Derde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Die derde Sondag van Paastyd word Misericordias Domini – “Die troue liefde van die Here” uit Psalm 33:5-6 genoem.

Fokusteks

Handelinge 9:1-6

Ander RCL tekste
Psalm 30 (Ek sal God vir altyd loof, want Hy red my van die dood);
Openbaring 5:11-14
(Die hele skepping loof die Lam wat geslag en verhoog is tot die hemeltroon.);
Johannes 21:1-19
(Die opgestane Here dra dit aan Petrus op om na sy skape om te sien).

Die ou Paasgroet: “Christus het opgestaan, Christus het waarlik opgestaan,” weerklink deur al hierdie tekste. In Handelinge 9 lees ons van Saulus se ontmoeting met die opgestane Here langs die Damaskuspad, terwyl ons in Johannes 21 hoor van die dissipels se ervaring met die opgestane Christus op die see van Tiberius. Openbaring 5 laat ons ’n visioen sien van die opgestane Here as verheerlikte omring deur engele. Psalm 30 loof die Here wat ons red – selfs uit die doderyk.

Handelinge 9:1-6
Saulus se bekering

(Vgl Hand 22:6–16; 26:12–18)
9 Intussen het Saulus soos ’n besetene voortgegaan om die volgelinge van die Here met die dood te dreig. Hy het na die hoëpriester toe gegaan 2en van hom bekendstellingsbriewe aan die sinagoges in Damaskus gevra. Sy doel was om al die aanhangers van die leer van die Here wat hy daar kry, mans sowel as vrouens, gevange te neem en na Jerusalem toe te bring.

3
Toe hy op reis naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel op hom gestraal. 4Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”
5“Wie is U, Here?” vra hy toe.
“Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dit is vir My wat jy vervolg.  6Maar staan op en gaan na die stad toe. Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”

Eksegeties

Vers 1: “Asem uit” – Uitdrukking van ’n diep aggressiewe emosie. Saam met die Ou Testament se beeldspraak van woede (Eng “snorting through distended nostrils”– Ps 18:8, 15) teken Lukas ’n prent van Saulus as ’n tierende wilde dier in sy woede teen die dissipels van die Here (Larkin). ’n Ander siening is dat Saulus wraak inasem – nie uitasem nie – soos ’n oorlogsperd wat ’n geveg ruik en uitsien daarna. Dreiging en slagting het elke asemteug van Saulus geword.

Vers 2: Die Griekse woord eitesato – Hy vra dit as ’n guns vir homself. Waarskynlik by Theophilus, seun van Annas – wat in 37 nC as hoëpriester deur die Romeine erken is.

“Briewe” (Gr epistolas) – Julius Ceasar en Augustus het aan die hoëpriester jurisdiksie gegee oor Jode in stede buite Judea. Die kerklike gesag is nie altyd erken nie. Maar Paulus sê in elk geval dat hy sy gesag by die hoëpriester gekry het (Hand 26:10) en by die Joodse Raad (Hand 22:5). Die uitreik van so ’n brief veronderstel sekere gesag van die hoëpriester om bepaalde optrede te verwag of ten minste van Joodse gemeenskappe in gebiede buite Palestina te vra. Of hulle oor die gesag beskik het, is nie duidelik nie (Barrett).

“Damaskus – 216 km Noordoos van Jerusalem.” Hier was baie Jode. Volgens Josephus het die heidense inwoners op ’n stadium 10 500 Jode in Damaskus doodgemaak. As Saulus dus Jerusalem verlaat om Christene in Damaskus te gaan vervolg, moes hy verwag het om heelwat van hulle daar te vind.

“Mense van die weg” – Handelinge beskryf graag die Christelike geloof as die weg van die lewe (Hand 19:9; 19:23; 22:4; 24:14; 24:22), die weg van verlossing (16:17), of die weg van die Here (18:25). Die uitdrukking “die Weg” is aan die Ou Testament ontleen, waar dit as ’n aanduiding van ’n bepaalde leer of lewenswyse gebruik is (vgl Jes 55:7). Ná die Pinkstergebeure is dit gebruik om die Christelike leer en lewe aan te dui. Dit kan ook ‘n benaming wees wat die Christene aan hulleself gegee het in aansluiting by Jesus se woorde in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” In Handelinge 5:10 het die apostels byvoorbeeld die bevel gekry om die woorde van hierdie “lewe” te verkondig. Die lede van die Qumran-gemeenskap het hulle manier van lewe ook as “die Weg” bestempel, en daarmee hulle lewe van gehoorsaamheid aan die wet van Moses aangedui.

“Gebind” – in toestand van totale hulpeloosheid. Die Christene is na Jerusalem gebring en nie plaaslik gestraf nie (Barrett).

‘Mans en vroue” – die wrede vervolging wat ook vroue ingesluit het, word drie keer beklemtoon – in Handelinge 8:3; 9:2; en 22:4 – asof spesiale klem gelê word op die vorm van wreedheid van Saulus ook teen vroue.

Vers 3: Die reis na Damaskus kon 6 tot 8 dae neem.
Die woord “lig” (Gr periëstrapsen) word  hier en in 22:6 gebruik. Dit dui op ’n helder flits, soos weerlig. In 26:13 word die Griekse woord perilampsan gebruik wat meer dui op “skyn om hulle”. Helder lig was ‘n algemene element van Godsopenbarings of teofanieë (Ps 27:1; 78:14; 9:2; 42:16; 60:1, 20; Miga 7:8) ook in buite Bybelse gebruik. Die lig was skerper as die middagson!
Paulus beskryf die gebeure en betekenis daarvan vir sy lewe in 1 Korintiërs 15:8 en Galasiërs 1:16.

Vers 4: “Val op die grond.” Dit was ook ’n algemene element van teofanieë (Eseg 1:28; Dan 8:17; Op 1:17). Hier, soos in Handelinge 22:7, word verhaal dat Saulus neergeval het, maar in Handelinge 26:14 word vertel dat almal neergeval het.

