Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Hierdie Sondag vier ons Barmhartigheidsondag om Jesus Christus se liefdeswerk onder  “almal” en “alles” voort te sit. Doen moeite om aandag te vestig op kerklike barmhartigheidswerk maar  ook  op die waarde van ’n  persoonlike lewenstyl van Christelike omgee en sorg.

Hierdie tafelteks in Lukas 14 is ook ’n ideale teks om die tema van sosiale kapitaal op die tafel te plaas. Dit daag op ’n radikale wyse ons eetgewoontes uit en vra ook wie sit waar aan tafel in ons gemeente? Hierdie erediens is die ideale geleentheid om die tema te verken en te vra hoe (on)gasvry ons tafels by ons kerke en huise is? Gasvrye tafels is by uitstek ruimtes wat sosiale kapitaal genereer deur verskillende mense saam te bring en so verhoudinge te bou.

Fokusteks

Lukas 14:1, 7-14

Ander tekste

Jeremia 2:4-13 (Die Here beskuldig sy volk dat hulle Hom verruil vir nikswerd afgode.);
Psalm 81:1, 10-16 (Die Here betreur Israel se ongehoorsaamheid en verlang daarna om hulle te kan help.);
Hebreërs 13:1-8, 15-16 (Christene word aangespoor om te lewe soos God dit verlang en om Hom altyd te eer.)

Lukas 14:1, 7-14
Jesus genees ’n man wat aan water gely het
14 Op ’n sabbatdag toe Jesus na die huis van ’n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou. 2Reg voor Hom was daar ’n man wat aan water gely het. 3Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag ’n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?”

4Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan. 5Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou ’n seun of ’n bees van een van julle val in ’n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op ’n sabbatdag?”

6Hulle kon daar niks op antwoord nie.

Gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid
7Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8“As iemand jou na ’n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor’. Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

12Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ’n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13Nee, as jy ’n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”

Eksegeties

Vers 1 van die afgebakende teks bevat ’n tydsaanduiding en ’n situasieskets. Die gebeure wat hier verhaal word, speel af op ’n Sabbatdag (tyd) tydens ’n ete aan huis van ’n vooraanstaande Fariseër (situasie). Lukas gee nog ’n belangrike stuk inligting wat die omstandighede en atmosfeer waarin die gebeure afspeel, van naderby beskryf: Die teenwoordige gaste het Jesus “fyn dopgehou”. In die NAV (v 1) word die agterdogtige mense slegs beskryf as “hulle”. Wie deel uitgemaak het van die “hulle”, word in vers 3 aangedui: die wet-geleerdes en Fariseërs. Jeanet Weathers skryf: “In the Gospel of Luke, Jesus is frequently found at table sharing, celebrating, inviting, teaching, and embodying new and more open community boundaries.”

Die RCL se voorgestelde teks vir hierdie Sondag laat vers 2-6 uit en kies die daaropvolgende perikoop (v 7-14). In die NAV is die opskrif van hierdie perikoop: “Gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid” (so ook Die Bybel A-Z). Danker beskryf die inhoud van Lukas 14:7-11 onder die opskrif “A Lesson on Kingdom Manners”, en vers 12-14 onder die opskrif “On Planning the Guest List”. Oppervlakkig beskou, pas die tema van hierdie opskrif goed by die fokus van Barmhartigheid-sondag. Jesus vertel twee gelykenisse wat handel oor gedrag (etiket) en gesindheid; enersyds van gaste en andersyds van ’n gasheer. Die gelykenisse is van toepassing op die optrede van genooide gaste wat by ’n bruilof opdaag, asook die oorwegings van ’n gasheer wat moet besluit wie na ’n maaltyd genooi sal word.

Die aanleiding tot Jesus se gelykenis, is sy waarneming by die tafel van die vooraanstaande Fariseër dat die gaste die voorste plekke aan tafel uitsoek. Hy vertel die twee gelykenisse om te illustreer dat ’n mens nie jou eie voordeel voorop moet stel nie, maar liewer nederig moet wees (J Du Rand). Jeanne Stevenson-Moessner sê hierdie gelykenis is weliswaar bekend, maar die beweging binne die gelykenis gaan altyd in teen die “mainstream movement of our culture”. Christene behoort by voorkeur te beweeg na die “margins of privilege”.

