Derde Sondag van Pase

Picture of Preekbundel

Derde Sondag van Pase

Oorsig

Sleutelteks

Handelinge 2:14a, 36-41
PETRUS SE TOESPRAAK
14Daarop staan Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe:
“Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig:

17” ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.
19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk
en tekens onder op die aarde:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal verander in duisternis
en die maan in bloed,
voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.
21Dan sal elkeen wat die Naam
van die Here aanroep, verlos word.’

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was ‘n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. 23Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. 24God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. 25Dawid sê immers oor Hom:
” ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien,
want Hy is aan my regterkant,
sodat ek nie wankel nie.
26Daarom juig my hart
en jubel my tong;
ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef,
27want U sal my siel nie aan Hades oorlaat,
en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.
28U het vir my die paaie
na die lewe bekend gemaak –
deur u teenwoordigheid
sal U my met blydskap vervul.’

29“Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. 30Omdat hy ‘n profeet was, en geweet het dat ‘God met ‘n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ 31het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê:
” ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat,
nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’

32“God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. 33Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. 34Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self:
” ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand,
35totdat Ek jou vyande
‘n voetbank vir jou voete
gemaak het.’

36“Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”

37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.” 40Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” 41Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg.

EERSTE GEMEENTE
42Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede. 43Almal is met ontsag vervul en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 44Al die gelowiges was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit. 45Hulle het hulle eiendom en besittings verkoop en aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het eensgesind volhard om die tempelterrein daagliks te besoek, aan huis die brood te breek en hulle maaltye met uitbundige blydskap en met opregte harte te geniet. 47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.

Ander tekste

Psalm 116:1-4, 12-19
Ek het die Here lief
116 Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede.
2Hy het na my geluister
toe ek Hom aangeroep het.
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.
12Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13Met ’n drankoffer
sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Vir die Here is die dood
van sy troue dienaars
geen geringe saak nie.
16Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vry gemaak.
17Ek wil U loof met ’n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19in die voorhowe
van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!
Prys die Here!

1 Petrus 1:17-23
Losgekoop met die kosbare bloed van Christus
17Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld. 18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig.

Weergebore deur die lewende en ewige woord van God
22Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God. 24Die Skrif sê:
“Die mens is soos gras,
en al sy prag
soos ’n veldblom;
die gras verdor en die blom val af,
25maar die woord van die Here,
dít bly vir ewig.” b
En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.

Lukas 24:13-35
Die Emmausgangers
13Op dieselfde dag was twee van hulle op pad na ’n dorpie met die naam Emmaus, twaalf kilometer van Jerusalem af. 14Hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat gebeur het. 15Terwyl hulle so gesels en gedagtes wissel, het Jesus self nader gekom en met hulle saamgeloop, 16maar hulle oë is verhinder om Hom te herken. 17Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”

Met somber gesigte gaan hulle staan, 18en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”

19Hy vra vir hulle: “Watter dinge?”
Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ’n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ’n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

25Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”

27Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

28Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.”

Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”

33Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

35Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.

Leesrooster vir Lidmate

Petrus getuig voor die mense oor wat hulle ervaar het op Pinksterdag daar in Jerusalem. Baie mense word geroer deur wat hulle hoor en beleef.

Moment 1
Die belofte van sondevergifnis en die Heilige Gees geld ook vir ons
Op Pinksterdag tref Petrus se woorde ‘n skare mense diep in die hart sodat hulle vra: “Wat moet ons doen?” Petrus se instruksie is dat hulle gedoop moet word. Dit is ‘n vernederende ritueel wat publieke sondebelydenis en bekering simboliseer. Die Jode het gereken dit is net nodig vir heidene. Tog reageer 3 000 Jode positief op Petrus se oproep tot bekering. Twee gawes word beloof: vergifnis van sondes en dat hulle die Heilige Gees sal ontvang. Dié belofte kom ook vir jou as geroepene toe (Hand 2:39) sodat jy vrygespreek en bemagtig sal leef.

