Derde Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Ander tekste

Handelinge 2:14a, 36-41; 1 Petrus 1:17-23; Lukas 24:13-35
Mark 14:33-34
Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud.”

Fokusteks

Ps 116:1-4, 12-19
1 Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede.
2 Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.
3 Bande van die dood het my omsluit, doodsangs het my aangegryp, ek het benoud en bekommerd geword.
4 Toe het ek die Naam van die Here aangeroep: “Here, red my tog!”
5 Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6 Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.
7 Ek moet nou tot rus kom,
die Here het goed aan my gedoen:
8 U het my van die dood gered,
U het ’n einde gemaak aan my trane,
U het gesorg
dat ek nie weer struikel nie.
9 Ek kon voor die Here bly wandel
in die land van die lewendes.
10 Ek het in U bly glo,
selfs toe ek gedink het
dit is klaar met my
11 en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staat maak nie.
12 Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13 Met ’n drankoffer
sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14 My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15 Vir die Here is die dood
van sy troue dienaars
geen geringe saak nie.
16 Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vry gemaak.
17 Ek wil U loof met ’n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18 My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19 in die voorhowe
van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

“Soos ‘n blom na die son draai; soos riviere na die see loop; soos ’n boom na die hemel opreik; soos skape agter hulle herder aanloop – so rig ons ons harte op die Here. Rig julle harte op die opgestane Here!”
(Anoniem)
(Dit kan geografies en seisoenaal goed geïnkultureer word, byvoorbeeld:

Vir Pretoria in die lente
“Soos ’n blom na die son draai; soos die Vaalrivier na die see loop; soos ’n jakaranda sy takke na die hemel oopsprei; – so rig ons ons harte op die Here.”

Vir Graaff-Reinet in die Somer
“Soos ’n botterblom na die son draai; soos die Sondagsrivier na die see loop; soos ’n populier na die hemel opreik; – so rig ons ons harte op die Here.”)
(Wepener, Cas 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington: Bybel-Media)

Aanvangslied:
Lied 421:1-3 “Die Here Jesus lewe”; NSG 110 “Laat ons met blydskap nader”.

Liedere

Loflied:
Lied 410 “Ja, Jesus het verrys!
Lied 415 “Jesus leef en ons met Hom
FLAM 64 “U is God”.

God praat met ons en ons luister

G = gemeente
V = voorganger

Skuldbelydenis
G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Of ek sit en of ek opstaan.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: My gedagtes, nog voordat hulle by my opkom.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Of ek reis en of ek oorbly.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Daar is nog nie ‘n woord op my tong nie of U weet wat dit gaan wees.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: U omsluit my van alle kante en neem my in besit.

G: Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
V: Deurgrond my o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!
(Wepener, Cas 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington: Bybel-Media)

Lied van verootmoediging
Lied 247 “Heer wees ons genadig”
(Na aanleiding van Ps 139)

Familie-oomblik

Ons wil Jesus sien
Tema: Julle sal hom vind as julle Hom met julle hele hart en siel soek.

Hulpmiddel: Afdruk van ’n beeld van ’n Jesus-tekening. (Onderaan hierdie gedeelte is daar ’n skakel na ’n webblad wat jy kan uitdruk en ’n kopie vir elke kind kan gee.) Jy kan ook ’n stereogram of een van daardie muurplate gebruik waarna jy staar totdat die naam van Jesus verskyn.

Skrifgedeelte: 30 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31 Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn (Luk 24:30-31).

Voorganger wys eers:
Vanoggend het ek vir elkeen van julle ’n prent. Ek wil hê julle moet na die vier swart kolle reg in die middel van die prent staar. Konsentreer en staar na die kolle terwyl ek tot vyftien tel, en maak dan julle oë toe. Wanneer julle julle oë toemaak, sal ’n wit kol verskyn en daar kan ’n prent in daardie wit kol wees.

(Deel nou die prent uit dat elke kind een het.)
Kom ons probeer dit en kyk hoe dit werk. Is julle gereed? Nou goed, konsentreer! Een, twee, drie … (tot vyftien). Maak nou julle oë toe en hou hulle toe. Sien jy iets? Julle kan nou julle oë oopmaak. Hoeveel van julle het die gesig van Jesus gesien? Party mense sukkel aan die begin om iets te sien – as jy dus nie die gesig van Jesus gesien het nie, hou aan om te probeer en uiteindelik sal jy sy gesig sien.

