Dertiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die narratief van die Christelike lewe word vandag in die liturgie vertel en beleef met verwysing na die breuk wat ongeloof en twyfel in die geloofsgemeenskap bring. Die Skrif roep almal terug na die fondament van geloof, naamlik die gawe van die Vader in Jesus Christus (Joh 6:65). Die erediens se vertrekpunt en onderbou is ‘n gebed soos dié van Salomo (1 Kon 8). In gebed en aanbidding, volgens hierdie tempeltradisie, roep die Heilige Gees die gemeente na gelowige deelname aan die lewe van Jesus Christus soos dit in die nagmaal gesimboliseer word. Die “nuwe” narratief  is van ‘n kerklike lewe wat steun vind in Christelike waardes en praktyke soos dit in Efesiërs 6 beskryf word.

Ander tekste

1 Konings 8:(1, 6, 10-11), 22-30, 41-43;
22Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe 23en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog ’n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. 24U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul.

25“Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: ‘Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees, mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.’

26“God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar, my vader Dawid, gemaak het, ook verder vas staan.

27“Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!

28“Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. 29Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat ’n dienaar van U na hierdie plek toe bid. 30Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog!

41–42“Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit ’n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. 43Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.

Psalm  84;
84 Vir die koorleier: met musiek. Van die Koragiete. ’n Psalm.
2Hoe lief het ek u woning,
Here, Almagtige!
3Ek versmag van verlange
na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel
oor die lewende God.
4Selfs ’n mossie het ’n nes
en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies
daar by u altare,
Here, Almagtige,
my Koning en my God!
5Dit gaan goed met mense
vir wie u huis ’n tuiste is:
hulle hou nie op om U te prys nie.
6Dit gaan goed met mense
wat hulle krag in U vind
en graag na u tempel toe gaan.
7Vir hulle gaan daar fonteine oop
wanneer hulle deur ’n dorre laagte trek
en die vroeë reëns sy seëninge bring.
8Keer op keer ontvang hulle nuwe krag
totdat hulle voor God in Sion verskyn.
9Here, almagtige God, hoor my gebed,
luister tog, God van Jakob!
10Sien tog om na die koning,
ons beskermer, o God;
hou u gesalfde onder u sorg.
11Waarlik, één dag in u tempel is beter
as duisend daarbuite.
Ek staan liewer by die drumpel
van die huis van my God
as om te woon in huise sonder God.
12Die Here God is ons krag
en ons beskerming,
die Here gee genade en eer,
Hy weerhou die goeie nie
van dié wat reg lewe nie.
13Here, Almagtige,
dit gaan goed met die mens
wat op U vertrou!

Efesiërs 6:10-20
10Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

18Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. 19Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. 20Ter wille van hierdie evangelie is ek ’n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.

Fokusteks

Johannes 6:56-69
Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie
41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’  Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ‘n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

52Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”
53Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank.

56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. 57Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. 58Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.”
59Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het.

Ongeloof en geloof onder die dissipels van Jesus
60Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

61Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? 62Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? 63Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. 64Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.”

Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai.

65Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

66Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. 67Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

68Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. 69En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

70Jesus het daarop vir hulle gesê: “Het Ek nie self julle twaalf uitgekies nie? En een van julle is ‘n duiwel!”

71Hy het Judas die seun van Simon Iskariot bedoel, want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.

Ekstra stof

Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou
‘n Mens sien in hoofstuk 6-7 hoe ‘n digte verhaal Johannes vir ons vertel – alles het met alles te make.  Die verhaallyn is as volg:

  • Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig – 6:1-15.
  • Jesus loop op die see wat ‘n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels – 6:16-21.
  • Jesus verduidelik dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus – 6:22-40.
  • Die Jode verstaan nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.
  • Jesus leer die mense by die huttefees dat Hy die Christusis, dat Hy moet ly, maar die Gees sal gee vir elkeen wat in Hom glo – 7:10-39.
  • Dit lei tot verdere meningsverskil oor Jesus en ongeloof by die Joodse leiers – 7:40-52.