Moment 2
Die kerk van Christus sit Jesus se werk voort
Die gebeure van Handelinge 2 verteenwoordig ‘n skarnier-moment in Lukas se tweevolume-narratief oor Jesus en die vroeë kerk. ‘n Mens sou kon sê waar die Heilige Gees tot hiertoe deur Jesus geleer en gedoen het, ontvang die kerk nou dieselfde Gees om voort te gaan met die onderrig en handelinge van Jesus. Jy het dalk nie noodwendig die bonatuurlike gebeure van daardie eerste Pinkster beleef nie. Besef tog steeds opnuut hoe jy wél, net soos die eerste bekeerlinge, geroep is tot nuwe lewe, toegerus is deur die Gees, ingesluit is in gemeenskap en gestuur tot getuienis.

Moment 3
Die Heilige Gees laat ons nuut leef
“God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!” (Hand 2:36). Die bekering waartoe Petrus die mense oproep in Handelinge 2, vra enersyds dat hulle hul rol in Jesus se kruisdood sal erken en andersyds dat hulle die knie voor Hom as Christus, opgestane Here, sal buig. Die redding waartoe hulle vervolgens opgeroep word (v 40), sou dus nie net vergifnis van hul sondes inhou nie, maar ook die gawe van die Heilige Gees – sodat hulle nuut kan lééf (Hand 2:42 ev). Hoe leef jy die redding wat Christus met Pase vir jou verseker het?

Moment 4
Ons omhels die dramatiese omkeer wat God bewerk het
Die vroeë kerkvaders het reeds uitgewys hoe Handelinge 2 op ‘n dramatiese manier Genesis 11 omkeer. Aardbewoners se toring-poging om op te klim hemel toe, die vloek van Babel, verwarring van tale en verstrooiing van mense versus die Gees wat hemel aarde toe bring, die seën van Pinkster, taalgrense wat oorkom word en mense bymekaarbring. Dink biddend hieroor wanneer jy volgende keer saam met jou geloofsgemeenskap aanbid. Van die geseënde skare is die kerk tot vandag toe deel, as voorsmaak van ‘n volmaakte nuwe skepping wat kom.

Ekstra stof

Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies
Die uitstorting van die Heilige Gees – 2:1-13
Die uitstorting van die Heilige Gees vind plaas op Pinksterdag, 50 dae na Jesus se kruisiging en opstanding op die Paasfees, en 10 dae na Sy hemelvaart. Pinksterfees was ‘n Joodse oesfees (Lev 23:15-16).

Die oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees is die teken dat Hy deur hulle die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis van Jesus, die Christus. Die vuur wat verdeel in tonge bevestig dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig dat dit vir alle mense bedoel is, soos ‘n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor. Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

Petrus se toespraak – 2:14-36
Petrus tree saam met die ander apostels op, hoewel net sy woorde deur Lukas weergegee word. En dit is interessant dat hierdie eerste preek ‘n drie-deling het, (wat in die volksmond as ‘n goeie dominees preek bestempel word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is.

Die groot aantal Ou Testament beloftes wat Petrus hier aanhaal en aandui dat dit hier vervul word, is opmerklik en bevestig dat wat gebeur in lyn is met wat God reeds openbaar het in die verlede. Let veral op dat Petrus die profesie van Joël verbind aan die werk en bediening van Jesus, met presies dieselfde woorde: wonders en tekens. Dit wil lyk asof die kosmiese beskrywings met sy kragtige dade verbind word of dit kan natuurlik ook op die eindtyd vervulling dui.

Petrus doen ook moeite om die Skrif se voorspellings aan die opstanding en die hemelvaart van Jesus te verbind en daarmee die band met die Skrif te bevestig.

Die eerste oes – 2:37-42
Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge! Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ‘n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ‘n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels).

Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ‘n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak.

Die eerste gemeente – 2:43-47
Wat vir my veral treffend is, is dat na die oorweldigende positiewe reaksie van die Jode, beskryf Lukas die werk van die apostels in dieselfde woorde as wat in die profesie van Joël gebruik word en met die bediening van Jesus in verband gebring word: wonders en tekens. Daarmee word twee goed gesê: 1) die dissipels sit Jesus se bediening voort in dieselfde krag en met dieselfde impak as wat Hyself dit gedoen het, en 2) die wonders het ‘n teken-funksie, dit wys heen na God en verheerlik Hom, en staan dus nie op hulle eie soos wat ‘n mens van ‘n towenaar sou verwag nie.

