Derde Sondag ná Epifaniefees

Sections

Oorsig

Vandag se Bybeltekste nooi ons uit om ondersoek in te stel na die interaksie tussen besluitneming en transformasie op ’n persoonlike en korporatiewe vlak. God inspireer op ’n baie diep vlak kreatiwiteit en besluitneming. Die boek Jona is ’n toonbeeld van die spel tussen Goddelike roeping en menslike respons. Jona word geroep om ’n besluit te neem. Sy besluit het dramatiese gevolge. Psalm 62 se advies is om in stormagtige tye op die Here alleen te vertrou. 1 Korintiërs 7 sê “tyd is min” en “hierdie wêreld . . . is aan die verbygaan”. Wyse besluitneming word in sulke tye vereis. Markus 1 skets die koms van die koninkryk van God as die krag van transformasie en bekering binne die raamwerk van Goddelike roeping en menslike respons.

Ander tekste

Jona 3:1-5, 10

God het nie die ramp gestuur nie

3 Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom:

2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”

3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”

5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.

6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”

10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

Psalm 62:5-12
Net by God vind ek rus
62Vir die koorleier. ’n Belydenis. ’n Psalm
van Dawid.
2Net by God vind ek rus,

van Hom kom my redding.

3Net Hy is my rots en my redding,

my veilige vesting,

sodat ek vas en stewig staan.

4Hoe lank wil julle almal nog

beskuldigings bly slinger

en my probeer doodmaak,

’n man wat reeds is soos ’n muur

wat wil omval,

’n klipmuur wat omgestoot word?

 

5Hulle probeer my uitwerk;

hulle skep behae in leuens;

met die mond seën hulle,

in die hart vervloek hulle.

6Net by God vind ek rus,

want op Hom vertrou ek.

7Net Hy is my rots en my redding,

my veilige vesting,

sodat ek stewig staan.

8God is my redding en my krag.

Hy is my rots, my sterkte,

God is my toevlug.

9Vertrou altyd op Hom,

my volk,

stort julle hart voor Hom uit!

God is vir ons ’n toevlug.

10Mense is verganklik,

mense is niks:

op ’n skaal wys hulle geen gewig nie,

saam is hulle minder as niks.

11Moenie op geweld vertrou nie;

roof sal jou niks in die sak bring nie.

As jou rykdom toeneem,

moenie dat dit jou

te na aan die hart lê nie.

12Een ding het ek God hoor sê,

nee, twee:

dat net God mag het

13en ’n mens net op U, Here,

kan vertrou,

en dat U met elkeen handel

volgens sy verdienste.

 

Markus 1:14-20

Jesus begin preek

(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)

14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels

(Matt 4:18–22; Luk 5:1–11)

16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19Toe Hy ’n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Fokusteks

1 Korintiërs 7:29-31
Die ongetroudes en weduwees

25Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.

26Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir ’n mens goed is om te bly soos hy is: 27as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie ’n vrou soek nie. 28Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as ’n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar.

29Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; 30en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. 31Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.

32Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. 33Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, 34en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag.

35Dit alles sê ek vir julle eie beswil. Ek wil julle nie aan bande lê nie, maar ek wil hê julle moet in eerbaarheid lewe en in onverdeelde toewyding aan die Here.

36As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie. 37Maar as iemand in sy eie gemoed oortuig is dat hy nie moet trou nie, en hy nie onder enige dwang verkeer nie, maar volle beheer oor sy eie wil het, en hy by homself besluit het om nie te trou nie, doen hy ’n goeie ding. 38Dus, hy wat met sy verloofde trou, doen goed. Wie egter nie trou nie, doen beter.

39’n Vrou is aan haar man gebind so lank as hy lewe. As hy sterwe, is sy vry om te trou met wie sy wil, mits dit met ’n gelowige is. 40Tog is sy na my mening gelukkiger as sy ongetroud bly; en ek dink dat ek ook die Gees van God het.

Ekstra stof

Die briewe aan die Korintiërs
Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte. Dit was in die jare 51-52 nC.

Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor 2:3).  Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het.  In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou respons uitgelok (17:16-34).

Hoewel daar in die eerste drie stede groeiende gemeentes gestig is, is dit onseker of daar op hierdie stadium ’n lewensvatbare gemeente in Atene ontstaan het. Net Dionisus, ‘n lid van die Areopagus, ‘n vrou Damaris en ‘n paar ander het daar gelowig geword.  Dit is ook hier waar Timoteus weer by Paulus aangesluit het, nadat hy in Filippi agtergebly het om na die gelowiges daar om te sien, hoewel Paulus hom direk weer teruggestuur het na Tessalonika en die ander gemeentes in Masedónië. Na Timoteus se besoek aan hierdie gemeentes, het hy weer in Korinte by Paulus-hulle aangesluit, vanwaar Paulus se briewe aan die Tessalonisense geskryf is.

