Derde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die tekste vir hierdie week bespreek die volmaaktheid van God se openbaring. In Nehemia hou Esra die wet van die Here aan die volk voor. In Psalm 19 word die volmaaktheid van God se openbaring besing. In Lukas 4 kondig Jesus die vervulling van God se genadebelofte aan as Hy die agenda van sy aarde bediening aan die gemeenskap bekendmaak. In 1 Korintiërs word die geloofwaardige getuienis van die kerk verduidelik as die liggaam van Christus sigbaar word in ’n verskeidenheid van gawes wat onderling in diensbaarheid funksioneer.

Ander tekste

Psalm 19; 1 Korintiërs 12:12-31; Lukas 4:14-21

Fokusteks

Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10
Die byeenkoms by die Waterpoort
73Die priesters, die Leviete, die poortwagte, die sangers, ’n deel van die volk, en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. Dit het die hele Israel gedoen.

8 Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.

2Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand.

4Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeenskap was by die wetboek.

5Esra die skrifgeleerde het op ’n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.

6Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan.

7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”
Toe kniel hulle en buig diep voor die Here.

8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.

10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”

12Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is ’n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”

13Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot fees gevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.
Dirkie Smit: dit is proses van verklaar na verstaan gaan – dalk moet mens inkarneer bysit.  Hand 8 worstel Etiopiër hiermee en dan ook Neh. 8.

Ekstra stof

Agtergrond
’n Mens moet eintlik die laaste vers van hoofstuk 7 ook saam met hoofstuk 8 lees:

7:73 Die priesters, die Leviete, die poortwagte, die sangers, ’n deel van die volk, en die tempelslawe het hulle gevestig in die stede waar hulle vandaan gekom het. Dit het die hele Israel gedoen 

8:1 Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.

Let op na die volgende:

  • Die muur van Jerusalam is so pas klaar gebou.  Dit het 52 dae geneem êrens tussen 445-444 vC.  Die tempel is al vroeër herbou.
  • Dit was ook die maand wat die einde van die hele oestyd gevier is, die belangrikste en bedrywigste fees van die pelgrims na Jerusalem, ook genoem die Hutte fees.  Boere het gekom om vir die Here dankie te sê.
  • Die fees is gehou in die sewende maand (Tishri) van hulle jaar wat met hulle lente in Maart begin het.  Dit was dus êrens in September.
  • Terloops: 
    • Dit was ook die fees waar Eli vir Elkana en Hanna gesien het, toe Hanna kom bid het vir ’n seun en Eli vir haar ingetree het en Samuel gebore is.  Eli het mos gedink dat sy dronk was, want dit was ’n fees waar die drank van blydskap gevloei het.  Dié fees het 7 dae geduur, sommige tekse (ook Nehemia) sê daar was ook ‘n 8ste dag, wat heel moontlik was om almal kans te gee om te herstel van die jolyt, voor hulle die tog terug huis toe sou aanpak.
    • En benewens die dankie sê, het hulle die gebruik gehad om hutte op te rig met takke, bo op die dakke van die huise of in die tempel voorhowe, om ook terug te dink aan die tyd in die woestyn toe God vir hulle bewaar en gesorg het.  Vandaar die naam Loofhuttefees, soos sommige van ons dit vandag nog ken.  Dit was die laaste en grootste van die drie Joodse feeste: die Paasfees, die Oesfees (Pinkster – ook die fees van die weke – 7 weke na die begin van die oes – of die fees van die graanoes genoem) en die Loofhuttefees (wat alle oeste van die jaar gevier het).

Die volk is terug huis toe na die bouwerk aan Jerusalem voltooi is.

Byeenkoms in Jerusalem
Vers 2 vertel ons dat ‘n tydjie hierna hulle almal weer terug trek na Jerusalem, hoewel ons nie presies vertel word hoe dit gebeur het nie. Beweeg deur leiers en/of die Gees het hulle soos een man bymekaar gekom in Jerusalem om die wetboek van Moses te lees waarin God sy riglyne vir die lewe aan hulle bekend gemaak het:

Esra lees voor uit die Bybel
Vers 3-7 vertel vir ons die volgende:

  • Hulle samekoms was ’n Ere-diens, ’n manier om God te dien
  • Maar dit is nie gehou in die tempel nie, maar op die markplein by die Waterpoort aan die oostekant van die stad!  Dit is gehou in die sentrum van hulle gemeenskapslewe!  Wat bedoel dat God se Woorde nie net vir die tempel gereserveer word nie (wat reeds herbou was, maar waar net mans kon kom), maar bedoel is om gehoor te word in die strate en die pleins en die Boardwalks!
  • Wonder of die Houtverhoog die eerste kansel was? Hebreeuse woord = migdal (toring).  Effens hoër as die gemeente.
  • 14 van hulle: 6 na regs, Esra, en dan 7 na die linkerkant toe.  Leiers van die gemeente en die gemeenskap.
  • Mense staan op vir die Woord – vgl in Moskou, waar dit vandag nog die gebruik is by baie kerke, uit eerbied vir die God van die Woord.
  • Alles was gemik op verstaan!  Vers 2,3,7,8,12 praat almal daarvan!
  • Esra prys die Here
  • Gemeente antwoord met hande omhoog: Amen, amen
  • Kniel en buig diep voor die Here