Ses geestelike gewoontes vorm hierdie eerste gemeente se lewenspraktyk: die leer van die apostels (didage) wat duidelik die Skrifte ingesluit het, die onderlinge verbondenheid (koinonia), die breek van die brood (eucharistie of nagmaal), gebede, byeenkomste in die tempel en gesamentlike etes. En al was die gemeente nie perfek nie – ons lees van ‘n hele paar probleme in hoofstuk 5 en 6 – bly dié ses dissiplines die kern van die lewe van ‘n gemeente.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord
Aansteek van die Christuskers

Aanvangslied: Lied 411 “Kom, almal, laat jul stem verrys!”

Aanvangswoord
Seëngroet
of
V: Die mens is soos gras en al sy prag soos ’n veldblom;
– uit Psalm 116:1-2

Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Verootmoediging

Skriflesing uit die fokusteks: Handelinge 2

Danksegging: Uit Psalm 116

Doopherinnering

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied: 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Handelinge 2:14a, 36-41

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 421 “Die Here Jesus lewe vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)|
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Laat verskillende mense op hierdie Sondae die Paaskers aansteek.

V: Gemeente, die Here het opgestaan!
G: Die Here het waarlik opgestaan!

Almal: Amen.

Aanvangslied
Lied 411 “Kom, almal, laat jul stem verrys!”

Aanvangswoord
V: Jesus is die goeie Herder.
G: Die goeie Herder lê sy lewe vir sy skape af.
Almal: Amen.
– uit Johannes 10:11

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van dié Jesus wat nie sommer enige skaapwagter is nie. Hy is ons goeie Herder. Hy ken sy skape en sy skape ken Hom.
– uit Johannes 10:14

maar die Woord van die Here, dít bly vir ewig.
Amen.
– uit 1 Petrus 1:24-25

Antwoord
V: Ek het die Here lief,
want Hy luister na my smeekgebed.
G: Hy draai sy oor na my,
solank as ek leef, sal ek Hom aanroep.

en
…. julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is. 20Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het Hy eers in hierdie eindtyd gekom. 21Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. (1 Petrus 1)

Danksegging: Uit Psalm 116
116 Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede.
2Hy het na my geluister
toe ek Hom aangeroep het.
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.

Doopherinnering
V: Die Here jou God vra vandag van jou om volgens sy voorskrifte en bepalings te leef en hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.
G: Ek sal die Here liefhê en my naaste soos myself.

V: Die Here verklaar vanoggend opnuut dat jy sy eiendom is en vra dat jy Hom sal gehoorsaam.

V: Wanneer jy vanoggend hier uitstap, raak aan die water. Weet dat God jou liefhet en gaan deel sy liefde met ander.
Die gedoopte lidmate kom dan vorentoe en steek hulle hande in die doopvont.
(Uit Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. BybelMedia, Wellington, p81)

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlee
en ’n ewige lewe.

Liedere

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Gebed)
Teks en musiek: Rick Moser © 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied,vol 2)

Koning van my hart,
koning van my lewe,
U wil ek bemin,
U lof besing vir ewig.
U het my bevry
my sondeskuld vergewe.
Koning van my lewe,
koning van my hart.

VONKK 94 “Ek Het Die Here Lief (Psalm 116)”
Teks: Jacques Louw 2009 © Melodie: INGRID – Jacques Louw 2009 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Geloof en Vertroue

1. Ek het die Here lief.
Dis Hy wat my verhoor.
Hy het na my geluister
toe ek bang was en benoud.

2. Ek het Hom aangeroep:
“Ag, Here, red my tog!”
Die Here is genadig.
Hy het Hom oor my ontferm.

3. My hart kan nou maar rus.
Die Heer is goed vir my.
Ek het in Hom bly glo
toe ek dag dis klaar met my.

4. Hoe sal ek Hom vergoed
vir weldade aan my?
Ek sal dan met my offers
van sy redding bly getuig.

Einde:

Ek wil met al my gawes
voor die hele volk getuig:
Die Here is my Redder.
Halleluja! Prys die Heer!

