Derde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

In die tyd ná Epifanie dink ons veral na oor God se teenwoordigheid in ons lewe en wêreld. Ons dink daaroor na deur Jesus se lewe in die Evangelies te bestudeer. In die preekriglyne word ‘n besonderse klem op die teenwoordigheid van God gelê, ‘n teenwoordigheid wat ook beleef kan word wanneer die wet onderhou en God se wil gehoorsaam word.

Sleutelteks

Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10

VOORLESING VAN DIE WET
81Met die aanbreek van die sewende maand was die Israeliete al in hulle dorpe. 2Die hele volk het toe soos een man byeengekom op die plein voor die Waterpoort en Esra, die skrifgeleerde, gevra om die boekrol te bring met die Wet van Moses wat die Here Israel beveel het. 3Esra, die priester, het toe op die eerste dag van die sewende maand die Wet voorgehou aan die byeenkoms, wat mans en vroue ingesluit het, elkeen wat met begrip kon luister.

4Hy het, vandat dit lig geword het tot die middel van die dag toe, daar voor die plein by die Waterpoort daaruit voorgelees vir die mans en vroue en dié wat kon verstaan. Die hele volk het met gespitste ore geluister na die boekrol met die Wet.

5Esra, die skrifgeleerde, het gestaan op ‘n houtverhoog wat hulle vir dié doel gemaak het. Langs hom, aan sy regterkant, het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en aan sy linkerkant Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam. 6Esra het die boekrol voor die oë van die hele volk oopgemaak, want hy het hoër as die hele volk gestaan. Toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan.

7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele volk het, met hulle hande opgehef, geantwoord: “Amen, amen!” Toe het hulle gekniel en met hulle gesigte na die grond in aanbidding gebuig voor die Here.

8Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan, Pelaja en die Leviete het vir die volk die Wet verduidelik, terwyl die volk op hulle plekke bly staan het. 9Hulle het uit die boekrol met die Wet van God voorgelees, terwyl hulle verduidelik. Hulle het die uitleg gegee, sodat die volk die voorlesing kon verstaan.

10Nehemia – hy was die administrateur – en Esra, die priester en skrifgeleerde, en die Leviete wat besig was om vir die volk te verduidelik, het toe vir die hele volk gesê: “Hierdie dag is heilig vir die Here julle God. Moenie treur of huil nie!” Ja, die hele volk het gehuil toe hulle die woorde van die Wet hoor.

11Esra het vir hulle gesê: “Gaan eet feestelike kos en drink soet drank. Deel ook uit aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is heilig vir ons Heer. Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug.” 12Die Leviete het die hele volk gemaan om stil te wees en gesê: “Wees stil, want hierdie dag is heilig! Moenie neerslagtig wees nie!”

Ander tekste

Ps. 19
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik weesen
vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

1 Kor. 12:12-31a
Een liggaam met baie lede
12Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

14Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. 15As die voet sou sê: “Omdat ek nie ’n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. 16En as die oor sou sê: “Omdat ek nie ’n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. 17As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? 18Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. 19As almal saam net een lid was, hoe sou daar ’n liggaam kon wees? 20Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.

21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, 23en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, 24terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

27Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan. 28En in die kerk is daar mense aan wie God ’n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. 29Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? 30Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê?
31Lê julle toe op die beste genadegawes.

Luk 4:14-21
Lukas 4:14-30 ()
Jesus in Galilea
(Matt 4:12–17; Mark 1:14–15)
14Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. 15Hy het die mense in die sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.

Jesus word uit Nasaret verdryf
(Matt 13:53–58; Mark 6:1–6)
16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:
18“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
19om die genadejaar van die Here
aan te kondig.”