“Hy hoor iemand praat”; hy hoor die woorde, nie net geluid nie, maar verstaanbare woorde. Saulus self sê in Handelinge 26 dat die woorde in Hebreeus was. “Saul, Saul”, beklemtoon die stem was in Hebreeus (Aramees). Die herhaling van die naam is vol teerheid – soos die herhaling van name deur Jesus ook in Lukas 10:41; 22:31 en Matteus 23:37.

“My”. As Saulus die dissipels van Jesus vervolg, vervolg hy Jesus  self. Jesus  het dikwels  gepraat van die mistieke eenheid tussen Hom en sy volgelinge (Matt 10:40; 25:40; 25:45; Joh 15:1-5). Jesus identifiseer met sy dissipels; sy liggaam (Luk 10:16; Hand 1:1; 9:1; 1 Kor 12:27; Ef 4:12).

Vers 5: “Here”. Dis ’n ope vraag of Saulus hier meneer of Here bedoel? Dit is onwaarskynlik dat Saulus die spreker dadelik sou herken het as Here. Hy sou weet dat dit ’n bonatuurlike gesprek was, maar sou waarskynlik die oorsprong betwyfel het. Die term hier is ’n “indefinite term”, wat eerbied uitdruk vir ’n geëerde spreker.

“Jesus knew Saul ere Saul knew Jesus” (Bengel). Jesus stel Homself nie as Christus bekend nie, maar as Jesus, die man wat gekruisig is, wat opgestaan het en wat lewe!

“Skop teen prikkels.” Die woorde is hier uitgelaat na hersiening van die OAV. Tog staan dit in Handelinge 26:14. Dit omvat die gedagte dat hy homself beseer of skade doen, soos ’n os terugskop teen die wat hom vorentoe wil laat beweeg en rigting wil gee. Tog was dit die omkeer in sy lewe, soos Thomas in Johannes 20:28 en klein Samuel in 1 Samuel 3:9.

Vers 6: Die begin van hierdie vers: “En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: ‘Here, wat wil U hê moet ek doen?’” kom nie in Griekse afskrifte van die Nuwe Testament voor nie, maar wel in die Vulgaat en het deur Erasmus se toedoen in die Griekse teks gekom. Die grootste gedeelte van hierdie woorde kom egter in Handelinge 22:10a en 26:14b voor (De Villiers).

“Daar sal aan jou gesê word.” Saulus kry geen verdere instruksies hier waar hy op die pad staan nie. Hy moet aangaan na Damaskus waar aan hom vertel sal word wat hy moet doen. Lukas beklemtoon nie soseer die magteloosheid van Saulus nie; maar eerder die krag van Christus (Barrett).

Hermeneuties

Lukas was ’n meesterstorieverteller, ’n meester in sy weergawe van die volgehoue bediening van die opgestane en verheerlikte Here Jesus Christus, in die krag van die Heilige Gees. Op hierdie manier word ons ingetrek in die drama wat ontvou as die Heilige Gees besit neem van gewone mense.

Handelinge vertel vir ons hoe die eerste Christene binne ’n kort tydjie van ’n klein groepie volgelinge van Jesus tot ’n groot menigte getuies reg oor die wêreld gegroei het. Agter hierdie beweging staan die Heilige Gees. Jy moet nie verwag om in Handelinge ’n volledige verslag oor al die doen en late van die eerste Christene aan te tref nie. Lukas wil  nie ons nuuskierigheid oor die dag tot dag gebeure in die vroeë kerk bevredig nie. Hy wil ons vertel van die aktiwiteite van die Heilige Gees in en deur Petrus en Paulus en ander vroeë Christene. “The Acts of the Apostles could more accurately be entitled The Acts of the Holy Spirit. Acts is His story. Rather than giving us a theological dissertation on the Holy Spirit, Luke tells the exciting story of who He is and what He does” (Ogilvie).

Handelinge wys hoe Christus se belofte in 1:8, dat sy kerk krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, uiteindelik tot aan die uithoeke van die wêreld van die eerste eeu vervul is. Ons kan Handelinge in twee groot hoofdele verdeel:

  • 1:1-12:24 wat veral met die bediening van Petrus te make het;
  • 12:25-28:31 wat weer op Paulus se optrede fokus.

Lukas toon ’n hele aantal ooreenkomste tussen hierdie twee leiersfigure in die vroeë kerk aan. Beide Petrus en Paulus is byvoorbeeld in staat: om mense gesond te maak (3:2-8; 14:8-10); dooies lewend te maak (9:40; 20:10); bose geeste uit te dryf (5:16; 16:16); towenaars se mag te troef (8:14-24; 19:13-17), en met groot krag te preek (2:14-36; 13:16-41).

As die groot verandering in Paulus se lewe hier verhaal word, is dit goed om na enkele dinge rondom sy lewe tot nou te kyk. Ongeveer ’n jaar tevore verskyn hy die eerste keer in ons geskiedenis by die dood van Stefanus. Hy kom uit die stam van Benjamin (Fil 3:5). Sy pa, alhoewel hy ’n Jood was, het Romeinse burgerskap verkry. Paulus was dus ’n Romein (Hand 22:28). Hy is gebore in Tarsis, ’n Griekse stad. Die hoofstad van Silesië. Daar het hy bekend geraak met die Griekse literatuur en is hy opgevoed in die wet. Wanneer presies weet ons nie, maar op ‘n jong ouderdom is hy Jerusalem toe waar hy aan die groot Rabbynse skole studeer het. Onder andere het hy die luisterryke Gamaliël as leermeester gehad (Hand 22:3). Volgens Joodse tradisie leer hy ook ’n ambag en word ’n tentmaker. Hy was ’n baie toegewyde Fariseër (Hand 23:6) en ’n invloedryke jongman wat die Christengeloof met ’n passie teengestaan het.

