wil by U bly.

Refrein:
U tel my op wanneer ek val
En U is daar wanneer ek struikel
En elke keer as ek weer probeer,
vergewe U my nog ‘n keer.

2. Here, dis al weer ek.
Ek’s nou skoon gewas.
Deur die bloed van Jesus
hou U my vas.
U vergewe my.
Ek wil in U bly.

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Uit Psalm 119
105U woord is die lamp
wat my die weg wys,
die lig op my pad.
106Ek het ’n eed afgelê,
en daarby sal ek bly,
om my aan u bepalings te hou;
hulle is regverdig.
van u bevele wyk ek nie af nie.
111U verordeninge maak ek altyd my eie,
want hulle is vir my ’n vreugde.
112Ek lê my daarop toe om u voorskrifte
altyd uit te voer,
tot die einde toe.
Amen

Skriflesing: Johannes 6:51-58

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

William Barclay gebruik ‘n mooi metafoor om die moeilike teks myns insiens vir kinders hoegenaamd verstaanbaar te maak. Hier is ‘n uittreksel van sy kommentaar oor Johannes 6.

Jesus said we must drink his blood. In Jewish thought the blood stands for the life. It is easy to understand why. As the blood flows from a wound, life ebbs away; and to the Jew, the blood belonged to God. That is why to this day a true Jew will never eat any meat which has not been completely drained of blood. “Only you shall not eat flesh with its life, that is, its blood” (Gen.9:4). “Only you shall not eat its blood” (Deut.15:23). Now see what Jesus is saying–“You must drink my blood–you must take my life into the very centre of your being–and that life of mine is the life which belongs to God.” When Jesus said we must drink his blood he meant that we must take his life into the very core of our hearts.

What does that mean? Think of it this way. Here in a bookcase is a book which a man has never read. It may be the glory and the wonder of the tragedies of Shakespeare; but so long as it remains unread upon his bookshelves it is external to him. One day he takes it down and reads it. He is thrilled and fascinated and moved. The story sticks to him; the great lines remain in his memory; now when he wants to, he can take that wonder out from inside himself and remember it and think about it and feed his mind and his heart upon it. Once the book was outside him. Now it is inside him and he can feed upon it. It is that way with any great experience in life. It remains external until we take it within ourselves.

It is so with Jesus. So long as he remains a figure in a book he is external to us; but when he enters into our hearts we can feed upon the life and the strength and the dynamic vitality that he gives to us. Jesus said that we must drink his blood. He is saying: “You must stop thinking of me as a subject for theological debate; you must take me into you, and you must come into me; and then you will have real life.” That is what Jesus meant when he spoke about us abiding in him and himself abiding in us.

When he told us to eat his flesh and drink his blood, he was telling us to feed our hearts and souls and minds on his humanity, and to revitalize our lives with his life until we are rifled with the life of God.

Preekriglyn

Die merkwaardige woorde van Jesus in ons teks is die hoogtepunt van hierdie hoofstuk.

Die skare word afgestoot deur Jesus se leer. Hoewel die brood wat Hy vroeër vermeerder het, goed afgegaan het, is hierdie woorde egter vir hulle onverteerbaar. Volgende week sal ons sien hoe selfs die dissipels hierdie woorde moeilik sluk: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” (60).

Natuurlik is die skare se afgryse maklik te verstane. Die gedagte om ‘n mens se vleis te eet, is afstootlik.  Asof dit nie erg genoeg is nie, praat Jesus van die drink van bloed. Dit is verbode sedert die verbond wat God met Noag gemaak het (Gen 9:1-6). Geen wonder die Jode stry onder mekaar nie (52). Jesus praat soos ‘n onbeskaafde mens.

As moderne mense verstaan ons hierdie teks natuurlik simbolies. Jesus moedig egter nie ‘n simboliese verstaan van sy woorde aan nie. Selfs die woord wat Hy vir “eet” gebruik, herinner aan die manier waarop diere vreet, meer as aan die manier waarop mense eet.

Baie Skrifverklaardes interpreteer Jesus se woorde as ‘n heenwysing na die nagmaal. “Dit is my liggaam ….  Dit is my bloed …”

Ander betwis weer hierdie interpretasie. Argumente na hierdie of daardie kant gaan ons nie help nie.

Nabyheid van die Here

Die troos van hierdie teks is die nabyheid van Jesus wat sy woorde veronderstel.

Jesus het een van ons geword, God by ons. God het verskyn in die gestalte van ‘n mens. Ons kan selfs – deur die genade van God – die werklikheid van God in ons hande neem en dit eet. Met ons verstand kan ons dit nie deurgrond nie – ons hoef ook nie. God het tot by ons gekom, en ons kan deel kry aan die werklikheid van God.

Hierdie nabyheid is deel van die wonderlike beweging van die teks van Johannes 6. Die gesprek begin met ‘n skare, gevoed deur gewone brood, wat na Jesus kom soek vir meer van dieselfde. Dit eindig met die skare wat aanstoot neem en weggaan. Hulle word verdryf deur Jesus se getuienis oor die waarheid. Die Lewende Waarheid is te veel om te verteer.

Vir gelowiges is die beweging die teenoorgestelde. Die gesprek begin oor dinge daarbuite, en word al hoe meer intiem. Van brood tot Jesus as die brood van die lewe, Jesus as die Een wat sy lewe gee en sy bloed laat vloei sodat ons die lewe kan hê.

