Derde Sondag van Advent

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Filippense 4:4-7
Ander tekste: Sefanja 3:14-20; Jesaja 12:2-6; Lukas 3:7-18

Inleiding 

Die derde Sondag in Advent word gekenmerk deur vreugde. Filippense 4 is waarskynlik een van die bekendste en mooiste blydskaptekste tot ons beskikking. Die preekstudie by hierdie liturgie verduidelik goed dat dié vreugde nie maar net optimisme of hedonisme is nie. Soos Paulus se hoop is dit “vreugde teen vreugde in”. Dit is ook nie net ’n vreugde wat ons droefheid oorkom nie (dit wel ook), maar dit is ’n vreugde wat ons aktiveer sodat vreugde ons wese kan binnedring en sigbaar kan wees in hoe ons leef.

Dit is merkwaardig hoe Paulus dié vreugde ook met vrede (Sondag 2) verbind. Ons weet dat vrede nie net die afwesigheid van haat en oorlog is nie, maar dat dit die teenwoordigheid van geregtigheid, liefde, gelykheid, waardigheid en mooiheid is. ’n Mens sou kon sê: nie net die afwesigheid van haat nie, maar die teenwoordigheid van die God wat aanhoudend heelmaak, regmaak, herstel, verlos en bevry.

In die liturgie kan ons daarom treur oor daardie plekke waar vreugde gesteel word, verdof word of onderdruk word. Ons kan bely en vergifnis vra vir die kere wat ons ander en die kosmos van Gods vreugde beroof. Ons kan met verwagting uitsien na dit wat die Here wil doen om blydskap te herstel. Ons kan opnuut besef hoe die nabyheid en die ingryping van God ons aktiveer, bekragtig en stuur om die blye evangelie in elke deel van die samelewing te laat deursyfer.

Die ander tekste van hierdie Sondag help ons om die volheid van Gods vreugde te verstaan. Sefanja en Jesaja wys hoe die nabyheid (“Die Here is naby jou”) en die ingryping van God (die Here maak dié bymekaar wat treur”) met Israel se vreugde verweef is. Hierdie tekste is ook ’n herinnering dat vreugde ’n eeue oue belofte van God is. In Lukas 3 hoor ons (by Johannes die Doper) hoe die vreugde van God in die praktyk lyk: Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie klere het nie, en wie kos het, moet dit deel met iemand wat nie kos het nie; moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie; moet van niemand geld afpers deur geweld of vals aanklagte nie, maar wees tevrede met julle betaling. Johannes wys ons ook daarop dat ware vreugde op pad is: Christus is die bron van alle vreugde.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 344/NSG 77 “O die goeie tyding, o die blye tyding”

Aanvangswoord 
V: Wees met alles wat jy is vrolik en bly!
Die Here het ’n einde gemaak aan jou straf,
Hy het jou vyande laat padgee.
Die Koning van Israel, die Here, is by jou;
jy hoef geen ramp meer te vrees nie.
Moenie bang wees nie,
moenie jou hande moedeloos laat hang nie!
Die Here jou God is by jou!
G: Die Here ons God is by ons.
Hy is die Krygsman wat red;
Hy is vol vreugde oor sy skepping;
Hy is stil-tevrede in sy liefde. 
Hy jubel en juig oor ons en oor alle mense. 

V: Hoor wat die Here sê:
Ek maak dié bymekaar wat treur,
ver van die feestelikheid af,
dié wat uit jou uit kom
en ter wille van jou die smaad gedra het.
Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het,
Ek gaan die kreupeles help,
die verstrooides bymekaarmaak
en die vernedering wat hulle moes ondergaan
in eer verander, in roem oor die hele aarde.
Wanneer die tyd daar is,
laat Ek julle kom,
maak Ek julle bymekaar
en gee Ek aan julle roem en eer
onder al die volke op aarde;
dit is die tyd wanneer Ek julle lot verander,
julle sal dit met julle eie oë sien.
G: Ons wag op U, Here. 
Amen. 
– uit Sefanja 3:14-20

Seëngroet
Die Here van vreugde nooi ons vandag uit:
“Kom skep met blydskap julle water uit die fonteine van redding.”
Die genade van ons Here Jesus Christus,
die liefde van God
en die gemeenskap van die Heilige Gees
is by ons,
en gee vir ons ewige vreugde.

