Derde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Dit is juis in hierdie onverwagse afbakening dat die koherensie tussen die tekste lê. Die onderskeie inlatings en weglatings fokus telkens die aandag op Jesus Christus die lang verwagte Messias, die Lig (Jes 9 en Ps 27) vir die nasies, die Redder (Ps 27 en 1 Kor 1) in en deur wie God se koninkryk van die Lig (Matt 5) in die wêreld gestalte kry. Die dissipels se lewe en getuienis is die manier waarop die boodskap van God se koninkryk uitgedra word (Matt 5 en 1 Kor 1). Die fokus bly egter steeds Christus.

Ander tekste

Psalm 27:1, 4-9; Jesaja 9:1-4; Matteus 4:12-23

Fokusteks

1 Korintiërs 1:10-18
Verdeeldheid in die gemeente
10Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 11Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. 12Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. 15Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”

20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Votum; Seëngroet:  Psalm 27:4, 14

Liedere

F132. “Uit Een Hart” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – ekumene,  die kerk)
Oorspronklike titel: One Song of Praise
Teks en Musiek: Bob Fitts
Afrikaanse vertaling: Piet Smit
© Scripture in Song
[Kom ook onder Engelse teks: Kategorie 3 – Multi-kulturele liedere]

Vader van liefde, bron van ons krag
Ons bring in aanbidding ons loflied aan U
Here U het belowe om hier by ons te wees
As ons saam is in U Naam, in waarheid en gees

Jesus, ons Redder, Immanuel
Ons kom ons lewens as lof-offer gee
Ons wil uit een mond u ryk en krag besing
En aan U, o Skepper, Heer, ons loflied bring

Gees van die waarheid, helper uit God
Leer ons om in liefde soos Jesus te dien
En bind ons dan saam, Heer
Soos ons hier voor U staan

Om met liefde in ons hart
Na die wêreld te gaan

Sodat ons uit een hart in eenheid kan bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

Help ons om uit een hart in eenheid te bely
Dat U Erekoning is en dit altyd sal bly

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Vertel die verhaal van die twee broers.

Die broers se pa het sy plaas tussen hulle verdeel, sodat elkeen op sy eie stuk grond boer.  Ongelukkig het hulle kwaad geraak vir mekaar en net met mekaar baklei.  Eendag kom ‘n skrynwerker by die een broer aan en vra of hy iets kan bou.  Die broer gee hom opdrag om ‘n heining tussen sy grond en sy broer se grond te bou, terwyl hy dorp toe gaan.  Toe hy terugkom, sien hy dat die skrynwerker, i.p.v. ‘n heining, ‘n brug gebou het.  Hy storm na die brug, waar hy sy broer vind.  “Dankie dat jy my terug nooi in jou lewe met hierdie brug!  Na alles wat ek met die jare aan jou gedoen het, kan ek nie glo dat jy my vergewe nie!”

Jesus bou brûe tussen mense.
(Foto deur Rajesh Vijayarajan by flickr.com)

Preekriglyn

Watter datum verteenwoordig die grootste oomblik in die twintigste eeu?  Waar en wanneer is ons op die mees verrassende manier oorval deur goedheid, genade, vryheid en geregtigheid?

Vir baie mense, insluitend Time Magazine, is die val van die Berlynse muur op 9 November 1989 die glorierykste oomblik van die twintigste eeu.  Vir 28 jaar lank het hierdie muur Oos-Duitsers verhinder om vrylik na Wes-Berlyn te beweeg.  Die muur het Berlyn, soos ’n uitgestrekte letsel van 45 km lank, verdeel, families uitmekaar gehou, en verhinder dat die onderdane van die kommunistiese bewind vryelik na die Weste kon beweeg.  Dosyne mense het hul lewens verloor terwyl hulle oor die muur probeer ontsnap het.

Op 9 November 2009 het Berlyn die 20ste herdenking van die val van die muur gevier.  ’n Fees van Vryheid, waarheen hooggeplaastes van oor die hele wêreld genooi is, is gehou.  ’n Hoogtepunt was toe meer as 1,000 kleurvolle domino-teëls van polistireen, elk meer as 2,4 meter hoog, in fases omgestoot is.

Gebruikers van die sosiale netwerk, Twitter, het ’n virtuele Berlynse Twittermuur geskep waar boodskappies geplaas kon word om die val van die muur te gedenk.  Massa Chinese twitter-gebruikers het die kans aangegryp om te proteseer teen die Great Firewall of China, ’n poging deur die Chinese regering om internettoegang te beheer en te sensureer.  Die Berlynse Twittermuur is blitsig deur die Chinese owerhede geblokkeer.