In sy beskrywing van Jesus se riglyn ten opsigte van die regte gesindheid en gedrag binne hierdie twee situasies, beklemtoon Lukas dat Jesus enersyds praat oor hoogmoed en nederigheid (v 11) – die begeerte om deur mense hoog geag te word (sommige se ambisie en eer word tot skande gebring; Du Rand), en andersyds die verwagting om vergoeding te ontvang vir elke daad wat verrig word (v 14). Jy moet nie aan ander goed doen met die verwagting dat hulle jou weer daarvoor sal vergoed nie (Du Rand). Jesus konfronteer die wetgeleerdes en Fariseërs met die vraag oor hul gesindheid in die lewe en hul optrede teenoor ander. Met Barmhartigheidsondag word ons ook gekonfronteer oor ons optrede en uitgedaag om antwoorde te gee op die vraag: Met watter motief doen ons dinge? Wat is jou motief wanneer jy mense help en barmhartigheid betoon?

Paul John Isaak wys daarop dat dit in hierdie verhaal gaan oor die valse idee wat sommige mense in die gemeenskap – vir wie Lukas skryf – oor hul sosiale en ekonomiese status gehad het: “For them a wedding or a funeral is an opportunity to advertize their imagined merit and distinction.” Jesus waarsku sy tafelgenote om hulle nie bloot te stel aan die moontlike vernedering wat die gangbare sosiale gebruike vir hulle kan meebring nie. Hulle kan aan sodanige vernederende behandeling ontkom, deur nie hul eie status té hoog te ag nie.
F W Danker beklemtoon dat vers 13 aandui hoe Lukas die verband lê tussen “self-advertisement and selfish disregard of the needy”.

Hermeneuties

Danker wys daarop dat Lukas in hoofstuk 13 die gedagte ontwikkel het dat die misverstaan van Jesus se sending, uiteindelik rampspoedig sal wees vir diegene wat op tradisionele godsdienstige assosiasies staatmaak sonder egte toewyding (commitment). “Luke 14 advances this theme to another plateau.” Lukas lei ’n reeks uitsprake en gelykenisse in met ’n kontrovers aangaande die sabbat (14:1-16). Die literêre konteks van ons perikoop is belangrik vir die uitpak van ons tema, asook die ontginning van betekenis met die oog op prediking op Barmhartigheidsondag.

’n Eerste opmerking neem ons terug na die begin van hoofstuk 14. Vers 2 en 3 beskryf die situasie van ’n mens in nood (’n man wat aan water gely het) en Jesus se optrede om die nood te verlig. Jesus genees die behoeftige mens, maar doen dit in konflik met die Joodse reëls vir aanvaarbare optrede op die Sabbatdag. Die vraag oor wanneer barmhartigheid gedoen mag word, is hier te sprake: “Mag ’n mens iemand op die Sabbatdag gesond maak of nie?” Jesus konfronteer sy tafelgenote met die etiek van versorging en barmhartigheidsbetoon, maar hulle kon Hom nie antwoord nie (v 6). Danker skryf: “Jesus’ question cuts through a tangled mass of casuistry on the question whether medicine could be practiced on the sabbath.” Jesus kies nie die veilige opsie om die man te versoek om ’n dag te wag nie. “He heals him and sends him off” (Danker).