Die hele volk lees saam die Bybel
Vers 8 tot 9 vertel vir ons hoe die hele volk aan die lees van die wetboek deelgeneem het.  Dis een van die min plekke in die Bybel waar ons iets van ‘n tipe hermeneutiese leesproses kan naspeur.  Die volk het alreeds met die begin van die byeenkoms van Esra gevra dat hy hulle help verstaan (בִּין) wat die wil (תֹּורָה) van die Here is sodat hulle dit kon doen (Neh 8:2).  En as Esra aan hulle versoek voldoen en uit die wetboek begin lees, staan daar letterlik dat die “ore van die volk op die wet gerig was” (:4), so graag wou hulle verstaan!

Nadat die volk dus, al staande, na die eerste lang(!) voorlesing geluister het en in lofprysing gereageer het, het die leiers, priesters en Leviete tweedens as ‘n span verder gegaan en begin preek!  En 13 predikers kom by en verduidelik saam met die ander die Woord van die Here, lê dit uit sodat almal die betekenis daarvan kan verstaan.  Daar was dus 28 altesame met Nehemia wat ook later bygekom het!  Heel moontlik in groepe!

In die proses van verstaansbegeleiding het hulle van die volgende stappe gebruik gemaak.  Hulle het gefokus op:
1. die verdere hardop lees (קָרָא) van die teks,
2. die verklaring (פָּרַשׁ) daarvan,
3. die verduideliking van die betekenis daarvan (שֶׂכֶל),
4. totdat die volk dit verstaan het (בִּין) (:9).

En uit die verloop van die verhaal in die res van die hoofstuk word die gevolg van dié proses uitgespel in die nougesette navolging van wat hulle gehoor het.  Die volk het regtig verstaan!

Die volk reageer op die lees van die Bybel
Dan volg die respons op die aanhoor van God se Woord in vers 10-13, waarop die leiers die volk begelei in hulle respons op die Woord. Hulle huil by die aanhoor van die prediking.  Die Woord werk met ons!

Nehemia neem leiding en beveel die gemeente om nie treurig te wees nie, maar eerder met ‘n dankbaarheidsfees te begin.

NB, hulle begin deur fees te vier en hulleself aan die Here toe te wy:

  • Hulle vier fees,
  • Hulle eet en drink (eet die beste [=vet] en drink die soetste [=wyn met heuning gemeng]),
  • Hulle deel uit aan dié wat niks voorberei het nie.
  • Dit is gasvryheid, die essensie van die goeie nuus van God se teenwoordigheid.  En dit is die klein luukshede wat ons byvoeg, om bv vir ander iets oor te hê, wat van ons vrolikheid ’n fees maak, omdat dit inspireer en energie gee en mense insluit wat andersins buite sou staan.
  • Dit herinner baie aan die tipe agapé-maaltyd van die NT.  Deur te deel, erken hulle dat God vir hulle gesorg het en bely hulle dat God in die komende jaar ook weer vir hulle sal sorg.

Op dié manier kalmeer Nehemia die mense:

  • Wees rustig!  En leer hy hulle dat heiligheid met vreugde te make het!  Soos een Engelse vertaling vertaal: “The joy of the Lord is your strength.”  Derek Kidner sê hieroor: “Holiness and gloom go ill together!”  Die gaste van God geniet sy heiligheid en is vrolik. Dit is hulle krag en sterkte.
  • NB – hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is!  Dít is die doel van ons saamwees.  Dit beweeg ons van blinde godsdiens na vreugdevolle gemeenskap met God.

Hierna vier hulle die Huttefees soos vers 14-19 dit vertel en fokus hulle verder op die lees van die Woord soos die wet vir die sewende maand voorskryf

Dit mond uit in ‘n belydenis van hulle sonde terwyl hulle verder fokus op die lees van die Bybel, soos hoofstuk 9:1-5 ons vertel

Daarna volg ’n formidabele gebed in vers 6-37 waarin verskeie temas uit hulle geskiedenis aangeraak word: Skepping, Verbond, Eksodus, Gawe van land,  Ballingskap en waarin veral gefokus word op God se geduld en genade, sy barmhartigheid en deernis wat graag vergewe, maar steeds regverdig (9:32) is in alles wat Hy doen en Hy gevra word om weer in te gryp en hulle te verlos in die nood waarin hulle steeds verkeer selfs al is hulle weer terug in die land.

