Derde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Handelinge 3:12-19
Petrus se toespraak in die Pilaargang van Salomo
11Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is. 12Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek:

“Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? 13Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee—aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. 14Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ’n moordenaar begenadig moet word. 15So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. 16Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17“Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. 18Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 19Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

20En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 21Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 22Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. 23Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ g24En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. 25Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ’n seën wees.’ h26Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Psalm 4
U alleen laat my veilig woon
4 Vir die koorleier: met snarespel.
’n Psalm van Dawid.
2O God wat aan my reg verskaf,
antwoord my as ek roep.
Toe ek in die nood was,
het U my bevry.
Wees my ook nou genadig
en hoor my gebed!
3Hoe lank gaan julle my eer nog skend,
mense,
gaan julle valsheid liefhê
en voorkeur gee aan leuens?
4Besef tog dat die Here
wonders gedoen het
vir dié wat aan Hom getrou is.
Die Here hoor as ek na Hom roep.
5As jy ontsteld raak, moenie sondig nie;
dink in stilte daaroor na as jy gaan lê,
en laat dit daarby!
6Julle moet die offers bring
wat aan julle voorgeskryf is,
en julle moet op die Here vertrou.
7Daar is baie wat sê:
“Wie sal dit weer met ons
goed laat gaan?”
Wees ons tog weer goedgesind, Here,
help ons!
8U het my reeds groter vreugde
laat belewe
as wat daar is by mense
wat koring en wyn in oorvloed het.
9Nou sal ek onbesorg gaan lê
en dadelik aan die slaap raak,
want, Here, U alleen laat my
veilig woon.

1 Johannes 3:1-7
Kinders van God
28En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie. 29Aangesien julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat regverdig lewe, ’n kind van God is.

3 Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat dit Hom nie ken nie.

2Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. 5Julle weet dat Jesus gekom het om die sondes weg te neem, en daar is geen sonde in Hom nie. 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.

7Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is;

8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

9Iemand wat ’n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.

Lukas 24:36b-48
Jesus verskyn aan die dissipels

(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Joh 20:19–23; Hand 1:6–8)
36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”

42Hulle gee Hom toe ’n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Fokusteks

Handelinge 3:12-19
Die genesing van die verlamde man
3 Een middag om drie-uur, die tyd van die gebed, was Petrus en Johannes op pad tempel toe. 2Net toe word daar ’n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Sy mense het hom elke dag by die tempelpoort wat Mooipoort genoem is, neergesit om by die tempelgangers te bedel. 3Toe hy vir Petrus en Johannes sien, net voor hulle in die tempel ingaan, het hy van hulle iets gevra. 4Petrus en Johannes kyk hom toe stip aan, en Petrus sê: “Kyk na ons.”

5Toe kyk die man na hulle in die hoop dat hy iets van hulle gaan kry. 6Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

7Hy vat toe die man se regterhand en help hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword. 8Hy het opgespring en regop gestaan, en hy kon loop. Daarna het hy saam met hulle in die tempel ingegaan terwyl hy geloop en gespring en God geprys het. 9Al die mense het gesien dat hy loop en God prys; 10maar toe hulle besef dat dit hy is wat voor die tempel by die Mooipoort gesit en bedel het, was hulle baie verbaas en verwonder oor wat daar met hom gebeur het.

Petrus se toespraak in die Pilaargang van Salomo
11Die man het vir Petrus en Johannes bly volg, en die mense wat almal uiters verbaas was, het na hulle toe gestroom in die Pilaargang van Salomo, soos dit genoem is.

12Toe Petrus dit sien, het hy hulle toegespreek:
“Israeliete, hoekom is julle hieroor verbaas? Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop? 13Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee—aan Hom vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat moes word. 14Hy was heilig en opreg, maar júlle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ’n moordenaar begenadig moet word. 15So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies. 16Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.

