Derde Sondag van Advent – Sondag van vreugde

Sections

Oorsig

Sleutelteks

Johannes 1:6-8, 19-28
Die Woord het mens geword
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

6Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”

16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Die getuienis van Johannes die Doper
(Matt 3:1–12; Mark 1:2–8; Luk 3:15–17)
19Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?”
Toe het hy hierdie getuienis afgelê 20en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.”
21Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?”
“Nee, ek is nie,” sê hy.
“Is jy dan die Profeet?”
“Nee!” het hy geantwoord.

22“Nou maar wie is jy dan? Ons moet ‘n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?”
23Hy antwoord toe:
“Ek is die een wat in die woestyn roep:
Maak die pad vir die Here reguit.”
Dit is soos die profeet Jesaja gesê het.

24Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, 25en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?”

26Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. 27Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.”

28Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

Ander tekste

Jesaja 61:1-4, 8-11
Eer in plaas van smart
61 Die Gees van die Here my God het oor my gekom;
die Here het my gesalf
om ’n blye boodskap te bring
aan die mense in nood,
Hy het my gestuur
om dié wat moedeloos is, op te beur,
om vir die gevangenes
vrylating aan te kondig,
vryheid vir dié wat opgesluit is,
2om aan te kondig dat die tyd gekom het
waarop die Here genade betoon,
die dag waarop ons God sy vyande straf
maar almal wat treur, vertroos,
3die dag waarop Hy
vir dié in Sion wat treur,
eer gee in plaas van smart,
vreugde in plaas van droefheid,
blydskap in plaas van hartseer.
Hulle sal genoem word:
Bome van Redding.
Die Here het hulle geplant
om sy roem te vermeerder.
4Hulle sal die eeue-oue puinhope opbou,
plekke herbou wat lankal verlate lê,
hulle sal verwoeste stede weer opbou,
plekke wat geslagte lank verlate lê.

5Uitlanders sal in julle diens wees
en julle kleinvee oppas,
vreemdes sal in julle lande
en julle wingerde werk.
6Julle sal genoem word:
Priesters van die Here,
Dienaars van ons God.
Julle sal van die rykdom van die nasies
geniet,
die trotse eienaars word
van hulle besittings.
7In plaas van vernedering sal julle
twee keer soveel besittings hê
as tevore,
in plaas van minagting
sal julle lof ontvang
oor wat julle besit.
Julle sal in julle land
twee keer soveel besit as tevore
en julle sal altyd vreugde hê.

8Ek is die Here, Ek het die reg lief,
Ek haat roof en misdaad.
In my trou sal Ek my volk gee
wat Ek beloof het,
Ek sal ’n ewige verbond met
hulle sluit.
9Hulle afstammelinge sal bekend wees
onder die nasies,
hulle nakomelinge onder die volke.
Almal wat na my volk kyk, sal besef
dat hulle ’n volk is
wat deur die Here geseën is.
10Ek is baie bly oor die Here,
ek juig oor my God,
want Hy het my gered,
vir my oorwinnaarsklere aangetrek.
Ek is soos ’n bruidegom
met ’n priesterkroon op,
soos ’n bruid met haar juwele aan.
11Soos die grond plante laat uitspruit,
soos die plante in ’n tuin vrugte gee,
so gee die Here my God die oorwinning
en laat Hy al die nasies luister
na die loflied tot sy eer.

Psalm 126
Verander tog ons lot, Here!
126 ’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here hét groot dinge
aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil
terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

1 Tessalonisense 5:16-24
Laaste opdragte
12Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.
14Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. 15Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.

16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.
19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesië uitsprake van dié wat die boodskap van God verkondig, geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.
23Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou.

25Broers, bid ook vir ons.
26Groet al die medegelowiges met ’n soen van Christelike broederskap.
27In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word.
28Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees.