’n Internasionale projek, die Reis van die Muur, is ook sedert Mei 2009 in verskeie lande geloods.  Twintig simboliese stene uit die Berlynse muur is na lande soos Korea, Siprus en Jemen gestuur waar die daaglikse lewe gekenmerk word deur doelbewuste skeiding en die oprigting of instandhouding van mure wat verdeeldheid bevestig.  In hierdie lande word die simboliese stene gebruik as aansporing om te werk vir die val van mure wat mense skei en inperk.

Mure tussen Christene

Dit is maklik om die kommuniste en ander magsbehepte politieke regimes te teiken as dit oor mure tussen mense gaan.  Die gemeente in Korinte is ’n voorbeeld van hoe maklike Christene onderlinge mure van verdeeldheid bou.

In die inleidende gedeelte van 1 Korintiërs vestig Paulus die gemeente se aandag op die werk van God.  God het die gemeente is Christus geroep en geheilig.  Die gemeente moet verenig met Christus as gemeente saamleef.

Ons teksgedeelte volg onmiddellik op die inleiding van die brief.  Die eerste en die grootste saak wat Paulus in die gemeente aanspreek, is die verdeeldheid en partyskappe.  Dat eenheid die eerste saak is wat hy hanteer, dui op die besondere belang daarvan.  Mens kan so gewoond raak aan verdeeldheid dat jy dit as normaal aanvaar.  Paulus sien dit nie so nie.  Daar mag nie verdeeldheid tussen Christen wees nie.

Verdeeldheid word aangeblaas

Ontstellende berigte het Paulus via ene Chloë se mense bereik dat verdeeldheid onder die Korintiërs aangeblaas word.  Hierdie verdeeldheid sentreer rondom leiers en invloedryke persone in die gemeente.

Sommige sê “Ek is vir Paulus, ek behoort aan Paulus”.  Ander sê weer dieselfde van Apollos en Sefas.  Die leiers het – bedoeld of onbedoeld, gewillig of onbewustelik, die fokus van die verdeeldheid geword.

Die blote bestaan van ’n Paulusgroep dui daarom dat daar ook ’n anti-Paulusgroep was.  Sommige Korintiërs het die ander werkers wat in hul gemeente gearbei het, bo Paulus verkies.  Later verwys Paulus na Apollos as sy medewerker (3:6-9).  Apollos was waarskynlik die tweede evangelis in Korinte (Paulus het geplant, Apollos het natgemaak…).   Dalk was Apollos ’n baie goeie en wyse spreker, iets wat Paulus nie noodwendig was nie.  Die Sefasgroep was waarskynlik die groep wat die Joodse invloed op die Christendom verteenwoordig het.

Die verskriklike gevolg van hierdie verdeeldheid is dat die leiers op dieselfde vlak as Christus geplaas word.  Trouens, in Korinte word Christus maar net die hoof van nog ’n groep in die gemeente, naas Paulus, Apollos en Sefas (1:12).  Die verdeeldheid ontstaan omdat leiersfigure ’n prominensie kry wat kompeteer met die werk van Christus.  Niks wat die apostel Paulus, of enige ander persoon, vir die gemeente gedoen het, mag in die middelpunt van hul lewe staan nie.  Al wat die deurslag gee, is dit wat Christus gedoen het.

In die res van die brief lees ons hoedat die verdeeldheid selfs nog dieper onder die Korintiërs geloop het.  Daar is hofsake, huweliksprobleme, onenigheid oor die nagmaal, oor die gawes van die Gees, oor die betekenis van die opstanding.

Verdeeldheid aangespreek

Paulus spreek die verdeeldheid in Korinte op twee gronde aan.

Eerstens noem hy die gemeente “broers”.  Deur hulle vereniging met Christus het die lidmate van die gemeente in ’n nuwe verhouding tot mekaar beland.  Hulle is nou broers en susters, lede van die familie van God.  In ’n huishouding, onder die leierskap van ’n liefdevolle Vader, kan daar nie sprake wees van verdeeldheid nie.  Die kwaliteit van die verhoudinge moet die van liefdevolle onderlinge bande wees, soos dié van broers en susters.

