Derde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die tweede Sondag van Paastyd staan bekend as  Misericordias Domini – “Die troue liefde van die Here” (uit Ps 33:5-6). God se troue liefde vul letterlik die hele aarde en omsluit dus ons ganse bestaan. Vandag se tekste bevestig dit op vier maniere en die tekste kan dus, in die volgorde hier langsaan, een na die ander in die liturgie aan die orde kom. Dit is belangrik dat die gemeente deur die ontplooiing van die liturgie die goue draad van God se liefdestrou in hulle lewe sal volg.

Ander tekste

Psalm 4
U alleen laat my veilig woon
4 Vir die koorleier: met snarespel.
’n Psalm van Dawid.
2O God wat aan my reg verskaf,
antwoord my as ek roep.
Toe ek in die nood was,
het U my bevry.
Wees my ook nou genadig
en hoor my gebed!
3Hoe lank gaan julle my eer nog skend,
mense,
gaan julle valsheid liefhê
en voorkeur gee aan leuens?
4Besef tog dat die Here
wonders gedoen het
vir dié wat aan Hom getrou is.
Die Here hoor as ek na Hom roep.
5As jy ontsteld raak, moenie sondig nie;
dink in stilte daaroor na as jy gaan lê,
en laat dit daarby!
6Julle moet die offers bring
wat aan julle voorgeskryf is,
en julle moet op die Here vertrou.
7Daar is baie wat sê:
“Wie sal dit weer met ons
goed laat gaan?”
Wees ons tog weer goedgesind, Here,
help ons!
8U het my reeds groter vreugde
laat belewe
as wat daar is by mense
wat koring en wyn in oorvloed het.
9Nou sal ek onbesorg gaan lê
en dadelik aan die slaap raak,
want, Here, U alleen laat my
veilig woon.

1 Johannes 3:1-7
3 Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. 5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.

7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

9Iemand wat ’n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.

Lukas 24:36-49
Jesus verskyn aan die dissipels

(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Joh 20:19–23; Hand 1:6–8)
36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”

42Hulle gee Hom toe ’n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Fokusteks

Handelinge 3:12-19
Die genesing van die verlamde man
3 Een middag om drie-uur, die tyd van die gebed, was Petrus en Johannes op pad tempel toe. 2Net toe word daar ’n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Sy mense het hom elke dag by die tempelpoort wat Mooipoort genoem is, neergesit om by die tempelgangers te bedel. 3Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra. 4Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: “Kyk na ons.”

5Toe kyk die man na hulle in die hoop dat hy iets van hulle gaan kry. 6Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

7Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. 8Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop. Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het. 9Al die mense het gesien dat hy loop en God prys; 10maar toe hulle besef dat dit hy is wat voor die tempel by die Mooipoort gesit en bedel het, was hulle baie verbaas en verwonder oor wat daar met hom gebeur het.

Petrus se toespraak in die Pilaargang van Salomo
11Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is.

12Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek:
“Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? 13Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee—aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. 14Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ’n moordenaar begenadig moet word. 15So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. 16Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17“Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. 18Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 19Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

20En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 21Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 22Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. 23Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ 24En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. 25Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ’n seën wees.’ 26Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Petrus en Johannes voor die Joodse Raad
4 Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesters, die bevelvoerder van die tempelwag en die Sadduseërs op Petrus-hulle afstorm. 2Die priesters en die ander was onthuts omdat die apostels die mense geleer het en verkondig het dat die opstanding uit die dood deur Jesus se opstanding ’n werklikheid geword het. 3Hulle het Petrus en Johannes gevange geneem, en hulle, omdat dit al laat was, in die tronk gesit tot die volgende môre. 4Tog het baie van die mense wat hulle prediking gehoor het, gelowig geword; en die getal gelowiges het aangegroei tot omtrent vyf duisend.

5Die volgende môre het die raadslede, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergader. 6Ook die hoëpriester Annas, en Kajafas, Johannes, Aleksander en al die ander lede van die hoëpriesterlike familie was teenwoordig. 7Hulle het die apostels voor hulle laat bring en hulle ondervra: “Deur watter krag en in wie se naam het julle dit gedoen?”

8Toe het Petrus, vol van die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Raadslede van die volk, en familiehoofde, 9julle verhoor ons vandag oor ’n weldaad aan ’n siek man en oor hoe hy gesond gemaak is. 10Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. 11Hy is
die klip wat deur julle, die bouers,
afgekeur is.
Juis Hy het die belangrikste klip
in die gebou geword.

