Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag kry die gemeente geleentheid om hulle te verantwoord oor die mens se besluit en negatiewe antwoord op God se goeie skepping. Resultaat van God se reaksie is dat die natuur ook negatief sal reageer – dorings en dissels, swangerskap met moeite, harde werk om te kan eet (Gen 3). Wegkom (agter vyeblare) kan ons nie. Aan God se Gees kan ons nie ontsnap nie (Ps 139). Vir die kerk wat nie wil hoor nie, sal die enigste teken, wonderwerk, die teken van die vis wees, Jesus se sterwe en opstanding (Matt 12). Daarom is daar ’n nuwe begin, vryspraak, moontlik deur die tweede Adam (Rom 5).

Ander tekste

Genesis 3:14-19; 4:8-16
14En die Here God sê vir die slang:
“Omdat jy dit gedoen het,
is jy vervloek onder al die diere.
Op jou maag sal jy seil
en stof sal jy eet, jou lewe lank.
15Ek stel vyandskap tussen jou
en die vrou,
tussen jou nageslag en haar nageslag.
Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
16Vir die vrou het die Here God gesê:
“Ek sal jou baie swaar laat kry
met jou swangerskappe:
met pyn sal jy kinders
in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker,
en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,
is die aarde deur jou toedoen
vervloek;
met swaarkry sal jy daaruit
’n bestaan maak,
jou lewe lank;
18die aarde sal vir jou dorings
en dissels laat uitspruit,
en jy sal veldplante eet;
19net deur harde werk sal jy kan eet,
totdat jy terugkeer na die aarde toe,
want daaruit is jy geneem.
Stof is jy, en jy sal weer stof word.”
8Kain het met sy broer Abel gepraat, en toe hulle in die veld was, het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak.

9Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” en Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?”

10Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My. 11Vervloek is jy dan nou, verban van die grond af wat gretig die bloed van jou broer uit jou hand opgeslurp het. 12Wanneer jy die grond bewerk, sal dit nie sy opbrengs vir jou gee nie. Jy sal ’n doellose swerwer op aarde word!”

13Toe sê Kain vir die Here: “My straf is te swaar om te dra. 14U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal ’n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.”

15Maar die Here sê vir hom: “Nee! Wie vir Kain vermoor, sal sewe maal gestraf word.”
Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie. 16En Kain het van die Here af weggegaan. Hy het gaan woon in Nod b, oos van Eden.

Psalm 139:7-12
7Waarheen sou ek gaan
om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug
om aan u teenwoordigheid
te ontkom?
8Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
9Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
10ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
11Ek sou die duisternis kon vra
om my weg te steek,
of die lig rondom my
om in nag te verander,
12maar vir U is selfs die duisternis
nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.

Romeine 5:12-17
Adam en Christus
12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.

Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

Fokusteks

Matteus 12:38-40
Ons gee hier ook die konteks van Jesus se gesprek hier met die Fariseërs:

Jesus en Beëlsebul
(Mark 3:20–30; Luk 11:14–23; 12:10)
22Hulle het toe ’n man wat in die mag van ’n bose gees was, na Jesus toe gebring. Die man was blind en stom. Jesus het sy gebrek genees, sodat hy weer kon praat en sien. 23En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?”

24Die Fariseërs het hiervan gehoor en gesê: “Hy dryf bose geeste uit alleen met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste.”

25Jesus het egter geweet wat hulle dink, en Hy het vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en geen stad of huis wat onderling verdeeld is, sal bly staan nie. 26As die Satan dan die Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan? 27En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgelinge dit dan? Julle eie volgelinge sal as julle regters optree en wys dat julle verkeerd is.

28“Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.

29“Hoe kan iemand tog by die huis van ’n sterk man ingaan en sy goed vat as hy nie vooraf die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis kan beroof.

30“Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.

31“Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. 32As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”

’n Boom word aan sy vrugte geken
(Luk 6:43–45; vgl Matt 7:17–27)
33“As julle sê ’n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. ’n Boom word tog aan sy vrugte geken.

