Derde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die aansluiting by die vorige Sondag se fokusteks is steeds die sekerheid en moedhou ondanks die verganklikheid van die tentbestaan (2 Kor 5). Daarom moet ons ons heil nie in verganklike prinse soek nie, maar in die Here wat oor almal beskik (Eseg 17). Inderdaad is alles wat Hy doen groots, en daarom vind ons ons krag in Hom en groei in sy teenwoordigheid op (Ps 92). Kan (sal) ons deur die gelykenis van die saad wat groei sonder ons toedoen, juis die mosterdsaadjie, rustig en eenvoudig glo en Hom vertrou? (Mark 4).

Ander tekste

Esegiël 17:22-24 – God is almagtig
22So sê die Here my God: “Ek vat die top van die hoë seder weg en plant hom, Ek pluk die sagte boonste takkie af en plant hom op ’n hoë berg. 23Ek plant hom hoog op die bergland van Israel waar hy takke sal maak en saad sal skiet. Hy sal ’n pragtige seder word, en in hom sal al die voëls woon; al wat vlerke het, sal in die skaduwee van sy takke nes maak. 24Al die bome in die veld sal weet dat Ek die Here is. Ek maak groot bome klein en klein boompies groot, Ek laat groen bome verdroog en droë bome bot. Ek, die Here, het dit gesê en Ek sal dit doen.”

Psalm 92:1-4, 12-15 – Alles wat die Here doen is groot. Hy is ons krag, daarom loof en prys ons Hom
Groots is alles wat U doen, Here

92 ’n Psalm. ’n Lied vir die sabbatdag.
2Dit is goed om die Here te loof,
om u Naam te besing, Allerhoogste,
3om elke môre van u liefde te getuig,
en elke aand van u trou,
4om dit te doen met snaarinstrumente,
met harp en lier.

5U groot dade, Here, 
het my baie bly gemaak, 
ek wil juig oor wat U gedoen het. 
6Groots is alles wat U doen, Here,
ondeurgrondelik u gedagtes. 
7Wie dit nie besef nie, is ’n dom mens, 
wie dit nie insien nie, 
is sonder verstand. 
8Al is die goddelose voorspoedig, 
al floreer almal wat onreg doen, 
hulle sal vir goed uitgewis word. 
9U regeer vir ewig, Here, 
10en dit staan vas: 
u vyande sal uitgedelg word, Here, 
almal wat onreg doen, 
sal vernietig word. 
11Maar vir my gee U krag 
soos dié van ’n buffel, 
U laat my ’n oorwinningsfees vier. 

12Ek kyk op my teëstanders neer,
ek luister sonder vrees na die mense
wat niks ontsien nie,
wat in opstand teen my is.
13Die regverdiges sal sterk wees
soos palmbome,
soos hoë seders op die Libanon.
14Hulle vind hulle krag
in die huis van die Here
en groei op in die tempel van ons God.
15Selfs in hulle ouderdom
sal hulle nog toeneem in krag.
Hulle sal fris en lewenskragtig wees.

16So sal blyk dat die Here regverdig is, 
dat daar by Hom geen onreg is nie. 
Hy is my rots.

Markus 4:26-34 – God sien om na die koninkryk en sorg dat dit groei.
Die gelykenis van die saad wat vanself groei
26Verder het Hy gesê: “Met die koninkryk van God gaan dit só: Iemand saai die saad op die land 27en gaan slaap en staan op, dag na dag, en die saad ontkiem en groei—hóé weet hy self nie. 28Vanself bring die aarde die graan voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die vol koringaar. 29En wanneer die graan ryp is, steek hy dadelik die sekel in, omdat die oestyd daar is.”

Die gelykenis van die mosterdsaadjie
(Matt 13:31–32; Luk 13:18–19)
30Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? 31Dit is soos ’n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. 32Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.”

Die gebruik van gelykenisse
(Matt 13:34–35)
33Deur baie sulke gelykenisse het Jesus met die mense oor sy boodskap gepraat, vir sover hulle dit kon verstaan. 34Sonder ’n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê.

Fokusteks

2 Korintiërs 5:6-10 (11-13), 14-17
Lewe deur die geloof
16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.

5 Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan. 2Terwyl ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit die hemel ons sal oordek. 3Ons wil nie ontklee wees en naak voor God staan nie. 4Ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie; ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe. 5Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

6Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, 7want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie. 8Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here gaan woon. 9Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. 10Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.

