Derde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Tema: Die Here alleen is my rots, my redding

Ons ken Jesus as rots en redding. Dit impliseer ‘n ander soort lewe: soos dié van Jona wat in groot gevaar die Woord verkondig en van mense wat dan tot inkeer kom en hulle klere skeur; of soos dié van iemand wat besef dat die koninkryk hier is, dan die gewone gang van die lewe agterlaat en Jesus volg; of soos dié van iemand met ‘n dringende besef dat ons vir God se koninkryk moet leef, en nie maar net die lewe doelloos oor ons kan laat spoel nie.

Ander tekste

Jona 3:1-5,10
God het nie die ramp gestuur nie
3 Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom:
2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”
3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”
5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.

6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”

10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

1 Korintiërs 7:29-31
Die ongetroudes en weduwees
25Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.

26Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir ’n mens goed is om te bly soos hy is: 27as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie ’n vrou soek nie. 28Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as ’n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar. 

29Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; 30en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. 31Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.

32Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. 33Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, 34en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag.

Markus 1:14-20
Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels
(Matt 4:18–22; Luk 5:1–11)
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.
19Toe Hy ’n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Sleutelteks

Psalm 62:6-13
Die Bybel 1983-vertaling
Net by God vind ek rus
62 Vir die koorleier. ‘n Belydenis. ‘n Psalm
van Dawid.
2Net by God vind ek rus,
van Hom kom my redding.
3Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek vas en stewig staan.
4Hoe lank wil julle almal nog
beskuldigings bly slinger
en my probeer doodmaak,
‘n man wat reeds is soos ‘n muur
wat wil omval,
‘n klipmuur wat omgestoot word?
5Hulle probeer my uitwerk;
hulle skep behae in leuens;
met die mond seën hulle,
in die hart vervloek hulle.
6Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
7Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.
8God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug.
9Vertrou altyd op Hom,
my volk,
stort julle hart voor Hom uit!
God is vir ons ‘n toevlug.
10Mense is verganklik,
mense is niks:
op ‘n skaal wys hulle geen gewig nie,
saam is hulle minder as niks.
11Moenie op geweld vertrou nie;
roof sal jou niks in die sak bring nie.
As jou rykdom toeneem,
moenie dat dit jou
te na aan die hart lê nie.
12Een ding het ek God hoor sê,
nee, twee:
dat net God mag het
13en ‘n mens net op U, Here,
kan vertrou,
en dat U met elkeen handel
volgens sy verdienste.

Die Bybel 2020-vertaling
62 1 Vir die musiekleier . Op Jedoetoen. ‘n Psalm. Van Dawid.
2 Net by God vind ek rus;
van Hom kom my verlossing.
3 Net Hy is my rots, my verlossing,
my toevlugsoord;
ek sal beslis nie wankel nie.
4 Hoe lank nog gaan julle
‘n man bly aanval,
vermoor julle almal hom –
asof hy ‘n muur is wat oorhel,
‘n tuinmuur wat omgestoot word?
5 Ja, hulle beplan om hom
af te stoot van sy hoë plek,
hulle hou van leuens.
Met die mond seën hulle,
maar in hulle binneste vloek hulle.
6 Vind rus by God alleen, my siel,
want op Hom is my hoop gevestig.
7 Net Hy is my rots, my verlossing,
my toevlugsoord.
Ek sal nie wankel nie.
8 By God lê my verlossing, my eer.
My sterk rots, my skuilplek,
vind ek in God.
9 Vertrou te alle tye op Hom, o volk,
stort julle hart voor Hom uit.
God is vir ons ‘n skuilplek.
10 Net ‘n asemteug is die mens,
onbetroubaar is mense;
op ‘n skaal weeg hulle byna niks,
saam is hulle ligter as ‘n asemteug.
11 Moet op afpersing nie staatmaak,
op plunder julle ydele hoop
nie vestig nie.
Rykdom, as dit toeneem –
moet julle hart nie daarop sit nie.
12 Een saak het God bevestig,
twee, wat ek gehoor het:
Krag is by God;
13 by U, my Heer,
is daar troue liefde,
want U self beloon ‘n mens
volgens sy dade.