Daarom kan ons, soos Jesaja geprofeteer het,
die Here loof,
jubel en juig,
en sing tot eer van God.
– uit Jesaja 12:2-6

Lofprysing
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Diens van die Woord

Gebed met die opening van die Woord
God van ons verhale,
dankie dat U die God is wat nie pyn weggooi nie,
maar dit binnegaan.
Soms voel dit asof vreugde ’n voorreg is.
Wie is veilig en goed genoeg om daaraan deel te neem?
Wys ons die volheid van vreugde,
dat ons daar kan ingaan sonder om
daardie verhale wat ons gevorm het te verwerp.
Mag ons ’n klaaglied ontdek wat ons help
om die waarheid van ons traumas te vertel
sonder om heeltemal daardeur ingesluk en beheer te word.
Wys ons die misterie van vreugde,
dat ons dit nie meer as ’n enkelvoudige emosionele geluk sal beskou nie,
maar as elke klein uitdagende stappie wat ons nader aan hoop bring.
Mag hierdie versekering, hierdie belofte,
ons op die een of ander manier teruglei
na waardigheid en vreugde
wanneer ons by die afgrond van wanhoop en verdriet wil afval.
Amen.
– Cole Arthur Riley, @blackliturgies (vry vertaal)

Gebed
Ons afhanklikheid van U is ’n vreugde, Here ons God,
ons ken ons eie armoede en tekortkominge,
maar dit maak ons nie swaarmoedig en bitter nie,
want ons vind troos in die gedagte dat U, o God,
juis die armes, die nederiges, dié wat deur die wêreld misken word,
gekies het om u vriende en dienaars te wees.
Vir ons wat U liefhet, is daar dus niks wat ons dieper vreugde gee nie
as die wete dat U ons gebruik om u wil en u doel hier op aarde te verwesenlik.
Dankie, Here, dat ons meer vrede kan hê wanneer mense ons klein en onbelangrik noem,
as dié wat die kortstondige vrede van die wêreld ervaar
omdat hulle as groot en belangrik geag word.
Dankie dat U ons help om ewe opgeruimd te bly
wanneer die wêreld ons ignoreer en verwerp,
as hulle wie se lewe gevul is met voorspoed en verering.
Dit, Here, kan net gebeur omdat U ons harte verander het,
sodat ons U kan ken en ons afhanklikheid van U kan besef.
Dáárom is u wil en eer vir ons belangriker as enigiets anders op aarde.
En daarom bring ons afhanklikheid groter vreugde en troos
as enige ander seëning wat ons sou kon ontvang.
– Thomas à Kempis, uit Naudé, Die groot gebedeboek

Diens van die Tafel

Nagmaal
Hier is ’n gedig om saam met die nagmaalsformulier te gebruik:

A Poem for the Feast of Christ the King
See how this infant boy
lifted himself down
into his humble crèche
and laid his tender glove of skin
against splintered wood –
found refuge in a rack
of straw – home
that chilly dawn,
in sweetest silage,
those shriven stalks.

