Derde Sondag van Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Woord en Fees - Jaarlikse subskripsie | 1 gebruiker or Woord en Fees - Jaar toegang | 1 Gebruiker | Gemeenterekening.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Genesis 3:8-15
Ander tekste: Psalm 130; 2 Korintiërs 4:13–5:1; Markus 3:20-35

Inleiding

Die sleutelteks uit Genesis sowel as die teks uit Markus se fokus val baie sterk op die mens se gehoorsaamheid aan God, al dan nie. In die Psalmteks sien ons ’n vloei van skuldbelydenis na vryspraak en vashou aan God. Die 2 Korintiërsteks fokus weer op dit wat ons glo oor die krag van die opstanding, wat ons ook dra in en deur swaar tye.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 421 “Die Here Jesus lewe”

Aanvangswoord
V: Ek wag op die Here,
G: my hele wese wag,

V: en op God se woord vestig ek my hoop.
G: My hele wese wag op my Heer,

V: meer as wagte op die môre,
G: ja, wagte op die môre.
– uit Psalm 130:5-6

Loflied
Lied 514/NSG 288 “Ek weet vir seker”

Diens van die Woord

Gedig
Lees die gedig “Nagmaal” van IL de Villiers. Dit is in sy bundel Gelykenisse en ander verse, Kaapstad: Tafelberg, 1975.

Diens van die Tafel

Skuldbelydenis
Uit die dieptes roep ek na U, Here.
My Heer, hoor tog my stem,
laat u ore aandagtig luister
na my smeekbedes.
As U sondeskuld toereken, Here –
my Heer, wie kan dan staande bly?
– uit Psalm 130:1-3

Stil nadenke.

Genadeverkondiging
Maar by U is daar vergifnis,
sodat U ontsag afdwing.
Ek wag op die Here,
my hele wese wag,
en op sy woord vestig ek my hoop.
My hele wese wag op my Heer,
meer as wagte op die môre,
ja, wagte op die môre.
Israel, vestig jou hoop op die Here,
want by die Here is troue liefde,
by God is volkome bevryding.
Dit is die Here wat Israel bevry
van al hul sondeskuld.
– uit Psalm 130:4-8

God stuur ons uit

Verbintenis
Ons weet dat die God wat Jesus opgewek het
ons ook saam met Hom sal opwek.
Ons weet dat ons ’n ewige woning in die hemel het.
– uit 2 Korintiërs 4:14 en 5:1

Slotlied
Lied 504:5/NSG 149 “Ons wil U wy ons hele lewe”

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 470 “U, Here, is ons koning”/Vonkk 70 “Abba, Vader, Skepper van die heelal”
Lofprysing: Lied 171/NSG 5 “Heilig, heilig, heilig”/Lied 203:1-2/NSG 33 “Loof die Here al wat lewe”/Lied 207 “Eer aan die Vader”/Psalm 116
Slotlied: Lied 490 “Soos Ú wil, Heer, laat dit gebeur!”/Lied 500 “Gods dade is volmaak en goed”/Lied 502 “Vol vertroue, vas en veilig”

Preekstudie: Genesis 3:8-15

Teks

’n Eerste lees van die afgebakende skrifgedeelte in die 1983-vertaling toon ’n tweedelige literêre eenheid onder die opskrif “Versoeking en die sondeval” (3:1-8 en 3:9-19). Enkele notas ná ’n eerste lees van die afgebakende teks.

Nadat God die skepping voltooi het, het Hy Adam en Eva in die tuin van Eden geplaas. Sommige geleerdes glo die naam “Eden” is afgelei uit die Hebreeuse woord eden wat “luukse, plesier of genot” beteken en waaruit ons die term “paradys” kry. Ander dink dit kom van die Sumeriese woord edin wat beteken “plein” of “steppe”. Dit hou verband met die ligging van die tuin. Die presiese ligging van die tuin van Eden is ’n raaisel. Genesis 2:8 vertel dat die tuin in die oostelike deel van Eden geleë is. Dit dui op ’n gebied oos van Kanaän. Genesis 2:10-14 noem vier riviere (die Pishon, Gihon, Tigris en die Eufraat) wat in die tuin bymekaarkom. In die tuin bestaan ​​twee unieke bome: die boom van die lewe en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Vers 8: “Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel.” Die vorm van die Hebreeuse werkwoord vir “wandel”, suggereer dat die daad gereeld herhaal en dat dit geniet word. God het daarin vreugde gevind om in sy tuin te kom wandel, want wat Hy geskep het, was goed en mooi. Dit was ’n algemene aktiwiteit waartydens God en die eerste paartjie in vriendskapsvertroue ontmoet het.