Ekstra stof

Psalm 62 – Net by God vind ek rus
Hierdie Psalm druk die vaste geloof van Dawid uit terwyl hy in ‘n situasie van groot uitdagings verkeer. Dit gee aan hom nie net ‘n rustige sekerheid midde-in aanvegtinge nie, maar dien ook as getuienis en bemoediging van die geloofsgemeenskap. God is vir almal ‘n veilige vesting. Daarin kan ‘n mens rus vind.

Let op hoe hierdie Psalm regdeur een van belydenis en bemoediging is en waarskynlik in die liturgie gebruik is as getuienis aan die geloofsgemeenskap en dat die Psalm eers in die laaste vers, amper ongemerk, oorgaan tot ‘n gebed aan God.

Die Psalm kan in drie dele verdeel word weens die Selas en die herhalende frase in vers 2 en 6: “net by God vind ek rus”.

  • Net by God vind ek rus – vers 2-5. Dawid beweeg van ‘n belydenis oor God se onwankelbaarheid waarin hy rus vind (vers 2-3), na ‘n beskuldiging van sy teenstanders se pogings om hom op skynheilige wyse te na te kom en uit te werk (vers 4-5).
  • Stort julle hart voor Hom uit – vers 6-9. Dieselfde beweging word in dié deel van die Psalm gevind, net hierdie keer van belydenis (vers 6-8) na bemoediging van sy geloofsgenote (vers 9). Let op hoe hy ook dié keer sy vertroue in God uitspreek en die volk aanmoedig om hulle hart voor God uit te stort (vgl. Ps. 102:1; 142:3). God is vir ons ‘n toevlug!
  • Net God het regtig mag – vers 10-13. ‘n Soortgelyke beweging is merkbaar in hierdie deel van die Psalm. Die magteloosheid van die mens word onomwonde beskryf in terme van hulle verganklikheid en nietigheid (vers 10-11) en vergelyk met die mag van God wat alle mense impakteer en daarom die enigste Een is waarop ‘n mens kan vertrou (vers 12-13). Let op hoe Dawid ons waarsku om nie op geweld of rykdom te vertrou nie. Moenie dat rykdom “te na aan jou hart lê nie.”

Die laaste vers se gebed formuleer twee diep waarhede oor God. Benewens God se mag (vers 12) staan sy liefde en sy regverdigheid uit as dié prentjie van God wat rus en versekering bring.

  • Ons kan op God se liefde vertrou: In die oorspronklike Hebreeus lui die eerste deel só: “en aan U, Here, behoort liefdestrou (gêsêd)” wat beteken dat God se lojale liefde die grond van ons bestaan is. Die NAV se vertaling verberg ietwat dié beskrywing van God met: “en ‘n mens net op U, Here, kan vertrou”. Die punt van hierdie uitspraak van God is dat ‘n mens op die getrouheid van sy liefde kan staatmaak.
  • Ons kan op God se regverdigheid staatmaak:  Die tweede deel van die vers sê: “dat U met elkeen handel volgens sy verdienste”. Hierdie perspektief op God kan verkeerd gehoor word. In die oorspronklike Hebreeus word die woord werke gebruik, nie verdienste nie. Daarby fokus die vers eintlik meer op die billikheid en regverdigheid van God. Dit dien tot versekering en bemoediging wanneer mens aan die kortste end trek in jou verhouding met ander mense. God het die mag (en die deernis) om in die laaste en finale instansie reg te laat geskied. Daarop kan ons staatmaak.