Die resultaat is dat die leiers en die volk hulle op ’n skriftelike wyse aan God verbind soos hoofstuk 10 vertel.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 257 “O Heer, maak oop my hart se poort” of
VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond” (Psalm 19:15) of
F369. “U Woord is ’n Lamp”

Votum: (Ps 119:2-5)
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 19 of
VONKK 103 “Maak Oop Die Poorte Vir Die Koning”  (Psalm 24) of
Flam 299 “Dit Gaan Goed Met Die Mens” (Psalm 1)

Wet: (Ps 19:9-12)
Voorganger:  Die woord van die Here is volmaak:
Gemeente:  dit gee lewe.

V:  Die onderwysing van die Here is betroubaar:
G: dit gee wysheid aan dié wat nog onervare is.

V: Die bevele van die Here dui die regte koers aan:
G:  dit bring blydskap.

V: Die gebod van die Here is helder:
G: dit gee insig.

V: Die eise van die Here vir sy diens is goed:
G: dit staan altyd vas.

V: Die bepalings van die Here is reg:
G: elkeen van hulle is regverdig.

V: Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.
U dienaars laat hulle daardeur leer. Wie dit alles onderhou, groot is hul beloning.

Skuldbelydenis – Gebed: (Psalm 19:13-15)
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Apostoliese Geloofsbelydenis

Liedere

F369. “U Woord is ’n Lamp” 
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Cor Uys
© Brettian Productions
(Opgeneem op Oom Karoolus en Lente sing 80 bekende Jesus-kinderliedjies)

U woord is ’n lamp en ’n lig vir my pad.
U woord leer ons alles van Jesus.
U woord leer ons alles oor U.

F389. “Want U is Altyd by My (Altyd)” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Erich Posthumus en A de Wet
© 2007 Urial Publishing

1. Soos klere oud word en verslyt,
ja so sal alles vergaan.
Na ’n ruk vergeet die mens,
net mooi alles ja.

2. Modes kom en gaan verby,
helde staan en val.
Maar U, o Heer,
bly altyd in beheer.

Refrein:
Want U is altyd by my,
u Woord leef in my.
U is altyd by my
u Woord maak my vry.
U is altyd by my,
niks wat ek doen kan U van my skei.
U is altyd by my,
Heer ek is ewig in U hand.

3. Al wat ewig staan
deur die eeue is God se liefde.
Sy Woord staan vas, ja ewig vas
sodat niemand ooit sal twyfel

4. Wat Hy beloof het kan Hy doen,
daar’s niks onmoontlik nie.
Ja sy beloftes sal bly staan
daar’s niks onmoontlik nie.

Refrein:

F299. “Dit Gaan Goed Met Die Mens (Psalm 1)”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue / Toetrede / Gebed)
Teks en musiek: Braam Hanekom
© 2001 MAR Gospel Music Publishers

1. Dit gaan goed met die mens wat sy vreugde vind
in die Woord van God hom verbly.
Dit gaan goed met die mens wat dit bly oordink
en sondaars en spotters vermy.
Soos ’n boom geplant by ’n waterstroom
sy vrugte gee op sy tyd.
En sy blare bloei onbeperk
sy voorspoed lê wyd.

Refrein
Maak my regverdig Heer en lei my weer
op die regte pad en laat my sing.
Laat my hulde bring, laat my naderkom
aan u heiligdom en lei, lei my weer.

2. Dit gaan goed met die mens wat ’n pad kan loop –
reguit, soos deur God bepaal.
Dit gaan goed met die mens wat ligsinnigheid vrees
en sy gedagtes deur God laat vertaal.
Soos ’n boom geplant by ’n waterstroom
sy vrugte gee op sy tyd.
En sy blare bloei onbeperk
sy voorspoed lê wyd.

Refrein:

3. Soos kaf in die wind, uitmekaar gewaai,
is die sondaar in u oë.
Met skuld belaai, neer geboë, staan die spotter voor u oë.
Hy probeer vergeefs sy plek behou in die volmaakte kring
van regverdiges deur U gelei
wat steeds ’n loflied sing.

Refrein:

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond  (Psalm 19:15)”
Nav Psalm 19:15
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Afrikaans – Pro Deo);  Jacques Louw 2010 (Engels en Duits);  Frans du Toit & Nataniël Sebolai 2010 (Sesotho); Naòmi Morgan 2010 (Frans)
Melodie: MY WILLEM – Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

VONKK 103 “Maak Oop Die Poorte Vir Die Koning  (Psalm 24)”
Teks: Jubel, o nasies – Louwrens Strydom & Emma Badenhorst 1993; Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: PROMISED ONE – Israelse volksmelodie
Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en klavierbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Toetrede en Aanroeping / Lofprysing

Refrein
Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.

Vers:
Alles wat asem het behoort aan die Here.
Skepper van land en see en alles wat lewe.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.
Wie mag Gods woning sien – so heilig verhewe?
Net dié wat suiwer en opreg voor Hom lewe.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.
Dié wat Hom soek sal seën ontvang van die Here –
dié wat Hom dien en ook wil leef tot sy ere.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.