“… in die aandwindjie” spreek van die koel briesie wat in die oggend of die aand opkom. “… en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin”: Die tragedie van sonde kan reeds gesien word in die emosionele sowel as fisieke skeiding tussen God en sy skepping.

Vers 9: Dit is opvallend hoe God se sorg vir die mens voorrang geniet bo sy almag en alwetendheid. As Hy ’n voortvlugtende mens selfs in die doderyk of in die duisternis kan sien (Ps 139:7-12), sou dit ook kon gebeur in die namiddaglig van die tuin wat Hy self aangelê het. Maar Hy het na die mens geroep omdat die magtige skeppingswoord van God ook die genadige verlossingswoord is (vgl Matt 9:2-6). In die vraag: “Waar is jy?” kan daar egte kommer en belangstelling skuil (Eks 2:20; Job 14:10, 20:7), maar ook die eis dat wie aangespreek word verantwoording aan die vraagsteller moet doen (4:9; 1 Sam 26:16). Die Here is bekommerd oor die mens wat Hy geskep het, maar Hy is ook die mens se Koning en Regter. Dit is duidelik dat God nie hier inligting soek nie. Dit is eerder ’n retoriese vraag wat Hy vra sodat hulle kon besef wat hulle gedoen het (vgl v 11).

Vers 10: Dat die mens bang geword het vir God word hier gekoppel aan die besef dat hy kaal is. Sonde bring vrees vir God; waar vergifnis is en liefde beleef word, verdwyn vrees (1 Joh 4:18). Dit beteken die mens se bewuswording dat hy kaal is, het ook ingesluit dat hy skuldig is en gestraf moet word. Daarom het hy weggekruip. Hy was daarvan bewus dat hy oor sy ongehoorsaamheid tot verantwoording geroep sou word (2:17).

Vers 11: Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?” God se navraag dien eerstens om die mens tot skulderkenning en -belydenis te bring (vgl v 9). Uit die vrae blyk egter ook dat God as Regter die regte afleiding uit die beskikbare getuienis gemaak het. Daarbenewens bring Hy dit tuis by die mens dat hy skade berokken het aan die onbelemmerde wederkerige verhouding tussen hom en God.

Vers 12: “Die mens het geantwoord.” Hier val die klem op die feit dat Adam aanspreeklik is, al probeer hy vir Eva en selfs vir God die skuld gee. Maar “die mens” verontskuldig hom deur die skuld te pak op “die vrou wat U my gegee het”. Let op die aksent wat die “sy het vir my gegee” op die selfverontskuldiging lê en hoe hy die verantwoordelikheid vir sy daad aflaai op die vrou en op die Here God. Van die begin af was dit moeilik om die mens op die punt te bring waar hy sy skuld aanvaar, erken en bely (vgl 4:9b; 2 Sam 12:5-6).

Vers 13: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.” Die Here se vraag aan die vrou getuig van openlike teleurstelling oor haar optrede (vgl 12:18), maar ook vir háár bring dit nie tot skuldbelydenis nie. Die sláng, sê sy, het haar mislei (bedrieg) (vgl 2 Kor 11:3). Die term “bedrieg” beteken klaarblyklik “veroorsaak om te vergeet”.

Vers 14: Die opset van die Here God se gesprek met die mens en sy vrou het die vorm van ’n hofsaak. Die beskuldigdes is onder kruisverhoor geneem. Die uitspraak berus op die antwoorde wat hulle gegee het. In die vonnis is daar ’n chronologiese orde: die slang het die twyfel gesaai wat uitgeloop het op die oortreding van die Here se gebod. Hy word dus eerste gevonnis. Die vonnis berus op wat die slang gedoen het en raak hom in sy bestaan en in sy verhouding tot die mens. Met die vonnis, vervloek is jy, is dié seën wat meer inhou as blote vrugbaarheid, uit die slang se bestaan weggeneem soos dit by Kain gedoen is (4:11). Wat die slang betref, beteken dit dat hy onder al die diere uitgesonder word. Onder die diere sal hy nie maats hê nie en sy teenwoordigheid sal dui op ellende en teëspoed; vandaar die angs vir die slang by mens en dier. Die slang se bestaanswyse is ’n weerspieëling van sy vernederde bestaan onder die vloek: hy sal op die maag seil en stof eet. Die eet van stof beklemtoon die vernederde bestaan van die slang (Jes 49:23; Miga 7:16-17; Ps 72:9). Hy word gekarakteriseer as ’n dier van die dood wie se blyplek eintlik die doderyk is. Die woorde “jou lewe lank” beteken dat die bestaanswyse van die slang nooit sal verander nie.