’n Tweede opmerking oor die literêre konteks het betrekking op die volgende perikoop (v 15-24). Hier word aangesluit by die tema van die maaltyd. Een van die aanwesige gaste reageer met ’n saligspreking op Jesus se gelykenis oor die gasheer se uitnodiging (v 12-14): “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.” Hiermee word die betekenis van die maaltyd in Jesus se gelykenis verbreed en binne ’n teologiese raamwerk geplaas. Nou is dit nie meer ’n algemene voorbeeld van ’n sosiale gebeurtenis nie. Jesus se verwysing na God se vergoeding by die opstanding (v 14) word gekoppel aan deelname aan die maaltyd van die koninkryk. Jesus vertel weer ’n gelykenis van ’n maaltyd, maar nou van ’n groot maaltyd wat ’n man gehou het waarheen hy baie mense uitgenooi het. Die genooides het egter verskonings gehad om nie teenwoordig te wees nie. Danker se tema vir hierdie gelykenis is “The Rude Guests”. “This parable about excuses enlarges on the theme of invitation and brings the preceding discussion into more immediate relation to Jesus’ own ministry and revelation of the Kingdom. The recital parallels 13:22-30.” Uiteindelik word die kreupeles, blindes en verlam-des op die strate en in die gangetjies na die maaltyd gebring (v 21).

Hierdie gaste is dieselfde groepe mense waarna Jesus in die gelykenis van ons teks verwys (v 13). Jesus sluit sy gelykenis oor die groot maaltyd af met belangrike woorde: “Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.” Na watter genooides verwys Jesus nou? Watter maaltyd is nou ter sprake? Van watter kos praat Hy hier? Hoekom die persoonlike voornaamwoord “my”? Isaak wys daarop dat die soeke na belangrike sitplekke by geleenthede soos maaltye, huwelike en begrafnisse, so destruktief kan wees ten opsigte van mense se waardesisteem en sensitiwiteit vir die nood van ander, dat dit eerder lei tot die uitbuiting van armes en onderdruktes. Volgens Du Rand gaan die les hierin selfs nog dieper, naamlik dat selfsugtigheid van eiebelang jou vriendskap met die Gasheer verongeluk. “Jesus says that the future is determined by present response. The Great Party has begun!” (Danker).

’n Derde opmerking oor die literêre konteks sluit aan by die perikoop van vers 25-33, waarin Jesus volgens die opskrif van die NAV praat oor die eise van dissipelskap. Danker praat van “Proper Response” en “Kingdom Cost Accounting”. Hier is ’n heel nuwe situasie ter sprake, naamlik dié van ’n reisverhaal. Jesus beweeg deur die streek en die skare beweeg saam met Hom. Jesus gebruik die mense se skaapagtige saamloop met Hom as geleentheid om met hulle te praat oor hul voorbereiding om Hom te volg, asook hul bereidheid om radikaal te kies vir ’n alternatiewe lewenswyse. Hierdie gesprek word op basis van die metafoor van kruisdra (v 27) gevoer en met gelykenisse oor berekeninge by die oprig van ’n gebou (v 28-30) en die beplanning van ’n koning wat wil gaan oorlog maak (v 31-32), uitgewerk. Volgens Jesus geld dieselfde beginsel ook wanneer iemand wil besluit om Jesus se dissipel te wees.

Die hoofstuk sluit met ’n uitspraak (gelykenis) oor die waarde, funksie en bruikbaarheid van sout. As dit nie aan sy primêre funksie voldoen nie, is dit nie eers bruikbaar vir die grond of die mishoop nie. Wat sê Jesus hiermee vir die saamdrommende skare oor hul oënskynlike keuse om Hom te volg en hul oorweging om sy dissipels te wees? Met wie praat Jesus hier? In die slotwoorde van hierdie hoofstuk dui Jesus aan wie Hy in die oog het, hulle wat ore het om te hoor: “Wie ore het om te hoor, moet luister!” Dit geld seker ook vir ons wat op Barmhartigheidsondag wil dink oor die doen van barmhartigheid na Jesus se voorbeeld. Dit sal ons help om Danker se woorde te oordink: “Following Jesus is no invitation to trivial adventure. A church that encourages its followers to play it safe and to conform with the substandard practices of surrounding society not only invites disaster but loses all claim to association with the revolutionary cause of the Kingdom.”