VONKK 6 “Geseënd Wie Goddelose Raad (Psalm 1)”
Teks: Driekie Jankowitz 2008 (Pro Deo)
Melodie: KAMEELDORING — Jacus Krige 2008
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek — Voorbereiding om God se Woord te hoor / Wil van God / Geloof en Vertroue

1.  Geseënd wie goddelose raad
nie volg tot in ‘n doodloopstraat.
Wie leef uit God se wyse raad,
oordink dit en vermy die kwaad.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.

2. Wie leef in vreugde uit Gods woord,
bring altyd goeie vrugte voort;
groei welig soos ‘n lewensboom,
gewortel by ‘n waterstroom.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.
Die Here sal jou veilig lei,
sy goedheid sal jou pad verbly.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10

Familie-oomblik

Nehemia 8 is ‘n heerlike manier om die betekenis van die wet aan kinders te verduidelik, nie in terme van die gebruiklike tien gebooie nie, maar in terme van die eerste 5 boeke van die Bybel:

  • Die wet bevat al die verhale van God en sy mense – lig ‘n paar uit: Abraham, Jakob, Josef, Moses, Josua.
  • Die wet bevat al die riglyne van God vir sy mense – beklemtoon die tien gebooie in terme van die twee tafels, liefde vir God, en liefde vir jou naaste
  • Fokus dan op die feit dat die volk egter dié verhale en dié riglyne vergeet het.
  • Nou hoor hulle dit asof vir die eerste keer en die verhale het hulle asems weggeslaan en die riglyne het hulle diep geraak, veral omdat hulle nie net daarvan vergeet het nie, maar omdat hulle nie meer daarvolgens gelewe het nie.
  • Sluit af deur die belangrikheid van die Bybel as God se verhale met sy mense en sy riglyne vir die lewe te beklemtoon.

Leer vir die hele gemeente gebare en sing saam Flam 76:

F76. Die Woord Van God
(RUBRIEK: Flammikidz – Woord van God)
Teks en musiek: Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)
(Deut 6)

Refrein: (x2)
(Want) Die Woord van God is ewig
(ja) die Woord van God is waar.
Die Bybel is die Woord van God
sal dit in my hart bewaar.

1. Die Woord van God is nie te hoog,
die Woord van God is nie te ver,
die Woord van God is naby my,
in my mond en in my hart.

Refrein: (x2)

2. As ek sit of as ek staan,
as ek lê of waar ek gaan,
praat ek daaroor want ek weet,
dan sal ek dit nooit vergeet.

Refrein: (x2)

3. Skryf dit as ’n teken op,
op jou hand en op jou kop,
in jou huis en op die deur,
dat jy dit uit jou kop kan leer.

Refrein: (x2)

4. My oë lees die woorde deur,
my ore hoor dit weer en weer,
my mond bely dit nog ’n keer,
my hande doen wat dit my leer.

Refrein: (x2)

of Vonkk 98 – leer die gebare en sing dit saam!

U Woord Is Die Lamp (Psalm 119:105)
(kanon)
1.  U Woord is die lamp (hande soos boek oopgevou)
wat die pad vir my wys. (swaai RH asof lamp swaai)

2.  U Woord is die lig (hande soos boek oopgevou)
wat die pad vir my wys. (marsjeer op een plek)

Of verduidelik hoe die Bybel soos ‘n padkaart is en hoe dit ons lei.  Vertel van ‘n keer wat jy verdwaal het en ‘n kaart jou gehelp het.  Of gebruik padtekens as beeld, druk prentjies van padtekens met teksverse op om in te kleur.

Preekriglyn

‘n Nuwe godsdiens, Yoisme, is geïnspireer deur die “oop-bron”-benadering.

Die “oop-bron”- benadering (“open source”) is oor die algemeen baie voordelig.  Wikipedia, die bekende aanlyn-ensiklopedie is ‘n voorbeeld hiervan.  ‘n Wye verskeidenheid mense bring hulle kennis en bou saam aan artikels oor allerlei onderwerpe (met die nodige verwysings), sodat ander weer daarby kan baat.

Baie rekenaarprogramme is ook voorbeelde van die “oop-bron”-benadering.  ‘n Programmeerder stel die kode agter sy rekenaarprogram gratis aanlyn beskikbaar.  Ander kan dan verbeterings en aanpassings aan die program aanbring.  Op dié manier baat die hele wêreld.

Die basiese benadering is dus dat almal kan saamwerk om ‘n gesamentlike standaard, en gesagvolle bron, daar te stel.

Yoisme is ‘n nuwe godsdiens wat met die oop-bron-benadering werk.  Dit is geskep deur ‘n sielkundige van Massachusetts in die VSA.  Die bron van kennis is die groot hoeveelheid mense wat kreatief oor die internet saamwerk om ‘n geloofwaardige godsdienstige gesag en bron van waarheid te skep.  Hulle volg die open source truth process as metode.