12Hý bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”

13Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus. 14En toe hulle nog boonop die gesonde man by die apostels sien staan, kon hulle niks teen hulle inbring nie. 15Die raadslede het hulle toe beveel om die raadsaal te verlaat en het die saak met mekaar bespreek.

16“Wat gaan ons met hierdie mense maak?” het hulle gevra. “Dat ’n onmiskenbare wonder deur hulle plaasgevind het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik. Ons kan dit nie ontken nie. 17Maar om te voorkom dat hierdie dinge nog verder onder die volk versprei, moet ons hulle met dreigemente verbied om weer in die Naam van Jesus met iemand te praat.”

18Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. 19Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. 20Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

21Nadat die Raad die apostels daarby nog ernstig gedreig het, het hulle hulle losgelaat. Hulle het dit gedoen omdat hulle geen rede kon vind om hulle te straf nie en vanweë die houding van die volk, want al die mense het God geprys oor wat daar gebeur het. 22Die man wat deur hierdie wonder gesond geword het, was immers al oor die veertig.

Die gebed van die gelowiges
23Nadat Petrus en Johannes losgelaat is, het hulle na hulle medegelowiges toe gegaan en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. 24Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 25En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê:
Waarom het heidennasies
te kere gegaan,
en het volke sinlose planne
beraam?
26Die konings van die aarde
het in opstand gekom,
en die heersers het saamgespan
teen die Here en teen sy Gesalfde.

27Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, 28en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het.

29“En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. 30Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

31Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig.

Onderlinge mededeelsaamheid
32Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel. Niemand het sy goed net vir homself gehou nie, maar hulle het alles met mekaar gedeel. 33Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal. 34Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring 35en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

36Josef ’n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is—dit beteken iemand wat mense moed inpraat – 37het ook die grond wat hy gehad het, verkoop en die geld gebring en dit vir die apostels gegee.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 497 “Ek is u kind, U roep my, Heer” of
Flam 51 “Koning Van My Hart”

Votum
Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het:  Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.  (1 Joh 3:1a)

Seëngroet

Lofsang
Lied 492 “In U is Vreugde” 
Vonkk 124 J”esus bring vreugde”

Liedere

Flam 51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig”
Teks: Jannie Hougaard 2003  © nav Kyrie eleison
Melodie: MINKIE-ANNE — Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief — Skuldbelydenis

Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig,
wees ons genadig.

Kyrie eleison.
Kyrie eleison.
Kyrie eleison, eleison.

Flam 7. “Here, Ek Vergeet So Gou”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: Lord, Have Mercy
Teks en musiek: Steve Merkel
Afrikaanse vertaling: 2005  Breda Ludik
© 2000 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Here, ek vergeet so gou
u woorde en beloftes,
en die vuur wat in my hart
gebrand het, is nou flou.
Met ‘n hart vol ongeloof
bedink ek aardse wysheid.
Vergewe tog my louheid,
ontvlam my hart se vuur.

Refrein:
Heer, vergewe, wees genadig.
Jesus, wees genadig.
Heer, vergewe, wees genadig.
Christus, wees genadig.

2. Ek het soms ook neergekniel
voor mensgemaakte gode
en gegaan op paaie wat
my ver van U wegneem.
Maar ek keer weer terug na U
en pleit om u genade.
Vergewe tog my sonde
en neem my in u huis.

Refrein:

3. Ek het terug verlang na U,
u liefde en genade;
na die stroom van goedheid
wat vloei van waar U woon.
Nou kom buig ek voor U neer,
want U is nog my Vader.
Ek is nog ‘n kind van U;
ek kan U nie vergeet.

Refrein:

VONKK 79 “Genade, So Oneindig Groot”
Teks: Amazing grace, how sweet the sound – John Newton 1779 (1725 – 1807); Jacques Louw 2009 ©
Melodie: AMAZING GRACE  — Amerikaanse volksmelodie in Southern Harmony 1831; aangepas Edwin Excell 1900
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit
RUBRIEK:  Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Genade, so oneindig groot,
gee U, o Heer, vir my.
Ook ek, verlore sondaarmens,
word van my skuld bevry.

