Derde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Genesis 24:34-38, 42-49, 58-67
(Die beloftes aan Abraham hang af van ’n vrou [bruid] vir Isak)

34Toe sê die man: “Ek is ’n slaaf van Abraham. 35Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. 36Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom ’n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. 37My eienaar het my ’n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met ’n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. 38Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun ’n vrou gaan haal.’

45“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met ’n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog ’n bietjie water!’46Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. 47Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. 48Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49“As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”
58Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”
Sy het geantwoord: “Ja!”

59Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan. 60Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:
“Ons suster, mag jou nageslag
tienduisende word,
mag hulle die stede
van hulle vyande verower!”

61Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon. 63Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom. 64Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring 65en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”

Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en 67Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.

Psalm 45:10-17
(Die bruid verlaat haar familie om die koning [bruidegom] s’n te wees.)
10Voor u staan prinsesse,
getooi met u juwele,
en aan u regterhand die koningin,
versier met goud van Ofir.
11Luister, dogter, luister goed:
neem afskeid van u volk
en u familie,
12want u skoonheid bekoor die koning.
U behoort aan hom,
u moet hom eer.
13Dogter van Tirus,
die rykes van die volk
sal u guns soek met geskenke.
14In louter prag staan die koningin daar
in haar kleed van goudbrokaat;
15in haar veelkleurige rok
word sy na die koning toe gelei;
sy en haar gevolg van jong meisies,
haar vriendinne,
word na u toe gebring.
16Onder uitbundige vreugde
word hulle ingelei,
betree hulle die paleis
van die koning!
17Mag u seuns hê
om u geslag voort te sit
dat u hulle kan aanstel as regeerders
in die hele land!
18Mag deur my lied
die roem van u naam
oor geslagte strek,
sodat volke u vir altyd sal prys.

Romeine 7:15-25a
(Die bevryding uit my sondige aard gebeur alleen in Jesus Christus. Hy het alle mag!)
15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Matteus 11:16-19, 25-30
(Hoor tog die goeie en bevrydende nuus en kom daar tot rus)
16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ’n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’
18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Die uitnodiging van Jesus
(Luk 10:21–22)
25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Fokusteks

Sagaria 9:9-12

Die koning sal kom
9Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!
Jou koning sal na jou toe kom.
Hy is regverdig en hy is ’n oorwinnaar,
hy is nederig en hy ry op ’n donkie,
op die hingsvul van ’n donkie.
10Ek sal die strydwaens in Efraim
vernietig,
die perde uit Jerusalem uitroei.
Die pyl en boog waarmee
oorlog gemaak word, sal gebreek word.
Die koning sal vrede vir die nasies
afkondig
en hy sal regeer van see tot see,
van die Eufraat af tot in die uithoeke
van die aarde.

Die Here sal sy volk red
11Wat jou betref, my verbond met jou is met offerbloed beseël. Daarom sal Ek jou gevangenes laat red uit hulle gevangenskap.
12Kom terug na die vestingstad toe, gevangenes wat nou hoop het! Ek verseker jou vandag: Ek gee jou twee maal soveel as wat jy gehad het.
13Ek gebruik Juda as my boog, Efraim as my pyl, jou inwoners, Sion, as my swaard teen jou inwoners, Griekeland. Ek hanteer my volk soos ’n vegter sy swaard hanteer.

14Die Here sal bokant sy volk verskyn, sy pyl sal soos weerlig uitskiet. Die Here God sal die ramshoring blaas, Hy sal kom in die storms uit die suide. 15Die Here die Almagtige sal sy volk beskerm. Die klippe uit sy slingervel sal dood en verwoesting saai, hulle sal vol bloed word, hulle sal gons soos wyn bruis, hulle sal so vol bloed word soos die kom wat by offers gebruik word, soos die hoeke van die altaar.

16Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in ’n kroon.
17Hoe voorspoedig, hoe mooi sal die land nie wees nie! Die koring en die wyn sal maak dat die jongmans en die meisies gesond en sterk sal wees.

