Derde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jesaja 9:1-4
9 Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
2U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak,
hulle blydskap groot gemaak.
Hulle het hulle in u teenwoordigheid
verbly
soos mense bly is in die oestyd,
soos hulle juig wanneer hulle
die buit verdeel.
3Soos die dag toe Midian verslaan is,
het U die juk verbreek
wat op die volk gedruk het,
die stok waarmee hulle geslaan is,
waarmee hulle gedryf is.
4Elke soldateskoen wat in die oorlog
gebruik is,
en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word,
deur die vuur verteer word.

Psalm 27:1, 4-9
Die Here is my lig en my redder
27 Van Dawid.
Die Here is my lig en my redder,
vir wie sou ek bang wees?
Die Here is my toevlug,
vir wie sou ek vrees?

2As misdadigers op my afstorm
om my dood te maak,
my teëstanders en my vyande,
dan is dit juis húlle wat struikel en val.
3Al sou ’n leër teen my stelling inneem,
sal ek nie bang word nie.
Selfs al sou die aanval op my begin,
sal ek nog steeds vertroue hê.

4Net een ding het ek van die Here gevra
en dit sal ek najaag:
dat ek my hele lewe lank
in sy huis mag woon
om sy goedheid te belewe
en daaroor na te dink in sy tempel.
5Op die dag van gevaar sal die Here
my wegsteek in sy huis,
my veilig laat skuil in sy woonplek,
my hoog op ’n rots laat staan;
6ek sal in sy woonplek
onder trompetgeklank
my offers bring,
ek sal ’n lied sing,
ek sal sing tot die eer van die Here
terwyl ek neerkyk
op die vyande rondom my.
7Luister tog na my, Here, as ek roep;
wees my genadig en verhoor my gebed.
8Ek onthou wat U gesê het:
“Julle moet My kom dien!”
Ek is hier om U te dien, Here.
9Moet U tog nie vir my verberg nie,
moet my tog nie wegstuur
terwyl U toornig is nie,
want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie,
want U alleen is die God wat my red.

10Al sou my vader en my moeder
my verlaat,
die Here sal my onder sy sorg neem.
11Leer my u wil, Here,
en lei my op ’n gelyk pad
sodat my vyande nie hulle sin kry nie.
12Moet my tog nie oorgee aan die venyn
van my teëstanders nie,
want daar staan vals getuies teenoor my en
hulle blaas geweld teen my aan.
13As ek darem nie geglo het dat ek die
goedheid van die Here sal sien in
die land van die lewendes nie…!
14Vertrou op die Here!
Wees sterk en hou goeie moed!
Ja, vertrou op die Here!

1 Korintiërs 1:10-18
Verdeeldheid in die gemeente
10Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. 11Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. 12Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.”

13Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? 14Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. 15Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. 16Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. 17Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.

Christus die krag en die wysheid van God
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

19Daar staan tog geskrywe:
“Die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak.”
20Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? 21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. 25Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.

26Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. 27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

Fokusteks

Matteus 4:12-23
Die versoeking in die woestyn
(Mark 1:12–13; Luk 4:1–13)
4 Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.
3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe:
’n Mens leef nie net van brood nie
maar van elke woord
wat uit die mond van God kom.”
5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe:
Hy sal sy engele oor jou opdrag gee
en:
Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen ’n klip
sal stamp nie.”

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
8Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe:
Die Here jou God moet jy aanbid en
Hom alleen dien.”
11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Die eerste optrede van Jesus
(Mark 1:14–15; Luk 4:14–15)
12Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy, gebied van Sebulon en gebied
van Naftali, aan die seekant
en oorkant die Jordaan,
Galilea waar die heidene woon!
16Die volk wat in duisternis woon,
het ’n groot lig gesien;
hulle wat in die skemerland
van die dood lewe,
vir hulle het die lig opgegaan.”
17Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Die roeping van die eerste dissipels
(Mark 1:16–20; Luk 5:1–11)
18Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, sien Hy twee broers: Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas. Hulle was besig om ’n werpnet in die see uit te gooi, want hulle was vissers van beroep. 19Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

20Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
21Toe Hy daarvandaan verder gaan, sien Hy twee ander broers: Jakobus ’n seun van Sebedeus, en sy broer Johannes. Hulle was in ’n skuit saam met hulle pa besig om hulle nette reg te maak. Jesus het hulle geroep, 22en hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.

