Derde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Die liturgie vier ‘n tuiskoms van gelowiges in God waar  die besondere liefde van Christus Jesus, die kerk se “wederhelf”, erken word. Die tuiskoms is vreugdevol en selfs emosioneel. God wek in ons ‘n begeerte om getooi te wees in ons eie unieke gawes van liefde.

God omhels ons met liefde en ons omhels ander met ‘n bede van oorvloedige geluk. Die gemeente, bruid van Christus, sien ‘n eie skoonheid in die veelvuldige versierings wat die liefde gee (1 Kor). Die Gees bid in ons dat die skoonheid waarmee die bruid van Christus beklee word in die gebruik van ons eie gawes sal blyk.

Ander tekste

Nehemia 8:1-3, 5-6, 8-10
8 Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede.
2Die hele volk het soos een man bymekaargekom op die plein voor die Waterpoort en vir Esra die skrifgeleerde gevra om die wetboek van Moses waarin die bevele van die Here aan Israel opgeteken is, te bring. 3Die priester Esra het toe die wet voor die gemeente gebring, man en vrou, elkeen wat kon verstaan. Dit was op die eerste dag van die sewende maand.

 4Hy het daaruit voorgelees op die plein voor die Waterpoort van ligdag af tot die middel van die dag ten aanhore van mans, vrouens en elkeen wat kon verstaan. Die aandag van die hele gemeenskap was by die wetboek.

5Esra die skrifgeleerde het op ’n houtverhoog gestaan wat vir dié doel gemaak was; regs langs hom het Mattitja, Sema, Anaja, Urija, Gilkija en Maäseja gestaan, en links van hom Pedaja, Misael, Malkija, Gasum, Gasbaddana, Sagaria en Mesullam.

6Esra het hoër gestaan as die hele gemeente en het die boek voor almal se oë oopgemaak. Toe hy dit oopmaak, het die hele gemeente opgestaan.

7Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”

Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. 8Die Leviete Jesua, Bani, Serebja, Jamin, Akkub, Sabbetai, Hodija, Maäseja, Kelita, Asarja, Josabad, Ganan en Pelaja het die wet aan die gemeente verduidelik terwyl die volk daar staan. 9Die Leviete het uit die boek, uit die wet van God, voorgelees en dit uitgelê. Hulle het die betekenis weergegee sodat die mense kon verstaan wat gelees word.

10Nehemia die goewerneur, die skrifgeleerde priester Esra en die Leviete wat die gemeente onderrig het, het vir die hele gemeente gesê: “Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie.” Dit was omdat die hele gemeente gehuil het by die aanhoor van die wet.

11Nehemia het verder gesê: “Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit aan dié wat niks voorberei het nie. Hierdie dag word gewy aan ons Here. Moenie bedroef wees nie; as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm.”

12Die Leviete het al die mense gekalmeer met die woorde: “Wees rustig. Dit is ’n gewyde dag, moenie bedroef wees nie.”

13Die hele gemeente het toe gaan eet, lekkernye uitgedeel en groot fees gevier. Hulle het goed begryp wat vir hulle gesê is.

Psalm 19
Die openbaring van die Here is volmaak
19 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid.
2Die hemel getuig
van die mag van God,
die uitspansel maak die werk
van sy hande bekend.
3Die een dag gee die berig deur
aan die ander
en die een nag deel die kennis
aan die volgende mee.
4Sonder spraak en sonder woorde,
onhoorbaar is hulle stem.
5Tog gaan daarvan ’n boodskap uit
oor die hele wêreld
en hulle taal bereik
die uithoeke van die aarde.
Vir die son is daar in die hemel
’n tent opgeslaan.
6As hy stralend begin
om sy baan te volg,
is hy soos ’n bruidegom
wat uit sy slaapkamer kom.
7Aan die een kant van die hemel
kom hy op
en aan die ander kant gaan hy onder,
en niks ontkom aan sy gloed nie.
8Die woord van die Here is volmaak:
dit gee lewe.
Die onderwysing van die Here
is betroubaar:
dit gee wysheid aan dié
wat nog onervare is.
9Die bevele van die Here
dui die regte koers aan:
dit bring blydskap.
Die gebod van die Here is helder:
dit gee insig.
10Die eise van die Here vir sy diens
is goed:
dit staan altyd vas.
Die bepalings van die Here is reg:
elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud,
selfs as baie goud,
soeter as heuning,
as druppels uit ’n heuningkoek.
12U dienaar laat hom daardeur leer.
Wie dit alles onderhou,
groot is sy beloning.
13Wie sien sy eie dwalinge raak?
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

1 Korintiërs 12:12-31a
Een liggaam met baie lede
12Net soos die liggaam ’n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus. 13Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.