17“Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het. 18Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly. So het Hy dit nou laat gebeur. 19Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

20En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. 21Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê. 22Moses het immers gesê: ‘Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom. Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê. 23Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word.’ g24En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur. 25Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. Hy het vir Abraham gesê: ‘Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ’n seën wees.’ h26Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”

Ekstra stof

Handelinge 3:1-26 – God gee geloof sodat ons kan glo
3:1-10
Dit is opmerklik dat die eerste fase van die dissipels se bediening steeds in die tempel plaasvind, dié tempel wat Jesus self “gereinig” het en in die laaste week van sy aardse bediening die mense geleer het (Luk 19-21).  Die tempel is dan ook die plek waar die eerste wonder plaasvind in die bediening van die apostels.  Let op hoe die verlamde man vir Petrus en Johannes sien  – die normale woord vir kyk eidoo – en hulle hom dan stip aankyk – ’n woord wat die betekenis van toegespitste aandag oordra antenizoo (attentive).  Hulle vra hom dan om na hulle te kyk – nog ’n Griekse woord blepoo wat ook die metaforiese betekenis kan dra om met begrip te kyk.  Dit is wanneer hy só reageer, dws met verwagting, dat hulle hom die gawe van gesondheid in die Naam van Jesus gee.

Hierdie wonder het beteken dat hulle boodskap nou nie net deur die wonder van die Heilige Gees se uitstorting gerugsteun is nie, maar nou ook deur dieselfde wonders wat Jesus gedoen het.  Binne dae het hulle bediening onder almal se aandag gekom, wat aan die een kant as teken gedien het dat Jesus se bediening voortgesit word deur die apostels in dieselfde krag waarmee Hy opgetree het.  Maar aan die ander kant ook skerp teenstand van die godsdienstige leiers uitgelok het, iets wat natuurlik toenemend in Jesus se eie bediening gebeur het en tot sy dood gelei het, en wat hierna so fel sou toeneem dat daar ’n grootskaalse vervolging van die Christene sou uitbreek.

3:11-26
Petrus gebruik weereens die reaksie op die wonder (soos met Pinksterdag) om die evangelie aan die skare mense wat in die tempel is, te verkondig.

Let op hoe hy sy boodskap opdeel:
1. dat dieselfde Jesus wat hulle doodgemaak het, nou in sy opstandingskrag die genesing bewerk (3:11-16) en
2. hierdie Jesus is lank alreeds deur die profete aangekondig, en wil steeds tot ’n seën wees selfs vir dié wat Hom gekruisig het (3:17-26).

Dit tref my hoe Petrus oor geloof praat (vers 16).  Hy belig die twee kante daarvan:
1. deur die geloof in sy Naam, het sy Naam genesing gebring – die geloof van Petrus in Jesus en die verwagting van die verlamde man vir wat Hy kan gee, het God tot aksie beweeg, en
2. die geloof is ’n gawe van God – dws Petrus kan glo, en die man kan van God iets verwag, omdat Hy in die eerste plek vir hulle dit moontlik gemaak het om te kan glo.  Geloof is ’n leë hand wat ons na God uitsteek om op te tree.  Dit is ook ’n gawe wat Hy gee sodat ons van Hom kan vra.  Albei kante van geloof is waar en nodig in sy koninkryk.

Dit tref my ook dat Petrus werk met ’n baie nabye verwagting van Jesus se wederkoms.  As die Jode tot inkeer kom en hulle tot Hom wend, sal Hy hulle seën en weer terugkom na hulle toe.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 120 [bekend]

Votum: Handelinge 3:1-10 [met video]

Seëngroet

Lofsang: VONKK 197 of Flam 234 of Lied 194

Wet: 1 Johannes 3:1-7

Skuldbelydenis: VONKK 17 of Lied 229

Genadeverkondiging: Handelinge 3:19 en 1 Johannes 1:9

Geloofsbelydenis: Flam 552 of Apostoliese Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing EN Familie-oomblik: Handelinge 3:12-19

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 308 of Flam 545

Seën

Respons: Lied 311

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: VONKK 120 Soos ‘n Wildsbok [dieselfde melodie as Liedboek]

Votum
Lees Handelinge 3:1-10
Of jy kan ook die kinders in die gemeente van die begin af insluit deur die votum óf met ’n video te doen of ’n video te wys terwyl jy die gedeelte lees.