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad.  Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (2:4), ’n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het.  Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in hfst 15, maar daaroor eers later.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang.  Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half hier bly en sake het regtig baie goed verloop. Lukas wyt hierdie goeie ontvangs aan die werk van die Here wat een nag in ‘n gesig vir Paulus bemoedig het om nie stil te bly nie, maar die evangelie te verkondig (Hand 18:9).  In woorde wat herinner aan God se woorde aan Elia (1 Kon 19:18), verseker die Here Paulus dat daar baie mense in hierdie stad aan Hom behoort (Hand 18:10).

Paulus het by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor 16:19) gehad – gaan bly. Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge (die gebou is steeds daar), het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit.  En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.

Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag.  Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie.  As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword aan sy tuisstad.

Dit is op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië besoek het, dat hy weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), het hy waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het, wat waarskynlik eintlik 2 briewe was, sy 4de en 5de brief (hfst 1-9 en hfst 10-13), en sy tranebrief, sy 3de brief, opgevolg het (2 Kor 2:4).

Die brief van 1 Korintiërs
Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 54 nC.  In die brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.  Julius Ceasar het in 44 vC die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 vC verwoes).  Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prositute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.  Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is.  Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is.  En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Let bv. op na die taal van konfrontasie (4:18-21), appèl (10:31 vv), sarkasme (6:5) en ironie (1:26-27) wat hy gebruik.  En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17).  Dit is sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en die nagmaalviering (11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (7:1).  Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het.  Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (maagde – 7:25), offers aan afgode (8:1), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en oor Apollos (16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel.  ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms.  As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil.  Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (hfst 7) of immoreel (hfst 5) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (hfst 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word.  Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

      1. Struktuur van 1 Korintiërs
  • 1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus
  • 1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse
  • 1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder
  • 1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap
  • 1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid
  • 1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie
  • 1 Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag
  • 1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie
  • 1 Korintiërs 9 – Om met passie jou roeping na te jaag
  • 1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word
  • 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens
  • 1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid
  • 1 Korintiërs 13 – Die liefde is onmisbaar in alles
  • 1 Korintiërs 14 – ’n Wye reeks gawes bou gelowiges op in die erediens
  • Korintiërs 15-16 – Ons groot hoop: die opstanding met ’n onverganklike liggaam

1 Korintiërs 7:1-24 – Dit beter om nie te trou nie
Paulus begin in hoofstuk 7 reageer op sake wat in ’n brief van die Korintiërs aan hom gerig is.  In vers 1-24 hanteer hy die vraag oor die huwelik.

Let op dat hy aansluit by ’n gedagterigting wat blykbaar by die Korintiërs ontstaan het, dat dit goed is vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, dit wil sê sonder seks.  Sommige het blykbaar selfs besluit het dat die huwelik nie strook met hulle opvatting van Christenwees nie en wou sonder seks in die huwelik lewe of dan skei om beter die Here te kan dien.

Daarom praat Paulus eers oor getroudes, en beveel aan dat hulle steeds in die huwelik sal bly, en steeds seksueel met mekaar sal verkeer in die huwelik, veral weens die gevaar van onsedelikheid.  Ons liggame behoort wel aan God (6:19), maar in die huwelik ook aan ons huweliksmaat.  Daarom moet huweliksmaats mekaar nie seksueel weier nie, behalwe om ’n (kort) tyd lank te bid.  Die duiwel moet nie kans kry om hulle te verlei weens hulle gebrek aan selfbeheersing nie, veral nie in ’n stad wat so berug vir sy prostitusie was nie.

Dan spits hy hom toe op die wat voorheen getroud was, die wewenaars en weduwees en werk basies met twee beginsels:

  1. Paulus dink dit is beter om nie te trou nie (vers 1,8), maar relativeer dit deur homself as voorbeeld te gebruik, en te erken, soos hy self sê in vers 7, dit hang van ons gawes af, dinge wat die Here vir ons gee (vgl Matt 19:11 “Wie dit kan doen, laat hom dit doen”!);
  2. As jy jouself nie kan beheer nie, dink Paulus dit is dan beter om te trou as om deur hartstog verteer te word (vers 9).  Daarom dat ook huweliksmaats mekaar in ag moet neem (vers 2-5), sodat ’n gebrek aan seks nie hulle blootstel aan verleiding deur die duiwel nie.