20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig. 21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”

23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’24Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. 25Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ’n groot hongersnood in die hele land gekom het. 26Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. 27En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. 29Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2″

Aanvangswoord  (Uit Amos 4)
Hy wat berge vorm en die wind skep,

Seëngroet
U word gegroet met Jesus se woorde… (Lukas 4)

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Verootmoediging
Die woord van die Here is volmaak:
– uit Psalm 19:8-12

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)
“Ek jubel in die Here,

Spaanse Geloofsbelydenis

Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Epiklese: (Ahv Psalm 19)
Almagtige God…

Skriflesing: Nehemia 8:1-10

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending:Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

Seën
Gaan nou terug na die lewe van elke dag

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam vs 1,2”

Aanvangswoord:  (Uit Amos 4)
Hy wat berge vorm en die wind skep,
Hy wat sy gedagtes
aan die mens bekend maak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan,
sy Naam is Here, almagtige God!

Seëngroet
U word gegroet met Jesus se woorde… (Lukas 4)
“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
om die genadejaar van die Here
aan te kondig.”

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Verootmoediging
Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.
Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
Die eise van die Here vir sy diens is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud,
soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.
U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou, groot is sy beloning.
– uit Psalm 19:8-12

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)
“Ek jubel in die Here,
ek is sterk in die Here,
ek is bly oor die uitkoms
wat U gegee het.
Daar is geen heilige
soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos
ons God nie.

Die Here is ’n God
van diepe kennis,
dade word deur Hom getoets.

Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder,
ook gee Hy aansien.
Hy laat die geringes
uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op
van die ashoop af
om hulle by vername mense
te laat sit;
Hy skenk hulle ’n ereplek.

Aan die Here behoort die pilare
van die aarde;
Hy het die aarde daarop
gegrondves.

Die Here spreek reg tot by
die eindes van die aarde…

Spaanse Geloofsbelydenis
Ons glo in God die Almagtige,
Skepper van die hemel en die aarde;
Skepper van alle nasies en kerke;
Skepper van alle tale en rasse.

Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Here,
God wat mens geword het as ’n mens vir die mensdom,
God wat mens geword het in tyd vir alle tye,
God wat mens geword het in een kultuur vir alle
kulture,
God wat mens geword het in liefde en genade vir die
hele skepping.

Ons glo in die Heilige Gees
deur Wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid
bekend maak in ons mense en in ons kulture,
deur Wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan
ons die krag gee om nuwe skepsels te word,
Wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die
liggaam van Christus.

Ons glo aan die kerk wat universeel is, omdat dit die
teken van God se heerskappy is,
Wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word
waar al die kleure saam net een landskap teken, en
alle tonge dieselfde lof besing.

Ons glo aan die (finale) heerskappy van God –
die dag van die groot Fiesta
wanneer al die kleure van die skepping ’n harmoniese
reënboog sal vorm,
wanneer alle mense sal deelneem aan ’n vreugdevolle
feesmaal,
wanneer alle tonge in die heelal dieselfde lied sal
sing.

En omdat ons glo, verbind ons ons:
om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,
tot die dag wanneer hoop ’n werklikheid word.

Lied 198 God is my lied 1,2,3

Liedere

F144. “God Is Liefde  “
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Kersfees / Epifanie,  lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: AP van der Colf  (c) NGKU
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21;  Rom 5:1-11;  Joh 3:16)

God is liefde
Juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef
uit die bron van liefde leef

F260. “Ek Bring ’n Offerlied (As Ek Sing)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toenadering / Skuldbelydenis)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

Ek bring ‘n offerlied
in harmonie gegiet
om vir U te sê
hoe diep my liefde lê

My woorde uitgespel
probeer vir U vertel:
by Jesus hoort ek tuis;
my lewe is ‘n kruis

Refrein:
Sal U luister as ek sing
sal U hoor as ek my offer bring
uit ‘n hart wat U begeer
al maak ek U soms seer

Brug:
Hoor my, sien my,
hier voor u troon.
Ek’s sondig, U’s heilig.
Vergewe my.
Ek buig voor U  (x4)

God praat met ons en ons luister

Epiklese  (Ahv Psalm 19)
Almagtige God…
ek aanbid U as my Rots en Verlosser.

Die skepping getuig van U grootsheid…
die wonder van dag en nag ritme;
die son kom soos ‘n bruidegom uit sy slaapkamer.