Hier is ’n dramatiese “live action” uitbeelding van die teks wat goed as votum kan werk.  Of  jy kan die eerste gedeelte van hierdie video wys terwyl jy die teks lees – oefen vooraf om die tydsberekening reg te kry.

Seëngroet
Net soos die verlamde man by die tempelpoort, is ons ook ingenooi in God se tempel, deur die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus, deur die werking van die Heilige Gees.

Lofsang
Net soos die man wat genees is, reageer ons op God se genade deur God te prys:
VONKK 197 Kom Sing Voor Die Heer of
Flam 234 Ek Kan Sien of
Lied 194 “Ons bring aan U die lof en ere”

Wet: 1 Johannes 3:1-7

Skuldbelydenis
VONKK 17 Here, Sien My Bitter Lyding of
Lied 229 “Wil, Heer, in liefde U ontferm”

Genadeverkondiging: Handelinge 3:19 en 1 Johannes 1:9

Geloofsbelydenis
Flam 552 “Ek weet ek’s u geliefde kind” (U’t my eerste liefgehad) of
Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 128 “Soos ‘n Wildsbok*”
Teks: Martin Nystrom 1983; Afrikaanse teks: Jan de Wet 1985/1993 (:1); Jacques Louw 2010 (:2 en :3) ©
Musiek: AS THE DEER – Martin Nystrom 1983 Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2008 (Pro Deo) (met toestemming SAKOV)
Kantoryverwerkings: Erns Conradie 1995 en Renette Bouwer 2002 (Pro Deo)
Musikale verrykings: Anton Esterhuyse en Gerrit Jordaan 2010 © 1983 Maranatha Music VSA admin CopyCare SA
RUBRIEK: Kontemporêr – Verwondering / Gebed / Geloof en Vertroue

1. Soos ‘n wildsbok wat smag na water
smag my siel na U, o Heer.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.

Refrein
U alleen is my bron van krag;
in u teenwoordigheid wil ek wag.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.

2. Ek soek U meer as goud en silwer,
want net U versadig my.
Net by U vind ek ware vreugde
deur u Gees wat in my bly.

U alleen is my bron van krag;
in u teenwoordigheid wil ek wag.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.

3. Al is U ook die Hemelkoning,
U’s my vriend, my broer, my Heer.
U verdien al my eer en liefde,
daarom buig ek voor U neer.

U alleen is my bron van krag;
in u teenwoordigheid wil ek wag.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.
* kan in aansluiting by Liedboek #163 gesing word

VONKK 197 “Kom Sing Voor Die Heer”
Teks: Uit Brasilië; Afrikaanse teks: Breda Ludik 2011 Melodie: CANTAD AL SEÑOR – Brasiliaanse volksmelodie
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo) © Teks en orrelbegeleiding: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Multikultureel – Lofprysing

1. Kom sing voor die Heer, want Hy is ons vreugde.
Kom sing voor die Heer, want Hy is ons vrede.
Kom sing voor die Heer, want Hy is ons vreugde.

Kom sing voor die Heer, kom sing voor die Heer.

2. Die Here regeer, Hy heers oor die aarde.
Die Here regeer, verheerlik sy dade.
Die Here regeer, Hy heers oor die aarde.
Kom sing voor die Heer, kom sing voor die Heer.

3. Kom dans voor die Heer en blaas op basuine.
Kom dans voor die Heer, sing vreugderefreine.
Kom dans voor die Heer, en blaas op basuine.
Kom sing voor die Heer, kom sing voor die Heer.

4. Want Jesus is Heer! Amen! Halleluja!
Want Jesus is Heer! Amen! Halleluja!
Want Jesus is Heer! Amen! Halleluja!
Kom sing voor die Heer, kom sing voor die Heer.

Portugees:
Cantai ao Senhor um cântico novo.
Cantai ao Senhor um cântico novo.
Cantai ao Senhor um cântico novo.
Cantai ao Senhor, cântai ao Senhor!