Die bediening van die versoening
11Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig. God ken ons bedoelings, en ek vertrou dat julle ook van ons bedoelings oortuig is. 12Ons prys onsself nie opnuut by julle aan nie. Ons gee julle juis eerder aanleiding om trots te wees op ons, sodat julle ’n antwoord kan hê vir dié wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie. 13As ons in geestesvervoering was, was ons dit vir God; en as ons by ons verstand is, is ons dit vir julle.

14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. 15En Hy het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

16Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. 17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

6 As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding
het Ek jou gehelp.”
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.

3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.

8Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers,
en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes,
en tog is ons goed bekend;
as sterwendes
en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf,
maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes,
en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes,
maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie,
en tog besit ons alles.

11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Ekstra stof

Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil
Paulus was besig om te skryf oor die verandering in sy reisplanne. In hoofstuk 2:14 het hy homself egter onderbreek om eers oor die evangelie self te skryf. In hoofstuk 7:5 sal hy weer terugkom na sy reisplanne.

Om die onderbreking oor die evangelie goed te verstaan, help dit om na die metafore te kyk wat hy gebruik. In sy beskrywing van die triomf van die evangelie en die wonder van die nuwe verbond het hy drie metafore gebruik om die rol van die evangelie in ons lewens te beskrywe: ons is soos wierook, briewe en spieëls.

Hier gaan hy nou verder om die evangelie en sy impak in gelowiges se lewe te beskrywe aan die hand van drie ander metafore: 1) die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn (4:1-6); 2) die evangelie is ‘n skat wat in erdepotte opgesluit is, potte wat egter maklik breek (4:7-15); 3) die evangelie skep in ons ‘n verlange na ons vaste gebou in die hemel (ons hemelse liggaam – vgl 1 Kor 15) wat God belowe vir ons wat nou net ‘n tentbestaan (ons aardse liggaam) voer (4:16-5:10).

Met die eerste metafoor van die lig van die evangelie spel hy die implikasie daarvan vir die gelowiges se lewe na buite, in die wêreld uit – mense van die lig kan die praktyke van die duisternis nie verdra nie, veral nie dinge soos bedrog en vervalsing nie. Die resultaat: ‘n eerlike lewe laat die lig van Jesus vanuit jou hart regdeur jou skyn.

Met die tweede metafoor van die skat in kleipotte, spel Paulus die effek van die evangelie op die omstandighede van die gelowige uit – ons lot is verdrukking, verleentheid oor raad en vervolging wat fisiese leed insluit. Tog laat die krag van God nooit toe dat ons terneergedruk, radeloos, God-verlate of vernietig word nie. Die lewe van Jesus word in ons sigbaar, juis in ons gebrokenheid en weerloosheid. Daarom dat ons volhard omdat God se genade só steeds meer en meer mense kan bereik. Hierdie gedagtes sal Paulus nog verder in die brief aan die Filippense uitwerk (Fil 2).

Met die derde metafoor van die gebou in die hemel, dié deel waarin ons teksverse val, spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra. Die swaarkry van hierdie lewe gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan. Dit het ‘n tweërlei uitwerking op ons:

  1. aan die een kant sug ons dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef,
  2. en aan die ander kant het ons die Gees wat ons moed gee om te wag op God se tyd.

Let op dat anders as met die Grieke, wat net aan ‘n voortbestaan van die siel gedink het, Paulus steeds aan ‘n gebou dink, dws aan ‘n liggaam wat voortbestaan, soos ook in 1 Kor 15.

In dit alles, sê Paulus, het ons net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil (let weer op die ooreenkomste met die brief aan die Filippense, hierdie keer hfst

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 156 “Loof, loof die Here” of
Flam 2 “Met ons lewens, wil ons U eer”

Votum: Psalm 92:2-6

Seëngroet

Lofsang: Lied 161 “Halleluja! Heer, U is ons lewe”
Wet: Jesus het vir almal gesterwe sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. . . Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. (2 Kor 5:15 & 17)

Toewyding
Lied 200 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie” of
Vonkk 56 “My God, Hoe Doelloos, Hoe Verward” of
Flam 129 “Hier is my lewe”

Genadeverkondiging: 2 Kor 5:18-20

Gebed
Skriflesing

Liedere

Flam 2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005 Jacques Louw
© 1978 Bob Kilpatrick Ministries

1. Met ons lewens wil ons U eer, Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

2. In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

3. In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

4. In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

VONKK 56 “My God, Hoe Doelloos, Hoe Verward”
Teks : JA Cramer (1733-1788); Ahasverus van den Berg 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944 (Gesang 33); Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK Werkgroep 2009
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
Melodie: Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ – Peter Sohren 1668
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Skuldbelydenis en Genade

1. My God, hoe doelloos, hoe verward
het ek geword deur sonde.
Hoe is ek nie verblind, verhard,
en aan my wil gebonde.
Hoe het my skuld my nie vervreem,
gemeenskap, Heer, met U ontneem,
U beeld in my verduister.

