Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste: Jeremia 18:1 -11; Psalm 139:1-6, 13-18; Lukas 14:25-33

Ander tekste

Jeremia 18:1 -11
Soos klei in die pottebakker se hand
18 Die woord van die Here het tot Jeremia gekom: 2Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat.

3Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak. 4Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.

5Toe kom die woord van die Here tot my: 6Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. 7Een oomblik kondig Ek aan dat Ek ’n nasie, ’n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. 8Maar wanneer dié nasie hom bekeer van sy boosheid waaroor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring, 9en die volgende oomblik kondig Ek aan dat Ek die nasie en die koninkryk sal bou en sal vestig. 10Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan hom wou doen.

11Maar sê nou vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem: So sê die Here: Ek berei vir julle ’n ramp voor, Ek is besig om ’n besluit oor julle te neem. Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe bekeer. Maak julle lewe en julle dade reg.

Psalm 139:1-6, 13-18
U omsluit my van alle kante
139 Vir die koorleier. Van Dawid. ’n
Psalm.
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip.
7Waarheen sou ek gaan
om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug
om aan u teenwoordigheid
te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra
om my weg te steek,
of die lig rondom my
om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis
nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.
13U het my gevorm,
my aanmekaargeweef
in die skoot van my moeder.
14Ek wil U loof,
want U het my
op ’n wonderbaarlike wyse geskep.
Wat U gedoen het,
vervul my met verwondering.
Dit weet ek seker:
15geen been van my was vir U verborge
toe ek gevorm is
waar niemand dit kon sien nie,
toe ek aanmekaargeweef is
diep in die moederskoot.
16U het my al gesien
toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in u boek
opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.
17Hoe wonderlik is u gedagtes vir my,
o God,
hoe magtig hulle almal!
18As ek hulle sou wou opnoem—
hulle is meer as wat daar sand is,
en as ek daarmee klaar is,
sou ek nog steeds met U te doen hê.

Lukas 14:25-33
Die eise van dissipelskap
(Matt 10:37–38; vgl Mark 10:29–30)
25’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: 26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

28“Wie van julle wat ’n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? 29Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. 30Hulle sal sê: ‘Hier is ’n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’

31“Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? 32Anders stuur hy ’n afvaarding om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.

33“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Fokusteks

Filemon 1-21
Van Paulus, ‘n gevangene ter wille van Christus Jesus, en van ons broer Timoteus.
Aan Filemon, ons vriend en medewerker, 2en aan ons suster Affia en aan Argippus, ons medestryder, en aan die gemeente wat gereeld in jou huis bymekaarkom.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Filemon se liefde en geloof
4Elke keer as ek bid, dink ek aan jou en dank ek my God 5omdat ek hoor van die liefde en trou wat jy aan die Here Jesus en al die gelowiges bewys. 6My bede is dat die gemeenskap wat jy deur die geloof met ons het, jou ‘n dieper insig sal gee in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen. 7Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging gebring, omdat jy, broer, die harte van die gelowiges verkwik het.

Paulus pleit vir Onesimus
8Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, 9doen ek liewer ‘n beroep op jou op grond van die liefde. Dit doen ek, Paulus wat ‘n ou man is en nou ook ‘n gevangene ter wille van Christus Jesus. 10Ek doen ‘n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. 11Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my.

12Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom.
13Wat my betref, ek sou hom graag by my wou hou, sodat hy my in jou plek kan dien terwyl ek ter wille van die evangelie ‘n gevangene is. 14Maar ek wou niks sonder jou instemming doen nie, sodat jou weldaad nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse. 15Miskien was hy ‘n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, 16nou nie langer net as ‘n slaaf nie, maar meer as ‘n slaaf: as ‘n geliefde broer. Dit is hy besonderlik vir my; hoeveel te meer sal hy dit dan nie vir jou wees nie, as mens en as broer in die Here.

17Dus, as jy my as deelgenoot in die geloof beskou, ontvang hom net soos jy my sou ontvang. 18As hy jou enige skade aangedoen het of iets skuld, sit dit op my rekening. 19Hier skryf ek, Paulus, met my eie hand: “Ek sal betaal.”

Ek hoef jou natuurlik nie daaraan te herinner dat wat jy is, jy aan my te danke het nie.

20Ja, broer, in die Naam van die Here, bewys my hierdie guns. Maak my hart bly, soos ‘n broer in Christus. 21Ek skryf aan jou in die vertroue dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet ook dat jy selfs meer as dit sal doen.

22Hou sommer ook vir my huisvesting gereed, want ek hoop dat God, in antwoord op julle gebede, my aan julle sal teruggee.

Groete en heilwense
23Epafras, wat saam met my ter wille van Christus Jesus ‘n gevangene is, stuur vir jou groete; 24ook my medewerkers Markus, Aristargos, Demas en Lukas stuur groete.

25Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees!