This outcast king lifted
himself high upon his savage cross,
extended the regal banner
of his bones, draping himself
upon his throne – his battered feet,
his wounded hands not fastened
there by nails but sewn
by the strictest thorn of love.
– Pamela Cranston

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 212/NSG 56 “Loof die Heer, Hy is goed”

Seën
Mag ons altyd bly wees in die Here.
Mag ons inskiklik wees teenoor alle mense.
Mag ons oor niks besorg wees nie.
Mag die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan
oor ons harte en gedagtes die wag hou,
in Jesus Christus.
Amen.
– uit Filippense 4:4-7

Preekstudie – Filippense 4:4-7

Teks en konteks

Daar word oor die algemeen saamgestem dat die brief aan die Filippense deur die apostel Paulus geskryf is. Hy vertel dat hy vanuit die gevangenis aan die gelowiges in Filippi skryf (Fil 1:3), dus hang die datering van die brief af van watter van sy gevangesettings hy praat. Die boek Handelinge vertel dat Paulus in Filippi (Hand 16:23), Seserea (Hand 23:33-35) en Rome (Hand 28:16, 30) in gevangenskap was. Hy kon moontlik ook in Efese in die gevangenis gewees het, alhoewel daar nie in die Nuwe Testament van ’n lang gevangenskap daar melding gemaak word nie. Die omstandighede wat in die brief beskryf word, het Bybelgeleerdes die gevolgtrekking laat maak dat die twee waarskynlikste plekke waarvandaan Paulus die brief kon skryf Efese of Rome is, met Rome as die waarskynlikste. Paulus was rondom 61 tot 63 nC in die gevangenis in Rome.

Die rede waarom Paulus die brief geskryf het, kon wees dat Epafroditus op die punt was om na sy tuisdorp, Filippi, terug te keer en dus as Paulus se boodskapper kon optree. Hy het vir Paulus nuus van die gemeente in Filippi gebring en was ook vir Paulus ten tyde van sy gevangenskap tot hulp. Paulus wou graag op die nuus reageer en die lidmate van die gemeente bedank vir hulle finansiële ondersteuning aan hom. As pastor wou hy hulle bemoedig om hulle Christelike eenheid en liefde te behou en daardeur die voorbeeld van nederigheid, wat Christus geopenbaar het, te volg. Dit was verder noodsaaklik om hulle te waarsku teen die moontlike bedreiging wat vals leraars inhou.

Die toonaard van die brief is vreugde (blydskap). In die vorm van ’n werkwoord of ’n selfstandige naamwoord kom die woorde “wees bly” of “bly” 16 keer in Filippense voor (African Bible commentary). Met vreugde of blydskap as oorhoofse tema in die brief, is dié perikoop geskik vir prediking op die derde Sondag in Advent, die Sondag van Vreugde. Vir ’n kort samevatting van die hoofdele van die brief kan Die Bybellennium geraadpleeg word. Volgens hierdie kommentaar is die hooftemas in Filippense nederigheid, selfkruisiging, eenheid, verloste lewe en blydskap.

Oor die perikoop wat in hierdie studie ter sprake is, meld Die Bybellennium dat dit vreemd is dat iemand wat in die tronk is vir ’n gemeente kan skryf om bly te wees. By Paulus leer ons egter dat jou innerlike gesteldheid nie afhanklik moet wees van jou uiterlike omstandighede nie. Hy moedig die Filippense telkens aan om bly te wees. ’n Mens ervaar volkome blydskap wanneer jy wéét dat Christus in jou is (v 4-5). Wanneer Christus weer kom, sal die impak van hierdie blydskap ten volle ervaar word. Paulus beveel ook die Filippense aan om hulle bekommernisse in gebede te omskep. Dit is dan, wanneer jy jou bekommernis in gebed voor God lê, dat jy sal agterkom hoe die vrede van God oor jou hart en gedagtes wag hou (v 7). Hierdie vrede is anders as wêreldse vrede (Die Bybellennium).

In Hendriksen se kommentaar op die perikoop noem hy vers 4-7 “the secret of true blessedness”.In die A-gedeelte van sy eksposisie gaan dit vir hom oor wat gedoen moet word om dit te bereik, en in die B-gedeelte gaan dit oor die gevolg daarvan.Die A-gedeelte word verder verdeel in die volgende:

  • Let joy reign within (v 4)
  • Let big-heartedness be shown all around (v 5a)
  • Let there be no worry but prayerful trusting in God above (v 5b, 6).