Yoisme het ‘n hele aantal medewerkers.  Dit vermy tradisionele godsdienstige bronne van gesag en die beginsel van goddelike openbaring.  Onder die heiliges van Yoisme tel Bob Dylan, Albert Einstein en Sigmund Freud.

Die stigter, Dan Kriegman, sê hy het Yoisme in 1994 gestig om godsdiens vatbaar vir verandering te maak.  Dit bevorder openheid vir die wysheid van mense regoor die wêreld.  Die “Boek van Yo,” die handleiding van Yoisme, kan verander en verhelder word.  Die menslike gees is heilig en het direkte toegang tot die waarheid.  Daar is geen ander gesag nie.  Oop-bron godsdiens beliggaam hierdie waarheid.

Belangrike vrae

Die vraag is natuurlik of Kriegman en sy Yoisme reg is.  Oop-bron-tegnieke werk briljant as mens rekenaarprogramme skryf of ensiklopedieë saamstel.  Maar kan mense self die diepste koers van ons lewe, of die belangrikste vrae van die lewe, beantwoord?  Kan konsensus ons help om te weet waar ons vandaan kom, hoe dinge ten diepste aanmekaar gesit is, en waarheen ons op pad is?

Hoe klop moderne pogings om die waarheid uit onsself op te diep met die ervaring van mense oor die eeue?  Kom ons kyk wat gebeur in ons teks.

In groot moeilikheid

Nehemia 8 speel af in die afloop van die ballingskap waarin die volk van die Here in die sesde eeu v.C. beland het.  Die Bybel verduidelik die ballingskap as God se reaksie op eeue van ongehoorsaamheid deur die volk.  (Ons het in die afgelope weke in die prediking hieraan aandag gegee.)

Die ballingskap is teen die tyd van Nehemia 8 amptelik reeds verby.  Die opkoms van die Persiese Ryk onder Kores het dit help beëindig.  Nadat Kores Babilon verslaan het, het hy volgens 2 Kronieke ‘n dekreet uitgevaardig wat die herbou van die tempel in Jerusalem gemagtig het.  Hierna het groot getalle Jode teruggekeer, veral tussen 538 v.C. en die troonsbestyging van Darius in 522 v.C.  Darius is later deur Artaxerxes 1 opgevolg.

Die gebeure waarvan in Esra en Nehemia vertel word, kan min of meer een honderd jaar na die terugkeer uit die ballingskap geplaas word; gedurende die regeringstyd van die Persiese koning, Artaxerxes 1 (ook bekend as koning Artasasta, 465 – 424 v.C.).

Dit is duidelik dat daar meer as een terugkeer was, maar ook dat talle Jode in Babilon agtergebly het.  Die terugkerende ballinge is nie met oop arms ontvang nie.  Beide oorblywende Jode en Samaritane het bedreig gevoel deur die terugkerendes.  Nehemia het ook te kampe gehad met die weerstand van die plaaslike regeerders, maar omdat hy deur die koning aangestel is, het hy oor die mag beskik om sy taak te kon volvoer.  Die belangrikste oogmerk van sy koms na Jerusalem was om die stad te beveilig.  In terme van die destydse wêreld het dit beteken dat hy ‘n muur moes bou.  Dit het met groot moeite en stryd gepaard gegaan.

Mens kan jou kwalik die trauma waaraan die mense blootgestel was, indink.  Die ballingskap was ‘n massiewe historiese ontworteling, maar die terugkeer was nie makliker nie.  Stryd, spanning en worsteling het voorgelê.  Die beloftes van die profete oor die terugkeer en genesing van die volk het ook gelyk asof dit nie in vervulling gaan nie.

In ‘n situasie soos hierdie wil mens die diepste lewensvrae vanuit betroubare bronne beantwoord.  Jy kan dit nie bekostig om jou huis op sand te bou nie.  Jy is versigtig vir konsensus, want konsensus het die Jode al diep in die ellende gedompel.

Godsdienstige krisis

Die volk het alles weens hulle sonde verloor.  Hulle diepste krisis was dit wat in hulle verhouding met God skeefgeloop het.

Voor die ballingskap het die volk gelewe soos hulle wou.  Hulle het hulle eie voordeel gesoek en God se gebooie geïgnoreer.  Agter hierdie ongehoorsaamheid het hulle godsdienstige klem op God se onverbreekbare beloftes gelê.  Hulle het gedink die tempel is in Jerusalem, God se beloftes aan Dawid van ‘n vasstaande koninkryk, en God se beskerming waarborg ‘n blink toekoms.

Die foute het gekom deurdat die verpligtinge wat God se verbond op hulle gelê het, vergeet is.  Die verbond wat God deur Moses met hulle gesluit het, werk met genade (hulle is verdiensteloos uit Egipte gered en God se volk gemaak), maar ook verantwoordelikheid: hulle moet die Here dien en gehoorsaam.