34“Julle slange! Hoe kan julle wat sleg is, iets goeds sê? Waar die hart van vol is, loop die mond van oor. 35Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.

36“Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. 37Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

Die teken van Jona
(Mark 9:11–12; Luk 11:29–32; vgl Matt 16:1–4)
38Party van die skrifgeleerdes en die Fariseërs sê toe vir Hom: “Meneer, ons wil ’n wonderteken van u sien.”
39Maar Hy antwoord hulle: “’n Slegte en afvallige geslag vra ’n teken, en geen teken sal aan hulle gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 40Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ’n groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte binne-in die aarde wees. 41Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Hulle het hulle immers op die prediking van Jona bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona! 42Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo!”

Die terugkoms van die onrein gees
(Luk 11:24–26)
43“Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens weggaan, swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, 44sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis waaruit ek weggegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit onbewoon, skoon en aan die kant. 45Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek saam met hom in en gaan woon daar. Aan die einde is so ’n mens slegter daaraan toe as aan die begin. So sal dit ook gaan met die slegte mense van vandag.”

Die moeder en die broers van Jesus
(Mark 3:31–35; Luk 8:19–21)
46Terwyl Jesus nog besig was om met die mense te praat, het sy moeder en broers buite gestaan, en hulle wou met Hom praat.
47Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan daar buite en wil met U praat.”
48Maar Hy sê vir die man wat dit vir Hom gesê het: “Wie is my moeder, en wie is my broers?”
49Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê: 50“Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.”

Liturgie

God versamel ons voor hom

Lied 159:1, 3

Aanvangswoord
Here, U sien dwarsdeur my,
U ken my.
2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,
U ken my gedagtes
nog voordat hulle by my opkom.
3Of ek reis en of ek oorbly,
U bepaal dit,
U is met al my paaie goed bekend.
4Daar is nog nie ’n woord
op my tong nie
of U, Here,
weet wat dit gaan wees.
5U omsluit my van alle kante,
U neem my in besit.
6Dié wete oorweldig my,
dit is te hoog vir my begrip. (Psalm 139:1-6)

Groet
Aan almal vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort-
genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Rom 1:7)

Loflied 464 “O Heer my God 1, 3, 4”

Verootmoeding

Die werklikheid van ‘n verlore wêreld: Romeine 5:12-14a
Adam en Christus
12Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. 13Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ’n wet is nie. 14Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.

Lied 232:1 (belydenis)

Die verlossing deur die een mens, Jesus Christus: Rom 14b-17
Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, 15maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. 16En met die gawe van God is dit anders as met die sonde van die een mens. Op die oortreding van die een mens het die oordeel gevolg en dit het tot veroordeling gelei, maar op die baie oortredings het die genadegawe gevolg en dit het tot vryspraak gelei. 17Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer.

Lied 232:2 (vrygespreek)

Apostoliese Geloofsbelydenis
Diens va die woord
Epiklese

Skriflesing: Matt 12:38-40 (Ter wille van die breër verband kan Matt 12:22-50 gebruik word).

Prediking
Uitsending

Lied 493:1,2,4

Seën
Musikale Amen

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Liedere

FLAM 14. “Jesus Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer,
val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer,
wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer,
buig Hy neer
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer
wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

In aansluiting by die Powerpoint agtergrond kan die verhaal van Jona gewoon gedramatiseerd vertel word, met die hoogtepunt dat Jona 3 dae en drie nagte in die vis se maag oorleef omdat God ‘n plan het met Ninevé. Vervolgens kan gewoon aangetoon word hoedat Jesus self die teken van Jona op Homself van toepassing maak, omdat God met die wêreld ‘n plan het dwarsdeur 3 dae en nagte in die graf.

‘n Ander lyn kan ook aantoon dat net soos Jona Ninevé nie wil insluit in God se plan nie, so wil die Fariseërs en Skrifgeleerdes Jesus nie insluit in hulle planne nie.