Vers 4. Die apostel beklemtoon die plig om in die Here bly te wees deur die opdrag daartoe in een sin te herhaal. Die aansporing word herhaal, waarskynlik omdat dit onredelik lyk om bly te wees in gehoorsaamheid aan ’n opdrag, en selfs meer onredelik om altyd bly te wees, ongeag hoe moeilik omstandighede ook al mag wees. Die unieke ding in hierdie perikoop is dat Paulus, ’n gevangene, aan die Filippense skryf om bly te wees. Hendriksen maak daarom die gevolgtrekking dat ’n Christen innerlik bly kan wees as alles uiterlik donker en somber is.

Vers 5. Volgens Hendriksen wil Paulus aan sy lesers oordra dat om werklik geseënd te wees nie bereik kan word deur ’n persoon wat aandring op dit wat hy reken hom toekom nie. Redelikheid is ’n noodsaaklike bestanddeel van ware geluk. Dit moet egter nie net aan medegelowiges betoon word nie, maar aan alle mense. Hierdie inskiklikheid staan in noue verband met die troos wat Christene daaruit put dat die koms van die Here naby is. Die gedagte wat Paulus hiermee wil oordra, is: Aangesien die koms van Christus – wanneer al die beloftes wat aan God se mense gemaak is, waar sal word – naby is, kan gelowiges (al word hulle vervolg) dit bekostig om liefdadig en mededeelsaam (inskiklik) in hulle verhoudings teenoor ander te wees.

Volgens Hendriksen beteken die uitdrukking “die Here is naby” nie dat die Here altyd naby of teenwoordig is nie, maar eerder dat die koms van die Here naby is. In die lig van die waarheid dat niemand weet wanneer die wederkoms van Jesus sal plaasvind nie, pas dit ’n gelowige om te alle tye gereed, arbeidsaam en wakend te wees. By die Here Jesus se koms sal alle verkeerdhede reggestel word, en die gelowige sal in die teenwoordigheid van sy of haar Here staan, volkome regverdig. Daarom moet hy of sy nie veel maak van teleurstellings of onnodig bekommerd wees oor die toekoms nie.

Vers 6. Paulus gaan verder en roep die Filippense op om nie besorg te wees nie. Die kuur vir kommer is gebed. Daarom is Paulus se raad aan hulle om al hulle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend te maak. Die oplossing is nie dadeloosheid nie, ook nie apatie nie. Die gepaste teenvoeter vir hulle besorgdheid is om hulle harte voor God uit te stort en dit met danksegging te doen. Dit impliseer nederigheid (neerlegging by God se wil), wetende dat die Here weet wat die beste is.

Vers 7. Volgens Hendriksen is vrede die gevolg daarvan om jou hart voor die Here uit te stort. Dit is ’n vrede waarin God graag sy kinders wil laat deel. God gee dit en hou dit ook in stand. Paulus praat telkens in sy ander briewe oor hierdie vrede. In die konteks van Filippense 4:4-7 is dit die Godgegewe resultaat van blye refleksie op God se goedertierenheid, grootmoedigheid teenoor die naaste en vertrouende gebed tot God.

In ’n bondige verklaring van Filippense 4:4-7 meld Eshetu Abate dat in stede daarvan om onder mekaar te stry (soos Euodia en Sintige waarvan daar in Filippense 4:1 melding gemaak word), moet die gelowiges in Filippi hulle altyd in die Here verbly. Paulus herinner hulle aan wat hy in Filippense 3:1 en in die eerste hoofstuk van sy brief gesê het. Ongeag hulle omstandighede, kan hulle hulle daarin verbly dat die Here hulle vergewe het en hulle met ’n ewigdurende liefde liefhet. Dit is ’n liefde wat sonde, dood en alle vorme van euwel oorwin het.