Spaans:
Cantad al Señor un cántico nuevo.
Cantad al Señor un cántico nuevo.
Cantad al Señor un cántico nuevo.
Cantad al Señor, cantad al Señor!

F234. “Ek Kan Sien”
(RUBRIEK: Flammikidz – Verwondering) Teks en musiek: Willie Pretorius © MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kan sien.
Ek kan hoor.
Ek kan my hande klap
en Jesus loof.
Ek kan sing.
En ek kan spring
en al my dankbaarheid
aan Jesus bring.

2. Ek kan draai.
Ek kan swaai.
Ek kan my arms lig
en hande waai.
Ek kan buig.
Ek kan juig
en aan die Koning
dank en lof betuig.
Dankie, Jesus. U is goed. (x2)

VONKK 17 “Here, Sien My Bitter Lyding”
Psalm 38
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: Groot en eeuwig Opperwezen – Liederwysie 1950 opgeteken deur Gawie Cillié by Doornhoek, Magaliesburg
© Teks:  2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek / Meditatief  – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Here, sien my bitter lyding –
oor my wonde
smeek en sug ek van die pyn.
Hoor hoe pleit ek om bevryding
van my sonde
wat my liggaam weg laat kwyn.

Ek dra swaar aan my verlede.
Ag, vergeef my,ek was dom en dwaas , o Heer.
Sonde pla my, steel my vrede.
Ag, verlos my,
ek erken my skuld, o Heer.

F552. “Ek weet ek’s u geliefde kind (U’t my eerste liefgehad)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en vertroue)  Teks en musiek:  Fereirra Marais  Kopiereg: ©

Verse 1
Ek weet ek’s U geliefde kind
U sal my nooit verlaat nie
U hou my vas u gee my krag
U het my eerste liefgehad

Verse 2
Ek weet U leef hier in  my hart
My liggaam is U tempel
Ek bring my lof en dank aan U
Want U’t my eerste liefgehad

Pre-Chorus
So onverdiend, U groot geskenk
U graf staan leeg en ek is vry…
Gekoop deur U, dit is volbring
Die rede waarom ek sal…

Chorus
Ek sal sing vir U sonder terughou, sonder keer
Ek sal sing vir U met elke asem wat ek gee
Ek sal sing vir U uit die diepte van my hart
Ek sal sing vir U : Jesus

Bridge
Ek dans, ek sing, ek spring en skree
Want U’t my eerste liefgehad X4

F545: “Neem my lewe – Lied 308”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en vertroue)  Oorspronklike titel:  Take my life and let it be
Oorspronklike teks:  Frances Havergal 1874; GBA Gerdener 1934; gewysig Attie van der Colff 1978
Melodie:  VIENNA – Justin Knecht 1797 Oorspronklike bygewerkte teks en melodie:  Chris Tomlin
Afrikaanse vertaling van bygewerkte teks: Retief Burger Kopiereg: © 2014 Urial Publishing
(Opgeneem op Nou en Vir Altyd)

Neem my lewe, laat dit Heer,
gewy wees meer en meer;
Laat my hart gedurig juig
en van dankbaarheid getuig
Neem my hande, maak hul sterk –
diensbaar in u goeie werk.
Neem my voete, skoei hul, Heer,
met bereidheid tot u eer

Neem my stem en laat my sing;
aan U, Here, hulde bring.
Laat my mond die boodskap dra:
hul sal vind wat na u vra.
Neem my goud en silwer, Heer,
niks noem ek my eie meer;
Al my kennis en verstand
stel ek in u Vaderhand.