14Die liggaam bestaan ook nie net uit een lid nie, maar uit baie. 15As die voet sou sê: “Omdat ek nie ’n hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede tog nie op om deel van die liggaam te wees nie. 16En as die oor sou sê: “Omdat ek nie ’n oog is nie, is ek nie deel van die liggaam nie,” hou hy om dié rede eweneens nie op om deel van die liggaam te wees nie. 17As die hele liggaam oog was, hoe sou hy kon hoor? En as die hele liggaam oor was, hoe sou hy kon ruik? 18Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. 19As almal saam net een lid was, hoe sou daar ’n liggaam kon wees? 20Nou is daar wel baie lede maar net een liggaam.

21Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie.” Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie.” 22Inteendeel, die lede van die liggaam wat as die swakste voorkom, is juis noodsaaklik, 23en dié wat vir ons minder mooi lyk, klee ons met groter sorg. So word ons minder aansienlike dele besonder mooi gemaak, 24terwyl die aantreklike dele dit nie nodig het nie. God het die liggaam so saamgestel dat Hy groter eer gegee het aan die lid wat eer kortkom, 25sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra. 26As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.

27Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ’n lid daarvan. 28En in die kerk is daar mense aan wie God ’n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. 29Is almal miskien apostels? Is almal profete? Is almal leraars? Kan almal miskien wonders doen? 30Het almal die genadegawes om mense gesond te maak? Of gebruik almal miskien ongewone tale of klanke en kan almal dit uitlê?
31Lê julle toe op die beste genadegawes.

Fokusteks

Jesus word uit Násaret verdrywe.
16Hy het ook in Nasaret gekom, waar Hy grootgeword het, en soos sy gewoonte was, het Hy op die sabbatdag na die sinagoge toe gegaan. Toe Hy opstaan om uit die Skrif voor te lees, 17is die boek van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgemaak en die plek gekry waar geskrywe staan:

18“Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
19om die genadejaar van die Here
aan te kondig.”
20Nadat Hy die boek toegemaak en aan die amptenaar teruggegee het, het Hy gaan sit. Die oë van almal in die sinagoge was op Hom gerig.

21Toe begin Hy hulle toespreek: “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul.”

22Almal het hulle instemming met Hom betuig en was verwonderd oor die aangename woorde uit sy mond. En hulle sê: “Is hy dan nie die seun van Josef nie?”

23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou: ‘Geneesheer, genees jouself’ en vir My sê: ‘Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen nou dieselfde dinge ook hier waar jy grootgeword het.’24Maar dit verseker Ek julle,” sê Hy verder, “geen profeet word in die plek waar hy grootgeword het, aanvaar nie. 25Ek sê vir julle die waarheid: Daar was baie weduwees in Israel in die tyd van Elia toe die hemel drie jaar en ses maande lank toegesluit was, sodat daar ‘n groot hongersnood in die hele land gekom het. 26Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na ‘n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon. 27En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. 29Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi. 30Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

Ekstra stof

Hou die volgende breë raamwerk in gedagte:

  • Hoofstuk 1:1-4:14 fokus op die geboorte van Jesus tot by sy bekendstelling as die gedoopte, getoetste seun van Adam, Seun van God.
  • Hoofstuk 4:15-9:50  fokus op Jesus se bediening in die meer plattelandse streke totdat Hy die reis na Jerusalem vasbeslote aanpak om sy roeping daar te voltooi.

Lukas 4:14-5:39 – Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes

In die blote lees van die opskrifte van elke gedeelte, kan ‘n mens alreeds ‘n goeie idee kry van wat Jesus se bediening ingehou het:

  • 4:14-15 – Jesus tree op in Galilea (Mark 1:14-15; Matt 4:12-17)
  • 4:16-30 – Jesus tree op in Nasaret en word daar verdryf (Mark 6:1-6; Matt 13:53-58)
  • 4:31-37 – Jesus genees die besetene in Kapernaum (Mark 1:21-28)
  • 4:38-41 – Jesus genees Petrus se skoonmoeder (Mark 1:29-34; Matt 8:14-17)
  • 4:42-44 – Jesus preek op ander plattelandse plekke (Mark 1:35-39)
  • 5:1-11 – Jesus roep sy eerste dissipels (Mark 1:16-20; Matt 4:18-22)
  • 5:12-16 – Jesus genees ‘n melaatse (Mark 1:40-45; Matt 8:1-4)
  • 5:17-26 – Jesus genees ‘n verlamde man (Mark 2:1-12; Matt 9:1-8)
  • 5:27-32 – Jesus roep Levi (Matteus) die tollenaar as dissipel (Mark 2:13-17; Matt 9:9-13)
  • 5:33-39 – Jesus plaas vas in perspektief (Mark 2:18-22; Matt 9:14-17)