Op ‘n ligter trant word vertel van die skooljuffrou wat alles in haar vermoë doen om die klassie te oortuig dat dit onmoontlik was vir Jona om 3 dae en 3 nagte in ‘n vis se buik te oorleef- allerhande argumente volg soos dat daar nie so ‘n groot vis bestaan nie/ dat die maagsappe ‘n mens sal doodmaak/ dat die gebrek aan suurstof dit onmoontlik maak ens.

Maar hier voor haar sit ‘n dogtertjie wat glad nie oortuig word nie- vir haar kán God so wonderwerk doen. En toe die juffrou vra of sy haar argumente dan nie glo kom die antwoord: “Ek sal Jona self vra as ek in die hemel kom!” Smalend antwoord die juffrou: “En as Jona nie in die hemel is nie?”

“Dan kan jy hom vra juffrou”, kom die die spitsvondige antwoord.

Preekriglyn

‘n Mens se reputasie kan jou maak of breek. Hoe ander jou sien, en veral etiketteer, kan ernstige gevolge inhou.

In 1867 word die Sweedse chemikus Alfred Nobel een oggend wakker net om die nuus van sy eie dood in die oggendkoerant te lees: “Alfred Nobel, die skepper van dinamiet, wat gister oorlede is, het ‘n manier gevind om meer mense in oorlogvoering te laat sterf as wat ooit vantevore moontlik was. Hy is as ‘n baie ryk man oorlede.”

Dit was eintlik Alfred se ouer broer wat gesterf het. ‘n Verslaggewer het die fout gemaak. Maar die doodsberig het ‘n diep indruk op Alfred gemaak. Hy het besluit hy wil vir iets anders onthou word as dinamiet, ‘n manier om lewe effektief te vernietig, en die feit dat dit hom skatryk gemaak het.

Só stel Alfred Nobel toe die Nobelprys in. Dit beloon wetenskaplikes, skrywes en leiers wat vrede koester en bevorder. “Mense behoort die geleentheid te kry om hul grafskrif te korrigeer terwyl hulle nog lewe, en ‘n nuwe einde vir hul lewensverhaal te skryf,” het hy gesê.

Ja, ‘n mens se reputasie is kosbaar en kan jou maak of breek. Presies dit het die voormalige basketbal-legende en tans TV-kommentator, Edward Arnett Johnson, uitgevind toe die swartste dag in sy lewe hom getref het.

Nadat sy basketbal-loopbaan tot ‘n einde gekom het, het die kampioen – wat meer as 2 meter lank is – baie jare spandeer om met kinders te werk, motiveringspraatjies te lewer en sy gemeenskap te dien.

In 2006 is ‘n ander voormalige basketbalspeler, “Vinnige Eddie” Johnson, gearresteer vir seksuele teistering en diefstal. Van die nasionale media wat regoor die VSA daaroor berig het, het foutiewelik aangeneem dat ons held, Edward Johnson van Phoenix, die kriminele dade gepleeg het. Sy telefoon het onophoudelik begin lui. Bure en vriende was gou om hom te vertel hoe teleurgesteld hulle met hom was.

“Wat my die meeste teleurgestel het, was dat mense gretig was om aan te neem ek het hierdie dinge aangevang, en my geesdriftig aangeval met ‘n venyn wat ek nie kan verstaan nie,” het Johnson later in ‘n onderhoud gesê. “Dit is die vurige aanvalle wat maak dat ek snags rondrol in my bed. Dit is die bitsigheid wat my dwing om soveel kere en op soveel maniere as mootlik in die openbaar te sê: ‘Skaam julle, dit was nie ek nie.'”

Grafika: Borsbeeld van Alfred Nobel,
This photo was taken on December 19, 2007 by Carlos Bryant.
Creative Commons Licensed

Jesus loop in die openbaar deur

In ons teksgedeelte eis die Skrifgeleerdes en die Fariseërs om ‘n wonderteken van Jesus te sien.