Dit bring ons voor die uitdagings van ons eie konteks en die waardes wat deesdae vir ons belangrik geword het. In die postmoderne wêreld waarin ons leef, word die nood van mense maklik raakgesien en hoog op die agenda geplaas. In die kerk is dit natuurlik reg om mense op die rand van die samelewing raak te sien en te help. Barmhartigheidsondag wil ons juis help om nie die nood van mense rondom ons te vergeet nie. Dit wil ons sensitief maak vir ons eie gesindhede en motiewe. Dit wil ons aandag rig op die mense in die strate en gangetjies – die armes en gestremdes. Dit wil ons voor die uitdagings van dissipelskap en navolging van Christus stel. Dit wil ons opnuut laat dink oor die etiek van versorging, oor die egte navolging van Jesus (as sout), en oor die gehoorsaamheid aan Jesus wanneer ons siekes raakloop, selfs op die “Sabbatdag”.

Die belangrike vraag wat Jesus in ons teks aan die orde stel, is die motief en gesindheid waarmee ons na ander uitreik en help. Ongelukkig word baie hulpverlening vandag bloot vanuit humanistiese oorwegings gedoen. Dan raak dit kort voor lank belangrik hoeveel “punte” ons met ons aksies en programme “verdien”. Dit gaan dikwels oor die agting van mense (v 10) en die vergoeding wat ek kan ontvang (v 14). Party wil “politieke punte” verdien. Ander soek “samelewings-punte” om as ’n belangrike persoon in die gemeenskap gesien te word. Nog ander soek “gewildheidspunte”. En in die kerk wil ons dikwels “godsdienspunte” verdien. Weathers skryf die uitdagende woorde: “It is also helpful to treat the sharing of a meal as a metaphor and ask ourselves in what way we may assume the right to status and power and fail to consider those who are politically and socially marginalized, hungry, and ill. How do we do as a church family? To whom do we extend hospitality? Are we placing boundaries that exclude some of God’s children from our care and concern?”

Stevenson-Moessner beskryf hierdie teks as van revolusionêre kaliber. “If preached with passion and precise application, it could cause quite a stir in an established, staid, or traditional congregation. It is designed for those serious about spiritual formation and Christian maturity. It heralds a reversal of positions of power.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema:  Barmhartigheid skep ‘n nuwe vriendekring

Rus

Aanvangswoord (in aansluiting by die temas van nederigheid en gasvryheid.)
“maak my nie groot nie, Here
maar laat my u grootheid sien
en weet hoe klein ek is
maak my nie slim nie
maar laat my u wysheid sien
en weet hoe min ek weet
bring my nie op hoë plekke
vanwaar ek op ander  neerkyk nie
maar laat my u voete sien
as ek buig
en weet
dat my voete van klei is
en as iemand in my
u lig sien
laat my onthou waarvandaan ek kom
en Wie my daar  gaan haal het”
(‘perspektief’ in Optelwoorde van Koos van der Merwe – 2001)
Óf
Open die gesprek deur ’n paar van Emsie Schoeman se reëls oor tafeletiket vir die gemeente te lees. Vra dan of hulle dink Jesus aan hierdie mooi goue reëls voldoen het?

Aanvangswoord
Dit gaan goed met die mens wat omsien na die swakke. Die Here sal hom red op die dag van nood, die Here sal hom beskerm en in die lewe hou; die hele land sal praat oor hoe goed dit met hom gaan. Aan die Here, die God van Israel, kom die lof toe tot in die allerverste toekoms. Amen, ja, amen (Ps 41:2, 3 en 14).

Toetrede: Lied 526

Lied

Lofsange
Lied 203 “Loof die Here, al wat lewe”,
Lied 205 “Bring lof aan die Vader”

Woordbediening: Lied 442 (as gebed by die opening van die Woord) of
F221. “Ek Wil Meer Lyk Soos Jesus”

(RUBRIEK:  Flammiekidz – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Meer en meer
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music
vgl 2 Kor 3:18 NLV

Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Hy
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus

Ek wil meer en meer lyk soos Hy.
In alles wat ek is
en in alles wat ek doen
wil ek word soos wat Jesus dit wil.
Elke oomblik, elke dag
en nie net af en toe
want dit maak ‘n reuseverskil.