6:1-15: Die verhaal van die broodvermeerdering word in al die evangelies vertel, wat aandui dat dit ‘n belangrike perspektief op Jesus se bediening gee (Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17), soos Jesus inderdaad die volgende dag uitspel. Dit vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die groot gevolg wat agter Jesus aankom, is veral daar omdat hulle die wondertekens gesien het.  Onthou egter wat in 2:23-25 al gesê is:  Jesus “verlaat” Hom nie op mense wat in Hom glo, omdat hulle die wondertekens gesien het nie.  In vers 66 sien ‘n mens dat hierdie selfde volgelinge Hom verlaat omdat volgelingskap te veel van hulle vra.  Jesus verlaat Hom dus nie op hulle nie, want Hy weet dat hulle ‘n geloof het wat uit hulleself kom, iets wat altyd die potensiaal het om tot niet te gaan.  Dit is net die geloof wat God gee, wat vir altyd hou, soos reeds in die gesprek met Nikodemus aangeroer is.

Let op die verskillende reaksies van die dissipels op Jesus se versoek dat hulle die menigte kos gee.  Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie.  Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk, met daardie seuntjie se 5 garsbroodjies en 2 vissies om die wonder van die broodvermeerdering te laat gebeur.

Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40 – vgl vers 30 vv) en die kwartels (Eks 16:13), wat sy goddelikheid bewys – die skare weet nou dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).  Daarom word dit ook ‘n wonderteken genoem.  Daar bly ook 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

6:16-21: Die dissipels keer terug na Kapernaum en beleef ‘n verdere wonder dat hulle in die onstuimige see vir Jesus na hulle toe sien aangeloop kom op die water.  Hulle vrees word deur Hom besweer en hulle kom saam aan die oorkant aan.  Dié wonder word as een van die sewe gereken, hoewel die woord wonderteken nie hier voorkom nie.

6:22-40: Dit word egter duidelik deur die skare as ‘n wonder ervaar – om die waarheid te sê, dit is waarskynlik presies ter wille van hulle wat die wonderteken gedoen is, sodat Jesus met hulle verder kon gesels oor die betekenis van die wonder van die broodvermeerdering, soos Hy dan inderdaad ook doen.

Jesus wys hulle dan daarop dat hulle die gevaar loop om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Hulle moet eerder fokus op die Wonderdoener, Jesus, en in Hom glo, want Hy kan vir hulle ewige lewe gee, Hy is die Brood wat lewe gee.  Daardeur bekom hulle die ewige lewe met die laaste dag se opstanding.

6:41-59: Let op hoe die Jode (op die sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum – vers 59) nie die verband getrek kry tussen Jesus se aardse en sy hemelse afkoms nie, soos Nikodemus vroeër.  Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.

Die Jode wys hulle weerstand teen God se lering deur konsekwent Jesus se lering mis te verstaan.  Dit terwyl Jesus hier eintlik oop kaarte met hulle speel en van sy naderende dood in terme van sy liggaam en sy bloed te praat, die tekens van die nagmaal (onthou, Johannes vertel nie vir ons van die “laaste avondmaal” nie, net van die voetewas-episode in Joh 13).

Dit is dié wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).

6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie.  ‘n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor.  Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees.  Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.

Die gevolg is dat ‘n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas, die seun van Simon Iskariot.  Geloof is inderdaad ‘n geskenk wat God gee!

Toepassing

  • Die vraag is seker vir vandag: hoe weet ek dat ek ‘n geloof het wat God gegee het?  ‘n Baie belangrike vraag!
  • Die antwoord lê in die paradoks van vers 35 en 65: “Wie na My toe kom … niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”
  • Geloof lê aan die een kant in die keuse wat ek vir Jesus maak … EN aan die ander kant getuig my keuse van die geloof wat God vir my gegee het.  Ek glo, omdat God geloof vir my gegee het.
  • Albei kante van die paradoks is nodig, maar God se kant van die paradoks is die primêre oorsaak van die geloof wat ek in myself ervaar.  Daarom kan ek God net dank vir geloof, en nie daarop roem nie, asof ek beter is as hierdie Jode of dissipels nie.
  • Geloof is om vas te gryp aan God, al kan jy niks daarmee verdien en niks daarmee regkry nie … maar vertrou dat God dit kan gebruik, God dit waar kan maak.  Soos ‘n Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”
  • Ek dank die Here dat Hy my keuse vir Hom aanvaar het, en ek daaruit kon agterkom, dit is al die tyd HÝ wat my na Hom toe getrek het.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 253 of Lied 158