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Gebed om die opening van die Woord
G: Vir wie is God se Woord bedoel?
V: Vir julle en julle kinders en almal wat daar ver is,
almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.

G: Vir wie het God sy Gees gestuur?

– uit Handelinge 2:39

Skriflesing: Handelinge 2:14a, 36-41

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Carolyn Brown suggereer dat die preek van Petrus en die reaksie van die gehoor gebruik word as ‘n opvoering van die gebeure.

Haar voorstel is soos volg:
To bring this reading to life, set the scene at 50 days after Easter and either summarize or read verses 22-24 to flesh out Peter’s message about Jesus. One reader then reads Peter’s message from the pulpit. A second reader rises from the congregation to read how the crowd responded. This reader may be seated on the first row and turn to face the congregation or may be seated (probably with a radio mike) in the middle of the congregation rising to read in place.

Acts 2:14a, 22-24, 36 Reader in the pulpit
Acts 2:37-41 Reader rising from the congregation.

People responded to Peter’s message. They didn’t just listen, they did something. They believed and got baptized. It is a good day to walk children and the congregation through the believing rituals of your congregation – infant or believer’s baptism, confirmation, and such practices as first communion rites or Rite 13. Describe them and illustrate them by having a prepared person who has recently undergone each ritual stand as you describe it. In some congregations you may be able to ask the person to say briefly what was important about that ritual for him or her. Try to include people of all ages. (This may be helpful for many adult worshipers who are new to your traditions as well as lead children to look forward to their rites of believer’s passage.)

Aangeheg is die fokusteks uit
Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Petrus Praat oor die Heilige Gees
14–16 Terwyl al die mense daar in die kerk bymekaar was, het Petrus opgestaan. Hy het met die Jode oor die Heilige Gees* gepraat en gesê: “Ek wil bietjie vir julle verduidelik wat hier gebeur het. Luister nou mooi na my. Hierdie mense in die kerk is almal Jesus se vriende. Hulle is nie dronk nie.

36 “Nou kan ons almal weet: God het hierdie Jesus vir wie julle doodgemaak het, ons Here gemaak. Hy is ons almal se Koning. Net Jesus kan maak dat ons weer vriende van God word.”

Baie Mense sê hulle wil ook Vriende van God Word
37 Petrus het baie goed gepraat. Die mense het ook mooi geluister. Hulle vra toe vir Petrus en die ander vriende van Jesus: “Wat moet ons nou doen? Hoe kan ons ook God se vriende word?”

38–39 Petrus sê toe: “Julle moet ophou om verkeerde dinge te doen. Julle moet eerder vir God lief word. Dan moet julle ook gedoop* word. Mense sal dan kan sien dat God julle sy vriende gemaak het. God sal dan ook aan julle die Heilige Gees* gee. Enigiemand kan so ’n kind van God word. En God sal ook aan elke kind van Hom sy Heilige Gees* gee. God wil nie net vir ons so goed wees nie, maar ook vir julle. En Hy wil ook vir julle kinders goed wees, en vir almal wat Hom nou nog nie liefhet nie. God wil vir elke mens op die aarde die kans gee om sy vriend te word.

40 Petrus het nog lank met die mense gepraat. Hy het vir hulle gesê: “Moenie aanhou om verkeerde dinge te doen soos die mense rondom julle nie. God het julle lief. Hy wil hê julle moet sy vriende word.

41 Baie mense het gesien Petrus praat die waarheid. Hulle het alles geglo wat hy gesê het. Hulle besluit toe hulle wil ook Jesus se vriende word. Daarna is hulle gedoop*. Net op daardie dag alleen was daar drie duisend mense wat gesê het hulle wil ook Christene word. En so het hulle God se vriende geword.

Preekriglyn

Ons benader die waarheid dikwels met ‘n gesindheid van apatie en onverskilligheid. God praat en nooi ons uit, maar ons voeg nie daad by die woord nie.

Petrus was nie iemand wat sy woorde omgedraai het nie. In sy preek op Pinksterdag, met die uitstorting van die Heilige Gees, praat hy intens en dringend. Hy wil by die waarheid oor Jesus uitkom, en is nie juis taktvol nie. Heel reguit praat hy oor Jesus wat deur God aan Israel bekendgestel is, maar toe het “julle … Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak” (23).