Dié gedagte van Psalm 62:13 (vgl. ook Ps. 28:4; Spr. 24:12; Jer. 17:10) het wyd in die NT ‘n neerslag gevind. God tree billik op teenoor alle mense volgens die somtotaal van hulle werke, die nalatenskap van hulle lewens. Hier is ‘n seleksie van dié tekste:

  • Jesus verklaar in Matt. 16:27 op voetspoor van hierdie teks: “Die Seun van die mens gaan saam met sy engele kom. Hy sal beklee wees met dieselfde heerlikheid as sy Vader en sal elkeen volgens sy dade vergeld.” Drie ander gedeeltes in Matteus brei verder hierop uit. In Matt. 7:22-23 sê Jesus dat om in jou verhouding met God staat te maak op prediking, duiweluitdrywing en wonders doen, is ‘n fundamentele fout, omdat sulke dinge jou as sodanig niks sal help in die oordeelsdag nie. God wil hê dat ons doen wat Hy van ons vra; In Matt. 13:41-42 sê Jesus verder dat dié wat ander in sonde laat val en God se wil in die wind slaan, sal vernietig word in die oordeel van God. Jesus se duidelikste woord hieroor is in Matt. 25:31-46 waar hy werk met die metafoor van die skeiding van mense in skape en bokke, dié wat God se guns geniet (skape) en dié wat dit nie sal kry nie (bokke). Albei groepe word met dieselfde maatstaf gemeet, óf hulle die wil van God uitgevoer het óf nie. En die wil van God is duidelik, dat hongeriges, dorstiges, vreemdelinge, armes, siekes en gevangenes versorg sal word. Dié wat dít doen, sal die erfenis van God in besit neem.
  • Paulus gebruik ook Ps. 62:13 in sy beredenering in Rom. 2:6-8 oor God se hantering van die ganse mensdom: Hysal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn.” Paulus skryf in dieselfde gedeelte ook oor God se voortdurende en regverdige betrokkenheid in elke mens se lewe, gemik op transformasie hier en nou, maar ook met die oog op die ewige lewe: Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie.” Rom 2:9-11. Wonderlike woorde! Trouens, God maak dit moontlik vir elkeen wat Hom wil gehoorsaam om dit reg te kry: “in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” (Ef. 2:10). Die teenoorgestelde is ook waar, soos ons lees in Paulus se opmerkings oor God se hantering van vals apostels in 2 Kor. 11:15: “Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie. Aan die einde sal hulle kry wat hulle vir hulle dade verdien.” Hy gaan selfs so ver om God vir optrede teen kwaadwilliges te vra: “Aleksander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld vir wat hy gedoen het.” (2 Tim 4:14).
  • Petrus gebruik hierdie Psalm as appèl aan die gelowiges om uit eerbied vir God in totale toewyding te leef: “Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.” (1 Pet. 1:17).
  • Johannes gebruik ook hierdie Psalm om God se regverdige oordeel oor die afvalliges in die gemeente van Tiatira uit te spreek: “Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.(Open 2:23). Dit is ook die geval in sy visioen van die laaste oordeel oor die mensdom voor die groot wit troon van God: “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het.” (20:12-13) Netso gebruik hy dié Psalm om Jesus se beloning van dié wat in Hom glo te motiveer: Jesus sê toe weer: ‘Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. ‘Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.” (22:12-14).

Dat ons dade dus belangrik is vir God, is duidelik. Die gedagte is nie dat ons daardeur iets verdien nie. Dit kan ons nooit nie. Maar, dit is ook duidelik dat daar niks is wat geloof so duidelik kan toon, as dat ons doen wat God van ons vra nie – presies wat Jakobus so prakties uitspel in sy brief onder die opskrifte: Hoor en Doen (1:19-27) en Glo en Doen (2:14-26).

Liturgie

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord  

Seëngroet  

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wil van God: 1 Korintiërs 6:12-20

Verootmoediging: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: Psalm 27:11, 14

Apostoliese Geloofsbelydenis

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

Epiklese
F87. Maak My Nou Stil, Heer
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Epiklese gebed)
Oorspronklike titel: Open our eyes, Lord
Teks en Musiek: Robert Cull
Afrikaanse vertaling: 2005 Johan Engelbrecht
© 1976 Maranatha! Music / CCM Music

Maak my nou stil, Heer.
of
Lied 254 Spreek Heer, spreek Heer 1

Skriflesing Psalm 19
Die lees van Psalm 19:7-14 deur die voorganger kan vervang word deur die volgende beurtspraak. Laat twee klein groepe kinders van verskillende kante die kerk inkom. Die voorloper in elke groep dra ‘n Kansel- of Familiebybel wat duidelik vir die gemeente sigbaar is. Hulle staan in twee groepe voor die kansel en dra in beurtspraak Psalm 19:7-14 voor.

