Derde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

In drie van die tekste hoor mens die oproep dat ons as gelowiges anders moet leef, want die koninkryk van God het tot by ons gekom, tot in ons lyf. Al die teksgedeeltes is ook baie konkreet lyflike teksgedeeltes. In Markus roep Jesus vissermanne waar hulle besig is met die fisieke werk van visvang. Wanneer die mense van Nineve die boodskap hoor wat Jona bring, skeur hulle hulle klere en gooi as op hulle koppe. 1 Korintiërs roep mense op om anders te leef. Die koninkryk is nie ‘n eendagdroom nie, maar is konkreet, fisiek, selfs lyflik persoonlik en daarom vra dit van ons om anders te leef.

Ander tekste

Jona 3:1-5, 10
God het nie die ramp gestuur nie
3 Die woord van die Here het ’n tweede keer tot Jona gekom:
2“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan met die boodskap wat Ek jou sal gee.”

3Toe maak Jona klaar en gaan na Nineve toe soos die Here hom beveel het. Nineve was ’n baie groot stad: ’n mens het drie dae gevat om dit deur te stap. 4Jona het die stad ingegaan en ’n dag lank daar rondgestap en toe roep hy: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes!”

5Die mense van Nineve het toe in God geglo en hulle het ’n dag aangekondig om te vas. Groot en klein het rouklere aangetrek.

6Die berig het ook by die koning van Nineve uitgekom. Hy het van sy troon af opgestaan en sy koningsklere uitgetrek, rouklere aangetrek en op ’n ashoop gaan sit. 7Hy het in Nineve laat proklameer: “Die koning en sy raadgewers beveel dat mens en dier, grootvee en kleinvee, aan niks mag proe nie, dat hulle niks mag eet en nie water mag drink nie. 8Mens en dier moet rouklere aanhê, en die mense moet ernstig tot God roep en hulle van hulle verkeerde dade bekeer en berou hê oor die geweld wat hulle gepleeg het. 9Miskien sal God van plan verander en nie meer kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”

10Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie.

Psalm 62:5-12
Net by God vind ek rus
62Vir die koorleier. ’n Belydenis. ’n Psalm
van Dawid.
2Net by God vind ek rus,
van Hom kom my redding.
3Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek vas en stewig staan.
4Hoe lank wil julle almal nog
beskuldigings bly slinger
en my probeer doodmaak,
’n man wat reeds is soos ’n muur
wat wil omval,
’n klipmuur wat omgestoot word?
5Hulle probeer my uitwerk;
hulle skep behae in leuens;
met die mond seën hulle,
in die hart vervloek hulle

6Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
7Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.
8God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug.
9Vertrou altyd op Hom,
my volk,
stort julle hart voor Hom uit!
God is vir ons ’n toevlug.
10Mense is verganklik,
mense is niks:
op ’n skaal wys hulle geen gewig nie,
saam is hulle minder as niks.
11Moenie op geweld vertrou nie;
roof sal jou niks in die sak bring nie.
As jou rykdom toeneem,
moenie dat dit jou
te na aan die hart lê nie.
12Een ding het ek God hoor sê,
nee, twee:
dat net God mag het
13en ’n mens net op U, Here,
kan vertrou,
en dat U met elkeen handel
volgens sy verdienste.

1 Korintiërs 7:29-31
Die ongetroudes en weduwees
25Wat die ongetroudes betref, het ek geen bevel van die Here nie, maar ek gee my eie mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is.

26Ek meen dat, met die oog op die swaarkry van die eindtyd, dit vir ’n mens goed is om te bly soos hy is: 27as jy getroud is, moenie skei nie; as jy ongetroud is, moenie ’n vrou soek nie. 28Maar as jy tog trou, doen jy nie verkeerd nie. En as ’n jongmeisie trou, doen sy nie verkeerd nie. Maar sulke mense sal swaar kry in hierdie lewe, en ek wil julle dit bespaar.

29Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; 30en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. 31Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.

32Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man gee aandag aan die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. 33Die getroude man gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe hy sy vrou kan behaag, 34en sy aandag is verdeel. Ook die ongetroude vrou en die jongmeisie gee aandag aan die dinge van die Here, om na liggaam en gees aan Hom toegewy te wees. Maar die getroude vrou gee ook aandag aan die dinge van die wêreld, aan hoe sy haar man kan behaag.

Fokusteks

Markus 1:14-20
1 Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:
Die optrede van Johannes die Doper

(Matt 3:1–12; Luk 3:1–18; Joh 1:19–28)
2In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:
“Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou regmaak.
3Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.”
4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6Johannes het klere van kameelhaar gedra met ‘n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ‘n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek
(Matt 4:1–11; Luk 4:1–13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels
(Matt 4:18–22; Luk 5:1–11)
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”
18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19Toe Hy ‘n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Die besetene in Kapernaum
(Luk 4:31–37)
21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ‘n man wat van ‘n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ‘n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”

28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder
(Matt 8:14–15; Luk 4:38–39)
29Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. 30Die skoonmoeder van Simon het daar met ‘n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking
(Matt 8:16–17; 4:23; Luk 4:40–44)
32Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. 33Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. 34Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid. 36Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

39Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

Die genesing van die melaatse man
(Matt 8:1–4; Luk 5:12–16)
40Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

42Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. 43Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek 44en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

45Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ‘n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God vs 1”

Aanvangswoord: (Psalm 62)