Inleiding
Op die derde Sondag in Advent val die klem op die verhouding tussen Johannes die Doper en Jesus; die voorloper en die Een wat sal kom. Die liturgie kan ‘n belangrike fokus in die voorbereiding tot Kersfees wees.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 177 of VONKK 244

Votum: Jesaja 61:1-4

Seëngroet

Lofsang: Lied 264 of VONKK 124

Wet: 1 Tessalonisense 5:16-22

Toewyding: Lied 241 of F33

Vermaning: 1 Tessalonisense 5:23-24

Geloofsbelydenis: Steek die derde adventkers aan terwyl die gemeente sing:

Lied 262 of VONKK 250 en/of VONKK 251 of F103

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:6-8, 19-28

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 324 of VONKK 245

Seën

Respons: VONKK 245 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal” of
VONKK 244 “Hoor die hemelkore sing”

Votum: Jesaja 61:1-4
(Die mooiste mooiste video wat jy ooit in die kerk kan wys, is gemaak oor hierdie teks)

Seëngroet

Lofsang
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!” of
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”

Wet: 1 Tessalonisense 5:16-22

Toewyding
Lied 241 “Troue Here van my lewe” of
F33. “Halleluja In My Hart”

Vermaning: 1 Tessalonisense 5:23-24

Geloofsbelydenis
Steek die derde adventkers aan terwyl die gemeente sing:

Lied 262 “Ons was nie daar in Betlehem” of
VONKK 250 “Gaudium mundo / Vreugde in die wêreld” en/of
VONKK 251 “Christus natus est / Christus is gebore” of
F103. “Kersfees Is ’n Vreugdefees”

Liedere

F103. “Kersfees Is ’n Vreugdefees”
(RUBRIEK: Flammikidz – Kersfees / Diens en Getuienis) Teks en musiek: Jan de Wet
© 2003 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

1. Kersfees is ’n vreugdefees.
Jesus is nou hier.
Hy wil by sy mense wees
om saam met hulle fees te vier.

2. Kersfees is ’n Christusfees
as ons net verstaan,
dat Hy nie net in ’n krip lê nie,
maar ook aan ’n kruis moes hang.

Refrein:
Vir jou en my het Jesus mens geword.
Hy het gely om ons die lewe te gee.
Maak oop jou hart en laat sy vrede in.
Kersfees sal dan in jou begin.

3. Kersfees is ’n vreugdefees.
Jesus het gekom.
Hy wil by sy mense wees
dat hul kan glo in Hom.

4. Kersfees is ’n vreugdefees.
As ons net verstaan,
dat Hy nie net in ’n krip lê nie,
maar ook deur ’n graf moes gaan.

Refrein:
Nie net een keer in ’n jaar nie!
Kersfees elke dag heel jaar.

F33. “Halleluja In My Hart”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Francois Lamprecht © MAR Gospel Music Publishers

1. God van vreugde, God van vrede,
God van lewe, bowenal, God oor my.
God van gister, God van vandag,
God van ewigheid, bowenal, God oor my –
God oor my!
En die hemel straal van U magtigheid.
En my lewe spreek van U waarheid.

Refrein:
Halleluja in die hemel. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja op die aarde. Halleluja in my hart,
vir ewig en ewig.
Halleluja! Halleluja!

2. God van almag, God van krag,
God oor die nasies, bowenal, God oor my.
God van verlossing, God van genade,
God van vergifnis, bowenal, God oor my –
God oor my.

Slotrefrein:
Prys die Here in die hemel. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.
Prys die Here op die aarde. Prys die Here in my hart,
vir ewig en ewig.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010 © Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

VONKK 244 “Hoor die hemelkore sing”
Teks: Ding, dong, merrily on high – George Ratcliffe Woodward 1924;  Hoor die hemelinge sing – Philip McLachlan 1960; nuwe teks: Jacques Louw 2013 © Melodie: LE BRANLE DE L’OFFICIALE uit Orchésographie – Thoinot Arbeau 1588
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2013 (Pro Deo) Kantoryverwerking 1: Philip McLachlan 1960
Kantoryverwerking 2: Albert Troskie 1988 (Pro Deo)
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking 2: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie en kantoryverwerking 1: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Kersfees en Epifanie

Hoor die hemelkore sing:
God self kom na die aarde.
Kom dan, mensekinders, bring
aan Hom ‘n lied van  waarde.