Hierdie bly wees moet egter nie ’n trotsheid toon ten koste van ander nie. Die gelowiges word onderrig dat hulle saggeaardheid (gentleness) vir almal sigbaar moet wees. Die woord gentleness kan ook vertaal word met graciousness (goedgunstigheid, welwillendheid, minsaamheid) of fair-mindedness (redelikheid, billikheid, opregtheid). Hoewel daar onderskeie betekenisse van die Griekse woord epieikes (v 5) is, is die punt, volgens Abate, dat Christelike deugde nie weggesteek mag word nie. Ons hernude geaardheid as Christene moet duidelik ten toon gestel word.

Om bly en saggeaard te wees is moeilik wanneer angs, besorgdheid en kommer ’n mens oorval. Dit is om hierdie rede dat Paulus sy lesers die raad gee dat hulle oor niks besorg moet wees nie. Hoe? Deurdat hulle gebedsmense sal wees wat alles met danksegging

aan die Here God bekend sal maak. Vir ’n Christen is God ’n hegte vriend en ook die Heer wat daartoe in staat is om ons in alle omstandighede tot hulp te wees. Deur tot God te bid gee ons Hom die geleentheid om ons laste te help dra.

Die gevolg daarvan om ons besorgdheid (deur gebed en smeking en met danksegging) aan God bekend te maak, is beskerming deur die vrede van God. Ons harte en gedagtes word hierdeur van alle angstigheid en kommer verlig. Die basis van hierdie vrede is die versekering dat ons deur Christus Jesus met God versoen is (Abate; African Bible commentary).

Elsa Tamez bespreek hierdie perikoop onder die opskrif “The importance of remaining calm”. Sy meld dat die slotwoorde van Paulus se brief aan die Filippense begin met ’n herhaalde oproep om bly (joyful) te wees. Dit is die leitmotief van die hele brief. Hierdie herhaling (chairete en kuriō pantote palin erō chairete) is retories roerend en word vertaal as: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Die oproep gaan daaroor om te alle tye ’n blye en gelukkige gees te openbaar. Tamez sien Paulus as ’n politieke gevangene en sê dat vreugde en blydskap ’n konstante tema is wat deurentyd in die briewe van sulke gevangenes aangetref word. Te midde van teenspoed, vervolging en moontlike doodsvonnisse, put politieke gevangenes krag daaruit om oor blydskap te skryf of te praat ten einde hulle teenwoordige sowel as hulle toekomstige pyn te kan hanteer. Hulle besorgdheid is egter nie soseer oor hulle eie situasie nie, maar eerder oor die ontvangers van hulle briewe, veral hulle geliefdes en vriende. Daarom nooi hulle die ontvangers uit om die droefheid wat hulle gevangenskap en vervolging meebring te laat vaar, met die aanmoediging om bly te wees.

Paulus moedig ook sy lesers aan om “oor niks besorg te wees nie” (mēden merimnate). Die “niks” beteken in Paulus se situasie “alles”, en sluit die volgende in: die regsproses, Epafroditus se siekte, die moontlikheid dat die evangelie invloed mag verloor en, bo alles, die intimidasie wat hulle aan die hand van die Romeine ly.

Tussen die oproep om bly te wees en die vermaning om oor niks besorg te wees nie, vertel Paulus sy lesers dat hulle welwillendheid (inskiklikheid) aan almal bekend gemaak moet word. Dit beteken dus dat dit nie maar net gaan oor ’n poging dat hulle blydskap hulle droefheid moet oorkom nie. Blydskap moet ook hulle hele wese binnedring en sigbaar wees in hoe hulle leef en optree. Paulus daag sy medegelowiges, wat deel van die beweging in Filippi is, uit om vir hulle beleefdheid en nederigheid bekend te raak. Dit is eienskappe wat nie net aan ander gelowiges betoon moet word nie, maar ook aan buitestanders – selfs hulle wat die lyding veroorsaak. Daarom verklaar Paulus vervolgens: “Die Here is naby.” Hierdie sin kan temporeel geïnterpreteer word, wat beteken dat die lyding binnekort tot ’n einde sal kom omdat die eindtyd nie ver weg is nie.