Die volgende aspekte van sy bediening staan hier uit:
Jesus tree op in die krag van die Heilige Gees
Waar Lukas na Jesus as “vol van die Heilige Gees” verwys net voor Hy die woestyn in is, skets Lukas die begin van Jesus se bediening as in die “krag van die Heilige Gees” (4:14-15).  Dit is nogal  betekenisvol.  Niks van betekenis gebeur sonder die werk van die Heilige Gees nie.

Die toetsing in die woestyn vorm Jesus se bedieningsfokus
‘n Sleutel insig is hoe deurslaggewend die versoekingsgebeure in die woestyn in werklikheid is.  Dit was juis in hierdie versoekingsgebeure – waarvan net ‘n paar fasette vir ons weergegee is met die drie groot versoekings waarvoor die duiwel Jesus gestel het – dat Jesus se bedieningsfokus gevorm is.

Telkens kan ‘n mens die ervarings in die woestyn as’t ware geëggo sien in die woorde en optredes van Jesus, sommige duidelik, en ander meer vaagweg:

  • Met die optrede in Nasaret (4:16-30) verwys Jesus na ‘n hongersnood in Israel se geskiedenis – iets wat Hy so pas nou proefondervindelik in die woestyn ervaar het.   En Hy spel uit – in ‘n duidelike sinspeling op sy eie bediening – dat Elia na ‘n weduwee in Sarfat gestuur is, en nie na iemand in Israel nie.  Die boodskap is duidelik – Jesus is geroep om ‘n impak te maak ver buite die grense nie net van sy tuisdorp nie, maar ook van sy tuisland.
  • Die weiering van Jesus (4:42-44) om in een plek vasgevang te word, selfs op groot aandrang van die plaaslike mense, en te begin om ook ander dorpe te besoek, demonstreer dat sy visie inderdaad is om die koninkryke van die wêreld te verower, maar nie op die eenvoudige kortpad-manier wat die duiwel Hom aangebied het nie.  Dorpie vir dorpie sal die evangelie die koninkryk laat kom.
  • En ‘n mens sou uit die weiering van Jesus om van die tempel af te spring, kon dink wonderwerke is per definisie uit.  Maar gelukkig nie!  Op verskillende wyses demonstreer Jesus God se mag, in genesings en bevrydings, sowel as ‘n wonderlike visvangs waarmee Hy sy dissipels inkatrol om Hom te volg.

Jesus het gekom vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes
Jesus kondig daarna sy bediening in Nasaret aan as die evangelie aan armes, gevangenes, blindes, en onderdruktes (Jes 58:6; 61:1-2 – die kern van Jesus se roeping) – en wys in die praktyk dat dit beteken dat Hy mense van siektes, onreinheid en boosheid genees (4:31 en verder).   Lukas dink hier waarskynlik aan fisiese armes, maar ‘n mens kan uiteraard ook dink aan geestelike armes en blindes en so meer, vir wie Jesus inderdaad ook gekom het.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 102 of Lied 155

Votum: Psalm 19:2-7

Seëngroet

Lofsang: Psalm 19 of VONKK 124 of  Flam 156

Wet: Psalm 19:8-12

Skuldbelydenis

Toewyding: Psalm 19:13-15

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 4:14-21

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 486 of VONKK 158 of Flam 74

Seën

Respons: Lied 533 of VONKK 158 vers 1 laaste twee reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 102 Mag Die Woorde Van My Mond  (Psalm 19:15) of
Lied 155 “Verhef ons harte tot U, Heer”

Votum: Psalm 19:2-7

Seëngroet
Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees.”
Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.
En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.
Amen.
(Wepener, Cas:  Soos ‘n blom na die son draai)

Lofsang
Psalm 19 of
VONKK 124 Jesus Bring Vreugde of
Flam 156 Bring Dank

Wet: Psalm 19:8-12

Skuldbelydenis
V: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.
G: Here, wees ons genadig!
Uit:  Wepener, Cas: Soos ’n blom na die son draai)

Toewyding: Psalm 19:13-15

Geloofsbelydenis

Liedere

F74. “Ek Wil Die Here Dien Met My Lewe”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis) Teks en musiek: Soekie Rautenbach © 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)

Refrein: (x2)
Ek wil die Here dien met my lewe
want Hy alleen is God.