Vers 15: Daar kom blywende vyandskap tussen die slang en die vrou. Die vyandskap sal voortgaan; al wat slang is, sal die vyand wees van al wat mens is. Daar is tóg vir die mens spore van hoop en genade in die oordeel oor die slang. Die vyandskap dui daarop dat die Here sonde beskou as lewensvreemd aan die mens. Die vyandskap moet die mens afsonder van die aanhitser tot ongehoorsaamheid; dus afsonder van die sonde. Wanneer “die kop vermorsel” is, is dit klaar met die slang, terwyl daar nog ’n sprankie hoop is vir die mens wat “in die hakskeen” gebyt is, al was so ’n byt meestal dodelik (49:17). Kop en hakskeen is dus nie gelykes nie. God is besig om vir Hom ’n kerk bymekaar te maak en die kant van die mens te kies teen die sonde. Die beeld van die “kop vermorsel” is deur Paulus oorgedra op Satan wat in die gestalte van vals leraars die gemeente probeer mislei het met “mooipraatjies en vleitaal”. Die slang word met Satan geassosieer en Christus word as die Oorwinnaar oor die slang verkondig (1 Joh 3:8).

Konteks

Genesis 3 is sentraal vir begrip van die probleem van boosheid en lyding in ons wêreld. Die uitwerking van die mens se eiewillige opstand teen God wat hulle liefhet, vir hulle sorg en voorsien en in ’n vertrouensvriendskap met hulle verkeer, word gesien in beide hulle geloofslewe en in hulle eie persoonskap, hulle familielewe en hulle wêreld. Let op die hoë prys wat God self persoonlik betaal sodat die mens vryheid kan uitoefen. God se vreugde en oorspronklike bedoeling vir/met die skepping is radikaal aangetas (maar nie permanent nie) deur die mens se opstand. As ons die goedheid en liefdevolle voorsiening van God in ag neem, lyk die opstandigheid van die mens radikaal oneerbiedig en selfgesentreerd. God se voortdurende liefde en belofte van verlossing (vgl 3:15) word ook meer radikaal genadig in karakter.

Met die teenwoordigheid van Satan staan die mens onder die invloed van versoeking. Die Bybel bespreek nie die spesifieke oorsprong of doel van “kwaad” nie. Sommige latere Joodse geskrifte voer aan dat sonde reeds voor Genesis 3 begin (in Satan, daarna in die mens). Ander Joodse interbybelse geskrifte stel dat sonde begin in Genesis 6 (in “die seuns van God”). Ná Jesus se tyd het valse leraars Judaïsme en Griekse denke saamgevoeg om te bewerkstellig dat boosheid inherent was in fisiese materie (dws, Griekse gnostiese denke). Die aanname is dat boosheid ’n doel het, anders sou dit nie bestaan het nie. In die Ou Testament is Satan nie God se vyand nie (behalwe moontlik in hierdie hoofstuk), maar wel altyd ’n vyand van die mens.

Historiese teologiese ontwikkeling (geneem uit Systematic theology deur L Berkhof): Die rabbyne ontken oorspronklike sonde en gee voorkeur aan die twee intensies (goed versus kwaad). Irenaeus (130–202 nC) is die eerste kerkvader wat Adam se sonde en die nagevolge daarvan bespreek. Hierdie siening oor die val van die mens deur Adam se sonde het dominant geword in die Westerse Kerk (dws Augustinus). Dit is klaarblyklik gebruik om gnostisisme, wat die probleem van boosheid in materie op sigself aangehang het, teen te werk. Origenes (182–251 vC) het gemeen dat elke mens eiewillig gesondig het in ’n vorige lewe (Platonies). Die Griekse vaders (Oosterse Kerk) van die derde en vierde eeue haal die klem van Adam se aandeel in die probleem van sonde in ons wêreld af. Dit het ontwikkel tot Pelagianisme (vanweë ’n Engelse monnik) wat ontken dat Adam enigsins ’n aandeel gehad het. Die Latynse vaders (dws die Westerse Kerk) volg Augustinus in sy beklemtoning van die rol wat Adam gespeel het in die probleem van kwaad, sonde en lyding in ons wêreld.