Votum: Psalm 84:2-5

Seëngroet

Lofsang: Psalm 84 of Lied 514

Riglyn vir die lewe: Efesiërs 6:10-20

Toewyding: VONKK 58 of Flam 123 of Lied 513

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 6:56-69

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 583 vers 1

Seën: Psalm 84:12-13

Respons: Flam 386 of Lied 313

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 253 “U het die brood gebreek” (as julle dit nie verlede week gesing het nie) of
Lied 158 “Bring my na u woning, Here”

Votum: Psalm 84:2-5
2Hoe lief het ek u woning,
Here, Almagtige!
3Ek versmag van verlange
na die tempel van die Here;
met alles wat ek is, wil ek jubel
oor die lewende God.
4Selfs ’n mossie het ’n nes
en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies
daar by u altare,
Here, Almagtige,
my Koning en my God!
5Dit gaan goed met mense
vir wie u huis ’n tuiste is:
hulle hou nie op om U te prys nie.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 84 (kan ook as toetredelied gesing word) of
Lied 514 “Ek weet vir seker”

Riglyn vir die lewe
Efesiërs 6:10-20
10Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

14Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

18Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. 19Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. 20Ter wille van hierdie evangelie is ek ’n gesant in boeie. Bid dat ek dit met vrymoedigheid kan verkondig soos dit my opgelê is.

Toewyding
VONKK 58 “Ons Vind Ons Krag In Die Here” of
Flam 123 ‘Wapenrusting” of
Lied 513 “Soek in God jou sterkte”

Geloofsbelydenis
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit: Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2010 deur Bybel Media)

Liedere

VONKK 58 “Ons Vind Ons Krag In Die Here”
Nav Jeremia 17:7   Teks: Neelsie van Zyl 2007 © Melodie: NEELSIE – Neelsie van Zyl 2007 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)  Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)   RUBRIEK:  Kontemporêr – Geloof en Vertroue, Uitsending

Ons vind ons krag in die Here –
op Hom sal ons vertrou,
op Hom sal ons vertrou.
Ons vind ons krag in die Here –
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra,
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra.

F123. “Wapenrusting”
(RUBRIEK: Flam – geloof en vertroue, diens en getuienis)  Teks en musiek: Louis Brittz © Brettian Publishers

Refrein:
Ons dra die gordel van waarheid
en die harnas van vryspraak
en die skoene van bereidheid
om die boodskap uit te dra.
Ons dra as helm verlossing
en die Woord van God as swaard
en vir altyd die geloofsoog
totdat Jesus ons kom haal.

1. Ons stryd is nie teen vlees nie
maar teen magte in die lug.
God gee sy wapenrusting
dat die vyand weg sal vlug
van die krag in sy dissipels
met die wapenrusting aan.
En gewapen met die waarheid
teen die bose kan bly staan.

Refrein:

2. Vind jou krag net in die Here
vra dit van Hom dag na dag.
En doen dit alles biddend
deur die Gees van God tot krag.
Wees waaksaam, bid gedurig
trek jou wapenrusting aan
sodat jy soldaat vir Christus
na verlorenes kan gaan.

F386. “Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou Vervul (Benedictus)”
(RUBRIEK: Flam – Seënbede) Teks: Neil Büchner   Musiek: Neil Büchner © Flam Musiek-Uitgewers  (Rom 15:13)

Mag die God van hoop
deur geloof jou vervul
met alle vreugde en vrede
sodat jou hoop
sterker kan word
deur die krag van Sy Gees.

Tweede:
Laat dit so wees: Amen.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 6:56-69

Familie-oomblik

As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy die “brood van die lewe” beeld uitpak.  Verduidelik hoe ons kos nodig het om te leef.  Verwys dan na ander goed wat mense sê vir hulle soos kos is.  Musici (dalk kan jy na jul kerkmusikante verwys?) sal bv sê dat musiekmaak hulle kos is.  Laat die kinders ander soortgelyke goed  identifiseer:  sport, natuur, ens.  Johannes sê om Jesus se ken is die brood wat die lewe die moeite werd maak.