Weldade aan baie mense
(Luk 6:17–19)
23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.

24En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. 25Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Aanvangswoord:  (uit Jes 9:1-2).

Seëngroet

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1 (herhaal 2-3 keer)”

Verootmoediging

Gebruik as Wet die samestelling uit: 1 Korintiërs 1

Skuldbelydenis

Vryspraak

Aanvaarding van die vryspraak: Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis: Die Belydenis van Nicea

Lofliedere
Lied 190 Grote God aan U die eer 1,2,3 en/of
Lied 196 O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4

Epiklese

Skriflesing: Matteus 4:12-23

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 175 “Majesteit vs 1”

Aanvangswoord 
“Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in ’n donker land was, het ’n lig geskyn. U het dié wat nie meer ’n nasie was nie, baie gemaak, hulle blydskap groot gemaak. Hulle het hulle in u teenwoordigheid verbly soos mense bly is in die oestyd . . .” (uit Jes 9:1-2).

Seëngroet
2Aan die gemeente van God in ……………………………………………………., wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.

3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(1 Korintiërs 1:2-3)

Lied 176 “Halleluja, U is Koning vs 1” (herhaal 2-3 keer)

Verootmoediging

Gebruik as Wet die samestelling uit 1 Korintiërs 1
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

21Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.

27En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, 28en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. 29Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. 30Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. 31Daarom, soos daar geskrywe staan:
“Dié wat wil roem,
moet in die Here roem.”

10Ek doen ’n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.

Skuldbelydenis
Voorganger: Ons bely die verdeeldheid en onenigheid, politiekery en faksievorming in ons samelewing en werksplekke.
Gemeente: Here, wees ons genadig.

Voorganger: Ons bely die verdeeldheid en onenigheid, die hardkoppigheid en onvergewensgesindheid in ons huise, huwelike en vriendskappe.
Gemeente: Christus, wees genadig.

Voorganger: Ons bely die verdeeldheid en onenigheid, die kompetisie en jaloesie in ons gemeente. (Indien van toepassing…)
emeente: Here, wees ons genadig.

Voorganger: Ons bely die wysheid en die krag van die kruis van Christus.
Gemeente: Christus, wees genadig.

Vryspraak
18Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. (1 Kor 1:18)

Aanvaarding van die vryspraak
Lied 239 “Jesus rots vir my geslaan 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis: Die Belydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Lofliedere
Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3” en/of
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Liedere

F60. “U Liefdeslied Vir My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee
U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.
Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

F288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat voel

Pre-Chorus 1:
Refrein:

3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, gee ons die lamp van die liefde wat nooit opraak nie, sodat dit in ons mag bly brand en sy lig laat skyn vir hulle om ons. Deur die helderheid daarvan, gee ons ’n visie van die Heilige stad waar die ware en ewige Lig, Jesus Christus, lewe en saam met U en die Heilige Gees regeer, nou en vir altyd. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Basisliturgie vir tyd na Epifanie, Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Skriflesing: Matteus 4:12-23

Prediking
Familie-oomblik

Familie-oomblik

Kom ons speel ’n speletjie: Almal wat van pizza hou, staan! Nou almal met bruin hare! Wat van almal met swart skoene! (Gebruik gerus nog van jou eie voorbeelde.)

Nou wie het hierdie speletjie van ons gewen? Ons almal het gewen, want ons is almal verskillend en uniek, tog is ons saam God se kinders, geroep deur Jesus om Hom te volg deur saam te werk en mekaar te help en lief te hê!
(uit Matt 4 en 1 Kor 1)
Uit Bybel-Media se Woord en fees – Preekstudies en liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2013-2014

AKTIWITEIT:
Matteus 4:19 Hy sê toe vir hulle: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

Trek die lyne van (a) tot (j) om ‘n prentjie van die vis te teken.