Paulus se bekering, waarvan ons nie minder nie as drie maal in die loop van Handelinge lees (vgl ook 22:4-16; 26:12-18), vorm die sleutel tot die ontplooiing van die verdere werk van die Heilige Gees in die res van die boek. Die kerk se werk is inderdaad onkeerbaar (Eng “unstoppable”) as die opgestane Heer kan neerbuig en die grootste vyand van die kerk, Paulus, tot omkeer kan bring (Larkin).

In sy eie briewe verwys Paulus nêrens so eksplisiet na sy bekeringservaring as wat Lukas hier doen nie. Paulus praat in meer teologiese terme daaroor, soos dat hy hier “sy evangelie” by wyse van ’n openbaring ontvang het (Gal 1:11-16), of dat sy bekering soos ’n skeppingswonder is waar God in sy hart ’n lig laat skyn het (2 Kor 4:1-6).

Lukas plaas egter groot klem op Paulus se bekeringervaring as sodanig; op sy lewensverandering van ’n Christenvervolger tot ywerige navolger van Christus. Hierdie klem pas goed by Lukas se beskrywing van Paulus, aangesien hy Paulus nie as ‘n apostel beskou nie, maar eerder as ’n groot sendeling. Lukas gebruik die begrip apostel slegs vir die twaalftal (6:2).

Hierdie aksentverskille tussen Lukas en Paulus oor laasgenoemde se bekering, maak dit duidelik dat Lukas sy eie tradisies oor Paulus se bekeringservaring tot sy beskikking gehad het. Lukas het waarskynlik nie oor die Galasiërbrief en die Korintiërbriewe beskik toe hy Handelinge geskryf het nie. Verder het Lukas nie probeer om ’n “objektiewe” beeld van Paulus te gee nie. Dit word duidelik wanneer sy drie beskrywings van Paulus se bekering in Handelinge langs mekaar geplaas word met hul onderlinge aksentverskille. Daaruit sien ons dat klein stukkies detail nie vir Lukas so belangrik was as die saak waaroor hy geskryf het nie.

Dis tog goed om te let op parallelle met Ou- Testamentiese verhale oor die roeping van profete (oa Jes 6:1-13; Jer 1:4-10 en Gal 1:15). Die ooreenkomste vra die vraag of ons hier te doen het met bekering of met roeping? Feit van die saak is dat ’n bekering in die Christelike verband in elk geval altyd ’n roeping inhou. In Paulus se geval het dit nie beteken dat hy ’n nuwe God gevind het nie. Hy maak daarop aanspraak dat die God wat hy as Christen aanbid, dieselfde Een is as die God wat hy as Jood aanbid het – die God van Abraham en Isak en Jakob. Hy het dus nie in die sin tot bekering gekom dat hy ’n nuwe God  gevind het nie (Barrett).

Wat Judaïsme ook al onder hulle God  verstaan, vir Paulus was Hy Een by wie ’n mens krediete bymekaar kon maak deur wetsonderhouding (Fil.3:7). Hierdie bates (krediete) beskou Paulus nou as waardeloos omdat juis hierdie dinge dit soveel moeiliker maak vir iemand om te doen wat jy nou moet doen, naamlik om nie jou vertroue te stel op jou eie morele, wetlike en religieuse prestasies nie, maar alleen op Jesus Christus.

Dit was ‘n radikale verandering in godsdienstige rigting en dit het gepaard gegaan met ’n radikale verandering in persoonlike optrede en handelinge. As dit nie bekering is nie, weet ek nie wat bekering is nie. Ons moet mooi besef dat dit wat met Paulus gebeur het, nie die uiteinde van ’n inwendige konflik in ’n ongelukkige, verdeelde en onbevredigde man was nie. Dit was die verskyning van Christus aan ’n selftevrede en selfgeregverdigde man. ’n Verskyning wat die onmiddellike effek gehad het van beide ’n totaal nuwe basis vir sy persoonlike lewe en ook die inisiëring van die totaal nuwe heidensending van die kerk (Barret).

Lukas sluit by sy vroeëre opmerking oor Saulus in hoofstuk 8:3 aan, as hy in hierdie gedeelte verder vertel hoe die vervolgingslustige Saulus nie tevrede was met dit wat hy alreeds gedoen het nie, maar nou  selfs by die hoëpriester toestemming verkry om Christene tot ver buite die grense van Jerusalem te vervolg (9:1-2). Alhoewel die hoëpriester se direkte jurisdiksie oor die Jode slegs tot die grense van Judea beperk was, het sy invloed tot ver buite Palestina gestrek.

Behalwe hierdie aanvanklike aantekening oor Paulus se haatgevoelens, gee Lukas aan ons geen ander aanduiding van Paulus se innerlike gedagtes of motiewe nie – nie voor of na sy bekering nie (maar let op Rom 7:7-12; Gal 1:13, 14; Fil 3:4–11) (Larkin ).

Jakob het gesê Benjamin (Gen 49:27) is ’n wolf wat sy prooi verskeur – en die grootste seun van Benjamin vervul hierdie profesie! Die smaak van Stefanus se bloed het Saulus bevredig. Nou verheug hy hom in die dood van manne en vroue. In Handelinge 26:11 haal Lukas vir Paulus aan waar hy sê dat hy uitermate hatig op hulle was.

In die dae wat die rabbi’s die onderhouding van die wet as voorvereiste vir die koms van die Messias gesien het, kon Paulus sy eie dade teen die Christene sien in die lig van ander heldhaftige optredes van gelowiges soos Moses en die slagting onder die Israeliete by Baal-Peor (Num 25:1-5), of Pineas se doodmaak van die Israelitiese man en die Midianitiese vrou op die vlakte van Moab (Num 25:6-15). Miskien het hy iets van die goddelike woorde van Numeri 25:11 en verder in sy ore gehoor terwyl hy die Christene vervolg het (Longenecker).