Gebruik “flashcards” – die tipe wat mens gebruik wanneer jy begin lees.  Wanneer ‘n mens begin lees, is dit nie altyd maklik nie.  Mens verstaan nie alles dadelik nie.  So het mense in Jesus se tyd nie alles wat hy gesê het, dadelik verstaan nie.  Party het selfs opgehou om hom te volg.  Gesels oor hoe ons soms sukkel om aan te hou om Jesus te volg, soms aan die begin van die jaar volstoom wegtrek en elke Sondag kerk toe kom, elke dag Bybel lees… maar dan raak dit moeilik.    Verwys dan na die dissipels wat gesê het Jesus se woorde is vir hulle lewe.  Sluit weer aan by die “flashcards” en moedig almal aan om te volhard.

Preekriglyn

Al vier evangelies vertel van die groot skares wat Jesus van die begin van sy openbare optrede af gevolg en as volgelinge by Hom aangesluit het. Daarna breek die tyd aan dat baie van hierdie mense Hom verlaat en selfs teen Hom draai. Daar is verskillende redes:

  • Jesus het nie aan hulle Messias verwagtinge voldoen nie.
  • Hy was nie die groot leier wat die juk van Rome sou afgooi nie.
  • Hy sou nie die koninkryk van Israel weer oprig nie. Hulle wou Jesus koning maak (6:15). Hy het dit nie toegelaat nie.
  • Jesus het ‘n geestelike koninkryk verkondig. Hy het die Messias aangewys as die een wat die lydensweg moes gaan.

Dit het die mense ontnugter en hulle het weggegaan.
Johannes beskryf ‘n meer spesifieke draaipunt in die gang van sake. Die keerpunt was die aansprake wat Jesus oor Homself gemaak het. Hy is die Seun van God wie se vlees geëet en bloed gedrink moes word om die ewige lewe te verkry. Dit was te erg vir die meeste van die volgelinge. Dit was “harde woorde” wat onaanvaarbaar en onuitvoerbaar was. Die eintlike grond vir hulle weggaan, was nie Jesus se eise nie, maar die ongeloof in hulle harte dat Jesus werklik die Here is.

Selfs Jesus se dissipels mor

Kort tevore in Joh. 6 was dit die Jode wat oor Jesus se woorde gemor het (41). Nou, in ons teks, mor Jesus se eie dissipels (60v).

Jesus vra hulle of sy woorde hulle afskrik? Die Grieks kan ook vertaal word dat Jesus vra of sy woorde hulle “oor ‘n struikelblok laat val” en of “dit hulle tot sonde verlei”, of “hulle aanstoot laat neem”. Hy vra eintlik of sy woorde hulle van die regte weg laat afdwaal. Dit blyk dat hulle so dink. Dit lyk asof Christus self die reaksie van die volgelinge nie heeltemal vreemd vind nie. Tog doen Hy niks daaraan om die hardheid of die aanstootlikheid daarvan weg te neem, of om dit anders te stel nie.

Die ergernis met Jesus se woorde is wesenlik noodsaaklik. Dit kom voor waar mense hulle bevind op die grens van die goddelike en die menslike. Waar God neerdaal, en mense opsoek, ja, waar mense in hulle soeke na God by God uitkom, is Wie God in Jesus is dikwels vir mense te veel, raak hulle verward, raak die prys te hoog, en draai hulle verward weg.

Die aanstoot gaan nie net oor die eet en drink van die liggaam en bloed van Jesus nie. Die Jode het dit sekerlik ook figuurlik verstaan. Waaroor gaan die ergernis dan?

Aanstoot aan die kruis

Die tema van Jesus se dood ontvang besondere klem in hierdie gedeelte (ook in 6:64, 70, 71). Die implikasie daarvan is dat die volgelinge ook, soos Jesus, bereid moet wees om hulle lewe op te offer. Jesus bly immers in hulle.

Dit kan ook ‘n rede wees waarom sommige van Jesus se eie volgelinge nie by Hom wou bly nie. Nie net “die Jode” (52) kla oor die opoffering om in Jesus te deel nie, maar ook Jesus se dissipels. Hulle voel beledig deur Jesus se taalgebruik, sy beeldspraak en metafore. Ons word herinner aan Paulus se “struikelblok van die kruis” (Gal 5:11), dat die woord van die kruis dwaasheid en onsin is vir dié wat sterwend is (1 Kor. 1:18).

Jesus wil in vers 62 weet: As die dissipels oor hierdie woorde van Hom struikel, wat sal hulle doen as Hy weer opvaar, d.w.s. teruggaan vanwaar Hy kom? Jesus is die Seun van God wat as mens onder die mense kom leef het. Hy is ook die Seun van die mens van Daniël 7:13 wat in heerlikheid op die wolke sal verskyn, nadat Hy teruggegaan het.