 

Liturgie

RUS

Lied 157 “Here Jesus, ons is saam 1,2”

Aanvangswoord
2God is vir ons ’n toevlug
en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid
om te help in nood.
3Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes
van die see,
4al druis en skuim
die waters van die see,
al skud die berge
deur sy onstuimigheid. (Ps 46)

Seëngroet
7Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Loflied 523 “Goddelike liefdebande 1,3,4”

Verontmoediging
Ons buig saam met Paulus in hierdie moedelose noodkreet voor die Here (Rom 7):

Romeine 7:15-25a
15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1, 3”

Ons hoor opnuut Jesus se uitnodiging in Matt 11:
28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Lied 241 “Deur U Seun skenk U genade 3”

En ons eggo Paulus se uitkoms in Romeine 7: (Gemeente hardop)
24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Apostoliese Geloofsbelydenis(Gemeente hardop)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun,
ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal
het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die
dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die
regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog
lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

HOOR

Epiklese
Gees van die lewende God,
wees die tuinier van my siel.
Hoe lank wag ek nou al op U – stil – in ‘n koue winter van my siel.
Maar nou, in die kragtige naam van Jesus Christus, waag ek om U te smeek:
Hark weg die dooie blare van die verlede
Vergruis die harde kluite van my weerbarstige gewoontes en groewe
Werk diep in my in die ryk kompos van nuwe visie en vreugde
Plant diep in my siel u lewegewende Woord
Versorg, gee water, koester my hart
Totdat die nuwe lewe in my ontkiem, groei en blom.
Amen.
Outeur: Richard Foster
Uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle
Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk

Skriflesisng: Sagaria 9:9-17

Prediker

LEEF

Gebed

Wegsending: Lied 547 “Alle volke klap julle hande 1,2,3”

Seën
Die Here is voor jou om die weg gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.
Die Here is binne jou om jou te inspireer.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bo jou om jou te seën.
So seën die drie-enige Vader, Seun en Heilige Gees julle van nou af tot in ewigheid.
Amen.

Musikale Amen: Lied 314

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Sien liturgie

Liedere

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

F57. “Ek Sien In My Gees (Oorwinningslied)”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Hoop en Voleinding / Lof / Koninkrykstyd)
Oorspronklik: Battle Hymn of the Republic (Tradisioneel)
Afr. Teks: Piet Smit
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Gunsteling Lof en Aanbiddingsliedere; asook op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

Ek sien in my gees die glorie en die almag van die Heer
Die Allerhoogste wat in liefde oor sy Koninkryk regeer
Hy’t belowe aan die einde op die wolke kom Hy weer
Hy is Koning, Hy regeer!

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy is Koning, Hy regeer!

Die Here is ons Vesting wat vir altyd sal bly staan
Hy beskerm elke mens wat in geloof na Hom toe gaan
Hy’s ons skuiling, Hy’s ons wapen, Hy het die vyand reeds verslaan
Hy is die Rots wat ewig staan

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Hy’s die Rots wat ewig staan!

Kom deel nou in ons loflied hef jou hande op na bo
Blaas basuine, slaan op tromme en kom dans voor God se oë
Kom leef in die oorwinning van sy Woord waarin ons glo
Want sy Woord sal ewig staan

Refrein:
Loof Hom, prys Hom! Halleluja!
Want sy Woord sal ewig staan.

4. Ek glo dat Jesus Christus weer sy bruid gaan kom haal
Ek glo die Vader het al reeds die dag en uur bepaal
Ek sien al klaar die feestelike hemelbruilofsmaal
en die tafel met ons bruilofsmaal

F192. “Die Koning Is Hier”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede / Advent en Epifanie)
Teks en Musiek: Stass
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Ons sing hosanna, hosanna in die hoogste
Ons sing hosanna want die Koning het gekom
En Hy is hier vir ons
Ons sing hosanna want God het ingetree
Ons sing hosanna Hy’t sy lewe kom gee
Hy is hier vir ons

Refrein:
Die Koning is hier
Die Koning is hier
Here Jesus U is die Koning van my lewe
Die Koning is hier
Die Koning is hier
Here Jesus U is die Koning van my hart

2. Ons sing halleluja want God is op die troon
Ons sing halleluja want die dood het verloor
By die kruis van Jesus
Ons sing halleluja want die lig het gekom
Ons sing halleluja daar’s lewe deur Hom
Hy’t gekom vir jou en my