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord  
V: Erken die Here: sy majesteit en krag. Erken die Here: die majesteit van sy Naam. Buig in aanbidding voor die Here se glansryke heiligheid.
G: Here, U ondersoek my en U ken my. U ken my sit en my opstaan; van ver af verstaan U wat ek in gedagte het.

V: Erken die Here: die majesteit van sy Naam. Buig in aanbidding voor die Here se glansryke heiligheid.
G: Net by God moet ek rus vind, want op Hom is my hoop gevestig. Net Hy is my rots, my verlossing, my toevlugsoord.

V: Erken die Here. Buig in aanbidding voor die Here se glansryke heiligheid.
G: Ons weet wie U is. U is die Heilige van God.

V: Erken die Here. Buig in aanbidding voor die Here se glansryke heiligheid.
G: Hy kom na ons. Hy vat ons aan die hand en help ons op.

V: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus, wat self God is, deur die Heilige Gees wat ons leer om Hom te ken. Amen.

Seëngroet  
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee;
Hy sal heers en Hy sal genoem word
Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, Vredevors.
(Jesaja 9:5)

Lied 196“O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wil van God:1 Korintiërs 6:12-20
Verheerlik God in julle liggame
12Daar is mense wat sê:
“Alles is my geoorloof.”
Ja, maar nie alles is heilsaam nie.
“Alles is my geoorloof,” sê hulle.
Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets
laat verslaaf nie.
13Hulle sê ook:
“Kos is vir die maag,
en die maag vir kos.”

Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. ’n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. 14God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek.

15Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou ’n deel van Christus neem en dit ’n deel van ’n ontugtige vrou maak? Beslis nie! 16Of weet julle nie dat iemand wat met ’n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” 17Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom.

18Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. 19Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

Verootmoediging

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak
Psalm 27:11, 14
Leer my u wil, Here,
en lei my op ’n gelyk pad
sodat my vyande nie hulle sin kry nie.
Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 2”

Liedere

F213. “Jesus Is Die Rots”
(RUBRIEK: Flammikidz – Hoop & Vertroue)
Teks en Musiek: Johan Engelbrecht
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

Jesus is die Rots waarop ek veilig staan;
die Een by wie ek wegkruip as die donker oor my gaan
My skild en sterk Verlosser, beskerm my in gevaar.
En as ek krag en hulp soek, is die Here altyd daar!

[Refrein x 2]
Ek loof die Heer, want Hy’s getrou
op Hom kan ek altyd vertrou.
Deur die langste dag, donkerste nag
is Hy my Rots, my bron van krag.
U’s my Rots! U’s my Rots!
Jesus, my Rots, U’s my Rots.
U’s my Rots! U’s my Rots!
Jesus, my Rots, U’s my Rots.
[Skree: Jesus, my Rots!]

F300. “Altyd Daar, U Is Altyd Daar (Rots van die Eeue)”
(RUBRIEK: Kersvlam – Geloof & Vertroue)
Teks & Musiek: Stass van Veuren
© 2009 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Onbeskaamd 2)

1. Altyd daar, U is altyd daar
Altyd daar, U is altyd daar
Wie kan U ewenaar, o Heer
Wie kan U ewenaar, o Heer

Refrein:
U’s die rots, Rots van die eeue (x2)

2. Altyd waar, u woord bly altyd waar
En U is wie U sê U is
Wie kan U ewenaar, o Heer
Wie kan U ewenaar, o Heer

Refrein 2:

