Derde Sondag van Paastyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Handelinge 3:12-19
Ander tekste: Psalm 4; 1 Johannes 3:1-7; Lukas 24:36b-48

Omdat God ons lief het, sterf Jesus vir ons sonde.
Omdat God ons lief het, bevry God ons.
God het ons so lief, ons word God se kinders genoem.
Die opgestane Christus is ’n teken van God se liefde.

Inleiding

Die tweede Sondag van Paastyd staan bekend as  Misericordias Domini – “Die troue liefde van die Here” (uit Ps 33:5-6). God se troue liefde vul letterlik die hele aarde en omsluit dus ons ganse bestaan. Vandag se tekste bevestig dit op vier maniere en die tekste kan dus, in die volgorde hier langsaan, een na die ander in die liturgie aan die orde kom. Dit is belangrik dat die gemeente deur die ontplooiing van die liturgie die goue draad van God se liefdestrou in hulle lewe sal volg.

Diesnorde

God versamel ons voor Hom

Derde Sondag van Paastyd
Die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders het aan Jesus, sy Dienaar, Goddelike eer gegee (uit Hand 3:13a).
Hierdie God wat deur al die geslagte trou bly, staan in sy troue liefde en in sy seun Jesus Christus vanoggend meteens ook tussen ons en sê: “Vrede vir julle!” (uit Luk 24:36)

Skuldbelydenis en vryspraak
Voorganger: Here, ons staan skuldig voor U.
Ons antwoord gedurig met ontrou op u troue liefde.
Gemeente: Here, wees ons genadig.
Ons pleit in die naam van Jesus wat deur U opgewek is.

Voorganger: Gemeente, bekeer julle en kom tot inkeer.
Dan sal God julle sondes uitwis.
Gemeente: Here, wees ons genadig.

Voorganger: God vergewe julle uit sy troue liefde.
Daar kom tye van verkwikking van die Here. Jesus kom weer (uit Hand 4:18-20).

Diens van die Woord

Voor die woordbediening
Laat ’n lidmaat wat goed kan voordra Handelinge 3:12b-20 voorberei en dié gedeelte van Petrus se toespraak lewer. Laat dié persoon aantrek soos Petrus in daardie tyd sou voorkom.

Diens van die tafel

Voor die nagmaal
Voorganger: Deur Christus uit die dood op te wek, bewys God dat Hy getrou bly aan sy kinders.
God is, deur die liggaam en bloed van Jesus Christus, in die nagmaal by ons.
Gemeente: Jesus, ons skrik en word bang by hierdie wete dat U tussen ons is. Ons dink ons sien ’n spook (gees).

Voorganger: Jesus sê:
“Kyk na my hande en voete: dis tog Ek self.
Voel aan My en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene nie soos julle sien Ek het nie.”
Gemeente: Jesus, ons sien u hande en voete.
Maar ons kan ons oë nie glo nie.

Voorganger: Jesus sê: “Het julle hier iets om te eet?”
Kyk na die tafel, sien die brood en wyn,
Voel aan die brood, proe aan die wyn,
Eet die brood en proe die wyn.
Dit is Ek, My liggaam en bloed (uit Luk 24:36-43).

Uitsending

Verbintenis 
Gemeente: Here, ons verstaan nou u woorde.
U het ons verstand geopen.

Voorganger: Christus het gely en op die derde dag opgestaan.

Gemeente: Ons is getuies hiervan.
Ons sal in sy Naam bekering en
vergifnis verkondig aan al die nasies (uit Luk 24:45-48).

Seën:
Die Here se glimlag skyn oor julle. Die Here sal meer vreugde aan julle verskaf as die met oorvloed graan en wyn (Ps 4:7, 8).

Musiek en sang

Liedere om vooraf te sing: Lied 176 “Halleluja U is Koning”; 177 “Jesus groot bo almal”; NSG 165
Loflied: Lied 411:1-3 “Kom, almal, laat jul stem verrys; NSG 112/3(A)
Nagmaal of Antwoordlied: Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”
Nagmaal: Lied 286 “Here God van Liefde” (as gebed)
Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer, wees ons genadig”; NSG 233
Orreltussenspel: “Ons Vader neem ons hande”, uit Liedboek verwerkings vir orrel en koor (Volume 1) van Albert Troskie

Preekstudie: Handelinge 3:12-26

Paastyd

Paasfees is die oudste en belangrikste fees van die Christelike geloof omdat die sterwe en opstanding van Jesus die fondament is waarop ons nuwe verhouding met God gebou is. Die sterwe en opstanding van Jesus hoort bymekaar soos twee kante van dieselfde muntstuk. Die opstanding is die waarmerk dat Jesus se aansprake geldig is en dat God se verlossingsplan regtig voltooi is.