Ekstra stof

Versoening tussen werkgewers en werknemers
Paulus skryf hierdie persoonlike brief (weereens saam met Timoteus) aan Filemon, een van die geestelike leiers van die gemeente in Kolosse (Filemon 2; Kol 4:9).  Sy slaaf, Onesimus, het hom op een of ander manier benadeel en toe gevlug. Onesimus se pad het in Rome met Paulus in die gevangenis gekruis.  Hoe dit presies gebeur het, weet ons nie, maar die resultaat van dié ontmoeting was dat Onesimus tot bekering gekom en in Jesus Christus begin glo het.  Hoewel Onesimus van veel nut vir Paulus self kon wees, het Paulus egter besluit om hom eerder terug te stuur sodat hy met Filemon versoen kan word.  Vandaar dié brief in die vroeë sestiger jare nC waarin hy die situasie tussen die twee gelowiges wou uitsorteer tot almal se bevrediging.  Dit gee ons ‘n baie interessante perspektief op hoe verhoudinge tussen gelowige werkgewers en werknemers behoort te werk.

Interessant genoeg is die vier gevangenis briewe (Filippense, Filemon, Kolossense, Efesiërs) waarskynlik deur Onesimus self (Kol 4:9) en Tigikus (Kol 4:7,9; Ef 6:21) afgelewer in die vroeë sestiger jare van die eerste eeu, moontlik op dieselfde reis.

Let op hoe Paulus dié brief struktureer.  Na die aanhef en bekendstelling wy Paulus eers uit oor die goeie getuienis wat hy hoor van Filemon se liefde en geloof, wat die motivering word vir die tweede deel van die brief, waarin Paulus vir Filemon op verskillende wyses motiveer om Onesimus met oop arms terug te verwelkom.

Inleiding: 1-3
Let op hoe Paulus die huiskerk van Kolosse insluit in sy boodskap aan Filemon, sowel as Affia, moontlik sy vrou, en Argippus, moontlik sy seun.

Dank vir die groot impak van Filemon se geloofslewe: 4-7
Let op hoe Filemon se liefde en trou uitgespel word in terme van beide die verhouding met die Here Jesus Christus self, sowel as in terme van die gemeenskap van gelowiges.  Dit is dan ook die motivering vir Paulus se oproep in die volgende deel van die brief, dat hy bid dat Filemon ‘n nog dieper insig sal kry in al die goeie dinge wat ons vir Christus kan doen.  Soos sy geloofslewe ander se lewe verkwik het, wil Paulus graag hê dat ook Onesimus daarby ingesluit sal word.

Paulus tree in vir Onesimus: 8-22
Let op hoe Paulus doelbewus die gesag waarmee hy Filemon sou kon aanspreek om Onesimus terug te neem, onderspeel – sy ouderdom, sy apostelskap, sy status as gevangene twv Christus – en liewer ‘n aanspraak maak op die liefde van Christus waarvoor Filemon bekend geraak het.

Maar, dan neem Paulus wel ook moontlike frustrasie in ag wat Filemon steeds kon ervaar weens die gebrek of skade wat hy vroeër aan die hand van Onesimus gely het, en bied aan om persoonlik daarvoor te vergoed, sodat Filemon vrywilliglik die band met Onesimus kan herstel.  Hy bekragtig die versoek deur dit in die naam van die Here te doen, waarmee hy natuurlik te kenne gee dat dit die eintlike motivering tot gehoorsaamheid is.

Groete: 23-25
Paulus sluit die brief af met groete en ‘n paar mededelings oor die mense wat saam met hom is (hulle word ook in Kol 4:10-14 genoem):

  • Epafras is saam met Paulus ‘n gevangene, en word verbind met die stigting van die gemeente van Kolosse (Kol 1:7).
  • Markus  is waarskynlik die skrywer van die evangelie van Markus en neef van Barnabas (soos ons in Kol 4:10 lees).
  • Aristargos is een van die bekeerlinge in Tessalonika wat ‘n medewerker van Paulus geword het (Hand 20:4; 27:2).
  • Demas het kort hierna die teenswoordige wêreld lief gekry het en na Tessalonika vertrek (2 Tim 4:9-10).
  • Lukas is die skrywer van die evangelie van Lukas en die Handelinge van die Apostels.

Dié brief het waarskynlik die gewenste uitwerking gehad, en volgens die vroeë kerkvaders word Onesimus later die biskop van Efese.   Voorwaar ‘n wonderlike getuienis van versoening en die wonder van ‘n nuwe begin.

‘n Mens sien hier ook dat die hele instelling van slawerny nie regtig versoenbaar met gemeenskap binne die kerk sou kon wees nie.  Al het dit dus lank geneem hierna, voor slawerny inderdaad wêreldwyd afgeskaf is, het hierdie verhaal kennelik ook daarin ‘n rol gespeel.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 139

Seëngroet: Romeine 1

Sang:Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: Lukas 14:25-33

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1′

Vryspraak: Rom 14b-17

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1

Epiklese

Skriflesing: Filemon 1-25

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lie 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Seën: Filemon 25

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Psalm 139
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.