Preekriglyn

Heidi Baker se bediening, Iris, gee daagliks kos aan meer as 10 000 armes in Pemba, in die noorde van Mosambiek. Hulle bedryf ook honderde kinderhuise, skole en klinieke in Mosambiek, een van die armste lande in die wêreld.

Jaco Strydom van Echo Jeugontwikkeling vertel van sy ontmoeting met haar: “Haar hele wese skree liefde en eenvoud. Jy sien haar bykans nooit sonder ’n kind op die arm of onder ’n boom besig om in Portugees te gesels met iemand oor hul probleme nie. Die hele ‘Village of Joy’ in Pemba wemel van ‘haar kinders.’ Hulle noem haar ‘Mamma Aida’. Baie van die jongmense wat vandag leiersposisies in dié gemeenskap beklee, het jare gelede daar aangekom as honger en verwaarloosde babas of kleuters.”

Volgens Jaco beskou sy Moeder Teresa as haar grootste menslike rolmodel: “Hulle teologie is liefde. So eenvoudig en so moeilik soos dit. Dit is asof hulle hele wese sê: ‘Jy kan nie jou lewe vir Jesus gee sonder om jou lewe ook vir die wêreld te gee nie!'”

Nuwe oriëntasiepunt

Wanneer mens kies om Jesus na te volg, leer jy ‘n nuwe oriëntasiepunt vir jou lewe aan. Jesus is hierdie nuwe oriëntasie, en Jesus se regering is die koersbepaler.

Die eerste woorde waarmee Jesus se bediening begin, is: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” “Bekeer” beteken “verander van koers,” “maak ‘n ommekeer,” “slaan ‘n nuwe rigting in.” Heroriënteer jou! Waaraan? Jesus sê: aan die regering van God (“koninkryk van die hemel”) soos dit in en deur die bediening en koningskap van Jesus self beliggaam word.

Heidi Baker en Moeder Teresa is voorbeelde van mense wat Jesus se roepstem vir hulle gehoor het, en Jesus konkreet navolg.

Dalk verstaan die nuwe Pous, Franciskus, die stem van Jesus ook verassend helderder as talle ander. Hy het in Desember vier daklose persone genooi om die nagmaal saam met hom te vier, en daarna saam met hom ontbyt te geniet – om sy 77ste verjaardag te vier. Dié ontbyt het by sy nederiger nuwe woonplek plaasgevind, waar hy bly eerder as om in die tradisionele luukse pouslike paleis te woon.

Roeping

Die navolging van Jesus, die Koning, die heroriëntasie aan die regering van God, word in die Matteus-evangelie baie konkreet uitgebeeld. Jesus het nie net ‘n algemene oproep en appèl op sy navolgers se lewe nie. Jesus maak die dissipels roeping baie konkreet en spesifiek. Dit geld ook vir ons, moderne dissipels. Wie die Matteus-evangelie lees kom duidelik agter dat Jesus mense roep – vandag nog – en van ons vra om op sy roepstem te reageer.

Dramatiese roepingstoneel

Die roeping van die eerste dissipels word in ‘n dramatiese toneel beskryf. Jesus stap langs die groot binnelandse meer, die See van Galilea, en roep vissermanne om Hom te volg. Dit is ‘n publieke toneel, en mense wat aan die werk is, word geroep.

Die verstommende reaksie is dat hulle hul werkplek net so verlaat en agter Jesus aanstap. In Jakobus en Johannes se geval is dit die familiebesigheid wat hulle verlaat. Hulle snap die heroriëntering wat Jesus vra, en gee hulle lewe daarvoor.

Vanuit ‘n menslike perspektief is die dissipels se optrede ondenkbaar en onverstaanbaar. Hulle reaksie getuig daarvan dat hulle God hier aan die werk stem. Hierdie eerste dissipels hoor God roep, en volg daarom. Roeping in hierdie sin is Goddelik – God dring ons, God laat ons reageer soos ons reageer op sy roepstem. Dit hoef ook nie verklaar óf verstaan te word nie.