Die “opvaar” waarvan Jesus hier praat, is meer as net die hemelvaart. Vir die Johannesevangelie sluit Jesus se hemelvaart veel meer in. Sy hemelvaart begin met die feit dat Hy “opgehef” word aan die kruis (3:14; 12:42). So ‘n opheffing, of hemelvaart, is die grootste skande. Hoe afstootlik die taalkundige uitdrukking “eet vlees en drink bloed” ook al kan wees, hoeveel meer afstootlik sal die kruisiging van ‘n vermeende Messias wees! Die hele idee is verregaande. Dit grens aan godslasterlike onwelvoeglikheid en is ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke (1 Kor 1:23).

By Jesus se hemelvaart was net ‘n klein groepie saam met Hom wees wat dit sou sien. Wat al sy dissipels wel sal sien, is dat sy pad na heerlikheid deur die “oplig” aan die kruis en “opstaan” uit die graf en dan die hemelvaart sal gaan. As hierdie woorde nou vir hulle ‘n struikelblok is, wat sal sy lydensweg, die skande van die kruis, op pad na sy heerlikheid dan vir hulle wees?

Vir Johannes was die kruisiging nooit ‘n vernedering nie. Dit was die triomf van Jesus op pad na sy oorwinning oor die dood, sodat sy mense kan lewe! Die kruislogika bly egter vir mense vreemd. Net die wat deur die geskenk van geloof in Jesus is, kan hierdie logika verstaan.

Genooi om te deel in sy dood

Wanneer Christus ons nooi om sy vlees te eet en sy bloed te drink, nooi Hy ons om deel te neem aan sy dood. Hoe kom dit goeie nuus wees vir al die mense wat op hierdie stadium agter Jesus aan loop, omdat Hy brood gee? Wanneer Jesus se werklike identiteit en roeping na vore kom, die Een wat vir ons gebreek word, draai mense weg. Die evangelie van ‘n gebreekte liggaam en gestorte bloed veroorsaak dat mense struikel. Hulle verstaan nie, want God se weë is nie ons weë nie. Ons wil nie die wêreld red deur swakheid nie, maar deur krag. Ons sal nie kies dat God se Seun in ‘n krip gebore moet word nie, maar baie eerder in ‘n paleis. Ons sal nie ‘n kruis kies nie, maar die swaard; ‘n klaskamer; mediese laboratorium; ryk liefdadigheidsorganisasie; gemeente of ander instrumente wat my die geleentheid sal gee om krag te gebruik en gesag uit te oefen.

Wat die Gees doen

Die verdere rede vir die aanstoot is dat daar nie rekening gehou is met die werk van die Heilige Gees nie. Volgens Johannes sal Jesus die Heilige Gees aan die dissipels gee op die eerste Paasfees (Joh 20:22), maar die Gees is reeds aktief werksaam. Die Gees het op Jesus neergedaal tydens sy doop (Joh 1:32). Jesus se woorde dra Gees en lewe aan die dissipels oor.

In vers 63 sê Jesus: “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens kan dit nie self doen nie.” Jesus stel die Gees teenoor die mens. Wie Jesus se woorde letterlik verstaan, met menslike logika, neem aanstoot. Om Jesus se aardse liggaam letterlik te eet, beteken niks nie. As dit reg verstaan word, kom dit van die Heilige Gees en bring dit lewe. Sy woorde spreek nie net van die ewige lewe nie. Dit kom saam met die vernuwende krag van die Heilige Gees en bring nuwe lewe vir elkeen wat dit gelowig aanvaar.

Aangesien Jesus se woorde van die Gees kom en lewe gee (63) moet dit nie weerstaan word nie, maar omhels word. Hiermee gryp Jesus terug na ‘n lyn wat reg deur die Ou Testament loop. Die lewe is in aansyn geroep deur die woord van God (Gen .1). In Deuteronomium 8:3 word aan die Israeliete gesê dat die mens nie van brood alleen sal lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Die Ou Testament sien die woord van God as werksaam, dit doen dinge. Juis daarom kan dit ook aanstoot gee. Die aanstoot beteken egter nie daar is fout met die woorde nie.