Brug:
U’s die rots wat ewig staan
En dis U by wie ek veilig voel (X4)

God praat met ons en ons luister

Epiklese
F87. “Maak My Nou Stil, Heer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Epiklese gebed)
Oorspronklike titel: Open our eyes, Lord
Teks en Musiek: Robert Cull
Afrikaanse vertaling: 2005 Johan Engelbrecht
© 1976 Maranatha! Music / CCM Music

Maak my nou stil, Heer.
Ek wil na U luister;
my hart vir U oopmaak
dat U my kan aanraak.
Open my oë, my hart en my ore,
dat ek U leer ken, Heer,
en voor U kan lewe.
of
Lied 254 Spreek Heer, spreek Heer 1

Skriflesing: Psalm 19
Die lees van Psalm 19:7-14 deur die voorganger kan vervang word deur die volgende beurtspraak. Laat twee klein groepe kinders van verskillende kante die kerk inkom. Die voorloper in elke groep dra ‘n Kansel- of Familiebybel wat duidelik vir die gemeente sigbaar is. Hulle staan in twee groepe voor die kansel en dra in beurtspraak Psalm 19:7-14 voor.

Groep 1: Die woord van die Here is volmaak:
Groep 2: dit gee lewe.

Groep 1: Die onderwysing van die Here is betroubaar:
Groep 2: dit gee wysheid aan die wat nog onervare is.

Groep 1: Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
Groep 2: dit bring blydskap.

Groep 1: Die gebod van die Here is helder:
Groep 2: dit gee insig.

Groep 1: “Die eise van die Here vir sy diens is goed:”
Groep 2: “dit staan altyd vas.”

Groep 1: Die bepalings van die Here is reg”
Groep 2: elkeen van hulle is regverdig.
U dienaar laat hom daardeur leer.

Groep 1: Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning (Ps 19).

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Minecraft
Die definisie vir die speletjie is soos volg:
Minecraft is a game chock-full of adventure, exploring, and creativity where you survive in a world composed of blocks – similar to Legos – that you can move around however you like from your first-person perspective.

Vra die kinders wat die belangrikste dinge is wat ’n mens nodig het as jy ’n veilige fort in die speletjie Minecraft wil bou. Watter dinge laat hulle veilig voel? Vat jou kussing, ’n kombers en monstergif (’n spuitbottel met water en ’n prentjie van ’n monster waaroor ’n kruis getrek is daarop) saam. Vra vir die kinders wat ’n mens nodig het om lekker te slaap. Vra hulle verder uit totdat julle by die feit kom dat jy net lekker kan slaap as jy nie bang is nie.
en/of
Sien reëling met Skriflesing…

Preekriglyn

Psalm 62 sluit aan by die tyd ná Epifanie waarin die kerk besin oor ons wandel met God in die lig van Jesus Christus se koms en daaglikse teenwoordigheid by ons. In die psalms gaan dit juis oor die uitreik na God om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef en oor die versekering dat God ons vashou sodat ons aan Hom kan vashou. God se teenwoordigheid in die psalms vind sy vervulling en hoogtepunt in Jesus se koms na ons toe.

Ons kan nie uit die psalm aflei wat die omstandighede van die skrywer is nie, behalwe dat hy moontlik ‘n prominente plek in die samelewing gehad het. Sommige kommentare doen moeite om aan te toon dat dit wel Dawid is wat dit geskryf het omdat daar dinge genoem word wat inderdaad ook met Dawid kon gebeur het.

Psalm 62 raak ‘n sentrale tema van die menslike lewe aan, naamlik geborgenheid te midde van ‘n wêreld vol lyding. Te midde van die afwaartse spiraal van geweld, onreg en rusteloosheid, is God ‘n veilige staanplek. Dit sluit aan by Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28-29: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

Die rus van Psalm 62 is nie die passiewe soort berusting in die almag en beskikking van ‘n veraf God of die noodlot nie. Dit is nie ‘n soort rus in leerstukke oor God ten spyte van die ervarings van die lewe wat nie daarmee ooreenstem nie. Die psalm se rus in God is een wat mense in hulle worsteling ervaar, ten spyte van die gebrokenheid van die lewe. Psalm 62 beskryf ook nie die rus in God as ontrekking uit die lewe as die vlug uit die lewe en die verinnerliking van die geestelike lewe nie. Natuurlik is daar in ons geloofslewe ruimte vir ‘n woestynspiritualiteit, maar hier gaan dit veral oor stilte te midde van die storm.