Die hoop op die opstanding, soos die brief onderstreep (3:10, 21), is dat die leier van die beweging (Jesus) binnekort sal arriveer, bedoelende dat hierdie aankoms oor ’n temporele nabyheid beskik. Maar hierdie sin kan ook geïnterpreteer word in terme van ’n ruimtelike nabyheid, aangesien die Gees van die opgestane Christus naby is en hulle begelei. Die Gees is met hulle om hulle te versterk en te vertroos. Deur aan enigeen van hierdie twee dimensies van die nabyheid van die Here vas te hou, sal die besorgdheid en vrese onder die lede van die gemeenskap van Filippi help verminder.

Vir Paulus is die doeltreffendste manier om vrede en blydskap te kan hê egter deur gebed (4:6). Terwyl hy die ontvangers van sy brief oproep om bly te wees (4:4), inskiklik te wees (4:5) en nie besorg te wees nie (4:6), dring hy daarop aan dat hulle ook deur gebed ’n band met die Here vorm. Hy gebruik drie verskillende Griekse woorde vir hierdie kontak maak met die Here: proseuchē (gebed), deēsei (smeking) en aitēmata (versoeke).

Deur hulle besorgdheid in die Here se hande te plaas, bring die soort vrede wat net van die Here af kan kom (eirēnē tou theou, Fil 4:7). Dit is presies wat die gelowiges in Filippi nodig het: ’n vrede wat anders is as die grootpraterige vrede wat die Pax Romana op diegene wat oorwin is, opgelê het. Die enigste vrede wat die Filippense eerstehands gesien of ervaar het, was die onderdrukking van rebellies teen die Romeinse Keiserryk. In kontras hiermee, is die vrede van God ’n ander soort vrede, een wat beskerming op elke manier bied. In Filippense 4:7 skryf Paulus aan die gemeente dat God oor hulle harte en gedagtes die wag sal hou in Christus Jesus. Dit alles is moontlik danksy hulle verbintenis aan die saak van die evangelie en hulle verhouding met Christus Jesus (Tamez).

Preekvoorstel 

Een moontlikheid om oor hierdie teks te preek, sal op die nabyheid van die Here fokus (Retief).

Aan die begin van hoofstuk 4 van Filippense begin Paulus sy brief aan die gemeente afsluit. Tot op daardie punt het hy omtrent alle aspekte van die evangelie, asook die situasie in Filippi bespreek. Daar is egter ’n uiters belangrike ding wat hulle nie uit die oog mag verloor nie. Dit is dat die Here naby is. Daar is niks wat buite God se nabyheid om kan gaan nie. Daar is niemand wat nie daarby ingesluit is nie. Dit is vir die gemeente in Filippi belangrik om te weet dat die Here naby is, ook en veral binne die bedreigings wat die kerk in die oë staar.

Die Here se teenwoordigheid gee vir Paulus die moed om voort te gaan. Dit bied vir hom troos midde-in sy eie lyding. Hierdie teenwoordigheid van die Here behoort ook die gemeente se gedrag teenoor mekaar te bepaal. Paulus gaan voort om hierdie boodskap toe te pas ten opsigte van verskillende en uitlopende sake. In Filippense 4:2 vermaan hy vir Euodia en Sintige tot eensgesindheid. Dan kom die volgende sake aan die beurt: blydskap in die geloof (4:4); inskiklikheid teenoor alle mense (4:5); gebed wat besorgdhede wegneem (4:6); vrede wat oor hulle “harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (4:7); mense se gedagtes (4:8) en hulle optrede (4:9).