Ek wil graag dat die mense Jesus in my sien
omdat ek ‘n getuie wil wees.
Al is ek nog so jonk,
dis niks en buitendien
ek’s ‘n brief wat die wêreld kan lees.
Ek weet dit net soos jy

dat ek dit self nie kan nie
daarom gee Hy sy Heilige Gees
Hy help my meer en meer
om te leef soos Hy beplan
sonder Hom was ek nêrens gewees.

Danklied: Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het”

Familie-oomblik

’n Klein drama van onbarmhartigheid waarin die liturg iets lekkers eet en aan niemand anders uitdeel nie. Hy toets die kinders se reaksie of hy die Bybel reg verstaan?  Hy stel dit dan reg deur sy lekkergoed met hulle te deel en stuur hulle terug en om dit verder in die banke aan onbekende mense uit te deel (wat nie kan teruggee  nie –  Luk 14:14).
Óf
Vertel ‘n storie van ‘n partytjie.  Wie kan sit langs die verjaarsdagmaatjie?  Hoe werk dit?

Verduidelik dan hoe Jesus met die eerste gelykenis eintlik met gaste praat.  ‘n Mens moenie sommer op die beste plek gaan sit nie, want net nou sê die een wie se partytjie dit is, wil hê iemand anders moet daar sit, en dan moet jy skuif.  ‘n Mens wil nie graag in só ‘n verleentheid kom nie, sê Jesus. Dit is net goeie maniere.  En ons moet nie so voor op die wa wees nie.

Met die tweede gelykenis praat Jesus met die gashere.  Ons gebruik baie keer ons partytjies om net te nooi wie ons wil.  Ons nooi ook maklik kinders wat ons weet ook weer vir ons sal terugnooi.  Jesus help ons verstaan dat ‘n partytjie eintlik die beste geleentheid is om ons vriendekring uit te brei, om ander kinders te nooi, kinders wat nie eintlik vriende het nie.  Dit kan ons natuurlik ‘n prys kos, as ons net ‘n sekere aantal mense kan nooi, selfs meer as vir die grootmense.  En dan moet ons keuses maak.

‘n Praktiese wenk: nooi volgende keer net 2 kinders wat jy weet nie maklik uitgenooi word nie.  Dink net wat dit vir daardie kinders gaan beteken.  En dink net watter verskil dit aan jou partytjie kan maak, as die ander agterkom dat die partytjie nie net vir die “in-crowd” is nie, maar ook bedoel is om goed te wees vir ander kinders.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Partytjies en gesellighede, funksies en dinees gee skop aan die lewe.  Goeie kos, lekker eet- en drinkgoed, dierbare vriende, opwindende geselskap, die jongste nuus, nuwe vriende en kennisse, lekker lag, miskien ’n goeie dans, ’n ontspanne aand … egte speserye vir die lewe.

’n Partytjie vier die goeie en die beste in die lewe.  Dit kan ’n verjaardag, bevordering by die werk, ’n huweliksherdenking, ’n doop of ’n huwelik, ag sommer enige bron van blydskap wees.  Onlangs was die 2010 Fifa Wêreldbeker die bron van opskoppe, partytjies en funksies in alle gedaantes reg oor die wêreld.  Enigiets van straatkaperjolle tot plegtige bankette het die suksesvolle rondskop van die ronde bal gevier.  Dit was lekker!

Wat ons partytjies van ons sê

Ons partytjies vertel meer van ons as wat ons dink.  Dit verklap wie jou vriende is, wie en wat belangrik in jou lewe is.  Sommige mense word genooi en ander uitgesluit.  Daar is ’n sosiaal-aanvaarbare seleksie van mense wat jy naby jou toelaat.  By meer formele gesellighede word spesifieke plekke aan spesifieke gaste – eregaste – toegeken.  Ons nooi die mense met wie ons geassosieer wil wees, dalk selfs die mense wat ons loopbaan kan bevorder of ons sosiale status aanhelp.