Hierdie eis kom na afloop van ‘n aantal heftige strydgesprekke waarin die Fariseërs en die Skrifgeleerdes hulle bes gedoen het om Jesus se reputasie te vernietig en ‘n veroordelende grafskrif vir Hom te skryf:

  • Dit begin met die Sabbatsgebod wat die dissipels van Jesus blykbaar oortree, en waaroor Jesus dan aangevat word (12:1-8)
  • Jesus genees ‘n man se gebreklike hand op die Sabbat, tot ergenis van die aanwesiges wat ‘n klag teen Jesus wou kry (12:9-14)
  • Jesus genees ‘n man wat blind en stom was, wat die omstanders laat vra of Hy die Seun van Dawid is – maar die Fariseërs skryf dit toe aan die mag van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste (12:22-32)
  • In die middel van die stryd besluit die Fariseërs om Jesus dood te maak. Die aandrang om ‘n teken van Jesus is daarop gemik om Hom in ‘n posisie te plaas waar hulle van Hom ontslae kan raak. Jesus sal moet bewys dat Hy van God kom, en die Fariseërs en Skrifgeleerdes dink hulle weet wat die uitslag gaan wees.
Stryd om oorlewing

Jesus is in niks minder as ‘n publieke stryd om oorlewing gewikkel nie. Sy opponente wil Hom as ‘n afwykende persoon etiketteer, en Hom dan met die gemeenskap se sanksie om die lewe bring.

Jesus se verweer is:

  • Hy dryf duiwels deur die Gees van God uit. As Hy die Satan deur die Satan uitdryf, sal die ryk van Satan nie bly staan nie. Hy doen dit deur die krag van God, daarom verteenwoordig Hy die regering van God wat deur sy werke tot by die gemeenskap gekom het (12:35-28).
  • Sy kritici speel met vuur as hulle die werk van God aan die duiwel toeskryf – wie God se werke bewustelik duiwelswerk noem, kan so lank dit gebeur nooit in die regte verhouding met God kom nie (12:31-32).
  • Aangesien ‘n boom aan sy vrugte geken word, bewys die bose en nydige optrede van die Fariseërs en Skrifgeleerdes waarvan hulle harte vol is (12:33-36).
  • Dit alles dui daarop dat sy kritici van ‘n slegte en afvallige oorsprong is (12:39).
Wie bring ware rus?

Al die stryd en twisgesprekke gaan oor die vraag: Wie en wat bring ware rus, genesing en hoop vir mense? Wie bring die ware verlossing? Wie dra egte vrugte van vrede?

Jesus bring hoop, genesing, geregtigheid en vreugde deur sy optrede. Hy genees siekes, wek dooies op, en maak mense vry van bande wat hulle bind. Hy verskaf die ware rus.

Rus, die Sabbat, staan sentraal in die stryd. Vir die Fariseërs was die Sabbatdag heiliger as die ander dae. Hierdie heiligheid is deur streng wette beskerm, wat beteken het jy mag nie reis nie, nie vuurmaak nie, ook nie genees nie. Om koring op hierdie dag te pluk, of ‘n gebreklike of melaatse aan te raak, was ook ‘n oortreding van die heiligheidsreëls. Jesus tas die godsdienstige waardes waarop die samelewing gebou en bestuur word, aan. Vandaar die heftige weerstand.

Vir die Fariseërs kan jy net deur die Bose geïnspireer wees as jy die heiligheidsreëls oortree. Daarom moet jy uit die weg geruim word.

Daarteenoor sê Jesus op ‘n aangrypende manier dat Hy die bron van ware rus is. Onmiddellik voor die geweld van Matteus 12 losbars, nooi Jesus mense op ‘n duidelike manier in God se rus in:
Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.
My juk is sag en my las is lig.”