Op die Sondae na die Paassondag vier die kerk van Christus die misterie van Jesus se opstanding ná sy diepe lyding en sterwe. Gelowiges wil hulle telkens opnuut daaroor verwonder, dit in die geloof aanvaar, en hulle daaraan verbind. Die volgelinge van Christus wil uitbundig daaroor sing, dit as ’t ware by hernuwing in die vesels van ons bestaan in-sing, sodat dit uiteindelik ons ganse lewensuitkyk en lewenspraktyk kan kleur.

Die Sondae na Pase is geleenthede om diep na te dink oor die opstandingsgebeure en wat dit vir die geloofs-lewe beteken. Ander tekste vir hierdie derde Sondag van Paastyd is: Psalm 4 – wat sing dat ons veilig in die hande van die Here is; 1 Johannes 3:1-7 – wat ons verseker dat ons kinders van God is en dat ons ook soos kinders van God moet lewe; en Lukas 24:36b-48 – wat vertel hoe Jesus aan die dissipels verskyn het, dat Hy regtig opgestaan het, en dat dit alles deel is van God se verlossingsplan.

Teks

Afbakening van die perikoop: Die toespraak van Petrus in die pilaargang van die tempel strek oor Handelinge 3:12-26. Dat die leesrooster (in navolging van die RCL) die perikoop tot 3:12-19 beperk, laat die belangrike konsekwensies van die bekering (vgl “dan sal . . .” in vers 19 en 20) en die vervulling/voltooiing met Jesus se wederkoms (vgl 21) uitval. Die belangrike beredenering uit die Ou Testament met die finale gevolgtrekking kom aan die einde van die toespraak (22-26).

Struktuur van die toespraak
Blok A
12 Hoekom is julle verbaas?
Wat staar julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of vroomheid gemaak het dat hierdie man loop?

Blok B
13 Die God van . . . ons voorvaders het aan Jesus, sy Dienaar, goddelike eer gegee.
(Jesus) vir wie julle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het toe hy beslis het dat Hy vrygelaat
moes word
14 Hy was heilig en opreg maar julle het Hom verwerp en gevra dat daar vir julle ʼn moordenaar begenadig moet word
15 So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak
maar God het Hom uit die dood opgewek en daarvan is ons getuies

Blok C
16 Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak
Die geloof wat van Hom kom, het hierdie man volkome herstel, hier voor julle almal
(retoriese instrument – sluit aan by 15, maar versag die beskuldiging)
17 Nou weet ek, broers, dat julle net soos julle leiers in onkunde gehandel het

Blok D
18 Tog het God reeds vroeër by monde van al die profete aangekondig dat die Christus sou ly
So het Hy dit nou laat gebeur
19 Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer
Dan sal God julle sonde uitwis
20 En dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom
En (dan) sal Hy Jesus stuur, wat vroeër vir julle as Christus aangewys is
21 Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het

Blok E
Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê
22 Moses het immers gesê:
Die Here julle God sal uit julle eie geledere vir julle ʼn Profeet soos ek laat voortkom
Gehoorsaam Hom in alles wat Hy vir julle sal sê
23 Elkeen wat nie hierdie Profeet gehoorsaam nie, moet van die volk afgesny word
24 En al die profete van Samuel af en daarna, almal wat opgetree het, het ook aangekondig wat in hierdie tyd gebeur
25 Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel
En julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het
Hy het vir Abraham gesê:
Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ʼn seën wees
26 Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom
En Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ʼn seën te wees
Deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring

Blok A en C sluit duidelik bymekaar aan. Eers word retoriese vrae gestel oor die moontlike oorsprong van die genesingskrag, wat dan opgevolg word in Blok C met die duidelike aanwysing dat die genesingswonder deur die geloof in Jesus bewerk is; dit is: Jesus self is die oorsprong van die genesing.

Blok B handel oor die identiteit van Jesus. Wie is Hy? Hy is die Dienaar van God wat onskuldig veroordeel en doodgemaak is, maar wat deur God uit die dood opgewek is. Die hoogtepunt van hierdie getuienis oor Jesus is vers 15: “So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek en daarvan is ons getuies.” Die waarheid van Blok B se getuienis word deur die raamwerk van A en C bevestig: die genesing hét immers voor almal plaasgevind!