In hierdie uitermate hatige vervolging van die Christene wyk Paulus af van die gesindheid van sy leermeester, Gamaliël en ook van die Fariseërs in die algemeen – wat baie meer verdraagsaam was in hul optrede. Soos Bruce dit stel: Stefanus sien die logika van die nuwe situasie duideliker as die apostels en Paulus sien dit duideliker as Gamaliël. Beide Stefanus en Paulus besef dat die nuwe orde en die ou orde nie versoenbaar is nie. Stefanus het gereken: die nuwe het gekom, die oue moet gaan. Paulus daarteenoor  redeneer: die oue moet bly daarom moet die nuwe gaan! Die dryfkrag agter Paulus se optrede was sy ywer (Fil 3:6), in besonder die ywer vir die tradisies van sy voorvaders (Gal1:14) (Ajith)

Die Christene word in 9:2 aangedui as “aanhangers van die leer van die Here”. Dit sou vertaal kon word met “aanhangers van die Pad of die Weg” (vgl ook 19:9, 23; 22:4; 24:14). Met hierdie term, een van die oudste terme waarmee Christene na hulleself verwys, het die gelowiges moontlik verwys na hulle lewenstyl as mense wat op die pad van geregtigheid stap, soos deur Jesus self vir hulle uitgestippel.

Talle Christene het ná die moord op Stefanus van Jerusalem af na ander stede gevlug. Paulus het hulle spoor genadeloos gevolg. Hy was selfs bereid om die 216 kilometer na Damaskus af te lê om die Christene na Jerusalem toe terug te neem. Op pad daarheen het hy egter uitgevind dat die Here ander planne met hom het.

Terwyl Paulus besig was om Jesus se volgelinge te agtervolg, was Jesus besig om hom te agtervolg. Die Here was besig om die toneel voor te berei. Juis die man wie se vervolging veroorsaak het dat mense van die Weg moes vlug na Damaskus, juis hy sal ’n sentrale rol speel in God se plan en strategie vir die toekoms van die kerk (Ogilvie). Naby Damaskus het ’n lig uit die hemel Saulus skielik omstraal (9:3). Hier en in 22:6 omstraal die lig uit die hemel slegs vir Saulus, terwyl dit in 26:13 ook sy metgeselle omstraal. Saulus het dadelik op die grond neergeval. Al sy krag vloei uit sy liggaam as hy hom in die teenwoordigheid van die opgestane Jesus bevind. Saulus word in Aramees, sy moedertaal, deur Jesus aangespreek. Hy vra vir Saulus waarom hy Hom vervolg (9:4). Met hierdie vraag maak Jesus dit duidelik dat enige vervolging teen sy volgelinge ook teen Jesus self gerig is.

Hoe naby aan ons is die onsienlike wêreld van God? Dit is maar vir God  om die gordyn oop te skuif en in te gryp in die gewone mens se lewe. In sy lig is alles wat bewonderenswaardig of navolgenswaardig  is op aarde, van minder belang – dit sou Saulus uitvind.

Saulus het waarskynlik nie dadelik geweet wie met hom praat nie! Watter ontnugtering. Hy dink waarskynlik dat Jesus se liggaam nog iewers in Jerusalem in ’n graf lê. Nou praat die Jesus met hom. Hierdie ontdekking dat die gekruisigde Jesus in werklikheid lewe, klop met Paulus se eie weergawe van die oorsprong van sy eie Christelike lewe (Gal 1:15, 16; 1 Kor 9:1; 15:8; Fil 3:7-11). Dit was dan ook die basis van sy nuwe verstaan van die Ou Testament en sy herinterpretasie van Judaïsme wat die nuwe  fondament van sy teologie gevorm het (Rom 7-9) (Barrett).

Paulus moes geweldig getref gewees het deur die besef dat sy hele lewe wat tot dusver geleef is – in ‘n gewaande ywer en toewyding aan die een ware God – in werklikheid ’n lewe van “ignorance and unbelief” was
(1 Tim 1:13). Hy  het homself eintlik bewys as ’n vyand van die God wat hy wou dien. Wat hy as wins gesien het, word verlies (Fil 3:6-9); wat ’n eremedalje op sy bors was, word ’n lewenslange klad op sy naam (1 Kor 15:9; 1 Tim 1:13,15) (Larkin).

Na die ontmoeting en totale verandering in sy lewe, stuur Jesus  hom Damaskus toe. Nou  nie meer om die kerk  te vervolg nie, maar om te gaan hoor – by ’n ander mens – watter nuwe planne God vir hom het (9:6).

Paulus moes met die hoor van die woorde “Hoekom vervolg jy My?”, iets begryp het van die onbreekbare eenheid tussen Christus en sy gemeente. Hy het gedink hy vervolg net die volgelinge van Jesus, maar die hemelse interpretasie van sy aksies was dat hy die opgestane Here self vervolg (Longenecker). Wanneer Jesus iemand se pad kruis, is niks daarna ooit weer dieselfde nie. Dan word ’n vyand van die kruis skielik ’n navolger van Jesus en ’n rebel verander in ’n lewenslange verkondiger van die goeie nuus.

Vir Paulus was die onmiddellike fisieke effek van hierdie ontmoeting vernietigend. Met die opstaan na die ontmoeting kom hy agter dat hy blind is! Hy moet die stad in gelei word; vir drie dae eet en drink hy niks nie. Maar die geestelike effek op hom het sy hele lewe totaal verander! Die geestelike betekenis van ’n Joodse rabbi wat fisiek blind gelaat is na die aanskoue van die glorie van God in die ontmoeting met Jesus Christus, word verseker nie misgekyk deur Lukas of Paulus nie (2 Kor 4:4–6).