Tweedens roep hy die Korintiërs in die Naam van Christus op om eensgesind te wees.  Hy doen dit dus namens Christus, op gesag van Christus.  Uit eerbied vir Christus, moet hulle eensgesind wees.

Waaruit bestaan die eenheid? Paulus beklemtoon:

Eenheid van gesindheid: Eensgesindheid is ’n keuse dat mense met mekaar sal bly praat, en sal bly luister, totdat daar wedersydse begrip en konsensus groei.  Eensgesindheid is ’n keuse om verskille nie tot verdeeldheid te verhef nie, om leerbaar te bly en aan te hou soek na dit wat saambind en na die waarheid, eerder as dit wat verdeel.

Eenheid van oortuiging:  ’n Gedeelde oortuiging is ’n konsensus oor die weg waarop die Here die gemeente stuur.  Eenheid word gebou op grond  van die oortuiging dat God die gemeente roep en heilig, en dat die pad wat die gemeente loop gekenmerk word deur die liefde, self-prysgawe en naastediens wat die evangelie kenmerk.  ’n Eenheid van oortuiging groei uit die onderrig oor die inhoud van die evangelie, en wat dit beteken om as ’n dissipel van die Here te lewe.

Christus breek mure af

Christus is nie in stukke verdeel nie (1:13).  Christus is die fokus van die gemeente.  Christus skep deur sy persoon en werk die eenheid waarin die gemeente moet lewe en waaruit hulle God moet dien.

Paulus gebruik die doop as ’n voorbeeld om sy punt te illustreer.  Verdeeldheid ontstaan wanneer die dopeling beleef dat die doop hom of haar in die klub inlyf waarvan die een wat die doop bedien die hoof is.  Nee, niemand word in die naam van die doopbediener gedoop nie.  Die doop, wie dit ook al bedien, lyf jou in by die een liggaam van Christus.

Ons inlywing in die een liggaam van Christus geskied deur die krag van die kruis waarin daar vir ons redding is.  Hierop wil Paulus fokus, nie op dit wat verdeeldheid skep nie.

Die hele Korintiërbrief word ’n intense kragtoer waarin Paulus hulle onderrig oor die inhoud van Christus, die Gekruisigde en lewende Here, se verlossingswerk en die implikasies daarvan vir die Korintiërs.  Hy doen dit om eensgesindheid en ’n eenheid van oortuiging by die gemeente te vestig.

Gewoond aan mure?

Ons kan so gewoond raak aan verdeeldheid, dat ons ons verontwaardiging daaroor kan verloor.  Ons kan vergeet dat verdeelheid Christus in stukke skeur en die krag van die saambindende, verlossende kruis ondermyn.

Dirkie Smit vertel in sy boek, Dieper as wat ons dink (Lux Verbi-BM) van ’n gesprek oor kerkeenheid waaraan Kardinaal Walter Kasper van die Vatikaan deelgeneem het. Dié gesprek herdenk die merkwaardige dag in Augsburg, 31 Oktober 1999, toe Katolieke en Lutherane met ’n gesamentlike verklaring die historiese verdelings tussen hulle oorbrug het.

Smit onthou: “Dit is ’n moeilike gesprek, want kerkhereniging is altyd moeilik. Omdat daar soveel herinnerings is, soveel verwyt en pyn. Omdat die misverstande groot is, die wantroue diep, die verwydering totaal, die wonde seer. En – veral – omdat die gevolge so vanselfsprekend geword het, ons so gewoond is aan ons skeurings, ons apart wees en ons anders wees. Omdat ons niks anders ken en eintlik verwag nie.

Kardinaal Kasper herinner die aanwesiges toe aan ’n ánder merkwaardige dag, in Berlyn, op 9 November 1989, toe die muur se val die historiese verdeling tussen oos en wes oorbrug het. Indien iemand daardie oggend – herinner Kasper – vir verbygangers sou vra hoe lank dié muur nog sou staan, sou die meerderheid vir seker gesê het dat hulle tog só bly sou wees as hulle kleinkinders eendag deur die Brandenburghek kon loop. Maar daardie selfde aand nog, sê hy, sou die geskiedenis herskryf word, tot almal se stomme verbasing. Eendag gaan ons net so verbaas ons oë uitvee as God se Gees die onoorkomelike mure wat ons so lank verdeel, afbreek.”