Die sondeval het die ganse mensdom beïnvloed, soos duidelik uitgedruk word in Paulus se bespreking in Romeine 5:12-21 oor Jesus as die tweede Adam (vgl 1 Kor 15:21-22, 45-49; Fil 2:6-8). Die grootste dryfkrag van die Bybel is die mens se verlossing van sonde en kwaad deur die tweede Adam, bewerkstellig deur ’n persoonlike, liefdevolle God in Christus.

Die konteks waarbinne Suid Afrika en die kerk in 2023 Koninkrykstyd beleef het, is dié van beurtkrag: gemiddeld ses tot agt ure ’n dag sonder elektrisiteit. Suid-Afrikaners was vir ’n derde van 2022 in donkerte gehul. Een opskrif lui: “Beurtkrag: Maak reg vir ’n donker Desember én 2023.” In Europa woed ’n donker oorlog tussen Rusland en die Oekraine.

Ons wêreld is vol geweld, korrupsie en ongeregtigheid. Hoe het die wêreld in hierdie vervalle toestand ontaard?

Paulus verwys na die aarde as “die teenwoordige bose wêreld”. Boosheid laat ons met ’n probleem; nie slegs spekulatief nie, maar baie prakties. Hoe om die tipe mens te wees wat kan opstaan teen die lewe, moeilike uitdagings en swaarkry kan trotseer, en oorwinning te smaak in kwaliteit van karakter en bruikbare lewe: daardie sentrale probleem konfronteer ons almal. Jesus het gesê: “Ek het die wêreld oorwin.” Nagenoeg 2 000 jaar gelede het hulle op Hom gespoeg, Hom uitgejou, Hom gegesel, Hom gekroon met dorings en Hom gekruisig. Hulle het die geskiedenis se grootste misdaad gepleeg, maar dit het uitgedraai om die mens se grootste seën te wees. Jesus het gesterf sodat ons kan leef. Hy het alles verduur, wetende dat Hy gekom het om ons te red. Iemand onbekend het gesê: “A fallen world needs a risen Saviour.”

Net soos Adam en Eva het mense behoefte om gered te word. “Jesus is nie soseer ’n onderwyser as wat Hy ’n redder is nie. Omdat dit is wat ons die nodigste het. Niks in wie ons is of wat ons doen, red ons nie” (Tim Keller). Jesus het gedoen wat ons nie vir onsself kan doen nie. “Ons het nie gevra om gered te word nie, maar God in sy genade het beplan wat ons nie besef ons nodig het nie. Christus het deur sy genade gekom tot die redding wat ons nooit self kon bereik het nie” (Tim Keller). Sy dood aan die kruis het ons verhouding met God reggemaak. Hy het gesterf in my plek en hy het gesterf in jou plek. As gevolg van sy dood is die wat sy vrye gawe van verlossing aanvaar nou vry van die straf en veroordeling van sonde. “Om die evangelie vir onsself te hou mag ons meer aanvaarbaar maak vir die kultuur, maar dit maak ons irrelevant ten opsigte van God en sy sending om te verlos en die gebroke wêreld te herstel” (Cris Alley). Die kerk wat ons in die Nuwe Testament ontdek, is institusioneel. Dit het publieke en sigbare teenwoordigheid in die wêreld. Die kerk word geprojekteer na buite aan al die nasies om Hom te verkondig as die Here oor alles. Soos wat ons aansluit by God se bewegende liefde, beweeg ons na buite. Romeine 1:16 verkondig: “die evangelie is ’n krag tot redding”.

Ons kan oor baie dinge praat as dit by die betekenis van die kerk kom; oor die geestelike tuiste, die rol van die kerk om mense in nood by te staan, die ondersteuning in moeilike tye. Tog is die belangrikste: julle sal My getuies wees; die evangelie is ’n krag tot redding. Dit is ’n krag tot redding, want oral waar die evangelie verkondig word, is God se krag teenwoordig om mense te red. Die handelinge van gelowiges staan in diens van God om sy doel met die kerk in die wêreld te bereik.