Refrein:
Gloria!

Hosanna in die hoogste!
Laat die klokke vrolik lui,
laat klink jul lofgesange.
Voeg ook instrumente by.
Sy koms is ons verlange.

Refrein:
Gloria!
Hosanna in die hoogste!

Jesus Christus het gekom –
ons is nie meer verlore.
Nou kan ons met vreugde sing,
want Christus is gebore!

Refrein:
Gloria!
Hosanna in die hoogste!

VONKK 250 “Gaudium mundo / Vreugde in die wêreld”
Latynse uitspraak: “Ghaoudioem moendo, Kriestoes natoes est”
Tels: Cecilia van Tonder 2013 © Musiek: GAUDIUM MUNDO – Cecilia van Tonder 2013 ©
Musikale verryking: Cecilia van Tonder 2013 © © 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Kersfees en Epifanie

Gaudium mundo,
Christus natus est.
Gaudium mundo,
Christus natus est.

Vreugde in die wêreld,
Christus is gebore.
Vreugde in die wêreld,
Hy is God met ons.

Gaudium mundo,
Christus natus est.
Vreugde in die wêreld,
Hy het mens geword.

VONKK 251 “Christus natus est / Christus is gebore’
Latynse uitspraak: “Kriestoes natoes est”
Teks: Cecilia van Tonder 2013 © Melodie: CHRISTUS NATUS EST – Cecilia van Tonder 2013 ©
Orrelbegeleiding: VONKK-Werkgroep 2013 Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2013 ©
© 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Kersfees en Epifanie

Christus natus est.
Christus is gebore.
Christus natus est.

Hy is God met ons.
Klokke lui met Kersfeestyd;
laat vreugde uitkring wêreldwyd.

Christus natus est.
Christus is gebore.
Christus natus est.
Hy is God met ons.

Christus natus est.
Christus is gebore.
Christus natus est.
Hy is God met ons.

Laat ons bly wees, laat ons sing;
Hy kom vir ons sy vrede bring.

Christus natus est.
Christus is gebore.
Christus natus est.
Hy is God met ons.

VONKK 245 Hoor die blye tyding
Teks: Breda Ludik 2013 Melodie: MASTERS IN THIS HALL – Franse Kerslied
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2013 (Pro Deo) Kantoryverwerking: Albert Troskie 2013 (Pro Deo)
© Teks, orrel en kantory: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Kersfees en Epifanie

Hoor die blye tyding:
Jesus het gekom!
Daar is nou bevryding –
Jesus het gekom!

Refrein:
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!

Herders by hul skape
het die nuus gehoor
by die engelskare –
God se hemelkoor.

Refrein:
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!

Sonder om te huiwer
gaan hul toe na Hom,
word die oergetuies
van die Christendom.

Refrein:
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!

Ons is nou getuies
wat met vreugde sing,
vir die hele wêreld
hierdie boodskap bring.

Refrein:
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!
Halleluja! Sing weer en weer:
Jesus Christus het gekom!
Ja, Jesus Christus het gekom!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:6-8, 19-28

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bring “bubbles” of “streamers”.  Blaas saam met die kinders bubbles of gooi die streamers.  Mense gebruik deesdae baie hierdie goed by troues wanneer die bruid en bruidegom uit die kerk uitkom.  As jy daar aankom en nie weet daar is ’n troue aan die gang nie, maar jy sien almal hou klein botteltjies bubble seep, dan weet jy jy is by ’n troue.  Dit vertel vir ons iets vreugdevol is aan die gang.  En wanneer almal bubbles begin blaas of streamers gooi, dan weet jy om uit te kyk vir die bruid/egom.  Mens kan nie anders as om gelukkig te voel wanneer jy bubbles blaas of streamers gooi.

Dieselfde met ons teks vandag – Johannes wys na Jesus.  Dit maak ons bly.