2. Deur swaarkry, hartseer en gevaar,
moes ek my pad hier vind.
U goedheid, Heer, het my bewaar
en my aan U verbind.

3. Al was ek so verhard en blind,
al het ek niks verdien,
kon ek by U genade vind –
geloof, wat my laat sien.

4. Ek loof U vir genade, Heer,
so onverdiend aan my.
Vergifnis gee U keer op keer
as ek my skuld bely.

5. Nou leef ek daagliks uit u hand,
my hart na U gekeer.
Met al my gawes en verstand
wil ek U dien, o Heer.

F255. “U Woon In My Lewe”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Geloof & Vertroue)
Oorspronlik: I’v Got Jesus
Teks en Musiek: Dough Harley
Afr. teks: E. Posthumus
© Kingsway Publishing

U woon in my lewe
U’s die Een na wie ek strewe
Altyd Jesus
U’s die Een vir wie ek lewe
Altyd Jesus
U’s die ligpunt in my lewe
Dankie, Jesus!

Ek wil vir U sing, my Here.
U het al my skuld vergewe.
Ek gee U my hele lewe.
Hey, hey, hey, hey!

Jump!!!

Na, na, na, na, na.
Ek sal altyd vir U leef
Ey, ey.
U’s die Een
na wie ek streef.
Ey, ey.
Ek sal altyd vir U leef.
Ey, ey

God praat met ons en ons luister

Gebed
Skriflesing

Familie-oomblik

Onthou, dis belangriker dat kinders die Bybel self leer ken, eerder as stories oor die Bybel.  Jy kan gerus die verhaal van die genesing van die verlamde man (Hand 3:12-19 – perikoop net voor die fokusteks)  vir die kinders vertel – dan het jy ook reeds die agtergrond van die teks in plek vir die preek.  Beklemtoon dat Petrus nie self die eer vat vir die genesing nie, maar dat hy dit gebruik as ‘n geleentheid om te vertel wat Jesus doen.  Gesels dan met die kinders oor wat Jesus doen – vergewe ons, maak ons God se kinders, heers, genees ons seer, ens.

As jy die ou kinderkransliedjie onthou, kan julle dit gerus sing!
“Silwer en goud,
die het ek nie,
maar wat ek het
dit gee ek jou:
in die Naam van Jesus Christus van Nasaret
staan op en loop!”

Of laat die kinders die verhaal opvoer soos wat jy dit vertel.
By http://missions.brokenloaf.com/childrensministry/11color%20sheets/english/New%20Testament%20Color%20Pages/247%20Heal%20Lame%20Man%20Acts%203/Lame%20Man%20Healed.jpg is ‘n pragtige inkleurprent van ‘n dansende, geneesde voorheen-verlamde man.

‘n Ander moontlike aktiwiteit, is hierdie prente: http://missions.brokenloaf.com/childrensministry/11color%20sheets/english/New%20Testament%20Color%20Pages/247%20Heal%20Lame%20Man%20Acts%203/Peter%20&%20Joh%20Heal%20Lame%20Man.jpg  Die gedagte is om te gesels oor die verskil wat Jesus maak en dan die verskille tussen die twee prente in te kleur.

Gebruik hierdie prentjie van die verhaal.

Preekriglyn

Net na die dood van Pous Johannes Paulus II op 2 April 2005, het Rogers Cadenhead die internet domeinnaam www.BenedictXVI.com geregistreer.  Cadenhead beskryf homself as ‘n geharde domeinversamelaar.  Hy kon nie anders nie, hy moes die kans vat.  Cadenhead het die naam geregistreer nog voordat Rome geweet het hulle mag dit nodig kry.

Die regte domeinnaam kan ‘n goeie belegging wees.  ‘n Soortgelyke naam, PopeBenedictXVI.com het $16,000 (sowat R130,000) tydens ‘n eBay-veiling behaal.  Maatskappye betaal dikwels goeie geld om ‘n domein by die eienaar te koop, as dit hulle besigheid kan bevoordeel.

Caldenhead wou egter nie geld vir sy naam hê nie.  Self ‘n Katoliek, was hy doodtevrede dat die kerk eienaarskap van sy domein kry.  “Ek gaan nie die risiko loop om 1,1 biljoen Katolieke, waaronder my ouma, kwaad te maak nie,” het hy gespot.

Caldenhead wou egter wel ‘n paar dinge in ruil hê vir sy domeinnaam:

  1. ‘n Hoed, soos die pous s’n;
  2. Gratis verblyf in die Vatikaanhotel, en
  3. Volledige vergifnis en absolusie (sónder dat enige vrae gevra word) vir alles wat hy in die derde week van Maart 1987 gedoen het.