Let egter op dat albei beginsels uit sy eie ervaring kom, en nie as ’n bevel van die Here aan hulle gegee word nie.  En ek moet sê, hy praat glad nie van die wonder van die liefde tussen lewensmaats of die diepte van sielgenootskap nie, net van seks en die gevaar van onsedelikheid. Hy het dus nie regtig ’n baie hoë dunk van die huwelik nie. Dit bly daarom ook net sy eie mening … hoewel daar baie geleerdes is wat steeds die gesag van hierdie woorde handhaaf, op grond van wat Paulus in vers 40 sê: ”Ek dink dat ek ook die Gees van God het.”

Die enigste perspektief wat hy verseker van God af vir die Korintiërs gee, is, dat as jy getroud is, jy nie mag skei nie.  Daarmee erken hy wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats moet die band tussen hulle verbreek nie (vgl Jesus in Matt 19 bv. – dit sluit uiteraard dinge soos geweld en mishandeling uit).  Let ook op dat hy werk met die beginsel van een man en een vrou (“elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man”), dws die monogame huwelik.

Dan spreek hy die probleem van ’n ongelowige maat in die huweliksverhouding aan, en sê basies dat die ongelowige, nie die gelowige nie!, die keuse het om te bly of te ry.  Daar is ’n voordeel vir die ongelowige om te bly, maar die gelowige huweliksmaat is nie gebind aan die huwelik, as die ongelowige huweliksmaat wil skei nie.  Daar is ook ’n voordeel vir die kinders, deurdat hulle in die sfeer van die Christelike gemeenskap groot word, en daardeur beïnvloed kan word.  Anders sou hulle in ’n heidense omgewing grootword, wat eweneens ’n groot invloed op hulle sal hê.

Die oproep wat hy gee dat elkeen in sy of haar sosiale of kulturele status moet bly kom vreemd oor, veral omdat hyself dié reël oortree het met Timoteus, wat nie besny was nie, en ter wille van die Jode toe wel besny is (Hand 16:3).  Hy gee wel toe dat slawe wat kan vryraak dit mag doen, maar daarmee ontkrag hy eintlik sy standpunt.

Alles in ag genome, nie vir my ’n baie helder woord van die Here nie, want dit is eintlik deurspek met sy eie menings, en relativerings!  Wat wel duidelik is, is dat sy basiese vrees is dat die huwelik die toewyding aan die Here kan verswak, waaroor hy in die volgende perikoop verder sal skrywe – en daarmee is ek dit tog met hom eens.  Ek dink net die liefdesgedigte van Hooglied en ’n paar ander verhale oor die liefde in die Bybel (Jakob en Ragel, Rut en Boas) is nodig om ’n mens se perspektief op die liefde en die wonder van die huwelik te verdiep.

Maar dan is Paulus natuurlik ook baie bewus van die uitdagings wat wag vir die kerk, en hy wil eintlik mense die bekommernisse spaar wat baie keer met die huwelik saamgaan … so ek wil graag weet hoe julle hieroor dink!

Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag
Weereens gee Paulus sy eie mening, hoewel hy dit as betroubaar (vers 25) – deur die genade van die Here – beskrywe en hom beroep op die feit dat hy ook die Gees het (vers 40).  Maar hy relativeer dit deur sy mening te onderskei van ’n direkte bevel van die Here.

En hier praat hy nou oor die ongetroudes (parthenos – maagde).  Met die oog op die swaarkry van die eindtyd dink hy dit is beter om nie te trou nie.  Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie, jy maak dit net vir jou swaar.  ’n Mens hoor hier van die soortgelyke gedagtes eggo wat Jesus geopper het oor swanger vroue in die eindtyd (Mark 13:17).  Jesus sowel as Paulus het waarskynlik in die eerste plek die vervolging onder die Romeine in gedagte gehad.

Hy relativeer daarmee eintlik die hele gemeenskapslewe en maak dit ondergeskik aan ’n lewe vir die koninkryk.  Selfs om iets vir jouself te koop, word gerelativeer, omdat hierdie wêreld soos ons ken aan die verbygaan is, en ons vry van sorge moet wees om aandag aan die koms van die koninkryk te gee.  Die dinge van die Here moet voorop in ’n mens se gedagtes wees, nie die dinge van die wêreld, soos die huwelik en dergelike dinge nie. Ons aandag moenie verdeel wees nie.