Wat moes Paulus dink van die blindheid? Straf? Teken van God se ontevredenheid? Of net ’n konkrete bewys van sy visioen? Larkin reken dat dit ’n lewende gelykenis is wat tekenend is van Paulus se geestelike bankrotskap in sy vorige lewenswyse.

Daar was ’n tipe Joodse meditasie wat bestaan het in die voortdurende oordenking en bepeinsing van die groot visie van Esegiël (Eseg 1). Die doel van die meditasie was om te kyk of hulle nie deur toegewyde gebed en vas, heiligheid, toewyding en kontemplasie, iets kon beleef van die hoogtepunt van die visie – die ontmoeting met God nie (Eseg 1:26-28). “Dit was soos die magtige verskyning van die Here” (Kyk hoe versigtig is Esegiël – hy sê nie hy het God self gesien nie.) Miskien kon Paulus – in sy ywer en toewyding – en as toegewyde skrifgeleerde ook hierdie verlange na ’n werklike ontmoeting met die lewende God gekoester het.

En toe gebeur dit – en die gesig wat hy moet aanskou . . . is die gesig van Jesus van Nasaret! Stel jou dit voor: Dit waarna hy met sy hele wese verlang het, gebeur. Hy ontmoet God. En dan is die gesig van God die gesig van die Een wat hy met haat en woede vervolg!

Ons praat van Paulus se bekering. Wat hier gebeur het is meer soos ’n vulkaniese uitbarsting, ’n donderstorm en ’n getygolf almal tesaam! As die dood en die opstanding van Jesus Christus die skarnier is waarop die groot deur van die geskiedenis oopgeswaai het, is die bekering van Paulus van Tarsis die moment waarop al die beloftes van God bymekaargekom het, hulleself in een groot bal opgerol en deur die groot oop deur die wye wêreld in gestoomroller het (Wright).

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: Om met vertroue en vrymoedig te lewe uit die werk wat Jesus in en vir ons doen

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ’n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

Aanvangswoord
Voorganger: Die Lam wat geslag is,
is waardig genoeg
om die mag en die rykdom,
die wysheid en sterkte,
die eer, heerlikheid en lof te ontvang.

Gemeente:
Heilig, Heilig, Heilig
is die Here God Almagtig.

Voorganger: Aan Hom wat op die troon sit
en aan die Lam
kom toe die lofprysing
en die eerbetoning en die heerlikheid
en die krag vir altyd (uit Op 5:11-14).

Lied

’n Lied wat uitstekend aan die begin van die diens sal pas:

Flam 124  “Agnus Dei”

Ander
Flam 120 “Hy is Heer”
Flam 237 “Hy leef “
Flam 65 “Jesus U naam is ons vryheidslied”

Familie-oomblik

Voorbeeld een:
Kinders kan die storie van Paulus se bekering op die Damaskus pad sonder veel verduideliking volg.  Vertel dit op dramatiese wyse.

Lê dan klem op twee sake:  1) Die verhaal is een van God se groot verrassings.  Die grootste vyand van Jesus word verander om een van sy grootste vriende te word.  Dit laat eintlik ’n mens se tone krul van lekkerkry.  Maar dit is nie net ’n verrassing nie.  2) Dit laat ons besef dat alles vir God moontlik is.  Hy kan enigiets doen.  Ons sou nooit kon dink dat Paulus wat so kwaad was vir die kerk, uiteindelik een van die beste sendelinge sou word nie.  Tog is dit presies wat God doen.   Dit gee ons hoop dat van die mense wat vir ons vandag na vyande lyk, ook Jesus se vriende kan word.

En ons kan daarvoor bid.

Voorbeeld twee:
Het julle al in die donker in julle huis probeer loop, sonder om die lig aan te sit?  ’n Mens stamp mos al te maklik jou toon teen ’n tafelpoot.  Of jy loop vas in ’n muur.  Of jy stamp jou kop teen die deur.

Dit is baie makliker om ’n lig aan te sit of ’n flitslig te gebruik. Dan kan jy helder sien.  En dan kan jy sien waar jy loop.

Vertel nou die storie van Paulus se bekering en lê klem op die verandering wat kom toe hy Jesus se lig gesien het.  Dit het gekeer dat hy verder die Christene vervolg en seermaak.  Om die waarheid te sê, dit het gemaak dat hy Jesus se grootste vriend/ondersteuner geword het.

Dit laat ons besef dat alles vir God moontlik is.  Hy kan enigiets doen.  Ons sou nooit kon dink dat Paulus wat so kwaad was vir die kerk, uiteindelik een van die beste sendelinge sou word nie.  Tog is dit presies wat God doen.   Dit gee ons hoop dat van die mense wat vir ons vandag na vyande lyk, ook Jesus se vriende kan word. Hulle moet net die lig van Jesus sien.  En ons kan hulle daarvan vertel.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Nota aan die prediker:

Indien die prediker oordeel dat hierdie preek te lank is vir een erediens, sou dit goedskiks by twee geleenthede, dalk ’n oggend en ’n aanddiens, gepreek kon word.  In hierdie geval kan dit goed werk om die eerste boodskap te begin by paragraaf “Twee” tot aan die einde, en by die volgende geleentheid dan die eerste gedeelte van die preekriglyn (“Die verhoogde Jesus sit sy bediening op aarde voort”) te gebruik.  By die tweede erediens kan dan sinvol gesprek oor die teks volg uit die Woordverkondiging.

Dink vuurpyl en versnelling.  Dink vuurbol en vlammesee. Dink Saulus van Tarsus.  Vervolger van die kerk, vuurspuwende draak, op ’n wraaktog na Damaskus.  Liefdevol neergevel deur die verhoogde Jesus van Nasaret.  ’n Radikale koersaanpassing.  Deur Jesus op ’n nuwe lanseerplatform geplaas.  Gelanseer in die bediening aan die nasies vanaf Reguitstraat, Damaskus.