Preekvoorstel

John Grisham het ’n blitsverkoper geskryf met die titel The firm. Dit gaan oor Mitch McDeere wat as jong prokureur werk. Stelselmatig ontdek hy dat die firma alles van hom weet. “Die firma” luister hom af en agtervolg hom. Hulle sien alles van hom. Hulle versteek videokameras in sy huis. Hulle hou hom en sy vrou gedurig dop. Dit is vir hom skrikwekkend dat hulle alles van hom weet.

Na afloop van die sonde was Adam en Eva se eerste plan van aksie om van die aangesig van God weg te vlug en vir Hom te probeer wegkruip. Hoeveel van ons dink ons kan vir God wegkruip of iets vir God wegsteek? Hulle skuldgevoelens het gemaak dat hulle gehardloop het al het niemand hulle gejaag nie. Hoeveel van ons hardloop weg van God omdat ons gewete ons aankla? Adam en Eva het ook weggekruip as gevolg van hulle skaamte. Een van die opvallendste dinge in Eden was dat die eerste mensepaar naak maar nie skaam was nie. Waarom nie? Omdat daar niks was om oor skaam te wees nie. Eden was ’n wêreld sonder skaamte. Die eerste mensepaar het geen skuldgevoelens gehad nie omdat hulle niks vir God weggesteek het nie.

Toe hulle die vrug geëet het, het hulle geweet hulle is naak. Ons voel ook skaam as gevolg van ons naaktheid: ons sondes en tekortkominge en mislukkings en verleenthede. Net soos Adam en Eva probeer ons ons naaktheid bedek met blare. Ons skarrel vir maniere om ons skaamte te bedek. Adam en Eva het ook weggekruip omdat hulle bang was. Sonde skep vrees. Ons kies dikwels die weg van vrees om vry te voel, maar in stede dat dit ons vryheid bied, maak dit ons bang. Ons vrees die uitkoms van ons keuses. Ons is bang wat mense van ons gaan dink.

Hoe anoniem kan ’n mens voor God bly? Is dit enigsins moontlik om ongesiens by God verby te gaan? Die Bybel leer ons uitdruklik dat niks vir God verborge is of weggesteek kan word nie. “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het”(Heb 4:13).

Hierdie Vader van ons is alwetend, sê Psalm 139:1-6. Hy weet regtig absoluut alles van my. Ons kan niks vir Hom wegsteek nie. Mitch McDeere kon “die firma” uitoorlê omdat hulle een ding van hom nie geken het nie. Hulle kon nie sy gedagtes lees nie. Maar God ken selfs my gedagtes! Psalm 139:2 sê: “… U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.” God weet presies alles wat in my lewe aangaan. Vir Mitch McDeere was dit skrikwekkend, maar vir ’n kind van die Here is dit so bevrydend. Ek kan met soveel vrymoedigheid met Hom praat oor alles. Hy weet reeds hoe ek dink, en voel, en leef. Daarom kan ek heeltemal deursigtig en op my gemak voor Hom leef. So sonder pretensie. Hoe bevrydend maak Hy dit nie vir my nie!

Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is?” Sonder Christus staan ons in skaamte naak voor God. By geleentheid stuur God vir Jesaja om vir Israel te sê hoe hulle lyk: “Laat jou skaamte ontbloot word, ja, jou skande gesien word! Ek sal wraak neem en geen mens verskoon nie” (Jes 47:3). “Any sin you cover, God uncovers. Any sin you uncover, God covers,” skryf Johnny Hunt.

Die konsep om “naak” te wees is vir ons sensitief. Naaktheid laat ons ontbloot en kwesbaar staan. Ons almal het ’n diep begeerte om ’n plek van sekuriteit te vind waar ons sonder skaamte naak kan wees. Ons verlang na ’n plek waar ons ons siel aan iemand kan ontbloot. In Jesus Christus kan ons tot God nader, ons hart oopmaak vir Hom, sonder vrees en skaamte. “Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God” (Ps 51:19). Om naak te wees voor God beteken jy probeer nie enigiets in jou hart wegsteek vir Hom nie. Jy stort alles uit en jy laat Hom toe in elke kamer van jou siel.