Roeping het ‘n prys

Jesus ontwrig die dissipels deur hulle te roep. Simon-Petrus en Andreas moet hulle dagtaak agterlaat, die wyse waarop hulle hulself en moontlik die families waaraan hulle behoort het, versorg het. Jakobus en Johannes verlaat die familiebesigheid. Dit is asof Jesus die praktiese ekonomiese realiteite waarin mense hulle bevind op losse skroewe plaas. Dit kan nie tussen jou en die roeping wat God vir jou het, staan nie.

Die Christelike roeping is nie maklik nie. Christus vra absolute navolging. Die dissipels het hulle werk en verantwoordelikhede gelaat en Jesus gevolg. Jesus vra dat geroepenes hulle kruis moet optel en Hom volg (Matt 8:19-22; 10:28, 38 ev; 16:24 ev; 19:29). Roeping verg dat die wil van die Vader gesoek en gedoen moet word (Matt 7:21; 12:46 ev).

Dit is ook moeilik. Jesus se bediening en die dissipels se roeping vind plaas in die skadu van Johannes die Doper se arrestasie. Jesus berei sy dissipel voor op vervolging en swaarkry (Matt 10:16 ev; 24:8 ev).

Daar is niks romanties aan die dramatiese wyse waarop Jesus mense roep en hulle lewe heroriënteer nie. Dit verg ‘n prys.

Natuurlik moet ons nie die roeping van die eerste dissipels weg van hulle dagtaak tot ‘n reël vir elke Christen verklaar nie. Veral die Gereformeerde tradisie maak baie daarvan dat Christus ons roep tot ons dagtaak, tot gehoorsame navolging in die verbande waarin ons onsself bevind.

Hiervan het ons baie nodig. Geroepe onderwysers, sakemense, bestuurslui, ambagslui, werkers, leiers. Ons het mense nodig wat hul dagtaak heroriënteer aan die navolging van Jesus, en op die plekke waar hulle werk, ontspan, en die gesinne en huwelike waarin hulle verkeer, die Here dien en gehoorsaam op die radikale wyse wat Jesus vra.

Roeping is altyd ontwrigtend – of jy jou dagtaak verlaat, en of jy jou dagtaak vanuit Jesus as oriëntasiepunt aanpak. Dieselfde geld die ander verbande waarbinne ons leef. Daar is altyd ‘n kruis om op te neem.

Jesus, die Geroepene

Die Jesus, wat dissipels roep, tree self op as Geroepene. Reeds vanaf die aankondiging van Jesus se geboorte, is dit duidelik dat Jesus ‘n bepaalde roeping het. Die Engel sê aan Josef om Hom Jesus te noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sal verlos (1:21). Hierdie roeping blyk ook wanneer Johannes Jesus met ‘n bekeringsdoop doop, en Jesus só die sonde van mense op sy skouers neem.

In ons teks begin Jesus sy roeping aktief uitvoer. Ons kan ‘n paar dinge leer oor ons eie roeping as dissipels deur te let op die wyse waarop Jesus sy roeping uitgeleef het. Drie kenmerke van Jesus se roeping is (4:23):

  • Verkondiging
  • Lering
  • Genesing
Verkondiging as roepingsvervulling

In ons teks word die verkondiging van Jesus saamgevat deur te sê: “Bekeer julle want die koninkryk van die hemele is naby”. Dit is wat Johannes verkondig het (Matt 3:2), wat Jesus verkondig het (Matt 4:17) en wat aan ons opgedra is om te doen (Matt 10:7).