Preekriglyn

Op die Isenheimaltaar is ‘n bekende skildery van Matthias Grünewald. Dit is vyfhonderd jaar geledere geskilder vir die Klooster van Antonius in Isenheim. Dit beeld die gekruisigde Christus uit, met Johannes die Doper aan Jesus se sy. Die klooster was ‘n hospitaal waar slagoffers van plae en mense met velsiektes versorg is. Een van die voorbeelde is ergotisme, die gevolg van die eet van graan wat besmet was met spesifieke fungi.

Op die skildery is die liggaam van Christus oortrek met sere en velsiektes. So kon die siekes weet dat Christus hul lyding op Hom geneem het, en hulle nood verstaan.

Johannes die Doper staan langs Christus. By hom is ‘n lam, wat die offer van Jesus vir die sonde van die wêreld uitbeeld. Opvallend is Johannes se vinger, waarmee hy na Jesus wys, en waarmee hy van Christus getuig dat Hy die Lam van God is. Johannes is een van die laaste Ou Testamentiese figure wat die koms van die nuwe era in Christus aankondig.

By Johannes se vinger is in Latyn geskryf: “illum oportet crescere me autem minui“, die bekende woorde uit Johannes 3:30: “Hy moet meer word en ek minder”.

Wie is jy?

In ons teks besoek ‘n afvaardiging van Jode Johannes, waar hy besig is om mense in die Jordaanrivier te doop. Hulle vra: “Wie is jy?” Mense was onseker oor hom. Hulle was onseker hoe hulle hom moes verstaan. Is Hy Elia? Nee. Is Hy ‘n profeet soos Moses? Nee? Is Hy die Christus? Nee.

Johannes sou mense se verwarring kon uitbuit en voorgee hy is meer as wat hy is. Hy word as’t ware die hoofrol in God se verlossingsdrama aangebied. Hy kan dit nie opneem nie. Selfs ander mede-akteursrolle pas hom nie.

Johannes se antwoord is daarom verrassend. Hy beklemtoon wie hy nié is nie. “Ek is nie die Christus nie.” Die teoloog Christiansen omskryf sy reaksie as volg:

Ek is nie wat julle verwag nie. Ek is nie die Redder en Verlosser nie. Ek het nie die woorde van die ewige lewe nie. Ek het nie antwoorde op julle lewensvrae nie. Ek kan nie julle probleme oplos nie. Ek maak geen sin nie. Ek maak nie heel wat gebroke is nie. Ek kan nie van sonde bevry nie. Ek kan nie skuld op my neem nie.

Johannes is volgens sy eie getuienis nie die antwoord nie. Johannes wys heen na die Antwoord. Om ons teks aan te haal:

Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. (6-8)

Dit is hierdie lig wat geloof wek, nie Johannes nie. Hy is die instrument deur wie mense aan die lig blootgestel word. Die woord wat met “glo” vertaal word kom 98 maal in die evangelie voor en nege maal in 1 Johannes teenoor 136 keer in die res van die Nuwe Testament. Dit is ‘n aktiewe begrip en Johannes se rol is om hierdie aktiewe geloof in die lig te bevorder.

Sy doel en die sin van sy bestaan word verder duidelik deurdat hy deur God gestuur is. Die Griekse woord apostello word normaalweg gebruik wanneer God stuur. Calvyn skryf dat Johannes die gesag van God gekry het. As iemand wat deur God vir ‘n bepaalde taak gestuur is, eien hy nie vir homself meer toe as wat hy moet nie.

Aan elke Christen

Christene word dikwels, soos Johannes, deur vyandiggesinde mense ondervra. Wat het jy vir jouself te sê? Wie dink jy is jy? Ons kan op hierdie manier geïntimideer voel.

Wat is ons antwoord? Hoe reageer ons? Johannes sê dat Hy nie die Christus is nie, maar dat Christus reeds tussen hulle staan. Dit is oor Hom dat hy getuig, sodat mense Hom kan ken.