Mens wonder nogal wat Caldenhead alles daardie paar dae aangevang het.  Dit mag ons dalk laat dink aan ‘n soortgelyke week in ons lewens.  Een waarvoor ons regtig, ten diepste, die Here se volle vergifnis nodig het.  Daardie soort goed wat net deur volledige vergifnis hanteer kan word. (Soos oorvertel deur Max Lucado)

Vergifnis is moontlik

Op ‘n baie hoopvolle manier beskryf ons teks die vergifnis wat moontlik is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret.  As die Israeliete en hulle leiers in Jerusalem enige benul gehad het van wat regtig die waarheid is, sou hulle daardie verskriklike week in Jerusalem toe Jesus onskuldig vervolg en tereggestel het, na God neem en om vergifnis pleit.  Net om te hoor: in die Naam van hierdie einste Jesus is vergifnis en volkome genesing moontlik.

Dit is die doel van Petrus se toespraak.  Hy verduidelik die weg na egte vergifnis.

Openingstoneel

Ons teks speel in die voorhof van die tempel, in die bekende Pilaargang van Salomo af.  Verbaasde mense stroom soontoe om te kyk na die bekende lam man wat skielik kan loop en spring.

Oomblikke tevore, om drie-uur, op pad na die tempel toe, loop Petrus en Johannes die bekende lam man raak.  Sy familie het hom daar kom neersit om vir aalmoese te vra.

Op hierdie dag gebeur iets nuuts.  Mens kan jou net indink hoeveel keer Petrus en Johannes die man al moes gesien het.  Nou is daar ‘n verskil.  Hulle pad het met Jesus van Nasaret gekruis.  Jesus is gekruisig, het gesterf, en is begrawe.  Maar Jesus is ook opgewek uit die dood, en het opgevaar na die hemel vanwaar Hy aan die regterhand van die Vader sit en oor die hele wêreld regeer.  Saam met die Vader het hierdie Jesus die Gees uitgegiet.

Dit maak ‘n verskil:

  • Petrus en Johannes sien die verlamde man asof vir die eerste keer – hulle sien hom regtig as mens raak;
  • Hulle het iets om vir hom te bied – in die Naam van Jesus.
  • Hulle het vrymoedigheid en hulle het geloof.

Skielik word die man se voete en enkels sterk en hy kon loop.  Dis die gebedsuur.  Lopend, springend en juigend stap hy die tempel binne.  Self verbaas, is almal ook verbaas wat hom sien.  Dit laat die mense vol verbasing en verwondering saamstroom in die Pilaargang van Salomo.  Wat het hier gebeur?

‘n Publieke verduideliking

Evangelisasie in Handelinge werk só, verduidelik Lesslie Newbigin:  iets wonderbaarliks gebeur, en dan word die evangelie van die lewende Here verduidelik wanneer verbaasde en verrasde mense vra wat gebeur het.

Ons teks is die openbare verduideliking vir die wonderwerk wat hier in die Naam van Jesus gebeur het.  Petrus se antwoord is eenvoudig:  “Dit was nie ons nie!  Dit was Jesus!  Of beter: dit was die God van Abraham, Isak en Jakob aan die werk deur Jesus.  Dis hoe dit gebeur het.”

Die God van Abraham, Isak en Jakob

Opvallend begin Petrus sy verduideliking met verwysing na “Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” (13)  Hierdie is ‘n aanhaling uit Eksodus 3:6.  Dit was ‘n beroemde aanhaling, en Petrus se toehoorders het dadelik verstaan wat hy bedoel.  Kort tevore het Jesus nog hierdie selfde teks aangehaal in sy debat met die Sadduseërs (Luk 20:37).

Die punt is dit: Eksodus 3 is die moment waarop God vir Moses roep, by die brandende bos, en hom ‘n opdrag gee.  Hy moet uit die woestyn teruggaan Egipte toe om sy mense uit slawerny te bevry en na vryheid te lei.  Die Here verseker Moses dit is regtig Hy wat praat.  Hy is die God wat beloftes aan Abraham, Isak en Jakob, die voorvaders van die tans verslaafde volk gemaak het.  God verseker Moses: “Ek onthou my beloftes, en Ek gaan nou my beloftes waar maak.  Ek is besig om aktief te handel om vir julle verlossing te bring.”

Met sy aanhaling sê Petrus: “Dit is besig om weer te gebeur.  God werk aktief en bring verlossing!”  Petrus, sê NT Wright, is besig om te doen wat die vroeë Christene aanhoudend sou doen.  Wanneer hulle ‘n vraag oor Jesus moes antwoord, het hulle altyd teruggegaan na Eksodus.  Dit was:

  • toe God dramaties gehandel het om sy beloftes te vervul en verlossing te bring;
  • toe hulle die Paaslam geslag het;
  • toe hulle deur die water heen gered is;
  • toe hulle die wet as weg van gehoorsaamheid en dankbaarheid ontvang het;
  • toe hulle op koers na God se erfenis vir hulle geplaas is.