1. Hy’s die enigste pad na die Vader toe.
Hy’s die Waarheid en die Weg.
Daar is niemand anders wat lewe gee.
Sy Naam is Jesus.

Refrein: (x2)

2. As ek bang is, is Hy daar vir my.
As dit donker is, Hy’s die Lig.
As ek alleen is, is Hy my vriend.
Sy Naam is Jesus.

Refrein: (x2)

3. Vir die blindes
sal Hy die pad kom wys.
Vir die swakkes sal Hy help.
Vir die siekes sal Hy genesing bring.
Sy Naam is Jesus.

Refrein: (x2)

4. Vir die sondaar
wil Hy verlossing bring.
Die gevangenes laat Hy vry.
Die wat hartseer is,
sal Hy vertroos.
Sy Naam is Jesus.

Refrein: (x2)

F156. “Bring Dank”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid) Oorspronklike titel: Give thanks Teks en musiek: Henry Smith
Afrikaanse vertaling: 2006 Faani Engelbrecht en Jacques Louw © 1978 Integrity’s Hosanna! Music
(2 Kor 9:15, 12:10)

Bring dank aan die Ewige,
bring dank aan die Heilige,
bring dank aan die Vader, omdat Hy Jesus stuur:

Want nou sê die swakke: “Ek is sterk!”
Sê die arme: “Ek is ryk!
Deur wat ons alles van die Heer ontvang.”
Bring dank!

VONKK 102 “Mag Die Woorde Van My Mond” (Psalm 19:15)
Mag die woorde van my mond en die gedagtes van my hart,
vir U bly maak, o my Rots, en vir U mooi wees, o my Redder (en my God.)

Let the words of my mouth, the meditation of my heart,
Be delightful in Your sight and give You pleasure, my Redeemer (and my God.)

Se ke se bolelang le se ke se nahanang,
o kgahliswe ke tsona ‘fika le Molopolli wa ka (Morena.)

Lass die Reden meines Mundes und das Sinnen meines Herzens,
Dir gefallen, o mein Fels, und Dich erfreuen, mein Erlöser (und mein Gott.)

Que les paroles de ma bouche et ce que médite mon cœur,
te soient plaisants ô mon Rocher, de tout temps mon Rédempteur (et mon Dieu.)

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1.  Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
”Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833
Orrelbegeleiding:  Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 4:14-21

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gesels met die kinders oor wat hulle wil wees wanneer hulle eendag groot is.  Laat grootmense vertel wat hulle graag wou word – en wat hulle nou is.  Verduidelik dat Jesus in vandag se skrifgedeelte terugkeer na die dorp waar hy grootgeword het.  Hy het geweet dat almal nuuskierig is oor wat hy geword het.  Luister wat Jesus vir hulle gesê hy, wie en wat hy is noudat hy ‘n grootmens is:

Lees nou die skrifgedeelte.

Die antwoord op wat jy wil wees wanneer jy groot is, sê baie van jou – oor jou prioriteite en passies.  Gesels oor wat hierdie gedeelte oor Jesus sê.

Jy kan ook die lekker lawwe “When I grow up” deur Al Yankovic lees. Die mense in die sinagoge saam met Jesus het waarskynlik net so verslae gelyk soos wat Billy se juffrou in die storie lyk!

Preekriglyn

[Nota: Die teksindeling vir vandag fokus op Jesus se lering in die sinagoge in Nasaret. Die teks vir volgende Sondag fokus op die mense van Nasaret se reaksie.]

Dirk (nie sy werklike naam nie) was ‘n alkoholis, 56 jaar oud, en op die punt om sy vrou, sy huis en sy besigheid te verloor. Sy moeder is pas oorlede, die een persoon wat hom altyd bygestaan het. Sy het dikwels sy besigheid aan die gang gehou terwyl hy gedrink het. Daarmee het sy hom in staat gestel om sy alkoholisme voort te sit. Die keuse was eenvoudig: ‘n nuwe lewe sonder drank, of finaal die afgrond af.

Dirk het die Here om genade gesmeek. Duidelike herinneringe aan die waarskuwings en vermanings van predikante, ouderlinge, sy vrou, vriende en kennisse uit sy betrokkenheid by sportbestuur het by hom opgekom. Skielik het dit sin gemaak. Dirk het van sy knieë opgestaan, besluit om vir rehabilitasie te gaan, dit suksesvol deurgevoer en ‘n nuwe begin gemaak. Alles het reggekom. Sy besigheid het weer gegroei, sy huwelik is vernuwe, en sy kinders het hom weer as pa aanvaar.