Martin Luther skryf dat dit vir mense verskriklik moeilik is om net na Christus te verwys en net op Hom te vertrou. Van nature wil ons eerder Christus wees.

Johannes het nie dié waarheid verloën nie. Hy het dit bely. Die evangelie, sê Luther, is geskryf sodat almal wat ware Christene is die beste kuns kan aanleer, naamlik dat ons nie Christus is nie.

Hy staan tussen julle

Daar is ‘n merkwaardige kant aan Johannes se getuienis. Johannes se antwoord is vir die godsdienstige leiers vreemd. Nadat hulle hom uitgevra het oor wie hy nié is nie, is hulle steeds nie tevrede nie. Wie is jy dan? Waarom doop jy?

Johannes sê: “Tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie” (26). Dit sinspeel op die feit dat Jesus by ons is, maar ook  verborge is. Die mense erken nie die lig nie – soos Johannes aan die begin van die evangelie sê. Hy staan tussen hulle. Die doop van Johannes is ‘n teken, iets wat vooruitgryp op die verborge Christus wat tussen hulle staan. Sy doop het slegs betekenis as dit heenwys na Hom. Op hierdie manier wys dit die reeds teenwoordige Jesus vir mense uit.

Baie dinge wat die kerk doen, maak geen sin nie – omdat mense Christus nie raaksien nie. Die innerlike motivering waarom gelowiges doen wat hulle doen, is nie vir ander duidelik nie. Omdat die kerk Jesus sien – wat in die wêreld, tussen mense staan – maar ander Hom nie sien nie, maak van ons optrede nie sin nie.

Maar juis daarom getuig die kerk. Ons het ‘n groot wysvinger wat Jesus uitwys, van Hom getuig, sy lig dra, sodat die verborge Jesus sigbaar kan word en mense Hom kan sien.

Die kerk se roeping

Die kerk is nie God nie, die kerk wys na God, na Jesus, en getuig oor die hoop vir die wêreld.

Die kerk is ook geroep om God se heil te beliggaam. So was die Antoniusklooster ‘n hospitaal in Isenheim waar mense versorg is. Hier is die mees ellendige siek mense van destyds, diegene geteister deur plae, velsiekte en swere versorg. Die mense van die klooster het die siekes versorg, nie omdat hulle God was nie, maar omdat hulle God geken het.

Die vraag aan Johannes is dus ‘n geweldige vraag wat aan elke Christen gevra word. Dit is ‘n vraag wat die roeping van die kerk uitwys.

Enersyds word die vraag met woorde beantwoord. Johannes praat en getuig. Ons moet versigtig wees om nie die hedendaagse mite te glo dat woorde nie belangrik is nie. Woorde, ons getuienis, is krities belangrik. Dit help mense om te reageer op die aanwesigheid van Christus. Daar is dringend woorde in ons wêreld nodig wat na Christus heenwys, en die teenwoordige Christus vir mense teenwoordig stel.

Die antwoord op hierdie vraag word egter nie net met woorde beantwoord nie. Die hele lewe van ‘n Christen, die hele bestaan van die kerk, antwoord op hierdie vraag.

Voorbeelde

Soms is ons geskiedenis vol leë woorde, selfliefde en oorwinningswaan.  Soms leef ons die antwoord op hierdie vraag op maniere uit wat bots met die opdrag wat ons het om van Christus te getuig. Tog kry die kerk dit ook reg om te getuig en effek te wees.

Ons as kerk is getuies van die waarheid. Dwarsdeur die geskiedenis was daar kerke, gemeentes en gelowiges wat van die waarheid getuig het, en mense gehelp het om Jesus raak te sien.

Mens dink aan die Russiese Ortodokse Kerk wat ontsettende vervolging aan die hand van kommunisme beleef het. En tog trou aan Christus gebly het, en bly getuig het. Uiteindelik het kommunisme hom te pletter geloop teen die kruis.