As mens op vaste beloftes bou, en jy vergeet die verantwoordelikheid van gehoorsaamheid, skep jy valse sekerheid.  Dit is hierdie valse sekerheid wat die Jode roekeloos gemaak het.  Dit was die rede waarom hulle die profete se waarskuwing oor hulle sonde geïgnoreer het.

Wat sonde betref, het die tempel en die offerdiens in die tempel hierdie valse sekerheid versterk.  Indien jy verkeerd is, is geglo, kon jy bloot met die bring van ‘n offer as’t ware ‘n afkoopboete vir jou sonde betaal.  Dit is soos ‘n spoedkaartjie vandag.  Jy ry te vinnig, jy word gevang, jy betaal.  Dan is daar geen gevolge nie.

Hierdie godsdienstige bravade het met die ballingskap in die slag gebly.  Die ou sekerhede het geblyk valse sekerhede te wees.  Terug in die land moes Nehemia en ander die volk nou leer en lei.

Die bron waaruit die volk nou onderrig word oor die regte weg, is die wetboek van die Here.  Dit verskaf leiding oor die regte koers.  Dit gee ‘n vaste fondament vir die lewe.  Dit is die bron vir betroubare kennis oor die groot vrae van die lewe.

Die wetboek van die Here

Die wet van die Here, die wetboek van Moses, speel ‘n sentrale rol in ons teks.  Die hele volk kom soos een man bymekaar op die plein voor die Waterpoort en vra na die wetboek van Moses, waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken staan.  Esra, die skrifgeleerde, lees daaruit voor, van ligdag tot die middel van die dag.  Die aandag van die hele gemeenskap is by die wetboek.  Hulle staan trouens uit eerbied op toe Esra die wetboek van die Here oopmaak.

Inhoud van die wetboek

Die wetboek van Moses is die naam vir die eerste vyf boeke van die Ou Testament.  Dit is die Bybel wat die Jode destyds gehad het

Ons mag dink ‘n wetboek is ‘n stel ingewikkelde klousules en bepalings – iets wat net ingewyde kundiges kan verstaan en uitlê.  Moderne wetboeke lyk mos so.  Daar wag ‘n verrassing op mense wat so dink.  Vir ons mag die term “wetboek” misleidend wees.  Dit klink na ‘n klomp reëls en regulasies.  Die wetboek bevat egter veel meer:

  • Die wet bevat al die verhale van God en sy mense – God se pad met mense soos Abraham, Jakob, Josef, Moses, Josua.
  • Die wet bevat al die riglyne van God vir sy mense.  Die woord “wet” (torah in Hebreeus) beteken eintlik onderrig.  Die wet onderrig ons hoe die wêreld inmekaarsteek, sodat ons in die regte rigting kan lewe en die regte koers kan inslaan.  Die wet gaan oor ‘n lewe van liefde.   Ons kry dit bv. in die tien gebooie met sy twee tafels: liefde vir God, en liefde vir jou naaste.

Die wetboek van die Here is deurgaans verskriklik eerlik.  Dit openbaar God se diepste bedoelinge.  Dit vertel hoedat God ‘n betroubare wêreld geskep het, wa egter deur konflik en opstand verskeur geraak het.  Tog bly God mense opsoek.  God se gemeenskapskeppende passie en God se soek na die herstel van die wêreld – deur sy volk gerig op alle nasies – bly die dryfkrag agter God se lewe met die wêreld.

Die wetboek teken mense ook in al hulle gebrokenheid.  Dink aan Abraham, Isak en Jakob se verskriklike mislukkings.  Tog is God nie te trots om die God van Abraham, Isak en Jakob genoem te word nie.  Dit getuig van sy brandende liefde vir mense en God se passie om mense op die regte koers te lei.  Dit neem jare om mense te vorm om betroubare vennote vir God te wees.  God bly in sy trou nogtans betrokke by mense.

Ons kan dit vandag duidelik hoor: die wetboek is die geskiedenis van God se betrokkenheid by mense en hul wêreld.  Dit vertel van God se lewegewende koinonia met sy skepsele, en God se onderwys oor die regte koers om in te slaan.  Die Bybel – ons veel groter versameling van die geskiedenis van God met die skepping – is geheel en al só.  Dit is nie ‘n dogma, ‘n reëlboek, of ‘n ideologie nie.  Dit is ‘n uitnodiging om saam met God – dié God wat ons in die Boek leer ken – op reis te gaan, ons vertroue op Hom te plaas,  en met dié God te lewe.

Wetboek vergeet

Nehemia 8 illustreer duidelik dat mense geneig is om te vergeet.  Die tragedie is dat kennis van God, God se bedoelinge en gepaste reaksie (in wedersydse liefde en trou) op God se aksie verlore kan raak, en inderdaad geraak het.

Dit is natuurlik altyd die gevaar.  Kennis en begrip vir die groot werke van God verdwyn maklik.  God word vergeet.  God se plek in ons daaglikse, praktiese bewussyn word maklik vervang deur ander dinge wat ons liewer onthou.