(Sê vir die kinders dat jy vir hulle ’n verhaal uit die Bybel gaan vertel van twee manne wat nie vir Jesus kon sien nie.)
Twee van Jesus se dissipels het met die pad na ’n dorpie met die naam Emmaus geloop. Die dissipels was hartseer en het gepraat oor wat met Jesus gebeur het. Jesus het by hulle aangesluit en saam met hulle geloop, maar hulle het Hom nie herken nie. Jesus het hulle gevra waaroor hulle praat en hulle het Hom vertel van hulle vriend Jesus wat gekruisig is en begrawe is, en dat ’n paar vroue na sy graf toe gegaan het, maar dat die graf leeg was. “Ons het gehoor dat Hy lewe,” het hulle gesê, “maar ons het Hom nog gesien nie.” Toe hulle by Emmaus kom het die dissipels vir Jesus genooi om by hulle te bly, omdat dit te laat geword het om verder te reis. Maar nog steeds het hulle nie vir Jesus herken nie. Jesus het toe by hulle gebly en toe hulle by die tafel gaan sit het om te eet, het Jesus die brood geneem, dit geseën, dit gebreek en vir elkeen ’n stukkie gegee om te eet. Skielik het die dissipels se oë oopgegaan en het hulle gesien dat dit Jesus was. Hulle was so bly en opgewonde. Hulle het opgespring en terug gehardloop na Jerusalem toe om aan al die ander te vertel dat hulle Jesus gesien het.

Wil jy Jesus sien? Die Bybel sê: “As julle met hart en siel na Hom soek, sal julle Hom vind” (Deut 4:29, NLV). As jy met jou hele hart na Jesus soek, sal Hy Homself vir jou wys.

Gebed
Liewe Heer, maak ons oë oop, want ons wil vir Jesus sien! Amen
(Skakel om die prent af te laai)

Preekriglyn

As Eugene Peterson, ’n Amerikaanse predikant, reg is, soek mense na twee dinge: wonderwerke en antwoorde. Waarom wonderwerke? Want God kan vir ons dinge doen wat ons self nie kan doen nie. Waarom antwoorde? Want God kan vir ons dinge vertel wat ons self nie kan uitpluis nie.

Die feit dat ons as mense in ’n gebroke wêreld leef, maak dat daar altyd by ons die hunkering is na ’n lewe en omstandighede wat nie die ongelukke, skokke, nare ontdekkings, misdadigheid, teleurstellings, en noem maar op, van ons bestaan reflekteer nie. Die daaglikse sorge en bekommernisse kan ’n mens moedeloos maak – ’n soort magteloosheid bring wat jou van jou lewensvreugde en -moed beroof.

Soms is daar dinge wat met jou gebeur wat geld of mag nie kan regmaak nie. Dit is asof jou hoop in die niet verdwyn, asof die gordyn vir jou gesak het en jy al een is wat met jou nood en bekommernis oorgebly het – nêrens om heen te draai nie, niemand om te raadpleeg nie, nie ’n nommer wat jy kan bel nie. Dit is een van daardie oomblikke wat die psalmdigter hier in Ps 116 beskryf toe hy gedink het “dit is klaar met my, en toe ek in my vertwyfeling besef het, ek kan op geen mens staat maak nie” (vers10-11). ’n Enkele insident, ontdekking of onverwagse nuus kan die oomblik van benoudheid en bekommernis verhef tot ’n oomblik van “doodsangs” (vers 3), ’n gevoel dat “die bande van die dood my omsluit het” (vers 3).

Die oproep van die skool af: “Mevrou, vanmiddag by die rugby-oefening was daar ’n ongeluk. Die skrum het inmekaar getuimel en toe almal opstaan, het jou seun het op die grond bly lê … hy kon nie sy bene beweeg nie …” Of die memo op jou lessenaar of e-pos in jou in-mandjie: “Die direksie het op sy onlangse vergadering na aanleiding van die voortslepende ekonomiese stramheid en die dalende inkomste van die maatskappy, besluit om in sekere afdelings met personeelrasionalisasie te begin. U pos is een van die poste wat geraak word. Eerskomende Vrydag sal die arbeidskonsultant u ontmoet en met u die uitdienstredingsopsies bespreek …” Of die ongemaklike, maar direkte benadering van die mediese spesialis: “Gelukkig kan ons dit behandel, maar die gewas aan u kolon is definitief kwaadaardig …”

Waarheen draai ’n mens in hierdie “doodsoomblikke”, of soos ’n filosoof dit ook genoem het “die grenssituasies” van die lewe? Waarheen wend jy jou as jy soos die psalmdigter op “geen mens staat (kan) maak nie”?