Daar is werklik ‘n intense dringendheid in Petrus se woorde. Hoewel nie taktvol nie, fokus hy nie op verwyt nie. Die dringendheid het te doen met God wat beslissend in Jesus van Nasaret gehandel het. Petrus is intens oor God se werk in die wêreld: “God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak.” Die hele Israel moet dit nou vas en seker weet! (36)

Petrus se ernstige en intense woorde moraliseer of veroordeel nie. Dit verf die Israeliete nie in ‘n hoekie vas waaruit hulle nie kan kom nie. Dit spoor hulle aan tot aksie. Dit verg ‘n respons. Hulle moet iets doen met die beslissende en wonderbaarlike dade van God in Jesus Christus van Nasaret.

Doen nou iets daaraan!

Aangeraak

Petrus se passievolle fokus op God se werk dra vrug. By die aanhoor van sy woorde, is die mense diep getref.

Vroeër in Handelinge 2 ontmoet ons spotters en ongelowiges. Mense skryf die uitstorting van die Heilige Gees aan die vrug van die wingerdstok toe. Die Evangelies, en spesifiek die gebeure rondom Jesus se verhoor en kruisiging, is deurspek met spot en ongeloof.

Hier is dit anders. God wek Jesus uit die dood op, en stort die Heilige Gees met sigbare tekens uit wat die werk van God bevestig. Petrus getuig hieroor. Die inhoud van sy woorde is God se genadige betrokkenheid by die wêreld. Dit tref. Wat die rondswaai van ‘n plank nie kan vermag nie, doen die getuienis oor God.

Die mense vra presies die regte vraag: “Wat moet ons doen?” Hulle besef die dwaasheid en boosheid van die volk se ontoepaslike hantering van Jesus. Hulle besef hulle eie aandeel. Hulle erken dat Jesus die Here is, en verstaan die uitstorting van die Heilige Gees as God se lankverwagte belofte vir die wêreld.

Nou is dit tyd vir reaksie. Wat moet ons doen?
Petrus gee ‘n merkwaardige antwoord. Kom ons kyk na die verskillende fasette daarvan:

Kom tot inkeer!

Bekering word dikwels misverstaan, asof dit met menslike selfverbetering te doen het. Bekering is baie meer radikaal as dit. Bekering is ‘n heroriëntering van jou lewe, sodat dit in pas kom met wat God doen en vra. Louw en Nida beskryf dit só: “To change one’s way of life as the result of a complete change of thought and attitude with regard to sin and righteousness”. Beide ʼn verandering in leefstyl en optrede, sowel as in denke word gevra.

Die Griekse woord wat hier gebruik word, is metanoia. Daar is ook ander terme vir bekering in die Nuwe Testament, wat altyd beteken dat mens jou lewenswyse verander om dit in ooreenstemming met God se wil te bring. Jy ervaar ‘n volledige verandering in jou manier van lewe, jou denke, houdings en gewoontes.

Waar die luisteraars Jesus vroeër geopponeer het, Jesus verwerp en bespot het, God se werk in Jesus aan valsheid en bedrog toegeskryf het, breek hulle nou met hierdie ingesteldheid. Hulle buig voor Jesus, aanvaar Jesus as die openbaring van God, erken Jesus se leer as die wil van God, en begin Jesus se leer en voorbeeld na te volg. Hulle erken dat Jesus die weg na die Vader is, en dat Hy lewe, volheid en waarheid bring. God word deur Jesus Koning in hulle lewe en hulle wêreld. Skielik begryp hulle wat sonde is, toon berou, en wil lewe volgens God se geregtigheid. Dit is wat bekering is.

Soorte bekering

Daar is iets soos ‘n eerste bekering. Daarby is daar ook voortgaande bekering. Daar is ‘n eerste bewuswording van jou eie sonde en dwaasheid. Daar is die eerste deurbreek van die lig van God in jou lewe. En dan is daar voortgaande, daaglikse bekering, waar mens toenemend bewus word van die sonde in jou lewe. En waar jou toenemend jou lewe oorgee aan die doen van God se wil.