U bepalings getuig van U grootsheid…
U volmaakte Woord;
U betroubare onderwysing;
U koersbepalende bevele;
U helder gebod;
U goeie eise wat vasstaan;
U regverdige bepalings…

Eerder as dat U ‘n God is wat belas,
is U ‘n God met verwagtinge en eise
wat eerder herinner aan soet heuning…
ek is U dienaar en word deur U bepalings gerig.

Bewaar my dan Here van moedswillige sondes
en verkwik my siel met U bepalings.

Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser…

Laat die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!

Skriflesing Nehemia 8:1-10

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die nagmaal kan gerus in die tyd ná Epifanie gevier word. Gebruik ‘n kindervriendelike nagmaalsformulier (sien die voorstel van Cas Wepener in Ontdekkings in die erediens, bl. 226) en oorweeg dit om kinders wat vir die eerste keer die nagmaal gaan vier aan die tafel of rondom die tafel op die mat of grond te laat sit. Die ideaal is om vooraf met die ouers te praat en die datum vir hulle te gee sodat hulle ook by die huis met hulle kinders oor die nagmaal kan gesels.

Preekriglyn

Epifanie is die tydperk waarin die verskyning van God aan die mensdom gevier word. Dit is ‘n tyd waarin nagedink word oor hoe God by ons teenwoordig is.

Christene beantwoord hierdie vraag deur na Jesus van Nasaret, die Seun van God, se menswording en na die werking van die Heilige Gees te verwys. Jesus is die Woord van God.

Hierdie gedagtes, wat die Christendom se oortuigings tot vandag toe skep en hulle viering van Epifanie bepaal, het egter nie uit die lug geval nie. Dit is gebou op die oortuigings wat reeds in die vroeë (en latere) Jodedom bestaan het, naamlik dat God nie aan tempels of rituele gebonde is vir sy openbaring aan sy volk nie, maar dat Hy sy wil deur die Woord bekend maak. Ons teks van vandag help ons om presies hierdie punt te verstaan.

Die Bybel praat van Jesus as die Woord (of openbaring) van God. Jesus vorm die hoogtepunt en dieptepunt van die Bybel, die geïnspireerde Woord van God. Dit is in die bladsye van die Bybel dat ons betroubare getuienis ontvang oor wie God is, hoe God handel, teenwoordigheid is en ons verlos.

Daarom het die Bybel gesag. Dit is by die lees en oordink van die Bybel as Woord van God dat ons eie lewens verander en ons as dissipels van Jesus gevorm word.

Teenwoordig deur die Woord

Die fokusteks vir hierdie Sondag (die derde Sondag ná Epifanie) wil dalk juis die lig laat val op hoe die Here deur die Woord by mense, die kerk en die wêreld teenwoordig is.

Agtergrond

Let op na die volgende:

  • Die muur van Jerusalem is so pas klaar gebou. Dit het 52 dae geneem êrens tussen 445-444 v.C. Die tempel is al vroeër herbou.
  • Dit was ook die maand wat die einde van die hele oestyd gevier is, die belangrikste en bedrywigste fees van die pelgrims na Jerusalem, ook genoem die Hutte fees. Boere het gekom om vir die Here dankie te sê.
  • En benewens die dankie sê, het hulle die gebruik gehad om hutte op te rig met takke, bo op die dakke van die huise of in die tempel voorhowe, om ook terug te dink aan die tyd in die woestyn toe God vir hulle bewaar en gesorg het. Vandaar die naam Loofhuttefees, soos sommige van ons dit vandag nog ken.

Die volk is terug huis toe na die bouwerk aan Jerusalem voltooi is.