2. Maar U het my u guns betuig,
my, sondaar, begenadig.
U het my trotse wil gebuig
en my met guns versadig.
In Christus kon ek redding vind,
is deur Hom nou aan U verbind
om U te dien in liefde.

3. Verbreek in my voortdurend, Heer,
die neiging tot die sonde.
Maak my in Christus altyd weer
aan U alleen verbonde.
En maak my lewe: kragtig, goed –
dat ek opreg in my gemoed,
met vrug voor U kan lewe.

Flam129. “Hier Is My Lewe”  
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof, toewyding)
Teks en Musiek: Danie Botha
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

Heilig heilig my hande o Heer
Heilig my lewe om U Naam te kan eer
Heilig my voete my hart en verstand
Dat ek kan wandel op die heilige pad

Ek wil U loof uit ‘n heilige hart
Ek wil U eer soos die Gees my leer
Hier is my lewe hier is my hart
Hier is my lewe ek kom lê dit nou neer

Open my ore om U fluist’ring te hoor
Reinig my denke in die wêreld verloor
Gee my die krag om nou biddend te staan
Gedryf deur die waarheid, die Woord en U Naam

Hier is ek Here met my hele bestaan
Nietige mens met my foute en al
Gebruik wat U kan al is ek niks Heer
Gebruik wat U kan kom verander my meer

VONKK 116 “Laat Jou Lewe Aan Die Here Oor”  
(Psalm 37)
Teks: Driekie Jankowitz 2009 (Pro Deo)
Musiek: JACUS – Jacus Krige 2009
Kantoryverwerking (keervers): Albert Troskie 2010 (Pro Deo) en Gerrit Jordaan 2010
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue

Keervers
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.

Voorleser:
Vertrou op die Here en / doen wat goed is, dan / woon en werk jy / in ware vrede./ Wees / bly in die Here, Hy / gee jou sy gawes. / Jou / diepste wense sal / Hy vervul.

Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.

Wees stil in die Here; wag / rustig op Hom, want / dié wat Hom dien, sal / alles besit. /
Bly af-/-hanklik van God, ver-/-trou net op Hom – / dan sal jy sy vrede en / voorspoed ervaar.

Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.

As jy / min besit en die / Here dien, is jy / ryker as skelms met / sakke vol geld. Die / Here versorg; Hy be-/-skerm sy kinders; Hy / gee hul ‘n land waar hul / altyd kan woon.

Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.

Die / Here beplan die / koers van sy kinders en / Hy sal ook sorg dat dit / goed gaan met hul.

Ja, / selfs as hul struikel, sal sy / hand hul vashou, dan / sal hul nie val of bly / lê in hul nood.

Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.

Ek het / nog nie gesien dat / dié wat God dien
op / straathoeke staan om te / bedel vir kos,
want die / Here red dié wat / Hom / soek in hul swaarkry – / Hy help almal wat / by Hom / skuil.

Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou.
Laat jou lewe aan die Here oor,
vertrou op Hom, Hy sorg vir jou

Flam 228. “Waarom Is Ek Hier? (Nuwe Mens)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Diens & Getuienis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

1. Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?
Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?

Pre-Refrein:
Is ek vir U behae beplan?
’n Kind van U familie?
Gemaak om soos U Seun te leef?
’n Dienaar wat wil dien?
Brandend vir sending?
Of om te sien dat ek kan:

Refrein:
Lewe
As ’n nuwe mens
Lewe
As ’n nuwe mens
Wys my, lei my, leer my altyd om te
Lewe
As ’n nuwe mens

Brug:
Aanbidding, Familie, Mense wat soos U leef
Bediening, Sending
Hier om te kan sien (x3)

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Leesrooster se Kindertyd storie:
’n Priester hoor eendag van ’n vrou wat beweer dat God persoonlik aan haar verskyn. Hy was baie skepties en besluit om die vrou se aanspraak te toets.

Hy gaan na haar toe en sê: “Wanneer God weer aan jou verskyn, vra Hom om my geheime sonde, waarvan net Hy weet, aan jou te openbaar.” Só, dink die priester, sal ek vir seker kan bewys dat die ou vrou jok.