Seëngroet: (1 Korintiërs 1)

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: Romeine 12

Verootmoediging

Lied 241 “Troue Here van my lewe 1,2,3”

Riglyn om te leef: (1 Korintiërs 7)

Geloofsbelydenis

Epiklese: Lied 255 “Woord van God Woord van die lewe 1,2,3”

Skriflesing: Markus 1:14-20 (Bybel Direkte Vertaling)

Prediking
Gebed
Offergawes
Wegsending  

FORMULIER VIR DIE STUUR VAN ONDERWYSERS AS SENDELINGE IN DIE SKOOL WAAR HULLE GEPLAAS IS 

Lied 528 “Leer my U wil Heer vs 1,2,3”

Seën
Antwoord

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God vs 1”

Aanvangswoord 
6Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
7Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.
8God is my redding en my krag.
Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug. (Psalm 62)
of  as responsoriese votum:
V: 6Net by God vind ek rus,
want op Hom vertrou ek.
G: 7Net Hy is my rots en my redding,
my veilige vesting,
sodat ek stewig staan.

V: 8God is my redding en my krag.
G: Hy is my rots, my sterkte,
God is my toevlug. Amen

Seëngroet 
2Aan die gemeente van God in ……………………………………., wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(1 Korintiërs 1)

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: Romeine 12
Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.”
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Verootmoediging
V: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. Hierdie woorde van die Here moet julle lewe vul.
G: Ons bind dit vas aan ons hande.

V: Dit moet ’n merk op julle voorkop wees.
G: Ons leer dit vir ons kinders.

V: Skryf dit op julle deurkosyne.
G: Ons skryf dit op die stadspoorte.

V: So is julle gehoorsame kinders van God.
G: Amen
(Uit Handleiding vir die Erediens van Bybel-Media, 2010: 23)

Lied 241 “Troue Here van my lewe 1,2,3”

Riglyn om te leef:
29Ek bedoel dít, broers: die tyd is min. Van nou af moet dié wat getroud is, leef asof hulle nie getroud is nie; 30en dié wat bedroef is, asof hulle nie bedroef is nie; en dié wat bly is, asof hulle nie bly is nie; dié wat iets aankoop, asof hulle dit nie besit nie. 31Ja, dié wat met die dinge van die wêreld te doen het, moet leef asof hulle daar niks aan het nie, want hierdie wêreld soos ons hom ken, is aan die verbygaan.
(1 Korintiërs 7)

Geloofsbelydenis
Voorganger:  Net by God vind ek rus,
Gemeente:  want op Hom vertrou ek.

Voorganger:  Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting
Gemeente:  sodat ek stewig staan.

Voorganger:  God is my redding en my krag.  Hy is my rots, my sterkte,
Gemeente:  God is my toevlug.

Voorganger:  Vertrou altyd op God, my volk, stort julle hart voor Hom uit!
Gemeente:  God is vir ons ’n toevlug.

Voorganger:  Mense is verganklik, mense is niks.
Gemeente: God is vir ons ’ toevlug (Ps 62:6-9).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F179. “Regeer In My “
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Skepper van hemel en aarde
Lewensbron, lig en genade
Kom regeer in my
Kom regeer in my
Die hemele verkondig u werke
U almag word vertoon in die sterre
Kom regeer in my
Kom regeer in my

Refrein:
Regeer in my
dat hierdie hart u huis kan wees
Regeer in my
dat hierdie vlees u Woord kan spreek
Regeer in my
dat hierdie lewe brood mag wees

Woord vir die wêreld,
bring lewe deur my
U is die eerste Woord
U kry die laaste woord
U is die Lewenswoord
wat alles onderhou

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lied 255 “Woord van God Woord van die lewe 1,2,3”

Skriflesing: Markus 1:14-20 (Bybel Direkte Vertaling)

Jesus begin met sy verkondiging (Matt 4:12-17; Luk 4:14-15)
14 Nadat Johannes gevange geneem is,* het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. 15 Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Die roeping van die eerste dissipels (Matt 4:18-22; Luk 5:1-11)
16 Terwyl Hy langs die See van Galileai loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. 17 Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” 18 Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 19 Toe Hy ‘n entjie verder loop, het Hy Jakobus, die seun van Sebedeus, en Johannes, sy broer,* gesien, waar hulle in die skuit besig was om nette heel te maak. 20 Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle pa, Sebedeus, met die huurarbeiders, in die skuit gelos en weggegaan agter Hom aan.

Prediking

Familie-oomblik

Dramatiseer die verhaal van Jona.
Die oorsig by Die Bybel in Praktyk: Onder redaksie van Wil Vosloo en Fika J van Rensburg, Christelike Uitgewersmaatskappy, 1993 word verskaf:
Ons leef in ’n gewelddadige wêreld waarin onreg algemeen voorkom. Kyk maar net na die gebeure waarvan in koerante vertel word en na die oorvol gevangenisse. Dinge soos kindermishandeling, pornografie, moord, anargie en terrorisme is aan die orde van die dag en dis asof geweld, haat en korrupsie die norm eerder as die uitsondering in menslike optrede geword het. Hoe meer ons van hierdie dinge hoor en sien, hoe meer besef ons hoe noodsaaklik dit is dat God sal intree. Ons mag dalk selfs vind dat ons in ons harte wens dat die aanstigters van geweld vir hulle dade moet boet—op welke wyse ook al. Daar is immers geen salf meer aan hulle te smeer nie! Gestel nou dat die Here te midde van hierdie situasie vir jou sou aansê om die evangelie juis aan so ’n gewelddadige gemeenskap te gaan verkondig—wat sou jou reaksie wees?