Seëngroet: Romeine 1
Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort-
genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Sang Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: Lukas 14:25-33
Die eise van dissipelskap
(Matt 10:37–38; vgl Mark 10:29–30)
25’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: 26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

28“Wie van julle wat ’n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? 29Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. 30Hulle sal sê: ‘Hier is ’n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’

31“Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? 32Anders stuur hy ’n afvaarding om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.

33“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak

DIE VERLOSSING DEUR DIE EEN MENS, JESUS CHRISTUS:  Rom 14b-17
Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1
Ek glo in God die Vader-
God wat self nie gesien
kan word nie,
God wat deur die Seun alles geskep het
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
God het besluit
om met sy volle wese in die Seun te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.

Ek glo in die Seun, Jesus Christus-
Die Seun is die beeld van God,
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

F139. Genade Verniet!
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Mynhardt van Pletzen (Addisionele teks: Elsabé Viviers)
© 2005 Mastermax Publishing

Genade verniet
Oor my uitgegiet.
Ek skuld U al my dae oor en oor
My wysheid my wins
Help my net mooi niks
Ek smag na U en U alleen
My hart, Jesus, sing

Deur die koudste nag
Deur die langste dag
Elke oomblik sal ek onthou
Van u trou, o Heer
In my tyd van seer
Was u liefde om my gevou

U liefde in my lewe
Gaan my verstand te bowe
Geen ander belofte
As dit wat U belowe

F175. Vry
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Vergifnis / Lof / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Vry ons is vry
Deur sy bloed en sy genade is ons vry
Ons is vry. Van die pyn
En smart het Jesus ons bevry

Heer, elke dag is ‘n belofte
Elke oomblik net geleen
Die ganse heelal bring U ere
Deur U Seun is ons vergeef
Verlos van sonde en die dood
Aan die kruis het U gely
En Here, ons sê dankie
Dankie Here ons is vry

Heer, U verlos ons deur genade
U vergewe en vergeet
Die kruis van Golgota bring lewe
En reddingskrag is hier vir my
Deur Jesus Christus is daar lewe
Elke knie sal voor Hom buig
U’t ons vrygemaak van sonde
En die vyand is oorwin.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: Filemon 1-25

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Hierdie kort briefie is ’n pragtige voorbeeld van genade en takt, en toon vir ons duidelik hoe Christus se krag ’n mens se lewe en sy verhouding met ander heeltemal kan omvorm.

In die brief pleit Paulus by Filemon om nie teen sy slaaf Onesimus op te tree nie.
Carolyn Brown beveel aan dat die karakters van die brief uiteengesit word in eenvoudige taal, en dat die brief dan in sy geheel gelees word.

  • Paulus is die skrywer van die brief, maar hy is in die gevangenis.
  • Hy skrywe ‘n brief aan Filemon, ‘n vriend van hom en ‘n lidmaat van die gemeente in Kolosse.
  • Paulus het op een of ander manier vriende gemaak met Onesimus. Maar Onesimus was in die moeilikheid want hy is ‘n slaaf van Filemon wat weggeloop het- hy kon doodgemaak word daarvoor.
  • En dan stuur Paulus die slaaf terug na sy eienaar met die versoek dat hy die weggeloopte slaaf sal vergewe.

Aangeheg is die teks soos in Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Goeiedag!
Van Paulus.
1–2 Ek is op die oomblik in die tronk. Ek is gevang omdat ek vir ander mense van Jesus Christus* vertel. Timoteus is ook hier by my. Hy werk saam met my vir die Here.

Ek skryf hierdie brief aan jou, Filemon. Jy is my goeie vriend omdat jy ook saam met my vir die Here werk. Ek skryf ook aan die volgende mense:

•     Aan Affia, ’n dierbare Christenvrou.

•     Aan Argippus, wat hard vir die Here werk.

•     Aan almal wat in jou huis bymekaarkom om die Here te dien.

3 God ons Vader, en die Here Jesus Christus*, se goedheid en vrede is by julle.

Tyd vir Gebed
4–6 Filemon, ek sê elke keer in my gebede* vir God baie dankie vir jou. Want ek hoor hoe lief jy vir die Here Jesus en vir ander gelowiges* is. Ek bid dat jy elke dag sal onthou watter wonderlike dinge Christus* vir ons almal gedoen het.

7 My vriend, jy maak my hart baie bly. Ek hoor jy is goed vir ander gelowiges*. Almal praat daarvan. Hou so aan!

Filemon se Werker kom Terug
8–10 Filemon, ek wil jou ’n groot guns vra. Ek doen dit want ons al twee is kinders van die Here. Omdat ek spesiaal deur Christus* gekies is om vir ander mense van Hom te vertel, kan ek jou seker beveel om te doen wat ek nou gaan vra. Maar ek sal nooit so iets doen nie. Want Christene tree altyd in liefde teenoor mekaar op. Daarom vra ek jou baie mooi om na my te luister. Onthou, ek sit hier in die tronk omdat ek vir die Here werk. My versoek gaan oor Onesimus, een van jou werkers. Hy het nou die dag hier in die tronk beland. Maar ek het baie goeie nuus vir jou! Onesimus is nou ’n kind van die Here. Nadat ek hom van Christus* vertel het, het hy ook ’n Christen geword.