Soos gewoonlik in die Psalms weet ons nie presies wat die digter geteister of getreiter het nie. Dit lyk of hy by die dood gaan draai het – of is dit dalk ’n simboliese dood? In die Good News Bible beskryf hy dit as “the horrors of the grave closed in on me”. The Mesage sê dit dramaties soos dit is: “Death stared me in the face, hell was hard on my heels”.

Hoe dit ook al sy, die gebrek aan besonderhede oor presies wat met die psalmdigter gebeur het, maak dat ons vandag hier in die erediens daaroor kan nadink. As die psalm té veel besonderhede gegee het, sou ons met ons verskillende probleme dit nie kon gebruik het nie. Was die inhoud van hierdie psalmdigter se wroeging weer té algemeen, sou dit vir ons betekenisloos gewees het. Die lewe het ons egter geleer dat feitlik elkeen van ons kan getuig van ’n naby-doodservaring soos hierdie digter (of dit nou fisiek of simbolies is).

Hierdie herhaalde geroep uit benoudheid in die Psalms is die Bybel se mees primitiewe uitdrukking van die waarheid dat alles hier op aarde nie pluis is nie. Dat ek nie is wat ek behoort te wees nie, dat die wêreld nie is wat dit behoort te wees nie, dat iets verkeerd gegaan het. Die menslike wese, sê ’n psigo-analis, is ’n “ontevrede, onvergenoegde dier”. In die lewe, soos hier in die Psalms, vanuit daardie benoudheid en ontevredenheid, roep ons na God. Ons geroep is ’n kreet dat God ’n wonderwerk sal doen. Of dat God ons ’n antwoord sal gee sodat ons kan verstaan.

Sommige skeptiese mense sien hierdie geroep na God as ’n illusie, ’n steunpilaar, ’n kruk. Vir gelowiges soos ons, en soos vir die psalmdigter, is die verlossing uit benoudheid ’n gawe van God deur Jesus Christus. Skeptiese mense is heeltemal reg as hulle sê dat ’n ten volle tevrede en vergenoegde mens met geen mislukkings, geen gewaarwording van verkeerde dade, geen hartseer, geen vrese en geen verlange na die ewigheid nie, nie die geleentheid sal hê om na God te roep nie. Maar dit is pure fantasie om te dink dat daar sulke mense bestaan, en om te dink dat sulke mense menslik is.

Hier in Psalm 116 praat ’n enkele stem, die stem van die digter, en hy trek ons in sy ervaring in. Effektief lei hy ons om ons eie ervaring met syne te vergelyk. Die stem in hierdie psalm het ’n polsslag – en dit is hoopvol, nie ’n berouvolle foltering oor sonde nie. Hierdie stem vertel ’n persoonlike verhaal van redding in antwoord op gebed. Dit vertel openlik, in die publiek, die verhaal aan ander aanbidders van God (vers 16-17), miskien nogal by die tempel (vers 18-19). Dit begin en beweeg deur ’n verklaring van liefde vir God (vers 1-2), deur ’n roerende verslag van die reddingservaring (vers 3-11) – tot by ’n reeks dankbare beloftes (vers 12-15, 18-19).

Die psalmdigter het in sy benoudheid na God geroep en God het geantwoord. God het gedoen wat die psalmdigter nie self kon doen nie. Daarom begin hy die psalm met: “Ek het die Here lief.” “Ek het die Here lief, want die Here het na my geluister.” ’n Engelse vertaling sê: “Toe ek gebel het, het God nie eers my oproep ‘ge-screen’ om te kyk wie bel nou nie, maar Hy het dadelik opgetel en geantwoord. Ek het die Here lief, want hy het my gered uit ’n hopelose situasie. Die feit dat ek oorleef het, dat ek uit daardie situasie gered is, dat my omstandighede omgekeer is, dat die dood (regtig of simbolies) by my verbygegaan het, was ’n gawe van God.”