Al hierdie temas kom in die Nuwe Testament bymekaar rondom die vraag Wie Jesus is, en hoe God deur Jesus handel.  Oor en oor beklemtoon die Nuwe Testament: wanneer ons na Jesus kyk, en sien wat deur Jesus se Naam gebeur, is dit asof ons – soos Moses – by die brandende bos staan en iets besonders aanskou, wat vir ons bevestig: die lewende God, die Skepper van die hemel en die aarde, die God van Abraham, Isak en Jakob, lewe steeds en is steeds besig om sy beloftes te hou.

Hiermee dek Petrus die tafel om betekenisvolle goed oor Jesus te sê.

Jesus, die Dienaar van God

Deur na Jesus as die Dienaar van God te verwys, herinner Petrus die volk aan tekste soos Jesaja 53 waar getuig word dat God groot dinge deur sy Dienaar doen.  Jesus, die Seun van God, is die Een deur Wie God handel.

Jesus, heilig en opreg

Jesus was heilig, volkome aan God toegewy, sê Petrus.  As dissipels het hulle die pad saam met Jesus gestap.  Hulle kon sy lewe sien, toegewy aan die Vader, met die hoogste integriteit en die volkome liefde wat Jesus openbaar het.

Jesus was ook opreg en onskuldig.  Selfs Pilatus het Jesus onskuldig bevind.  Die Israeliete het Jesus se onskuld verwerp en gevra dat ‘n moordenaar in sy plek begenadig moes word.

Dis belangrik om Petrus se argument te volg:

  • Julle wil weet hoe die kreupele weer kan loop;
  • Dink aan die handelende God by die brandende bos met Moses wat sy beloftes waar maak;
  • Dink aan die Dienaar van God-beloftes uit Jesaja – Een sal God se bedoelinge waar maak, Een wat ons sonde en siekte op Hom sal neem;
  • En plaas Jesus, die opregte Dienaar, in die trajek van hierdie verwagtinge.  Plaas Jesus in die middel van hierdie beloftes.
  • Dan sal julle verstaan wat hier gebeur het.  En sal julle verstaan waarom dit hoopvol en belofteryk ook vir julle is.
Jesus, die Leidsman na die lewe

Op grond hiervan kan Petrus Jesus die “Leidsman na die lewe” noem.  Jesus skep nuwe lewe.  Jesus lei mense deur dood, agteruitgang, vernietiging heen tot ‘n nuwe lewe waarvan niemand voorheen kon droom nie.

Jesus het dit reeds in sy aardse bediening gedoen.  Waar Jesus ook al gegaan het, het Hy nuwe lewe gebring.  Lewe wat getuig het dat die God van Abraham, Isak en Jakob in beheer is, en aan die werk is.

Daarom is dit so verstommend dat dit juis die God van Abraham, Isak en Jakob sé ménse is wat Jesus verwerp het en Hom na die kruis gestuur het.  God se mense het die Leidsman na die Lewe verwerp!

God het God egter nie laat stuit nie.  God het Jesus opgewek uit die dood.  God bly getrou aan God se beloftes – ook aan die Jode.  Daarom gebeur nuwe lewe nou hier in die Jode se midde: ‘n verlamde staan op en loop.  Dis God aan die werk deur Jesus.  Dis hoe God se Koningskap werk: dit gebeur deur God se Seun, Jesus.

“Deur geloof in sy Naam”

Dit is belangrik om te sien hoe Petrus die werk van Jesus beskryf.  Hy sê die man is genees “deur die geloof in sy Naam.”  Ja, “die geloof wat van Hom kom” het die verlamde opgetel.

Daar is niks magies aan die gebruik van die Naam van Jesus nie.  Die Naam van Jesus is nie ‘n towerwoord nie, ‘n soort abrakadabra wat skielik outomaties wondere verrig nie.  Dis nie soos om die lamp van ‘n genie te vryf, en – voila – dinge gebeur nie.

Daar moet geloof wees – geloof in Jesus by diegene wat die Naam op hul lippe neem, en geloof by diegene wat dit hoor.  Dit is hierdie Naam wat mense help om te groei, heel te woord, skoongewas te wees, herstel, genees en hernu, wat hulle op hulle eie voete sit, soos die verlamde man wat hier letterlik op sy voete gehelp is.  Magiese name hou mense gebind aan die magiese kragte van die naam self, hier word mense genees en herstel.