11–12 Vroeër was Onesimus ’n slegte werker. Maar alles het nou verander, want hy is nou ’n Christen. Van nou af gaan hy sommer baie vir jou beteken. En vir my ook. Ek stuur Onesimus na jou toe terug. Ontvang hom asseblief baie vriendelik.

Jou Werker is nou jou Broer
13–14 Hier in die tronk het Onesimus baie vir my beteken. Ek wens hy kon nog ’n rukkie langer gebly het. Want hier is baie werk vir die Here. Eintlik moet jy my ook hier kom help. As Onesimus langer gebly het, kon hy my sommer in jou plek gehelp het. Maar ek sal hom nie hier hou sonder dat jy sê ek mag dit doen nie.

15–16 Weet jy, dit is eintlik goed dat Onesimus van jou af weggeloop het. Jy was seker baie kwaad toe jy hoor hy is weg. Maar nou kry jy hom vir altyd terug. En nogal op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het. Hy is nou nie net meer jou werker nie. Nee, hy is nou jou broer in die Here. Hy is nou iemand vir wie jy baie lief moet wees. Onesimus was ’n wonderlike broer vir my hier in die tronk. Ek weet hy sal ook ’n goeie broer vir jou wees.

17–19 Filemon, as jy my as jou vriend beskou, dan moet jy Onesimus ook as jou vriend beskou. Ontvang hom net soos wat jy my sou ontvang. As hy iets daar by jou gevat het voordat hy weggeloop het, of as hy jou nog geld skuld, sal ek dit betaal. Dit belowe ek. Maar, Filemon, ek hoef seker nie vir jou te sê wat jy my alles skuld nie, of hoe? Want ek het jou van Jesus vertel. Daarom is jy nou ’n Christen. Moet daarom nie so haastig wees om rekenings vir my te gee nie.

20 My liewe broer, vat asseblief vir Onesimus met oop arms terug. Ek vra dit nie vir myself nie, maar ter wille van die Here. As jy dit doen, sal ek baie bly wees. Dit sal wys dat jy my broer in Christus* se nuwe familie is.

Ek kom Kuier
1 Filemon, ek ken jou goed genoeg om te weet jy sal doen wat ek vra. Daarom skryf ek hierdie brief aan jou. Ek weet jy sal sommer nog baie meer vir Onesimus doen as wat ek vra.
22 Maak solank ’n kamer vir my reg. Een van die dae gaan ek vrygelaat word, want julle bid mos baie ernstig dat ek uit die tronk sal kom.
23–24 Epafras wat ook hier in die tronk is omdat hy met ander oor Christus* Jesus gepraat het, stuur groete aan jou. So ook my helpers: Markus, Aristargos, Demas en Lukas.
25 Ons Here, Jesus Christus*, is by elkeen van julle met sy goedheid.

Hebreërs 1:1
God het in die ou tyd baie met mense gepraat. Hy het byvoorbeeld boodskappers gestuur. Nou het Hy egter spesiaal Jesus, sy Seun, gestuur. Hy moes vir ons van God kom vertel.

Preekriglyn

[Nota: Die preekskets werk met verse 1-25, anders as die RCL se tekskeuse wat net tot by vers 21 gaan. Hier word geweldig baie detail gegee om Paulus se denke te verhelder. Die prediker sal ‘n seleksie moet maak.]

Die brief aan Filemon is Paulus se kortste skrywe. Nogtans sê Nuwe-Testamentikus NT Wright dat indien ons nét die brief aan Filemon as oorgelewerde Nuwe-Testamentiese teks gehad het, het ons reeds die evangelie gehad. Hier is genoeg in hierdie brief om ons te oortuig dat daar iets dramaties moes gebeur het om hierdie vroeg-Christelike gemeenskappe te inspireer om op so ‘n radikaal nuwe manier te leef binne die nuwe wêreld van die evangelie.

Wright reken dat die brief aan Filemon ons begelei na die hart van die evangelie en wat dit beteken om deel van die familie van die Messias te wees. Nog drie gerespekteerde stemme:

  • Franke meen: “The single Epistle to Philemon very far surpasses all the wisdom of the world.”
  • Baur skryf: “It is penetrated with the noblest Christian spirit.”
  • Sabatier reken: “This short Epistle gleams like a pearl of the most exquisite purity in the rich treasure of the New Testament.”

Hierdie is inderdaad Paulus se kuns van retoriek op sy beste.

Wanneer Paulus hier skryf, is hy in die tronk in Rome, of dalk selfs in Efese. Filemon is in Kolosse, ongeveer 150 km van Efese af.