Dit was die taak wat Jona moes uitvoer. Hy moes God se boodskap aan die Assiriërs, daardie magtige ryk van die ou Nabye-Ooste, maar ook Israel se mees gevreesde en gehate vyand, gaan bring. Die Assiriërs het hulle mag in die wêreld met hartelose en wrede optrede gevestig. Toe die Here dus vir Jona aansê om na Assirië toe te gaan en die mense daar tot berou te maan, het hy nie vir hierdie opdrag kans gesien nie en daarvan probeer wegvlug.

Die boek Jona is méér as die verhaal van ’n man en ’n groot vis, soos wat dit in die volksmond bekend is. Dit is die verhaal van ’n profeet se roeping, sy ongehoorsaamheid en sy poging om van sy opdrag weg te vlug, maar ook van die wyse waarop die Here hom weer laat omdraai het en die opdrag vir ’n tweede maal aan hom gegee het. Die verhaal van Jona is ook die verhaal van God se oneindige genade. Niemand het volgens Jona sy genade minder verdien as juis die Assiriërs van Nineve nie. Maar hy het óók geweet dat God hulle kon vergewe en seën as hulle hulle sou bekeer en berou oor hulle sonde sou hê. Jona het ook geweet dat die boodskap van God mense se lewens kan verander en dat hulle dan nie vernietig sou word nie. Dít wou Jona nie hê nie. Hy wou nie hê dat die gehate Assiriërs begenadig word nie, daarom het hy gevlug. Uiteindelik het hy egter gehoorsaam en in die strate van Nineve gaan preek en die mense hét hulle dan ook bekeer en is van die oordeel gered. Toe word Jona kwaad en kla by die Here: “Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het” (4:2). Jona ignoreer die Here wanneer Hy met hom praat, maar word na ’n reeks van rampe tot ’n gesprek gedwing. Die verhaal sluit af met God se woorde: “Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, ’n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie?” (4:11). Met hierdie woorde word Jona se selfsug en onvergewensgesindheid teenoor God se liefdevolle betrokkenheid by al sy skepsels gestel.

As jy hierdie verhaal lees, kan jy die volle spektrum van God se liefde en genade sien en besef dat niemand vir God onbelangrik is nie en dat Hy graag sy genade aan almal wil betoon. Die evangelie is immers vir almal wat berou toon en glo. Bid dan vir diegene wat op die oog af die verste van die koninkryk af is en soek na maniere om vir hulle van God te vertel. Leer uit die verhaal van dié ongehoorsame profeet en besluit dat jy aan God gehoorsaam sál wees en sal doen wat Hy wil en gaan waarheen Hy jou stuur.

Preekriglyn

William Borden het sy skoolopleiding in 1904 in Chicago voltooi. Hy was erfgenaam van die massiewe Borden Suiwelboerdery, en dus prakties ‘n miljoenêr. Om sy suksesvolle skoolopleiding te vier, het sy ouers hom op ‘n reis rondom die wêreld gestuur. Terwyl die jongman deur Asië, die Midde-Ooste en Europa gereis het, het hy ‘n passie ontwikkel om lydende mense te help. Op ‘n punt skryf hy huis toe om te sê hy gaan sy lewe gee om mense te help as deel van God se sending na die wêreld. Terselfdertyd skryf hy twee woorde agter in sy Bybel: “Geen reserwes.”

Gedurende sy studiejare aan Yale Universiteit, word Borden gou ‘n steunpilaar in die Christelike gemeenskap. In ‘n inskrywing in sy joernaal gee hy die bron van sy geestelike krag as volg weer: “Sê nee vir jouself en ja vir Jesus – elke keer.”

In sy eerste semester by Yale begin Borden ‘n klein gebedsgroep wat vinnig groei tot ‘n beweging wat oor die hele kampus strek. Aan die einde van sy eerste jaar, kom 150 eerstejaars bymekaar vir Bybelstudie en gebed. Teen die tyd dat hy ‘n senior student was, het 1,000 van Yale se 1,300 studente in sulke weeklikse byeenkomste vergader.

Borden het dikwels met ander Christene vergader om seker te maak elke student op die kampus hoor van die Here. Hy het gereeld onder die armes in die omgewing opgetree. Sy groot passie was egter om die evangelie na mense te neem waar dit nie vryelik beskikbaar was nie. Uiteindelik word sy roeping duidelik: hy sou na die Kansu volk in China gaan.

Toe hy graad vang by Yale, skryf Borden weer twee woorde agter in sy Bybel: “Geen terugkeer.” Hy wys verskeie hoogs betaalde werksaanbiedinge van die hand, en begin teologie studeer. Na afloop hiervan, reis hy na Egipte om Arabies te leer, sodat hy met Moslems in China kon werk. In Egipte raak William Borden siek van spinale meningitis. Binne ‘n maand is hy oorlede, skaars 25 jaar oud.

Kort voor sy dood het Borden nog twee woorde in sy Bybel geskryf. Onder die woorde “Geen reserwes” en “Geen terugkeer” het hy neergepen: “Geen spyt.”