Hoewel baie met Paulus sou kon verskil, sê hy hierdie dinge na sy mening tot ons beswil, nie om ons aan bande te lê nie, maar ons toewyding aan die Here te  beskerm.  Wie trou doen dus goed, maar wie nie trou nie, doen beter – aldus Paulus.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Tema: Die vryheid wat losse skroewe bring

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord
Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.
God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug.
Vertrou altyd op Hom, my volk,
stort julle hart voor Hom uit!
God is vir ons `n toevlug (Ps 62:6-9)

Aanbiddingslied: Lied 511:1, 2 “Lei U ons, Lig”

Seëngroet
2Aan die gemeente van God in ………………………….. wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (1 Korintiërs 1:2-3)

Verootmoediging
In aansluiting by die tema wil die verootmoediging deel enersyds aandag fokus op ons verlorenheid en onvermoë om heilig te leef, maar andersyds ons vryheid as verlostes in Christus vier!

Skriflesing: Romeine 7:15-24
15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,2,3,4”

Momente van die Christelike Vryheid
Romeine 5:1
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Galasiërs 5:1-2
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

Galasiërs 5:13-14, 16-18, 22-26
13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal. 26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Lofprysing
Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3” en/of
Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,3,5”

Liedere

F41. “Beeld Van God”
(RUBRIEK:  Jeuglied/Flammikidz – Lof)
Teks en Musiek:Braam Hanekom
© 1998  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Jou lewe is ‘n lofgedig, geskryf tot Sy eer.
Sorgvuldig elke woord gekies, soos die reënboog se kleur.
Jy’s beplan in die hemel, verteenwoordiger van God.
Sorgvuldig aan mekaar geweef om te leef met een gebod.

Refrein:
Mag jy omgee en liefhê en so sy beeld uitdra
in ‘n wêreld wat verward is en na ware liefde vra.
Mag jy omgee en liefhê en so sy Naam vereer
by almal wat op soek is na die antwoord op hul seer.

2. Jy’s gebore in die wêreld, maar gemaak vir ‘n paradys,
om te lag en te lewe, soos ‘n prins in ‘n paleis.
So waarom dan die sonde waaraan jy so bly klou,
wat steeds Sy beeld vernietig en jou vreugde stukkend kou?

Refrein:

3. Onthou, jy’s ‘n beeld van God wat kan skitter soos kristal
om die wêreld te herinner daar’s ‘n God in die heelal.
Kom dan nou en vat Sy hand en leef soos sy kind
wat Hy self gemaak het, en jy sal vreugde vind.

Refrein:

F65. “Jesus, U Naam Is Ons Vryheidslied”
(RUBRIEK: Kruisfuur (JEUG-/TIENERLIED) – Geloofsbelydenis / Geloof en Vertroue)
Teks en Musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

Jesus, u Naam is ons vryheidslied
Ons jubelsang van verlossing
Die sonde se krag word daardeur verbied
Jesus, u Naam is ons lied

Jesus, u Naam is ons vreugdefees
Ons blye dans van vervulling
Ons leef in die lig van die Christusgees
Jesus, u Naam is ons fees

U Naam is ons vlag en ons banier
Dit spel vir ons vrede
Dit bring ons die lewe wat ons vier
Daar is geen ander naam bo elke naam gegee

Jesus, u Naam is ons sterwenswins
Ons greep op die ewige lewe
Die Leeu wat oorwin is die Vredeprins
Jesus, u Naam is ons wins
Jesus, u Naam is ons oorlogskreet
Ons vaandel, ons evangelie
Ons vier die oorwinning, ons almal weet:
Jesus, u Naam is ons kreet

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God, Gewer van lewe
U alleen weet hoe ons lewens waarlik kan geluk.
Leer ons in die stilte van u teenwoordigheid:
dié misterie met bewondering bedink:
hoe ons in ontmoeting met U
hoe ons onder die blik van u oë
en in u Woord
onsself erken
as u beeld en gelykenis.
Wys ons hoe om die dinge te laat gaan,
wat `n ontmoeting met U verhinder
en wat verhoed dat u Woord ons aanraak.
Wek deur u Woord
die beeld in ons op
wat U van ons droom
vandag en elke dag,
vir altyd en ewig. Amen
(Uit Preekstudies met liturgiese voorstelle 2003, p70-75)

Skriflesing: 1 Korinthiërs 7:29-31

Prediking

Familie-oomblik

Jy kan gewoon vir die kinders verduidelik van die wederkoms – dat Jesus weer gaan kom om die hemel en aarde nuut te maak.  God wil hê dat ons dit altyd sal onthou.  Gevolglik hou ons nie te styf vas aan die goed wat ons hier het en beleef nie – ons sien juis uit daarna dat Jesus dit beter gaan maak!  Jy kan dalk vir die kinders vra wat vir hulle belangrik is en dan sê dat ons ewige lewe saam met Jesus nóg beter gaan wees.  (Wees versigtig om vir die kinders te sê dat hulle geen waarde mag heg aan hul ouers of teddiebeer of kombersie waarmee hul elke aand slaap nie.  Hierdie goed het steeds waarde – maar ons sien selfs méér uit na die nuwe lewe wat Jesus gaan bring.  Bly eerder weg van negatiewe moets en moenies en fokus op die opgewondenheid van uitsien daarna om finaal saam met Jesus te wees.)