Die Psalm gee vir ons vier perspektiewe op stilte:

Een: Stilte verdryf

The road less travelled, die bekende boek van M Scott Peck, begin met die woorde: “Life is difficult.” Daarmee sê hy ons sal beter vaar as ons erken dat die lewe moeilik is, eerder as die verwagting dat dit altyd net maanskyn en rose is. Ons weet uit ervaring dat die lewe vol uitdagings is, dat die wêreld ‘n onrustige plek is, nie net op die oppervlak nie, maar ook in die diepgang daarvan.

Die middelste deel van die psalm (v 4-5), beskryf die stormagtigheid van die lewe. Die digter praat van ‘n wêreld vol mense wat jou uit die pad wil hê, mense wat jou aanval en wil doodmaak en veral met vlymskerp tonge jou uitmekaar wil skeur.

Dit is nie net die psalmdigter, Dawid, wat dit beleef het nie. Ons almal is soms slagoffers van mense wat ons wil benadeel, verwens, vervloek of net ignoreer. Mense met ‘n glimlag op die gesig en ‘n dolk in die hand – soms spreekwoordelik, soms werklik. Dan sug die psalmis dat hy voel soos ‘n muur wat wil omval, ‘n klipmuur wat omgestoot word. Net nog ‘n klein stampie, en dit is verby. Hierdie hele paragraaf beskryf stormagtigheid. Dit vertel van breekbaarheid en stukkendheid.

Maar hierdie stormagtigheid gaan nog verder. Ons leef in ‘n wêreld van ‘n onrustige soeke na rus, vervulling en geluk. Vers 10-11 sê dit is dán dat daar dinge in jou lewe kom wat jou na aan die hart kom lê – die vertroue op mense se beloftes en metodes, rykdom en bedrog.

Ook gelowiges kan soms op dinge en mense náás God vertrou. Slim mense sê ons word veral deur twee dinge gedryf:

  • Eerstens, die behoefte om ook te hê en te doen wat ander het of doen. Dit werk gejaagdheid, materialisme en selfs oorloë in die hand.
  • Tweedens, die soeke na ekstatiese ervarings, die jaag van een opwinding na die ander wat jou in ‘n modderige put kan laat beland (Ps 40).

Nou ja, om só na rus, vervulling en geluk te soek, is ‘n gejaag na wind. Op sy beste bring dit teleurstelling, ontnugtering en angs mee; op sy slegste vernietiging en ‘n omgevalle muur.

Twee: Stilte in die storm

Die besondere en verrassende van hierdie verse is dat die storm (v 4-5) deur God self omring word. Aan die begin, voor die storm (v 2-3), bely die digter:

Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.

Die frase, “net by God vind ek rus” bevat ‘n element van stil word en luister, van gerigtheid op God om van sy teenwoordigheid bewus te raak. Hy is God mét ons in Jesus Christus en deur sy Gees. Dit is nie ‘n stil word en buig voor die noodlot nie, maar voor God wat redding is, plek van veiligheid en magtige Helper. By Hom kry ons die rus waarvoor ons gemaak is. Nie op iets of iemand anders nie, net by God kan ons innerlike vrede en tevredenheid vind (vgl Augustinus hier bo).

Die digter se eerste belydenis oor die rus by God, kan gesien word in die lig van wat Johan Cilliers (Op God se skoot) met verwysing na Walter Brueggemann “‘n fase van oriëntasie” noem. Alles is in orde, daar is geborgenheid en vreugde in God se teenwoordigheid.