Wat ’n dramatiese gebeurtenis naby Damuskus!  Vir Lukas so ’n belangrike verhaal, dat dit drie keer in Handelinge oorvertel word – hier, Hand 9:1-6, en ook in Paulus se eie woorde in Hand 22:6-16 en 26:12-16.

Wat gebeur in hierdie gedeelte?

Een: Die verhoogde Jesus sit sy bediening op aarde voort
Die dissipels neem in Handelinge 1:9-11 afskeid van Jesus tydens sy hemelvaart.  Opvallend genoeg wys Handelinge daarop dat Jesus, nou verhoog na die regterhand van die Vader, steeds met bediening op aarde voortgaan.  Hoewel Jesus vir ons oë verskuil is, word die hemelse gordyn van tyd tot tyd weggeskuif sodat ons die voortgaande aktiwiteit van God die Vader, Seun en Heilige Gees op aarde sien.  Die Heilige Gees is die Een wat Jesus se kerk begelei, maar Lukas doen moeite om aan te dui dat Vader en Seun steeds werksaam is.

’n Voorbeeld: in die oomblikke van sy dood kyk Stefanus, vol van die Heilige Gees, op na die hemel.  Hy sien die heerlikheid van God, en Jesus wat aan die regterhand van God staan.  Hy roep: “Here Jesus, ontvang my gees!”, en bid dat die Here die sonde van sy steniging nie aan die Joodse leiers moet toereken nie.

Paulus se bekeringsverhaal is nog ’n voorbeeld van Jesus se werk op aarde.  Jesus stuit Paulus in sy spore, en praat met hom: “Saul, Saul, waarom vervolg jy my?” (9:4).  Jesus stel Homself ook aan Paulus bekend: “Ek is Jesus, dit is my wat jy vervolg (9:5).

Jesus tree hier in namens sy liggaam, die kerk.  ’n Noue, intieme band tussen die kerk en Here word hier geteken.  Wie die kerk vervolg, vervolg ook die Here van die kerk.  Hierdie Here is betrokke by die lewe en werk van die kerk.  In Handelinge 9 red Jesus die kerk van vervolging deur die hoofvervolger te omskep in die hoofverkondiger van die evangelie.  Daarna verskyn die Here in ’n gesig aan Ananias en stuur hom na Paulus toe (9:10-16).  Dieselfde patroon herhaal hom in Hand 10 wanneer die Here deur ’n gesig met Petrus praat.

Vanuit ons perspektief mag dit lyk asof Jesus weg is.  Maar wanneer die hemelse gordyn vir ’n oomblik weggeskuif word, sien ons hoe naby God is.

Toepassing

Die Lutherse teoloog, Patrick Keifert, skryf dat Vader, Seun en Heilige Gees ons innooi in ’n lewe in gemeenskap met die lewende God.  Hy vertel van gemeentelike navorsing wat aantoon hoe swak ontwikkel gelowiges se bewussyn van die aktiewe teenwoordigheid van God is. Christene sal selde taal gebruik waarin God die aktiewe onderwerp van ’n handelende werkwoord is, bv. “God het aan Paulus verskyn”.  Ons beskryf eredienste eerder as iets wat “ons doen” of “ek doen”.  “Ek” aanbid God of neem deel aan aanbidding.  Ons sing liedere en bid.  God is in ons gedagtes gewoonlik die objek van menslike handeling.  Wanneer gelowiges praat, hoor jy selde ’n bewussyn dat God iets in die erediens doen, of in die gemeenskap of die woonbuurt rondom ons.

Die opkoms van wetenskaplikheid het God vir Westerse Christene uit die sentrum van ons werklikheid geskuif.  Hierdie sentrum is gevul deur die gemeente en deur onsself. God is prakties afwesig.  As daar iets in terme van Christelikheid behoort te gebeur, moet ons dit maar doen.  Alles hang van ons af.  Hoe meer God weggeskuif word, hoe meer word gemeentes plekke met aktiewe programme waar mense kerklik georganiseer moet word om tog iets te laat gebeur.  Baie gelowiges en gemeenteleiers brand uit omdat hulle alles self probeer doen en organiseer.  Die kerk word ’n plek wat ’n swaar juk op sy lidmate plaas omdat ons iewers iets van God se eer en Christelike teenwoordigheid moet red.

Die bevrydende perspektief in Hand 9 is dat Vader, Seun en Heilige Gees aktief op aarde teenwoordig is.  Jesus doen hier wat geen mens kan doen nie: Paulus, die besete vervolger uit Jerusalem, word in sy spore gestuit, en in ’n oogwink van ’n vervolger tot ’n sendeling omskep.

Die vraag is of ons sou kon leer om raak te sien waarmee God rondom ons besig is?  En sou ons dan oral waar ons lewe kon aansluit by wat God besig is om te doen?  Neem Gemeente H as voorbeeld.  Gemeente H se lidmate het agtergekom God reik deur hulle uit na jongmense en noodlydendes, en doen dit veral by die plekke waar hulle werk.  Gemeente H het sy gemeentesentriese program afgeskaal, maar lidmate begin toerus om getuies by hul werksplekke te wees.  Of dink aan Gemeente J.  Hierdie plattelandse gemeenskap het onderskei dat God hulle inskakel by Sy aksie om die bose kringloop van alkoholisme in die gemeenskap te stuit.  Lidmate, meestal boere, het aktief begin saamspan om aksies te neem, veral gerig op kinders in geaffekteerde gesinne.  Só sluit hulle aan by wat God reeds doen.  Daar is nou minder dronk mense oor naweke in die gemeenskap, meer lidmate in die aktiewe bediening op die plase, meer kinders wat liefde van hul ouers ontvang, en meer vreugde omdat mense medewerkers by die aktiewe bediening van Jesus is.