Die uitnodigings wat jy aanvaar, vertel ook baie van wie jy is.  Met wie wil jy gesien word?  Wie stimuleer jou?  By wie vind jy aanklank?  Waar kan jy jouself wees, ontspan en deelneem aan die goeie pret en plesier?  Of wie is in tel in die wêreld waar jy ’n lewe probeer maak, waar móét jy gesien word?

Wat partytjies van Jesus sê

Ons tref Jesus dikwels by gesellighede aan.  Ons teksgedeelte speel juis af by ’n maaltyd aan huis van ’n vooraanstaande Fariseër waar Jesus saam met ander genooide gaste aan tafel verkeer.

Net in die volgende hoofstuk, Lukas 15:1-2, word vertel dat die tollenaars en sondaars almal die gewoonte gehad het om na Jesus te luister.  Die godsdienstig-korrekte Fariseërs en skrifgeleerdes maak beswaar teen die manier hoe Jesus die sosiale orde deurmekaar krap. Hy ontvang sondaars en eet saam met hulle:

By this time a lot of men and women of doubtful reputation were hanging around Jesus, listening intently.  The Pharisees and religion scholars were not pleased, not at all pleased. They growled, “He takes in sinners and eats meals with them, treating them like old friends.”  (The Message Luke 15:1-2)

Reeds in 14:1 word vertel hoe “hulle Hom fyn dopgehou het” tydens die maaltyd by die hooggeplaaste Fariseër.

Jesus beliggaam in sy sosiale omgang ’n ander ingesteldheid teenoor mense.  Aansit by die tafel word die plek waar dinge verander.  Konneksie oor allerlei grense vind plaas.  Die feesmaal, die maaltyd, of die gesellige samesyn bevestig nie langer tradisionele sosiale groeperinge nie, maar skep nuwe verhoudinge, sluit mense in eerder as uit, en bring nuwe verhoudinge en verbande tot stand.

Aangemoedig om Jesus se voorbeeld te volg

Jesus moedig ons aan om sy voorbeeld te volg.  In ons teks kondig Hy twee stelle nuwe sosiale reëls aan vir die samesyn van mense.  Hy praat oor hoogmoed en nederigheid, en verduidelik met wie ons in sy nuwe sosiale orde moet omgaan.  Jesus leer ons twee sosiale lesse:

  • ’n Les oor koninkryk-etiket (14:7-11) – gedrag en gesindheid van die gaste
  • ’n Les oor die opstel van ’n gastelys (14:12-14) – gedrag en gesindheid van die gasheer

Gaste moenie hoogmoedig wees nie, maar liewer nederig.  Dan sal hulle beleef hoedat hulle geëer word en in sosiale aansien wen (14:7-11).  Gashere moet mense nooi wat andersins uitgesluit sou wees, en nie ’n manier het om vir die uitnodiging te vergoed nie (14:12-14).

Die groot prentjie

Voordat mens dink Jesus gee net goeie advies, moet jy die groter prentjie van die hele hoofstuk 15 onder die knie kry.  Anders mag jy jou misgis met die ingrypende manier waarop ons navolging van Jesus ons lewens verander.

Wanneer Jesus praat oor die gedrag en gesindheid van gaste en gasheer, roep een van die gaste (in die volgende paragraaf van die hoofstuk) uit:

“Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem” (14:15).

Skielik is die mense saam met Jesus aan tafel in die Fariseër se huis nou nie meer by ’n gewone ete nie.  Hulle kry nie net ’n sosiale les nie.  Die ete is nou gekoppel aan die groot feesmaal met die koms van die koninkryk aan die einde van die tye.

Jesus speel op die gas se uitroep in.  Hy vertel dadelik weer ’n gelykenis van ’n maaltyd.  ’n Man het ’n groot maaltyd gehou waarheen hy baie mense uitgenooi het.  Die genooides het egter verskonings gehad om nie teenwoordig te wees nie.  Dan stuur die gasheer sy slawe na die strate en gangetjies.  Uiteindelik word die kreupeles en blindes en verlamdes op die strate en in die gangetjies na die maaltyd gebring (vers 21).