In elke gemeente is daar mense wat ‘n eerste bekering moet hê. Vir sommige is dit radikaal en ontwrigtend. Vir ander is dit ‘n rustiger bewuswording, en ‘n vanselfsprekende toewyding aan God by die besef van God se werk. Maar dit is in almal se lewe noodsaaklik, watter gestalte dit ook al aanneem.

Ons bekering getuig van God se voorafgaande werk in ons lewe. Ons bekering is altyd ‘n daad van reaksie op wat God reeds gedoen het. Mense wat kleintyd God se trou en genadebeloftes in die doop ontvang het, en deur gelowige verbondsouers opgevoed is, is bevoorreg om dikwels hul bekering as ‘n minder radikale gebeurtenis te beleef. Dit is ‘n bewuste oriëntasie en toeëiening aan ‘n lewenskoers waaraan hulle van kleins af blootgestel is.

Vir ander is bekering ‘n radikale koerswysiging, wat jou hele lewe heilsaam maar ingrypend raak. Dit gaan met skaamte en afgryse oor jou vorige lewe gepaard. Daar is nie reëls of slegs een patroontjie vir bekering nie. God se werk in mense se lewens kan nie in een metode ingeperk word nie. Hoe dit ook al sy, almal moet in ‘n bewuste oriëntasie aan die werk en wil van God lewe.

Doop

Waar bekering mens se reaksie op die werk en beloftes van God is, is die doop die bevestiging en toesegging van God se werk in jou lewe. Die doop is die aktiewe Godsgebeure waar God jou insluit in die sterwe aan jouself, saam met Jesus, en jou insluit die opwekking, saam met Jesus, tot ‘n nuwe lewe.

Die doop is God se bediening aan ons. Die handelende Subjek is God, nie ons nie. God sluit ons in by sy kerk, God maak ons nuut, God verenig ons met Jesus. Gedooptes is mense wat deelgekry het aan die nuwe lewe in Christus.

Verbondsouers hou vas aan die belofte van God dat die verlossing vir ons en ons kinders is. Daarom word kinders kleintyd al gebring sodat God se beloftes en God se reddende werk aan hulle beseël en betuig kan word. Ons kinders se doop laat hulle grootword met die vaste wete: God se beslissende werk in Christus is ook vir my. Verbondskinders word groot met die appèl: “Bekeer julle op grond van wat God reeds vir julle gedoen het!”

Gelowiges moet gedoop word, sê Petrus, want:

  • dit is God se bediening aan ons, wat ons inlyf in Christus se werk met ons
  • dit skenk aan ons vergifnis van sonde én die Heilige Gees as gawe van God (38)
  • dit sluit ons in by die gemeenskap wat God skep (39).

Die boek Handelinge plaas groot klem op die doop. Die doop is die aksie waarby bekeerde mense ingesluit word (en hulle laat insluit) by die liggaam van Christus, die geloofsgemeenskap op aarde. Hierdie handeling word steeds instandgehou waar volwassenes of jongmense van buite die kring van gelowiges tot bekering kom.

Dar is onlangs in ‘n gemeente in Port Elizabeth sewe volwassenes gedoop wat deur gemeenskaps­programme van die gemeente die evangelie gehoor, diep getref is, en hulle bekeer het. Na hulle doop, waardeur hulle in die kerk ingesluit is, is vier van hulle kindertjies daar en dan gedoop, om daarmee ingesluit te word by God se werk in ons lewens. Wat God belowe het, is immers vir ons en ons kinders…. (39). Hierdie toneel speel hom in baie gemeentes af, en behoort deel te wees van die normale bedieningspatroon van die kerk. Die doop van volwasse bekeerlinge behoort nêrens in ons kerk ‘n vreemde gesig vir lidmate te wees nie.

Gemeenskap wat God skep

Petrus beklemtoon dat “wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep” (39). Almal wat God na Hom toe roep, is ingesluit in die geloofsgemeenskap wat die gawe van die Heilige Gees ontvang.