Opvallend dat die volk weer kennis maak met die wetboek in ‘n publieke ruimte.  Hulle kom by die Waterpoort bymekaar en luister saam na die wetboek.  Dit is ‘n publieke ruimte waar mans, vrouens en kinders bymekaar is.

Hulle hoor die wetboek as die verhaal van God se betrokkenheid by hulle hele lewe.  Die woorde en dade van God, waaruit die lewenskoers wat Hy van sy volk verlang duidelik blyk, geld vir die hele lewe.  Dit geld veral vir die publieke lewe.  Dit het te doen met hoe Jerusalem herbou word, en hoe mense in elke faset van hulle lewe saamlewe.

Die hoor geskied ook in ‘n gemeenskaplike, kommunale ruimte.  Dit is God se volk wat sáám luister, saam onderrig word en sáám reageer op die Woord.  Die Bybel is nie bloot ‘n binnekamerboek nie.  Net so min as wat dit ‘n boek is wat bloot ons persoonlike, geestelike lewe wil beïnvloed, is dit ‘n boek wat alleenlik deur individuele gelowiges, los van mede-gelowiges, gelees, verstaan en uitgeleef kan word.

Daarom het die ou Jodedom soveel van die sinagoge as publieke ruimte van gesamentlike onderrig gemaak.  Daarom ook dat die Christelike erediens – reg van die begin af – ook ‘n ruimte vir gemeenskaplike onderrig uit die Woord was.  So is dit vandag nog in ons gemeente.  Daarom moet gelowiges die erediens ‘n baie hoë prioriteit in hul lewens gee.

Wetboek uitgelê

Daar by die Waterpoort hoor die Here se volk die wetboek asof vir die eerste keer.  Die verhale het hulle asems weggeslaan.  Die riglyne het hulle diep geraak, veral omdat hulle nie net daarvan vergeet het nie, maar omdat hulle nie meer daarvolgens gelewe het nie.

Die geestelike leiers begelei die volk om die wetboek te verstaan.  Die Hebreeuse word bîn wat hier telkens met “verstaan” vertaal word, beteken iets soos “onderskei”, of “om te weet wat reg is”. Dit kan egter ook dui op die weg van verstaan, of die ervaring waarlangs ‘n mens leer om te verstaan. Bloot die frekwensie waarin dit hier gebruik word, is alreeds ‘n aanduiding dat dit ‘n sleutelwerkwoord in die teks is.

Wat beteken onthou én verstaan?

Die belangrike vraag is: Wat beteken dit in die lig van dié gebeure om te verstaan en uit te lê?

Dit gaan om baie meer as bloot verstandelike begrip, hoewel dit ook daaroor gaan.  Dit gaan om baie meer as informasie, hoewel dit ook daaroor gaan.  Dit gaan om baie meer as nuwe feite op die tafel, hoewel dit ook daaroor gaan.

Dit gaan oor ken en verstaan, wat jou help om jouself in die lig van God se teenwoordigheid, God se handele, en God se bedoelinge te leer sien en verstaan soos jy is.  Die wetboek funksioneer soos ‘n spieël waarin jy jouself sien vir wie jy is, oomblikke waarin jy dan ook God en God se hart sien, en verstaan waarheen God met jou onderweg wil wees.

Wanneer die wetboek (as spieël) as selfverstaan funksioneer, is dit nie meer jy wat in beheer van die “ken”, “verstaan” en “uitlê” is nie.  Nou is dit nie meer die wetboek wat verstandelik uitgelê word en ‘n bron van interessante feitekennis is nie.

Nee, dit is skielik die wetboek wat vir jou uitlê.  In ‘n vorige preekskets skryf die prediker die volgende paragrawe:
Die volk van die Here maak die verrassende ontdekking dat dit nie soseer hulle is wat die wet verstaan nie, maar dat die wet van die Here hulle verstaan.  Hulle ontdek dat dit nie soseer hulle is wat die wet lees nie, maar dat die wet van die Here hulle lees.  Wat gebeur, is dat hulle in die spieël van die wet hulleself vir die eerste keer weer sien.  Die wet ontbloot hulle ontrou, hulle vergeetagtigheid, hulle liefdeloosheid en hulle gebrek aan lojaliteit teenoor die Here.  By die aanhoor van die wet is dit asof elke woord dieper in hulle kyk as wat hulle in staat is om in hulleself te sien.  In die lig van die wet sien hulle hulleself in die oë van die Here.

Die ontdekking waaroor dit hier gaan, is iets geweldigs.  Want dit gaan oor ‘n ontdekking wat ons vandag nog maak. Die ontdekking dat ‘n mens die Bybel jou hele lewe lank soos ‘n blinde kan lees in ‘n poging om iets van Adam, Abraham en Jakob te kan verstaan.  Wie was Adam?  Waar kry Abraham sy geloof vandaan?  Hoe kon die Here ‘n bedrieër soos Jakob kies?  En dan kom jy skielik agter, dis nie ek wat die storie van Adam, Abraham en Jakob lees nie.  Hierdie stories lees my. In die stories van Adam, Abraham en Jakob sien ek nie stokou figure wat soos skimme ontleed moet word nie, maar in hierdie mense sien ek myself.  Ek is Adam.  Ek trek soos Abraham.  Ek is Jakob, die bedrieër.