Herstel is ‘n lewensomvattende proses.  Hierdie man staan voor die skare: herstel in sy menswaardig­heid, moreel, geestelik en persoonlik nuut.  Dit is wat Petrus bedoel wanneer hy sê dat Jesus die man “volkome herstel” het.

Die pad van genesing

Net soos Jesus in sy bediening gedoen het, beklemtoon Petrus dat die pad na genesing die vergifnis van sonde is.  Selfs vir die Jode wat in ‘n week van absolute dwaasheid die Leidsman na die Lewe onskuldig na sy dood gestuur het, is daar vergifnis en herstel moontlik.  Die voormalige lam man, nou springend en juigend, getuig hiervan.

“Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer.  Dan sal God julle sondes uitwis.” (19)

Hierdie herstel van die verhouding met God is die groeipunt van waaruit die Leidsman na die Lewe nuwe lewe, genesing en herstel, in elke bekeerde mens se lewe inweef.

Met selfvertroue

In die moderne, wetenskaplike era het God vir Westerlinge op die agtergrond geraak.  Ons leef met die wêreldbeeld van Newton waarvolgens die wêreld soos ‘n geoliede masjien loop.  Gelowiges sal nog sê God het die masjien geskep en die wette waarvolgens die masjien loop, bepaal.  Maar die verwagting dat God binne die masjien se doeltreffende werking sal ingryp, is beperk.  Miskien steek God af en toe God se hand in die wêreld in wanneer daar iewers ‘n part breek wat mense nie self kan herstel nie.

Hierdie Godsbeeld is wêrelde verwyder van die prentjie van ‘n aktief-handelende, betrokke, lewegewende God wat in Handelinge 3 na ons toe kom.  Die vraag is hoe moderne Christene hierdie Bybelse Godsbeeld kan herwin?

Dalk is ons oë – net op ‘n ander manier – ook toe vir die werking van God.  Net soos die Jode van Jesus se tyd.  Sal ons bid dat God ons oë oopmaak vir wat God doen deur die Naam van Jesus in ons wêreld, en spesifiek waar daar geloof is?  Geloof is hier die lewende verwagting om God aan die werk te sien.

Met hierdie verwagting kan ons God bid om ons te help om die verlamdes, die siekes (fisies en andersins) raak te sien.  En om die regte woorde te hê om vir hulle te sê.

Laat ons hierdie taak met selfvertroue uitvoer.  Die kerk is dikwels nie meer oortuig dat die verhaal van Jesus die waarheid is wat die wêreld verander nie.  Dan kry ons ander plaasvervangers vir die evangelie.  Laat ons ons getuienis oor Jesus met selfvertroue lewer – soos Petrus.  Dit is ‘n selfvertroue wat niks anders is as ‘n vertroue op God wat tot vandag toe handel nie.  So werk die publieke getuienis waarvan Lesslie Newbigin praat.

Genesing

Ons het almal indiwiduele genesing nodig.  Moontlik ‘n dwase week, of dag, waarvoor ons vergifnis nodig het.  Dalk ‘n lank-gekoesterde wrok in die familie.  Of ‘n krisis in die gemeente wat verhoudinge versuur het, maar waaroor niemand wil praat nie.

Laat ons na die Leidsman na die Lewe gaan, vergifnis vra – en ook in sy Naam van mekaar vergifnis vra – en vorentoe groei na volkome genesing.

God is aan die werk in vergifnis en genesing.  Hy het dit al by die brandende bos openbaaar.

God stuur ons om te leef

Toewyding
Handelinge 3:19   “Bekeer julle en kom tot inkeer.  Dan sal God julle sondes uitwis.”

Gee geleentheid vir stil gebed, waartydens mense hul lewens voor God lê en bid om vergifnis en genesing.

Lied 247 “Heer, wees ons genadig” of
VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig” of
Flam 7 “Here, Ek Vergeet So Gou”

Genadeverkondiging: 1 Johannes 3:1-2

Voorbidding

Dankoffer
As offerhandeling, simbool van ons oorgawe aan God

Slotlied
Lied 514 “Ek weet vir seker” of
VONKK 79 “Genade, So Oneindig Groot” of
Flam 255. “U Woon In My Lewe”

Seën

Respons
Lied 245 Refrein  “Ek loof en prys U deurentyd… en roem u groot barmhartigheid

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.