Die belangrike ding is dat hulle almal sal onthou dat die Here naby is. Hulle kan dus nie maar leef, dink en doen soos hulle dit goed vind nie. Hulle moet eerder leef in die wete dat die Here teenwoordig is. Dít moet die deurslag gee ten opsigte van elke ding wat ’n Christen is, dink, sê en doen.

So moet Euodia en Sintige leer om liewer op te hou met hulle twiste (4:2). Vir ’n stryery in die kerk is daar nie plek of tyd nie. Die geloof is ’n saak van blydskap, al gaan dit ook met lyding gepaard. Dit is ’n voortdurende blydskap (4:4), want die Here is naby! Christene moet inskiklik (sagmoedig) teenoor alle mense wees (4:5). Hulle moet nie altyd hulle wil wil laat geld en deurvoer nie. Christene moet hulle besorgdhede in gebed na die Here toe bring (4:6). Hulle moet die Here, die Een wat sal sorg, eerder daarvan vertel.

Christene kan seker wees van vrede in hulle gemoed (4:7). Hierdie versekering geld selfs te midde van allerlei lyding, vervolging en bekommernis, want die Here is naby! Christene se gedagtes moet onder God se heerskappy staan (4:8). Hulle moet hulle gedagtes rig op alles wat mooi is, want die Here is naby! Maar ook hulle gedrag moet onder God se heerskappy staan (4:9). Hulle moet getrou uitleef wat hulle beleef, want die Here is naby!

Die vraag is: Stempel die Here se nabyheid ook jou en my denke, woorde en dade? Kan ons ook werklik hierdie punte in ons eie lewe waar maak?

’n Tweede moontlikheid om oor te preek, sou wees om dieper in te gaan op Elsa Tamez se perspektiewe.

Paulus is ’n navolger van Christus wat op grond van sy oortuigings, wat lynreg teenoor dié van die heersersmag van die Romeinse Ryk ingaan, homself in gevangenskap bevind. Terwyl die rede vir sy inkerkering sekerlik was om sy gemoed te breek met die verwagting dat hy dan sy oortuigings sou versaak, verras Paulus egter sy teenstanders deur ’n boodskap aan sy geliefde gelowiges in Filippi te stuur. Die toonaard van sy skrywe aan hulle is vreugde. Dit is die manier waarop hy hierdie gelowiges wil aanmoedig om aan die Here getrou te bly. Sy besorgdheid is dus nie oor sy eie veiligheid, inkerkering of moontlike teregstelling nie. Hy slaag daarin om van sy eie welstand af te sien en dié van die lesers van sy brief voorop te stel. Die insigte van Hendriksen, Abate en dié in Die Bybellennium bied ondersteuning vir ’n fokus op blydskap.

Binne ons huidige konteks van besorgdheid, dood en morele verval, skreiende ongelykhede wat vrede (sjaloom) bedreig, die vernietiging van die ekosisteem, die onreg wat LGBTQ+-mense aan die lyf voel, asook armoede en werkloosheid mag ’n oproep om bly in die Here te wees dalk oppervlakkig klink. Deur dit in verbinding te bring met die belofte van Advent, wat die Heer-skappy van Christus inlui, behoort hierdie oproep in sy breër eskatologiese konteks gesien te word. Só gesien is Paulus se oproep allesbehalwe oppervlakkig. Dit is eerder dan ’n appèl om tog te weet dat iets van die komende heerlikheid gestalte vind in Jesus se koms, en dat daar om daardie rede genoegsame ruimte is om bly te wees!

Bibliografie 

Abate, E. Philippians. African Bible Commentary; Hendriksen, W. Phillipians. New Testament Commentary; Retief, GJ. ’n Skat in kleipotte; Tamez, E. Philippians. Wisdom Commentary, Volume 51; Van Rensburg, FJ. Filippense, in Die Bybellennium.

© Missio 2024 | All rights reserved.