Byeenkoms in Jerusalem

Vers 2: Dan ‘n tydjie hierna trek almal weer terug na Jerusalem, hoekom weet ons nie presies nie. Beweeg deur leiers en/of die Gees het hulle soos een man bymekaar gekom in Jerusalem om die wetboek van Moses te lees waarin God sy riglyne vir die lewe aan hulle bekend gemaak het:

Esra lees voor uit die Bybel 

Vers 3 tot 7: Let op na die volgende:

  • Hulle samekoms was ‘n Ere-diens, ‘n manier om God te dien
  • Maar dit is nie gehou in die tempel nie, maar op die markplein by die Waterpoort aan die oostekant van die stad! Dit is gehou in die sentrum van hulle gemeenskapslewe. Wat bedoel dat God se Woorde nie net vir die tempel gereserveer word nie (wat reeds herbou was, maar waar net mans kon kom), maar bedoel is om gehoor te word in die strate en die pleine en die winkelsentrums!
  • Leiers van die gemeente en die gemeenskap was teenwoordig – die erediens was ‘n publieke byeenkoms.
  • Mense staan op vir die Woord – vandag nog die gebruik by baie kerke, uit eerbied vir die God van die Woord, veral wanneer uit die Evangelies gelees word.
  • Alles was gemik op verstaan! Vers 2,3,7,8,12 praat almal daarvan!
  • Esra prys die Here, en die gemeente antwoord met hande omhoog: Amen, amen
  • Kniel en buig diep voor die Here
Die hele volk lees saam die Bybel 

Verse 8 tot 9: Dis een van die min plekke in die Bybel waar ons iets van ‘n tipe leesproses wat op uitleg van die woord fokus kan naspeur. Die volk eis eerstens van Esra dat hy vir hulle help verstaan wat die wil van die Here is sodat hulle dit kon doen (Neh. 8:2). En as Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (:4), so graag wou hulle verstaan!

Nadat die volk, al staande, na die eerste lang voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers, priesters en Leviete tweedens as ‘n span verder gegaan en begin preek! En 13 predikers kom by en verduidelik saam met die ander die Woord van die Here, lê dit uit sodat almal die betekenis daarvan kan verstaan. Daar was dus 28 altesame met Nehemia wat ook later bygekom het! Heel moontlik in groepe!

In die proses van verstaan en begeleiding het hulle van die volgende stappe gebruik gemaak. Hulle het gefokus op:

  1. die verdere hardop lees van die teks,
  2. die verklaring daarvan,
  3. die verduideliking van die betekenis daarvan,
  4. totdat die volk dit verstaan het (:9).

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het. Die volk het regtig verstaan!

Die volk reageer op die lees van die Bybel

Verse 10 tot 13: Dan volg die respons op die aanhoor van God se Woord, waarop die leiers die volk begelei in hulle respons op die Woord. Hulle huil by die aanhoor van die prediking. Die Woord werk met ons!

Nehemia neem leiding en beveel die gemeente om nie treurig te wees nie, maar eerder met ‘n dankbaarheidsfees te begin.

Boodskap en betekenis

God se openbaring is nie outomaties en intuïtief nie – dit verg voorlesing, verduideliking en interpretasie. God se wil vir ons tyd is dus nie afhanklik van die een of ander geesvervulde profesie van ‘n individu of ‘n besluit van ‘n kerkvergadering nie. God se wil word bekend deur die studie en uitleg van sy Woord (wat in Jesus Christus tot vervulling gegaan het).

‘n Afrika-teoloog, Tokunboh Adeyemo, stel dit soos volg in die Africa Bible Commentary (vry vertaal):

Om die Woord te lees of te hoor en om dit te verstaan is twee verskillende dinge. Dit was nie net die voorlees van die wet nie, maar ook verduidelikings wat nodig was sodat mense kon verstaan wat die wet van die Here beteken. Dit is waarom hierdie teksgedeelte so vol is van woorde soos verstaan, verduidelik, die betekenis deurgee, en om te begryp.

Terwyl die Woord van God direk tot ons spreek, moet dit steeds geïnterpreteer en verduidelik word. Een van die redes waarom daar so baie dwaalleer op ons kontinent ontstaan, moet soveel ongelukkige gevolge, is omdat mense dink hulle hoef nie die Woord van God te bestudeer voordat hulle dit met ander deel nie. Sulke mense dink al wat nodig is om die Woord te verstaan is om jouself oop vir die Heilige Gees te verklaar.