Vir ouer kinders kan jy vertel van Captain Jack Sparrow van Pirates of the Caribbean se kompas.  ‘n Kompas wys gewoonlik noord, sodat jy altyd kan weet in watter rigting jy beweeg.  Captain Sparrow se kompas wys egter nie noord nie – dit wys na dié ding wat jy die heel graagste wil hê.  Dit klink wonderlik, maar is ongelukkig nie altyd so eenvoudig nie!  ‘n Seerower kan bv. dink hy wil graag die skat hê, maar eintlik wil hy die beste seerower wees!  ‘n Seerower moet dus baie seker maak dat hy die regte goed wil hê, anders gaan hy op  heel verkeerde plekke eindig!

As ons sulke kompasse soos Captain Jack Sparrow gehad het, waarheen sou dit wys?  Jou vriende?  Jou Nintendo 3DS?  (Vra vir voorbeelde.)

Sommige van hierdie goed is ook belangrik, maar die heel belangrikste is om vir altyd en altyd saam met Jesus te leef.  So al geniet ons dit om met vriende te kuier en met ons Nintendo te speel, wys ons kompas na daarna nie.  Ons kompas wys altyd na die hemel – want dit is die ding wat ons die graagste wil hê!

Jy kan enige van die tonele uit Pirates of the Caribbean wys wat oor Captain Sparrow se kompas gaan.  Gebruik ‘n gratis FLV-Converter program om ‘n snit van You Tube af te laai.

  • Hier is een wat wys wat gebeur wanneer Jack nie heeltemal seker is wat hy wil hê nie.

Preekriglyn

Mense wat trou, en oor ‘n lang periode getroud bly, versamel gemiddeld byna twee keer soveel besittings en finansies as persone wat enkellopend bly of skei.

Dit is die bevinding van ‘n navorser van Ohio se staatsuniversiteit.  Jay Zagorsky, ekonoom, het die finansiële vermoë en huwelikstaat van meer as 9,000 mense tussen 1985 en 2 000 ondersoek.  Gedurende hierdie periode het die getroudes 93% meer rykdom versamel as enkellopende of geskeide persone.

Rykdom is in dié studie gedefinieer as die totale bates waaroor persone beskik, soos bankrekeninge, aandele, en eiendom minus uitstaande skuld, soos ‘n verbandlening.  Die data is verkry uit die National Longitudinal Survey of Youth, ‘n studie befonds deur die VSA se Buro vir Arbeidstatistiek.

Volgens die verslag, wat in die Joernaal vir Sosiologie gepubliseer is, toon mense wat trou, en getroud bly, ‘n sterk toename in besit na hulle huweliksluiting.  Dit groei tot ongeveer $43,000 teen die tiende jaar van hul huwelik.  Enkellopers se bates het toegeneem van minder as $2,000 aan die begin van die opname tot ingeveer $11,000 teen die vyftiende jaar.

Persone wat skei, het ‘n verlies van materiële bates ter waarde van gemiddeld 77% beleef.  Dit is ‘n groter daling in bates as wat sou plaasvind indien die getroudes se bates bloot in die helfte verdeel is.  “Ekonomie van skaal duik deur egskeiding in die hek,” sê Zagorsky, “aangesien jy nou twee blyplekke, twee motors, twee lewensstyle moet bekostig.”  “Verder is egskeiding opsigself duur, jy moet betaal vir prokureurs en ander regskoste.  Egskeiding vereis ook baie tyd.  Dit neem veral werkstyd in beslag, wat ‘n verdere daling in inkomste kan veroorsaak.”  Egskeiding neem ook die motivering weg om harder te werk en meer te verdien, veral as ‘n deel van die inkomste aan onderhoud spandeer moet word.