‘n Kragtige roeping

In Markus 1 is dit opvallend hoe mense stroom na die plekke waar God werk. Johannes die Doper het ‘n eenvoudige boodskap – bekeer julle – en die mense stroom na hom toe. Ook Jesus gaan om gedoop te word, saam met die ander, as teken van berou en bekering.

Wanneer Jesus daarna met sy bediening begin, verkondig Hy ook ‘n eenvoudige boodskap. Jesus maak die evangelie van God bekend deur te sê:

Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (14).

Later in Markus 1 lees ons hoe groot getalle mense hierop reageer en Jesus opsoek. Hulle stroom na Hom. Die dinge wat Jesus leer en doen het ‘n dramatiese impak. Dit bring mense bymekaar. Jesus, wat mense roep, het ‘n kragtige sosiale impak. Sover hy gaan skep Hy nuwe gemeenskap.

Onmiddellike volgelinge

Die krag waarmee Jesus roep blyk in ons teks op verstommende wyse wanneer Jesus sy eerste dissipels versamel. Hy stap op ‘n dag langs die See van Galilea en sien Simon en sy broer Andreas. Hulle was vissers van beroep en besig om hulle werpnette in die see te gooi. Jesus sê vir hulle:

Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.

Hulle reaksie? Onmiddellik het hulle hul nette gelos en Hom gevolg.

Net ‘n entjie verder sien Jesus Jakobus en sy broer Johannes. Hulle pa se naam was Sebedeus. Terwyl hulle nog nette regmaak, roep Jesus hulle. Hulle laat vir Sebedeus net so in die skuit met net die loonarbeiders en volg Jesus.

Inderdaad ‘n kragtige roeping waarmee die Messias mense roep. Inderdaad ‘n roepstem wat nie geïgnoreer kan word nie.

Vissers van mense

Wanneer Jesus sy boodskap begin verkondig, is sy eerste inisiatief dus om ‘n gemeenskap rondom Hom te skep. Vir ‘n kort rukkie tree Jesus alleen op, toe roep Hy vier vissermanne om Hom te volg, en uiteindelik volg ‘n al groter wordende skare mense hom.

Markus fokus op die feit dat navolging van Jesus nooit ter wille van die self is nie. ‘n Volgeling is ‘n visser van mense Dit gaan oor Jesus, en om mense by Jesus uit te bring. ‘n Groeiende geloofsgemeenskap word gevestig van dissipels wat bereid is om Hom te volg ongeag wat dit vra.

Daarom fokus hierdie roepingsgebeure op vier vissermanne wat, terwyl hulle besig is om hulle brood en botter te verdien, deur Jesus geroep word om die lewe wat hulle ken, prys te gee en Hom in gehoorsaamheid te volg (17).

In sy roepingsopdrag belowe Jesus vir Simon en Andreas dat hulle nie sal ophou om vissers te wees nie. Wat anders sal wees, is dat hulle nie meer visse in die see gaan vang nie, maar mense.

Jesus maak dus duidelik dat om Hom te volg, ‘n totaal nuwe betekenis aan die vissermansberoep gee. As vissers gaan hulle die vaardighede, wat hulle aangeleer het met visvang, gebruik om mense te “vang” – of in Bybelse taal: om mense te red. Dit beteken nie noodwendig dat hulle gaan ophou visvang nie. Die klem verskuif nou na vissermanne as God se instrumente om mense wie se lewe vasgeval het in die see van sonde, te red tot die ewige lewe.

‘n Radikale roeping

Die roeping van die eerste dissipels was radikaal in sy eenvoud. Mens kan selfs sê: wreed, want wat word nou van hulle en hulle mense se daaglikse versorging? Tog tref dit soos ‘n hou van ‘n voorhamer – die broers reageer onmiddellik, sonder huiwering.

Waarom het die eerste dissipels so gereageer? Moontlik het hulle reeds vooraf met Jesus kontak gehad. Die vissermanne se reaksie is sprekend van mense wat reeds in ‘n verhouding met Jesus staan. Mense wat Hom reeds leer ken en vertrou het. Daarom was hulle bereid om beide die ekonomiese slagaar van hulle lewe (visvang) en die sosiale verband (gesin en vader) net so te laat.

Ons moet natuurlik ook nie Johannes die Doper se voorbereidingswerk onderskat nie. Hy was immers die een wat mense se aandag op Jesus gevestig het, en Jesus as die Seun van God deur wie God beslissend handel, uitgewys het.

Tog is die krag agter die roeping die lewende Here Jesus. Dit is op sy persoon dat die klem in hierdie gedeelte val. Mense herken God in Jesus, en mense wy hulle lewe aan Hom toe deur te gaan waar en hoe hy roep.

Hierdie proses is nooit afgehandel nie. Ook William Borden het dit – soos vele voor en na hom – dit beleef. En sy lewe daarvoor gegee.

Eise van roeping

Jesus se roeping was beslis nie ‘n uitnodiging tot ‘n probleemlose, suksesvolle, voorspoedige lewe nie. Die roeping langs die viswaters van Galilea, was ‘n roeping gevul met storms van verskillende formaat – veroorsaak deur die vyandige wêreld waarbinne hulle geleef het. Ook storms waarin hulle eie mense, selfs familie, ‘n leeueaandeel aan het. Maar in alles het Jesus, wat hulle geroep het, hulle nooit alleen gelos nie. Hy is getrou tot die dood.