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor donkies in aansluiting by die inleiding tot die prediking! En sluit die gesprek met die vervulling van Sag 9 dat Jesus juis kies om op ‘n donkie Jerusalem binne te ry. (Die woord donkie kom 440 keer voor in die 1983 vertaling van die Afrikaanse Bybel. ) Vir u gerief word 2 paragrawe oor donkies uit Wikipedia bygevoeg:

The donkey or ass, Equus africanus asinus, is a domesticated member of the Equidae or horse family. The wild ancestor of the donkey is the African Wild Ass, E. africanus. In the western United States, a small donkey is sometimes called a burro (from the Spanish word for the animal).

A male donkey or ass is called a jack, a female a jenny, and an offspring less than one year old a foal (male: colt, female: filly).

While different species of the Equidae family can interbreed, offspring are almost always sterile. Nonetheless, horse/donkey hybrids are popular for their durability and vigor. A mule is the offspring of a jack (male donkey) and a mare (female horse). The much rarer successful mating of a male horse and a female donkey produces a hinny.

Asses were first domesticated around 3000 BC, approximately the same time as the horse, and have spread around the world. They continue to fill important roles in many places today and domesticated species are increasing in numbers, but the African wild ass and another relative, the Onager, are endangered. As “beasts of burden” and companions, asses and donkeys have worked together with humans for millennia.

Economic use
Donkeys have a notorious reputation for stubbornness, but this has been attributed to a much stronger sense of “self preservation” than exhibited by horses. Likely based on a stronger prey instinct and a weaker connection with man, it is considerably more difficult to force or frighten a donkey into doing something it perceives to be dangerous for whatever reason.

Although formal studies of their behaviour and cognition are rather limited, donkeys appear to be quite intelligent, cautious, friendly, playful, and eager to learn. They are often pastured or stabled with horses and ponies, and are thought to have a calming effect on nervous horses. If a donkey is introduced to a mare and foal, the foal will often turn to the donkey for support after it has been weaned from its mother.

Once a person has earned their confidence they can be willing and companionable partners and very dependable in work. For this reason, they are now commonly kept as pets in countries where their use as beasts of burden has disappeared. Donkey rides for children are also a popular past time for children in holiday resorts or other leisure contexts.

Jy kan ook die video wys van die donkie en Jesus se intog (laai dit met ‘n gratis FLV Converter program af).

Speel Carike Keuzenkamp se “Donkie se Kerslied”, leer dit vir die kinders en laat hulle die vers saam sing! Die liedjie is op die CD/DVD “Carike in Kinderland Volume 2”.

Donkie se Kersfees
Ek was maar net ‘n donkie –
‘n donkie, en niks meer.
Tog het daar ook ‘n wonder,
iets wonderliks gebeur.
Vir Iemand maak my lewe
en wat ek doen ook saak.
Het ek my dit verbeel?
My kruis het lig geraak!
Hie-hô, Hie-hô
Op elke donkierug
is daar ‘n kruis.
Ook op ‘n donkierug
kom maak die Heer Hom tuis.

Preekriglyn

Die donkie is ’n wonderlike ding! Hoe wonderlik, besef mens eers as jy verstaan dat talle van die Ou Nabye Oosterse argitektoniese prestasies, soos die hangende tuine van Babilon, letterlik met donkie-arbeid opgerig is.

Die perd is ’n simbool van oorlog. Konings veg met perde, wat strydwaens sleep en ruiters met pyl en boog op hul doodstogte oor slagvelde laat swiep. Perde maak die verwoesting van oorlog soveel meer dodelik. Donkies bou op ’n nederige manier. Donkies het die boumateriaal van beskawings vir eeue op hul nederige manier aangedra. Seker dié dat ’n monument ter ere van die donkie op Upington opgerig is!

Twee bewegings in ons teks

In Sagaria 9 kom die Koning nederig en op die rug van ’n donkie as oorwinnaar na die volk toe. Die Koning kies spesifiek vir die donkie. Dis die eerste beweging.

Om die waarheid te sê, hierdie Koning kies teen die mag van die perd, strydwa, pyl en boog. Hy is ’n Vredekoning. Hy verbreek die ellende van oorlog, en bring ’n regering van vrede wat vir die wêreld groot seën inhou. Hy is vír vrede. Dit is die tweede beweging.