Huweliksvreugde hou inderdaad groot beloning in.  In die ondersoektydperk het getroudes se netto waarde teen 4% per jaar toegeneem – bloot as gevolg van hul huwelik – nadat die ander faktore uitgeskakel is.
(Laura Rouley, finance.yahoo.com, 2006)

Om tot rus te kom

‘n Magneetnaald kom tot rus wanneer dit na die magnetiese noord wys.  Net so kan ‘n mens se lewe ook tot rus kom.  Die huwelik kan so ‘n rusposisie wees.  Mens kan so gelukkig getroud wees, dat jou huwelik die volle horison word waarbinne jy lewe.  Dit geld nie net die huwelik nie.  Jou werk kan ook hierdie rol vervul, jou kleinkinders, ‘n stokperdjie of twee, of wat ook al.

Teen sononder op die stoep

Einde Oktober sit ‘n vriend en ek teen sononder op die stoep op sy plaas.  Ons is in die hartjie van die Noord-Oos-Kaap.  Voor ons wei ‘n pragtige stoet Merinoskape.  Dit ‘n gesig om te sien.  Die klein lammertjies, baie pasgebore, hardloop en speel en soos net lammetjies kan.

Die geur van koffie vul die lug.  Dit is windstil.  Die laaste plaasgeluide van die dag sterf weg.  Die sonstrale kleur die merino-stoet goud.

“Dit alles doen ek net vir my kinders,” sê my vriend.  “Ek werk met vreugde, want ek doen dit vir hulle.”

Die plaas is ‘n ou ideaal.  Jare se afsloof in die gasvryheidsbedryf het die koop van die plaas moontlik gemaak.  Zagorsky se navorsing bevestig wat met my vriend gebeur het.  Sy gelukkige huwelik van byna 30 jaar het bygedra om die pragtige toneel hier voor ons te kan bekostig.  My vriend het tuis gekom, tot rus gekom op die plaas.  Die droom het waar geword.

Te tuis?

Dit waarvan mens droom, dit waarvoor mens leef , kry ‘n houvas op jou.  Daar waar jy tot rus kom, daar waar jou skat begrawe lê, daar is die rigsnoer van jou lewe te vind.  Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Die vraag is of hierdie belange nie te ‘n sterk impak op mens se lewe begin maak nie.  Kry dit nie ‘n finale sê in jou lewe nie?  Word dit die laaste woord oor jou lewe en jou lewenskoers?

Ons teks plaas hierdie mensgemaakte oriënteringspunte doelbewus op losse skroewe.  “Dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie….”

Kyk net hoe wemel die teks van voorbeelde van verkleefdheid aan die wêreld:

  • Huwelik: van nou af moet dié wat getroud is, lewe asof hulle nie getroud is nie;
  • Verlies: Dié wat bedroef is, (moet lewe) asof hulle nie bedroef is nie;
  • Vreugde: Dié wat bly is, (moet lewe) asof hulle nie bly is nie;
  • Eiendom: Dié wat iets aankoop, (moet lewe) asof hulle dit nie besit nie.

Kyk weer na hierdie voorbeelde.  Zagorsky se navorsing help ons verstaan hoe ‘n greep die huwelik op ‘n mens kan kry.  Ons ken almal mense wie se lewe gedefinieer word deur die verliese wat hulle gelei het.  Daar is verliese aan waardigheid (beland in die tronk), van ‘n kind of ‘n lewensmaat wie aan die dood afgestaan is, ‘n bankrotskap, e.s.m.  Dit verg harde werk om deur hierdie verliese te werk, en dit neem ‘n lang tyd, maar daar is mense wat lewenslank deur verlies aan hierdie wêreld veranker word.  Dit word die laaste woord.  Dieselfde geld vreugde.  Ons kan so gelukkig wees in ons werk, of as gesin, dat ons nooit bo die horison van hierdie geluk uitstyg en die groter wêreld sien nie.  Dieselfde geld ons eiendomsportefeulje, of ons motor, ons huis, ons gereedskap, ons mooi omgewing.

Waarom is ons so tuis?

Vir Westerlinge is dit vreemd om te dink ons moenie tuis wees op die aarde nie.  Ons werk immers almal hard om ‘n tuiste te kan skep.  Almal soek na ‘n plekkie onder die son.  Tuiskoms is vir ons die punt!

Die voorspoed wat ons beleef, veranker ons ook aan hierdie wêreld.  Dit gaan so goed, ons verlang nie na ‘n ander wêreld nie.  Daar is soveel wat mens kan doen, om die wêreld ‘n aangename plek te maak.  Ons vrees daarom die oorgang na ‘n ander wêreld.  Ons het dit ook nie nodig nie.