Dan kom die storm, die fase van disoriëntasie, gekenmerk deur ervarings van krisis en nood. Alles val uitmekaar. En ná die storm (v 6-7), herhaal hy die belydenis: “Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan.” So omring God self ons storms en onrus.

As die belydenis van rus net by God ná die storm herhaal word, is alles tog nou anders. God is saam met sy kinders in die lewe. Hy het hulle deur die storms gedra. Dit is dus ‘n fase van heroriëntasie, van nuwe ontdekking van God se genade wat in alle omstandighede genoeg is. Dit is ‘n belydenis wat nie deur omstandighede bepaal word nie, maar deur God se kragtige en liefdevolle teenwoordigheid. Dit bring ons by ‘n stilte wat standhoudend is.

Drie: Standhoudende stilte

Die rus en stilte waarmee die psalm begin, bewe ‘n bietjie in die storm. Maar uiteindelik hou dit. Die rus in God bly staande. So bly Jesus Christus staande, God-met-ons in die storms. In Jesus Christus hou God ons so vas dat ons nie sal val nie. In ons stil wees by God word Hy die rots onder ons voete, ‘n veilige vesting en ‘n toevlugsoord. Ons word in God se rus ingetrek.

Hierdie rus by God is nie ‘n ontvlugting van die lewe en sy storms nie. Dit is om in ons aanvegtinge en ellende op God se skoot te sit. Dáár word ons bewus daarvan dat die mens met al sy planne en geweld eintlik nietigheid is, ‘n asempie wat verdamp. Dáár word ons bewus van die versoekings wat té na aan ons hart kom lê het, ja, van dit wat ons dryf. Dáár besluit ons weer om ons vertroue op God alleen te plaas.

Talle mense wêreldwyd beleef tans die Covid-19-virus as bedreiging, ‘n ontwrigting wat van almal opofferings vra en ons beperk en benoud maak. Ook hierin is God ons bron van krag en kalmte, ons magtige helper wat die laaste sê oor ons lewe het.

Die stilte wat God gee, geskied nie buite die lewe en sy storms om nie. Dit is ‘n stilte te midde van onrus, te midde van sware laste en te midde van ‘n muur wat wil omval. In die regte lewe van elke dag is God ons redding, ons rots en ons rus.

Vier: Stilte in saamwees

Omdat die digter vanaf vers 9 sy mense tot gebed oproep en hulle onderrig, kan ons sê eredienste is plekke waar ons ook gesamentlik voor God kan stil raak, op Hom wag, na Hom luister en by Hom rus vind:

  • So kan die erediens die plek wees waar ons oefen om in God te rus.
  • Hier kan ons mekaar aanmoedig om nie op mense of hulle werkswyses en oplossings te vertrou nie.
  • Ons kan mekaar opskerp om dinge wat té na aan ons hart gekom het, los te laat.
  • Hier kan ons mekaar aanspoor om verby vyandige mense te kyk en net op God te vertrou.

Die samesyn met God en ander in die erediens is nie ontvlugting nie, maar bekragtiging om op ‘n ander manier die storms tegemoet te gaan en rus te gaan uitdeel.

Ja, die lewe is moeilik, vol inspanning, aanvegtings, versoekings, gejaagdheid en ellende. Kinders van God is nie daarvan gevrywaar nie.

Om in stilte op God te wag en rus in Hom te vind, persoonlik en gesamentlik, anker ons sodanig in God dat Hy die bron van ons krag, ons kalmte en ons volharding is. Dit deurbreek die siklus van onrus op onrus, sodat ons kan lewe.

Dit is die rus waartoe Jesus ons ook uitnooi: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”

God stuur ons om te leef

Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 260 “Ek glo vas in God die Vader vs 1”

Seën
Staan in verwondering oor wie God is.
Staan in afwagting oor wat God gaan doen.
Wandel hoopvol, want God is aan die werk.
Die genade van ons Here, Jesus Christus,
die liefde van God ons Vader
en die gemeenskap met die Heilige Gees is by julle.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.