Dirk was gevange, maar het vryheid ontvang. Hy het genadejare uit die Here se hand ontvang.

Nadia Murad Basee Taha het in Desember 2015 getuienis voor die VN se Veiligheidsraad afgelê oor die lot van die Yezidi etniese en godsdienstige minderheidsgroep onder ISIS in Irak. As nie-Moslems word die Yezidi deur ISIS geteiken, en as heidene behandel. ISIS-vegters glo algemeen dat ‘n vrou haar tot Islam sal bekeer as sy deur tien mans verkrag is, berig Time-Tydskrif.

Nadia het in haar getuienis voor die VN vertel hoe sy in Augustus 2014 saam met ander mans en vroue in haar dorpie ontvoer is. Die ontvoerde mans – sowat 320 van hulle – is vermoor, terwyl sy en die ander vroue as seksuele slawe tot beskikking van ISIS-vegters gestel is.

Sy vertel hoe sy in een sessie deur ses mans om die beurt verkrag is. Sy het haar bewussyn in die proses verloor.

Nadia kon uiteindelik in November 2014 ontsnap toe die huis waarin sy aangehou is per abuis nie gesluit was nie. Sy het met ander se hulp in ‘n vlugtelingskamp beland. Daar is sy geselekteer vir ‘n program wat vlugtelinge in Duitsland versorg. Sy is na die VN geneem om bewussyn van die lot van ISIS-slagoffers te verhoog.

Nadia was gevange, maar het vryheid ontvang. Sy het genade gevind.

Preek in Nasaret

In ons teks in Jesus – soos sy gewoonte was – op die Sabbatdag in die sinagoge. Dit is die sinagoge van sy tuisdorp, Nasaret. Jesus staan aan die begin van sy bediening. Toe Hy as rabbi opstaan om uit die Skrif voor te lees, is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee. Hy maak dit oop by Jesaja 61 en begin lees:
Die Gees van die Here is op My
omdat Hy My gesalf het
om die evangelie aan armes
te verkondig.
Hy het My gestuur
om vrylating vir gevangenes
uit te roep
en herstel van gesig vir blindes,
om onderdruktes in vryheid
uit te stuur,
om die genadejaar van die Here
aan te kondig. (18-19)

Dit is geweldige woorde uit Jesus se mond. Hy noem dat die Gees van die Here op Hom is sodat Hy die armes, die blindes, die onderdruktes en die gevangenes kon help. Dit is omvattende terme wat almal in nood verteenwoordig.

Jesus maak die aanspraak dat hierdie woorde in Hom, deur sy bediening, vervul word/ Jesus sê Hy bring vir al hierdie mense die goeie nuus, genesing, herstel, bevryding en oorvloedige genade.

Kern van Jesus se bediening

Hierdie woorde het die manifes van Jesus se bediening geword, skryf prof. David Bosch. Ons kan dit as Jesus se intreepreek sien waar die invalshoek van sy bediening duidelik word. Jesus se bediening gaan oor die armes. Die armes aan wie Jesus genade kom bewys, is die gevangenes, blindes, onderdruktes – mense wat almal behoefte het aan die genadejaar van die Here.

Die woorde kom uit Jesaja 58 en 61. In Jesaja gaan dit oor mense wat onderdruk en uitgebuit word deur rykes. Selfs op godsdienstige feesdae laat die werkgewers hul werkers nog harder werk en wurg geld uit die wat hulle skuld. Hierdie omstandighede word ook in Nehemia 5 beskryf waar vertel word hoe arm Jode gesukkel het om die belasting van die Persiese koning te betaal. Hulle was dan geforseer om hulle wingerde, huise en selfs kinders aan welvarende mede-Jode te verpand of as slawe te verkoop. Die rykes het die lot van die armes uitgebuit om hulself verder te verryk.

Hierdie mense kon net gered word deur die Jubileum, die genadejaar van die Here, waar skuld afgeskryf en ‘n nuwe begin gemaak kon word.

Jesus bring ‘n nuwe bedeling tot stand waar mens se verlede, en die nood van jou verlede, nie langer jou lewe definieer nie. Vryheid en uitkoms is moontlik.

Uitbuiting in Jesus se tyd

Jesus bedien eeue na Jesaja. Ook in Jesus se tyd was daar enorme uitbuiting van mense. ‘n Swaar belastinglas het op kleinboere gerus, wat maklik uitgeboer het. Hul grond is dan deur welvarendes en meelopers van die Romeinse onderdrukkers oorgeneem.