Optimisme is ‘n ander faktor.  Met die opkoms van wetenskaplikheid, het ons diep onder die indruk gekom dat ons die wêreld ‘n voorspoediger plek kan maak.  Ons is in die greep van ‘n voorspoedsgeloof.  Dit beteken dat ons glo ‘n beter toekoms is máákbaar – dis binne ons bereik.  Tegnologie is die instrument wat ons wêreld net beter en beter gaan maak.  Daar is nie ‘n probleem wat nie oorkom kan word nie.

Hierdie voorspoed en optimisme eis spoedig sy tol.  Dit verg geweldig baie van mens om tuis te wees in die wêreld.  Een voorbeeld: My vriend en sy vrou moes hulself afsloof om die skaapplaas te kon bekostig.  Alles vir die kinders.

Ons voorspoedsgeloof plaas ons vierkantig in die rat race waar alles ‘n gejaag word na wind.  Dit neem ons lewens oor.

Ons het ons teks nodig.  Ons het nodig dat ons huidige lewenswyse op losse skroewe geplaas word.

Die druk van die lewe

Eugene Peterson se The Message help ons om Paulus se bedoeling te verstaan.  Paulus se fokus is op ‘n lewenstyl wat toewyding aan die Here moontlik maak:

Because of the current pressures on us from all sides, I think it would probably be best to stay just as you are.

Are you married? Stay married. Are you unmarried? Don’t get married.  But there’s certainly no sin in getting married, whether you’re a virgin or not. All I am saying is that when you marry, you take on additional stress in an already stressful time, and I want to spare you if possible.

I do want to point out, friends, that time is of the essence. There is no time to waste, so don’t complicate your lives unnecessarily. Keep it simple–in marriage, grief, joy, whatever. Even in ordinary things–your daily routines of shopping, and so on.

Deal as sparingly as possible with the things the world thrusts on you. This world as you see it is on its way out.

I want you to live as free of complications as possible. When you’re unmarried, you’re free to concentrate on simply pleasing the Master.  Marriage involves you in all the nuts and bolts of domestic life and in wanting to please your spouse, leading to so many more demands on your attention. The time and energy that married people spend on caring for and nurturing each other, the unmarried can spend in becoming whole and holy instruments of God.

I’m trying to be helpful and make it as easy as possible for you, not make things harder. All I want is for you to be able to develop a way of life in which you can spend plenty of time together with the Master without a lot of distractions. (1 Cor 7:26-35)

Toewyding aan die Here plaas die regte perspektief op ons lewe.  Die dien van die Here, en die prioriteite wat dit meebring, help ons ontsnap aan die slawerny van té tuis wees in die hede.

Waarom is die wêreld op losse skroewe?

Paulus se Grieks-Hellenistiese lesers in Korinte was diep onder die indruk van die verganklikheid van alles.  Panta rei – alles vloei – was die kulturele vrees van die Griekse denkwyse.

Vandag nog is ons geneig om verganklikheid as die rede aan te voer waarom mens nie te geheg aan die hede moet raak nie.  Terwyl my vriend en ek op die plaas se stoep die pragtige sonsondergang gadeslaan, met die geur van koffie in die lug, weet ons hierdie wêreld gaan nie hou nie.  Ons gaan nie altyd hier wees om die pragtige skaaptrop gade te slaan nie.  Hy het immers die plaas “vir die kinders” gekoop – hulle wat hier gaan wees as hy nie meer daar is nie.

Verganklikheid is egter nié die motief wat ons teks in gedagte het nie.

Jesus plaas die wêreld op losse skroewe

Binne 1 Korintiërs maak Paulus dit duidelik dat Jesus se eerste én tweede koms die wêreld op losse skroewe plaas.

Jesus is die rede waarom ons nie te tuis moet raak nie.  Deur Jesus kan ons nie te tuis raak nie.  Dit lê op twee vlakke:

Een:  Deur sy geboorte as mens op aarde is Jesus teenwoordig in hierdie wêreld.  Selfs na sy kruisdood, opstanding, en hemelvaart is Jesus nie weg nie.  Jesus sit aan die regterhand van God en regeer aktief in die hede.  Ons toewyding aan die Here maak dat ons moet wegkyk van die blote bevordering van ons aardse belange.  Ons aardse belange moet gefokus wees op die diens van die Here (35).

Twee:  Hierdie Jesus, wat vandag aan die regterhand van die Vader sit en regeer, kom weer.  Daarom is die tyd min (29).  Die verwagting dat die Here kom om die wêreld nuut te maak, beteken dat ons reeds vry moet raak van die verslawende patrone van hierdie wêreld en begin leef ooreenkomstig die vernuwing wat Jesus aan die bring is.