’n Maand later gaan die priester terug na die vrou om te hoor wat sy te sê het.
“Mevrou,” vra hy half smalend, “het jy toe vir God gevra om jou van my geheime sonde te vertel?”
“Ja, ek het.”
Die priester skrik. “En wat het Hy toe gesê?” vra hy versigtig.
“Hy het net gesê: ‘Watter sonde? Sê vir die priester sonde wat Ek vergewe het, vergeet Ek.’”
(Piet Naudé, Stories vir die lewe, Lux Verbi, 2002, bl 310)

Ween manier om dié storie te gebruik:
Dit is nie ‘n eenvoudige teks om met kinders te hanteer nie. Selfs grootmense sukkel hiermee. Fokus daarom op een gedagte en probeer dit vir die kinders prakties maak. Byvoorbeeld: “ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil” (5:9).

Werk met die volgende skema:
1. God weet wie ons regtig is, en weet wat in ons hart aangaan. Dit is eintlik al wat belangrik is wanneer ons eendag in sy teenwoordigheid gaan kom. Daar ontvang elkeen wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.
2. Die wonder van die evangelie van Jesus Christus is egter dat Jesus vir ons gesterf het, sodat ons nuwe mense geword het. Hy het ons vergewe (vertel miskien hier die verhaal van die priester hierbo). Nou hoef ons nie bang te wees om eendag voor God te verskyn nie.
3. Uit dankbaarheid wil ons nou doen wat God wil: “ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil”. Nie omdat ons bang is vir wat eendag gaan gebeur nie. Maar omdat ons nuwe mense is en nou van binne af kan doen wat God graag wil hê.

Preekriglyn

In die 2007-film, The Bucket List, onderneem twee terminaal-siek mans ‘n reis om die dinge te doen wat hulle nog altyd wou doen. Dis nou voor hulle die spreekwoordelike emmer skop. Die rolle word gespeel deur Jack Nicholson en Morgan Freeman.

Voor die film vrygestel is, het Parade-tydskrif ‘n onderhoud met Jack Nicholson gevoer. Oor sy persoonlike lewe sê hy: “Ek het altyd so vry gelewe. Die mantra vir my generasie was; ‘Wees jouself, wees jou eie man!’ Ek het altyd gesê mense kan hulle eie reëls hê, wat hulle ook al wil. Ek sal ook my reëls hê. Ek sal verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Ek sal vir my keuses betaal en die skuld daarvoor dra. Ek het my eie kop gevolg. Dit was my lewensfilosofie tot diep in my vyftigs. Maar soos ek ouer geword het, moes ek aanpassings maak.”

Die feite van die lewe het uiteindelik die aandag getrek van selfs ‘n geharde vrydenker soos Nicholson. Later in die onderhoud sê hy: “Ons wil almal graag vir altyd lewe, nie waar nie? Ons vrees die onbekende. Almal bevind hulle egter op een of ander stadium teen ‘n muur vasgedruk. Ons weet nie wat aan die anderkant van daardie muur is nie. Dit is waarom ons die dood vrees.”

Einde van die pad

Baie mense se brawe en selfversekerde lewenstyl is maar net voorgee. Baie vrydenkers en diegene wat self besluit hoe wil hulle wil lewe, is soos die dapper muis. Hulle is vir niks bang nie. Regtig? Dalk is hulle nie in kontak met die diepste feite van die lewe nie. Aan alles kom daar ‘n einde. Mens kan kies soos jy wil, op ‘n dag kom jy teen die groot muur te staan waarvan jy nie weet wat aan die anderkant daarvan is nie. Dan is jou opsies uitgeput. Die lewe is verby. Jy mag die meester van jou eie lot gewees het. Maar ook dit is nou verby. Punt.

Moed om te lewe

Ons leef onder die swaard van verganklikheid. Tyd kalwe selfs ons beste en ons hoogtepunte weg. Wat gee mens die moed om tog reg te lewe? Om nederig te dien, in die geheim op te offer, die beste vir ander te soek in plaas van om alles vir jouself in so ‘n kort tyd moontlik in te palm?

Jack Nicholson se sug na ‘n vol lewe, baie ervarings, en die vryheid om te doen wat jou hart begeer, het ‘n plek in die lewe. Blootstelling, vreugde en ervaring is nie noodwendig sleg nie. Maar dit is nie ‘n goeie bron van moed om die lewe aan te pak nie. Op ‘n dag besef jy jy speel die rol van die dapper muis. Jy is net tot op ‘n punt in beheer van jou lewe.