Die Koning is nie net nederig en vol vrede nie (eerste beweging). Hierdie Koning kies aktief teen geweld, en verbreek die mag van geweld en oorlog. Wie kies vir die mag van geweld, het met hierdie Koning te doen. Hy is téén geweld (tweede beweging).

Betower deur geweld

Walter Wink, ’n Nuwe Testamentiese geleerde, skryf dat ons samelewing betower word deur geweld. Geweld, sê hy, het vir ons die status van ’n godsdiens. Ons dien geweld met toewyding. Wat geweld só gevaarlik maak, is dat ons nie agterkom ons is besig om geweld as verlosser te aanbid nie. Vir ons lyk geweld só natuurlik, ons meen dit is maar soos dinge bedoel is om te wees. Geweld is dié ding wat jy nodig het om te oorleef, om mense met slegte bedoelinge af te skrik, om jou vyande op hul plek te hou.

Dit lei daartoe dat geloof in geweld eintlik dié geloof van die moderne Westerse beskawing geword het. Dit, sê Walter Wink, het ons geërf by die ou Mesopotamiese godsdienste, wat ons kultuur ingrypend beïnvloed het. Mesopotamië is die wêrelddeel wat ons vandag as die Midde-Ooste ken, en waarvan ou Israel deel was.

’n Teks soos Sagaria 9 is juis die Here, die Oorwinnaar, se verset teen die aanbidding van geweld. Ons het vandag nodig om te hoor dat ons Koning geweld verwerp, pyl en boog verbreek, strydwaens en oorlogsperde tot niet maak. Hy ry op ’n donkie, Hy is nie-gewelddadig, Hy bring ’n diepe vrede, Hy regeer met reg en geregtigheid wat geweld tot niet maak.

Babiloniese skeppingsmite

Net soos ons Bybel ’n skeppingsverhaal ken (Genesis 1 en 2), het die mense van Mesopotamië hul skeppingsverhale gehad. Bekend is die Enuma Elish-skeppingsmite van die Babiloniërs (’n magtige Mesopotamiese kultuur). Hierdie mite verheerlik geweld.

Volgens die Enuma Elish skeppingsmite het die gode Apsu en Tiamat geboorte gegee aan Mummu. Hulle het ook die jonger gode gebaar, wie se luidrugtige speletjies die ouer gode so pla dat hulle besluit om die jongeres dood te maak. Toe die komplot ontdek word, maak die jongspan Apsu dood. Sy vrou, Tiamat, sweer wraak. Beangs gaan soek die jonger gode hulp by die god Marduk. Marduk beloof hulp, maar dan wil hy die hoofgod word. Toe hulle aan sy versoek voldoen, maak Marduk vir Tiamat dood. Hy vang haar in ’n net, dryf ’n bose stormwind in haar keel af, deurboor haar geswolle buik met ’n pyl, wat haar laat oopbars en haar hart boonop deursteek. Dan kap hy haar skedel met ’n knuppel oop en giet haar bloed oral uit. Hy strek haar dooie liggaam uit en skep die kosmos, die wêreld, uit haar lyk.

Die bekende filosoof, Paul Ricoeur, lê hierdie skeppingsmite as volg uit: In die Enuma Elsih-mite is die skep van die wêreld ’n daad van geweld. Tiamat, die moeder van almal, word vermoor en vermink. Die wêreld word uit haar lyk geskep. Orde word geskep uit wanorde. Die skepping is die geweldadige oorwinning oor ’n vyand wat ouer as die skepping is. Die oorsprong van boosheid is ouer as die oorsprong van die dinge. Chaos (gesimboliseer deur Tiamat) bestaan vóór orde (Marduk, die god van die Babiloniërs). Boosheid is ouer as goedheid. Geweld bestaan in die godheid. Geweld is onlosmaaklik deel van die skepping, dit is in die skepping ingeskep, en is ouer as die skepping. Geweld kan dus nooit ’n probleem wees nie. Dit is immers ’n feit. Geweld is die manier waarop chaos georden word.