Vir die wêreld is dit ‘n verskriklike vreemde en selfs aanstootlike gedagte. Die taal van die nagmaal, vir die wêreld die vreemdste taal denkbaar, is vir die dissipels van Jesus die naaste aan die hart van die evangelie.

Ons moet hierdie vreemde taal bly vier. Dit is die bron van ons geloof en ons redding.

Lig in die duisternis

In die proloog (uit die eerste hoofstuk) van Johannes word vertel dat Jesus na die volk van God gekom het, maar dat sy eie mense Hom nie aanvaar het nie. Die ware lig het in die duisternis kom skyn, en tog het die wêreld Hom nie erken nie.

In ons teks vlug die mense van die lig, na die duisternis.

Wat die skare van die lig wegdryf, is nie ‘n onmenslike lys vereistes, of onuitvoerbare opdragte nie. Jesus se beloftes dryf hulle weg.

Die skare kan nie glo dat God so naby kon kom dat God beliggaam word in die persoon Jesus nie. Terwyl die voedsel wat tot die ewige lewe lei reg voor hulle aangebied word, kan hulle nie daarvan eet nie. Hulle kan nie sluk wat die ewige lewe waarborg nie.

Iemand skryf:

The problem is not that Jesus is unclear and confusing. It is that people do not have an appetite for what Jesus offers; they do not have the eyes to see and the ears to hear.

Die insig in die ware brood is iets wat God moet gee.

Die bedoeling sou egter later met Jesus se kruisiging en opstanding vir die dissipels duidelik word. Aanvanklik het hulle Hom versaak en weggehardloop, maar later het hulle vir die wêreld gaan vertel Hy is die Seun van die Lewende God.

Radikale selfoorgawe

Die oorgawe wat hier op die spel is, is radikaal. Jesus ontledig Homself. Hy gee sy liggaam oor om geëet te word soos brood. Konkreet. Want, “Hy het sy mense liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad” (Joh. 13:1). Ons kry die lewe op geen ander manier nie. Dit kom deur die vlees van Christus. Dit is so konkreet soos brood wat tussen die tande fyngekou word.

Dirkie Smit verduidelik dit helder:

Jesus soek nie Homself of sy eie lewe op nie, Hy offer Homself op. Hy is nie maar net nog ‘n mens nie; Hy is die ‘menslikste onder mense’. Hy word vleeslik, soos ons. Hy word broos en verwondbaar. Hy neem ons wonde op Hom, die merke en die littekens wat die lewe op ons gelaat het. Sy wonde aan die kruis is ons wonde. Hy dra dit tot in die hart van die Vader. Nou weet die Vader van ons wonde.

Hy het deel geword van ons en ons word deel van Hom, soos in die eet van “brood”.

Om van jouself te gee

Vandag in Suid-Afrika kan jy natuurlik nie die woord “brood” sê sonder om te dink aan miljoene wat sonder brood is nie. Jy kan ook nie die woord “vlees” sê sonder om te dink aan die wonde van mense wat ontvoer en aangerand, verkrag en vermink word nie.

As Jesus sê ons moet sy liggaam eet en sy bloed drink, is dit nie mak woorde nie. Sy eie liggaam is gemartel en verbrysel. Die Heilige Gees verbind ons nie aan ‘n Jesus wat so gemaklik as moontlik deur die lewe gaan nie; Hy verbind ons aan die Jesus van die kruis met bloed en wonde. As jy hierdie Jesus ontvang, of aan Hom deel kry, kyk jy met ander oë na mense. Dan sien jy hulle wonde.

Johannes lê baie klem hierop dwarsdeur die evangelie wat hy vertel. Jesus het Homself oorgegee . . . en Hy spoor ons aan om ons “aan mekaar” oor te gee.

Ons mag dus nie toelaat dat die bedrieglik vriendelike boodskappe van die “verbruikersmark” ons aandag aflei van die begeertes van mense wat honger is en smag na regte brood nie. Ons mag ook nie wegskram van die lewensbelangrike vrae van geregtigheid in ons samelewing nie. Die groot gaping en die gapende wond tussen ryk en arm in ons land is onaanvaarbaar. Liefdadigheid is nie genoeg nie.

Deelname

Die versoeking sal daar wees om by Johannes 6 se Jode in te val en te vra “Hoe kan Hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”, om liewer ‘n tree weg te staan van ‘n God wat Hom ontferm oor die swakkes en noodlydendes, en jou maar voluit toe te spits op die bevestiging en bevordering van jou eie lewe.

Maar dan mis jy die brood van die “lewe”. Dan eet jy maar net die “manna” in die woestyn . . . en jy “sterwe”.

Jesus nooi ons uit om deel te kry aan Hom: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.”

As jy Hom soek, en honger bly omdat jy sukkel om te vind, onthou: Hy is die Brood wat lewe gee.

As jy iemand sien wat honger is en wat kos soek vir die kinders, onthou: Hy is die Brood wat lewe gee.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seënbede: uit Psalm 20
2Mag die Here u gebed verhoor
op die dag van nood,
mag die Naam van die God van Jakob
u beskerm.
3Mag Hy u te hulp kom
uit die heiligdom,
u bystaan uit Sion.
4Mag Hy al u graanoffers onthou
en u brandoffers aanneemlik vind.
5Mag Hy u gee wat u hart begeer
en al u voornemens laat geluk.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.