Refrein:
Hier is ek, als van my
Neem my hart, dis als vir U

Maak my hart vir U tot troon
deur u Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad
altyd na u wyse raad.
Neem my liefde; hoe gering,
al sy skatte wil ek bring;
Neem dit als; ek gee dit vry,
Heer, vir ewig u gewy!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Handelinge 3:12-19
Jy kan die Skriflesing ook integreer met die familie-oomblik.  Veral vir verhalende tekste het ons nie ekstra boodskappies nodig nie – ons kan gewoon die verhale vertel op ’n manier wat vir kinders bevatlik is.  Hier is ’n uitstekende video wat die hele gedeelte, asook die daaropvolgende gebeure, uitbeeld.  Of gebruik die gratis YouVersion Bible App for Kids om die gedeelte op ’n lekker interaktiewe manier te lees.  Hier is ’n video daarvan.  Of laat kinders die gedeelte mime terwyl iemand dit lees.

Familie-oomblik

Familie-oomblik

Kyk na die voorstelle onder “Skriflesing”.
Hier is ’n paar lekker aktiwiteite wat kinders sou kon maak tydens die preek.  Of gee vir die kinders hierdie inkleurprent om in te kleur terwyl hulle na die preek luister.

Preekriglyn

[Nota: Oorweeg om die Skriflesing by 3:1 te begin.]
Waar Handelinge 2 vertel van die radikale nuwe lewe en lewenswyse binne die gemeente van die Here, vertel Handelinge 3 van die gemeente se aksie na buite. Versorging en opbou van die gelowiges na binne in is hoofstuk 2 aan die orde, die gemeente se missie na buite – “by die tempelpoort” – kry in hoofstuk 3 aandag.

Ons teks is deel van ‘n groter vertelling waarin die bedieningspatroon van die gemeente in Jerusalem oorvertel word. Die voortgang van die opgestane Jesus se bediening na die uitstorting van die Heilige Gees word vir ons duidelik.

Een sentrale tema is: Beide opbou en uitreik geskied deur die krag van die Heilige Gees. Die gemeente wat in Christus nuut gemaak is, het ‘n impak op die gemeenskap.

Ons teks beskryf die eerste vrug van die Heilige Gees se werk deur die gemeente in die gemeenskap. Daar is versorging van diegene wat in nood verkeer. ‘n Verlamde man word genees. Net soos die gelowiges mekaar met dienswerk onderlinge versorg het (hoofstuk 2), net so bereik hulle dienswerk die nood buite die gemeente, die nood van die omgewing.

Die gemeente van Handelinge boots Jesus na. Net soos die Here mense op die hoofpaaie en die agterstrate genees het, betoon die gemeente nou genade aan mense buite die tempel se poorte.

Vervolgens fokus die preek nou

  • op die genesing van die verlamde man, en
  • op die betekenis van Petrus se getuienis teenoor die mense wat verbaas oor die genesing was.

Die genesingswonder verklap iets oor die rol van die kerk na die kruis, opstanding, hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees.

Sonder hulpbronne

Waarmee word die verlamde man buite die Mooipoort genees? Petrus sê in soveel woorde dat hy nie geld het nie. Geld is waarop die verlamde gehoop het, want hy kon nie werk vir geld nie. Die beste wat hy verwag het, was ‘n paar muntstukke.

Hy kry veel meer. Hy kry sy bene terug. Sy voete en enkels word sterk. Hy spring op, staan regop, en kon loop.

God se wonderkrag wat deur die gemeente werk is nie van geld of hulpbronne afhanklik nie. God doen wondere sonder ons hulpbronne.

Met hulpbronne

Die keersy is natuurlik: wat doen God wanneer ons wel geld en ander hulpbronne het?

Ons moenie so maklik sê ons het nie geld nie. Wanneer ons ons geldjies bymekaar sit, kan ons ook daarmee wondere verrig. Die meeste van ons het genoeg goed in ons huise se stoorkamers en in ons motorhuise om wonderwerke te verrig. Ons kan ‘n kleuterskool op die been bring, of van opvoedkundige materiaal voorsien. Ons kan verkragtingslagoffers met kos- en klerepakkies bystaan. Ons kan kinders help om behoorlik gevoed te wees, bv. totdat hulle skool toe gaan (vroeë kinderontwikkeling is krities belangrik vir ‘n mens se vorming en vermoëns in jou latere lewe).