Hierdie gaste by die groot feesmaal van die koninkryk is dieselfde mense waarna Jesus in ons teks (14:12-13) verwys:

“As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.   Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes.”

Jesus sluit sy gelykenis oor die groot maaltyd af met die belangrike woorde:  “Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.”

Die koms van die koninkryk loop op ’n feesmaal uit.  Die geskiedenis soos ons dit ken, eindig in ’n banket.  As ons weet hoe die reëls werk vir die groot banket waar God die Gasheer is, werk, sal ons weet hoe om nou met mense om te gaan en hoe om ons sosiale samesyn in te rig.

Jesus skep in sy bediening oop netwerke van kennisse en vriende.  Die geloofsgemeenskap is nooit geslote nie.  Hy tref reëlings sodat dié wat uitgesluit is, betrek kan word.  Diegene wat honger en dors, word ingesluit.  Dié wat siek is, ontvang versorging.  Die wat uitgebuit word, word ingesluit in ’n gemeenskap waar geregtigheid geskied.  ’n Afgeslote sosiale gemeenskap wat – bedoeld of onbedoeld – uitsluit, dwarsboom die groei van die koninkryk.

Hoe ons nou by sosiale funksies en partytjies optree, en wie ons nooi, toon of ons ingeprop is op Jesus se bediening.  Dit demonstreer of ons die hart van die groot Gasheer verstaan.  Die uitnodiging na die groot Feesmaal het begin, en ons sosiale samesyn verklap of ons die karakter van die Gasheer verstaan.  Ons word uitgenooi om die gesindheid na die Gasheer nou reeds uit te beeld in ons optrede.

Ons partytjies kan tekens, voorsmake, en instrumente van die groot Feesmaal wees.

Vandag is Barmhartigheidsondag

Op Barmhartigheidsondag dink ons oor die doen van barmhartigheid na Jesus se voorbeeld.  Jesus betoon barmhartigheid deur die armes, kreupeles, verlamdes en blindes in gemeenskap in te trek.  Hy sit ’n fees vir hulle voor.  Hy gee vir hulle ’n vriendekring, ’n nuwe tuiste, herstelde eiewaarde.

Daarmee haal Jesus ons uit ons sosiale gemaksone.  Hoe ons nou feesvier en partytjie hou, verklap of ons ingeskakel is op die Gasheer wat deur die eeue ’n nuwe tafelgemeenskap voorberei vir die feesmaal van die Lam.

Die teoloog Danker skryf: “Following Jesus is no invitation to trivial adventure. A church that encourages its followers to play it safe and to conform with the substandard practices of surrounding society not only invites disaster but loses all claim to association with the revolutionary cause of the Kingdom.”

In die kerk is dit reg om mense op die rand van die samelewing raak te sien en te help. Barmhartigheidsondag wil ons juis help om nie die nood van mense rondom ons te vergeet nie. Dit wil ons sensitief maak vir ons eie gesindhede en motiewe. Dit wil ons aandag rig op die mense in die strate en gangetjies – die armes en gestremdes. Dit wil ons voor die uitdagings van dissipelskap en navolging van Christus stel. Dit wil ons opnuut laat dink oor die etiek van versorging, oor die egte navolging van Jesus (as sout), en oor die gehoorsaamheid aan Jesus wanneer ons siekes raakloop, selfs op die “Sabbatdag”.

Die belangrike vraag wat Jesus in ons teks aan die orde stel, is die motief en gesindheid waarmee ons na ander uitreik en help. Dan raak dit kort voor lank belangrik hoeveel “punte” ons met ons aksies en programme “verdien”. Dit gaan dikwels oor die agting van mense (v 10) en die vergoeding wat ek kan ontvang (v 14). Party wil “politieke punte” verdien. Ander soek “samelewings-punte” om as ’n belangrike persoon in die gemeenskap gesien te word. Nog ander soek “gewildheidspunte”. En in die kerk wil ons dikwels “godsdienspunte” verdien.