Om in die tronk te wees was nie ‘n strafmaatreël, ‘n vonnis in sigself nie. Wanneer iemand in die tronk was, soos Paulus hier, was jy verhoorafwagtend. Jy wag in die tronk om te hoor wat jou lot gaan wees. Jou mense of die gemeenskap het vir mense se behoeftes en middele in die tronk gesorg. Vandaar ook die verstaan dat Paulus besoekers, soos Onesimus, in die tronk gehad het.

Slawerny

Die hele kwessie van slawerny binne die konteks van die eerste gemeentes kom hier ter sprake. Bykans 40% van die Nuwe-Testamentiese samelewing was slawe. Slawe was die eiendom van hulle eienaars en kon slegs hulle vryheid koop of verdien deur een of ander daad wat die eienaar oortuig om hulle vry te laat. In sommige gemeenskappe was ook ‘n kontraktuele tydperk aan ‘n slaaf gekoppel. ‘n Slaaf was vir die eienaar ‘n gebruiksartikel met weinig tot geen regte nie. ‘n Wegloopslaaf, Onesimus, wat boonop verantwoordelik was vir een of ander vorm van skade aan sy eienaar Filemon (sommige spekuleer diefstal), was uitgelewer aan erge strafmaatreëls. Hy kon selfs sy lewe verloor.

Briewe oor slawerny

Die Brief aan Filemon laat mens dink aan ‘n soortgelyke brief van Pliny aan ene Sabinianus wat gedurende dieselfde tydperk geskryf is. Pliny was ‘n skrywer, soldaat en vriend van die destydse keiser.

Slawerny was sosiaal absoluut aanvaarbaar en mense kon hulle nie die wêreld daarsonder indink nie. Tog is die impak van Jesus op onderlinge verhoudinge alreeds sigbaar.

Deur hierdie twee briewe langs mekaar te lees, kan mens die Christelike geloof se impak op die manier hoe verhoudinge tussen mense verstaan word, raaksien. Pliny se brief wys op dieselfde versoek om genade aan ‘n vry slaaf, maar hierdie genade klink tog anders as Paulus se oproep om Onesimus “as geliefde broer” te ontvang. In die brief aan Filemon sien ons Paulus se fokus op “een nuwe mensheid” (Ef 2:11-22), waar daar nie slaaf of vry, Griek of Jood onderskeid gemaak word nie (1 Kor 12:13; Gal 3:28; Kol 3:11), in lewende lywe.

Kom ons stap deur ons teks en kyk hoe die evangelie ees van die mees gevestigde gebruike van die antieke tyd beïnvloed:

Opening

Vers 1-3. Ons vind hier die kenmerkende briefopening van Paulus se briewe; Van wie, Aan wie en Genadegroet. Paulus definieer homself hier as “‘n gevangene ter wille van Christus Jesus”, soos in Efesiërs, Kolossense en Filippense. Gewoonlik verwys Paulus hier in sy briewe na sy apostelskap om gewig aan sy stem te verleen. Hier en in die ander verwysings na sy gevangenskap in die brief (9, 10, 13, 23) kry ‘n mens dieselfde indruk dat Paulus meen dat juis sy gevangenskap sy geloofwaardigheid versterk. ‘n Vreemde idee dat gevangenskap iets is om op te roem. Soos in vyf ander briewe word Timoteus ook hier as medesender geïmpliseer.

Waar die pastorale briewe (Timoteus en Titus) aan individue geskryf is met die oog op hulle spesifieke amptelike hoedanigheid in gemeentes, word die brief aan Filemon, ook ‘n individu, geskryf as ‘n aanbevelingsbrief rakende ‘n spesifieke saak. Filemon word dus geplaas onder die gevangenskapbriewe (Efesiërs, Kolossense, Filippense).

“Filemon” is ‘n Griekse naam afgelei van phileō wat beteken “om lief te hê” of “om te soen”. Hy het deur Paulus se werk (9) deel geword van die Jesusbeweging en die gemeente in Kolosse. Hy behoort relatief welvarend te wees, aangesien die gemeente in sy huis bymekaarkom (2) en hy ‘n slaaf/slawe besit. Hy het dus as ‘n vooraanstaande in die gemeente potensieel ‘n groot invloed vanuit sy posisie.

“[O]ns vriend en medewerker” is letterlik ons geliefde (agapētos) en medewerker (synergos), wat al reeds dui op Paulus se hoë agting van Filemon en/of op Filemon se diep verbintenis aan die Jesusbeweging.

Ook ander name word genoem, soos “ons suster Affia” en “Argippus ons medestryder”

“[D]ie gemeente wat gereeld in jou huis bymekaarkom” – word ook geadresseer, hoewel Paulus eintlik net met Filemon praat. Letterlik sou die vertaling klink, “die versameling (van volgelinge) in jou huis”.

Die opmerklike hier, rakende die verleentheid wat nou in vers 8-21 aangespreek gaan word, is dat hoewel dit aan ‘n individu gerig word, dit hier binne die groter huishoudelike en gemeentelike verhoudings aangespreek word. Dit is veral in die brief aan Filemon wat ons hierdie akute, “mens binne gemeenskap” styl by Paulus vind. Paulus onderstreep dit meesterlik subtiel hier: Jou deel wees van die Jesusbeweging het op sigself ‘n appèl op jou buitengewone sosiale etiese leefstyl.