Verkondiging is die publieke bekendmaking dat daar ‘n nuwe werklikheid ter sprake is. God regeer, en mense moet hulle daaraan oriënteer. Alle realiste moet kennis neem dat daar ‘n stel feite is wat van wesenlike belang is vir almal om van kennis te neem. God is werklik, God se regering is werklik, en God tree beslissend in die wêreldgeskiedenis op deur die bediening van Jesus van Nasaret. God se koningskap word deur Jesus gevestig, en dit het beslissende betekenis vir die hele wêreld.

Om jou te bekeer is ook iets wat weer en weer, keer op keer deur elke geroepene gedoen moet word. Ons het nodig om daagliks te kies om God deur Jesus te gehoorsaam.

Lering as roepingsvervulling

Dit verkondiging van bekering en koms van die koninkryk hou verband met die funksie van onderrig en leer. In Matteus word Jesus uitgebeeld as ʼn rabbi, die leermeester, wat op die berge, in die sinagoges die dissipels en die skares leer (Matt 11:1; 13:54). Om andere te leer is ook deel van Jesus se finale opdrag: “en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt 28:19).

Die lewende Here Jesus self is die Leermeester. Die inhoud van die leer is die woorde en dade van Jesus soos wat dit in die Nuwe Testament vir ons opgeteken is. Dit wat Jesus ons geleer het, moet ons in sy Naam aan ander leer. In hierdie proses is Jesus self aanwesig en lei Hy mense op die regte pad deur sy Woord en Gees.

Die implikasie hiervan is belangrik. Ons moet almal leer en geleer word. Ons word nie reg gebore, en ons heil lê nie daarin om lewenslank net ons eie begeertes en oortuigings uit te leef nie. Ons het lering nodig. Die weg moet aan ons gewys word, die belangrike feite aan ons verkondig word. Ons moet deur Jesus se leer gevorm word, sodat ons reg kan lewe. Waar nodig, moet ons ons voortdurend bly bekeer.

Genesing as roepingsvervulling

Jesus se roeping behels ook genesing. Mense met allerhande siektes word na Hom gebring, en Hy genees hulle. Genesing was ‘n sentrale deel van sy bediening, en demonstreer die deurbreek van die regering van God in die wêreld.

Vandag nog is genesing ‘n geskenk uit die hand van God. Genesing kom in baie vorme, en op baie maniere. Ons moet aan genesing nie net in terme van individuele liggaamlike siekte dink nie. Daar is ook sosiale of kollektiewe soorte siekte, soos armoede, geweld en verslawing. Daar is ook baie gestaltes van genesing, van wonderbaarlike genesing deur gebed tot genesing deur mediese ingrepe, of die aanpas van mense se lewensstyle, die veranderinge van onderlinge gesindhede en die impak van vergifnis op mense se gesondheid. Hierdie genesing kan nie van mekaar losgemaak word nie

Ewenwel, die regering van God bring hoop op genesing. Roeping behels ook genesing. Vandag dink ons Christus se genesing van siekes was iets besonders. Dit is inderdaad so. Baie mense dink wondergenesings is iets van die verlede en ons is dikwels skepties daaroor. Maar dit gaan oor meer as net wondergenesings. Die Griekse werkwoord terapeuon verwys na omgee of sorg, iets wat elkeen van ons kan doen – om ander te bedien, te versorg en vir hulle om te gee.

Deur ons gebede om genesing, deur ons omgee vir noodlydendes, deur ons teenwoordigheid by en aanraking van gemarginaliseerdes bring ons genesing in dies van Jesus aan mense en groepe wat dit dringend nodig het.

Ons en ek as geroepenes

Ons as geloofsgemeenskap en elkeen van ons individueel moet aan onsself as geroepenes leer dink. Jesus roep ons om ons lewe aan Hom te wy, Hom na te volg en te doen wat Hy ons geleer het. Hy leer ons deur sy woorde en deur sy dade.

Op hierdie manier oefen God sy koningskap uit deur die dissipels van Jesus Christus, wat die boodskap en die genesende teenwoordigheid van God se regering lewend in die wêreld hou.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Seën
“Aan Christus is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense sy dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Hy ons beveel het. En onthou: Hy is by ons al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. Amen

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.