Die belastingstelsel het bestaan uit tenders wat aan indiwidue toegestaan is. Hulle, die tollenaars, het dan die reg gekry om vir ‘n tydperk die belasting in te samel. Die tenderbedrag moes aan Rome oorbetaal word, maar wat die tollenaar ook al meer as die tenderbedrag kon bymekaarkry, was vir sy eie sak. Dit het natuurlik tot groot uitbuiting, afdreiging en korrupte insameling gelei.

Wanneer Jesus reg aan die begin van sy bediening hierdie woorde aanhaal, word dit duidelik dat Jesus se evangelie konkrete en praktiese betekenis vir mense in nood het. Jesus is geïnteresseerd in hierdie wêreld. Hy het gekom om God se liefde en geregtigheid in konkrete situasies in te dra.

Klassestryd?

Die vraag is natuurlik of Jesus se prioriteit aan armes beteken dat Lukas ryk en arm teenoor mekaar wil opstel? As God op ‘n besondere manier die God vir die noodlydendes is, volgens Jesus se manifes, beteken dit dan God teen die rykes is?

Steun Lukas dan ‘n rewolusionêre teologie, ‘n #EverythingMustFall-benadering?

Voor ons die vraag antwoord, moet dit duidelik wees dat die koninkryk van God, wat Jesus op aarde kom vestig, niks onaangeraak gaan laat nie. Reeds in die Ou Testament raak God se wet / lering elke faset van die Godsvolk se lewens, met ‘n besondere deernis vir die weduwees, wese en vreemdeling. Jesus bou hierop voort deur ons hele lewe vir sy koningskap op te eis. Hy eis ook dat ons mekaar dien en bystaan.

Wat egter duidelik uit die Lukas-evangelie blyk is dat Jesus nie die armes tot ‘n klassestryd organiseer nie. Hy skep nie ‘n menseregte-drukgroep uit die armes nie. Net mooi die omgekeerde is waar. Jesus rig hom op die rykes. Hy fokus sy bediening op geseënde mense, en nooi hulle uit om by die nood van hul medemens betrokke te raak.

Jesus is nie ‘n Messias vir armes óf rykes nie – Jesus is die Verlosser en Koning van die wêreld wat in God se koninkryk ruimte maak waarin lewe vir almal kan floreer. Jesus red mense uit die sonde sodat daar versoening en geregtigheid kan wees. Jesus het gekom sodat ons in God se koninkryk lewe kan hê, en dit in oorvloed.

God gee om vir mense

Jesus se bediening, soos verwoord in sy manifes, is duidelik gerig op mense wat genesing nodig het. God die Vader gee om vir mense. Jesus, die gestuurde van die Vader, gee om vir mense.

Soos die Lukasevangelie ontplooi, word dit vinnig duidelik dat Jesus welvarende mense uitnooi om ook – soos God – om te gee vir slagoffers en mense wat deur nood gevange gehou word.

God het reg aan die begin vir Abraham gesê hy word geseën om tot ‘n seën te wees vir ander. Mense wat baie seën ontvang het, het die geleentheid om ander by te staan en te seën.

Hierdie beginsel word in die Lukasevangelie dalk op sy beste uitgebeeld deur Saggeus se bekering (Lukas 19). Hy was die hoofbelastinggaarder van Jerigo. Saggeus ontvang Jesus en kom tot bekering. Sy bekering mond uit in konkrete dade. Hy gaan diegene wat hy uitgebuit het, vergoed. Hy gaan ook van sy besittings vir die armes gee. In plaas van mense van die wal af in die sloot te help, leer Saggeus omgee soos God. Van nou af hef hy mense uit die modder en ellende op.

Nie alle geseëndes sluit by God se omgee-aksie in die wêreld aan nie. Lukas kontrasteer die verhaal van Saggeus met die ryk jongman (Lukas 18). Die ryk jongman volg die wet tot op die letter, maar is nie bereid om te reageer op Jesus se oproep dat hy die armes moet bystaan nie. Die ryk jongman raak baie bedroef en besluit om Jesus nie te volg nie. Jesus laat hom gaan, al neem hy nie die uitnodiging tot dissipelskap aan nie.

In Handelinge, die opvolg van die Lukasevangelie, ontmoet ons Ananias en Saffira wat – soos die ryk jongman – nie hul besittings in God se diens stel nie. Hulle hou op ‘n valse wyse daarvan terug. Ons ontmoet ook vir Barnabas, wat doen wat God wil. Hy verkoop ‘n stuk grond en gee die geld vir die apostels sodat die koninkryk van God bevorder word.