Inteendeel, ons word bevoordeel wanneer ander ons help om die Woord te verstaan. Dink maar aan die voorbeeld in Handelinge toe Filippus, een van die sewe diakens wat in Handelinge 2 vermeld word, vir die Etiopiese amptenaar wat uit Jesaja gelees het, gevra het: Verstaan jy wat jy lees?” (Hand 6:5; 8:30) Daardie goeie vraag het die deur oopgemaak dat hy die amptenaar kon help om te verstaan wat hy lees. Sonder die verduideliking kon die amptenaar nie verstaan nie (2006:553-554).

Nie wettisme nie

Die Gereformeerde belydenis is dat die Woord betroubaar is omdat dit ons in ‘n verhouding bring met die ware God, ooreenkomstig God se openbaring in die Woord. Die Woord is ‘n venster op God. Die betroubaarheid van die Woord is dat dit ons die volkome leer van die verlossing meedeel.

Daarom moet ons siening oor die Bybel as Woord van God natuurlik nie weer ontspoor in wettisisme soos dit in die tyd van die Fariseërs, Sadduseërs en skrifgeleerdes gebeur het nie. Jesus Christus het gekom om die Wet te vervul en ons as sy navolgers tegelyk daarvan te bevry. ‘n Uitdrukking wat soms met betrekking tot die belydenisskrifte gebruik word, is ook hier van toepassing: Die Wet is nie ‘n stok om mee te slaan nie, maar ‘n kierie om mee te gaan!

Vir almal

Die inbedding van die Esra-voorlesing van die Wet in die Nehemia-memoire, het die volk daaraan herinner dat die nakoming van die Wet nie bloot die priester en die goewerneur se taak is nie, maar dat “die hele volk” dit as riglyn vir hulle lewe moet aanvaar. Daarin leer hulle nie net die God van die ou tradisies ken nie, maar leer hulle ook die pad waarop Hy hulle vorentoe wil lei. Die Tora is die brug tussen die verlede en die toekoms.

Nuut (her)interpreteer

Hierdie wete is nie tot die tyd van Esra en Nehemia beperk nie. Dit word telkens weer nuut wanneer gelowiges die Woord in hulle hande neem, dit verantwoordelik bestudeer en dit (her)interpreteer vir hulle eie tydsgewrig.

Die Persiese periode, na die ballingskap, waarin Nehemia en Esra lewe het die nodigheid gebring om weer te vra na die betekenis van die teologiese tradisies van ouds. Die Godsvolk moes in veranderde sosio-politieke en sosio-godsdienstige tye weer vra hoe die Here by hulle teenwoordig is en hoe Hy Hom aan hulle openbaar.

Dit is juis met die besef dat die Wet God teenwoordig kom maak dat Psalm 19 (ook ‘n Leesroosterteks vir hierdie Sondag) se digter dit soos volg stel: “Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges. Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë. Ontsag vir die Here is rein, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die Here is waar, dit is almal regverdig. Dit is begeerliker as goud, begeerliker as ‘n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as ‘n heuningkoek wat drup” (v 8-11).

Aangemoedig

Ons teks moedig ons aan om meer moeite met die lees en die nadink oor die Woord van God te doen. Ons moenie die byeenkoms van die gelowiges verpas waar die Woord uitgelê en toegepas word nie.

Ons teks moedig ons aan om erns te maak met die Woord. Die uitleg is nie bloot vir ons kennisname nie. Ons is nie met teorie besig nie. Die Woord raak ons houdings, gesindhede, gewoontes en skerp ons geloofvaardighede op. Dit leer ons lees, bid, ons bekeer, ons harte oopstel, ons lewens inrig volgens die Woord. Dit spreek ons aan: ons hou op om sekere dinge te doen omdat ons die Woord uitleef, en ons hou op om ander dinge te doen omdat ons die Woord uitleef.

Ons doen die woord, want ons hoor die stem van die lewende God in die Woord.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

Seën
Gaan nou terug na die lewe van elke dag
en leef met die verwagting dat God se goedheid altyd weer in jou lewe en omstandighede sal verskyn.
Gaan lewe met die seën van die Here.

Die seën
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (2 Korintiërs 13 NAV)
(Bybelmedia se Woord en Fees, 2014/15)

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.