Egter moed kom van buite. Vir Paulus kom dit van God af. God is in hierdie lewe aan die werk. God is in my lewe aan die werk. God is besig om my innerlik te vernuwe. God is besig om my te lei na die vaste gebou, die onomstootlike heerlike bestemming wat God vir my weggelê het. Dit is die egte bron van moed vir die lewe. Dit spoor hom aan. Dit vuur sy lewe en sy bediening aan.

Na aanleiding van 2 Korintiërs 4:16 tot 5:17 kyk ons vandag na die diepste bronne van moed, die diepste dryfvere, vir Paulus se lewe van geloof en diens.

Een: ‘n Vaste gebou by God
Die “vaste gebou by God” (5:1) is ‘n belangrike sleutel om Paulus se lewe, diensbaarheid en selfprysgawe te verstaan. Hy weet – wat ook al gebeur – God berei vir hom ‘n oorgang voor van die tydelike, sugtende, gebroke lewe na die heerlike, ewige bestemming in God se teenwoordigheid.

Hoe weet ons dit? “As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.” (5) God het reeds die deposito op die vaste gebou betaal. Die waarborg is gegee. Die Heilige Gees is die getuie van die vaste gebou wat die sekerheid op grond van die Skrifte in ons lewens werk.

Mens kan verganklikheid vrees omdat dit jou lewe hier op losse skroewe plaas. Verganklikheid kan jou laat gryp na die maksimum genot en die maksimum ongebondenheid (soos Jack Nicholson) in hierdie lewe.

Paulus sê: God self plaas ons lewe hier op losse skroewe. Want God werk in ons en werk met ons na die punt waar ons tydelike tentwoning oordek sal word met die vaste, ewige gebou. Dit is die gebou van ons nuwe mens-wees op God se nuwe aarde onder God se nuwe hemel. God plaas hierdie lewe op losse skroewe. Dáárom kan ons roekeloos doen wat God vra. Ons kan ons lewe gee in diens van ander. Ons kan ons lewe in gevaar stel vir ander. Ons kan slae ter wille van die evangelie, en ter wille van ander verduur.

Daar is talle voorbeelde van hierdie roekelose gehoorsaamheid aan God. Mense kies om hul lewe te verloor eerder as om Christus te verloën. Reddingswerkers kruip in tonnels of beskadigde geboue in om ander te red. Mense trotseer plae, peste, malaria, tuberkulose, noem maar op, om ander by te staan.

Ons uitsig op die vaste gebou maak ons vry. Dit gee ons moed om te lewe.

Twee: Gedring deur die liefde van Christus
Die onbesorgdheid van ons uitsig op die vaste gebou moet verdiep word. Dit word verdiep deur die liefde wat ons dring om hierdie lewe maksimaal te benut.

Mens kan sê: “Aangesien ek die lewe by God het, met al die waarborge, sal ek nou agteroor sit en my lewe rustig geniet.” Mens kan dan die sonde vermy, en in ‘n paar opsigte voorbeeldig wees.

Dis nie Paulus se prentjie nie. Sy lewe getuig van die teenoorgestelde. Hy het by mense betrokke geraak. Hy het uit sy pad gegaan om van die evangelie te getuig. Sy onbesorgdheid oor wat mense aan hom kan doen, het hom vry gemaak om ander met die evangelie te dien. Daarvoor is hy dikwels geslaan en verwerp.

Agter dit alles sit die liefde van Christus wat hom dring:

Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. (5:14-15)

Hierdie liefde dring ons om ons vryheid tot diens van ander te gebruik. Ons is geroep om niks aan mekaar verskuldig te wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.

Liefde is ‘n manifestasie van God se lewe en werk in ons lewens. Die liefde van God word deur die Gees van God in ons lewens uitgestort. (Rom. 5:5)

Drie: Élke mens!
Om te leef vanuit die kennis van die vaste gebou in Christus, gedring deur die liefde van Christus, laat mens die hele lewe op ‘n nuwe manier sien. Jy sien ook jou medemens deur ‘n nuwe bril: “Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie.” (16) Ons beoordeel ander nie meer in terme van hulle swakhede en mislukkings nie, maar deur Christus se oë. Selfs het Paulus Jesus vroeër met menslike waardes beoordeel, maar vandat hy Hom as Here ontmoet het, het hy ‘n nuwe besef van Jesus se identiteit ontvang. Dit help hom ander nuut sien.