Uitgedaag tot besondere dade

Soos gesê, is Jesus die Een wat diegene wat geseën is, uitdaag om alles in hul vermoë te doen sodat volheid van lewe vir meer en meer mense moontlik kan raak. Dink net aan Jesus se woorde in Lukas 6:30-35:

Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terugeis nie.

Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.

As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet.

En as julle goed doen net aan dié wat aan julle goed doen, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Die sondaars maak maar net so.

En as julle geld leen net aan dié van wie julle hoop om dit terug te kry, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar dieselfde bedrag kan terugkry.

Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes.

Dit is Jesus se manifes. Jesus is ‘n evangelis vir geseëndes, vir mense wat het, vir mense wat kan dien en gee. Ons is geseën om tot ‘n seën te wees.

Die teoloog Albertz skryf verhelderend oor Jesaja, wat Jesus in die sinagoge aanhaal, en ook Jesus se manifes self:

Both Isaiah … and the Gospel of Luke address the wealthy. Both wish to inspire them to perform extraordinary far-reaching accomplishments, to renounce a large portion of their possessions and waive the recovery of debts, and to give alms generally, in this way alleviating the plight of the poor members of the community. Is 58:5-9a spoke to the upper stratum of the community immediately after the Exile, in the midst of a severe social crisis; Luke addresses his two-volume work to the upper stratum of the Hellenistic community.

Konkreet, vir hierdie wêreld

Christene is dikwels skepties oor bedienings wat op die nood van mense gerig is. Daar word gesê dis ‘n horisontale bediening. Gaan die evangelie nie oor die red van siele vir die hemel nie?

Natuurlik het die evangelie met meer as net die nood van die medemens te doen. Ons hoop op Christus, wat uit die dood opgestaan het, is dat ons almal wat in Jesus glo en Hom dien – heel en stukkend, verslaaf en vry, mislukkings en suksesvolles – in die nuwe lewe, die ewige lewe sal deel.

Maar ons moet versigtig wees om nie vromer as die Bybel te probeer wees nie. ‘n Bloot vergeestelikte evangelie is arm en skraal. Jesus is die geneesheer wat gekom het vir diegene wat siek is. Die aarde en die lotgevalle van mense is belangrik. Jesus kom om mense in sy koninkryk in te nooi waar daar vergifnis vir sonde en ‘n nuwe begin moontlik is.

David Bosch, wêreldbekende sendingwetenskaplike skryf die volgende oor die “vergeesteliking” van die Bybel se boodskap:

Wanneer iemand se persoonlike vroomheid tussen hom en sy medemens gaan staan, wanneer sy godsdienstige toewyding hom vir sy naaste toesluit, wanneer die werkinge van die Heilige Gees tot die terrein van die persoonlike etiek beperk word, wanneer  Christenskap  slegs  in  terme van heilige handelinge op sekere tye gedefinieer word, wanneer Bybeluitsprake wat met mense se konkrete nood te doen het, vergeestelik word, wanneer verlossing tot die mens se persoonlike verhouding tot God beperk word, wanneer ‘n persoon minus al sy verhoudinge gered word, wanneer strukturele en geïnstitusionaliseerde sonde  nie aan die kaak gestel word nie, dan het ons met ‘n onbybelse, eensydigheid en ‘n onegte Christendom te doen.

Natuurlik is ‘n bloot materiële en humanitêre evangelie ook eensydig. Maar dit is dalk nie die algemene slaggat in die meeste van ons se lewens as dissipelskap nie.

Alle mense gevange

Ten slotte sal dit ‘n mistasting wees om te dink rykes is vry en net armes het bevryding nodig. Wanneer mens Lukas se getuienis oor Jesus se bediening dieper begin lees, kom jy agter Jesus meen beide ryk en arm het verlossing nodig.

Elke mens het sy eie weergawe van sondigheid en verslawing. Die patrone van sonde-verslawing wissel. Uiteindelik is sonde gewortel in die menslike hart, en almal is daarom sondig. Daarom het almal ook verlossing nodig. Daar is rykes wat geestelik arm is, en daar is armes wat geestelik arm is. Mense het nodig om hulle na God te beheer, en sal dan ook vind hulle word na mekaar bekeer.

In Lukas se getuienis oor Jesus speel woorde soos sondaars, berou, bekering en verlossing ‘n deurslaggewende rol. Wat opvallend is, is hoe hierdie dinge te doen het met die konkrete omstandighede waarin mense is, en die konkrete dinge wat hulle gedoen het.