Wie kan nie met hierdie stem van Psalm 116 identifiseer nie? Wie kan nie uit sy of haar lewe aansluit by Psalm 116 nie en sê: “O, ek weet waarvan die digter praat, ek was ook al daar. Ek was nou die dag weer daar. Soos die digter het ook ek die Here lief. Hy het my gered. Hy ‘het goed aan my gedoen: Hy het my van die dood gered, (Hy) het ’n einde gemaak aan my trane’” (vers 7-8). Dít is die storie van ons almal se lewe – die reis saam met ’n genadige God.

Die vraag vandag is: Wat het daardie ervaring aan jou gedoen? Op watter manier het dit jou geruk of getroos? Verander? Aangevuur? Of het dit jou net skaam gelaat?

Uit die psalm is dit baie duidelik wat hierdie ervaring met God aan die digter gedoen het. Hierdie grootse ervaring dat God na hom geluister het (die ou vertaling sê dat God sy oor na hom toe gedraai het), het iets by die digter losgemaak: Hy kan nie stilbly nie! Die digter eggo die woorde van die Psalm 40:3 wat met hierdie psalm saamgaan: “Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied vir ons God.” Hy sluit aan by nóg ’n psalm (66:16): “Kom luister alle dienaars van God, ek wil vertel wat Hy vir my gedoen het.”

Die digter se vroeëre kreet om hulp het nou plek gemaak vir ’n uitbarsting van lofprysing. Wat God aan hom gedoen het – die hopelose situasie is genormaliseer, die benouende omstandighede is omgekeer, hy is gered, herstel, vernuwe, begenadig – dit alles word ’n onstuitbare en borrelende getuienis. Die digter is dankbaar en gretig om hierdie vernuwing aan God toe te skryf en ander te nooi om in daardie ervaring te deel. Die koerantopskrifte vat dit mooi saam: “Moedelose getuig van wonderlike uitkoms.” “Doodsbenoude kan nie stilbly oor wat God gedoen het nie.” Inderdaad sing hierdie digter nou ’n ander deuntjie – sy “sad song” het verander in ’n “joyous tune” – ’n lofsang om God te prys (Ps 40:3, NLV)!

Wie van ons wat God se genade al só ervaar het, sal nie ook so sê nie, nie ook uitbars in ’n lofprysing nie, ’n feestelike heildronk drink en iets tot die eer van God skree vir elkeen om te hoor nie? Of sal ons nie, want dit is nie ons styl nie?

Om stil te bly is net so onmoontlik soos om ’n reënboog in die lug te sien en nie vir die ander mense in die motor daarvan te vertel nie. Die “wow” is deel van die ervaring. Sonder om te vertel, is die ervaring in sigself onvolledig. Jy kan nie nie vertel nie.

Dít is wat ’n mens getuienis noem. God tree op, gryp in, en mense vertel wat Hy gedoen het sodat ander mag weet om so ook deel te word van God se reddende werk. En hoewel dit as lofprysing begin, dien die lofprysing aan God as getuienis vir hulle wat luister.

Psalm 116 leer vir ons ’n belangrike beginsel in God se koninkryk. Die feit dat die Here die digter se situasie verander het, hom gered het, was nie alleen ’n persoonlike saak nie. Dit was ook ’n saak vir die gemeenskap. As God aan een goed doen, is dit asof Hy aan almal goed gedoen het. Soos wat die nood van die digter hom van die gemeenskap afgesny het, so het sy herstel weer gemeenskap met die mense om hom gebring. Die gedagte dat ons verhouding met God ’n private saak is, kom uit die Westerse siening van individualisme. Ons verhouding met God mag wel persoonlik wees, maar binne die geloofsgemeenskap waar ons tuis voel, is nooit privaat nie.

Daar is ’n betekenisvolle draaipunt in hierdie psalm wanneer die digter ’n vraag namens ons almal vra (vers 12): “Hoe kan ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?” Twee Engelse vertalings vra, “How can I repay the Lord?” “What can I give back to God?” Sonder om ’n oog te knip, weet die digter dit is nou soos hulle in die rampokker-flieks sê, “Pay back time”. Die digter weet hy skuld die Here ’n groot een.

Is dit ’n vraag wat jy ook al vir jouself gevra het? Hoe betaal ek die Here terug vir wat Hy vir my gedoen het? Of het jy nie geweet hoe nie? Het jy gedink jy sal later daaroor besluit – en toe nooit daarby uitgekom nie?