Die evangelie wat geen aanstoot gee nie, is soos ‘n chirurg met geen skalpel – met geen krag om te genees nie. Christus, waaragtig geopenbaar (verkondig), sal altyd aanstoot gee, behalwe vir die vrygespreektes. Die kruis sal altyd ‘n steen des aanstoots wees, behalwe vir die verlostes.

Jesus se woorde vra ‘n reaksie

Jesus se woorde kom van die Gees en gee lewe. Tog het dit nie dieselfde uitwerking op alle mense nie. Die mens kan niks bydra tot die ewige lewe nie. Tog moet ons na Jesus “kom”; Jesus in geloof aanneem. Ons word genooi om te kies vir die “eet” en die “drink” van Jesus se gawe aan ons.

Die feit dat sommige nie glo nie; is nie vir Jesus ‘n verrassing nie. Hy verklaar die verskynsel. Mens kan nie uit jou eie na Jesus kom nie. Hy kan dit alleen doen “as die Vader dit aan hom gee”. Die inisiatief lê by die Vader. Hy bring mense deur die Woord en die Gees na Jesus.

Baie dissipels draai weg

Die verduideliking in vers 62-63 stel nie die morrende dissipels tevrede nie, soos ook nie die morrende Jode nie (41, 52). Hulle verwerp die leringe van Jesus en verlaat Hom. Diegene wat ‘n “tydelike” koning wou hê wat vir hulle kos vir die liggaam sou gee, draai die rug op die ewige Koning se Seun as Hy vir hulle die koninklike banket met ware voedsel vir die siel wil voorsit.

“Wil julle nie ook weggaan nie?”

Wanneer baie van die dissipels Jesus die rug toekeer, vra Hy aan die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

Hier word vir die eerste keer in die evangelie van “die twaalf” gepraat. Dit is die kern van die dissipelkring. Hierdie twaalf word nou uitgesonder om ‘n beslissing te maak. Met die vraag word die dissipels voor ‘n keuse gestel. Hulle kan nie maar net outomaties bly by dit wat hulle vroeër besluit en bely het nie. Christus wil hulle voortdurend in hulle geloof en verhouding met Hom, herinner dat daar ander moontlikhede in die lewe is. Die geloof moet altyd ‘n keuse bly; ‘n voortdurende beslissing. Geloof mag nooit ‘n onaantasbare besit word nie. Geloof moet altyd nuut gevind word; nuut verkry word; altyd weer opnuut beleef word en dan in besonder as toevlug beleef word.

Petrus antwoord

Simon Petrus antwoord namens al twaalf. Van die ander elf dissipels kon dalk op die rand gestaan het om self weg te gaan saam met die ander wat geloop het. Deur sy vinnige optrede en die ondubbelsinnige verwoording van hulle geloof in Jesus, hou Petrus die klein groepie dissipels bymekaar.

Petrus antwoord met ontsag. Uit sy aanspreekvorm blyk dat hy Jesus werklik as Messias erken. Petrus gee met sy antwoord ook uiting aan sy soeke na ‘n Redder: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is” (68).

Petrus se weervraag, “na wie toe sal ons gaan,” (68) getuig van vele menslike probeerslae en ervaringe om verlossing en ‘n anker te vind. Asof hy wil sê: “Ons het probeer; ons het elders gesoek; maar kon niks of niemand anders vind nie!” Die antwoord op sy behoefte aan ‘n Verlosser het hy gevind in Jesus en in sy woorde wat van die Gees kom en lewe gee.

Drie belangrike stellings

Petrus se antwoord omvat drie belangrike stellings:
1. Daar is niemand anders om na toe te gaan nie. Hulle wat waarlik Jesus gesien en gehoor het, weet dat daar niemand soos Hy is nie (Jes 46:9; Hand 4:12);
2. Jesus se woorde gee aan die mens wat dit ontvang nou reeds die lewe van die nuwe wêreld wat kom;
3. Die vroeëre entoesiastiese belydenis van die dissipels het gegroei tot ‘n volwasse geloof in en kennis van Jesus Christus.

Die dissipels staan nou vas in die geloof dat Jesus die “Heilige van God” is. In die konteks van die evangelie as geheel is die “Heilige van God” die een wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld gestuur is (Joh 10:36). Hy bring sy sending tot die Godgegewe hoogtepunt as Hy Homself oorgee as offer vir die wêreld. Hy is die Heilige Verlosser. Die Twaalf bereik die hoogtepunt van hulle groeiende geloof en bely Jesus as die “Heilige van God”.