Dankgebed

Vers 4-7. Soos in meeste van sy briewe begin Paulus ook hier met ‘n dankgebed (4-5). Hy dank God vir Filemon se “liefde en getrouheid” aan die Here Jesus en aan al die “gelowiges” (letterlik “heiliges” – hagios). Sy dankgebed tot God verklap Paulus se oortuiging: Liefde tot God en ons naaste spruit vanuit God se beweging in ons lewe. Paulus wil Filemon hier positief stem en eintlik bevestig dat Filemon alreeds verstaan en optree in lyn met wat Paulus later versoek. Die beweegrede is eenvoudig: Liefde en getrouheid aan Jesus het implikasies vir ons verhouding met mense, veral in hierdie geval, met medegelowiges.

Vanuit hierdie positiewe vertrekpunt deel Paulus die res van sy bede (6) as ‘n baie subtiele aanvanklike oproep: dat die gemeenskap met ander (koinonia), wat Filemon deur sy geloof ervaar, hom sal energeer/beweeg/aktiveer tot ‘n kennis/insig/verstaan in al die goeie dinge wat deur Christus in hulle/hom  is.

Van die eerste gemeentes was die volgende waar: ons koinonia bring ons tot ‘n nuwe sosiologiese insig en verstaan van onsself en van mekaar. Waar koinonia graag met “fellowship” vertaal word, lê Wright klem daarop dat dit meer as “business partnership”, of te wel deelgenootskap (soos in 17) vertaal moet word, juis om hierdie diepteverbintenis in ons verstaan te kom vaslê.

Paulus sluit sy bede af (7) deur weer vir Filemon, as broer, te bedank vir sy liefde vir die heiliges. ‘n Liefde wat die harte/innerlike  van die heiliges versterk/versorg/verkwik het. Paulus erken dat Filemon se “liefde in aksie” vir hulle (wat gevangenes is) groot vreugde en bemoediging bring.

In hierdie inleiding wil Paulus baie duidelik vir Filemon positief stem en die band tussen hom en Filemon, asook tussen Filemon en die geloofsgemeenskap stewig weef, juis met die oog op die appèl wat kom. Paulus gee eintlik ook al klaar die motief vir sy skrywe weg: dat Filemon se belewenis van ‘n hegte geloofsgemeenskap hom tot ‘n alternatiewe sosiale insig sal bring oor dit wat Christus deur hierdie gemeenskap wil doen.

Versoek

Vers 8-9 is die kerngedeelte – Paulus se versoek rakende Onesimus. Al kan Paulus vanuit sy gesag of posisie vir Filemon sê wat hy moet doen, beroep Paulus hom hier op die liefde, ‘n besonderse les vir enige een wat ‘n appèl op medegelowiges maak. Paulus se gesag lê juis in sy dra van die kruis van gevangenskap waarna hy hier verwys. Hy sinspeel op sy bede (6) dat Filemon self tot nuwe insig sal kom vanuit sy deelgenootskap met Paulus en met die geloofsgemeenskap. Paulus gebruik, soos in van sy ander briewe, sy eie geloofwaardigheid en voorbeeld as kruisdraer met ‘n alternatiewe sosiale etiek as aansporing tot navolging van Christus.

Onesimus

Vers 10-12. Paulus doen nie ‘n beroep op Filemon oor ‘n onpersoonlike saak nie. Paulus maak dit diep persoonlik deur Onesimus sy “seun” te noem “aan wie ek geboorte geskenk het in my boeie” (‘n beter letterlike vertaling van “Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword”).

Dit is net hier wat Onesimus se naam genoem word. Onesimus se naam beteken “Bruikbaar” (afgelei van oninēmi) en dit is hierop wat Paulus in vers 11 sinspeel: “Voorheen was hy vir jou onbruikbaar maar nou is hy besonder bruikbaar vir jou en vir my.” Om die persoonlike verbintenis te beklemtoon, verklaar Paulus dat hy Onesimus na Filemon terugstuur met sy eie meegevoel as metgesel.

Vers 13-16. Paulus verbind hom verder aan Onesimus deur te verduidelik hoe hy vir hom besonder bruikbaar sou wees deur Paulus in sy gevangenskap te bedien. Paulus verbind egter ook vir Filemon aan hom en so ook weer vir Onesimus aan Filemon, deur baie slim te sê “dat hy my in jou plek kan dien”, wat sinspeel op Filemon se goedgesindheid teenoor Paulus.

Eie keuse

Vers 14. Hier trek Paulus vir Filemon nader deur sy versoek/beroep te verduidelik as ‘n deursigtige genadeoproep “nie uit dwang nie” maar “uit vrye keuse”. Besonders hier is die motivering of beweegrede waarmee Paulus werk:

‘n Vrye keuse tot ‘n teen-kulturele optrede, vanuit ‘n dieper insig, wat groei vanuit deelgenootskap/koinonia met die geloofsgemeenskap en met Paulus.