Die Bybelse skeppingsverhaal is heftig teen hierdie siening gekant. ’n Goeie God skep ’n goeie skepping. Chaos bied nie weerstand teen die skeppingswerk van God nie. Goedheid bestaan voor boosheid. Boosheid en geweld is nie deel van die skeppingswerk nie, maar is die gevolg van die eerste mense se sonde.

Die Babiloniese skeppingsverhaal sou wyd versprei raak en ook na ander kulture uitbrei, bv. Sirië, Fenisië, Egipte, Griekeland, Rome, Duitsland, Ierland en Indië. Tipies van hierdie skeppingsverhale is dat ’n manlike god teen ’n vroulike god veg (voorgestel as ’n monster of ’n draak). Die manlike god wen en maak die wêreld uit die lyk van die vroulike god.

Hiermee is die onderdrukking van vroue ingeskryf in die Babiloniese verstaan van hoe die wêreld inmekaarsteek.

Geweld en die skepping van die mens

Ons bly nog by die Enuma Elish mite. Nadat Marduk Tiamat oorwin, en die wêreld skep, gooi hy ’n klomp gode wat haar ondersteun het, in die tronk. Hulle kla oor die kos. As straf onthoof Marduk een van hulle. Sy bloed word geneem, en die mens word uit sy bloed geskep.

Die mens het dus sy bestaan te danke aan die bloed van ’n vermoorde god. Ons is gebore uit geweld. Geweld en doodmaak is in ons bloed. As mense is ons nie die oorsprong van boosheid nie. Ons het boosheid van die begin af in ons gene. Ons doen maar net waarvoor ons in ons bloed geprogrammeer is.

Vir Babiloniërs is die koning Marduk se verteenwoordiger op aarde. Die koning maak dus soos die groot geweldenaar-god maak. Hy bevorder die ryk van Marduk deur Marduk se metodes te gebruik. Die militêre veldslae van die Babiloniese konings is gebou op Marduk se voorbeeld dat vyande uitgewis word. Só, deur geweld, word chaos bekamp. Die vyand is boos, en die vyand se straf is die geweld van die Babiloniese koning.

’n Moderne plot

Walter Wink sê dat hierdie basiese geloof (in die oorwinning van geweld oor chaos) vandag springlewendig in die Westerse wêreld is. In sy boek, Engaging the Powers, verduidelik hy hoe hierdie heidense mite die plot van omtrent elke aksiebelaaide strokiesverhaal en Hollywood fliek is. ’n Onoorwinlike goeie held word bedreig deur ’n slegte mag of mens wat nie hervorm kan word nie. Aanvanklik ly die held en dit lyk of hy (selde sy) aan die kortste end gaan trek, maar dan word die held bevry en oorwin die chaos geweldadig, en herstel orde. Dis nou tot die volgende episode aanbreek, dan word die plot herhaal

Wink noem hierdie verskynsel geloof in reddende geweld (redemptive violence). Ons word gered deur geweld. Dit is prima Enuma Elish. Elke aksieprent katkiseer kinders om te geloof in reddende geweld.

As dit maar net aksieprente was. Wink gaan verder en toon aan dat die manier hoe die Westerse wêreld internasionale verhoudinge bestuur ook met die Babiloniese skeppingsmite werk. Dink aan hoe terrorisme beveg word. Ons is so in die greep van die geweldmite, dat ons nie ander moontlikhede raaksien nie.

Klink dit bekend? Marduk eis die reg om te regeer voordat hy Tiamat doodmaak. Hy kry dit. Na sy oorwinning gee hy die reg om op aarde te regeer aan sy verteenwoordiger, die Babiloniese koning. Die Babiloniese koning oefen hierdie goddelike regeermaag uit deur chaos met geweld te oorwin.

Daarom kan die Amerikaanse president die “aksis van boosheid” (axis of evil) wat chaos saai aanvat deur ’n land of twee gewelddadig in te val. Die militêre geweld sal redding bring. Die boosheid het nie ’n houvas op ons nie, ons is die goeies. Die boosheid lê net in ander, en ons gaan hulle vernietig. Uit die daad van vernietiging sal daar vrede en orde geskep word.

Die Bybelse God

Waar is God in dit alles? God, soos ons God uit die Bybel leer ken?