In Nazi-Duitsland het die jong teoloog Dietrich Bonhoeffer die etniese en nasionalistiese afgodery uitgewys, deur na Christus te wys. In Suid-Afrika het mense soos Beyers Naudé en Willie Jonker die ware identiteit van die kerk in Christus bly uitwys. Uiteindelik het hierdie mense enorme invloed uitgeoefen, nie omdat hulle so groot was nie, maar omdat hulle die fokus reg geplaas het: op Christus.

Luther het gesê ons is net bedelaars. Dit is die waarheid. Die oortreffende waarheid is Christus. Soms gaan hierdie belydenis, hierdie getuienis met groot koste gepaard. Soms staan Christus tussen ons, maar mense wil Hom nie erken vir wie Hy is nie. Sal ons ophou om na Hom te wys, oor Hom te getuig? Soms word ons gekonfronteer met die vraag op watter gesag ons die dinge sê wat ons sê. Sal ons ophou om te getuig?

Die gemeente as uitlegger van die evangelie

Die formidabele teoloog, Lesslie Newbigin, beklemtoon dat die gemeente die uitlegger van die evangelie is. Die gemeente, ons, wys heen na Christus, en stel Jesus met ons woorde en dade bekend in die wêreld. Hy skryf:

Jesus… did not write a book but formed a community. This community had at its heart the remembering and rehearsing of his words and deeds… it exists in him and for him. He is the centre of its life. Its character is given to it, when it is true to its nature, not by the character of its members but by his character. (Lesslie Newbigin, The Gospel in a Pluralistic Society, p227)

Newbigin se punt is dat mense toenemend geloof en sin in die lewe vind deur die getuienis en gemeenskapslewe van die plaaslike gemeente. Deur woorde en dade interpreteer die gemeente vir mense die evangelie. (Ons kan sê die plaaslike gemeente is Johannes die Doper.)

Newbigin sê dan dat só ‘n gemeente ses kenmerke het:

  • In ‘n siniese wêreld wat net kan bevraagteken en suspisie aan die dag kan lê, is dit ‘n gemeenskap van lofprysing en danksegging aan God
  • Dit is ‘n gemeenskap wat vashou aan die geopenbaarde waarheid in Christus
  • Dit is ‘n gemeenskap wat nie vir haarself lewe nie, maar diep, diep betrokke is by die nood van die gemeenskap
  • Dit is ‘n gemeenskap waar lidmate in die wêreld dien, toegerus is om priesters te wees wat mense met God en mekaar verbind
  • Dit is ‘n gemeenskap waar mense in alle opsigte vir mekaar verantwoordelikheid neem, en so die naakte individualisme van ons tyd deurbreek
  • Dit is ‘n gemeenskap wat uit die egte hoop in Christus lewe.

Hierdie opmerkings plaas ‘n nuwe perspektief op die lewe van ons gemeente. Ons is nie eerste plek ‘n sentrum vir die betrokkenheid van lidmate nie. Ons is ‘n sentrum van hoop en getuienis deur ons lewe. Ons maak die evangelie sigbaar en wys mense hoe dit werk.

‘n Vinger wat na Christus wys

Johannes wys op die Isenheimskildery met ‘n groot vinger na Christus. Ons is hierdie handbeweging van Johannes aan mekaar verskuldig. Dit is ons roeping as gelowiges en kerk.

Die Adventstyd is vol uitgestrekte vingers. In Matteus is dit die ster wat na Bethlehem lei. In Lukas is dit die engel wat die herders na die stal bring. In Johannes is dit die stem in die woestyn, die getuie wat na Jesus wys.

En nou, hier in die 21ste eeu, is daar steeds vingers wat na Christus wys. Dit is ek en jy, en die gemeente waarvan ons deel is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 324 So lief het God die wêreld” of
VONKK 245 “Hoor die blye tyding”

Seën
Gaan in vrede om die Here lief te hê en te dien; laat julle lewe die vreugde wat God gee, sigbaar maak.
(Uit:  Woord en Lewe 2014-2015)

Respons
VONKK 245 “Hoor die blye tyding” refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.