Die roepingsverhaal ontplooi in die Markusevangelie op so ‘n manier dat die geroepenes later met die kruis van Jesus gekonfronteer word. Hulle misluk telkens op die pad, en vlug weg wanneer Jesus gevange geneem word. Maar uiteindelik – danksy God se genade – bly hulle by hulle roeping, en dra die evangelie van Jesus tot by die uiteindes van die aarde. Hierdie eerste geroepenes was inderdaad vissers van mense.

Die evangelie stel radikale eise. Dit vra dat geroepenes gedurig bereid sal wees om iets of iemand agter te laat (laat die dooies hulle eie dooies begrawe, soos Jesus dit stel), met die wete dat ek in my getuienistaak nooit alleen is nie. Hy wat my roep, maak my ook bekwaam (vgl 1 Kor 12) en gee my die krag wat alle uitdagings te bowe kom (2 Kor 12:9). Dit waarborg egter nie dat ek ongeskonde ander kant sal uitkom nie. Ek kan ook in hedendaagse konteks my lewe verloor!

Epifanie as die seisoen van lig. As Lig vir die wêreld is Hy nie net die Bron van lig nie. Hy is ook die Een wat sorg dat sy lig uitgedra word deur gewone manne en vroue in ‘n donker, sondige wêreld wat skreeu om verlossing.

Aansporing

Daar gaan vir mens groter lig op as jy die groter prentjie agter die Markusevangelie verstaan, en weet wat die motief van die skrywer is. Die nuwe Direkte Bybelvertaling gee ‘n goeie opsomming van die skrywer se doel, wat hier geparafraseer word.

Markus het sy evangelie waarskynlik in Rome en vir Christene in Rome geskryf. Dit was ‘n paar dekades na Jesus se bediening, en die mense wat Hom gevolg het, het geweldig druk en vervolging beleef. Hulle was ‘n bedreigde godsdienstige minderheid in die hoofstad van die Romeinse Ryk. Markus skryf sy Evangelie hoofsaaklik om sy eerste lesers aan te moedig om in moeilike omstandighede in hulle belydenis te volhard.

Markus, of Johannes Markus soos die vroeë kerklike tradisie hom noem, het Petrus se prediking in Rome opgeteken. Hy was nie een van die twaalf dissipels nie, maar was baie naby aan die dissipelkring. Jesus en die dissipels het per geleentheid in sy ma se huis vergader (Hand 12:12). Dalk verwys hy na homself as die jongman met ‘n linnedoek om sy lyf wat na Jesus se gevangeneming naak weggevlug het (Markus 14:51).

Markus se doel is dus om vervolgde Christene te bemoedig. Hy roep die roeping van die eerste dissipels in herinnering en laat val die klem op wie die Messias is wat hulle geroep het. Hierdie Jesus het gekom om mense te dien, Hy was die Seun van God, en het self ontsettende lyding moes deurmaak.  Die Seun van die Mens het immers gekom “om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie” (Markus 10:45).

Markus laat val die kollig op die lyding en kruisiging van Jesus. Petrus se belydenis by Sesarea-Filippi (“U is die Christus” – 8:29) vorm ‘n draaipunt in hierdie vertelling. Voor hierdie belydenis word Jesus uitgebeeld as die magtige Seun van God, en daarna toon Markus aan dat Hy tog moes ly. Hierdie Jesus, wat so magtig was in woord en daad, is ook die lydende Messias. Uiteindelik word Hy, wat so diep verneder is, uiteindelik deur God opgewek in ‘n lewe anderkant die dood.

Op die dieptepunt van sy lyding, sterwend aan die kruis, kyk die Romeinse hoofman op na Jesus, en sê: “Waarlik, hierdie man was die Seun van God” (Markus 15.39). Jesus se lyding bevestig dus die egtheid van sy goddelike status. Juis in die diepte van sy lyding blyk die feit dat sy aansprake oor Homself waar is. Selfs ‘n heidense offisier sien dit raak en identifiseer daarmee.

Markus waarsku dat iemand wat Jesus as Christus bely, ook lyding kan verwag en bereid moet wees om te dien. Vir die eerste dissipels, soos Petrus, was dit uiters moeilik om aan Jesus se lyding en diensbaarheid gewoond te raak (Markus 8:31 – 10:45). Jesus roep sy volgelinge egter op om moedig en waaksaam te bly. Hoewel Hy diep verneder is, is Hy ook verheerlik en sal met groot krag en majesteit terugkom. Hy sal sy uitverkorenes versamel om in sy heerlikheid te deel. Daarom moet die dissipels nie moed verloor nie.

Jesus se strategie

Wat is Jesus se strategie, moet ons vra, te midde van so ‘n gewelddadige wêreld waarin Hy gekom het om die evangelie van God te verkondig? Wat het Jesus te sê vir mense wat moet besluit of hulle Hom wil volg?

In ons teks is dit duidelik dat Jesus se strategie is om ‘n nuwe gemeenskap op aarde te skep wat God se bedoelinge ken en daarvolgens lewe. Dit is ‘n gemeenskap met Jesus self as die Middelpunt. Dit is mense wat hulle hoop op Jesus plaas, hulle genesing van Jesus verwag, en ooreenkomstig Jesus se leer lewe.