Ons geloof is ook ter sprake

Hierdie gedeelte gaan natuurlik nie net oor Jesus se dissipels van destyds nie. Ons geloof is ook ter sprake:

  • Dit bly vandag nog net so maklik om aanstoot te neem aan Jesus se woorde. Van die dinge wat Hy sê, kan vir ons maklik te veel raak. Veral as dit oor die dood, die bloed en die gebreekte liggaam van Jesus gaan. Die versoeking is om ‘n ouderdomsbeperking op die bloedstories te plaas, en dit dan te ignoreer. Ons sou dit makliker met iemand kon uithou wat mooi ideale voorstaan, as met die Seun van God wat sy lewe en sy bloed gee om ons te red.
  • Ons word aangemoedig om Jesus se woorde te glo en dit te omhels. Dit bring lewe en kom van die Heilige Gees. Die vermoë om nie aanstoot te neem nie, kom van die Gees. Verder sê Jesus niemand kan sy woorde omhels tensy die Vader dit gee nie. Die grond van ons geloof is nie onsself nie, maar die werk van Vader, Seun en Heilige Gees. Die terrein waarin ons geloof ingeplant is, is die lewe van die Vader, Seun en Heilige Gees.
  • Die weg van geloof is verbondenheid met Jesus. Dit beteken dat God se weg vir ons ook die weg van deelname aan Jesus se dood, sy opstanding en ook sy hemelvaart is. Die weg van dissipelskap is iets anders as moderne, Westerse ideale soos groot rykdom, roem of onafhanklikheid. Die pad van dissipelskap is om Jesus se leer na te volg, en deur Hom gelei te word om God as koning te erken en te dien.

Petrus se antwoord kan ons ook toeëien:

  • Ons het niemand anders om heen te gaan nie.
  • As soekers na lewe, weet ons daar is net Jesus, die Heilige wat van die Vader kom en deur sy Woord en Gees die hoop is op wie ons kan bou.
  • Jesus het die woorde wat die ewige lewe gee. Die volheid en oorvloed van lewe is alleen by Hom te vind.

Ons antwoord op Jesus se woord bepaal die sin van ons lewe: nou en ook na die dood. Jesus het immers die woorde wat lewe gee. Jesus is die Brood van die lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
As jy dit nie verlede week gebruik het nie, kan jy hierdie week die volgende gebed gebruik:
V: Here Jesus, U is die brood wat lewe gee.
U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat moeg en afgemat is.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat genesing vir stukkende verhoudings soek.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat sukkel met spanning in hulle lewe.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen vir wie geloof ’n moeilike stryd is.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat hulle dag ná dag met moeisame werk afsloof.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat heling soek vir ’n stukkende verlede.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat liggaamlik siek is.
V: Here Jesus, U is die brood wat lewe gee. Neem, seën, breek en deel Uself aan ons uit.

G: Neem, seën, breek en deel ook vir ons uit.
V: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
A: Amen.
(uit:  Wepener, Cas.  2011.  Soos ’n blom na die son draai.  Wellington, BybelMedia.)

Dankoffer

Slotsang
Lied 583 vers 1 “U het ek lief, U roep ek aan!”

Seën
(Dieselfde as verlede week)
Soos jy vanoggend die Brood van die Lewe ontvang het, gaan uit en voed dié wat honger is.
Soos jy vrygelaat is, bevry die gevangenes.
Soos jy ontvang het, gee.
Soos jy gehoor het, verkondig.
Die seën van die Vader, die Seun en die Heilige Gees sal altyd by jou wees.
Amen
(aangepas uit:  Wepener, Cas.  2011.  Soos ’n blom na die son draai.  Wellington, BybelMedia.)
OF
Psalm 84:12-13
12Die Here God is ons krag
en ons beskerming,
die Here gee genade en eer,
Hy weerhou die goeie nie
van dié wat reg lewe nie.
13Here, Almagtige,
dit gaan goed met die mens
wat op U vertrou!

Respons
Flam 386 “Mag Die God Van Hoop Deur Geloof Jou Vervul” (Benedictus) of
Lied 313 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.