Min dinge is werklik buite ons vermoë. Tydens die groot brande van 2017 in die Suid-Kaap het Christene enorme bedrae aan noodlediging geskenk. Met die droogtehulp het NG lidmate meer as driemiljoen rand geskenk. Daarmee is water in gemeenskappe verskaf wat andersins van die dors sou omkom.

Groot hoeveelhede voer word deurgaans aan boere in droogtegeteisterde gebiede gestuur.

Die Heilige Gees beweeg die liggaam van Christus om die wil van God te doen. In Handelinge 3 word Christene wat doen wat Christus wil, deur die krag van die Heilige Gees, bekendgestel as mense wat dienswerk in die gemeenskap doen.

Wonderwerke

Ons teks begin met die wonderbaarlike genesing van die verlamde man. Dit is die werk van God wat Christus wonderbaarlik uit die dood lewend gemaak het. Dit is Christus wat deur sy liggaam, in die krag van die Heilige Gees, wonderbaarlik genesend werk in die gemeenskap.

Gebeur wonderwerke vandag nog? Wat kan ons verwag as ons in die kragveld van die Gees deelneem aan Christus se bediening in die wêreld?

Daar is mense wat ‘n sogenaamde “streepteologie” beoefen. Dit sê wonderwerke het in Bybelse tye plaasgevind, maar sedertdien is daar ‘n streep getrek. Dit gebeur vandag nie meer nie.

Daar is ook mense wat sê wonderwerke het nog nooit gebeur nie – nie in ons tyd of in die Bybelse tyd nie. Dit is maar die drogbeelde van onwetenskaplike mense wat in ‘n tyd van onkunde en bygeloof geleef het. Aangesien wonderwerke nie wetenskaplik geverifieer kan word nie, weet ons daar is nie so iets nie.

Natuurlik vind wonderwerke plaas. Dink eerstens aan Christus wat doodgemaak is, maar deur God opgewek is. Daarvoor is daar baie getuies (vers 15). Die opgestane Christus is die eerste stukkie nuwe, geneesde  skepping waarheen God met God se hele skepping onderweg is. Ander wondere herinner ons voortdurend aan God se belofte van die nuutmaak van God se skepping waarin ons wat in Christus is, deel.

Natuurlik vind daar steeds wonderwerke plaas. Baie gelowiges kan hiervan getuig. Mediese getuienis vertel van mense wat teen alle verwagting in gesond geword het. Daar is ook akademiese getuienis oor die misterie-volle verhouding tussen gebed en genesing.

Vir diegene wat ietwat dieper wil delf: Daar is heelwat hieroor gepubliseer, bv. deur Lee Strobel (The Case for Miracles), Eric Metaxas (Miracles) en CS Lewis (Miracles). Craig Keener se Miracles: The Credibility of the New Testament Accounts is ‘n boek wat elke gelowige behoort te lees.

Wanneer ons die gemeenskap in Christus se Naam betree, ontmoet ons ‘n God wat reeds aan die werk is, en verrassend ook deur ons werk, en wonderwerke deur ons doen. Soms is dit verlamdes wat loop. Ander keer is dit sterwendes wat hoop vind, vyande wat versoen, ‘n ontwrigte familie wat vrede vind. Genesing of wonderwerke is nie ‘n waarborg nie. Genesing kom soms op verrassende maniere na ons, anders as wat ons gedink het.

Oorwinning

Ons hoop op genesing, vrede en heelheid berus op die wese van God self. God skep die wêreld en hou wetmatigheid in die wêreld in stand, maar God is nie self daaraan gebonde nie. God, wat die wêreld lief het, is vry om nuwe dinge te doen. Soos God die vernietigde liggaam van Jesus Christus uit die graf en dood opgetel het, so bring God steeds lewe en genesing uit doodsheid en gebrokenheid tot stand.