Smit vervolg: “Maar die geskiedenis is magtig – dit kry ’n houvas op ons, maak ons magteloos, hou ons gevange. Dit gebeur in ons eie lewe, in ons kerke, in ons samelewings. Sodat ons dikwels nie regtig glo dat iets ooit gaan verander nie – selfs al wens ons dit wil! Dat ons selfs nie verwag dat dit waarvoor ons dalk jare pleit en werk ooit gaan gebeur nie! Ons raak te gewoond aan die mure om ons en tussen ons. Ons glo later in húlle – gevangenes van ons eie verlede, al bely ons ook wat. Selfs as dinge verander, leef baie van ons steeds as gevangenes van die geskiedenis. Want dit is al wat ons ken en al wat ons kan. Asof die mure nooit geval het nie.”

Hou rekening met die Een wat mure laat val

Gemeentes staan voor groot uitdagings.  Baie gemeentes beleef self die verskriklike pyn wat met partyskappe en verdeeldhede gepaard gaan, net soos in Korinte.  Die uitdaging is om van onsself en ons eie naam weg te kyk, en vir Jesus Christus raak te sien.  In sy Naam is daar eenheid, in ons name is daar verdeeldheid.

Die Familie van NG Kerke staan voor geweldige uitdagings in Suid-Afrika.  Die mure tussen die NG Kerk, VG Kerk, RCA en NGKA is so hoog, en die blaam vir die pyn van die verlede en die instandhouding van die mure so groot, dat ons sukkel om mekaar te hoor.  Sal ons op Christus kan fokus, sy vergifnis omhels, en dit ook aan mekaar kan bedien?

Baie families is verskeur.  Trots is geskend, verbittering vier hoogty.  Hoe kan ons die kruis van Christus, die krag van ons verlossing, aangryp op ’n manier wat ons weer aan mekaar bind?

By baie werkplekke is daar volop Christene en volop verdeeldheid.  Hoe sou Christene kon leer om hande te vat, saam te bid, te werk en te leer onderweg na die eenheid van herstelde verhoudinge?

In die Suid-Afrikaanse samelewing is daar baie verdeeldheid.  Feitlik niemand hanteer die belydenis van die lewende Here Jesus as Verlosser as die saambindende krag wat mense oor alle ander grense kan saambind in diens van eenheid, geregtigheid en vrede nie.  Wat sou dit van gemeentes vra om saam aan hierdie visie in plaaslike gemeenskappe te begin bou?

’n Gebed

By die Brandenburghek in die “Room of Silence” is daar ’n gebed wat deur baie jare gebid is voordat die Berlynse muur geval het. Dit lui soos volg: “Oh Lord, our planet Earth is only a small star in space. It is our duty, to transform it into a planet whose creatures are no longer tormented by war, hunger and fear, by race, colour and ideology. Give us courage and strength to begin this task today so that our children and children’s children shall one day carry the name of ‘Man’ with pride.”

Miskien moet ons die gebed verander vir die kerk: “O Here, ons kerk is slegs ’n klein deeltjie van u groter kerk. U weet hoe verdeeld ons is en hoe baie verdeeldheid gebou is op ras, klas, agtergrond, geslag en ideologie. Dit is ons plig en vreugde om van u kerk iets beters te maak, ’n plek en gemeenskap waar daar geen stryd, ongeregtigheid, onversoendheid en verdeeldheid meer sal wees nie. Dit is ons plig en vreugde om vir U te vra: ‘Help ons om te sien wat ons kan doen sodat ons minder ontrou aan die waarheid van u kerk sal wees’. Gee ons die moed en krag om vandag hierdie taak te begin sodat ons kinders en kleinkinders eendag sal sê: ‘Ons voorouers was Christene en ons dra die naam ‘Christen’ met trots.”

God stuur ons om te leef

Bou ‘n losserige baksteen-muur in die liturgiese ruimte.  Laat lidmate – terwyl hulle bid vir mure in jul gemeente, hul gesinne, die familie van kerke, by hul werk, in ons land, ens. om afgebreek te word – vorentoe kom en van die bakstene ‘n altaar bou.

Mense kan ook gebede op ‘n muur skryf, of dit op papiertjies skryf en teen ‘n muur plak.

As jul lidmate verkies om eerder te bly sit, kan jy vir die verskillende plekke (gemeente, gesinne, familie van kerke, werk, land, ens.) bid.  Na elke lewensruimte waarvoor daar gebid is, sing die gemeente Lied 278 sonder die “amen” – dit word na die laaste gebed gesing.

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees

Hy roep uit alle volke ‘n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2. O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop
In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop
Refrein:

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.