Die digter wend ’n moedige poging aan om iets te doen. Afgesien daarvan dat hy aanvanklik net mondelings dankie-sê (vers 1-9), wil hy dit ook opvolg met ’n rituele dankie-sê (vers 13-19). Sy dankie-sê-lysie sluit in dat hy ’n feestelike glasie sal lig en iets tot die eer van God sal skree sodat almal dit kan hoor (vers 13, 18-19). Hy wil ’n openbare/publieke ding daarvan maak en al die beloftes aan God in die openbaar (of ten minste by die tempel) herhaal (vers 18). En hy sal in die openbaar ’n offer bring as teken van sy dankbaarheid (vers 19). ’n Mond vol. ’n Hand vol.

Kom ons wees eerlik. Dit is menslik onmoontlik om God terug te betaal. Die rekening vir verlossing – fisies of geestelik – is onberekenbaar. En die vraag is, wil God iets terughê? En indien Hy wel terugbetaling soek, wat is dit?

In die gewone lewe soek ons miskien nie terugbetaling vir iets wat ons vir ’n ander gedoen het nie. Maar niemand kan iemand anders keer om sy of haar dankbaarheid te wys nie. Selfs God sal nie iemand kan keer wat sy of haar dankbaarheid teenoor Hom wil wys nie. Psalm 116 laat ons iets sien van die dinamika tussen God en mens. Wanneer God op ’n persoonlike, eintlik intieme manier ’n mens in sy nood en benoudheid bystaan en red (“hoor my stem”; “sy oor na my gedraai” – OAV), ontspring daar ’n opgewondenheid in die hart van die mens wat dit wil oorvertel: “Het jy gehoor wat die Here vir my gedoen het?”

Maar nou het ons nog nie ’n antwoord op die vraag of God ’n terugbetaling soek nie en indien wel, wat dit moet wees nie? Die antwoord is nee. Daar is geen terugbetaling nodig nie. Die betaling is reeds gedoen.

Psalm 116 pas ook in die mond van Jesus toe Hy in Getsemane op die vooraand van sy kruisdood was en ook Hy “op geen mens kon staat maak nie.” Sy uitroep in Matteus 26:37: “Ek voel doodsbenoud” en in Markus 14:33-34: “Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: ‘Ek voel doodsbenoud’”, eggo die psalmdigter se kreet, en ook my en jou kreet in oomblikke van benoudheid. Waar die psalmdigter onderneem om die Here te vergoed met ’n drankoffer en ’n dankoffer , word Jesus self die dankoffer aan die kruis. In my en jou plek.

Jesus, as offer aan die kruis, en ook as die opgestane Christus, gee vir my en jou die vrymoedigheid om na God te roep vir ’n wonderwerk, vir ’n antwoord. En wanneer God antwoord en red, bly die vraag steeds: “Hoe sal ek die Here vergoed vir sy weldade aan my?” Maar nou nie meer as ’n quid pro quo nie – ’n guns vir ’n guns nie – maar nou as ’n lewensingesteldheid, ’n geloofshouding wat sê: “Vader, ek gee erkenning aan Jesus, ek glo in die offer wat Hy vir my gebring het. En dat U Hom uit die dood lewend gemaak het. Dankie Vader dat U self ingestaan het vir my dankie-sê lys. Ek wil U dien.”

As jy steeds tog iets sou wou “doen” (in aanhalingstekens), is daar wel iets wat God se hart bly sal maak, wat Hom tevrede sal laat glimlag. Wanneer jy later vandag by die huis is, stap na jou bure toe, of môre na ’n kollega toe, skryf ’n brief in die koerant, bel ’n vriend – en sê: “Het ek jou al vertel wat die Here vir my gedoen het …?”

God stuur ons om te leef

Voorstel vir responsoriese gebed ná die prediking na aanleiding van Psalm 27:
V: Die Here is my lig en my redder
G: vir wie sou ek bang wees?

V: Die Here is my toevlug
G: vir wie sou ek vrees?

V: Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag:
G: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon

V: As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …!
G: Wees sterk en hou goeie moed!

V: Ja, vertrou op die Here!
G: Amen

Uitsendingslied
Lied 231:3 “Heil’ge God herskep ons lewe”; Lied 273 “Laat my met U verenig lewe”; Lied 486/ NSG 186 “Bring aan die volke” (veral vers 2)