Wanneer Petrus die verlamde man beveel om op te staan (“Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” – vers 5) weerspieël dit die vroeë kerk se geloof in God en in die opgestane Christus. Aan die kruis en deur die opstanding uit die dood het Jesus die bose magte wat breek en verskeur oorwin. Boosheid is aan die vlug. God se genesing en heling kan nou reeds gesien word.

Natuurlik is God vry om van tyd tot tyd ‘n teken te gee van die oorwinning oor dood en gebrokenheid. God laat ons in die hede tekens van die komende koninkryk sien. Genesing gebeur nooit omdat ons God kan beheer of voorspel nie. Nie eers deur ons mees dwingende gebede nie. God se vryheid is ook nie uitgelewer aan sogenaamde geloofsgenesers – wat dikwels maar te gretig is om die “silwer en goud” van die siekes te vat.

Gebed, waaronder voorbidding en ons roep om hulp na God, erken die grootheid en vryheid van God. Dit is ‘n beroep op God die Geneser, die Oorwinnaar, die Een met medelye. Maar dit beheer God nooit.

Ons moet meer bid. Daar is niks wat ons nie na God kan neem nie. Dit is ‘n opdrag in die Bybel. Ons moet die vrymoedigheid ontwikkel om meer van God te verwag.

Voorbidding is ‘n primêre manier waarop die kerk in haar versorging van gebrokenes by die wêreld betrokke is.

Verkondiging

Die kerk se bediening aan die wêreld gaan in ons teksgedeelte veral gepaard met verkondiging. Die oorspronklike Griekse woord is kerugma, ‘n belangrike merkteken van die kerk onder leiding van die Heilige Gees.

Sodra die wonderwerk plaasgevind het, stroom verbaasde en verwonderde mense nader om te hoor wat gebeur het. Petrus, nooit op sy mond geval nie, trek weg en verduidelik: “1Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders, het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee …” (13).

Petrus se verkondiging fokus die aandag op Jesus, Dit is Hy, vertel hy, wat aan Pilatus oorgegee en deur die volk verwerp is. Jesus was heilig en opreg, die Leidsman na die lewe, maar Hy is doodgemaak. God het Hom egter uit die dood opgewek – daarvan is Petrus en ander getuies. Hierdie man is nou genees deur geloof in Jesus, deur “geloof wat van Hom kom” (16).

Petrus vertel die verhaal van Jesus op ‘n manier waarmee die Joodse gehoor kan identifiseer. Die kruis en opstanding word in die groot baan van God se handelinge met Israel geplaas: Abraham, Isak, Jacobs, voorouers, God se handelinge in die hede.

Hiermee is die grondpatroon van kerugma / verkondiging in Handelinge gelê: ‘n wonder gebeur, en die kerugma lê die wonder uit as ‘n daad van die opgestane Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees. Hierdie patroon herhaal homself oor en oor. Dit beteken: Jesus is nie weg nie: Hy is steeds aktief teenwoordig deur sy Gees, en sy kerk is deel van sy werk en getuig daaroor.

Oproep

Die getuienis en verkondiging eindig in ‘n oproep tot bekering: “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis” (19).

Hierdie woorde herinner aan Jesus se heel eerste boodskap: “Die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15).

Bekering is ‘n heroriëntasie van jou lewe, ‘n draai deur 180 grade. Bekering is om weg te draai van ou verbintenisse, lojaliteite en sekerhede. Dit is ook ‘n draai na God toe, na Jesus toe. Daar word dikwels na twee Griekse woorde verwys: metanoia as die draai weg van ‘n ou lewensrigting en epistrophe as ‘n draai na God toe.

Die draai na God sluit ook – deur die doop – ‘n draai na die geloosgemeenskap, die kerk, toe in. Dit is ook ‘n draai na die naaste toe. Ons kan sê bekering sluit vier bewegings in:

  • Bekeer
  • Glo
  • Word gedoop
  • Dien

Handelinge vertel van die situasie reg aan die begin van die kerk se geskiedenis. Die kerk is hier nog embrionaal. In die vestiging van die kerk het die bedieningspatroon ontwikkel dat diegene wat binne die kerk vir gelowige ouers gebore word reeds klein gedoop word. Die patroon van bekering en bewustelik leef vir die Here is dan om te ontvang wat reeds in die doop aan jou gegee is.