Stanley Hauerwas skryf: Jesus skep ‘n nuwe gemeenskap wat in staat is om volgens God se nuwe orde in die ou wêreld te leef. Jesus gaan voort om te doen wat God gedoen het deur Abraham, Moses, Gideon en Samuel te roep. Dit is: Hy versamel mense rondom sy Woord sodat ‘n gemeenskap op aarde tot stand kom wat totaal anders is as enige ander gemeenskap wat mense nog ooit gesien het. (Vgl. Hauerwas se kommentaar op Matt 5.)

Jesus se strategie is dus nie om die ou wêreld met geweld omver te gooi nie. Hy vat nie Rome swaard-vir-swaard, boog-vir-boog aan nie. Hy skep ‘n nuwe, dienende gemeenskap wat ‘n groter-wordende netwerk in sy Naam skep van mense wat soos Hy liefhet en dien.

Uiteindelik het hierdie netwerk, die Christelike kerk, só gegroei dat die Romeinse Ryk self die Christelike geloof omhels het.

Naïef?

Daar is niks onskuldig aan die Seun van God wat langs die See van Galilea loop en eenvoudige vissers roep om Hom te volg nie. Dit wat Jesus in hierdie jong mans belê het, het die wêreld verander. Jesus was nie naïef om dissipels te roep in die gewelddadige milieu van Romeinse onderdrukking nie. En mense wat ander na Jesus nooi is tot vandag toe nie naïef nie. Om vissers van mense te wees, mag na ‘n ontoepaslike strategie lyk in ‘n wêreld wat deur Boko Haram, Isis en Al Kaïda bedreig word. Tog is dit die enigste pad vir die Christelike kerk.

Wanneer dit moeilik raak, en mens se lewe in gedrang kom, dit lyk of die wêreld deur boosheid oorwin word, is dit die moeite werd om Markus se verhaal in herinnering te roep. Hy vertel dat ‘n lewe wat op Jesus sentreer, ‘n lewe in gemeenskap met Jesus en medegelowiges, ‘n lewe is wat die wêreld verander.

Jesus vra alles

Jesus se roeping lê beslag op ‘n mens se hele lewe. Om Jesus te volg, beteken dat alle aspekte van jou lewe vanuit jou verhouding met Jesus verstaan moet word. Alles in jou lewe staan in diens van Jesus se strategie om jou as ‘n visser van mense te gebruik.

Paulus is ‘n aangrypende voorbeeld hiervan. Hy het sy lewe gegee ter wille van die evangelie, want op pad na Damaskus ontmoet hy dié Jesus wat hy besig was om te vervolg. En van daardie oomblik af getuig Paulus dat dit wat eers vir hom ‘n bate was, nou waardeloos is. Meer nog: Hy beskou alles as waardeloos, want om in ‘n verhouding met Jesus te leef, oortref alles in waarde (Fil 3:7-11).

Vanuit hierdie geloofsverhouding was dit Paulus se lewenslange roeping om ‘n visser van mense te wees. Maar dat dit hom gekos het, is nie te betwyfel nie (2 Kor 5:11). In die tronk ervaar hy hoe sy lewe aan ‘n draadjie hang; hy is vyf maal deur die Jode met die gebruiklike 39 houe gegesel; hy is drie maal met stokke deur die Romeine owerheid toegetakel; hy is een keer met klippe gegooi en vir dood agtergelaat, en; Hy was drie keer op ‘n skip wat gesink en op die oop see rond gedryf het.

Nietemin was dit vir hom alles goed en reg, want dit het gegaan oor Jesus wat hom as ‘n visser van mense geroep het. Daarom bid Paulus in Efesiërs 1:17-23 vir al die Here se vissers van mense, ook vir ons:

Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoog so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou en watter rykdom daar in die heerlike erfenis is wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Dit is ‘n wonderlike voorreg om saam met ander ‘n volgeling van Jesus te wees. Jy is deel van ‘n gemeenskap wat met die kragtige volheid van God vervul word, deur wie God die wêreld verander.

Praktiese roepingsvervulling

Hoe lyk dit prakties wanneer mens leef as ‘n visser van mense?

  • ‘n Visser van mense leer Jesus navolg, word ‘n dissipel van die Here wat die kennis, vaardighede, houdings en gesindhede en gewoontes of geloofsdissiplines aanleer wat nodig is om die Here te volg. ‘n Dissipel is iemand wat anders leef as die gemiddelde mens, soos Jesus ons leer om te doen.
  • Vissers van mense verstaan hulleself as gestuurdes van die Here – na hul gesinne, bure, omgewing, gemeenskappe, ja, die wêreld.
  • ‘n Visser van mense gebruik woorde om oor God se werk in Jesus te getuig. Dit is iemand wat getuig van die hoop wat in ons leef, en ander uitnooi om Jesus na te volg.
  • ‘n Visser van mense maak erns met geestelike gemeenskap met ander. Dissipels of vissers is nie individualiste nie, maar mense wat hul identiteit in die nuwe gemeenskap wat die Here skep, vind.
  • ‘n Dissipel verwag weerstand teen die evangelie van God. Geen dissipel van Jesus kan aanspraak maak op ‘n lewe sonder weerstand nie. Om dissipel te wees veronderstel per definisie ‘n bereidheid om die self te verloën, jou kruis op te neem en Jesus te volg.
  • Dissipels vind hul lewensdoel en lewensin in ‘n verhouding met God, en in God se roeping vir ons lewe. Rick Warren sluit in sy boek The Purpose Driven Life hierby aan as hy vra: “What on earth am I here for?” Hy antwoord dat die doel van die lewe nie oor myself gaan nie. Dit gaan oor God, want if you want to know why you were placed on this planet, you must begin with God. You were born by his purpose and for his purpose.
Ses woorde