Blok D en E sluit ook by mekaar aan en handel oor die boodskap van Jesus, wat God voorheen deur middel van die Ou-Testamentiese profete laat verkondig het. Die temas van bekering en seën loop soos ’n goue draad deur hierdie gedeeltes. Die Dienaar (Jesus) is God se seën vir die wêreld en bekering beteken dus in die eerste plek om Hom te erken en te gehoorsaam as die Messias. Die “profeet soos Moses” en die “nakomeling van Abraham” waarvan daar sprake is, is Jesus Christus, die Dienaar van God. God het sy lyding deur die profete aangekondig. Nou is die dood van Jesus nie meer net die gevolg van menslike sonde of foute nie, maar inderdaad verdere bevestiging dat Hy God se Dienaar is.

Wanneer daar bekering is, word die seën van God ontvang en ervaar. Hierdie seën is vergifnis van sonde, tye van verkwikking en die wederkoms van Jesus. Die seëninge van vergifnis en die verwagte wederkoms van Jesus hoef waarskynlik nie hier verder verduidelik te word nie, maar wat word bedoel met “tye van verkwikking”? Een moontlike verstaan van die uitdrukking is dat dit op geestelike rus dui, “periods of refreshment during which God refreshes/strengthens the human spirit” (Newman & Nida:83). Dit herinner aan die beloftes in Psalm 23 en die uitnodiging van Jesus in Matteus 11:28. ’n Tweede moontlikheid is dat dit verwys na die ewige lewe wat deur die wederkoms van Jesus ingelui word. Die meervoud “tye” is in dié geval ’n majesteitsmeervoud wat die groot omvang van die rus aandui. Dit is moeilik om ʼn keuse te maak, maar die sintaksis dui moontlik op drie opeenvolgende seëninge, naamlik vergifnis (Gr eis + infinitief), dan tye van verkwikking (Gr hopōs an + subjunktief), en dan die stuur van Christus (Gr kai + subjunktief), wat dus voorkeur gee aan die eerste moontlikheid. Die seëninge waarvan hier sprake is kom ook in die doopliturgie voor, en skep so die geleentheid om te verwys na die doop wat moontlik op Paassondag bedien is. Bekering vloei dus voort uit die besef van Wie Jesus regtig is en uit ’n mens se verbintenis en gehoorsaamheid aan Hom.

Konteks

Die tempel word ses maal in vers 1-11 genoem as die plek waar die gebeure plaasgevind het, en die tyd is “die uur van gebed, die negende”, met ander woorde tydens die middaggebed. Sulke gebedsgeleenthede word dikwels gekenmerk deur hoë verwagtings en is vandag nog tye van hoogspanning. Dink byvoorbeeld daaraan hoe die Vrydaggebede in die moskees die afgelope tyd die motivering verskaf het vir hewige opstande teen verskeie regerings in Noord-Afrika en die Midde-Ooste.

Petrus se preek in die tempelportaal is die tweede van ’n hele reeks toesprake in Handelinge. Die toesprake word gewoonlik in die narratief (verhalend) geplaas by belangrike hoogtepunte en wendings in die verhaalgang.

Daar word volstaan met die volgende opmerkings:
Die toesprake in Handelinge geskied altyd in ʼn konteks van verkondiging – dit maak met ander woorde die boodskap oor Jesus Christus bekend – maar dit is ook dikwels in die vorm van ’n verdediging, dus ook in ’n konteks van vervolging en teenstand. Net in die volgende hoofstuk word die apostels voor die Sanhedrin gedaag om hulleself weer te verweer oor die genesingswonder.

Die predikers is deurgaans weerlose getuies van hierdie lewegewende boodskap. Hulle verkondig die boodskap van God se koninkryk teenoor die koninkryke van die tyd: soms teenoor die Romeinse empire, ander kere teenoor die Joodse invloedsfeer. Soms teenoor albei soos in Efese gebeur (Hand 19). Weerloosheid word die kenmerk van en ook die belangrikste voetuig vir die evangelie. Die inhoud van die evangelieboodskap word telkens in die toesprake uitgespel: die boodskap dat Jesus moes sterf, maar ook dat Hy opgestaan het. Hierdie is die twee belangrike elemente van die evangelie.

Verder word daar ook verwys na die betekenis en uitwerking van Jesus se sterwe en opstanding (vgl ook die Heidelbergse Kategismus se herhaalde vraag: “Watter nut het die . . .” in die bespreking van die trappe van vernedering en verhoging van Jesus uit die Apostolicum). In hierdie gedeelte is die nut die vergifnis van sonde, tye van verkwikking, die wederkoms van Jesus en seën. In die latere dele kom aspekte soos die ewige lewe en die algemene weeropstanding van die dooies ter sprake.