(Matt 11:28-30)

Wanneer Jesus hierdie rus prakties begin bedien, is die hel los. Aangesien Jesus klaarblyklik God se reëls oortree, kan Hy nie van God kom nie. Dieselfde wette waarmee mense oorlaai is en waardeur hulle uitgeput is, die swaar juk wat hulle moes dra, en wat nie bevryding van siekte, ellende en honger kon bring nie, word die rede waarom Jesus doodgemaak moet word.

Die Fariseërs kon nie sien dat hulle geen rus bring nie. Die Sabbat gaan juis om God se genade, sê Jesus (12:7). Jesus leef vanuit God se barmhartigheid en trek mense onder die beskerming van die omgee-genade van God in. Daarom kan die dissipels maar op die Sabbat koringare pluk, en genees Jesus op die Sabbat. Op die manier bring sy werk op die Sabbat juis die rus vir mense waarvoor die bedoel is.

‘n Teken

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs vra ‘n wonderteken. Die teken het met ‘n paar dinge te doen:

  • Hulle wil weet of Jesus gesag het om te doen wat Hy doen;
  • Hulle probeer ‘n gat vir Jesus grawe;
  • Hulle soek bewyse dat Jesus eintlik nie in die Naam van God optree nie.

Jesus antwoord: hulle sal die teken van die profeet Jona kry. Soos Jona drie dae en drie nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal die Seun van die Mens drie dae en nagte binne-in die aarde wees.

In die Hebreeuse mitologie het die reis na die wêreld van die dood drie dae en nagte geneem. Jona moes dus na drie dae en nagte in die maag van die vis dood gewees het. Hy het lewend anderkant uitgekom en God se boodskap na Nineve geneem. Op dié manier het daar bekering, lewe en hoop vir die mense van Nineve gekom.

Só sal Jesus se sterwe, weens die weerstand teen sy woorde en werke, en die Vader wat Hom na drie dae uit die dood opwek, vir die Jode die teken wees dat Hy God verteenwoordig. Sy wonde en dood sal lewe bring.

Verstommend genoeg het die mense van Nineve dadelik op Jona se boodskap gereageer en hulle aan God se regering georiënteer. Selfs die koningin van die Suide (Skeba), het positief op God se woorde deur Salomo gereageer. Nie-Jode, heidene, kon God se stem eien. Die Joodse godsdienstige leiers van Jesus se tyd kry God soveel helderder te sien in die gesig, woorde en werke van Jesus. Jesus is groter as Jona en Salomo. Maar hulle kan nie hoor nie. Hulle kan net opponeer.

Die Joodse leiers gaan egter bloot die teken van Jona ontvang. Tekens gaan nie die deurbraak bring nie. Jesus se voortgesette lering en werke van herstel en genesing bly die uitnodiging om God raak te sien, en by God se werk aan te sluit. Dit is genoeg.

Verblinding en hardhorendheid

Die Skrifgeleerdes en Fariseërs teken ‘n skrikwekkende prentjie van verblinding en hardhorendheid. In ‘n roerende toneel in Matteus 13 praat Jesus met sy dissipels en verduidelik hoe sy lering daarop gemik was om oë en ore te open om God se werke raak te sien (13:10-17). Die leiers het egter hulle oë toegeskroef en hulle ore toegedruk.

Is ons dalk ook só?

Toepassing

Een: Uitnodiging
Jesus se geboorte, lewe, lering, werke, sterwe, opstanding en hemelvaart is God se uitnodiging aan ons. God nooi ons uit om in Jesus lewe en genesing te vind. Jesus red ons van onsself, Hy raak ons aan en genees ons, Hy plaas ons op God se koers en gee ons hoop. Hy kan dit doen want Hy kom van God en alle gesag in die hemel en op die aarde is aan Hom gegee.

Eugene Peterson vertaal hierdie uitnodiging op ‘n wonderlike manier in sy Message:

“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest.

Walk with me and work with me–watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you.

Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”

Peterson skryf elders dat Jesus ons nie in die eerste plek sover wil kry om iets te doen nie, maar ons in gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees wil intrek. Hy wil ons help om volgens God se ontwerp te lewe. So leer ons nuut lewe.