Ons teks stel ons voor aan ’n God wat doelbewus vir ’n donkie kies, teen die oorlogsperd, strydwa, pyl en boog. Hy wys oorlog en strydlustigheid af en lê die grondslag vir vrede.

Ons God kom in vrede en vestig vrede. Hy is regverdig, Hy oorwin nie deur geweld nie. Hy vestig geregtigheid en vee niemand van die tafel af nie. Hy doen dit van die Eufraat af (die rivier wat deur Mesopotamië geloop het) tot aan die uithoeke van die wêreld. Waar mense faal, en kies vir geweld en boosheid, bring hierdie God redding. Hy raak mense aan en leer hulle wat die waarheid is. Hy help hulle om te kies vir sy Vrederyk.

Reg deur die Ou Testament word hierdie karakter van God geteken. God is nie soos die Babiloniese skeppingsmite die godheid voorstel nie. Daarom moet God die koning leer hoe om regverdige beslissings te vel, verdruktes op te help, armes by te staan, mense van geweld en verdrukking te bevry (Psalm 72).

Op geweld kan ons nie hoop nie. Van geweld kan ons niks goed vermag nie. Van God, wat nie-gewelddadig werk, wat geregtigheid laat geskied en liefde laat blom, kom ons hulp en ons hoop.

Jesus kom op ’n donkie

Jesus identifiseer Hom tydens sy intog in Jerusalem met Sagaria 9:12. Jesus ry ook koninklik en triomfantelik op ’n donkie. Hy doen God die Vader se werk deur die krag van die Heilige Gees. Wanneer Hy aangerand word, kies Hy doelbewus teen geweld. Hy verdedig Homself nie. Hy word deur geweld verkrag en aan die kruis gehang. Deur sy kruisdood ontmasker Hy geweld, oorwin Hy geweld, vestig Hy vrede en geregtigheid.

Vir die geweldsbehepte Romeinse burgers het Hy na ’n mislukking gelyk. Om Hom te aanbid, was soos om ’n donkie te aanbid (dink aan die “spotprent” uit die eerste eeu: “Alexamenos aanbid sy god”).

Tog is sy weg die waarheid. By Hom moet ons leer.

Jesus leer ons nie-gewelddadig optree

Een: Deur in liefde te reageer
Die Bybel leer ons dat ons Koning wat op ’n donkie ry oor alle mag in hemel en op aarde beskik. Alle mag is in Hom te vind. Hy leer ons hoe om mag aan te wend. Ons word geroep om God met alles wat ons is lief te hê. Ons moet ons naaste liefhê soos onsself.

Ons kán liefhê. Jesus het die volle geweld van die boosheid gedra en boosheid daarmee oorwin. Wie vandag sy of haar geld op mag as geweld plaas, wie vandag iewers wil kom deur dominasie, saal die verloorperd op.

Twee: Deur te vergewe
Jesus se oorwinning oor die mag van geweld maak vergifnis moontlik. Vergifnis is die nederige Koning se reaksie op geweld. Reeds aan die kruis bid Jesus: “Vader vergewe hulle…”

Vergifnis is die manier waarop Christene teen gewelddadigheid optree.

’n Hartsverandering

Geweld en geloof in geweld is só diep gevestig in ons harte as gelowiges. Ons het die Here nodig om ons hiervan te bevry. Veral in Suid-Afrika waar ons so ’n gewelddadige samelewing is. Daar is die geweld van ouers teenoor kinders. Kinders teenoor ouers. Mans teenoor vroue. Vroue teenoor mans. Mense wat nie het nie, teenoor mense wat het. Mense wat het, teenoor mense wat nie het nie.

Wat sal ons volhardend van die Vredekoning bid? Sal ons kan vra dat die oorlogsperd, die strydwa, die peil en boog in ons eie gene vernietig word? Sal ons dit waag om te vra dat die manier hoe ons breine oor geweld dink, verander word? Sal ons kan vra dat die Here die boosheid en die geweld in onsself vernietig?

Wie dit kan doen, sal beleef hoe die Vredekoning ’n nuwe begin met jou maak.

Die pad van die nederige donkie is die regte weg om te gaan.

God stuur ons om te leef

Sien liturgie

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.