Die toesprake geskied opvallend in die openbare sfeer van die lewe. In Handelinge is die toesprake bedoel vir “openbare verbruik” – op enige plek moet almal daarvan kennis neem. Dink maar aan die toesprake tydens verhore, op die markplein, by wasplekke en op die tempelplein – oral waar mense kan kom en gaan soos hulle wil. Onderrig geskied in die private sfeer van die geloofsgemeenskap, maar die getuienis oor Jesus se sterwe en opstanding is in die openbaar en met vrymoedigheid. In ons tyd word die getuienis oor Jesus dikwels uitgeskuif tot iets privaat wat nie inbreuk mag maak op mense se persoonlike oortuigings nie. Dit is nogal een saak waarvoor Leslie Newbigin hom beywer het, naamlik dat die openbare sfeer vir die evangelie herwin moet word.

Daar word in Petrus se toespraak na bekering verwys met twee bekende Griekse terme: metanoéomai wat kan dui op ’n verandering van gesindheid en denke, en epistrefomai wat ’n aanduiding van die veranderde leefwyse en optrede kan wees. Mens sou kon sê dat Petrus se bedoeling ’n totale ommekeer/transformasie van iemand se hele lewe is.

Bekering is dus die antwoord/reaksie wat van die hoorders gevra word. Maar wat sou dit in hierdie konteks beteken? Ons assosieer bekering gewoonlik met ’n  verootmoediging oor sonde, met diepe berou, sondebelydenis, en inkeer. Dit is natuurlik reg so. Die vroeë kerk het ’n vastyd voor Paastyd ingestel. Dit het aan doopkandidate – die doop is tradisioneel op Paassondag bedien – en ander gelowiges die geleentheid gebied om hulle  geestelik voor te berei vir die Pase. Die sondes waarvan die hoorders hulle hier moet bekeer, word egter nie in etiese terme uitgespel nie. Dit lyk eerder asof die erkenning van Jesus as Messias en die assosiëring met Hom hier op die voorgrond staan. Sonde is allereers die verwerping van die Leidsman na die lewe en daarvan moet die hoorders van hierdie boodskap hulleself bekeer.

Preekvoorstel

Handelinge 3:15 as kernvers: “So het julle Hom, die Leidsman na die lewe toe, doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek, en daarvan is ons getuies.”

Mens moet die krag van die opstandingsverhaal en die krag van die kultus nie onderskat nie . . . In Stories vir die lewe (bl 207) word vertel: “’n Russiese professor, ʼn lid van die Kommunistiese Party, het een April-oggend voor ’n vol saal ʼn lesing gegee. Sy doel was om die idee dat Jesus Christus eeue gelede uit die dood opgestaan het, as belaglik en uiters naïef af te maak. Dit was ’n lang lesing en toe hy gaan sit, het hy nie, soos gewoonlik, geleentheid vir repliek toegelaat nie. Hy was seker dat hy die gehoor van sy standpunt oortuig het.

“Toe staan ʼn priester van die Russies-Ortodokse Kerk uit die gehoor op en vra of hy kortliks op die betoog mag reageer. Ongeduldig en enigsins neerbuigend stem die professor in. ‘Maar niks langer as vyf minute nie!’ waarsku hy. ‘Vyf sekondes sal genoeg wees,’ antwoord die priester. Toe draai hy na die gehoor en gee die pragtige Paasgroet van die Oosterse Kerke: ‘Christos anesté!’ (Christus het opgestaan!) En soos uit een mond kom die antwoord uit die volgepakte saal: ‘Aléthos anesté!’ (Hy het waarlik opgestaan!)”

Jesus se opstanding uit die dood het die speelveld van die lewe totaal verander. Wat gelyk het soos die finale oorwinning van die goddelose, onregverdige magte toe hulle die Leidsman na die lewe vermoor het, het as gevolg van die opstandingskinkel verander in die finale onderwerping van daardie goddelose, onregverdige magte. Deur die opstanding het God immers bevestig dat die dood van die Christus in der waarheid die ontvouing van sy verlossingsplan was!

Die opstanding van Jesus is iets soos die kinkel in Möbius se sirkel (die kinkel wat alles verander – jy kan dit gerus as demonstrasie gebruik).