Weathers skryf die uitdagende woorde: “It is also helpful to treat the sharing of a meal as a metaphor and ask ourselves in what way we may assume the right to status and power and fail to consider those who are politically and socially marginalized, hungry, and ill. How do we do as a church family? To whom do we extend hospitality? Are we placing boundaries that exclude some of God’s children from our care and concern?”

Stevenson-Moessner beskryf hierdie teks as van revolusionêre kaliber. “If preached with passion and precise application, it could cause quite a stir in an established, staid, or traditional congregation. It is designed for those serious about spiritual formation and Christian maturity. It heralds a reversal of positions of power.”

Voorbeelde

Dit is bemoedigend om gemeentes te sien wat hierdie pad bewandel.

In die Suid-Kaap het ’n gemeente begin om die straatlopers in die middedorp een keer per week van sop in die kerksaal te voorsien.  Na ’n paar weke, het hulle besluit om ’n ordentlike maaltyd voor te sit, net soos wat die lidmate gereeld tuis nuttig.  Op daardie dag het een van die gaste die gashere en –vroue uitgenooi om saam met hulle aan tafel te kom sit en die heerlike maaltyd te geniet.  Nuwe tafelgemeenskap wat grense oorskry, is gevestig.

Hierdie nuwe geloofsgemeenskap oordink ook saam die Woord. Daar het ’n erediens wat ’n nuwe sosiale orde skep in die kerksaal tot stand gekom.  Die maaltyd het ’n liefdesmaal geword wat aantoon dat hierdie gelowiges die bedoelinge van God met die toekomstige feesmaal van die Lam verstaan, en nou reeds toepas.

In die Port Elizabethse middestad gee ’n gemeente elke week sop vir driehonderd mense.  Dit is ’n behoeftige gemeente, wat raap en skraap om die bronne bymekaar te kry om die sop te voorsien.  Gelukkig ondersteun gelowiges reg oor die stad hulle poging.  Die leraar se tuinier is ’n leier van sy eie gemeente.  Hy begin om die Woord te breek by die sopgemeenskap Saterdae in die kerksaal.  Die dominee vertel hoe aanwesiges die oë blink wanneer die tuinier aan die praat raak.  Die gemeentelede self begin luister, en sluit by die erediens aan wat elke weet prakties ’n sopnagmaal is.  Nuwe lewensgemeenskap kom tot stand.  Uit talle stegies en gange kom die armes en kreupeles om gevul te word vanuit God se mense se goedheid.

Ware barmhartigheid bestaan uit mense wat hulle lewens met mekaar deel.
Sowaar, mens proe al die vreugde van die groot partytjie aan die einde van die tye!
(Foto by ‘n sopkombuis geneem deur Wicus Wait.)

Gebed
Psalm 139:23 – “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak.” Here, suiwer tog my diepste motief waarmee ek dinge doen.

God stuur ons om te leef

Sang

Verbintenis (uit die kernboodskap van die preek
De Génestet se wysheid kan gebruik word in aansluiting by die temas van nederigheid en gasvryheid:
“Sit hul uit die kerk!” so roep jy luid.
   “Sit jy liewer maar jou kerk so effens uit!”
(uit Deist – By die Kruispad – 1979)
By die uitsending: Lied 489 “Waak, Christen, staan in die geloof”
Óf
Voorganger: Wanneer ons van hierdie erediens af uitmekaar gaan, betree ons die erediens van die lewe . Gaan die wêreld tegemoet: dans, lag, sing en skep.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se seën.

Voorganger: Gaan die wêreld tegemoet: neem risiko’s, verken, ontdek en wees lief.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se genade.

Voorganger: Gaan die wêreld tegemoet: glo, hoop, stry en onthou.
Gemeente: Ons gaan met die versekering van God se liefde.

Voorganger: Gaan nou, onthou wie jy is en aan Wie jy behoort!

Almal: Lied 509:1, 2 en 4

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.