Wanneer mens met God rekening hou, en Hom navolg, is daar geen grense vir wat jy kan hoop of bid nie.  Hoeveel is jy bereid om van God te verwag?  Dink aan die moderne Saulusse, soos … Julius Malema?  Hy verteenwoordig ’n woedende generasie.  Sou deel van die Christelike reaksie op iemand, wat soos ’n besetene ander met die dood dreig (Hand 9:1), wees om te bid vir … bekering, vir ’n lewe wat radikaal herposisioneer word om deel te neem aan God se aktiewe werk op aarde?

Laat ons vir meer hoop en bid.  God is naby.

Twee:  Paulus sien die heerlikheid van God
Die moordlustige Saulus was ’n toegewyde Jood.  Hy kom uit die stam van Benjamin (Fil 3:5), en is gebore in Tarsus, ’n Grieks-Romeinse stad, die hoofstad van Silisië (in die suide van die huidige Turkye).  Sy pa, alhoewel hy ’n Jood was, het Romeinse burgerskap verkry, sodat Paulus ook amptelik ’n Romein was (Hand 22:28).  Hy is dus opgevoed in beide die Griekse filosofie en die Joodse wet.  Op ’n jong ouderdom is hy Jerusalem toe waar hy onder die luisterryke leermeester Gamaliël aan die groot Rabbynse skool gestudeer het (Hand 22:3).  Volgens Joodse tradisie leer hy ook ’n ambag en word ’n tentmaker.  Hy was ’n baie toegewyde Fariseër (Hand 23:6) en ’n invloedryke jongman wat die Christengeloof met ’n passie teengestaan het.

Dalk kom Saulus se vervolg-lustigheid uit Jakob se profesie oor sy nageslagte in Gen 49:27: “Benjamin is ’n wolf wat prooi verskeur, vroeg in die môre eet hy buit, in die aand vang hy sy prooi”.  Saulus die wolf wil die eer en heerlikheid van God red deur die navolgers van die Weg van Jesus uit te roei.

As toegewyde Fariseër was Paulus bekend met bepeinsing en meditasie as metode om die heerlikheid van God te aanskou.  Die teksgedeelte waarop spesifiek gefokus is, was Esegiël 1, waar die profeet ’n gesig gesien het van hemelse wesens met vier soorte gesigte, en iets soos ’n hemelse wa met wiele wat in verskillende rigtings draai, hul vellings vol oë.  Bo-oor die toneel was ʼn groot gewelf of koepel met ’n reënboog rondom, en ’n troon soos ’n groot juweel.

Die Fariseërs se meditasie in Jesus se tyd was daarop gerig om in die hoogtepunt van Esegiël se visioen te deel.  Die behoefte was om die magtige verskyning van die Here te sien:

“Bokant die gewelf bo hulle koppe was daar iets soos saffier met die vorm van ’n troon, en daarop was ’n gestalte met die voorkoms van ’n mens, hoog daarbo.  Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met ʼn rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ʼn helder glans rondom.  Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ʼn wolk na die reën.  Dit was soos die magtige verskyning van die Here. Toe ek sit sien, val ek plat en ek hoor ’n stem praat.” (Eseg 1:26-28)

Let op hoe versigtig Esegiël is.  Hy sê nie hy het die Here gesien nie, bloot dat hy iets soos die magtige verskyning van die Here gesien het.  Mens kan verstaan, in die lig van so ’n verstommende gesig, dat die Fariseërs, wat die Skrifte so ernstig bestudeer het, en begeer het om te deel in hierdie visie op die God wat hulle liefgehad en vertrou het, begin het om Esegiël 1 in gebed te gebruik.  Die hoop was dat hulle dieselfde glorie sou kon aanskou, om God van aangesig tot aangesig te sien op sy troon, selfs al sou so ’n gesig hulle op die grond neervel.

Die gerespekteerde Nuwe Testamentikus NT Wright stel voor dat ons Paulus se bekering verstaan teen die agtergrond van hierdie troongesig-meditasie, ’n geestelike dissipline wat Paulus as toegewyde Fariseër ongetwyfeld sou beoefen het.  Stel jou nou voor, skryf Wright, dat Paulus op die lang reis na Damaskus hiermee besig was. Die reëlmatige geklop van perdehoewe sou die ideale geleentheid bied:

You might then be able to grasp the impact of what happened to him.  He was on his way to act for the glory of God, the glory which he believed was being besmirched by these crazy followers of Jesus.  He needed to keep that glory firmly before his eyes, to make sure his zeal was properly fired up and rightly directed. […]  Imagine his excitement as, in the depth of devout meditation, he saw with the eyes of his heart, so real that it seemed as though he was seeing it with his physical eyes, the form, the fire, the blazing light, and – the face!

And the face was the face of Jesus of Nazareth.

In ’n oogwink is Paulus se wêreld omgekeer, en van binne na buite gekeer.  Niks sou weer dieselfde wees nie.  Jare later sou hy skryf van “die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (2 Kor 4:6).  Soos Stefanus in sy sterwensoomblikke, het Paulus Jesus gesien op ’n manier wat hemel en aarde aan mekaar bind: aardse oë wat ’n hemelse werklikheid sien.  “Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie?” (1 Kor 9:1).  Hy sien alles wat God altyd belowe het, en wat hy as Fariseër so goed bestudeer het, het God kom doenin die persoon van Jesus van Nasaret.

In ’n oogwink is Paulus se lewe oorgeplant in die lewe van Jesus van Nasaret.  Hy word deel van Jesus se liggaam, ’n medewerker wat Jesus se werk voortsit. Jesus se lewe en werk word nou die basis waarop Paulus die Ou Testament verstaan.  Hy verstaan ook die Joodse geloof nuut:  nou is die wet nie meer die uitgangspunt nie, maar die verlossingswerk van Jesus Christus.