‘n Voorbeeld

Die gelykenis van die liefdevolle Vader en die twee verlore seuns (die een in die ver land, die ander in die vaderhuis) is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan.

Die een seun is ‘n arme: hy het sy vader doodgewens om vroeër sy erfporsie te kry, en toe alles verkwis. Hy verkeer in die diepste ellende. Vir hom behels bekering om terug te keer na die vaderhuis en sy sonde te bely.

Die ander seun is ‘n ryke. Hy werk hard in die vader se huishouding, maar het sy hart verhard teenoor die arme. Hy het geen behoefte om sy ellendige broer te help nie.

Albei is verlore, ryk en arm. Die liefdevolle Vader nooi beide om genade te smaak. Albei het berou, bekering en ‘n nuwe lewe in God se koninkryk nodig.

Wie sien jy raak?

Die vraag is wie jy raaksien? Watter arme is daar wat nodig het dat jy nader beweeg, luister en hoor wat die persoon se nood is? Vir wie moet jy ‘n medemens wees? Dirk, die alkoholis van wie ons aan die begin vertel het, het later getuig hoe baie mense oor jare met hom gesels het. Hom tot ‘n alkoholvrye lewe genooi het. Hy het nie dadelik gereageer nie, eers jare later vry geraak van alkohol. Maar al die stemme en uitnodigings oor jare heen het ‘n rol in sy uiteindelike proses gespeel.

Wie is daar wat die Here op jou hart druk? Wat gaan jy doen om na daardie persoon uit te reik?

Nog ‘n vraag is teenoor wie jy jou hart verhard? Is daardie die persoon na wie jy moet uitreik? Teen wie koester jy wrokke? Wie probeer jy isoleer en swartsmeer? IS daar iewers ‘n arme wat jy moet vrylaat, al is dit net jouself wat jy vergiftig met jou gedagtes?

Verder: watter groep mense is daar wat jy raaksien? Baie gemeentes ontdek dat die Here ‘n hele kategorie mense op hulle harte druk, en dan doen hulle iets konkreets daaraan. Voorbeelde is vroeë kinderontwikkeling, waar gemeentes help dat kinders reg eet in hulle eerste lewensjare, sodat o.a. hul breinontwikkeling gesond verloop. Baie ander voorbeelde kan genoem word. Dink maar net aan xenofobiese geweld, en wat gemeentes kan doen om die vreemdeling te verwelkom.

Daar is in elke gemeente ‘n groepie mense wat reeds hulp verleen. Hulle kan doen met alle moontlike ondersteuning. Dalk roep die Here jou om kragte met hulle saam te snoer?

Waarvoor moet jy jou sak skuld, uithaal en wys? Hier moet ons baie versigtig wees. Een van die blinde kolle van die Westerse kultuur is dat ons dink alles kan met geld opgelos word. As ons dus maar net geld gee, sal alles regkom. Dit is nie so nie. Sosiale kwessies verg baie fyner oorleg. Dit is daarom goed dat gelowiges saamkom, goed na nood luister, die mense in die nood ontmoet, en die wyse en verstandige rigting van hulp soek.

Dit is maklik om geld te gee. Daar is baie voorbeelde van nood waar eerder ons vaardighede, tyd, talente en kennis nodig is as ons geld.

Daar is ook uitdagings so groot dat ons eintlik net daarvoor kan bid, en inligting daaroor kan versprei. Dink aan ISIS en Nadia se verhaal. Ons is vanjaar almal geïnspireer deur Angela Merckel, gelowige Duitse Bondskanselier wat besondere sensitiwiteit, vernuf en oorleg teenoor politieke vlugtelinge aan die dag gelê het. Nadia is na Duitsland gebring as deel van ‘n vlugtelingprogram.

‘n Lewe wat oopgaan vir mense gevange in nood, is ‘n lewe wat iets verstaan van die diepste dryfvere in God se hart. Dis ‘n lewe wat insig toon in die motiewe waarom Jesus sy hemelse heerlikheid verlaat het, en ‘n mens geword het om mense te kom dien.

Mag Jesus vanjaar in jou en in ons gemeente gestalte aanneem.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 486 “Bring aan die volke die boodskap”
VONKK 158 Ons Wy Onsself Aan Christus Toe of
Flam 74 Ek Wil Die Here Dien Met My Lewe

Seën

Respons
Lied 533 “Stuur ons, Here” of
VONKK 158 vers 1 laaste twee reëls:
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.