Dade en woorde

Dit is belangrik om die rol van beide dade en woorde in Handelinge raak te sien, spesifiek ook in ons teks. Ons lees van ‘n genesingsdaad en van getuienis. Beide dade en woorde is belangrik.

Ons kom deur ‘n tyd dat mense óf dade óf woorde wil vermy. Sommige mense wil net doen en ander wil net praat. Die een klomp wil geregtigheid of genesing doen, en daarby bly. Die ander wil net evangeliseer. Dit hang ook saam met die verskillende gawes wat ons ontvang.

Beide is egter noodsaaklik. Die punt waar dit bymekaar kom is in die geestelik volwasse lewe van die gemeente. Hier hoor ons – en buitestanders – van die Here en beleef ons die bediening van die Here deur liefdesdiens.

In ons kerk is dade van barmhartigheid baie belangrik. Die diakonaat is vir Gereformeerde kerke vanselfsprekend belangrik. Ons hou van ons sopkombuise, en met reg. Dade van geregtigheid is net so belangrik. Geregtigheid vra dat daar lewensruimte vir almal moet wees: kos, klere, werk. Daarom is dit so bemoedigend om te hoor hoeveel gemeentes nou met vroeë kinderontwikkeling en werkskepping betrokke raak – om maar twee voorbeelde van dade van geregtigheid te noem.

Reaksie

Wat moet ons doen nadat ons in soveel diepte oor hierdie teks nagedink het?

  • Dié boodskap nooi ons uit om Jesus te erken as die Christus; om jouself (opnuut of vir die eerste maal) met Hom te assosieer, dit is om jouself aan Hom te verbind.
  • Dié boodskap nooi ons uit om Jesus te gehoorsaam en om jouself – dit wat jy dink doen en sê, in kort wie jy is – aan Hom te oriënteer.
  • Ons moet ‘n kerk wees wat mense in hulle nood raaksien. Ons het in Jesus se Naam soveel om te bied.
  • Ons moet onsself oriënteer aan ‘n Bybelse siening van die kerk. Die kerk is nie ons eiendom nie, dit is die Here s’n. Die kerk is nie ons klub, ingestel op ons behoeftes nie. Dit is God se ruimte waarin na mense uitgereik. Hulle verwelkom en mense opgebou word in geloof. Die kerk is ‘n gemeenskap wat van Christus getuig en mekaar en die wêreld dien.
  • Baie gemeentes moet hulself dus bekeer – weg van ‘n tradisionele blote instandhoudingsmodel na ‘n diens-getuienis model. Die Christelike ritme is dat gemeente hulself konstant moet heroriënteer aan God se bedoelinge. (Darrel Guder se The Continuous conversion of the church is ‘n moet-lees vir alle kerkleiers).
  • Ons teks leer ons om God in die wêreld te verwag. Ons kry by God nuwe oë om werklik die mense raak te sien wat God deur ons wil bereik.
  • Geld en begrotings is nie altyd nodig om God se werk te doen nie.
  • Op ons pad deur die lewe word ons steeds daaraan herinner dat Jesus wat gesterf het – ook deur die toedoen van mense wat stilswyend die onreg goedgekeur het en daaraan meedoen – tog opgestaan het uit die dood. Telkens wanneer ons met skrik oortuig is dat die dood en onreg en brute mag die laaste sê in hierdie lewe het, dan word ons herinner aan sy opstanding. Ons word herinner aan die vernietiging van alle magte en kragte deur die Een wat alles verduur het wat die koninkryke van hierdie wêreld Hom kon aandoen, en dit deur sy opstanding magteloos gemaak het en so al die lyding, selfs die dood, laat inval het by die finale verlossingsplan van God!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer “of
Flam 545 “Neem my lewe”

Seën

Respons
Lied 311 “Dit wat ons hier ontvang het”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.