Op die vraag aan die begin: Natuurlik is dit so dat ons ons eie voorkeure en ons eie agendas in die Bybel inlees.  Almal van ons.  Ons kan dit lank doen, selfs jare of ‘n leeftyd lank.  Maar die Bybel is nooit aan ons lees daarvan uitgelewer nie.  Daar kom ‘n dag, ‘n oomblik wanneer dit nie my oë is wat die Woord aanstaar nie, maar dat die oë van die ewige Woord my lees. Dit is die oomblik dat die skille van ons oë afval. Die oomblik van seerkry en pyn, maar dis ook die oomblik van bevryding en redding.

Soos ‘n tweesnydende swaard

Ons kan die Bybel lees soos ons wil. Onthou net, daar kom ‘n dag dat die Bybel ons lees. Daarom kan Paulus sê dat die Woord soos ‘n tweesnydende swaard is.  Dit vlek oop, en juis daarom genees dit. Ons kan soos sommige die oordeel verswyg en soos ander die liefde minag.  Maar dis deur die oordeel heen wat ons die liefde ontdek en deur die liefdeloosheid heen, wat die oordeel ons vind.

In ons teks word die volk se intense reaksie op die uitlê van die wet, wat hulle uitlê, duidelik geteken.  Die volk word treurig en huil.  Hulle is onrustig, gevul word hartseer oor die wyse waarop hulle die pad met God byster geraak het.

God se bedoeling word egter ook duidelik.  Die wonde van die tweesnydende swaard is eintlik genesende chirurgie.  God se bedoeling, deur die blootlegging van die kwaad, is genesing, herstel, lewe, vreugde en gehoorsaamheid.  Luister na verse 11 en 12:

Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”  Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is ‘n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”

Wat net die kerk kan doen

Tot vandag toe is die gebeure daar by die Waterpoort vir ons rigtinggewend.  Laat ons as gemeente en as gelowiges onsself bly gee en bly toewy aan gesamentlike luister na die Here se Woord.  Laat ons weerloos voor die Woord bly, want dit is die Woord van die lewende Here.  Laat ons steeds gevorm word deur die hoor en die doen van die Woord.

En kom ons gee ons lewens daarvoor om dié Woord lewend te hou in ons wêreld.  Kom ons praat daarvan, getuig daaroor, beliggaam dit met ons lewens.  Dit is wat net die kerk, spesifiek al die lidmate van die kerk, in ons tyd kan doen.

Yoisme is ‘n doodloopstraat

Israel se godsdienstige selfregverdiging voor die ballingskap het hulle in ‘n doodloopstraat laat beland.  God moes ‘n lang pad met hulle loop totdat hulle weer die wetboek kon hoor daar by die Waterpoort. Lees, hoor, bekeer en doen is die weg tot lewe.

Die fatale fout van godsdienstige benaderings soos die Yoisme is dat dit geen eksterne gesag kan aanvaar nie.  Dit is selfingenome, en skep ‘n godsdiens na die beeld en gelykenis van mense.  Yoisme leef in ‘n geslote wêreld.  Yoisme se wêreld is net so geslote soos baie selfingenome, selfregverdigende mense se wêreld.  Dis mense wat vir hulself wil besluit wat reg en verkeerd is, wat hulle sal doen, mag doen, kan doen en gaan doen.

Daarom sal ‘n godsdiens soos Yoisme nooit bekering ken nie.  Dit kan nie hartseer raak en huil oor persoonlike en gesamentlike sonde en mislukking nie.  Daarom sal dit ook nooit die vergifnis van ‘n regverdige, liefdevolle Vader ken nie.  Daarom sal dit ook nooit regtig uitbundig kan lag, vertroosting kan ken, en gewyde, feesdae uitroep nie.

Net die evangelie kan mense red uit selfregverdigende Yoistiese godsdienstige ervarings.

Die dissipline om te buig voor die Woord met ‘n nederige hart en ‘n leerbare gees, verg dat mens God se gesag oor jou lewe aanvaar.  Nie gesag omdat jy God bloot vrees nie.  Gesag, omdat jy die verhale, onderwysinge en riglyne van God se wetboek as die uitnemende weg tot die lewe leer ken het en vertrou.  Gesag, omdat jy die uitnodiging om saam met God te leef, aanvaar het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 255 “Woord van God, Woord van die lewe” of
VONKK 6 “Geseënd Wie Goddelose Raad” of
Flam 389 “Want U is Altyd by My (Altyd)

Seën
Aäronitiese seën (Num 6:24-26)

Respons: Lied 312

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.