Paulus daag ons uit om ons lewe te oriënteer aan Jesus se teenwoordigheid en Jesus se toekoms.  So ‘n toekomsgerigte lewe het te doen met wat aan die einde van hierdie wêreld se geskiedenis gaan gebeur.  Jesus gaan alles nuut maak.  Jesus gaan alles genees.  Ons sal volledig kan lewe, gerig op God, wanneer Jesus die hemel en aarde nuut maak.  Die Griekse woord vir die einde is eskaton.  Daarom sê ons Paulus leer ons eskatologies lewe.

Die regte lewe is ‘n lewe gerig op die vernuwing wat Jesus bring.  Die regte belegging met die oog op die toekoms is dus nie om in ‘n selfhandhawende, beleggingsgerigte lewenstyl te verval nie.  Die regte belegging is om te fokus op die dien van die Here en om God se toekoms uit te leef.

Om reg te leef – op losse skroewe

As Jesus se teenwoordigheid en Jesus se toekoms ons lewe op losse skroewe plaas, hoe leef mens reg op hierdie losse skroewe?   Hoe moet ons etiek lyk?

Paulus vra eerstens dat ons vry teenoor die wêreld moet lewe.  Mens kan so verknog aan die wêreld wees dat jy nie vry is om reg en goed te doen nie.  Jy kan so fokus op die plaas wat jy vir jou kinders wil nalaat, dat jy nie ietsie oor het om vir ‘n bedelaar te gee nie.  Jou tuiste in die wêreld kan soveel tyd en werk verg (om die boeke te laat klop) dat jy nie ‘n paar uur beskikbaar het vir opregte gemeenskapsdiens nie.  Laat los die rat race, klim uit, word vry om te leef, lief te hê en te dien.  Ons teks loop hiervan oor.

Tweedens maak die wete dat Jesus weer kom ons vry om ‘n lewenswyse te hê wat vreesloos fokus op die doen van die regte dinge.  Dit maak ons vry om nie so aan ons lewe vas te klou dat ons nie ook ons lewe vir ons medemens op die spel kan plaas nie.  In vanoggend se koerant word vertel hoe mense pas hul lewe op die spel geplaas het om ‘n bejaarde dame uit haar brandende woonstel te red.  ‘n Menslike ketting het haar uitgesleep en die brand met lewensgevaar geblus.  Daarmee het hulle die bejaarde tannie gered en waarskynlik verhoed dat ‘n hele woonstelgebou afbrand.  Jesus se koms maak ons vry van vrees vir die dood.

Derdens maak ons teks ons vry van die gevaar van afgodery.  Protestante is bewus daarvan dat die menslike hart ‘n fabriek van afgode is (Calvyn).  Selfs die huwelik, selfs ons smart, blydskap, eiendom of die kinders se toekoms kan ‘n gewig in ons lewe kry wat ons wegtrek van die Here af en ons verknoop aan die diens van skepsele.

In vryheid, op losse skroewe

Die uitnodiging is om in Christus vry te raak om op God se teenwoordigheid in ons wêreld en op God se toekoms te fokus.  Jesus se teenwoordigheid en Jesus se koms is die vaste skroewe waarop ons lewe berus.

Nota: die prediker kan gerus die preek afsluit deur waarderende verhale uit die gemeente se geskiedenis te verte van mense wat presies só vry gelewe het.  Wees versigtig vir mensverheerliking, want geen mens is volledig heel nie.  Die doel van hierdie oefening is om konkrete voorbeelde te noem wat die hoorders kan help om die teks self te gaan beliggaam.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis: Outeur onbekend
Ek glo dat God my Vader is
en dat my Vader
die almagtige Skepper van hemel en aarde is.

Ek glo dat Jesus Christus my enigste Koning is,
dat Hy gesterf het sodat my sonde vergewe kan word;
dat Hy uit die dood opgestaan het sodat ek ‘n nuwe lewe kan leef;
dat Hy opgevaar het na die hemel om vir my by die Vader in te tree;
en dat Hy weer terugkom om alles volkome nuut te maak.

Ek glo dat die Heilige Gees aan my gegee is om my in die volle waarheid te lei
en my aan God gehoorsaam te maak.

Ek glo dat ek in Christus deel is van die kerk
en dat alle gelowiges my broers en susters is
saam met wie ek in liefde moet leef as die huisgesin van God.

Ek glo dat ek in Christus
‘n kind van God geword het,
die ewige lewe ontvang het
en eendag uit die dood sal opstaan
om vir ewig in God se teenwoordigheid te lewe.
(Uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle, saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, p34 (Datum onbekend))

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad 1,2,3”

Seën:2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 314

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.