“Ons noem hierdie gebeurtenis ’n bekering”, skryf NT Wright, “maar dit was meer soos ’n vulkaniese uitbarsting, ’n donderstorm en ’n getygolf wat kragte saamsnoer.  Indien die dood en opstanding van Jesus die skarnier was waarop die groot deur van die geskiedenis oopgeswaai het, was die bekering van Saulus van Tarsus die moment toe al die beloftes van God saamgebundel is, hulself in ’n groot bal opgewen het, en deur daardie oop deur in die wye wêreld uitgebars het”.

Drie: ’n Roepingsverhaal: “Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen”
Wat gebeur met ’n mens wat die heerlikheid van God sien?

Sou ons die verhaal moes oorvertel, sou ons waarskynlik Paulus se bekering as ’n verdiende nederlaag beskryf.  Die vervolger kyk op sy neus!  Hy is oorwin!  Of ons sou dit as ’n vorm van geregtigheid wat seëvier beskryf.  “Dit help nie om teen God in opstand te kom nie, die Here sal jou neervel,” kon ons dalk sê.

Jesus hanteer Paulus heeltemal anders.  Selfs die eerste woorde, “Saul, Saul…”, is die taal van ’n besorgde moeder wat ’n kind wil reghelp.  En dan die opdrag:  “Maar staan op en gaan na die stad toe.  Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.”

Só word hierdie bekeringsverhaal eintlik ’n roepingsverhaal, wat mens nogal aan die roepingsverhale van die Ou Testamentiese profete laat dink (bv. Esegiël 1-2).  In die volgende episode kry Ananias in Damaskus opdrag om na Paulus toe te gaan en vir Hom te bid, want, sê Jesus, “Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.  Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly” (Hand 9:15-16).

Toepassing

1.  Paulus se bekerings- en roepingsverhaal illustreer Jesus se versorging van sy liggaam, die kerk.  In die felle oomblikke van vervolging, bewaar Jesus die kerk en voorsien ’n getuie wat die boodskap na die uithoeke van die wêreld dra.  Paulus word die stigter van die eerste gemeente op Europese bodem (Filippi), waarvan die evangelie ook later ons voorouers in die noorde en weste van Europa bereik het.  Jesus se voorsienigheid bestaan uit die roep van medewerkers.  Daarom leer Jesus ons in Lukas 10:2:  “Bid die Here aan wie die oes behoort om arbeiders uit te stuur vir sy oes”.  Onder aanvegting, is die liggaam van die Here geroep om te bid.

2.  Paulus se lewensverhaal illustreer die waarde van innoverende leierskap in die kerk van die Here.  Paulus was ’n uitmuntende leier, vol energie, geesdrif, en die vermoë om ander te besiel en te lei.  Hy het die nodige gawes by die Here ontvang, en sy lewensverhaal het hom gevorm om die Grieks-Romeinse wêreld te betree en mense te help om die Here te vind.  Hy was ’n egte apostel – iemand wat grense oorgesteek het en nuwe, brandende gestaltes van geloof aangevuur het in die gemeentes wat hy gestig het.

Die kerk moet ’n kultuur skep waarin innoverende leiers, soos Paulus, bemagtig word.  Ons Gereformeerde geloofstradisie is soveel verskuldig aan leiers soos Johannes Calvyn, Martin Luther en andere.  Tog is dit ook deel van ons tradisie dat leiers afgekraak en ontmagtig word.  Dit geld leraars, maar ook ouderlinge, diakens en bedieningsleiers.  Ons gee moeilik geleentheid aan mense om in terme van hul roeping uit te styg en te presteer.  Ons moet die Here bid om ons oë oop te maak vir die waarde van leierskap.  Ons het leiers nodig wat nie wil heers nie, maar ter wille van die evangelie dien.

3.  Jesus gryp radikaal in Paulus se lewe in.  Terwyl Paulus Jesus se liggaam vervolg, agtervolg Jesus vir Paulus en gryp hom vas.  Wanneer Paulus geskok orent beur, sê Jesus dat daar ’n opdrag is en dat Paulus dit moet doen: ”Staan op en gaan na die stad toe.  Daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen” (Hand 9:6).

Daarmee leer Jesus Paulus om met vertroue en vrymoedigheid gehoorsaam te wees vanuit dit wat Jesus aan hom gedoen het.  Dit geld ook vir ons: Jesus hét op ons lewens beslag gelê.  Ons behoort aan Hom.  Dit is aan ons gedoen.  Ons kan dus met vertroue en vrymoedigheid leef en werk as gestuurdes van die Here oral waar ons voete ons neem.

4.  Hierdie gedeelte leer ons anders dink oor teëstanders van Jesus Christus.  Dit is binne Jesus se mag om teëstand in ’n oogwink uit te wis.  Dié teenstand kom dikwels uit die kring van gelowige mense, soos Paulus vroeër, wat groot passie vir God het, maar mislei is en die passie of energie verkeerd rig.  Mens kan godsdienstig baie opreg wees, maar tegelyk baie verkeerd.  Alle godsdienstige insigte en handelinge wat nie Jesus van Nasaret se lewe en werk as sentrum het nie, is misplaas, en verkeerd.  Jesus se werk loop langs die pad van die kruis, selfoorgawe en selfontlediging.  Alles wat nie godsdienstig in hierdie dienskneggestalte staan nie, is vir die kerk ’n versoeking.  Daarom kan – en hét – die kerk self ook ’n teëstander wees.  Die teëstand loop binne-in onsself.  Hierdie gedeelte roep ons tot bekering, oftewel voortdurende oriëntering aan Jesus.

Laat ons almal leef met die versugting dat Jesus ons help om betekenisvolle bydraes in ons omgewing in die Naam van Jesus te maak!  Opgewarmde vuurpyle op die lanseerplatform van Jesus!

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ’n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

  • Gee geleentheid vir stilgebed waarin die betekenis van die boodskap oordink word.
  • Geloofsbelydenis:  Flam 21 “In die hemel is die Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.