In Bybel-Media se preekriglyne oor hierdie teks (2011-12) skryf Pieter van Niekerk aangrypend wat hierdie nuwe beoordeling beteken vir ons verhouding met jongmense. Dit het immers pas Jeugdag gevier. Van Niekerk skryf:
Ons kyk met Christus se oë na ander, en veral na ons jeug (kinders en jongmense). Ons steek nie vas by die destruktiewe dinge wat sommige jongmense aanvang nie, maar sien hulle potensiaal, die nuwe moontlikhede in hulle raak. Ons beoordeel ons kinders en jongmense nie volgens menslike maatstawwe nie. As “herskeptes” in Christus waardeer ons die jeug. Sy sterwe uit liefde inspireer ons om nie vir onsself te lewe nie. Ons is met Hom herenig, Christus se omgee-hart klop in ons.

Wanneer ons ’n persoon waardeer, dink jy aan die Engelse woorde “value”; “esteem”; “appreciate”; “appraise”; “cherish”. Dít is prysenswaardig. Dit gee erkenning aan die waarde, kwaliteit, betekenis van mense – hy/sy word geag, erken en raakgesien. Dit voeg waarde toe tot die gemeenskap se welsyn. Christene en gemeentes word geroep om kinders en jongmense te waardeer. Dit dra vrug en bevorder ’n gesonde en heel gemeenskap.

Ons heg waarde aan kinders en jongmense deur hulle te respekteer, eerlik met hulle te wees, en met waardigheid en integriteit te behandel. Ons groet hulle vriendelik en stel in hulle doen en late belang. Hulle is ten volle deel van die gemeenskap.

Ons geloof dring ons om die gemeenskap waarin ons leef aan te moedig om sy kinders en jongmense gelykwaardig te behandel en te respekteer. So ontstaan as ’t ware ’n kweekhuis van wedersydse respek, gebondenheid en kreatiwiteit. Indien ons kinders misken, ongeduldig en ongeskik teenoor hulle optree, hulle uitskel en uitsluit, bevorder ons ’n onbetrokke, onsensitiewe, destruktiewe en apatiese samelewing.

Maslow, die bekende sielkundige wat veral vir sy hiërargie van menslike behoeftes bekend is, skryf: “Dit kos nege waarderende opmerkings om op te maak vir elke afbrekende opmerking wat ons teenoor ons kinders maak.” Kinders word gesien en gehoor, soos jongmense wat deur die gemeenskap gerespekteer en geprys word.

Dit is so jammer wanneer kinders net geprys en erken word as hulle presteer; Jesus wys aan ons dat dit juis die geringstes is wat agting kort en raakgesien behoort te word. Meer nog, alle kinders en jongmense se menswaardigheid behoort erken, in stand gehou en ontwikkel te word. Waar die gemeenskap hulle waardeer en belangstelling toon, is ons besig om tot hulle bemagtiging by te dra.

God het mens geword sodat die mens Godwaardig is (2 Pet 1:4). Dit dwing ons om alle mense te waardeer, veral diegene wat so anders en soveel jonger as ons is. So maak ons Christus se hart baie bly. “Die karakter van ʼn nasie word gemeet aan die manier hoe hy sy kinders behandel” (Nelson Mandela).

Die moed om te lewe word gebore uit die passie om vir ander te lewe.

Toepassing

Die diepste motiewe wat ons lewens dryf, moet ondersoek word. Ons moet onsself voortdurend afvra: Waarvoor en waartoe lewe ek? ‘n Lewe waarin hierdie diep vrae nooit gevra word nie, is nie die moeite werd om te lewe nie.

Finansiële sekuriteit, gesondheid, ‘n netjiese huis en betroubare motor is goeie oogmerke in die lewe. Maar dit kan nooit die diepste en finale motiewe van ‘n mense se lewe wees nie.

Die reg om jouself te geniet, jou eie mens te wees, die vryheid om jouself te verwesenlik, dit is goeie motiewe. Maar sodra dit die finale en diepste dryfvere van jou lewe word, is jy brandarm. Dan is jy uitgelewer aan jouself en jou ou, sondige mens.

Mense wat aan Christus behoort, is nuwe mense:

  • Mense met ‘n vaste toekoms by God, wat vry is om te dien;
  • Mense wat vry is om soos Christus lief te hê en te dien,
  • Tot heil en opbou van almal rondom hulle.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer” of
Vonkk 116 “Laat Jou Lewe Aan Die Here Oor  of Flam 228 Waarom is ek hier?”

Seën

Respons: Vonkk 116 Keervers

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.