Mens snap die ware lewe nét as jy weet dat God jou elke oomblik van elke dag met hierdie uitnodiging vergesel. Dit vra ‘n radikaal nuwe verstaan van die lewe, die wêreld, van God self, en van jouself.

Hiervan gaan jy niks in die koerant lees of op die TV-skerm sien nie. Jy moet – vanuit ‘n lewende, verruimde verhouding met die Gestuurde van God – self vernuwe word. Dankie tog: hiertoe is daar ‘n staande uitnodiging van Jesus.

Twee: Ons eie verblinding

Die geweld waarmee Jesus se opponente sy reputasie wil vernietig en sy grafskrif wil skryf, word gebore uit godsdienstige entoesiasme wat blind en in die wind slaan. Daarom is dit so gevaarlik. Hulle is op ‘n missie met – dink hulle – God se momentum agter hulle. Hulle is opreg, maar totaal verkeerd en mislei.

Tot vandag toe val die kerk van die Here maklik in hierdie strik van misleiding. Ons kan ander etiketteer en afskiet, en dink ons doen God se werk. Intussen weerstaan ons God se werk.

Wat beteken Jesus se bediening vir die manier hoe ons die volgende sien (om net ‘n paar voorbeelde ten noem):

  • Slagoffers van MIV/Vigs. Vir baie gelowiges kry mense bloot wat hulle verdien as hulle MIV-positief toets. Ons het ‘n verruimde verstaan vanuit Jesus se bediening nodig. Baie mense is inderdaad slagoffers hiervan. Maar ook diegene wat dit met losbandigheid “oor hulself gehaal het” moet eerstens in terme van God se liefde en genade benader word.
  • Christene uit ander geloofstradisies. Baie gelowiges kan ander kerke en gelowiges net met suspisie en gevoelens van beterweterigheid bejeën. Die Joodse godsdienstige leiers kon net hul weergawe van gehoorsaamheid aan God as reg eien. Hulle kon nie verras word deur God se teenwoordigheid in Jesus nie.
  • Godsdienstige reëls versus menslike nood. Jesus slaan hongerpyne, ‘n gebreklike hand en ‘n verskeurde lewe hoër aan as godsdienstige reëls. Die gebruike rondom die Sabbat moet buig voor God se passie vir mense in nood.
Drie: Teken van Jona

Ons leef in ‘n stukkende wêreld. Daarom moet ons Jesus se uitnodiging na ‘n alternatiewe manier van lewe in hierdie wêreld so ernstig opneem.

Die teken van Jona is ook vir ons gegee. Dit is ‘n teken van hoop.

Jesus hét op menslike vlak die stryd teen die Fariseërs en die Skrifgeleerdes verloor. Hulle hét Hom doodgemaak. Sy reputasie is vernietig. ‘n Gehate Romeinse amptenaar het sy grafskrif geskryf, bo sy kop teen die kruis vasgespyker.

Jesus was drie dae in die aarde.

Maar God het Hom opgehelp uit die dood. Die graf is leeg. Hy lewe. En Hy is hoog bo alle magte opgetel tot aan die regterhand van God, van waar Hy regeer oor alles, en weer sal kom om alles nuut te maak.

God het die gebreekte Jesus lewend gemaak. Geen situasie is so dood, geen reputasie so vernietig, dat God dit nie lewend kan maak nie.

Dis nie godsdienstige reëls wat belofte inhou nie. Dis die lewende Here Jesus aan die regterhand van God die Vader wat hoop gee. Deur volgens Jesus se koers te lewe kry ons ‘n nuwe grafskrif vir ons eie lewens. In Hom kry ons ‘n reputasie wat die aanslae kan weerstaan.

Ons word genooi om met ons lewens koers agter hierdie hoop aan in te slaan. Ons skep nie self die hoop nie. Ons ontvang dit soos ‘n geskenk. In Jesus kry ons ‘n toekoms. Hy maak alles nuut.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.