Verleentheid word geleentheid

Vers 15  hier neem Paulus ‘n geloofsprong. Hy kyk vanuit ‘n ander hoek na die hele verleentheid as ‘n geleentheid: die verleentheid van ‘n wegloopslaaf (doulos) word in die dampkring van die evangelie die geleentheid om hom as ‘n geliefde broer (adelphos agapētos) terug te kry. Paulus verbind hom weer skaamteloos aan Onesimus deur te sê dat Onesimus juis so ‘n “geliefde broer” vir Paulus is.

Deur dit te sê, verklaar Paulus eintlik dat Filemon en Onesimus vir hom gelyk is, naamlik geliefde broers en medewerkers in die Here. Hierdie begrip “in die Here”word die sleutel tot die nuwe menswaardigheid waartoe Paulus homself verbind en waartoe hy Filemon oproep: die een nuwe mensheid. Jou een-wees met die gekruisigde Here maak jou een met die geloofsgemeenskap van die kruis. Dit maak jou op ‘n nuwe manier een met hulle wat jy vroeër volgens ‘n ander menslike maatstaf gemeet het. Paulus maak hier uit die revolusionêre teologie van 2 Korintiërs 5:14-18 ‘n praktiese etiese leefstyl vanuit die evangelie.

Drie bewegings

Vers 17-21. Nou draai Paulus sy redevoering in drie bewegings tot ‘n stywe greep vas: As jy my deelgenoot is (koinōnos – besigheidsvennoot): Paulus beroep hom op die verbintenis wat daar vanuit hulle een-wees met die Here tussen hom en Filemon bestaan. Hy beliggaam sy versoek aan Filemon deur Onesimus se deelgenoot te wees, deur te sê dat indien daar enige skade is “sit dit op my rekening” en later “ek sal betaal”. Hy herinner Filemon dat hy wat Paulus is ook die vroedvrou van Filemon se geloofsidentiteit is.

Paulus verslap dan sy greep tot meer sentimentele taal, naamlik “my broer, bewys my hierdie guns, maak my hart bly”. Hy sluit sy versoek af met ‘n bevestiging van vertroue in Filemon, dat hy “selfs meer sal doen” as wat Paulus hier vra.

Vers 22-24. Paulus maak die oproep en die appèl selfs nog meer gewigtig, deur aan die eenkant aan te dui dat hy hulle moontlik kom besoek en aan die anderkant dat hy ‘n rits ander medewerkers as indirekte getuies hier oproep; Epafras, Markus, Aristargos, Demas en Lukas. Meer oor hierdie gelaaide aanhef en slot volg hieronder.

Vers 25. Paulus se kenmerkende groet, maar nie ‘n persoonlike groet net aan Filemon nie. Dit is gerig aan die hele geloofsgemeenskap.

Betekenis vandag

Wat beteken ons teks vandag vir ons?
In ‘n land (én wêreld) en tyd waar dit wil voorkom asof ons al meer gepolariseer raak, is hierdie voorwaar ‘n tydige teks waar om ons dalk meer dikwels met mekaar saam kan gaan sit. Hierdie teks breek deur die sagte sappige oppervlak van “ek is lief vir Jesus en Hy is lief vir my” en roep ons op tot ‘n radikale nuwe menswaardigheid. Die brief aan Filemon beur verby die snoesige koinonia van eendersheid en vra ‘n waagmoedige omhelsing van “die ander” (in die breedste moontlikste sin). Wat ‘n wonderlike geleentheid om saam met Paulus verby die teologie van “een nuwe mensheid” en “die bediening van versoening” (soos in 1 Kor 12:12-13; 2 Kor 5:11-21; Gal 3:26-28; Ef 2:11-22; Kol 3:9b-15a) te beweeg, na ‘n praktiese leefstyl met baie konkrete, moeilike, etiese implikasies.

Deurleefde oproep

Let op dat Paulus nie hier praat soos ‘n aktivis met ‘n megafoon op ‘n seepkissie voor ‘n skare wat hy probeer opsweep nie.. Paulus skryf hier

  • enersyds vanuit die deurleefde vergrootglas van sy eie gevangenskap en
  • andersyds vanuit ‘n diep geborgenheid (broederliefde) met Filemon en Onesimus skryf.

Paulus staan, oopgespalk, soos aan ‘n kruis, by beide pole van sy bomenslike, teenkulturele, versoek. Hy verbind homself selfs verder deur die rekening van die gebrokenheid te neem en te sê: “Ek sal betaal.” Wright meen deur 2 Korintiërs 5 en die brief aan Filemon in verband met mekaar te bring dat,

What God did in Christ for the world, God is doing in Paul for Filemon and Onesimus . . . and that is hugely costly, as it will be for Filemon and Onesimus.