Karl Barth het gesê: “Die grootste verrassing is nie hoe groot en magtig, alomteenwoordig en alwetend God is nie, maar hoe naby hierdie grote God aan ons kom, hoe genadig hierdie regverdige God met ons handel en hoe intiem hierdie magtige God by elkeen van ons betrokke is.” “Wanneer God dan na jou toe kom, nadat jy van al jou dinge gestroop is, besef jy uiteindelik dat Hý genoeg is” (Bennie Mostert).

Genesis 3 is dus nie net die verhaal van die erfsonde en van skuldverplasing en van die verydeling van die ekologie nie. Dit sê vir ons dat die lewe oor ’n verhouding met God gaan; dat die Bybelse verhaal daarmee begin, en in ’n sekere sin sentraal daarop gefokus is. Daarin sien ons God se bedoeling met die mens. God wil by ons wees, met ons saamloop, in ons woon. Hy nooi ons uit om met ons diepste behoeftes, ons vrae, ons vrese, ons skaamte, ons skuldgevoelens, ons stukkendheid na Hom te kom, want Hy wil op ’n verlossende wyse ook ons lewe verander. Hy wil in ’n verhouding met ons lewe.

Bibliografie

L Berkhof, 1941. Systematic theology. Grand Rapids, Michigan: WB Eerdmans Publishing; Genesis 1-11. http://www.freebiblecommentary.org/afrikaans_bible_study.htm; DE Pratte, 2016. Commentary on the Book of Genesis: Bible Study Notes and Comments. Self published by Amazon, CreateSpace Independent Publishing Platform; W Vosloo F janse van Rensburg, 1993. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

Leesrooster vir Lidmate

Fokusteks: Genesis 3:8-15
Ander tekste: Psalm 130; 2 Korintiërs 4:13–5:1; Markus 3:20-35

Genesis 3:8-15
’n Rampspoedige keuse.

Moment 1

Die gevolge van afvalligheid
Die eerste twee hoofstukke van Genesis vertel van ’n goeie begin: God wat skep en die mens na sy beeld maak om God self te verteenwoordig en oor die skepping te heers. Hoofstuk 3 vertel hoe mense se keuses gelei het tot verwoesting, ’n gebroke skepping. Bes moontlik het die verhaal van die skepping en sogenaamde sondeval neerslag gevind in die tyd toe Israel in ballingskap was, en het dit onder meer vir hulle gedien as verhale wat aandui dat dinge nie is soos dit moet wees nie; dat hulle ballingskap die gevolg is van hulle afvalligheid.

Moment 2

Verlange na harmonie
Die mensdom smag na ’n Eden, ’n plek waar ons in harmonie met God, mekaar en die skepping leef. Dit is asof daar ’n onvergenoegdheid in ons ingebou is, die wete dat God dinge anders bedoel het. Wat het gebeur dat ons ons oos van Eden bevind? Waarom leef mense ver van God, in vyandskap met mekaar en uit pas met die skepping? Hieroor wil die vertelling van Genesis 3 ’n mens laat nadink. Wanneer jy met die verhaal gekonfronteer word, hoe help dit jou om sin te maak van ’n stukkende wêreld en persoonlike verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar?

Moment 3

Toegegee aan versoeking en gevolglike skaamte
Wanneer die mens toegee aan die versoeking van die slang en die keuse maak om God se grense te oorskry, gaan hulle oë oop. Vir die eerste keer voel hulle skaamte. Hulle word selfbewus op ’n negatiewe manier, probeer hulle naaktheid vir God wegsteek en wil vir Hom wegkruip. Menslike pogings om outonoom te wees – selfstandig in die sin dat daar nie met God rekening gehou word nie – lei tot vrees en vervreemding. Kan jy geleenthede in jou lewe identifiseer waar die verhaal van Genesis 3 herhaal het, toe jy paradysplagiaat gepleeg het?

Moment 4

 

Wegkruipertjie vir God
“… en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: ‘Waar is jy?’” (Gen 3:9). ’n Joernaal of fotoalbum, enigiets wat jou terugneem op jou spore, kan jou dalk help om enersyds jou eie wegkruiptyd te onthou én ook God se soeke na jou, selfs al het jy opgemors.

© Missio 2024 | All rights reserved.