William Borden se ses woorde agter in sy Bybel vat die sin en betekenis van dissipelskap inderdaad goed saam:

  • Geen reserwes
  • Geen terugkeer
  • Geen spyt
  1. God stuur ons om te leef

Gebed

Offergawes

Wegsending  

Die volgende voorstel word gemaak by Sondag 25 Januarie 2015 in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15:

Hierdie Sondag is ’n goeie geleentheid om gemeenteleiers en/of kategete te bevestig en uit te stuur.

Dit is ook die eerste twee Sondae van die skoolkwartaal.

Gebruik hierdie geleentheid om kinders en onderwysers uit te stuur na die skole om hulle roeping daar te leef.

Die Ring van Port Elizabeth het ‘n formulier saamgestel vir die uitstuur van onderwysers na die skool waar hulle geplaas is. Dit word aangeheg indien u daarvan gebruik wou maak.

FORMULIER VIR DIE STUUR VAN ONDERWYSERS AS SENDELINGE IN DIE SKOOL WAAR HULLE GEPLAAS IS 

ONDERWYSER(S) WORD VORENTOE GEROEP. 

DIE AARD VAN ONS ROEPING 

Die Here gebruik mense in Sy diens- gewone mense. So was die profete in die Ou Testament dikwels gewone mense met ‘n spesiale roeping – Amos was ‘n boer! In die Nuwe Testament kies Jesus hoofsaaklik vissermanne om Sy dissipels te wees.

Vandag nog stuur die Here gewone mense, om ‘n verskil in hulle omgewing te maak. So gebruik Hy sakelui, mediese personeel, winkeliers, wetenskaplikes, munisipale beamptes en vele meer om Sy koninkryk elke dag te laat kom in gebedsverhoring op gelowiges se versoeke: “Laat U wil geskied, laat U koninkryk kom”.

Elke gelowige kan midde in hul omstandighede ‘n koninkryksverteenwoordiger wees. Daarom dat Paulus skrywe dat elkeen in die omstandighede moet bly wat die Here vir hulle gegee het. Inteendeel, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hulle was toe God hulle geroep het. (1 Kor 7)

Oor die spesiale ampte skrywe Paulus “Aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. (EFESIËRS 4:7, 11-13, 15, 16 NLV)

So stuur die Here ook onderwysers om op spesiale wyse diensbaar in Sy Ryk te wees. Dit is juis kinders en jongmense wat besonder ontvanklik is vir die vrymakende en verlossende nuus van die evangelie. En dit is juis hierdie evangelie wat van kinders en jongmense môre se volwassenes maak- volwassenes met gesonde en gebalanseerde waardes. En so word vandag se kinders en jongmense môre se leiers met ‘n visie op die hemelse koninkryk wat in ons dorp en stad realiseer vir alle mense ten goede.

Vir Jeremia het die Here gesê: “Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red.” (Jer 1:7-8) Hierdie gemeente stuur u na die skool waar u geplaas is. U word gestuur om waarde toe te voeg aan die lewens van kinders wat onder u sorg geplaas is. U word gestuur om ‘n gesant te wees, ‘n ambassadeur. Onthou, die Here is by jou.

VERBINTENIS 

· Glo jy dat God self jou spesiaal geroep het vir hierdie besondere bediening?

· Aanvaar jy dat roeping van ons gemeente om gestuur te word na die skool waar God jou geplaas het?

· Onderneem jy om hierdie roeping in afhanklikheid van die Gees na die beste van jou vermoë uit te leef?

Onderwyser(s) antwoord 

Liewe gemeente, julle het hierdie onderwyser(s) se verbintenis gehoor.

· Onderneem julle om hulle te ondersteun in hierdie besondere bediening, deur:

· gereeld vir hulle te bid

· hulle en die skole waar hulle dien, prakties te ondersteun soos nodig

· en jul kinders te leer om hulle te respekteer en te gehoorsaam?

Gemeente antwoord 

GEBED 

Onderwyser(s) word hande opgelê terwyl ‘n lidmaat (ouer of kind) vir hulle bid.

SEËNBEDE 

Gaan dan nou in die Naam van die Here,

wat u sal seën en beskerm;

wat tot u redding sal verskyn en u genadig sal wees;

wat u gebede sal verhoor en aan u vrede sal gee! (Num 6)

OF

Mag God, wat jou tot hierdie diens geroep het,

jou deur sy Heilige Gees verlig.

Mag Hy jou so regeer dat jy ’n vrugbare arbeider sal wees

in die uitbreiding van sy koninkryk.

Die Here is voor jou

om vir jou die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou

om jou in sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou

om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou

om jou te dra wanneer jy val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is binne-in jou

om jou te lei en te inspireer,

van nou af, in jou bediening van elke dag

en tot in ewigheid.

Amen.

Lied 528 Leer my U wil Heer vs 1,2,3

Seën

2 Korinthiërs 13

13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

of

V: Soos die Vader Jesus gestuur het, stuur Hy julle ook.

Vrede vir julle!