Buiten die fisieke koste wat Paulus sal betaal, is hier ook die groot koste van waagmoed in geloof:

Waagmoed

Paulus waag dit, in vertroue op Filemon se goedhartigheid, deur Onesimus met sy aanbevelingsbrief terug te stuur na Filemon. Hy weet nie of sy slim redevoering Filemon gaan oortuig nie.

Onesimus waag dit, dalk selfs met sy lewe, om as wegloopslaaf wat in die skuld by sy eienaar is, terug te keer. Hy weet nie hoe Filemon gaan reageer nie.

Filemon sal dit moet waag om vir Onesimus as ‘n broer terug te ontvang. Hy weet nie hoe sy bure, die gemeenskap en dalk sy ander slawe gaan reageer op hierdie teenkulturele optrede nie. Hy weet nie of Onesimus hom dalk weer kan skade aandoen nie, daar is geen waarborg nie.

Hierdie gebeure is op ‘n konkrete manier die praktiese doen van Lukas 15 se Verlore Seun-verhaal:

Iemand skryf:

The Father does the unthinkable and disgraces himself in taking back the prodigal . . . This is what the gospel does – it takes people to where Jesus was. A place of shame, a place of death, the place of the slave, in order to do something radically new.

Geleentheid in verleentheid

Daar is soveel verleenthede in ons land (dienslewering, selfverryking, politieke uitsprake, misdaadpatrone, apatie, diskriminasie, ekonomiese wanbalans, kwotas en regstellende aksie) aan die gang. Ons haal graag die geel kaart by elke verleentheid uit om mense van ons speelveld af te boender en in die proses onsself nog verder te isoleer en dus te polariseer. Ons doen dit soms selfs in die naam van geloof!

Vir Paulus is hierdie verleentheid dalk ‘n wonderlike geleentheid: die skuldige slaaf en die wraaklustige eienaar kan dalk verander in broers wat mekaar lief het. “In die Here” (20) word jy ook deel van die “gemeenskap van geloof” en in jou deel-wees van die gemeenskap word jy ook deel van “‘n nuwe mensheid” met ‘n radikaal ander verstaan van die herstel van menswaardigheid. ‘n Skuldige slaaf word nie net ‘n vrygespreekte slaaf nie; hy word ‘n geliefde broer. Die kruis is vir sommige ‘n struikelblok, vir ons behoort dit die padwyser van “verleentheid na geleentheid”, van onbruikbaar na besonder bruikbaar te wees.

Hierdie skynbaar “persoonlike aanbevelingsbrief”, is inhoudelik deurtrek met die appèl op geloofsgemeenskap: In die aanhef skryf Paulus saam met Timoteus aan Filemon, maar ook aan Affia, Argippus en die gemeente wat in Filemon se huis bymekaar kom. In die slot roep Paulus sy ander medewerkers by, naamlik: Epafras, Markus, Aristargos, Demas en Lukas.

Die verleentheid is ‘n gemeenskapsaangeleentheid. Die aard van “die gemeenskap as die baarmoeder” vir “teennatuurlike” en “teenkulturele” optrede is hier besonders. Die gemeenskap van die kruis hou mekaar verantwoordbaar vir ‘n deurleefde deelgenootskap met mekaar. Hulle roep mekaar op, spreek mekaar aan, hulle dra mekaar se verlies, hulle help mekaar verstaan (dieper insig van vers 6) en nuut kyk na die verleenthede van hulle tyd. Hulle is saam ‘n besonder unieke nuwe mensheid. Ons kan as geloofsgemeenskap beslis weer hierdie aard van deelgenootskap gaan afstof en herontdek. Op hierdie wyse is ons die teken, voorsmaak en instrument van God se koninkryk hier en nou.

Paulus

Paulus as die een wat sy oproep beliggaam, verdien ook ons aandag: Hy verbind hom tot ‘n diep verhouding van deelgenootskap aan beide partye/pole. Hy dra die fisieke en simboliese skuld/gebrokenheid/wonde op homself, juis met die hoop om ‘n nuwe realiteit te skep.

Die kerk het nodig om in ‘n gepolariseerde Suid-Afrika, as individue en as ‘n eenheid, hierdie ongemaklike boodskap te beliggaam met Christus en met Paulus as ons voorbeeld. Om die bediening van versoening ernstig op te neem, sal ons aan beide kante van gepolariseerde verhoudings moet gaan staan en diep liefdesverbintenisse maak. In Christus word ons met God en met mekaar versoen. In Paulus word Filemon en Onesimus (moontlik) hier met mekaar versoen. In die kerk (liggaam van Christus) word hierdie bediening van versoening ons roeping.

Wat sê die Gees deur hierdie teks vir die kerk wat vasgeval het in ons eie pole rondom kerkhereniging, Belhar, selfdegeslagverbintenisse, grondhervorming . . .

Die vraag is hoe ek, my gesin en ons gemeente ‘n Paulus, nee ‘n Jesus, vir die mense kan wees wat vasgeval in die gevolge van hul eie sonde en die verleentheid van hul omstandighede is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Seën: Filemon 25
25Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees!

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.