Maak drie papiersirkels: een sonder ’n draai, een met ’n halwe draai soos op die prentjie hier langsaan en een met ’n volle draai. Neem nou ’n skêr en knip die lusse al op die middellyn van die papier langs middeldeur. Kyk bietjie wat kry jy . . . Hoekom is die resultaat so “vreemd” en onverwags? Omdat die middellyne in die papierlusse met die halwe en die volle draai tegelyk ʼn binne- en ʼn buitesy geword het. Die kinkels het alles verander. Die papierlus met die volle draai het ’n ketting geword nadat dit deurgeknip is.

Jesus se dood en opstanding het die tyd en die ewigheid met mekaar verbind. Ons is van hierdie wonderlike, nuwe werklikheid die lewende getuies . . . en die erediens is daarvan ’n getuienis!

Hierdie boodskap van Jesus se sterwe en sy opstanding roep alle hoorders tot bekering. Die ontmoeting met hierdie onvergelyklike Leidsman na die lewe toe, verander vandag steeds mense se lewe. Dit keer mag op sy kop. Hierdie transformasie/bekering (Gr metanoia en epistrepsis) strek oor alle aspekte van die menslike bestaan. Dit is soos die beiteltjie van N.P. van Wyk Louw wat tik en tik, en dan die rots, en uiteindelik die hele aarde, middeldeur splyt. Die boodskap roep dwase weg van hulle verkeerde opstand teen die Christus, weg van die bose verwringing van reg en verkeerd wat die heilige en die opregte vertrap ter wille van eie mag.

Die boodskap nooi ons uit om Jesus te erken as die Christus; om jou (opnuut of vir die eerste maal) met Hom te assosieer, dit is om jou aan Hom te verbind. Die boodskap nooi ons uit om Jesus te gehoorsaam en om jou – dit wat jy dink doen en sê, in kort wie jy is – aan Hom te oriënteer. En dit is ’n openbare boodskap, bedoel vir die openbare sfere waarin ons leef. Dit is ook ’n ope boodskap, bedoel vir almal wat ore het om te hoor en wat oë het om te sien. En omdat dit so oop en openbaar is, is daar geen area van ons bestaan wat daardeur onaangeraak gelaat word nie, en niemand wat byvoor-baat nie daaraan blootgestel mag word nie. Daar is nie geheime agente in God se koninkryk nie, en dus geen Wiki-leaks wat geheime agendas kan blootlê nie . . .

En dit vul ons met onbeskryflike verwagting. Hierdie boodskap vervul ons met hoop. Dit bemiddel die seën van God, naamlik vergifnis om vry uit te stap (vgl Lina Spies se gedig “Vryspraak”); tye van verkwikking (sien hierbo); en die hoop van die wederkoms. (In gemeentes waar die nagmaal vandag gevier word kan hierdie laaste deel van die preek aan die nagmaalstafel plaasvind – jy kan dit daarvoor in ’n responsoriese belydenis verwerk)

Slot

Ons is op pad na Pinkster, maar nou in die tyd na Pase word ons steeds daaraan herinner dat Jesus wat gesterf het – ook deur die toedoen van mense wat stilswyend die onreg goedgekeur het en daaraan meedoen – dat Hy opgestaan het uit die dood. Telkens wanneer ons met skrik oortuig is dat die dood en onreg en brute mag die laaste sê in hierdie lewe het, word ons herinner aan sy opstanding. Ons word herinner aan die vernietiging van alle magte en kragte deur die Een wat alles verduur het wat die empires (magte/maghebbers) van hierdie wêreld Hom kon aandoen, dit deur sy opstanding magteloos gemaak het en so al die lyding, selfs die dood, laat inval het by die finale verlossingsplan van God! Daarvan is ons lewende getuies en dít vier ons vandag met uitbundige vreugde.

Bibliografie

Burger, C W et al (red), 1995. Verdere riglyne vir Paas-, Hemelvaart-, en Pinksterprediking. WTL 1/9. Kaapstad: Lux Verbi; Lina Spies se gedig “Vryspraak” in Nienaber
C J M et al (red), 1987. Die braambos brand. ʼn Keur van godsdienstige gedigte. Kaapstad: Tafelberg; Newman, B M & Nida, E A 1972. A translator’s handbook on the Acts of the apostlesHelps for translators Vol XII. London: UBS; Stories vir die lewe-omnibus. ’n Boek oor lewenswaardes. (2003, 2de uitgawe). Wellington: Lux Verbi BM.

© Missio 2024 | All rights reserved.