G: Amen

(Uit die Basisliturgie na Epifanie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of

F361. Laat Dit So Wees (Amen)

(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)

Teks en musiek: Neil Büchner

Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.

Laat dit so wees, Here, Amen.

Heer, laat ons leef soos U leer

Here, Amen.

Laat dit so wees, Here, Amen.

of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,

vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.

U het u goedheid weer aan ons betoon,

ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,

laat ons vir ander ook tot seën wees.

Maak ons getuies van u Naam, o Heer,

dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,

wees ons tog in ons lief en leed naby.

Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,

maak ons volhardend in geloof al meer.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending
Die volgende voorstel word gemaak by Sondag 25 Januarie 2015 in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15:
Hierdie Sondag is ’n goeie geleentheid om gemeenteleiers en/of kategete te bevestig en uit te stuur.
Dit is ook die eerste twee Sondae van die skoolkwartaal.
Gebruik hierdie geleentheid om kinders en onderwysers uit te stuur na die skole om hulle roeping daar te leef.
Die Ring van Port Elizabeth het ‘n formulier saamgestel vir die uitstuur van onderwysers na die skool waar hulle geplaas is. Dit word aangeheg indien u daarvan gebruik wou maak.

FORMULIER VIR DIE STUUR VAN ONDERWYSERS AS SENDELINGE IN DIE SKOOL WAAR HULLE GEPLAAS IS
ONDERWYSER(S) WORD VORENTOE GEROEP
DIE AARD VAN ONS ROEPING
Die Here gebruik mense in Sy diens- gewone mense. So was die profete in die Ou Testament dikwels gewone mense met ‘n spesiale roeping – Amos was ‘n boer! In die Nuwe Testament kies Jesus hoofsaaklik vissermanne om Sy dissipels te wees.

Vandag nog stuur die Here gewone mense, om ‘n verskil in hulle omgewing te maak. So gebruik Hy sakelui, mediese personeel, winkeliers, wetenskaplikes, munisipale beamptes en vele meer om Sy koninkryk elke dag te laat kom in gebedsverhoring op gelowiges se versoeke: “Laat U wil geskied, laat U koninkryk kom”.

Elke gelowige kan midde in hul omstandighede ‘n koninkryksverteenwoordiger wees. Daarom dat Paulus skrywe dat elkeen in die omstandighede moet bly wat die Here vir hulle gegee het. Inteendeel, elkeen moet God dien in die omstandighede waarin hulle was toe God hulle geroep het. (1 Kor 7)

Oor die spesiale ampte skrywe Paulus “Aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. (EFESIËRS 4:7, 11-13, 15, 16 NLV)

So stuur die Here ook onderwysers om op spesiale wyse diensbaar in Sy Ryk te wees. Dit is juis kinders en jongmense wat besonder ontvanklik is vir die vrymakende en verlossende nuus van die evangelie. En dit is juis hierdie evangelie wat van kinders en jongmense môre se volwassenes maak- volwassenes met gesonde en gebalanseerde waardes. En so word vandag se kinders en jongmense môre se leiers met ‘n visie op die hemelse koninkryk wat in ons dorp en stad realiseer vir alle mense ten goede.

Vir Jeremia het die Here gesê: “Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red.” (Jer 1:7-8) Hierdie gemeente stuur u na die skool waar u geplaas is. U word gestuur om waarde toe te voeg aan die lewens van kinders wat onder u sorg geplaas is. U word gestuur om ‘n gesant te wees, ‘n ambassadeur. Onthou, die Here is by jou.

VERBINTENIS
Glo jy dat God self jou spesiaal geroep het vir hierdie besondere bediening?
Aanvaar jy dat roeping van ons gemeente om gestuur te word na die skool waar God jou geplaas het?
Onderneem jy om hierdie roeping in afhanklikheid van die Gees na die beste van jou vermoë uit te leef?

Onderwyser(s) antwoord
Liewe gemeente, julle het hierdie onderwyser(s) se verbintenis gehoor.
Onderneem julle om hulle te ondersteun in hierdie besondere bediening, deur:
gereeld vir hulle te bid
hulle en die skole waar hulle dien, prakties te ondersteun soos nodig
en jul kinders te leer om hulle te respekteer en te gehoorsaam?

Gemeente antwoord 

GEBED
Onderwyser(s) word hande opgelê terwyl ‘n lidmaat (ouer of kind) vir hulle bid.

SEËNBEDE
Gaan dan nou in die Naam van die Here,
wat u sal seën en beskerm;
wat tot u redding sal verskyn en u genadig sal wees;
wat u gebede sal verhoor en aan u vrede sal gee! (Num 6)
OF
Mag God, wat jou tot hierdie diens geroep het,
jou deur sy Heilige Gees verlig.
Mag Hy jou so regeer dat jy ’n vrugbare arbeider sal wees
in die uitbreiding van sy koninkryk.
Die Here is voor jou
om vir jou die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou
om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou
om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou
om jou te dra wanneer jy val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is binne-in jou
om jou te lei en te inspireer,
van nou af, in jou bediening van elke dag
en tot in ewigheid.
Amen.

Lied 528 “Leer my U wil Heer vs 1,2,3”

Seën: 2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.
of
V: Soos die Vader Jesus gestuur het, stuur Hy julle ook.
Vrede vir julle!
G: Amen
(Uit die Basisliturgie na Epifanie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.