God se roeping is vir verbondsmense – vir gelowiges, hulle kinders, en ook diegene wat nog “daar ver is” – diegene wat nog nie ingesluit is in geloofsgemeenskap nie. God se verlossingswerk in Christus, en deur die Heilige Gees, skep altyd gemeenskap. Hierdie gemeenskap is onbeperk in terme van generasie (“julle kinders” word ingesluit) en onbeperk in terme van tyd en geografie – “almal wat daar ver is”.

Feitlik almal wat vandag in Suid-Afrika in ‘n kerk sit tel onder diegene wat tydens Petrus se preek nog “daar ver” was. Baie van ons se voorouers was in Europa, die Ooste, of Afrika toe Petrus hierdie preek gelewer het. Die wonder van God se verlossing is dat dit grense oorsteek en mense insluit.

In lyn met die dringende en intense toon van Petrus se verkondiging moet ons opnuut hoor hoe belangrik geloofsgemeenskap is. Ons moet onsself bly gee vir God se kerk, ingesluit bly in geloofsgemeenskap. Al is die kerk hoe onvolmaak en vol barste en krake. Ons moet onsself gee, want ons is ingesluit deur die werk van God. Baie van die voortgaande werk wat God met ons en in ons doen, geskied juis wanneer ons in geloofsgemeenskap by die kerk is.

Redding

Petrus se dringende, intense aansporing bereik ‘n hoogtepunt aan die einde van sy preek: “Laat julle red tussen hierdie ontaarde mense uit” (40).

Die noodsaak van bekering, vergifnis, die ontvangs van die Heilige Gees as gawe, en insluiting by geloofsgemeenskap is dringend en intens. Daar is ‘n krisis in God se goeie skepping. Mense is ver verwyderd van God. Mense het ontaard. Dinge is nie reg nie. Mense is nie vanselfsprekend op koers nie.

Deur die werk van God se Seun, Jesus Christus, en deur die krag van die Heilige Gees, is dit egter vir mense moontlik om gered te word. Om los te kom van die verwoestende krisis waarin die mensdom beland het. Hierdie redding gebeur deur bekering as reaksie op God se werk, deur die handelinge van God in ons doop, en deur ons insluiting in die geloofsgemeenskap wat God skep.

Oor planke en besluite

Die storie word vertel van ‘n jong monnik wat raad by ‘n ou, ervare monnik gaan vra het. Die jong man wou graag ‘n heilige word, toegewy aan God, volkome ingestel op die wil van God, met ‘n lewe gefokus op dit wat God wil hê hy moet doen. “Ek bid en bid”, vertel hy die ou monnik, “maar niks gebeur nie. Wat moet ek nog doen? Wánnéér gaan dit eendag gebeur?”

Onverwags gryp die ou monnik ‘n plank wat daar lê en begin die jong monnik te jaag daarmee. Die jonge hardloop vervaard al in die rondte, terwyl hy keer vir die houe wat na hom gemik word. “Nou! Nou!”, roep die ou monnik terwyl hy die jongetjie dreigend jaag, “Nou!”

Die ou monnik het die jonge met ‘n plank gejaag om die dringendheid van mens se eie keuse te onderstreep. Tong-in-die-kies kan mens sê dis dieselfde dringendheid waarmee Petrus sy boodskap bring. Tong-in-die-kies, want geen mens kan ‘n ander tot binne-in die koninkryk van God klits nie.

Ook ons, vandag, moet hierdie preek hoor. Ook ons moet nadink oor ons bekering en ons voortgesette bekering van elke dag. Ook ons moet nadink oor wat God in ons doop aan ons geskenk het, veral oor die gawe van die Gees wat ons lei en stuur, en oor ons gehoorsaamheid aan die Woord en Gees van Christus. Ook ons het nodig om te bly vashou aan die geloofsgemeenskap waarvan ons deel is. Op hierdie manier staan ons vas in die redding wat van God kom.

God stuur ons om te leef

Verbintenis
V: Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy goeie dade aan my?
G: Aan die Here sal ek dankoffers bring

G: My geloftes aan die Here sal ek betaal,
daar voor sy hele volk,
in die voorhowe van die huis van die Here.
– uit Psalm 116:14-19

Seën
“Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons.” Gaan leef in sy liefde, gaan verkondig sy genade en gaan gee ander mense rede om in Hom te glo. Amen.
– uit Psalm 116:5

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.

vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.